Artikel 46

Agenda en besluite van meerdere vergaderings

 

Artikel 46: Sake vir behandeling op meerdere vergaderings moet nie opgestel word voordat die besluite van die voorgaande sinodes oor die voorgestelde punte naggaan is nie, sodat wat eenmaal afgehandel is, nie weer voorgestel word nie tensy dit noodsaaklik geag word om iets te verander.

 

A. Kerkregtelik

1. Kerkregering moet gepas en ordelik plaasvind

Die vorige artikels (artt 30,31,41) toon aan dat meerdere vergaderings vir die kerkregering in die plaaslike kerke nodig is. Dit is daarom gepas en ordelik (1 Kor 14: 34) om op die besluite van meerdere vergaderings, te let sodat dieselfde vrae nie oor en oor gevra word nie. Dit spaar ook tyd vir ander sake wanneer 'n saak nie herhaal nie.

’n Kerk of klassis sou selfs in behandeling van ’n bepaalde probleem nuttig van besluite in naburige klassisse of ander sinodes oor dieselfde saak gebruik kon maak. Dit is duidelik uit Hd 15: 23-29 dat mindere kerke wat seker is dat hulle en die Hellige Gees besluit het, daardie besluit vir meerdere kerke as die wil van God kon deurgee. Die agenda van ’n meerdere vergadering moet daarom nie belas word met sake waaroor reeds uitsprake bestaan nie.

Hierdie ordebeginsel hou verder in dat iemand wat ’n saak by ’n meerdere vergadering aanhangig wil maak, verplig is om eers self ernstig en verantwoordelik te werk te gaan, asof hy dit moet hanteer en afhandel. Daar moet op plaaslike vlak gevra, gestudeer, nagevors en ondersoek word, voordat ’n saak verder gevoer word. Dit hou in dat vasgestel moet word of meerdere

|268|

vergaderings nie al oor die saak uitsprake gedoen het nie. Vir die eerste honderd jaar het die GKSA by vrae oor sakramente, diakens, huwelike, artikel 8, visitasie, ensovoorts gewoonlik eers gekyk na wat meerdere vergaderings in die 16de en 17de eeu of buitelandse kerke met wie korrespondensie onderhou word, daaroor besluit het, voordat tot ’n bevinding geraak is.

Godsdiens en kerk is intiem verwant en raak mense se diepste sekerhede. Onnodige, ligvaardige en teenstrydige kerklike besluite en adviese skok en breek af. Wie sê dat die Heilige Gees vergaderings lei (Hd 15: 28) en kerklike dienaars gebruik (Hd 20: 28) moet ook toon dat iets wat eenmaal afgehandel is, nie maklik weer voorgestel word nie (vgl Van der Linde 1983:167v).

 

2. Kontinuïteit in kerkregering

Sommige sake, soos byvoorbeeld eksamens of tuggevalle, handel meerdere vergaderings eenmalig en op eie meriete af. Wanneer prinsipiële “advies” of uitsprake gevra word, gaan dit om beginsels wat altyd waar is en vas staan. Indien die probleem ’n tydelike en plaaslike aangeleentheid raak, moet die meerdere vergadering hom daar nie lig by inlaat nie (art 30).

Adviese van meerdere vergaderings en kerkordebepalings moet beginsels stel wat in alle omstandighede geldig is. Gevolglik lê die kontinuïteit van gereformeerde kerkregering in die besluite van die diskontinue, periodieke en opeenvolgende meerdere vergaderings. Daarin verskil dit radikaal van demokratiese of revolusionêre kerkreg wat op sterkte van volksoewereiniteit kontinuïteit van die kerkregering sien in die gesag en jongste besluite van die vergadering wat die “lede” verteenwoordig, al sou die jongste besluit stry met ’n vorige besluit. Die soewereiniteit berus volgens hierdie opvatting nie by die reg (Skrif, Belydenis en Kerkorde) nie, maar by die bevoegde vergadering.

 

3. Besluite van meerdere vergaderings kan en moet soms verander word 

Omdat die Skrif die volkome reël van geloof is (NGB 7, sola scriptura), ontken Calvyn in sy Institusie dat konsilies of sinodes die kerk vergestalt of verteenwoordig (boek 4 hfst 9) of soewereine gesag oor die gemeente voer (10.vi). Hulle besluit is wel bindend in sover dit met die Woord en Wet van God ooreenkom. Calvyn dring juis daarom aan dat besluite van meerdere vergaderings omsigtig hanteer moet word. Daar moet eerstens ondersoek word in watter tyd, om watter rede, met watter bedoeling en deur watter persone ’n bepaalde besluit geneem is en of die besluit met die Heilige Skrif ooreenstem. Slegs so sal sinodes hulle gesag behou, maar die Skrif steeds die eerste en hoogste plek beklee (Inst IV.9.viii).

Konsilies soos dié van Nicea in die vierde eeu het besluite oor die Belydenis geneem wat ons vandag nog eerbiedig. Die Konsilie van Constans het egter weer in stryd met die woorde van Christus die nagmaalbeker vir die gemeente verbied, terwyl nog ’n ander die huwelik in stryd met die Skrif belet het (Inst IV.9.xiv). Kerklike besluite moes dus kan verander (kyk artt 31,36), ook wanneer veranderde omstandighede ander besluite (bv tov leerplanne vir opleiding van predikante) vereis. Selfs die kerkorde kan gewysig word (art 86).

|269|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die eerste Sinode (1571) het voorsiening vir meerdere vergaderings gemaak en die beginsel van hierdie artikel te boek gestel (Biesterveld, Kuyper 1905:57). Dit het met klein nuanseverskil in 1578 deel van die Kerkorde geword todat die huidige bewoording in 1581 vasgestel is (Biesterveld, Kuyper 1905:102v,150).

 

2. Kontinuïteit van besluite

Sinodes dra dieselfde gesag as kerkrade (art 36) en is aan Skrif, Belydenis en Kerkorde ondergeskik. Met die oog daarop is besluite van meer kerke, en nie die vergaderings as sodanig nie, vir die kerkregering nodig. Indien die soewereiniteit by die reg en nie by vergaderings berus nie verloor ’n besluit wat met die Skrif, Belydenis of Kerkorde bots, dadelik sy geldigheid (Bouwman 1934:59). Kragtens kerkverband behoort die noodsaak vir revisie van ’n besluit dadelik na vore te tree en moet ’n persoon hom dus reeds daarmee by ’n kerkraad en ’n kerkraad, indien hy dit toestem, hom by die naaste klassis vervoeg. Daar kan nie gewag word totdat ’n bepaalde meerdere vergadering oor maande of selfs jare eers weer saamkom nie. Wanneer die mindere vergadering gewigtige besware (bv gegrond op Skrif en Belydenis) kondoneer, kan so ’n besluit nie geld totdat ’n bepaalde sinode verander nie. Die kerke mag nie ’n vorige sinode hoër ag en daaraan meer gehoorsaam as aan Christus wees nie. Die reg van die Koning van die kerk is soewerein.

Die kerkregering kan gedien word indien die kerke kragtens kerkverband ’n goeie bruikbare indeks van besluite van alle meerdere vergaderings beskikbaar sou kon maak en byhou. Moontlik kan ’n losblad-register of kompersisteem aan die behoefte in die toekoms voldoen. Dit sal baie meer waarde hê as die beperkte aantal besluite van slegs nasionale sinodes wat tans agter in ’n Kerkordeboekie verskyn. Meerdere vergaderings het al gedurende die 16de eeu beklemtoon hoeveel waarde kennis van besluite vir kerkregering kan hê (Bos 1950:175). Regsgeleerdes word in vorige hofuitsprake geskool, terwyl predikante en ouderlinge met ’n minimum kennis van besluite en adviese van meerdere vergaderings tot die bediening toetree en moontlik selfs nie eers daarna vra nie!

 

3. Agenda van meerdere vergaderings

Kragtens artikel 30 behoort meerdere vergaderings slegs te handel oor wat ’n mindere vergadering nie kon afhandel nie. Die agenda van ’n meerdere vergadering word dus grootliks deur die onmiddellike mindere vergadering opgemaak wat na die meerdere vergadering deputeer het (art 33). Dit is opmerklik en minder bekend dat by die Dordtse Sinode feitlik alle vrae,

|270|

voorstelle, probleme en besware uit mindere vergaderings as gravamina bekend gestaan het (kyk Kuyper 1899:95-99,106,109,120v).

Onder die GKSA word klassisse soms “nasionale sinodes” genoem (Soutpansberg, Suidland). Die “ouer” of Afrikaanse kerke met hulle Nederlandse tradisie onderhou sedert 1862 “nasionale sinodes”. Tans word die agenda van ’n algemene sinode uit hierdie sogenaamde “nasionale sinodes” saamgestel. Waar tans in een geval klassisse, in ’n ander ’n sinode van klassisse (Middellande) en by die “ouer” kerke ’n sinode van sinodes agenda voor ’n algemene sinode bring, behoort in laasgenoemde geval gravamina uit partikuliere sowel as nasionale sinodes voor ’n algemene sinode gelê kon word. Waar klassisse partikuliere sinodes onderhou, behoort hulle gravamina wel eers die kerklike weg te volg. Die huidige “nasionale sinode” van die ouer kerke is in wese ’n partikuliere sinode op etniese grondslag. Dit was gedurende die 16de eeu ook die geval met die Waalse en ander kerke (vgl Biesterveld, Kuyper 1905:36,109,239v).

Die benaming “beskrywingspunt” het in die GKSA in omloop gekom en word partymaal verkeerdelik radikaal van ’n gravamen of beswaar (-skrif) onderskei. ’n Saak wat ordelik ter tafel kom, moet op grond van sy inhoud deur die vergadering wat dit moet behandel, gekategoriseer word om te bepaal hoe die vergadering dit wil behandel. ’n “Beskrywingspunt” of “versoek” sou, selfs wanneer die inhoud op appèl neerkom, deur die vergadering as appèl behandel kan word (artt 31,33,46). Die naam of vorm van ’n stuk prejudiseer nie noodwendig die inhoud nie.

Onder “gravamen” word vandag ’n beswaar teen die aangenome belydenis, KO of enige ander besluit van ’n kerkvergadering verstaan. Om te sê dat dit juis op Gods Woord moet steun (GKSA 1961:513), stel dit te eng. Dit is beter om onder gravamina moeilikhede oor gemeenskaplike sake tussen kerke te verstaan (GKSA 1961:515). Die kerke het egter ook ’n roeping om verdraagsaamheid te beoefen as iemand bepaalde besware teen die leer koester maar dit nie propageer nie (Bouwman 1934:565; vgl Calvyn Inst IV.Ixii).

Die benaming beswaar of gravamen word tans veral aan artikel 46 verbind by voorstelle wat hersiening van besluite van voorgaande sinodes (meerdere vergadering) vra. Wie ’n bestaande besluit wil verander, moet daarvoor goeie gronde en redes kan aanvoer. Daarom heet dit ook “beswaarskrif”. Die versoek tot revisie moet dus gedra word deur gronde (Skrif, Belydenis, Kerkorde), of bewyse van teenstrydige besluite, intrinsieke gebreke, onduidelikhede of watter ander gebrek ookal (vgl GKSA 1961:515v;1964:443v). Die aard van die gronde bepaal die erns van die beswaar. Gravamina verdien voorrang op die agenda van die vergadering: dié oor die leer geniet prioriteit bo dié met betrekking tot kerkorde en laasgenoemde weer oor dié met betrekking tot bloot organisatoriese aangeleenthede.

 

4. Prosedure vir beswaarskrifte

In die gereformeerde sinodes voor 1964 is geen besondere “prosedure” vir “beswaarskrifte” gereglementeer nie. Die kerklike weg (art 33) is as voldoende beskou (Middelburg 1581 part vr 17; GKSA 1876 art 236). Onder toenemende

|271|

sentralisering en sinodokrasie het die GKSA In Potchefstroom 1958, 1961 en 1964 onder duidelike meningsverskil probeer om prosedure vir beswaarskrifte voor te skryf. Die Sinode van 1964 het op ’n minderheidsvoorstel uit ’n kommissie gesê (1) ’n gravamen word gerig aan die vergadering wat die gewraakte besluit geneem het; (2) dit moet betyds vir opname in die agenda ingedien word; (3) die betrokke besluit moet duidelik en woordeliks aangegee word; (4) die gronde waarop die beswaar steun, moet duidelik woordeliks aangegee word en (5) ’n beswaarskrif oor ’n besondere besluit mag nie meer as een keer ingedien word nie, tensy die beswaardes met gewigtige redes aantoon waarom nie berus kan word nie (GKSA 1964:444,446). Probleme trek saam op die eerste punt, omdat die orige vier eintlik vanselfsprekend is.

Dit is moeilik om te sê waarom hierdie “prosedure” opgestel moes word. Besware en versoeke tot revisie het voor 1952 gewoonlik nie soos appelle onder ’n spesiale kategorie “gravamina” na vore gekom nie. In 1955 (Acta:34v) kom uit ’n klassis ’n “beswaarskrif” oor ’n besluit van 1952 oor ’n persoon ter tafel. Dit lyk asof die “beswaarskrif” vir die moderamen ’n “nuwigheid” was sodat hulle uit radeloosheid (na die dood van die vertroude adviseur prof J D du Toit 1953?) ’n reglement verlang het. Die versoek om prosedure vir beswaarskrifte te reglementeer kom dus nie uit die kerke nie (art 33), maar onordelik vanaf die moderamen op die tafel sonder dat uitgemaak was of dit werklik nodig was (GKSA 1955:37).

In 1958 dien plotseling nege beswaarskrifte met betrekking tot rasseverhoudinge (p 270), besluite van 1949 en 1952 oor sustersverenigings (p 272v), lidmaatskap van die Broederbond (p 304), ’n sinodale katkisasie-organiseerder (pp 342-354), bestuursmag van deputate in kerklike sustentasie (p 379v) en onderwysbeleid (p 407). Tog was daar geen merkbare prosedureprobleme met wat ter tafel was nie. Die reglement vir beswaarskrifte in 1964 spreek die enkele prosedure-probleem in 1958 (pp 349-353) glad nie aan nie. Die kernvraag is of ’n individu bepaalde besware direk by ’n partikuliere, nasionale of algemene sinode moet indien (GKSA 1958:276). ’n Meerderheid van deputate wil dit in 1961 so voorskryf, maar mede in die lig van ’n sterk minderheidsrapport word die prosedure nog weer vir verdere pre-advies verwys (GKSA 1961:512-515).

Die rapport voor die sinode van 1964 bied ’n karige analise van die probleem en beveel onses insiens tereg aan dat in die reël die kerklike weg (artt 31,33 KO) met beswaarskrifte gevolg word. Wanneer ’n mindere vergadering ’n beswaar teen ’n besluit van ’n meerdere vergadering afwys, kan die beswaarde na ’n meerdere appelleer (art 31). Noodsaaklike of buitengewone gravamina kan met motivering direk by ’n bevoegde vergadering aangemeld word. Oor ’n deugdelike vorm vir ’n beswaarskrif bestaan nie verskil nie (GKSA 1964:442-444).

Die Sinode wys egter op sterkte van ’n minderheidsrapport die kerklike weg vir beswaarskrifte af omdat artikel 30 KO kompartementeel vertolk word asof sekere sake slegs tot die bevoegdheid van bepaalde staande meerdere vergaderings behoort. Dié argument (GKSA 1964:446) toon geen begrip vir die gereformeerde beginsel dat besluite van meerdere vergaderings minder vergaderings bedien en dat hulle dit as hulle besluite moet hanteer nie. Dit steun selfs op die sekulêre en onkerklike argumente dat ’n “beswaarde” op die

|272|

kerklike weg “aanhangers” vir sy beswaar sou kon werf. In plaas van festina lente (haas jou langsaam) in die kerklike weg te waardeer as ’n manier om vas te stel of besluite noodsaaklik verander moet word, word dit met “trombose” vergelyk (GKSA 1964:445-446). Die Sinode van 1964 sny as ’t ware die kerklike weg vir beswaarskrifte af hoewel artikel 33 en ondertekeningsformulier vir predikante nie gewysig word nie.

Die voorskrif dat “’n gravamen moet gerig word tot die vergadering wat die betrokke besluit geneem het” veroorsaak onmiddellik ’n anomalie. ’n Predikant onderneem byvoorbeeld in sy ondertekeningsformulier om besware teen die belydenis wat in ’n algemene sinode aanvaar is, by ’n kerkraad, klassis of partikuliere sinode aanhangig te maak en behou ’n reg van appèl na ’n meerdere vergadering. Daar was wel verskil van mening in die 16de eeu of die kerklike weg van kerkraad, klassis en (part) sinode conjunctim (dws van die een na ander) of divisim (dws een of die ander) verstaan moes word (Kuyper 1899:200; Bouwman 1934:573). ’n Kerkraad en mindere vergaderings het egter sonder twyfel met beswaardes oor leer wat op ’n algemene sinode vasgestel was, gehandel. Die prosedure van 1964 wou daarteenoor die “beswaarde” verplig om sy beswaar in te dien by die “vergadering wat die betrokke besluit geneem het” (GKSA 1964:446 d(2)).

Hierdie voorskrif berus op die kollegialistiese idee dat ’n sinode ’n eie struktuur is wat ’n eie taak en veld van kerkregering naas en buite die kerkraad beoefen. Gevolglik kan lidmate selfs buite die kerkraad om sake op die tafel van meerdere vergaderings lê (GKSA 1961:513;1964:446; Spoelstra 1967:285). Hoewel Van der Linde die prosedure van 1964 (1983:168) verdedig met “bedoeling”, kom sy argument tweeslagtig en apologeties oor. Hy stem per slot van rekening, anders as wat die prosedure van 1964 bedoel, toe dat die kerklike weg (artt 31,33,46 KO) ook nog steeds gevolg kan word. Daarmee trek hy die mat onder die besluit van 1964 uit. Die prosedure wat in 1964 voorgeskryf is, bots met die Kerkorde en die gereformeerde praktyk en lê ’n kerkraad lam om met byvoorbeeld iemand wat teen die leer beswaar het, te handel (vgl GKSA 1876: art 236;1894 art 118; Kuyper 1899:107v,413-468).

Gravamina behoort op goeie gronde (vgl 1964:443v) in die reël die kerklike weg te volg. Wanneer ’n gravamen mindere vergaderings verbygaan en direk by ’n meerdere vergadering ingedien word, kan dit daar oorweeg word as dit noodsaaklik is, anders moet dit liewer terugverwys en rustig langs die kerklike weg oorweeg, afgewys, “getrim” en afgerond word sodat dit gemotiveerd en helder dien waar en wanneer ’n besluit verander moet word.

Die gereformeerde kerkregering soek nie daarna om so gou as moontlik sonder formele “trombose” (GKSA 1964:446) te besluit nie, maar soek daarna om waarheid, rus en eenheid in die kerke te bevorder (NGB 32). Soos aangetoon, het Calvyn omsigtige beoordeling van besluite van meerdere vergaderings noodsaaklik geag. Dit is gevaarlik wanneer ingrypende besluite haastig in ’n algemene sinode geneem word, terwyl daarteen geen appèl (art 31) meer moontlik is nie. Daarom behoort slegs kerke in mindere vergaderings agenda vir die volgende meerdere vergadering slegs deur kerke in mindere vergaderings op te maak. Dit is wel waar dat die kerklike weg ’n mate van duplisering veroorsaak. Wanneer elke vergadering erns maak, dien dit ook as dubbele kontrole wat in die lig van artikel 46 seker maak wat noodsaaklik is.

|273|

Mindere vergaderings werk goedkoper, het meer tyd tot hulle beskikking en kom meer dikwels saam. Hulle kan by gravamina onnodige en ongegronde argumente afwys, vae gravamina tegnies verbeter en so die meerdere vergadering help wat die finale besluit dikwels onder druk moet neem. Juis die kerklike weg verseker dat rustig uitgemaak kan word of iets noodsaaklik verander moet word.

 

5. Behandeling van beswaarskrifte

Elke beswaarskrif moet onpartydig op eie meriete behandel word. Sinodale handelinge van die GKSA skep soms die indruk asof kommissies saamgestel word om ’n bepaalde uitslag te probeer verseker. Omdat volkome onpartydigheid moeilik in kerklike sake verkry word, moet ’n beswaarskrif so veel as moontlik in volle vergadering beredeneer word. In ’n kommissie vir pre-advies moet die personeel die verskillende skakerings van standpunte weerspieël. Wanneer so ’n kommissie konsensus bereik, is die saak vir die sinode gewoonlik opgelos. Selfs wanneer ’n meerderheid en ’n minderheid rapporteer, vergemaklik kontrasterende standpunte verantwoordelike besluitneming. Vrae en antwoorde stel ’n beswaar duideliker as toesprake en argumentasies. Die voorsitter moet help om die kern van die saak voor die vergadering uit te lig, sonder dat hy kant kies (art 35). Die vorm van besware en rapporte voor meerdere vergaderings maak dit baie keer moeilik om die kern te begryp omdat dit op ingewikkelde redenering en argumentasies gebou is.

Die vergadering (kerkraad, klassis of sinode) moet ’n beswaar in die eerste plek tot sy kern herlei en verstaan; daarna moet dit die besluit in sy konteks oorweeg; waarna die gronde vir die beswaar teenoor die oorwegings waarop die besluit rus, afgeweeg moet word, sodat geoordeel kan word of die besluit in sy geheel of gedeeltelik gewysig moet word. Die vergadering wat ’n beswaar oorweeg, moet nie apologie vir ’n besluit aanbied nie. Drogredenasies moes vermy word soos waar afleidings gemaak word op grond van wat in toeligting gesê of nie gesê was nie (argumentum e silentio), of waar die argument hom op belange of gesag van ’n persoon beroep (argumentum ad hominem), of waar konklusies oor die geheel slegs op ’n deel gegrond word (petitio principium), of waar met voorspooksels en dreigemente gekom word (argumentum ad baculum), ensovoorts. Verandering van besluit moet ernstig in oortuiging deur die volle vergadering gedoen word.

Die kerkraad, klassis of sinode kan in uitspraak verwys na besluite wat daar of elders in die kerkverband reeds geneem is. Indien ’n beswaarde nie moeite gedoen het om daarmee op hoogte te kom nie, behoort die meerdere vergadering op grond van hierdie artikel die versoek of voorstel terug te verwys.

Wanneer ’n versoek tot revisie glashelder is, kan dit onmiddellik in die volle vergadering afgehandel word. Indien onduidelikhede, probleme of bepaalde fasette nader uitgepluis moet word, kan ’n kommissie van pre-advies benoem word om die gravamen duideliker voor te lê, oorwegings daaromtrent aan te dui en ’n besluit aan te beveel. Die beswaarde kan repliek op die kommissierapport lewer, waarna die vergadering met vrae en amendemente die kommissierapport afhandel.

|274|

Wanneer ’n mindere vergadering ’n beswaar teen ’n besluit van ’n meerdere vergadering in sy geheel of ten dele toestem, moet dit die instruksie aan die eersvolgende meerdere vergadering tegnies behoorlik versorg. Elke mindere vergadering is verantwoordelik om ’n besluit van ’n meerdere vergadering wat hy nie langer as sy besluit kan erken nie, ter wille van die Hoof van die kerk (NGB 31) en tot beswil van die kerke te laat hersien. ’n Mindere vergadering wat ’n “beswaarde” nie van die teendeel kan of wil oortuig nie, maar hom na ’n meerdere vergadering verwys om van ’n probleem los te kom, handel oppervlakkig, onverantwoordelik en onbroederlik en misken die wese van die kerk as gemeenskap. Besluite van meerdere vergaderings is besluite van kerke wat in geloofsbriewe onderneem het om die besluite wat die toets van norme kan deurstaan, na te leef (art 33, kyk geloofsbrief).