Artikel 38a en 39

Instelling van die kerkraad en die klassis

 

Artikel 38a: Waar ’n kerkraad vir die eerste maal of opnuut ingestel word, moet dit geskied met advies van die klassis.

Artikel 39: Plekke waar nog geen kerkraad kan wees nie, moet deur die klassis onder die sorg van ’n naburige kerkraad gestel word.

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerkraad is essensieel

Die gereformeerde kerkreg van die 17de eeu praat nie soos vandag kerksentries van die “stigting” of “afstigting” van kerke nie. Die leidende vraag is hoe die Christusregering op ’n plek bedien sal word. Die kerkorde neem ook nie die voortplanting van die “kerk” as vertrekpunt nie, maar vra hoe die regering van Christus bedien sal word.

Waar die koninkryk van Christus met Woord en Gees die kerk vergader (Heid Kat S 21) moet ouderlinge geroep word om te regeer (artt 2,3,23). Die regering kan egter eers verwesenlik word wanneer minstens drie (artt 37,38b) ’n kerkraad daarstel sodat die tug en ban in oorleg na beraad bedien kan word.

By Rome stel ’n biskop en by Luther ’n superintendent mense aan om oor die gelowiges toesig te hou. In die gereformeerde kerkreg word die ouderlinge normaalweg deur en uit die gemeente (Calvyn Inst IV.3.xv; 4.x) onder leiding van eie of naburige kerkrade geroep.

|236|

2. Die kerkraad is plekgebonde

Die eenheid in geloof word op ’n bepaalde plek sigbaar waar gelowiges hulle in die amp van die gelowige afskei van diegene wat die geloof nie deel nie om as ’n ware kerk die merktekens van die ware kerk te vertoon. ’n Gelowige is verplig om te kyk waar hy die ware kerk aantref om hom daar aan die regering van Christus te onderwerp (NGB 28,29). So ’n komplete kerk kan slegs op ’n plek gevind word waar die tug, kerklike sensuur of ban (Heid Kat S 31; NGB 32) na behore uitgeoefen word. Op so ’n plek moet daar genoegsaam gelowiges wees met genoeg manne wat oor die nodige gawes beskik om as ouderlinge geroep te word. Wanneer daar drie of meer ouderlinge (waarvan een ’n diaken mag wees) dien, kan daar ’n kerkraad ingestel word en funksioneer daar ’n komplete kerk. Die kerkraad is veral noodsaaklik vir die bewaring van die kerk op daardie plek (Heid Kat S 48; NGB 30). Die gelowiges kan die behoefte aan ’n eie kerkraad aanvoel, maar die oordeel oor waar, wanneer en hoe dit sal gebeur moet ordelik saam met die naburige kerke uitgemaak word.

 

3. Eenheid in Christus is kerkverband

Die kerk is universeel en plaaslik een liggaam van gelowiges onder een Hoof, Christus (Ef 1: 22; 4: 4-6; NGB 31). Gevolglik moet die kerke oral in dieselfde goeie orde bestaan wat die ware kerk kenmerk. Die kerke is gebou op die leer en voorskrifte van die apostels (Ef 2: 20), sodat hulle in kerkverband staan. Die apostels het voor daar kerkvergaderings was, toegesien dat dieselfde orde in naburige kerke toegepas word. Hulle en hulle opvolgers het inisiatief geneem om ouderlinge van plek tot plek in te stel (Hd 1: 26; 6: 3,6; 14: 23; Tit 1: 5). Du Plooy het aangetoon dat die apostolisiteit van die kerk inhou dat die ouderlingamp aan die plaaslike kerk verbonde, maar nie daarin gebonde is nie. Die regering wat die ouderlinge bedien, strek selfs verder as die eie gemeente (1982:177). Daarom kan kerke oor mekaar toesig uitoefen sodat hulle die kentekens van die ware kerk vertoon (Du Plooy 1982:179).

Die kerke doen nou met mekaar in kerkverband deur middel van kerkvergaderings wat die apostels aan die begin gedoen het. So moet die naburige kerke, wat waarskynlik al meegewerk het aan die groei wat tot die behoefte aan ’n kerkraad lei, meewerk aan die instelling van ’n nuwe kerkraad. Kragtens die gemeenskap in Christus word kerkverband beleef (Heid Kat V/ A 55), ook op plekke waar nog nie ’n kerkraad kan wees nie. Die eerste en intiemste belewing van kerkverband tussen kerke vind in die klassis plaas. Gevolglik maak die kerke in klassis ’n inset waar die instelling van ’n nuwe kerkraad oorweeg word.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van artikels 38 en 39

Die bepalings in artikels 38 en 39 oor die instelling van kerkrade of ten opsigte van plekke waar nog geen kerkrade kan wees nie, was besonder aktueel tydens

|237|

die reformasie toe talle Roomse gemeenskappe gereformeer het en kerkrade moes instel. Rome het kerkrade nie geken nie. Op sommige plekke kon vlugtelinge voor Spaanse en Roomse vervolging weer terugkeer en moes “opnuut” kerkrade ingestel word. Gedurende die Afskeiding van 1834, Doleansie 1886 of vandag waar sending of migrasies gereformeerdes op plekke begin saamtrek, moet artikels 38 en 39 nagekom word. Dit word egter oorwegend gebruik waar ’n kerkraad by die sogenaamde “afstigting” of “stigting” van kerke ingestel moet word.

Te Emden 1571 moes die klassis predikante in behoeftige kerke onderhou, vir kombinasies sorg en predikante moes “verstrooide gemeentes” in bepaalde gebiede “aanpor” om selfstandig predikante te beroep (Pont 1981:108 art 40). Predikante het destyds doelbewus op plekke ’n gemeente gaan uitwerk (art 7). Sodra gawes aanwesig was, is ouderlinge en diakens bevestig (Biesterveld, Kuyper 1905:100 art 11 van 1578).

die oudste kerkordes aanvaar die plig en reg van gelowiges om op ’n bepaalde plek onder leiding van ’n dienaar van die Woord ouderlinge (en diakens) te verkies. In 1586 word die huidige artikels 38 en 39 geformuleer, behalwe dat (vgl 38) by die “opnuut” instel van ’n kerkraad die klassis geken word en (vgl 39) die klassis sou doen wat ’n kerkraad moes doen op ’n plek waar nog nie ’n kerkraad is nie (Biesterveld, Kuyper 1905:201 art 35). Tegnies was artikel 39 natuurlik in stryd met artikel 30 KO totdat die kerke in Nederland dit in 1905 gewysig het, sodat die klassis verspreidwonende gelowiges aan ’n naburige kerkraad toewys (Van der Linde 1983:148).

 

2. Advies van die klassis vir instelling van ’n kerkraad

Die bepaling dat die klassis oor die instelling van ’n kerkraad moet adviseer, dateer eers vanaf 1586 en wil dus eerder orde as ’n beginsel dien (kyk NGB 32). Die klassis moet ’n groepie gelowiges of ’n naburige kerkraad adviseer wanneer ’n kerkraad op ’n bepaalde plek ingestel moet word. Die werklike instelling berus egter by die gelowiges ter plaatse, alhoewel verwag word dat kerkrade die advies sal opvolg. Advies wat op prinsipiële oorwegings, soos die afwesigheid van ampsgawes, berus is meer bindend as advies wat op middelmatige oorwegings soos byvoorbeeld finansies berus (art 30; Calvyn Inst IV.9.viii; 10.vi). In buitengewone omstandighede mag gelowiges ’n kerkraad selfs sonder enige advies van ander kerke op ’n plek instel (Van der Linde 1983:149).

Die klassis het vir advies sekerheid oor basiese vereistes nodig: die aantal gelowiges op daardie plek, die aanwesigheid van voldoende ampsgawes, die ligging van daardie plek ten opsigte van naburige kerke, bedieningsvooruitsigte, ensovoorts. Die klassis mag die verhouding tot naburige kerkrade of prognose van demografiese, ekonomiese of politieke ontwikkeling daarby oorweeg en selfs vra of die nuwe kerkraad finansieel en andersins vir die bediening van die Woord en sakramente sal kan sorg.

|238|

3. Die plek waar ’n kerkraad ingestel word

Die “plek”, stad, stadswyk, dorp of selfs plaas waar ’n kerkraad ingestel word, is belangrik en moet aan bepaalde vereistes beantwoord. Die aangewese plek moet werklik ’n sentrum vir gemeenskap wees en mense reeds vir sakebelange, skole of maatskaplike belange bedien. ’n Kerk bestaan nie in isolasie nie. Wanneer ’n kerkplek, om watter ekonomiese of sentimentele redes ook al, op ’n uithoek geleë is, dien dit nie gemeenskapoefening nie en kom dadelik probleme oor byvoorbeeld bywoning van eredienste na vore.

In bloeiende stadswyke moet ook nie te maklik ’n tweede kerkraad naas die bestaande ingestel word nie. Daar moet liewer meer as een predikant in dieselfde kerkraad dien. Predikante dien die kerk met verskillende gawes, een kerkraad is goedkoper en kan toekomstige ontwikkeling ekonomies en demografies beter verwerk. Belange van ’n predikant mag nooit tot “afstigting” of ’n nuwe kerkraad lei nie. Die kerkplek moet die plek wees waar gelowiges lewende en natuurlik gemeenskap in geloof ten volle kan beoefen. Mense moet nie kunsmatig uitgekeer word net om ’n “kerk te stig” nie en moet nie gedwing word nie. Dit moet nie formeel oor “lidmate” gaan nie, maar oor bediening. Mense wat in werklikheid te veraf woon om natuurlike gemeenskap met die gemeente op daardie “plek” te beoefen, moet volgens artikel 39 as verspreidwonend bedien word.

 

4. Instelling van kerkrade (soms genoem “afstigting” van kerke)

Wie die “kerk” as uitgangspunt neem, werk basies met die idee dat die kerk as kollegium of vereniging op ’n bepaalde plek “gestig” of van ’n “moederkerk” afgestig moet word. Die nuwe “kerk” (struktuur) beslaan ’n bepaalde gebied en met vasgestelde grense. Wanneer die kerk “afstig” moet daarvoor ’n kerkraad as bestuur ingestel word. In die kollegialisme gaan die kerk aan die kerkraad vooraf.

Daarteenoor behou Rome, al pas hulle dit verkeerd toe, baie meer van die vertikale Skriftuurlike kerkbegrip wanneer hulle aanvaar dat sodra ’n priester die gesag van die pous en sakramente op ’n plek bedien, is die pous en so die kerk van Rome daar aanwesig.

Opvallend genoeg het vanaf die 17de eeu, namate die kerk as ’n objektiewe vereniging vir mense beskou is, die motief om “eie” kerke te stig baie sterk na vore getree (vgl Van der Watt 1977; APK 1987). Opposisie-kerke is soms om blote politieke redes gestig terwyl die “kerk” ook weer sy struktuur op een en almal wou afdwing (Spoelstra 1963:70v;139v). In Nederland kom in die begin van hierdie eeu die motief van “kerkformatie” (Bos 1950:153) in die plek van instelling van ampte en ’n kerkraad op die voorgrond en verkry ook in die GKSA voorrang bo ’n meer bedieningsgerigte benadering. Dikwels is “afstigting” ten duurste gerealiseer “om meer predikante te plaas” asof elke biskop noodwendig ’n eie kerk moes hê. Soms is weer op afgeleë plekke nie ’n kerkraad ingestel nie, hoewel daar drie of meer ouderlinge dien, om te keer dat die kerk

|239|

“klein” sou wees of dat die kerk “wat afstig” in kombinasie met ’n ander sou moes tree.

Voordat ’n nuwe kerkraad op ’n plek ingestel word, moet noukeurig op versklllende aspekte ingegaan word. Die kerkraad moet vir die bediening op daardie plek noodsaaklik wees omdat bediening nie effektief vanaf ’n ander kerkraad behoorlik kan plaasvind nie. Die sentrum van die nuwe kerkraad moet natuurlik en geskik vir kerklike gemeenskap wees en die ou en nuwe kerkrade moet groei en gesonde bediening kan voorsien. Nuwe kerkrade word meestal nodig in gebiede waar plotseling, byvoorbeeld as gevolg van mynbou of stedelike ontwikkeling, gelowiges begin saamtrek of waar as gevolg van sending of doelbewuste evangelisasie ’n kerk vergader word.

Die aansoek om bediening of om ’n eie kerkraad kom partymaal van mense wat bediening verlang, soms van ’n naburige kerkraad wat die nood raaksien of soms van buitestaanders. Die GKSA het hiermee aktueel in verband met bediening in Angola, Argentinië, Kenia, SWA en Zimbabwe te doen gehad. By die instelling van ’n afsonderlike kerkraad moet die motivering kerklik gegrond wees en aantoon dat ’n nuwe kerkraad vir kerk-wees noodsaaklik is. Argumente met betrekking tot lidmaatgetalle, finansies, “bruidskat”, gerief of meer standplase vir predikante is van relatiewe sekondêre of geen belang.

Die aansoek om advies by ’n klassis word in later jare gewoonlik in die vorm van ’n “akte” vir “afstigting” van kerk gegiet, omdat die idee van “kerkformasie” in die Doleansie van Nederland besonder benadruk is (Kuyper 1883:27-82). Vir die “te stigte kerk” word dan “grense” voorgestel, aangedui watter “lidmate” die “nuwe kerk” sal hê, gesê of die kerk in kombinasie sal optree en hoe die finansiële vooruitsigte lyk. Hierdie benadering beskou die kerk as ’n “ding” (kollegium) vir “lidmate” wat deur grense bepaal word. Die klassis amendeer moontlik die “grense” in die lig van naburige kerke en wys ’n classis contracta vir die “afstigting” aan.

Die kerkorde stig nie ’n kerk nie, maar voorsien ’n kerkraad vir mense wat die kerk is. Die gelowiges (kerk) word op ’n bepaalde plek saamgeroep. Dit is nodig om te weet wie die gelowiges is wat bedien moet word. Onder leiding van die konsulent, in teenwoordigheid van verteenwoordigers van naburige kerke, verkies die gemeente ampsdraers, wat na approbasie dadelik bevestig word. Indien reeds meer as drie saam met die gelowiges oorkom is dit onnodig om een oomblik “ontslag” te verleen by een kerk om die ander oomblik weer in dieselfde diens bevestig te word. Hierdie optrede koppel die diens te veel aan ’n ou en nuwe kerkstruktuur. Die ampsdraers staan in ’n diens van Christus, nie van kerke nie. Predikante wat verhuis ontvang nie eers ontslag om daarna bevestig te word nie. Dienende ouderlinge en diakens kan in die nuwe gemeente selfs sonder verdere verkiesing onder leiding van die konsulent met of sonder byverkose ouderlinge en diakens, as kerkraad konstitueer, ’n skriba aanwys, notuleboek en lidmaatregister aanlê, reëlings vir finansiële administrasie en beheer tref, ensovoorts. Daarmee is die nuwe kerkraad geïnstitueer.

Finansies knyp dikwels die nuwe kerkraad. Mense mag nie meganies ter wille van bydraes uit naburige kerke in nuwe “grense” ingedwing word nie. Die argument dat die klassis (as soort hoër gesag) die “grense” voorskryf, gaan nie op nie. Die bediening hoort by die kerkrade tuis wat die mense versorg

|240|

(art 30) en die gelowige dra self ook verantwoordelikheid van keuse van ’n gemeente waar hy hom voeg (NGB 28) om ten beste saam te leef en bedien te word. Kerkrade mag mense probeer oorreed in hulle keuse, maar kan hulle nie dwing nie.

 

5. Kerke staan in gemeenskap met inkomplete kerke

Gedurende die Reformasie het die eerste Sinode 1571 die ouderlinge reeds aangespoor om in naburige stede en dorpe geloofsgenote as kerke of “beginselen van kerken” te laat saamkom (Bos 1950:151). Toe is ook al advies van die klassis nodig geag en byvoorbeeld geadviseer dat voorgangers kleiner groepe (wyke op ander plekke) by naburige groter kerke in een kerkraad kon saamvoeg (Bos 1950:152). In 1905 word die Kerkorde in Nederland tereg gewysig om gemeenskappe wat nog nie ’n kerkraad regverdig nie, onder sorg van ’n naburige kerk te stel met advies dat die gelowiges op daardie plek afsonderlik administreer moet word, al deel hulle in dieselfde voorregte as die kerk wat versorg (Bos 1950:152). Wie die eenheid van kerkstruktuur beklemtoon, beveel nie die afsonderlike administrasie aan nie (Van der Linde 1983:152). Inkomplete kerkgemeenskappe vereis egter eiesoortige en afsonderlike administrasie omdat dit die werklike situasie weerspieël en kerkgroei stimuleer.

 

6. Bediening van Verspreidwonendes

Die Westelike Klassis het aan bediening van verspreidwonendes gedurende die vyftigerjare stelselmatig aandag gegee en die neiging om “op ’n meganiese wyse grense so wyd as moontlik” te stel, ontmoedig. Dit het mense as ’t ware by ’n kerk gedink, terwyl hulle ver was. ’n Kerk is mense wat op ’n plek saamleef en gemeenskap oefen. Waar dit nie kan gebeur nie, verkeer iemand fisies en werklik buite daardie kerk, al sou hy formeel as “lidmaat” aangeteken word.

Naburige kerke in klassis moet doeltreffende versorging van verspreidwonendes op “eie meriete” onderneem. Verspreidwonendes moet as “voorposte” van kerkgroei en nie as agterhoede van bestaande kerke behandel word nie. Gevolglik moet ook die name van ouderlinge in sentra waar nog nie ’n kerkraad kan wees nie, in die Almanak van die GKSA aangedui word (vgl GKSA 1961:446-449). Hierdie benadering het die bediening in die Klein Karoo en Suid-Westelike Kaap gestimuleer. Lidmateregisters is afsonderlik gehou. Notules van vergaderings van ouderlinge en diakens in die verspreidwonende wyke is aan die betrokke naburige kerkraad voorgelê. Geleentheid is vir verspreidwonendes geskep om eie fondse op te bou en selfs eiendomme in byvoorbeeld Cradock en Stellenbosch aan te koop, voordat daar ’n afsonderlike kerkraad ingestel is. Die kerke wat verspreidwonendes bedien, het jaarliks verslae in die klassis voorgelê en kerklike meelewing, finansiële ondersteuning en besef van gereformeerde bediening op afgeleë plekke gestimuleer. Met finansiële steun van naburige kerke is selfs predikante vir verspreidwonende bediening beroep. Weldra het groei die instelling van ’n hele aantal kerkrade op verskillende plekke moontlik gemaak.

|241|

Die beginsel dat ’n kerkraad deur die klassis aangewys word om verspreidwonende mense te bedien, stel die klassis verantwoordelik om te oordeel wanneer mense as sodanig en selfs in die buiteland bedien moet word (GKSA 1955 art 245:1973 art 21).

Wanneer ’n klassis ’n naburige kerk vir verspreidwonende bediening verantwoordelik stel, moet daardie kerk dit as ’n voorreg in diens van Christus aangryp. Ander kerke moet, waar nodig, finansiële ondersteuning gee vir die bediening waarvoor die kerke in klassis kragtens die eenheid in Christus saam verantwoordelikheid dra. Die kerke in klassis kan dergelike voorposte ook met finansiële hulp bystaan om eie vergaderplekke te bekom. Juis die kerke in die Boland het eie bedieningsfondse in die lewe geroep. Die “verspreidwonendes” moet egter ook self hulle verantwoordelikheid besef en trag om die gereformeerde godsdiens uit te dra, gelykgesinde gelowiges op te vang en kerklike gemeenskap te beoefen, selfs al is daar nog geen eie kerkraad nie. Op hierdie wyse het die Christendom in die eerste paar eeue oor die wêreld versprei.