|445|

Artikel 81

Christelike sensuur onder ampsdraers

 

Artikel 81: Die bedienaars van die Woord, die ouderlinge en die diakens moet onder mekaar die Christelike sensuur uitoefen en mekaar oor die bediening van hulle amp vriendelik vermaan.

 

A. Kerkregtelik

1. Onderlinge toesig onder ampsdraers

Die beginsel van onderlinge toesig in hegte gemeenskap met die Hoof Christus bepaal die kerk en het reeds by vorige artikels herhaaldelik na vore gekom. Die Skrif sê so natuurlik ten opsigte van die ouderlinge van Efese: “Gee dan ag op julleself…” met die waarskuwing dat juis onder die voorgangers manne sal opstaan “wat verkeerde dinge praat” (Hd 20: 28,30). Paulus het self onophoudelik vermaan (Hd 20: 31) en daarom spreek dit vanself dat die ampsdraers daarmee moet volhou (bv 1 Ts 2: 10; Kol 4: 17; 1 Tm 1: 3,4; 3: 7,15; 5: 20-22; 2 Tm 2: 15 ens.)

Sensuur beteken om ondersoek in te stel en te beoordeel. Vroeër was die begrip censura morum, ’n ondersoek en beoordeling van die sedes, in omloop. Reeds op die Konvent van Wesel 1568 het die gedagte na vore gekom om op die gedrag van predikante en ouderlinge wat nie van openbare sondes aangekla word nie, ook te let. Die onderlinge Christelike sensuur onder ampsdraers het dus veral te doen met die sondes wat nie as “growwe openbare sondes” (artt 79,80) beskou word nie. Dieselfde Konvnt van Wezel het immers probeer om ’n lys van die “ligter” sondes te gee wat nie skorsing nie, maar ernstige vermaning verdien (Pont 1981:89 art 116). Hoewel nie elke sonde met skorsing en afsetting getug word nie, moet ampsdraers in leer en lewe ’n voorbeeld vir die hele kudde wees. Gevolglik moet enige sonde wat onder hulle voorkom, bestraf word. Dit geld in besonder die wyse waarop hulle hulle amp bedien. Elke ampsdraer se gedrag moet by sy amp pas en hy moet sy ampspligte uitvoer soos dit behoort. Die opsieners moet onberispelik en waardlg wees en selfs van buitestanders ’n goeie getuienis hê (1 Tm 3: 2,7,8) en word daarom ook geëer vir goeie diens (1 Tm 5: 17; 1 Ts 5: 12,13; Tit 1: 6; 1 Pt 2: 12; 5: 3; 1 Joh 4: 1; 2 Joh: 6-11). Die dienswerk moet tot eer van God en opbou van die gemeente uitgevoer word.

“Vermaan” hou verband met die Griekse para-kaleoo (waarvan die naam van die Heilige Gees afkomstig is, Joh 14: 26) waar een die ander liefdevol met

|446|

die Woord en wil van die Hoof Christus konfronteer. Dit beteken reghelp, aanspreek, aanmoedig, raadgee en selfs troos.

 

2. Die verhouding van artikel 81 KO tot vorige tugartikels

In die kerklike praktyk kom baie verwarring rondom artikel 81 KO voor. Soms wil een ampsdraer ’n ander vermaan en dan word aangevoer dat hy eers die weg van Mt 18: 15-17 (artt 72,73) moes gevolg het. Dit beteken dat artikel 81 geleentheid skep om na vrugtelose heimlike vermanings ’n saak teen ’n ampsdraer soos in artikel 74 en selfs 79 in die kerkraad openbaar te maak. Ander wil artikel 81 op “heimlike” sondes teenoor die “openbare” in artikel 79 toepas (Visser 1982:138, Kamphuis) — wat egter sou beteken dat Mt 18 in die geval van ’n ampsdraer deur artikel 81 opgehef word, wat nie mag nie.

Hoewel waterdigte skeiding en onderskeiding ten opsigte van gevalle en optredes onmoontlik is, moet waarskynlik meer soos tydens die Reformasie tussen swaarder en ligter sondes onderskei word. Die vermaninge in die tugartikels (72-79) het almal te doen met ernstige sondes wat tot ekskommunikasie uit die kerk of afsetting uit die amp kan lei. Daar kom die weg van Mt 18 met sy “heimlike” vermaninge en sondes ook te pas. Daarnaas is egter “sondes van mindere soort” (Wesel 1568): ligsinnige Bybelgebruik, spekulasies, spitsvondighede, luiheid en versuim van Skrifstudie, jag op vleitaal en populariteit, skinder, leuens, eergierigheid, onbeteuelde humeur, gierigheid. onenigheid en dergelike sondes wat by ’n ampsdraer nie pas nie, sy eer skade doen, sy diens strem en tot onder van God en kerk strek. Daaroor kan hy in die openbaar en in die kerkraad vermaan word (1 Tm 5: 20), sodat sy ampsdiens tot eer van God en opbou van die gemeente sal verloop. Waar Mt 18 die broeder wil versoen, wil artikel 81 die ampdiens ’n bediening van Christus hou.

Wanneer ’n bepaalde ampsdraer reeds volgens Mt 18: 15-17 oor ’n growwe sonde vermaan is, en dit deur ’n vermaning onder artikel 81 in die kerkraad saam met diakens openbaar word en verharding daaraan die karakter van ’n growwe sonde verleen, pas dit nie onder artikel 81 nie. Die vermaninge onder artikel 81 KO moet die “klein jakkalsies” wat ’n ampsdraer se naam en eer oor die lang duur skade doen en die gemeente geleidelik verlam, aan die kaak stel. Hier kom versuim van ampswerk, luiheid, sorgeloosheid, onverskilligheid, verkeerde metodes, verkeerde gesindheid teenoor sommige mense, ontaktvolle of aanstootlike gedrag (vgl Wesel 1568) ensovoorts, ter sprake. Onderlinge sensuur is dus nie primêr gerig op die persoon se verhouding tot Christus as gelowige nie, maar op die uitvoering van sy diens as bedienaar van Christus in die kerk en samelewing.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die predikante wou te Wesel 1568 die vermaning oor nie-growwe sondes in die klassis laat plaasvind (Pont 1981:90). Die Kerkorde van 1578 bepaal dat

|447|

sensuur oor leer en lewe in die kerkraad tussen predikante, ouderlinge en diakens onderling voor die viering van nagmaal in liefde ontvang moes word. Die “opneem in liefde” word in 1581 weggelaat. Die Sinode van Den Haag 1586 stel die huidige redaksie vas. Al sou iets van tug oor leer en lewe met die oog op viering van die nagmaal oorspronklik bedoel was, het die aandag spoedig op die ampsdraer en ampspligte saamgetrek (De Jongh: 126-127).

 

2. Toesig oor die amp

In hiërargiese kerkregeringstelsels gaan die toesig en sensuur oor die vervulling van die amp van hoër ampte soos biskoppe, visitatore, inspekteurs of superintendente of van hoër besture uit. Die beginsel van onderlinge toesig tussen ampsdraers in artikel 81 is egter tipies gereformeerd omdat dit berus op die koningskap van Christus, die mondigheid van elke gelowige en die gemeenskap wat die kerk uitmaak.

Die beginsel en praktyk in artikel 81 is verwant aan die onderlinge toesig en sensuur wat in artikels 16,23,43 en 44 gereël word. Artikel 81 handel eksplisiet oor vermaning in die breë kerkraad tussen ampsdraers oor dinge wat hulle ampsdiens nadelig raak en tog nie van so ’n aard is dat die ampsdraer van die nagmaal afgehou moet word nie.

Die Kerkorde van Genève van 1561 (Pont 1981 :25-31,47) maak voorsiening vir ’n “goeie ordening” waarvolgens predikante een maal per week in ’n predikantevergadering (congregation) saamkom om onder mekaar toesig te hou oor die verskillende aspekte van hulle ampsdiens en om tot onderhouding van die suiwere leer aan te moedig. Hulle moes toesien dat elkeen sy plig doen, mekaar opskerp en waak dat slegte gerugte die aansien van die amp nie laat skade ly nie. Daar moes tussen onaanvaarbare misdade (crimes) en sondes (vices) van dienaars onderskei word. Gevolglik is ’n lys van growwe misdade en ander sondes gegee. Onder die “vices” word selfs slordige kleredrag en lelike gedrag “wat nie ’n dienaar waardig is nie” genoem. Hierby sluit die Konvent van Wesel 1568 (Pont 1981:89) aan. Elke drie maande moes die dienaars met groot sorg nagaan of daar onder hulle iets was om reg te stel. In Genêve het twee Raadslede en twee predikante een maal per jaar oral in die kerk van Genève visitasle afgelê om die werk van predikante te inspekteer. Dit was nie ’n regsondersoek nie, maar ’n “geneesmiddel teen sake wat ergernis wek”. Oor die ampswerk van die onderlinge wat almal lede van die Stadsraad van Genève was, is nie spesiale toesig gehou nie, wel oor diakens.

In talle GKSA is vroeër verkeerdelik nie by onderlinge en hulle gesinne huisbesoek gedoen nie, omdat ouderlinge sogenaamd onder artikel 81 in die kerkraad censura morum ontvang het (GKSA 1952:220v, artt 59,131).

|448|

3. Die karakter van die onderlinge sensuur

In die onderlinge sensuur moet geensins met ’n “klag” teen ’n ampsdraer in terme van artikels 72 of 79 gereken word nie. Dit hoef ook nie net of noodwendig in formele kerkraadsvergadering toegepas te word nie. Waar die liefde vir en van Christus onder mekaar regeer, kan Christelike sensuur en vriendelike vermaninge oor die uitvoering van ampspligte ook buite die kerkraad plaasvind (artt 16,23,40). Tog dui die gebruike in die 16de eeu aan dat artikel 81 besonderlik ’n vermaning in die kerkraad bedoel aan die vooraand van nagmaal waar die kerk as liggaam van Christus gesien moet word. Niemand kan hom op Mt 18 beroep om te verhoed dat hyself of ’n mede-ampsdraer in die kerkraad vermaan word nie, behalwe wanneer die sonde van so ’n ernstige aard is dat dit in werklikheid ’n klag onder artikels 76 en 79 teen die ampsdraer inhou.

Kruger betoog met ’n beroep op Rutgers dat artikel 81 die vergadering van ampsdraers ’n mede-ampsdraer laat vermaan (Kruger 1966:485). Gevolglik moet die vermaning gekenmerk word deur eerlikheid, opregtheid, billikheid, versigtigheid en gematigdheid om aan die “vriendelikheid” wat voorgeskryf word, te voldoen. Alle persoonlike bitsigheid, kleinlikheid, vitterigheid en bybedoelings by iemand wat wil vermaan, moet deur die kerkraad en diakens in die wortel afgesny word. Die vermaning moet straal van liefde en ywer vir die Here en sy diens in die gemeente. Die vermaning moet daarom dikwels die karakter van bemoediging en aanmoediging aanneem, wanneer ’n broeder sy diens onder moeilike omstandighede of teenstand moet verrig.

Dit is merkwaardig dat die Kerkorde van 1579 bepaal het dat die vermaning in liefde ontvang moet word. Gemeentelede en ampsdraers, partymaal veral predikante, kan so maklik op ander se gebreke wys, maar self geen kritiek op hulle eie gedrag en optrede verdra nie of ouderlinge en diakens die reg wil ontsê om hulle te vermaan (De Jongh 1918:130). Jonger dienaars vererg hulle wanneer ouer ampsdraers hulle voorlig of tot versigtiger optrede maan asof dit op heerskappyvoering en klerikalisme neerkom. Die Sinode van Middelburg 1581 (part vr 72,106) het hierdie vertolking afgewys en aangedring dat dié vermaninge in liefde ontvang moet word.

Onderlinge sensuur moet nie voorskriftelik of aanmatigend gedoen word nie. Dit moet die een wat vermaan word dwing om na homself en sy dienslewering in die lig van norme en hoe ander hom beoordeel, te kyk. Hy moet homself afvra of sy diens tot eer van die Here en opbou van die kerk is. Calvyn stel hier duidelik die Christelike en broederlike voorbeeld van verhewe sensuur wanneer hy selfs nog teen die einde van sy lewe aandring dat beskeie jonger predikante (van sy studente) sy leer, lewe en bediening moet beoordeel om, indien nodig, hom te vermaan. Hy het na buite gegaan, sodat hulle in die vergadering vrylik oor hom en sy diens kon oordeel (De Jongh 1918:124).

 

4. Die wyse waarop die onderlinge sensuur geskied

Tot in hierdie eeu was die aantal ouderlinge en diakens gewoonlik klein en kon maklik oor elkeen se diens afsonderlik gehandel word. In Genève moes ampsdraers om die beurt die vergadering verlaat sodat in hul afwesigheid

|449|

elkeen se ampsbediening bespreek kon word. Almal moes onderneem om nie te openbaar wie die beswaar geopper het nie. Terug in die kerkraad rig die voorsitter dan die vermaning afhangende van hoe ernstig die versuim was. Hy kon selfs bestraf en gekasty word.

Namate kerkrade groter geword het, het die voorsitter soms een na die ander ampsdraer op sy naam voor die vergadering gestel, sodat wie wou oor sy ampswerk kon handel. Hierdie metode spaar tyd, maar demp vrymoedigheid om inisiatief te neem terwyl die vergadering ook nie die aanmerking eers kan oorweeg en sy eie maak nie. So kan ongepaste, ongelukkige en onsmaaklike voorvalle plaasvind. Soms stel die voorsitter net onderlinge sensuur aan die orde en vra of enige ampsdraer oor die diens van enige ander ampsdraer iets wil opmerk of 'n vermaning wil rig. Artikel 81 laat die opening vir vermaning van persoon tot persoon. Daarna vra een van die ouderlinge aan die voorsitter dieselfde vraag. Dié metode spaar tyd, maar vertoon dieselfde gebreke as die vorige metode.

Rutgers het gevolglik adviseer dat groter kerkrade byvoorbeeld kwartaalliks die ampsdiens van een kwart van die ampsdraers indringend bespreek. In die loop van ’n jaar kan so oor almal deeglik onderlinge sensuur geoefen word (De Jongh 1918:129) terwyl dit natuurlik moet vrystaan dat die diens van enige ampsdraer buite die bepaalde kwartaal ook ter sprake kan kom. Die onderlinge sensuur moet nie so gedoen word dat dit 'n formaliteit word nie. Dit moet so plaasvind dat die persoon oor wie se diens dit gaan die erns besef en ampsdraers hulie verantwoordelikheid vir mekaar se ampsdiens begryp.

Onderlinge toesig en sensuur oor predikante as leraars kan moeilik in ’n kerk met net een predikant (’n biskopkerk) effektief en behoorlik plaasvind. Onderlinge toesig soos in die Geneefse predikantevergadering is nie moontlik nie. Die kerkorde maak nie vir ’n “ring” van predikante of onderlinge sensuur tussen predikante in ’n klassis voorsiening nie. Vervolgens word die predikant al meer sekulêr as die opgeleide professionele ampsdraer in ’n kerkbedryf beskou oor wie se ampsdiens “leke” nie toesig kan oefen nie. Tog weet predikante binne klassisverband baie keer dat ’n bepaalde predikant nie sy amp bedien soos dit behoort nie of met praktyke besig is wat hom nie betaam nie. Sonder geleentheid vir onderlinge sensuur in ’n klassis soos in 1568 voorgestel is (Pont 1981:90), veroorsaak dit dat geen tydige genesing beproef kan word nie en later word na ’n juridiese uitweg gesoek om volgens artikels 11 of 79 van ’n predikant ontslae te raak. ’n Mens sou ’n geleentheid kon bepleit waar predikante oor predikante onderling Christelike sensuur moes kon beoefen en mekaar (let wel) “vriendelik” oor die uitoefening van hulle amp kon vermaan.

 

5. Die tyd vir onderlinge sensuur

Die Kerkordes van 1578 en 1581 bepaal die tyd vir onderlinge sensuur voor nagmaal. Die bepaling van nagmaal is in 1586 weggelaat. Sommige kerke het meer as vier keer per jaar nagmaal gevier. Sensuur oor ’n ampsdraer en die wyse waarop hy sy amp vervul, kan enige tyd in die kerkraad aan

|450|

die orde kom om kwartaalliks voor nagmaal in die breë kerkraad die “onderlinge rondvraag” te doen, het bly steek.