Artikel 65

Lykdienste en lykpredikasies moet geweer word

 

Artikel 65: Lykpredikasies of lykdienste mag nie ingevoer word nie.

|357|

A. Kerkregtelik

1. Lykredes

Die Roomse geestelikes het ’n openbare godsdienstige rede of preek oor die kis of graf van die oorledene uitgespreek en vir die oorledene gebid, terwyl die mense ’n afskeidslied gesing het. Dit het tydens die Hervorming as lykpredikasie bekend gestaan. Die oorledene is dikwels sodanig aangespreek en besing asof nog hulp en bystand aan die dode verleen word. Die oudste Gereformeerde Sinodes in Nederland wou bygeloof in dié Roomse gebruik keer en het moontlik selfs oorreageer (Jansen sa). Die Reformasie het met die ou Roomse lyk- en dodemis weggedoen.

 

2. Die toekomsgeloof

Wanneer die dood ingryp in die lewe van ’n familie, ’n gemeenskap en ’n kerk, tree die diepste opvattings en geloof oor dood, toekomsverwagting en opstanding uit die dode na vore. Die begrafnispraktyke moet op gepaste wyse daaraan gestalte gee. Die begrafnisseremonie kan nie van hierdie geloof losgemaak word nie (vgl 1 Kor 15; NGB 37; HK S 16,17,22 ens).

 

3. ’n Familie-aangeleentheid

Vanweë die praktiese landsomstandighede tot ongeveer ’n halfeeu gelede het ’n begrafnis alleen in hoogsuitsonderlike geval uit die kerkgebou deur ’n predikant gelei, plaasgevind. Mense het op plase gewoon en gesterf. Lyke het spoedig begin ontbind. Begrafnisse is dus so gou moontlik vanuit die sterfhuis op die plaas behartig. Waar predikante moeilik bekombaar en vervoer stadig was, is begrafnisse dikwels deur onderwysers, “kosters” of ouderlinge behartig. Begrafnisse het gevolglik tradisioneel ’n familie-karakter en nie ’n offisiële kerklike karakter gedra nie.

Predikante het meer geredelik bekombaar geraak en as gevolg van verstedeliking vind begrafnisse vandag vanuit kerkgeboue of kapelle plaas. Dit spreek vanself dat die kerklike dienaars ’n besondere roeping het om die familie en gemeenskap waarin die dode ontslaap het met die Woord te troos, te vermaan of te bemoedig. Sommige wil daarom die begrafnisdiens ’n soort “erediens” maak terwyl ander dit steeds as 'n familie-aangeleentheid beskou. Die familie kan dus vra wie hulle wil om by die begrafnis voor te gaan en sê hoe hulle dit wil uitvoer.

 

4. Begrafnis teenoor Lykverbranding

Lykverbranding begunstig die Platoniese idee dat die liggaam ’n “stoflike oorskot” sonder verwagting van weeropstanding is (1 Kor 15: 11-26,42-44). Die

|358|

gelowiges het in die Skrif hulle dode begrawe en lykverbranding het as ’n vorm van oordeel van God oor die sonde na vore gekom (Lv 20: 14; 21: 19; Jos 7: 15). 

 

B. Kerkregering

1. Historiese Agtergrond

In die Dordtse Kerkorde is bepaal dat waar lykpredikasies nie voorkom nie, sal dit nie ingestel word nie. Waar die gebruik reeds posgevat het, sal moeite gedoen word om dit op ’n gepaste wyse af te skaf. Die kerke wou waak teen bygeloof of ontaarding van lykpredikasies, maar het ook versigtig opgetree omdat baie emosies rondom begrafnisse en begrafnispraktyke geraak word.

Die huidige redaksie belet lyksdienste en sluit so uitdruklik ’n verkerkliking van die begrafnis deur ’n “lyksdiens” of “lykpredikasie” uit. Die begrafnis word daarom nie kerkordelik gereël nie, omdat dit nie ’n kerklike saak is nie, maar van die gelowige familie uitgaan. Omdat die Kerkorde die orde vir die kerke bepaal, skryf dit vir begrafnisse net so min as vir huisgodsdiens voor. Die Nederduits Hervormde Kerk beskou die begrafnis as ’n “buitengewone gemeentelike godsdiensoefening” terwyl prof Pont sê dat die “begrafnisdiens op dieselfde vlak staan as die huisgodsdiens van die familie” (1984:119; vgl 1981:247v).

 

2. Begrafnisse onder die soeklig

Die Sinode van 1964 het deputate benoem om op die probleme wat uit die benadering van die begrafnis as familie-aangeleentheid voortspruit, in te gaan, byvoorbeeld onder andere verskillende begrafnis-praktyke, die bewoording van die artikel wat uiteindelik oor begrafnisse swyg, terwyl lykverbranding sinodaal afgekeur is. Tegelykertyd is allerlei vorme van militêre en burgerlike begrafnisse in omloop (GKSA 1964:81-83). By sommige kerke neem begrafnisse die karakter van ’n kerklik-seremoniële “teraardebestelling” byna met sakramentele tekens soos met stof of blomme aan.

Die GKSA het te Pretoria 1933 begrafnisse teenoor “lykverbranding” voorgeskryf. In 1967 wou deputate ’n “amptelike kerklike karakter” aan begrafnisse verleen of minstens sê dat kerkrade moet meewerk om gemeentelede op ’n Christelike wyse te begrawe. Vanuit kerksentriese basis word gesê dat “die kerk as kerk ook ’n funksie te vervul het by die begrafnis van ’n ontslape lidmaat” (GKSA 1967:109) sodat ’n begrafnis as “’n familiesaak en ’n kerksaak” die kerkraad verplig om die “offisiële kerkdiens by die begrafnis” te reël (Ibid: 117). Hulle wou die Kerkorde wysig en so die begrafnis verkerklik.

Ander deputate het aangevoer dat die begrafnisdiens nie sonder prinsipiële gronde ’n “erediens” gemaak kan word nie (GKSA 1967:120). Die Skrifgetuienis dui daarop dat families hulle dode begrawe het. Die begrafnis roep die predikant tot pastorale diens by die bedroefde familie en vriende op wat hy herderlik moet versorg. Begrafnisse vind uit kerkgeboue bloot om praktiese redes plaas. Indien

|359|

’n kerklike begrafnis aanvaar word, moet die kerk ook die verantwoordelikheid (finansieel en andersins) vir die begrafnis dra.

Die Sinode van 1967 het hom nie duidelik uitgespreek nie en artikel 65 KO ongewysigd gelaat (Acta: 125). Dit is prinsipieel onverdedigbaar om institusionele “lidmaatskap” aan te voer as basis vir kerklike regte by ’n begrafnis. Aan die ander kant kan die familie kragtens kerklike gemeenskap en bedieninge met vrymoedigheid op die hulp van kerklike dienaars, fasiliteite en kerkgemeenskap aanspraak maak (vgl oa Heid Kat V/A 55).

 

3. Begrafnispraktyke

Begrafnispraktyke verskil in verskillende kulture. So het daar (moontlik van heidense herkoms?) vorme en gebruike van militêre en staatsbegrafnisse vir soldate en hoogwaardigheidsbekleërs ingeburger. In hierdie gevalle tree die leër of owerheid in die plek van die familie op om die begrafnis, volgens hulle vaste voorgeskrewe gebruike uit te voer. Weliswaar word predikante gewoonlik by dié tipe begrafnis gebruik, maar die keuse berus op sy verhouding tot die instansie wat die begrafnis uitvoer en nie op grond van die keuse van die familie nie (vgl art 6 KO). Uiteraard kan die kerke nie dergelike seremonies voorskryf nie (art 30). Die kerke moet hulle egter plaaslik dadelik uitspreek teen misbruik van die godsdiens, vorme van bygeloof, dwaling of mensverheerliking wat mag voorkom.

Die kerke onder swart volke ondervind eiesoortige probleme by die begrafnisdiens vanuit hulle kulturele erfenis. Die kerke in die Middellande het selfs voorligting met ’n Begrafnisboekie gegee. Die kerke sal egter moet rekening hou met die kulturele verankerdheid van die begrafnis. Hulle hoef nie noodwendig ’n Afrikaans-gereformeerde begrafnisdiens na te volg asof dit die enigste toelaatbare praktyk is nie. Die begrafnispraktyk moet slegs die heidense betekenisse uitsuiwer en aan tradisionele vorme Christelike betekenis toeskrywe. Begrafnisse moet nie verkerklik word nie, maar gelowiges moet hulle dode in geloof begrawe.

 

4. Begrafnis of lykverbranding

Die kerke het op verskillende Sinodes (1933:117; 1952:208,216; 1964:82) hulle teen lykverbranding en ten gunste van begrafnis uitgespreek. Hier kom die aspek van geloof, motiewe en gesindheid sterk na vore, omdat sonde nie in die blote feit van lykverbranding skuil nie. In Japan, byvoorbeeld, is geen grond beskikbaar om miljoene te begrawe nie. Die Christene moet dus daar noodgedwonge inval by die praktyk van lykverbranding. Wanneer familie met lykverbranding gekonfronteer word, het hulle dikwels behoefte aan gerigte pastorale begeleiding by die krematorium. Die predikant moet sy optrede volgens sy gewete bepaal.