|332|

Artikel 60

Volledige doopregisters

 

Artikel 60: Die name van die gedooptes en van hulle ouers of voogde sowel as die datums van geboorte en doop moet opgeteken word. 

 

A. Kerkregtelik

1. Die wese van die kerk

Die verbondsgedagte in die Skrif behels die gedagte dat die Here sy volk se name opskrywe (Ps 87: 5,6; Op 21: 27) en kragtens die verbond verwerklik die Here sy heilsraad in en deur geslagte (vgl geslagsregisters in OT en NT). Die wese van die kerk is immers dat dit ’n liggaam, ’n eenheid, ’n vergadering van mense is wat gedoop is in die Naam van die Drie-enige God. Die begrip van ’n doopregister wat die name van die dopelinge en hulle ouers, hulle geboortedatum en doopdatum aandui, vloei kerkregtelik as natuurlik en noodsaaklik uit die wese van die kerk voort. Die doopregister bied daarom ook die wesenlike lidmateregister.

 

2. Geen verbondslyn nie

Kragtens ’n doopbeskouing in bepaalde gereformeerde kringe is die verbond van God dikwels meganies verbind aan die lyn van afstamming. So sou iemand wat totaal vervreem het, nog “in die verbond” kon wees indien bewys kan word dat sy ouers of grootouers gedoop en in die “verbondslyn” was. Hierdie beskouing het onses insiens geen Skriftuurlike en daarom geen kerkregtelike grond nie. Die “verbondslyn” word deur geloof bepaal en nie deur afstamming nie.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die artikel word in 1581 in die Kerkorde opgeneem.

Op sigself lyk dit asof hierdie artikel ’n blote administratiewe voorskrif en opdrag gee. In die 16de eeu het die registrasie egter met die oog op die “kerk” en die “gemenebes” geskied. Die kerklike boekhouding en registrasie is dus ouer as die staat se bevolkingsregistrasie. Kerklike doopseels het ook in Suid-Afrika geboortes tot ongeveer 1900 baie beter as staatsrekords weergegee.

|333|

2. Die Doopregister

Die huidige redaksie stel vrywel volledig wat by die doop aangeteken moet word. Dit word natuurlik aan kerkrade oorgelaat in watter vorm die doopregister gehou sal word. Hier kan van ’n kaartsisteem of van ’n goeie boek met ’n sterk stewige rug gebruik gemaak word. Daarin moet dan duidelik die naam van die kind, sy geboortedatum, die name van die ouers of voogde en die datum van doop aangeteken word. Soms teken kerkrade ook die naam van die predikant daarby aan. Soms moet ’n spesiale omstandigheid met betrekking tot die doop aangeteken word, byvoorbeeld waarom voogde optree of doop op spesiale versoek van ’n ander kerk, ensovoorts.

’n Doopregister moet so gekies word dat gegewens lank bewaar kan word. Dit moet daarom nie te dik wees nie, sodat elke tien jaar of so ’n nuwe aangelê kan word en die oue veilig bewaar word. Deur die afname in kindertal per gesin vind in die ouer kerke baie minder doopbedieninge as in die jong kerke per jaar plaas. Doopregisters is selfs vir genealogiese navorsing onontbeerlik. Gevolglik skenk die Kerkargief in Potchefstroom besonderlik aandag aan die bewaring en/of vermikrofilming (en so meer afskrifte) van doopregisters. Wanneer doopregisters daarheen gesentraliseer word, kan enige navrae oor doopseels by die sentrale adres gedoen word. By die jong kerke onder swart volke mag noukeurige doopregisters in die toekoms van onskatbare waarde word.

 

3. Doopseel

Vroeër het die “doopseel” as openbare inligting oor die geboorte (bv vir aansoek om ouderdomspensioen) of as getuienis van doop by ’n aansoek om belydenis van geloof af te lê, gedoen. Vandag sluit attestasieverkeer tussen kerke meesal getuienis oor dooplidmate in en raak aanvrae vir doopseels in onbruik. Die vraag is egter hoe betroubaar die verkeer is. Neem skribas nie dikwels sommer aan dat kinders gedoop is nie? Waar geen betroubare attestasieverkeer oor dooplidmate bestaan nie (bv in sommige swart kerke), moet die offisiële doopseel by aanvraag om belydenis van geloof af te lê, vereis word. Die vraag of en hoeveel gelde vir die uitreiking van doop- (en lidmaat-) sertifikate gevra word, hoort by elke kerkraad tuis (GKSA 1961, art 163).

 

4. Doopgelde

Gedurende die vorige eeu het talle kerke doopgelde as ’n soort lopende belasting ten behoewe van registrasiekoste en die gemeentekas gehef (GKSA 1888, art 88). Besware teen dié praktyk het op dowe ore geval (GKSA 1897 art 114) — ’n patetiese voorbeeld dat swak sinodebesluite geneem kan word wanneer finansiële voordeel op die spel is! Die besware daarteen het egter dié praktyk ten spyte van die sinodebesluite laat uitsterf. Dit staan enige ouerpaar natuurlik vry om ’n dankoffer by die doop van ’n kind vir een of ander kerklike doel te gee. Indien so ’n bydrae nie geoormerk is nie, geld dit as gawe

|334|

van dankbaarheid in die lig van Heid Kat Sondag 38 wat by voorkeur ten bate van die sending (wat met doop verband hou, vgl Mt 28: 16) gebruik kan word. 

 

5. Naamgewing

Wanneer mense nie die betekenis van die doop verstaan nie, lyk dit na ’n “naamgee”-plegtigheid. Vroeër kon predikante by die opgawe van name van dopelinge geredelik invloed uitoefen. Tans geskied die doopopgawe gewoonlik nadat registrasie by die landdroskantoor reeds plaasgevind het.

Die doop het niks met “naamgee” te doen nie, maar tog moet by die opgawe van doopname gelet word dat ouers nie godsdienstige en behoorlikheidsnorme oortree nie. In Roomse lande word selfs die Here Jesus op verskillende maniere, moontlik uit bygeloof, vernoem. Vernoemsug veroorsaak soms dat ’n mansnaam aan ’n dogter of omgekeer, of te veel name (Rustenburg 1863) of buitensporige name (Burgersdorp 1873) gegee word. Party mense se bewondering vir ’n filmster, kunstenaar of politieke figuur laat hulle hulle kinders met ’n naam opsaal.

Die Afrikaanse naamgee-tradisie vernoem ouers en ander familie in ’n bepaalde orde. Sommige lees daarin ’n erkenning van die “verbondslyn” (Van der Linde 1982:202). Wanneer daarvan afgewyk word, kan dit ernstige spanning in ’n familiekring meebring, wat wyse pastorale hulp van die herders vra om te versoen.

In die huidige stadsgemeentes moet duidelik bekend gestel word aan wie se kind die doop bedien word. Die kind word immers deur die doop in die gemeente opgeneem.

Die vraag of die kind se naam sowel as sy van by die doop genoem moet word, raak geen beginsel nie. Sommige gebruik slegs die naam omdat dit die persoon eerder as die familie aanspreek. Die familienaam kan goedskiks voor die doop of by die oproep van die ouers afgekondig word.

 

6. Naamsverandering

Wanneer mense later hulle name of familiename wetlik verander, is dit wenslik dat hulle die regsdokumente aan die kerk voorlê waar die doop geregistreer is, sodat die regstelling in die doopregistrasie aangebring kan word en toekomstige doopseels daarvolgens uitgereik kan word. Die doop het immers op die persoon en nie die bepaalde “naam” betrekking nie (vgl GKSA 1961, art 163).

 

7. Verlore registrasie

Lastige situasies het al ontstaan waar iemand belydenis van geloof in kerk A wil aflê en kerk B vind geen aangetekende doop in die kerk waar die doop ’n paar dekades gelede plaasgevind het nie. Daarvolgens lyk dit dan asof die persoon nooit gedoop is nie, terwyl die nalatigheid van ’n predikant of skriba dit kon veroorsaak het. Voordat kerkraad B antwoord dat hy nie ’n doopseel

|335|

kan uitreik nie, behoort hy eers alles in sy vermoë te doen om by verskillende getuies te probeer vasstel of hulle van die doop kan getuig. In die mond van twee of drie betroubare getuies moet die waarheid vasstaan en die doopseel uitgereik word. Verantwoordelike administrasie kan so ’n pynlike en vir die kerk eerlose posisie verhoed.