Artikel 61

Nagmaal slegs vir gelowiges ingestel

 

Artikel 61: Tot die Heilige Nagmaal word alléén diegene toegelaat wat volgens gebruik van die plaaslike kerk belydenis van die Gereformeerde godsdiens gedoen het en ’n goeie getuienis van ’n vrome wandel besit. Sonder sodanige getuienis moet ook diegene wat uit ander kerke (van dieselfde kerkverband) kom, nie toegelaat word nie.

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerk is eenheid van belydende gelowiges

Die prinsipiële goue draad wat deur artikels 53,54,55,58,59 KO loop is die eenheid in leer en belydenis wat die kerk van Christus bepaal. Daarom praat artikel 61 KO van diegene wat “belydenis van die Gereformeerde godsdiens” gedoen het. Dit kom in werklikheid neer op bewuste verantwoordelike aanvaarding van God se verbondsbelofte wat in die doop beseël is (vgl aanspraak in Formulier by aflegging van belydenis van geloof). Die volwassene doen belydenis, word gedoop en gaan aan die nagmaal (art 59 KO). Die kind wat in die verbond en kerk gedoop is, word selfstandig in geloof, doen belydenis en gaan aan die nagmaal (art 61 KO).

 

2. Die kerk is ’n eenheid van lewe in Christus

Naas die “belydenis van die gereformeerde godsdiens” moet die nagmaalganger “’n goeie getuienis van ’n vrome wandel besit”. Die belydenis met die mond moet as ’t ware met die lewe onderstreep word. Dit moet duidelik volk van die koninkryk wees wat deur die Woord en Gees regeer en as liggaam van Christus aan God verbonde is. God het sy wil in die Wet gepubliseer waardeur die lewe van die volk van God gereël word (Gl 3: 19-27). Die Wet het selfs vir die openbare lewe betekenis.

|336|

Christus is die verborge sin van die Wet. Om Christus na te volg beteken om aan die Wet gehoorsaam te wees, sodat die “invisible church in the visible church” geopenbaar word (Milner 1970:81; Calvyn 1951:IV.1.ix). Die wet openbaar wat ongeregtigheid en sonde is. Wie die Wet van God nie gehoorsaam nie, is aan God nie gehoorsaam nie en moet in bepaalde gevalle van die nagmaal afgehou word. Vir Calvyn kom geloof op gehoorsaam-wees aan die evangelie en Wet neer. Daarom is ware kerk-wees herstel van orde in die geborge wêreld (Milner 1970: 84,96).

Die vierde afdeling van die Kerkorde oor die kerklike tug sluit aan by die beginsels wat die toegang tot die nagmaal bepaal (kyk artt 74-77). Die begrip “vrome wandel” wys dus op ’n lewenswandel wat nie met die Woord of Wet van God in stryd is nie, maar dit moet nie as perfeksionisme verstaan word nie (vgl Nagmaalformulier). Gesindheid, voorneme, berou en bekering speel ’n sleutelrol in verband met die “vrome wandel”.

Calvyn wou met die toesig oor die nagmaal bereik wat die Anabaptiste met die doop wou verseker — ’n “heilige” (vir God afgesonderde) gemeente.

 

3. ’n Goeie getuienis

Elke mondige gelowige moet hom of haar self ten opsigte van leer en lewe in die lig van God se Woord en Wet ondersoek (1 Kor 5: 8; 6: 15-20; 10: 14-21; 11: 28,29; 2 Kor 13: 5,7; Gl 5: 6, 13-26, Jk 2: 5-26; vgl Heid Kat V/A 81,82,84,85,87). Dit gaan daarom of elkeen vir sy saligheid alleen op Christus vertrou en dit met die mond bely; begeer om Christus na te volg en heilig te lewe. Die vraag is dan nie of iemand volmaak in geloof en liefde is nie, maar of die gelowige volmaaktheid najaag en begeer om sy geloof te versterk (Calvyn Inst IVI 7.xi ).

Die ouderling hou oor die kerk-wees van die gelowiges toesig (artt 16,23 KO) in die nouste verband met die onderlinge toesig en getuienis van die gemeente (art 74 KO). Die ouderlinge moet op sterkte van dié getuienis tot die nagmaal “toelaat” of van die nagmaal afhou (art 76 KO).

Kragtens kerkverband gee een kerk aan ’n ander goeie getuienis oor gelowiges af wat hulle in die gemeente inlyf en toelating tot die nagmaal verleen (Rm 16: 1v; Film: 17; vgl art 82 KO).

 

4. Onsigbare kerk word veral aan nagmaal sigbaar

Calvyn het in die gereformeerde nagmaalleer die kerk wat God verkies, geroep en begenadig het op die oog gehad (Inst IVI.iii.v.x). Tot die kerk behoort egter ook mense wat nie waarlik glo nie, maar slegs in naam Christus volg en wat in die kerk vir ’n tyd geduld moet word totdat die kerklike dissipline sy loop geneem het (Inst IV.1.vii).

Hierdie kerkbegrip dui die sigbare kerk feitlik in terme van twee konsentriese sirkels aan waarvan die uitverkorenes die binnesirkel vorm. Die sigbare kerk met al sy gebreke en vlekke, vermeng met huigelaars en sondaars, bly kerk (Milner 1970:68; Inst IV.1.vii). Almal kan egter nie net omdat hulle in die kerk is aan die nagmaal gaan nie. Die kerk is vir Calvyn volgens die Skrif nie ‘n

|337|

statiese, wetlik omlynde instituut waar die herstelde mensheid arriveer het nie, maar die kerk is “the history of the restoration of order” (Milner 1970:47,58,65). Die gemeente (kerk) is dus ’n lewende organisme, ordelik geïnstitueer soos ’n liggaam (1 Kor 12). As gevolg van die verval raak die ware kerk soms baie dof sigbaar (Inst IV.2.xii). Om dus die kerk so duidelik as moontlik sigbaar te maak, bepaal artikel 61 KO wie tot die nagmaal “toegelaat” en wie daarvan afgehou moet word. So rig die gereformeerde nagmaalviering hom op daardie binnekring van ware gelowiges, die uitverkorenes wat die kenmerke van die ware kerk (NGB 29) vertoon wie se geloof in hulle belydenis en lewenswandel leesbaar moet wees (vgl Spoelstra 1982:237v; 1978:20v).

The invisible becomes visible when, through the administration of the sacrament we are gathered together and led into presence of Christ by the Spirit ... God has ordained both the preaching of the Word and the administration of the sacraments, and when coupled with the efficacious working of the Holy Spirit they constitute the order which marks the reality of the Church ... According to Calvin then, we cannot think of the church as a legally defined institution, where the word is truly preached and the sacraments rightly administered, nor can we conceive it mystically, as simply being in presence of Christ, leaving behind us the objective order. Rather, the church must be defined dialectically as union with Christ in, through, and together with the means by which the Spirit brings us to him” (Milner 1970:132v).

Wanneer die nagmaal reg gebruik word, lewer die gelowiges ook uiterlike getuienis en lê daarmee belydenis af (Lk 22: 19; 1 Kor 11: 26) wat God verheerlik en ander opwek om die Here te dien. Tegelykertyd vermaan die sakrament ook die gelowiges om in Christelike lewenswandel hulle Here te gehoorsaam en in liefde, vrede en eensgesindheid na te volg. Kortom, die wese van kerkwees is sakramenteel in die nagmaal opgesluit.

 

B. Kerkregering

1. Redaksionele ontwikkeling van die artikel

Daar lê aksentverskil tussen die artikels oor die doop en artikel 61 KO. By die doop was in meer algemene terme sprake van “kinders van die Christene” (art 56) en “gemeente van Christus” (art 59) waarmee die Reformasie ook met dopelinge van Rome en die Anabaptiste gereken het. Aanvanklik is by die ordebepaling van artikel 61 ook van “Christelicker leere” gepraat (art 12, 1578), maar die Kerkorde van Middelburg 1581 (art 43) het dit met “gereformeerde religie” vervang. “Gereformeerde” staan destyds in Nederland teenoor Roomse en Anabaptistiese godsdiens en is meer eksklusief as “Christelike”. Die term “gereformeerde” slaan op die Reformasie en slaan nie op ’n bepaalde kerklike identiteit of denominasie nie.

Die Sinode van Dordrecht 1578 het in Kerkorde (art 13) bepaal dat diegene wat “uit ander kerke” kom, nie weer opnuut belydenis van geloof hoef af te lê nie maar op “getuienis-briewe” van meer as een ouderling toegelaat sou word. Sonder “geskrewe of lewendige getuienis van geloofwaardige persone” sou iemand nie toegelaat word nie.

|338|

2. Belydenis van geloof

2.1 Mondigwording in die geloof

Oor die noodsaaklike kategese aan kinders en volwassenes is reeds by artt 55 en 59 gehandel.

In die vroeë Christelike kerk het ouers hulle groter kinders na die biskop gebring. Hy het hulle uit die kategismus ondervra, waarop hulle van hulle geloof belydenis gedoen het en daarna het hy hulle die hande opgelê. Calvyn het hiermee geen fout gevind nie.

Gedurende die Middeleeue het Rome egter begin leer dat die genade wat by die doop gegee is sakramenteel vermeerder moet word. Gevolglik het die sakrament van die “vormsel” ontwikkel waar die voorhoof met olie by die oplegging van hande bestryk word om daarmee die Heilige Gees mee te deel. Hierdie sakrament veroordeel Calvyn in die sterkste taal as versinsel van mense (Inst IV.19.iv-xiii). Hy dring daarteenoor aan dat kinders vanaf omtrent tienjarige leeftyd hulle vir onderwys moet aanmeld totdat hulle oor elke hoofstuk van die leer bevredigend kan antwoord. Daarop doen hulle belydenis van geloof voor die gemeente. Wie as volwassene gedoop word, lê die belydenis waarvan artikel 61 praat voor hulle doop af (art 59). Die gedoopte kinders moet egter deur gedeë katkisasies (vgl by art 55) tot mondigheid en selfstandigheid in die geloof deur hulle ouers, skole en leraar gelei word. Die kategese moet die Woord (ordinatio) van God, die Wet as etiese norm en die Formuliere van Eenheid tuisbring, terwyl ook van die kerkgeskiedenis, kerklike orde en liturgie kennis gedra moet word. Wie belydenis van geloof wil doen, moet dus vooraf ondersoek word. Wie verantwoordelik kan verklaar dat hulle die gereformeerde geloof onderskryf, moet dit in die openbaar voor die gemeente bely.

Die kerke het ’n Formulier opgestel waarin die belyders moet antwoord op vrae of hulle die leer wat in die Skrif en Formuliere van Eenheid voorkom en soos in die betrokke kerk (gemeente) geleer, onderskryf; hulle voorneme verklaar om by die leer te volhard en die God van hulle doop lief te hê en godsalig te lewe; belowe om die bediening van die Woord en Sakramente ywerig te soek, terwyl hulle indien nodig, die Christelike vermaning en tug sal aanvaar. Op openbare belydenis van geloof volg ’n hartlike verwelkoming “in die volle gemeenskap met die volk van God” en toegang tot die nagmaal. Die kind het daarmee in selfstandige geloofsmondigheid die belofte wat sy ouers by sy doop afgelê het, vir homself aanvaar.

 

2.2 Geen aanneming tot “lidmaat” nie

Wie die kerk as een van talle menslike genootskappe beskou wat mense met ’n konstitusie en belydenis gestig het, aanvaar dat mense vrywillig die konstitusie en belydenis moet onderskryf om daarby aan te sluit. Iemand moes oud genoeg wees om lid te word. So het in Nederland die uitdrukking “aanneming tot lidmaat van die kerk” in omloop gekom (Jansen 1952:268). Die opvatting van “lidmaat-word” en “voorstelling van nuwe lidmate” het wydverspreid in Suid-Afrika posgevat (vgl GKSA 1910:art 145). Die vraag is

|339|

of daar in die kerk nie liewer van “gelowige” (of broeder/suster) as van “lidmaat” gepraat moet word nie. Die verhouding tot Christus en nie dié tot ’n instituut nie, is die bepalende norm. Hierdie opvatting het die kinderdoop van die verbond van God losgemaak en gedevalueer en so die pad vir anabaptistiese groepe oopgemaak.

Belydenis van geloof open daarteenoor die deelname aan die “volle gemeenskap met die volk van God” en daarmee saam gaan die genieting van regte en voorregte wat die Here in die sakramente gegee het. Belydenis van geloof ontvoog die gedoopte christen van die godsdienstige sorg van sy ouers en hy tree selfstandig en verantwoordelik na vore. Die lid-wees in die liggaam van Christus kom in die bewuste toetrede tot die nagmaal duidelik na vore.

 

2.3 Ouderdom vir belydenis van geloof

Tereg het die kerke gesê dat geen ouderdom vir geloofsbelydenis voorgeskryf kan word nie, maar dat die predikant en ouderlinge daaroor moet oordeel (GKSA 1862. art 39; Rustenburg 1863). Iemand is “bekwaam” om belydenis te doen wanneer hy sodanig volwasse is dat hy oor onderskeidingsvermoë beskik. Calvyn sou dit op 14- tot 16-jarige ouderdom en H Bouwman op 17- tot 21-jarige ouderdom gestel het (Van der Linde 1982:205). In die GKN is die nagmaal vir kinders oopgestel voor hulle belydenis van geloof gedoen het.

Vandag kan in die lig van die Empiriese Opvoedkunde vasgestel word dat ’n kind nie voor ouderdom 12 jaar tot abstrakte denke, begrip van en singewing aan leerstellings in staat is nie, ’n vermoë wat vir verantwoordelike belydenis van die geloof nodig is om sin en betekenis aan die “gereformeerde leer” toe te kan skrywe (Inst III.56.xiv). ’n Mens kan veilig aanneem dat iemand ongeveer op skoolverlaat-ouderdom of sekondêre skoolvlak in staat is om die leer te “verstaan”. Wanneer begaafde kinders op jonger ouderdom memoriseer en vlot repeteer, kan hulle nog nie voldoende verband lê en leerstellige betekenis toeskrywe nie, waarsonder niemand met hoof en gemoed die leer kan omhels nie.

Die vraag na die verstandsouderdom van die vertraagde of swaksinnige kind moet op eie meriete oorweeg word. Deur buitengewone onderwys kan talle kinders wat vroeër onopvoedbaar was, vandag wel basiese onderrig geniet en van essensiële basiese geloofswaarhede belydenis van geloof aflê. ’n Elementêre geloofskennis wat deur ’n Christelike lewenswandel gerugsteun word, kan toelating tot geloofsbelydenis verleen (GKSA 1879: art 175, Bouwman 1934: 376).

 

2.4 Wyse van ondersoek

Hierdie artikel skryf nie die wyse van ondersoek voor nie. In die meeste kerke behartig ’n kommissie van ongeveer drie ouderlinge die ondersoek met die oog op toelating tot belydenis van geloof. Vroeër was die volle kerkraad by die ondersoek betrokke. Laasgenoemde prosedure voorkom dat wanneer iemand

|340|

nie toegelaat word nie, die predikant en ’n paar ouderlinge blameer word (Van der Linde 1982:205).

Dikwels spits die ondersoek op formele kennis van Skrif en Kategismus toe en word glad nie oor die Christelike lewe en roeping in die wêreld gehandel nie. Die praktyk om soms beloftes van gehoorsaamheid, byvoorbeeld ten opsigte van ’n paar kerklike besluite oor bydraes, kerkbesoek, dans, vrymesselaars of kaartspel te verlang, moet afgekeur word. Die ondersoek moet op positiewe oortuiging en belewing toespits. Wie met jong mense handel, moet nie ’n lys van “moet” en “moenies” paternalisties voorskryf nie, maar innerlike motivering opbou. Belydenis van geloof mag nie in ’n metodistiese oordeel van die katkisant se bekering verloop nie (Calvyn: de intimis ecclesia non iudicat).

Per slot van rekening ken en aanvaar die gemeente (kerk) die katkisante. Daarom behoort die name vooraf aan die gemeente vir approbasie voorgelê te word (Kruger 1966:371).

 

2.5 Wyse van belydenisaflegging

Reeds in 1578 is bepaal dat wie aan die nagmaal wil gaan in die kerkraad of na die preek voor die nagmaalbediening in die kerk ondervra moes word sodat hulle kan betuig dat hulle die leer van die gemeente onderskryf en hulle aan die Christelike vermaninge onderwerp (Biesterveld, Kuyper 1905:115). Die wyse van belydenisaflegging geskied vandag betreklik algemeen en eenvormig op ’n Formulier van vrae wat aan elkeen in die erediens gestel en op die naam af beantwoord word. Vroeër is soms geleentheid vir vrye verklarings gegee, wat eerder by die ondersoek tuishoort.

Aanvanklik wou die Sinode van 1863 geen formulier van vrae opstel nie, maar het dit aan die vryheid van elke kerkraad oorgelaat. In 1876 is egter met die oog op “ongeloof en lichtzinnigheid dezer dage” tog daaraan gevolg gegee. Die Formulier word tans agter in die Afrikaanse Psalmboek afgedruk. Talle kerkrade oorhandig ook ’n kaart waarop die Formulier afgedruk is met die naam, met of sonder ’n tasbare aandenking, aan wie belydenis van geloof afgelê het.

 

3. Geen oop nagmaalviering nie

In die lig van die kerkregtelike beginsels mag gereformeerdes geen oop nagmaalviering duld nie. Dit kan nie aan die gewetens van die aanwesiges oorgelaat word of hulle aan die nagmaal wil gaan of nie. Calvyn het oor dié beginsel in 1538 sodanig met die Raad van Genève gebots dat hy na Strassburg moes vertrek. In die Reformasie-tyd het nie-nagmaalgangers ná die preek die kerkgebou verlaat en is die nagmaal “in ’n meer intieme kring” aan ’n tafel gevier (Kruger 1966:377).

In sommige kerke heers die opvatting dat mense tot ’n landswye kerklike genootskap of volkskerk behoort. Daarvolgens sou iemand outomaties in elke gemeente reg op nagmaalgebruik hê. Nog ander dink in min of meer Lutherse rigting dat geloof en die kerk van Christus onsigbaar is en dat die sigbare bediening tot die aardse orde behoort en “dalk” iemand mag bereik en bekeer. Dit hang dus van die persoon wat nagmaal gebruik af of hy hom laat stig of

|341|

nie. Gevolglik wil humaniste die oordeel aan elke individu oorlaat selfs ongeag in watter kerk hy hom bevind, asof die Here nie die opsienerdiens ingestel het nie (Hd 20: 28; 1 Kor 5: 12; Ef 4: 11v; NGB 30; art 2 KO, kyk par 6 hierna).

 

4. Die nagmaal is sakrament van die plaaslike kerk

Gedurende die 20ste eeu het die ekumenisme organisatoriese kerkeenheid met openbaring van die liggaam van Christus vereenselwig. Ekumeniese nagmaalsvierings selfs by kongresse en konferensies moes die eenheid van die liggaam van Christus demonstreer. Die nagmaal word as ’t ware in die sin van die doop gebruik. Teen hierdie agtergrond het die GKSA te Potchefstroom (1961:119) verklaar: “Die Nagmaal as sakrament is ’n saak van die plaaslike kerk, waar die kerkraad toesig hou oor die toegang daartoe. Die Nagmaal mag dus nie misbruik word as ’n demonstrasie van ekumeniese eenheid nie”.

 

5. Getuienis vir diegene uit ander kerke

Diegene wat uit een gereformeerde kerk na ’n ander verhuis, kan met goeie getuienis oor hulle leer en lewe in die kerk opgeneem word en so toegang tot die nagmaal verkry (art 82 KO). Hierdie reël stel die Kerkorde vir die verkeer van gelowiges tussen die kerke in kerkverband, byvoorbeeld waar iemand op tydelike besoek in ’n kerk verkeer en aan die nagmaal wil gaan. Die onus rus op die aansoeker om hom by die kerkraad ten opsigte van leer en lewe te identifiseer. Wanneer so ’n persoon betreklik onbekend is in daardie kerk, moet hy liefs vooraf van minstens twee ouderlinge in sy tuiskerk getuienis oor sy leer en lewe aanvra. Wanneer dit nie gebeur het nie, open die kommunikasiemiddele vandag ook ander wee. ’n Telegram of desnoods ’n telefoonoproep van en na minstens die predikant, kan dieselfde doel dien. Die kerk benodig getuienis, nie noodwendig ’n formele brief nie. Die roeping om nagmaal te bedien aan wie aan Christus behoort, mag nie sonder goeie redes geweier word nie. Wanneer iemand egter goed bekend is binne die gemeente wat nagmaal vier, kan betroubare plaaslike getuies ook die aansoek ondersteun.

Dit mag ook gebeur dat mense na verhuising betreklik onbekend in ’n nuwe kerk verkeer, terwyl hulle attestasie talm om te kom. In so ’n geval mag die wyksouderling verplig word om by die kerkraad wat moet attesteer, navraag te doen. Die vraag is nie wie formeel nalatig was nie. Die diens en hulp van die opsieners in die nuwe kerk laat die nuwe en nog vreemde medegelowiges juis ervaar dat hulle in ’n kerk van die Here verwelkom. ontvang en opgeneem word.

 

6. Aansoeke van gelowiges uit kerke buite kerkverband

Besoekers uit kerke met wie die GKSA dieselfde gereformeerde leer onderhou, maar met wie nie korrespondensie in enger sin (vgl art 52 KO) aangegaan is nie, moet deur die betrokke kerkraad op eie meriete hoogstens na analogie van die orde in art 61. beoordeel word. Sommige kerkrade weier aansoeke om

|342|

saam nagmaal te vier summier met ’n formele beroep op “korrespondensie” of “lidmaatskap”. Ander beroep hulle op die woorde van artikel 61 in hakies, “van dieselfde kerkverband” en lees in die Kerkorde soos in ’n kerkwet ’n beperking asof die nagmaal slegs binne kerkverband gevier mag word. In werklikheid bepaal artikel 61 KO slegs dat wie belydenis van die gereformeerde godsdiens gedoen het op goeie getuienis toegelaat kan word. Die term “gereformeerde godsdiens” moet nie kerklik-eksklusief vertolk word nie.

Tydens die Reformasie is Lutherane by geleentheid aan die nagmaal toegelaat, omdat dit goed is dat “de kerkeraad zulke christenen niet afstoot…” Tydens die Doleansie van 1886 het dieselfde met lidmate van die Nederduits Hervormde Kerk gebeur wat, alhoewel hulle “niet durfden of wilden aansluiten”, met die Gereformeerdes saamgeleef het (Bouwman 1934:391).

“Belydenis van die Gereformeerde godsdiens” beteken meer as “lidmaat-wees van die kerk” waarvan die 18de eeuse kerkbegrip so veel maak. Ten spyte van groeperinge tussen Gereformeerdes het die gemeenskaplike “gereformeerde godsdiens” tog bly voortlewe en het selfs Lutherane aan die godsdiens van die Reformasie gedeel. Die kardinale beginsel is nie waar iemand “lidmaat” is nie, maar wat glo en hoe leef hy.

Hierdie artikel kan dus nie eksklusief vertolk word nie. Skrywer hiervan was lid van die deputate wat die woorde in hakies bloot ter wille van ’n “duideliker formulering” aanbeveel het (Sinode 1964:72) en hoegenaamd nie die eeueoue bepaling wou verander het nie. Daarbenewens moet die aard van die Kerkorde in ag geneem word. Kerke reël in die Kerkorde eksklusief hoe hulle onderling as kerke in kerkverband gaan saamlewe. Hulle skryf nie aan mekaar huishoudelike optrede en allermins in gevalle van buite die kerkverband voor nie in die nagmaal wat by elke plaaslike kerk tuishoort (artt 30,84 KO). Die huidige situasie van verskillende gereformeerde denominasies het trouens in die 16de eeu toe artikel 61 geformuleer is, nie bestaan nie. Die Kerkorde sou ’n kerkwet wees, indien dit kategories ’n kerkraad by aansoeke van “kerke in kerkverband” beperk het.

Elke kerkraad moet in elke uitsonderlike geval self oordeel en hom daarvoor aan ter sake beginsels verantwoord. Iemand van onbesproke leer of lewe uit ’n ander Afrikaanse kerk sou as bona fide gas toegelaat kon word wanneer sy predikant of kerkraad die aansoek ondersteun, terwyl die betrokke kerkraad op getuienis tot die teendeel die aansoek kan weier. Wanneer die aansoeker nie getuienis van sy kerklike gesag kan verkry nie, kan ’n kerkraad nog ’n aansoek op meriete in die lig van getuienis uit eie midde beoordeel (vgl Bos 1950:227). Die kerkraad moet “zulke christenen niet afstoot” (Bouwman 1934:391). Wie een in leer en van onbesproke lewe is, is een met die kerk in Christus.

Die argument dat toelating (na ingewonne getuienis) van iemand “uit ’n ander kerk” per se op ’n oop nagmaal sou neerkom, gaan nie op nie. Dit is immers die aansoeker (en sy kerk wat toestemming verleen) wat die gereformeerde nagmaal erken. Wanneer sodanige persone by herhaling aansoek doen en vrywel permanent onder die gereformeerde bediening wil verkeer, moet hulle liewer by die betrokke gemeente voeg (NGB 28).

|343|

7. Waar iemand op ’n punt in die leer dwaal

Soms kry ’n kerkraad met ’n geval te doen waar iemand “ter goeder trouw in enig stuk der leer dwalen”, dit nie propageer nie, hom vir bearbeiding oopstel terwyl die dwaling nie ’n fundamentele stuk van die waarheid verwerp nie. Mag so iemand nog tot die nagmaal toegelaat word? Die Nederlandse kerke wou in 1914 met betrekking tot kinderdoop, geen bindende reël neerlê nie. Hulle het beslis dat die kerkraad “desnoods met advies van de classis” moes oordeel of in die bepaalde geval “tolerantie wezenlijk en geoorloofd” is. Die persoon kan natuurlik nie in die amp dien nie (Bos 1950:226).

 

8. Opname in die kerk

Die kerksentriese uitgangspunt van die 18de eeuse verenigingsreg reken met “lidmate” en “lidmaatskap” wat met “bewys van lidmaatskap” van een kerkgroepering na ’n ander kerkgroepering oorgaan. Daarvolgens is die kerk nie ’n organisme van gelowiges nie, maar ’n objektiewe “ding” (instituut) waarby iemand vrywillig aansluit en “lidmaatskap” verkry. Selfs binne kerkverband neem mense wat lankal uit ’n gemeente vertrek het soms aan dat hulle nog “lidmaat” van “kerk” wat hulle verlaat het, bly. Hulle vra selfs “bewys van lidmaatskap” aan omdat die kerkraad nie meer oor hulle attesteer nie (kyk art 82 KO).

Kragtens die gereformeerde kerkbegrip is die kerk ’n gemeente van mense wat dieselfde geloof bely en in liefde saamgebind is (Inst IV.2.v). Wanneer iemand daaruit wegtrek, hou hy in werklikheid op om langer lid van daardie kerk (gemeente) te wees omdat hy nie meer daar meeleef nie. Hy moet hom met getuienis oor sy leer en lewe by die nuwe kerk (gemeente) waar hy gaan woon, voeg (NGB 28; art 82 KO). Eenheid in leer en lewe “bewys” of iemand lid is van die kerk en op sterkte van getuienis hiervan word iemand selfs binne kerkverband in ’n kerk opgeneem.

Dieselfde beginsel geld wanneer iemand uit ’n ander kerkgroepering of denominasie hom by die kerk (gemeente) aansluit. Daar moet noukeurig vasgestel word wat die persoon glo, of hy hom met die gereformeerde leer, diens en tug identifiseer en of hy hom aan die kerklike bediening en dissipline wil onderwerp. Dit kan met die ondersoek vir toelating tot belydenis van geloof vergelyk word. Iemand word opgeneem wanneer daar sekerheid is dat die persoon in leer en lewe met die kerk (gemeente) een is. Die Sinode van Burgersdorp 1873 (art 182) het gevolglik reeds aanbeveel dat die volle kerkraad of ’n kommissie uit die kerkraad so iemand ondersoek wat sonder attestasie (kyk art 82) oorkom. Wanneer iemand egter tot ’n sekte behoort het en sy optrede die kerk nadelig geraak het, mag dit wenslik wees dat so ’n persoon by sy terugkeer weer voor die gemeente belydenis van die gereformeerde godsdiens doen (GKSA 1945:art 93; kyk art 75 KO).

Kommissies wat persone wat in die kerklike gemeenskap opgeneem wil word, ondersoek, moet hulle bevinding oor die persoon se leer, lewe en rede vir oorkoms aan die kerkraad rapporteer waarna die kerkraad verder ondersoek instel of opneem. Alle opnames moet aan die kerk vir approbasie afgekondig word. Eers nadat die gemeente stilswyend goedgekeur het, is die opname

|344|

afgehandel. Die bewoording van die afkondiging moet nie die verkeerde indruk wek dat ’n persoon se “lidmaatskap” met ’n “bewys van lidmaatskap” oorgeplaas is nie.

 

9. Kerklike “lidmaatskap” en geheime genootskappe

Die kerke het op Sinodes van 1863, 1869 en 1897 bepaal dat lede van geheime genootskappe soos byvoorbeeld die Vrymesselaars, “geen lidmaat van de Gereformeerde Kerk, onder haar bestuur kan zijn noch blijven”. Die besluit berus op die motivering dat die kerk ’n geestelike en openbare vereniging (kollegium?) is. Die Sinode van 1964 het aangedui dat lidmaatskap aan organisasies waarby geheimhouding betrokke is, nie geduld kan word wanneer dit die kerklike tug mag beïnvloed, die organisasie hom op kerklike erf laat geld of wanneer Afrikaner-broederskap of volksbelange ten koste van die broederskap in Christus beklemtoon word nie (Kruger 1966:375v)

Teen die besluite oor Vrymesselary en Goede Tempeliers kan ernstige besware ingebring word. Gedurende die vorige eeu het vreemdsoortige verenigings sporadies voorgekom. Tans gebeur dit veelvuldig. Dit lê nie op die weg van sinodes om vandag ’n indeks op te stel en by te hou van verenigings en bewegings waar christene nie tuishoort nie. Vandag word krities na die gronde vir besluite gekyk. Daarbenewens grond die GKSA hulle besluit teen Vrymesselary grotendeels op die 18de eeuse verenigingsreg en stel die “kerk” as openbare vereniging teenoor ’n geheime genootskap sonder om iets teen die leer en lewe van die beweging aan te voer. Die Vrymesselaars kon op religieuse gronde baie sterker beoordeel en veroordeel gewees het as om dit net ’n para-kerklike beweging te noem. Buitendien lê dit op die weg van kerkrade en nie van sinodes nie om oor “lidmaatskap” en die pastorale versorging van iemand te handel (art 30). Ekskommunikasie wat op sterkte van ’n sinodebesluit van 1897 plaasvind, kan ekklesiologies maar nie Christologies verdedig word nie. Sinodes kan hoogstens norme wat in die kerke aangelê moet word, aandui, teen euwels waarsku en op konkrete dwalings wys. Die oordeel oor “lidmaatskap” berus by die plaaslike kerk (NGB 30-32; GKSA 1958:138).