Artikel 72 en 73

Die onderlinge vermaning as bediening van versoening

 

Artikel 72: As iemand dan ten opsigte van die suiwerheid van die leer of vroomheid van die wandel sondig, moet, in sover dit heimlik is en geen openbare aanstoot gegee het nie, die reël onderhou word soos Christus duidelik in Mattheus 18 voorskrywe.

Artikel 73: Die heimlike sondes waaroor die sondaar berou het nadat hy deur een persoon afsonderlik of in teenwoordigheid van twee of drie getuies vermaan is, moet nie voor die kerkraad gebring word nis.

 

A. Kerkregtelik

1. Die begrip sonde

Die Bybel gebruik verskillende woorde vir sonde wat verskillende aspekte van sonde belig. In die NT is sonde (hamartia) mis van doel, verkeerd gaan, die goeie verloor, teen die goddelike bedoeling vir mens-wees ingaan. Die ander woord (anomia) sê dat die mens teen die Wet van God ingaan, wetteloos optree. Nog ’n derde begrip (adikia) tipeer die daad of gesindheid as verkeerd, in stryd met wat reg is, onregverdig en onbehoorlik. Daar is erfsonde en erfskuld (NGB 15), maar kerklike tughandelinge gaan slegs oor daadwerklike sondes.

Sonde veronderstel dus ’n norm, standaard of “die goeie” waarteen menslike doen en late afgeweeg word. Hierdie norme kan aan die Wet van God of die Skrif ontleen word, maar word partymaal onbewus van kultuur, menslike rede, kerklike uitsprake of voorskrifte, persoonlike opvoeding, of ander maatstawwe wat menslike sedelike gedrag bepaal, afgelei. Gevolglik is mense al getug

|392|

omdat hulle ’n tyd- of kultuurgebonde reël oortree het wat sonde genoem word maar nie sonde is nie.

Sonde word nie deur ons menings, kultuur, tradisie of selfs kerklike besluite bepaal nie. Sonde staan teenoor die Woord en Wet van God. Wie vermaan, moet aan die vermeende sondaar sy sonde omskryf in terme van wat God geopenbaar het en dit kom gewoonlik op oortreding van een van die Tien Gebooie neer.

Gereformeerdes verwerp die Roomse onderskeiding tussen vergeefbare en doodsondes (Mt 12: 36; Ef 5: 4). Wie ander moet leer, word strenger beoordeel (Jk 3: 1,2). Daar is vergewing vir alle sondes (Js 1: 18; 1 Joh 1: 17). Slegs die verharding teen die Heilige Gees om nie van sonde oortuig te word nie, is onvergeefbaar. Tog is daar ligter en swaarder (growwer) sondes. Om te steel uit hebsug is groter sonde as steel uit honger (Sp 6: 30). Daar is gevolglik ook ligter en swaarder optredes teen sonde nodig (Joh 19: 11; Lk 12: 47,48; Lv 4: 2,27; Nm 15: 22,30; 35: 22; Mt 11: 21-24; 2 Kor 5: 10). Die nagmaalsformulier hang ’n lys van growwe sondes voor ons op, maar bely ook dat by alle gelowiges sonde teen hulle wil in hulle oorgebly het. By die bepaling van sonde moet gevolglik op die gesindheid van die hart ernstig gelet word. Sodra ware berou na vore tree, kan van geen kerklike tug meer sprake wees nie.

 

2. Sonde teen die suiwerheid van die leer

Die Here is ’n God van waarheid terwyl die Satan wat hom teëstaan die vader van die leuen is. In die Belydenis spreek die gelowiges hulle geloof wat hulle kerk maak, uit. Die Belydenis bly altyd aan die Woord toetsbaar. Die waarheid moet bely word (Rm 10: 9,10) in ’n homologia, woorde van eenheid (Hb 4: 14; 10: 23). Die ideaal van kerkwees en eenheid van die kerk is daarom om die waarheid wat God openbaar het, uit een mond te bely.

Hierdie geloof bind gelowiges aan Christus en deur Hom aan God en aan mekaar. Geloof is die wese van ware kerklike eenheid of kerkverband (kyk by artt 53 en 55 KO). Valse leer tas die eer van God aan, bedreig die band wat die liggaam van Christus saambind en is die direkte werk van Satan, die vader van die leuen (Mt 7: 15; 24: 11; Hd 15: 22-29; 20: 28-31; Rm 16: 17,18; 1 Kor 15: 12-18; GI 1: 8,9; 5: 9-12; 1 Joh 2: 22; 4:2-6; 2 Joh: 10).

Dwaalleer wat die Skrif en Christus verwerp kan nie geduld word nie (Gl 1: 8,9). Wie die sentrale waarhede van die evangelie (vgl bv die 12 Artikels) loën, het nie die geloof wat met Christus verenig nie en staan vervreemd van die kerk en de facto buite die kerk so lank hy nie na die kring van gelowiges terugkeer nie (vgl artt 53,54).

Dit is moeiliker om sonde teen die leer te bepaal wanneer iemand al die sentrale geloofswaarhede in die 12 Artikels onderskrywe, maar dan oor die leerstuk van die skepping, kinderdoop (kyk art 56) of die laaste dinge, ’n leer voorstaan wat afwyk van die Belydenis of gangbare opvattings in ’n kerkgemeenskap. So het die GKN in 1944 geskeur nadat tug toegepas is oor die vraag of doop op sterkte van God se beloftes of veronderstelde wedergeboorte geskied. Waar bepaalde sektes hulle wese aan verwerping van die kinderdoop

|393|

ontleen, is gereformeerdes daaroor weer ekstra gevoelig. Die gevaar is dat gereformeerdes ook weer “doodsondes” vanuit hulle ligging kan begin uitsonder.

Kerkregtelik geld kragtens die wese van die kerk dat niemand wat nog in Christus glo, aan Hom behoort en Hom wil gehoorsaam op sterkte van ’n leerdwaling uit die kerk geban mag word nie. Juis die streng Calvyn verklaar dat Wederdopers nie oor leerverskille sommer van die kerk mag afskei nie. Daar kan oor leerstukke verskil bestaan, sonder dat die eenheid van geloof verskeur word. Hy veroordeel onverdraagsaamheid wat dergelike mense uit die kerk dwing. Juis waar die Woord en sakramente suiwer bedien word, kan die Woord en Gees op God se tyd nuwe of beter insigte bewerk (Inst IV.1.xii,xiii; 2.i). Die dwaalleer moet gedurig aangespreek en die aanhanger daarvan bearbei word.

 

3. Sonde teen die vroomheid van lewenswandel

Gelowiges is almal sondaars (Jk 3: 2) en daarom bedoel die Skrif en Kerkorde nie dat net sommige ’n prerogatief het om ander oor elke sonde te loop en vermaan nie. As elke sonde bestraf moet word, sou die hele gemeente onder tug verkeer. Daar moet onderskei word tussen die sondes wat gelowiges uit swakheid begaan en bepaalde sondes wat ernstige implikasies vir die sondaar, ander mense en die eer van God het. Die sonde moet volgens Rutgers “ergernis” of aanstoot gee. Gevolglik gee die hardnekkige verwerping van Christelike vermanings en afwesigheid van berou by uitstek aanleiding vir die tug (De Jong 1918:55,57).

Die gelowige kan, met werke uit liefde gedoen, God onder mense verheerlik en dien (Mt 5: 16; Heid Kat S 32,33), terwyl ’n liefdelose lewe konflik met God, die gemeente, ander mense en die sondaar self meebring wat om bediening van versoening roep. Die Gereformeerde Etiek moet uitwys wat God vir ’n gelowige lewenswandel bepaal.

 

4. Is die sonde of die vermaning “heimlik”

Calvyn het verborge (heimlike) sondes van openbare sondes op grond van die woorde “teen jou sondig” in Mt 18: 15 onderskei (lnst IV.12.iii). Gevolglik is al probeer om “heimlike” sondes teenoor die wat “openbaar” sou wees, te lys (Van der Linde 1983:233,237). Hierdie onderskeiding word egter betwyfel.

Die woorde “teen jou sondig” staan tekskrities nie vas nie en moet wanneer Skrif met Skrif vergelyk word in die lig van Lk 17: 3,4 en Lv 19 eenvoudig “as (jy) jou broer (sien) sondig” beteken. Skrifverklaarders sê dat die Here in Mt 18 die plig om jou broer te vermaan beklemtoon, terwyl jy self sondig indien jy dit versuim. Wanneer jy liefhet en vir God en jou broer omgee, sal jy vermaan en vergewe. Die “persoonlike vermaning” van Mt 18: 15 geskied gewoonlik in die geheim en het “groot krag”. Op hierdie reël is daar egter juis op sterkte van die liefdesbeginsel uitsonderings (Kruger 1985a). Mt 18: 15 bepaal dat wie van sonde bewus is, met die sondaar oor sy sonde persoonlik moet gaan praat en dat die vermaning onder vier oë moet geskied.

|394|

Op sterkte van Gl 2: 11 en 1 Tm 5: 20 is daar egter ook voorbeelde waar ’n sondaar openlik bestraf moes word. In die eerste geval bestraf Paulus vir Petrus persoonlik en openlik wanneer hy die leer van vrye genade teenstaan. Mt 18: 1 stel ’n algemene reël, terwyl Gl 2: 11 op ’n insident wys waar die eer van God en heil van die kerk openlike bestraffing regverdig.

Paulus belet Timotheus om ’n klag teen ’n ouderling op te neem indien twee of drie getuies die klag nie bevestig nie. Tegelykertyd moet hy as vaste reël ’n ouderling wat verkeerde dinge doen “openlik bestraf” sodat ander van die kwaad afgekeer kan word (1 Tm 5: 19-21). In die lig van Mt 18: 17 is “getuies” nie blote hofgetuies nie, maar hulle moet “mede-vermaners” wees in die lig van Dt 19: 15. In Mt 18: 17 en 1 Tm 5: 19 geskied die persoonlike vermaning deur meer as een voordat dit aan die kerkraad meegedeel mag word (vgl Kruger 1985b). “Heimlike sondes” (Ps 90: 8; 1 Tm 5: 24) bedoel sondes wat tot op beperkte hoogte openbaar geword het sodat die vermaners (en ander) reeds daarvan weet. Mt 18: 15 skryf dus ’n “heimlike” of persoonlike vermaning onder vier oë en daarna in kleiner kring van “getuies” voor. Dit definieer nie “heimlike sondes” as sondes waarvan jy alleen bewus is nie.

Sodra die heimlike bearbeiding vrug dra, tree versoening in en moet vergiffenis, al is dit tot sewe maal sewentig, geskenk word. Daarmee hou die bearbeiding op en mag nog die sonde nog bearbeiding verder gerapporteer word (Gl 6: 1,2; 1 Ts 5 :15; Hb 3: 13; Jk 5: 20). Die liefde vereis in die negende gebod dat die goeie naam van ’n medegelowige beskerm moet word, soos elkeen sy eie sou wou beskerm (Mt 7: 12; 2 Kor 2: 5-10; 1 Kor 13: 4-7; Heid Kat S 43).

 

5. Onderlinge vermaning is goddelike voorskrif

Die voorgeskrewe onderlinge vermaning in artt 72 tot 74 ontleen Calvyn (Inst IV.12.ii-vii) regstreeks aan die Bybel (Mt 18: 15-22; Lk 17: 3,4). Die tug verloop in “trappe”. Artikel 73 KO reël kragtens goddelike voorskrif dat sondes waaroor ’n sondaar heimlik vermaan is, waaroor hy berou het en waarvan hy hom bekeer het, glad nie voor die kerkraad gebring en so openbaar gemaak mag word nie.

 

B. Kerkregering

1. Die verwaarloosde onderlinge vermaning

Aangesien die Here die onderlinge vermaning van artikels 72-74 voorgeskryf het, gryns die tergende vraag ons aan waarom so baie mense in die gemeente versuim om met medegelowiges te praat of weier om deur medegelowiges vermaan te word. Tweedens is die vraag waarom mense so graag en so maklik medegelowiges met wie hulle nie gepraat het nie, aan die dominee, ouderling of kerkraad wil rapporteer. Hulle gebrek aan liefde maak hulle daarmee onmiddellik self ’n voorwerp van die kerklike vermaning want hulle tree nie versoend in harmonie met die wil van God en hulle naaste op nie. Tereg wys artikel 74 KO dat die vermaning in liefde moes geskied het.

|395|

2. Die heimlike of onderlinge vermaning

Eerstens moet gelet word op wat reeds oor heimlike of verborge en openbare, ligter en swaarder sondes gesê is en dat tug oor sondes teen die Woord en Wet van God moet gaan.

Konsilies en sinodes het byvoorbeeld al probeer om sondes uit te wys. So is in die geskiedenis die huwelik vir ’n geestelike, die wetenskap van Copernicus, grimering of broekpakke vir vroue, gemengde baaiery, toneelspel, kaartspel, dans en baie ander sake op sigself en sonder meer tot sonde verklaar (vgl Inst IV.12.xxii; ook Sinodes GKSA). Dit lyk soms asof herders en kerkrade liewer tug uitoefen wanneer hulle dit op gesag van ’n sinode kan doen, terwyl hulle glad nie vasstel of en watter Wet van God die persoon oortree het nie. Is elke deelname aan dans (bv van ’n egpaar tuis) of kaartspel (sonder dobbel) oortreding van die Wet van God? Indien sonde vasgestel is, moet verder eers uitgemaak word of dit ’n heimlike vermaning vereis of ’n growwe openbare sonde is (vgl art 76). Skynbaar gee sinodaal-gelyste “sondes” geleentheid om die verantwoordelikheid op elke gelowige en elke herder te ontduik en kortpad kerkraad toe te vat. Die kerkraad moet hom verantwoord oor die aard en graad van sonde en onderlinge vermaning voordat hy ’n saak op sy tafel neem (artt 75,76).

Nie elke dans of kaartspel is tugwaardige sonde nie. Sonde bestaan nie in drank, dans of kaartspel buite die mens nie. Sonde het altyd op die gesindheid, sedelike instelling en motivering van ’n mens betrekking (Rm 14; 1 Kor 6: 12-20; 10: 23v). Daar is soms versagtende omstandighede vir sonde (Lk 23: 34; Hd 3: 17; 17: 30; 1 Tm 1: 13). Soms sondig mense uit swakheid en nie moedswillig nie (Mt 26: 41; Rm 7: 15-24). Soos reeds aangedui, moet iemand presies verneem hoe hy die Wet en Woord van God oortree het en nie watter sinodebesluit nie (De Jongh 1918:55v).

Reeds die eerste Sinode 1571 (part vr 16) kon nie vasstel of bepaalde sondes heimlik of openbaar is nie en die Sinode van Den Haag 1586 het geweier om tabelle van heimlike of openbare sondes op te stel (Jansen 1952:314-315). Die twyfelagtige begrip “heimlike sondes” dui hoogstens daarop dat sondes heimlik is so lank dit nog nie by die kerkraad aanhangig gemaak is nie. Die gemeente is almal sondaars (Jk 3: 2), maar moet nogtans voorkomende sondes kragtens die liefde en wese van die kerk ouderling en in oorleg met mekaar (“heimlik”) bestraf (Mt 18: 15,16). Eers wanneer die bestraffinge nie vrug dra nie, moet dit in die gemeente openbaar gemaak word (Mt 18: 17). Dit lyk logies om hierdie oorgawe aan die kerk as openbaarmaak te beskou, soos wat artikel 75 KO praat van sondes wat deur die “veragting van die kerklike vermaninge openbaar geword het”.

Die onderlinge vermaning geskied primêr deur die gelowiges in die wyke waar hulle, as dit nodig word, gerieflik die betrokke wyksouderling kan byroep (of omgekeerd). Die Kerkorde van Genève 1541 het al bepaal dat verborge sondes in die verborge reggestel moet word (Pont 1981:43, art 157). Die ouderlinge moes die skuldige oproep en “vriendelik” teregwys, die vermaning herhaal en as dit op lang duur niks help nie, moes die “veragter van God” van die nagmaal afgehou word totdat hy hom bekeer (Pont 1981 :43 art 158).

|396|

Tog is daar ook sondes wat in die openbaar gepleeg is en openbare ergernis verwek (Pont 1981:43 art 157). Growwe sondes van hierdie aard gee “openbare aanstoot” (art 72) en kan nie slegs langs die weg van onderlinge of heimlike vermaning behandel word nie. Die openbare konflik met God en die gemeente kan nie heimlik versoen wat openbare aanstoot gegee het nie. Hier moet die kerkraad oor openbare versoening handel (art 75). Die hardnekkigheid van die sondaar of die gruwelikheid van ’n sonde moet deur die bedienaars van die koningskap van Christus hanteer word. Wanneer twyfel bestaan of ’n bepaalde sonde heimlik of openbaar hanteer moet word, moet die “heimlike” metode voordeel van die twyfel geniet.

 

3. Die getuies

Mt 18: 16 (art 73) praat nie van ’n getuie in ’n hofsaak nie. “Getuie” beteken as ’t ware ’n mede-vermaner (Kruger 1985a en b). ’n Ouderling moes dus self vermaan het, voordat hy ’n geval by die kerkraad aanhangig maak. Indien hy self die eerste “getuie” was wat vermaan het, moet hy eers nog een of twee “getuies” verkry wat saam met hom of onafhanklik naas hom vermaan. Hier kan hy van ’n gepaste medebroeder of -suster of van mede-onderlinge gebruik maak. Hierdie “getuies” moet saamstem dat daar geen wil tot inkeer en bekering aanwesig is nie, voordat die saak by die kerkraad (en so by die gemeente) aangegee word.

Daar is goeie Skrifgronde om aan te neem dat liefde vereis dat van hierdie vooraf vermaninge heimlik of in die openbaar binne ’n kleiner kring sal geskied, soos Paulus Petrus oor sy leer teengestaan het (Gl 2: 14; 1 Tm 5: 20). Calvyn wil hieruit aflei dat daar “trappe” by die “verborge sondes” is wat nie vir “openbare sondes” geld nie (Inst IV.12.iii). Slegs wanneer die aard van die sonde en die gevolge daarvan onderlinge vermaning uitskakel moet regstreeks na die kerkraad gegaan word.

 

4. Diskresie by optrede oor leerdwalinge

Wanneer iemand wat klaarblyklik ’n gelowige in Christus is en die sentrale waarhede volgens die 12 Artikels bely, maar tog met ’n bepaalde gereformeerde leerstuk of opvatting (bv ’n sinodebesluit) in botsing kom, moet die persoon en sy dwaling van mekaar onderskei word. Iemand moet vanweë sy swakhede verdra kan word wanneer hy hom nie teen Christus verset nie. Hierdie verdraagsaamheid beteken hoegenaamd nie dat sy dwaling gekondoneer of beskerm word nie. Daaroor kan langdurig en voortdurend deur die ouderlinge (gewoonlik ’n taak vir die predikant) gepraat word. Wanneer dit egter lyk asof die persoon nie met die standpunt of leerstuk kan konformeer nie, kan die kerkraad selfs besluit om die persoon met sy dwaling ter wille van die kerk van Christus te verdra (Inst IV.1.xii,xiii). Hy kan tot die nagmaal toegelaat word, maar nie vir die diens van ouderling of diaken oorweeg word nie. Indien die persoon egter in die gemeente aanhang vir sy afwykende leer probeer werf, maak hy hom aan die growwe sonde van skeurmakery skuldig. Hy verhef homself bo die kerk en tree verwaand, moedswillig en liefdeloos op.

|397|

Die hantering van leerdwalinge verg geduld, verdraagsaamheid, bewoënheid en selfbeheersing. Die predikant bevind hom as teoloog in konflik met iemand wat sy onderwys verwerp. Die persoon voel hom op sy beurt deur die predikant se teologiese opleiding bedreig. Beide persone kan maklik aggressief raak. Dit, sowel as haastige dissiplinêre optredes, werk gewoonlik kontra-produktief.