Artikel 84

Christus alleen Koning van sy kerk

 

Artikel 84: Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus alleen Koning van sy kerk (NGB 27,31)

Christus is Koning van die koninkryk en enigste Hoof van sy kerk (Joh 18: 36; 1 Kor 15: 24; Ef 1: 22; 4: 15).

Die Reformasie wys daarom alle menslike heerskappyvoering teenoor Rome af (De Jongh 1918:154). Die Skrif is alleen reël van die geloof (NGB 7). Rome neem ook die koninkryk (en nie soos die kollegialisme die kerk nie) as vertrekpunt, maar sê dat die hemelryk en so die regeermag aan Petrus sou toevertrou wees. In hulle amp verteenwoordig die opvolgers van Petrus Christus omdat hy onfeilbaar deur die Heilige Gees gelei is. Hy is sigbare hoof van die kerk wat sy biskoplike heerskappy deur middel van 'n rangorde van priesters (hiërargie) oor die gelowiges uitoefen.

Teen dié pouslike mag en hiërargie het die Hervormers vierkantig gebou (Pont 1981:97v). Calvyn sê dat die diens van Woord en sakramente die kenmerke van die ware kerk is (Inst IV.1.x), terwyl die pousdom in die plek

|463|

daarvan ’n “bestuur” daargestel het wat die suiwer lig uitblus (Inst IV.2.ii). Die Skrif maak uit en beslis wat die Koning verlang (Inst IV.1.v; 8.iv,v; 9.vii). Die leer van heilige opvolging van biskoppe in Rome vestig aandag op persone en verwaarloos die suiwere leer. Op sterkte van die Woord (Joh 18: 37; 10: 14,27; Ef 2: 20; Joh 8: 47) is die kerk die ryk van Christus waar Hy deur sy Woord regeer (Heid Kat S 48). Die ryk van Christus kan slegs teenwoordig wees waar sy septer, dit is sy Woord, gevind word (Inst IV.2.iv). Die Skrif leer dat Christus aan al die apostels dieselfde waardigheid, eer en mag gegee het (Inst IV.6.iv). Christus is daarom die enigste Hoof van die liggaam (Ef 4: 16) en Hy het geen “plaasvervanger” aangewys nie. Hy vra vir Homself alle eer (Ef 1: 22; 4: 15; Kol 1: 18; 2: 10; Inst IV.6.ix). Christus is egter deur middel van bedieninge wat Hy aangestel het, by die gelowiges teenwoordig (Inst IV.6.x). Die biskopamp van Christus is die bron van lig wat baie strale uitskiet, die een stam wat baie takke dra. Dit is algemeen en omvat die hele kerk (Inst IV.6.xvii).

Calvyn sê dat hy met reg die pous die Antichris noem, omdat die pous in die tempel van God sit (Dn 7: 25; 2 Ts 2: 4) en die eer wat God toekom vir homself neem (Inst IV.6.xxv). Die kerk kan slegs gebou word wanneer Christus alleen mag en gesag as die enigste Leraar van die kerk uitoefen (Mt 17: 5; Inst IV.8.i). Die mag, gesag en waardigheid verleen die Heilige Gees nie aan bepaalde mense nie, maar aan die diens, dit wil sê aan die Woord wat die mense bedien. Mag in die kerk is dus aan die Woord van God onderworpe en word daardeur begrens. Die dienaars kan gevolglik slegs die Woord leer wat hulle omvang het (Inst IV.8.ii.iv.v).

Talle mense sukkel vandag om te verstaan wat Calvyn met bediening (amp, diakonia) bedoel. Niemand mag op grond van sy amp, jare diens, opleiding of akademiese graad, voorrang of gesag kry in die kerk nie. Sodra dit gebeur, is Christus nie meer die enigste Hoof van sy kerk nie. Gevolglik stel die Franse kerke (1559) en Nederlandse kerke (1571) die beginsel van hierdie artikel as nommer een en uitgangspunt waarvandaan ’n kerkorde opgestel kon word (Pont 1981 :50,103).

Vandag word in gereformeerde kerke dikwels beweer dat Christus in die “presbiteriaal-sinodale stelsel” die kerkregering aan die “ampsdraers” en of kerkvergaderings met hulle eie gesag opgedra het (vgl Bouwman 1937; Pont 1981:228v; NGK 1972:2v,11; Kleynhans 1985:38,104; 138-149; 159). Tegelykertyd word gesê dat Christus die enigste Hoof van die kerk is en deur middel van ampsdraers in kerkvergaderings regeer. Daar ontstaan dus ’n anomalie. Teoreties is Christus die enigste Hoof van sy kerk, Koning in die koninkryk, regeerder oor sy kerk. In praktyk, kerkordes en kerkregtelike uitsprake is die gelowiges onderwerp aan ampsdraers, gemeentes en sinodes wat “beleid” neerlê.

Dit wil voorkom asof hierdie presbiteriaal-sinodale beroep op goddelike aanstelling en instelling aan die amp en kerkvergadering op dieselfde wyse mag en gesag toeken soos wat Rome episkopaal-monargaal met die pous en konsilie (Inst (V.9.i,iii,viii) gedoen het. Beide die Roomse en presbiteriaal-sinodale (so wel as kongregasionalistiese) stelsels dui nie aan hoe Jesus Christus “die enigste algemene Opsiener (biskop) en die enigste Hoof van die Kerk” (NGB 31 ) in die uitoefening van kerkregering bly nie.

|464|

Die feit dat Christus sy monargale koningskap en hoof-wees van en in sy kerk met geen mens deel nie en na geen mens in watter amp ook al of na enige sinode of “konstitusionele monargie” delegeer nie, verbied enige mens om in sy amp, kerk of kerkvergadering, oor ’n mede-ampsdraer enige heerskappy uit te oefen (kyk art 36) Niemand kan hom op sy amp, status of plek “in die kerk” of die “meerderheid” beroep om aan ander buite die Woord om voor te skrywe of oor enkelinge te heers nie Die enigste “mag” wat een ampsdraer oor ’n ander het, is “bedienende mag”, dit wil sê hy kan die ander met die mag van die Woord konfronteer (art 81). Dit is ook al gesag wat een kerk oor ’n ander het (artt 30.36). Sodra een oor die ander heers, tree daarin die valse kerk aan die lig (kyk tweede deel NGB 29).

 

2. Vryheid in Christus

Die Reformasie het juis teen die Roomse voorskriftelike gebruike, bygelowe. vormlikhede, seremonies en werke die vryheid in Christus beklemtoon wat Gl 5: 1 beveel. Die “slawejuk” van Rome wys Calvyn in baie sterk taal af. Niemand kan gelowiges met ’n beroep op Hb 13: 17 verplig om hulle “voorgangers” gehoorsaam en onderdanig te wees, wanneer hulle buite die Wet van die Here gaan nie (IV.9.xiii). Menslike tradisies en voorskrifte verwurg die gelowiges. Slegs wanneer net een Koning en sy Wet bely en gehoorsaam word, kan die gelowiges vry wees en deur net een Evangelie regeer word (IV.10.i,vii).

Die Wederdopers het hulle gedurende die Reformasie op Christelike vryheid beroep op grond waarvan hulle selfs nie aan die burgerlike regering gehoorsaam hoef te wees nie. Vir Calvyn kan vryheid nie sonder gesonde burgerlike en politieke regering bestaan nie.

 

3. Selfstandigheid van elke kerk

Die een kerk van Christus is aanwesig op baie plekke waar gelowiges in die eenheid van ’n ware geloof rondom die Woord en sakramente vergader en deur dié Woord en Gees regeer word (NGB 27-29; Heid Kat S 21). Gevolglik is elke plaaslike kerk ’n selfstandige openbaring van die liggaam van Christus in sover dit die kenmerke van die liggaam van Christus vertoon (NGB 28,29; Snyman 1977:45; 1966:a en b). Geen kerk kan daarop aanspraak maak dat hy seggenskap oor ’n ander kerk het nie. In die Nederlandse Gereformeerde kerkreg is die selfstandigheid van die sogenaamde “plaaslike kerk” as uitgangspunt geneem (Bouwman 1934:34,47). Reeds vroeg in die 16de eeu is beklemtoon dat elke kerk hom moet hou binne die grense van sy eie regsbevoegdheid (Bos 1950:337, Antwerpen 1570). Een of meer kerke verkry dus nie kragtens kerkverband of kerkorde imperiale seggenskap oor ’n ander kerk nie.

|465|

4. Roeping tot diens

Die kerkregtelike basis vir elke dienaar is sy roeping (vgl art 3 KO). Wanneer die bekwamer predikant oor ’n swakker dominee, die dominee oor ’n ouderling of diaken, of een van hulle oor ’n ander heerskappy voer, tree hy as ’t ware in die plek van Christus, matig hom aan en neem ’n geroepe dienaar van Christus in sy diens. Hy dring hom in in die diens van ’n ander (art 80 KO). Waar iemand tekort kom of laat slap lê, kan hy volgens Mt 18 en art 81 in liefde, vriendelik en broederlik vermaan word sonder om oor hom te heers (Bos 1950:337, vgl 1578,1581).

Heers hou regeer, voorskryf of domineer in waar een sy wil vir die ander as reël stel. Die dienste is nie gelyk nie, al is hulle gelykwaardig. Die predikantsamp, ouderlingamp of posisie van voorsitter of ouderdom en diensjare skep geleentheid om gesag oor ander aan te matig (De Jongh 1918:160v). Iemand “heers” in sy diens wanneer hy met beroep op sy “amp” of sy persoon, sonder om die Woord en wil van God aan te dui, aan ’n ander bevele, voorskrifte en opdragte gee. Sommige wil as oudste ouderling of voorsitter van die diakonie heers met ’n beroep op tekste soos 1 Tm 3: 13, 5: 17.

Die idee van heerskappy is sondig en is eie aan die wêreld (Lk 22:24v). Daarteenoor het Christus juis die Griekse Woord diaken (tafelbediende), dienaar wat geen eer, status of mag suggereer nie vir die kerklike amp van Homself, apostels, ouderlinge, diakens en gelowiges geyk. Onder die dienaars kan dus geen sprake van heersers wees nie. Die eer kan alleen ’n goeie en die ander ’n swakker dienaar wees namate elkeen sy besondere roeping van die Here vervul.

 

B. Kerkregering

1. Uitgangspunt van die kerkregering en kerkorde

Die Franse Kerkorde van Parys 1559 het in die heel eerste twee artikels bepaal dat geen kerk (gemeente) voorrang of heerskappy ten opsigte van ’n ander mag aanmatig nie en dat die opdrag van die voorsitter van ’n sinode verval op die oomblik wat die sinode sluit (Pont 1981:50; kyk Antwerpen 1564 by Bos 1950:337). Daarmee wou die kerke baie duidelik sê dat die kerkordelike ooreenkoms wat hulle aangaan geen nuwe of eie gesagstrukture in vergaderings of persone skep nie. Die kerkorde verleen geen dwingende mag kragtens kerkverband aan een kerk oor ’n ander nie (De Jongh 1918:149v).

Toe Nederlandse teoloë in 1568 by Wesel basiese beginsels vir ’n kerkorde om ’n sinodale verband daar te stel ondersoek het, verbied hulle ouderlinge om in die naam van die Here oor ander dienaars of die gemeente te probeer heers, nuwe reëls voor te skrywe of sonder medewete van ander dienaars kerkraadsvergaderings te belê; geen klassis het enige reg oor enige kerk of dienste aldaar nie, “opdat de kerk niet haars ondanks van haar regt en gesag beroofd worde”; strewe na tirannie oor kerk en kollegas verdien afsetting uit die amp (Pont 1981:83-89; artt 55,57,80,115).

|466|

Die Nederlandse kerke het as gevolg van hulle ervaring met die Roomse hiërargie gevrees dat gereelde sinodes daartoe sou lei dat die Woord van God en regering van Christus weer deur menslike voorskrifte en kerklike dwang verdring sou word. Toe die eerste ses Nederlandse kerke weens die vervolging in Duitsland te Emden 1571 saamkom om oor konfederale samewerking te praat, het hulle die huidige artikel 84 woordeliks as heel eerste artikel, selfs voor die basiese eenheid in hulle Formuliere van Eenheid, gestel. Hulle het selfs bygevoeg dat niemand eens die skyn mag wek dat hy heerskappy wil voer nie.

Ander Protestantse kerkregeringstelsels soos die episkopaalse (Engeland), Lutherse, presbiteriaanse en gereformeerdes in Duitsland het ruimte vir gesag van biskoppe of superintendente gelaat (vgl by art 44). In Nederland waar van 1571-1619 heerskappy so sterk afgewys is, het die algemene Reglement van 1816 op die sogenaamde demokratiese beginsel en wil van die meerderheid vir gesag oor gemeentes deur “hoër besture” voorsiening gemaak. Selfs die GKN het, terwyl hulle hierdie artikel onderskryf, in sinodes met prosedures teen predikante, professore en ouderlinge in 1581-1586, 1618, 1926, 1941-44 die beginsel in hierdie artikel verkrag (vgl Visser 1982:220-284, 361-376). Selfs visitatore oortree met die huidige kerkorde in die hand die beginsel wanneer hulle hulle beroep op ’n klassis om ’n idee of skema in ’n kerk deur te dryf. Die drang na menslike heerskappy (De Jongh 1918:154) het dié artikel veroorsaak. Dit is vandag net so aktueel, maar word ook net so maklik geïgnoreer.

Geen wet of kerkordeartikel kan swakheid belet of uitskakel nie. Die mens het ’n ingebore sonde om kragtens amp of status oor ander te wil heers. Afskuwelike voorbeelde van heerssug wat die kerk van God groot skade berokken het, is in kerklike notules beskrywe of nooit aangeteken nie.

 

2. ’n Waarskuwing vir predikante (en hul vroue)

Die waarskuwing om nie eens die skyn van heerssug te wek nie wat die Sinode van Ernden in 1571 aan die artikel toegevoeg het, moet deur elke predikant en dienaar in elke amp en elke vergadering gedurig in selfondersoek ter harte geneem word. Heerssug vlam veral op wanneer iemand in sy ampsdiens weerstand ontmoet. Ds T T Spoelstra waarsku teen die tendens by predikante (en selfs hul vroue!) om van “ons lidmate” (Kruger et al 1966:501 ) en mens kan byvoeg “my kerkraad”, te praat.