Artikel 64

Nagmaalbediening slegs in die gemeenskap van gelowiges

 

Artikel 64: Die bediening van die nagmaal vind alleen in ’n erediens plaas onder toesig van die ouderlinge.

 

A. Kerkregtelik

1. Die saamkom van gelowiges op ’n bepaalde plek maak die liggaam van Christus sigbaar

Hierdie artikel berus op dieselfde regsbeginsels wat by artikels 61 en 62 ter sprake gekom het. Artikels 61 en 62 veronderstel duidelik 'n samekoms van die gemeente en toesig van die ouderlinge. Die kerkregtelike gronde beklemtoon dat die gelowiges na gesonde tugoefening die een heilige Christelike Kerk van die Here op die bepaalde plek die suiwerste sigbaar maak. Die tugoefening van die ouderlinge met die Woord van God as norm (artt 7 en 29 NGB) behoort te verseker dat die gemeente in nagmaal die kenmerke van die ware kerk vergestalt.

 

2. Die nagmaal is gemeenskapsmaaltyd

Die erediens is die samekoms van God met sy volk onder leiding van die dienste of opsienersamp. Die genademiddele van Woord en Sakramente word in hierdie samekoms tot opbou van die gelowiges en die gemeente as geheel bedien (Ef 4: 11-16; Inst IV.1.vi-vii; 3:iv-vi). Die nagmaal is nie individuele Woordbediening soos in kategese en huisbesoek nie. Die nagmaal sluit aan by die pasga van die OT en is in die NT as gemeenskapsmaal van die volk van God ingestel (Mt 26: 18,26v; 1 Kor 10: 16,17; 1 Kor 11: 17-33; Heid Kat S 31). Ons bely: “Ons ontvang die heilige sakrament in die vergadering van die volk van God” (NGB 35). Die kerklike tug wys daarom met afhouding van die

|354|

nagmaal (art 76) dat iemand deur sonde buite die gemeente van God te staan kom.

 

3. “Erediens” beteken samekoms van die volk van God

Die Kerkorde bepaal nie kerksentries dat nagmaal slegs bedien mag word waar ’n “kerk geïnstitueer” is nie. Die kerk beskik nie oor die genademiddele nie. Die Here gebruik self die genademiddele wat geordende dienaars onder toesig van die opsieners bedien (artt 2,3). Normaalweg sal die nagmaal tydens ’n gereelde erediens plaasvind. Soms moet met die oog op die bediening onder buitengewone omstandighede onder bepaalde voorwaardes nagmaal buite die normale eredienste gevier word. Die buitengewone erediens onder tugoefening van opsieners moet met die oog op bediening van gelowiges in hulle omstandighede gehou word.

 

4. Sakramente word deur ’n dienaar wat daartoe geroep is bedien

Op sterkte van die relasie van ’n helper tot ’n “sendeling” is al verkeerdelik geredeneer dat so ’n “helper” deur die sendeling of sendende kerk “gemagtig” kan word om ook sakramente te bedien (Floor 1964:49v). Die Here het egter die ampte gedifferensieer (NGB 30; Mt 28: 19) en ons bely dat dienaars of herders die Woord van God moet preek en sakramente bedien. As “helpers” deur iemand anders gemagtig word om die diens te verrig sonder dat hulle wettig beroep en toegelaat is (artt 2-5) dring hulle in die diens van die Woord in. Die bevestigingsformuliere vir predikante en ouderlinge omskryf die gedifferensieerde opsienerstaak van bedienaars van die sakramente en van toesig oor die bediening en bedienaar daarvan.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Dordtse Kerkorde van 1619 het in artikel 64 ’n bepaling oor “aandgebede” gehad: “Aangesien in talle plekke die Aandgebede vrugbaar bevind word, sal elke kerk die gebruik volg wat hy beskou tot die meeste stigting sal dien. Indien die mense egter begeer om die gebruik te beëindig, sal dit nie sonder die oordeel van die Klassis en van die Owerheid wat die Gereformeerde godsdiens toegedaan is, plaasvind nie”.

Die Roomse gebruik van Aandgebede is gedurende die Reformasie voortgesit en is nie sonder meer verkeerd nie. Tegelykertyd toon dit dat die owerhede dergelike ou gebruike aan die kerke opgedra het.

Die GKN het te Utrecht 1905 die voorsiening van ouderling en diakens “by provisie” op plekke waar nog geen “kerkelijcke ordre” is nie (DKO art 63) na artikel 64 verskuif sodat die GKSA in 1916 bepaal: “Die bediening van die nagmaal sal alleen plaasvind waar toesig van die ouderlinge volgens kerklike orde is en in 'n openbare samekoms van die gemeente”. In 1964 is die huidige

|355|

bewoording sonder enige verklaring vasgestel, waaruit blyk dat geen sinsverandering beoog is nie.

 

2. Nagmaalbediening aan siekes in huise of tehuise

Die Reformatore het verskil oor die vraag of nagmaal aan siekes aan hulle huis bedien mag word. Luther, Bullinger, Beza en Voetius wou nie die nagmaal buite gewone eredienste laat bedien nie, terwyl Calvyn by wyse van uitsondering en om gewigtige redes, wanneer ouderlinge toesig hou en ’n aantal gelowiges saamkom, sodanige viering wou toestaan.

Die GKSA het in 1876 by die standpunt van Calvyn aangesluit en nagmaalbediening in uitsonderlike gevalle by ’n buitengewone “godsdiensoefening” onder toesig van die ouderlinge toegestaan. Sommige ag dit onhandhaafbaar in die lig van die gemeenskapskarakter van die nagmaal (Kruger 1966:391). In buitengewone omstandighede moet egter dikwels buitengewone reëlings ter wille van bediening van gelowiges getref word, byvoorbeeld ten opsigte van verspreidwonende gelowiges wat nie normale eredienste kan bywoon nie (vgl art 39). Die noodsaaklikheid van die bediening geniet hoër prioriteit as normale en gewone ordereëlings solank die reëlings aan die essensiële kenmerke van die ware kerk beantwoord. ’n Kerkraad kan dus buitengewone samekomste van gelowiges met die oog op nagmaalbediening aan vereensaamde gelowiges bepaal.

Die vraag of nagmaal soms in ’n tronk bedien kan word, moet egter ontkennend beantwoord word. Gevangenes is weens misdade in ’n tronk gevonnis. Isolasie van die gewone erediens, nagmaalgeleenthede en samelewing vorm deel van die straf en tug waaraan hulle regtens onderwerp is. Hulle moet inderdaad met die Woord bedien word, maar op die bediening van die sakrament van die nagmaal wag totdat hulle weer in die volle gemeenskap met die volk van God ontvang en versoen word. Die ontbering van die sakrament doen niks af aan die saligheid nie. Dit is egter sonde om die sakrament gering te skat of die toesig oor die abnormale tronkgemeenskap as die diens van ouderlinge (art 23) te beskou. Die ontbering van sakrament tydens gevangenisstraf mag die verlange na die normale gemeenskap met die volk van Gnd juis versterk en aanwakker.

 

3. Demonstratiewe nagmaalvierings

God het gelowiges onder die sorg en bediening van die bepaalde bedienaars van Woord en Sakrament op bepaalde plekke gestel (Calvyn Inst IV.3.vii). Die nagmaal is daarom die sakrament in die plaaslike kerk (artt 29,35 NGB). In die lig hiervan het die GKSA ook in 1961 gesê: “Die Nagmaal mag dus nie misbruik word as 'n demonstrasie van ekumeniese eenheid nie” (Acta: 119).

Sedert die 18de eeu het die kerksentriese opvatting egter die begrip “eenheid van die kerk” as genootskap opgeskroef. Nagmaalvierings moes dan ten dienste van hierdie “eenheid” tydens sinodale vergaderings, interkerklike byeenkomste of ekumeniese byeenkomste gehou word. Hierdie vorm van nagmaalviering staan los van die van Gnd ingestelde toesig (1 Kor 5: 12). ’n

|356|

Sinode kom nie saam vir die doeleindes van ’n erediens nie en ook nie om “eenheid van die kerk” te demonstreer nie. Dit vergader soos ’n kerkraad om gelowiges te regeer. Dit geld nog meer ten opsigte van inter-kerklike byeenkomste. ’n Erediens is egter die byeenkoms van die gemeente van God in teenwoordigheid van God onder leiding van dié ampte wat hy vir bediening van daardie gemeente ordineer het.

 

4. Die toesig van die ouderlinge

Die ouderlinge hou oor die tafel toesig primêr deur hulle huisbesoek. Dié gevalle wat ’n ouderling nie alleen (op huisbesoek) kan afhandel nie, lê hy voor die kerkraad (artt 73,74,76 KO). Deur onkunde van besoekers, gebrek aan kommunikasie of miskien selfs uit moedswilligheid mag dit gebeur dat iemand sonder verlof of voorkennis van die kerkraad tog saam met die gemeente aan die nagmaal aansit. So ’n situasie moet met sorg, versigtigheid en verfynde smaak deur die ouderlinge hanteer word om so min as moontlik steuring en aanstoot by ’n nagmaalviering te veroorsaak. Daar is gevalle bekend waar ’n ouderling agter iemand plaasgeneem het om die brood en wyn by die persoon verby te neem. In die reël is dit beter om na die nagmaalviering op ’n gepaste wyse met die persoon te handel om herhaling van die voorval te verhoed. Veral by goedertrou moet baie versigtig opgetree word. Die persoon en verhouding tot Christus is van groter bepalende betekenis as sy verhouding tot “die kerk”.

 

5. Die diens van die diakens

Die diakens word nie in artikel 64 genoem nie, omdat hulle nie ’n wesenlike taak by die nagmaal het nie, behalwe wanneer hulle as opsieners optree (art 38 KO). Nietemin het diakens by die erediens ’n amptelike taak (Heid Kat S 38). Dit staan in noue verband met die gemeenskap (koinonia) van die gelowiges (B Spoelstra 1963; GKSA 1964:391-408). Die diakens was betrokke by die liefdesmaaltye (Hd 6: 1v). Deur die eeue het diakens tafels vir nagmaalviering gereed gemaak en gehelp tydens die nagmaalviering. Kruger beweer dat die Konsilies van Arles (314) en Nicea (325) diakens moes belet om by afwesigheid van die biskop, die nagmaal te bedien (Kruger 1966:394).