Artikel 55

Bevordering van die ware geloof 

 

Artikel 55: Om die suiwere leer in die gemeente te handhaaf en om die valse leringe en dwalinge te weer, wend die bedienaars van die Woord en die ouderlinge by die uitoefening van hulle onderskeie ampte, by die bediening van die Woord, by die kategetiese onderrig en by die huisbesoek, die middele van lering, weerlegging, waarskuwing en vermaning aan. 

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerk bestaan in eenheid van geloof

Die prinsipiële agtergrond vir hierdie artikel sluit regstreeks aan by die vorige artt 53, 54. Die kerk leef in die handhawing, verdediging en uitdra van die suiwere leer. Die kerk is vergadering van gelowiges (NGB 27), ’n eenheid in ware geloof (Heid Kat Sondag 21). Opbou van elke lid in ware geloof is die roeping van die kerklike dienaars (Ef 4: 11-16). Sodra die leer verwaarloos of losgelaat word, verval die band wat die kerk saambind.

|306|

2. Die kerk is strydende gelowiges

Elke gelowige en die gelowiges-in-gemeenskap (kerk) moet vanaf die begin aanval, teenstand en suigkrag van ’n teen-kerk die hoof bied (Mt 16: 12; Mk 1: 27; 11: 18; Joh 7: 17; Hd 2: 42; Rm 16: 17; Ef 4: 14; 1 Tm 1: 3,10,11; 4: 6,16; 5: 17; 6: 1-5; 2 Tm 4: 2,3; Tit 1: 9; 2 Joh 10).

Die opdrag om te leer en die ware leer omtrent Jesus Christus vas te hou, loop soos ’n draad dwarsdeur die verkondiging van die Here Jesus en die apostels (Mt 28: 19; Rm 16: 17; 1 Kor 15: 1,2; GI 1: 8 ens). Christus leer wat Hy van die Vader geleer het. Daarop volg die imperatief dat ons die leer sal ontvang, bewaar en uitdra. Van vroeg af was die dwaalleraars aktief. Teenoor hulle het die 12 Artikels al in die drie eerste eeue die ware leer uitgespel en vanaf die 4de eeu het konsilies van tyd tot tyd leeruitsprake en belydenisse teen dwaalleraars uitgereik om in plaaslike kerke die eenheid in ware geloof te beskerm.

 

3. Prominensie van die leerdiens in die Skrif

In die Skrif staan die begrip “leraar” (didaskalos) sentraal. Hy is die verkondiger en verdediger van die ware leer. Artikel 55 omlyn dus die wese van die taak van die leraar. Hy is gelykwaardig leraar op die kansel, in kategese en op huisbesoek, terwyl hy in die tweede plek saam met die herder-ouderlinge ook regeerder is. By die ouderlinge kom die regeertaak (opsiener-wees) in die eerste plek te staan, terwyl hulle ook valse leer moet kan uitken en bestry. Dit kan hulle slegs doen as hulle in 'n tweede instansie in staat is om te kan leer. 

 

4. Die kerkregering berus op bediening van die Skrif

Lering, weerlegging, waarskuwing en vermaning is middele of vorme van bediening wat direk aan die Skrif ontleen is. Dié begrippe adem ’n bedienende karakter en sluit dwangmiddele uit. Die bediening moet nie probeer om ’n soort formele lidmaatskap op sterkte van ’n geykte kerkpatroon af te dwing nie, soos byvoorbeeld met die besluit van die Algemene Kerkvergadering op Pretoria 11 Januarie 1859 gebeur het nie (Spoelstra 1982 b158). Die bediening moet van kleins af toespits op die leer en lewe van elke individuele gelowige (2 Tm 3: 15). 

 

5. Die predikant is ook leraar van die kind

In Lutherse en ook gereformeerde kerkpraktyk word kategese dikwels as ’n onderwystaak vir hulpkragte op die skoolmodel beskou. Eers op ryper leeftyd by die belydenis van geloof tree die predikant (“miskien”) as leraar in die katkisasie na vore. Hierdie praktyk berus waarskynlik op ’n heidense kindbeeld onder die Grieke en Germane en by die jong kerke onder swartmense. ’n Kind is nie werklik as ’n mens beskou voordat hy nie met een of ander ritueel onder volwassenes ingelyf is nie. Behalwe onderwysers, bemoei volwassenes hulle gevolglik nie met kinders voordat hulle groot geword het nie. Die idee het wyd posgevat dat kinders eers “aangeneem” moet word om “lidmate” te kan wees.

|307|

Die Here Jesus het duidelik op die betekenis en plek van die kind in die verbond gewys (bv Lk 2: 41-52; 9: 48; Mt 18: 2v; 19: 13v; Ef 6: 4; 2 Tm 1: 3-6). Sy kindbeeld staan in skerp kontras met dié van die Grieke, Jode en die beeld wat in swart en ou patriargaal-Afrikaanse kulture aangetref word waar kinders eintlik altyd “apart” van die volwassenes gestel word en nie die “tyd” van die dominee mag opeis nie en op huisbesoek links gelaat word.

 

B. Kerkregering

1. Die oorspronklike redaksie

Die Kerkorde van Dordt 1619 skryf in artikel 55 die sogenaamde boekesensuur voor. Geen gereformeerde belyder mag sy eie of ’n ander godsdienstige boek sonder verlof van predikante of teologiese professore laat druk of uitgee nie. Die klassis moes van hierdie publikasie kennis dra (Pont 1981:182).

Die boekdrukkuns (1453) was destyds nog jonk en minder as vandag gebruik. Tydens die reformasie het juis ketterse geskrifte (vgl bv Servet 1553, Remonstransie 1604 en Anabaptiste) die eenheid in leer bedreig en gelei tot volksoplope en politieke spanning. Hierdie artikel wou dus met boekesensuur die ware leer beskerm en blootstelling van gelowiges aan dwaalleer afweer. Die paternalistiese vertroue in predikante en professore (leraars) wat die publikasies moes beoordeel adem die milieu van die 16de eeu. Hierin het die standeverskil tussen geestelikes en leke deurgeskemer. Soms is goeie geskrifte belet en boeke met dwaalleer gesanksioneer (Van der Linde 1982:186).

Die humanisme wat die Renaissance beheers het, het daarteenoor elke mens opgeroep om self ondersoek in te stel en die gesag van sy rede te gehoorsaam. Die 18de eeuse “verligting” het van die boekesensuur spoedig ’n dooie letter gemaak.

 

2. Die nuwe redaksie

Die GKN het te Utrecht 1905 die positiewe agter die ou artikel 55, nl die uitbou van die ware geloof, geneem en die artikel min of meer soos tans bewoord. Die Sinode van Potchefstroom 1964 stel die positiewe beginsel “om die suiwere leer in die gemeente te handhaaf…” nog sterker. Die CGK in Nederland formuleer: “Die ampsdraers moet met middele tot hulle beskikking die invloed van onregsinnige, revolusionêre en sedebederwende lektuur teengaan en in sowel prediking as kategese en by huisbesoek waarsku teen alles wat die suiwerheid van die Christelike lewe bedreig” (eie vertaling). Hier verskuif die aksent ietwat van die leer na die praktyk.

 

3. Die mees aktuele opdrag

“Veral in ons tyd is dit noodsaaklik dat ampsdraers moet let op watter leesstof in die huis van gelowiges kom ... Ons verwag van owerhede om deur die

|308|

Sensuurraad sulke soort geskrifte te weer, maar wat doen die ampsdraers in die Gereformeerde Kerke?” (Van der Linde 1982:185). Die media van koerant, tydskrif en TV, sowel as lektuur spoel teen die gereformeerde geloof aan. Artikel 55 KO stel die wyse waarop die dienaars van Christus tot hierdie stryd moet toetree. Die adres is die bedieninge in die plaaslike kerk. Dit is die taak van elke gelowige en veral van elke predikant, om dwaalleer en sosiale euvels te bestry. Dit is verkeerd en verlammend om die taak aan sinodale deputate op te dra (GKSA 1967:90v).

Kerke is nie gereformeerd wanneer hulle bloot formeel en institusioneel die erfenis van die Reformasie in die Drie Formuliere van Eenheid vashou nie. Die Bybelse imperatief om die evangelie uit te dra (Mt 28:19) kom in die 20ste eeu dringender tot die gelowiges omdat soveel meer dwaalleer en sedelike verval vandag botvier. Daar kom as ’t ware ’n noodroep om te oorlewe tot predikante en ouderlinge om die suiwere leer en Christelike lewe te handhaaf. ’n Normlose post-Christelike kultuur dreig om die ware leer en Christelike lewe uit te wis. Gelukkig staan van die media vir die verdediging van die gereformeerde erfenis ook nog oop.

Dit is onmoontlik om iemand iets te laat lees, luister of kyk waarna hy nie vra nie. Gereformeerdes het dikwels paternalisties gepreek, gepraat, geskryf en gepubliseer en verwag die mense moet inval omdat hulle dit kragtens hulle amp moet sê. Die ekonomiese model geld ook vir kerklike bediening: ’n aanbod sonder aanvraag speel bankrot. Voorskriftelike besluite oor vrymesselaars, dans, ensovoorts wat op kerkgesag ’n verbod sonder norme uitlig, het soms uiterlike konformasie, maar selde innerlike motivering tot gevolg gehad. Die bediening moet die gelowige vandag toerus met norme waarmee hy hom moet kan verantwoord in ’n wêreld vol ingewikkelde keuses (Ef 4: 12-16; Hb 5: 12-6: 2). Hy moet weet waarom.

 

4. Kerkregering is pastoraat

Die “leraar” is by uitstek op die kansel en in die katkisasieklas herder (pastor). Die gemeente ervaar die herder verder in die gewone gereelde huisbesoek, siekebesoek en in spesiale besoeke wat hy in omstandighede soos dood, sondeval, egskeiding, hofsake, finansiële terugslae, ensovoorts, aflê. Oral mag wanopvattings na vore tree wat pastoraal besweer moet word. Die dominee is die Godgegewe herder vir die jeug. Hy het hier ’n unieke geleentheid wat, as dit verbygegaan het, nie weer kom nie. Mense heg hulle aan dienaars op grond van die kwaliteit van pastorale begeleiding wat hulle geniet het. Waar die gelowiges hulle leer en lewe inrig na die Woord van God, bly die gesonde leer gehandhaaf, die kerk intakt en tuggevalle voor die kerkraad die uitsondering.

 

5. Probleme ten opsigte van offisiële kerklike publikasies

Die Sinode van Potchefstroom 1869 wou nie boekesensuur instel nie maar het dit aan die vryheid van “kerkbesturen” oorgelaat (art 108). Klagte oor predikante wat “boekjes” uitgee, wou die Sinode van Reddersburg 1876 nie

|309|

ter tafel neem nie, maar het morele steun toegesê aan De Maandbode wat ds Lion-Cachet persoonlik as kerklike blad begin uitgee het. Vrye meningswisseling in ’n broederlike gees is aangemoedig (artt 27,81,85).

Die Sinode van Reddersburg 1894 het De Maandbode oorgeneem en die uitgave daarvan aan die Kuratorium van die Teologiese Skool opgedra. Die Sinode Burgersdorp 1897 gee daaraan die naam De Kerkblad en later word dit selfs die “amptelike” of “offisiële orgaan” van die Gereformeerde Kerk in SA genoem.

Kerkregtelik lê dit nie op die weg van sinodes om “offisiële publikasies” die lig te laat sien nie (Kruger et al 1965:339). Publikasies van deputate is nie “sinodale” publikasies nie voordat ’n sinode dit nie soos ’n Belydenisskrif woord vir woord vir sy rekening aanvaar het nie. Wanneer die sinode egter beskou word as ’n “struktuur” wat die “hele kerk” verteenwoordig, word geglo dat “die Kerk” sinodaal ’n “offisiële” of “amptelike” orgaan moet hê wat finansiële ondersteuning van sinodeweë kry. Die Sinode van 1894 het De Maandbode dus op pragmatiese en foutieve kerkregtelike veronderstellinge oorgeneem. Op dié onkerkregtelike pad is verder gegaan toe selfs ’n predikant as redakteur in diens van deputate geneem is (GKSA 1958:304v). Die volgende Sinode 1961 het die “offisiële of amptelike orgaan” afgekeur, maar nog beweer dat “die Kerk ’n blad uitgee” waarin hy sy “amptelike stukke” publiseer, terwyl ander skrywers op eie verantwoordelikheid daarin skrywe (297).

Gaandeweg is gevra hoe ’n predikant voltyds redakteur van ’n blad kan wees (GKSA 1973:492v, 501v). Tans word nog “publikasies” onder sorg van sinodale deputate bedryf, moontlik om finansiële en morele ondersteuning te verseker. Na regte behoort kerklike dienaars in die loop van hulle diens publikasies die lig te laat sien. Gelukkig betree uitgevers vandag al meer interkerklik die mark. 

 

5. Kategese, sending en evangelisasie

In die teologie word soms onderskei tussen kategese vir verbondskinders, evangelisasie onder diegene wat van die geloof afvallig geword het en sending onder heidene. In werklikheid is dit dieselfde Woordverkondiging wat slegs met die oog op die mate van verskil onder diegene aan wie die Woord verkondig word, aangepas en gerig word. Die Gereformeerde kategese het tot aan die begin van die 20ste eeu swaar geleun op die gereformeerde skool en onderwyser. Toe die staat die onderwys op neutrale basis skoei, het kategese dikwels nie die patroon van Sondagskole of Lutherse “leer- en geloofseksamens” in ’n soort “kerklike onderwys” op die skoolpatroon met afsonderlike klassies en onderwysers ontwikkel.

Die nadruk wat die Skrif op die leer, die roeping om te leer en die leraarsdiens lê, toon onteenseglik aan dat soos die leraar amptelik moet preek, hy ook vir die amptelike kategese, sending en evangelisasie verantwoordelik is. Kategese is onlosmaaklik gerig op bewuste en verantwoordelike belydenis van geloof (Bouwman 1934:389; vgl art 61 KO). Dit bly die primêre taak van die predikant as herder en leraar om die kerkkatkisasie minstens met kinders vanaf hulle 10de jaar self te behartig.