Artikel 67

Christelike feesdae

 

Artikel 67: Die onderhouding van die Christelike feesdae, Kersdag, Paasfees, Pinkster en Hemelvaartsdag word aan die vryheid van die kerk oorgelaat.

 

A. Kerkregtelik

1. Die Sondagviering is uitgangspunt

Eie aan die aard van die Kerkorde as ordereëling bepaal die kerke nie in Kerkorde wat God in die Skrif voorskryf (Hd 2; 6; Hb 10) en wat in die Belydenis as kerk-wees (Heid Kat S 38) eerbiedig word nie. Die samekoms van die gemeente op die eerste dag van die week sedert die dae van die apostels speel ’n groot rol gedurende die Reformasie om die Roomse feesdae af te skaf.

Die Dordtse Sinode erken in 1619 ’n seremoniële en morele plig om die Sondag te onderhou. Sondagviering vereis rus van “slaafse werke” en nalaat van ontspanning wat godsdiens verhinder. Die HOIK het aan die Kaap swaar strawwe toegepas op wie Sondag ontheilig of eredienste versuim. Die Engelse Puriteine mag vir die streng opvatting oor Sondag verantwoordelik wees wat ook na Nederland deurgewerk het. Calvyn praat egter eers van “sonde” op Sondag wanneer optrede met godsdienstige samekomste bots of deur hulle “stoflike” aard ’n mens van die “geestelike” aftrek (Pont 1981:251 ). Dit is opmerklik dat die twee rapporte oor Sondagviering in die Geref Ekumeniese Sinode te Kaapstad 1976 ’n duidelike verskil van ’n meer sabbat-georiënteerde en ’n meer feestelike Sondagviering weerspieël.

 

2. Feesdae lei tot nuttelose ledigheid

Die Sinode van Dordrecht (art 75) het as ideaal gestel dat slegs die Sondag gevier moes word. Die grondbeginsel was dat feesdae menslike instellings was wat die Sondag verdring en tot losbandigheid en heidense feesvierings aanleiding gee. Waar die owerheid viering van Christelike feesdae (Kersdag,

|366|

tweede Paas- en tweede Pinksterdag, Nuwejaarsdag of besnydenisdag van Jesus en Hemelvaartsdag) verplig het, moes die gemeente geleer word dat ledigheid nutteloos en skadelik is.

 

3. Die dienaars geniet vryheid met betrekking tot stofkeuse

Dit het predikante vrygestaan om gepaste stof met betrekking tot Kersdag of Hemelvaart liefs op die Sondag in die week waarin die feesdag val in die prediking aan die orde te stel (Dordrecht 1574 art 53). Bediening van die Woord behoort tot die diens en verantwoordelikheid van die predikante. Hulle mag daarin nie voorgeskrywe word nie omdat hulle die diens in opdrag van en in verantwoording aan Christus (en nie op kerklike voorskrif nie) uitvoer. So het Calvyn op ’n Sondag voor Kersdag oor die geboorte van Jesus gepreek, maar op die Kersdag in die week met sy stelselmatige behandeling van Deuteronomium en die huwelikswet voortgegaan (Pont 1981:24-49). So iets sal vandag moeilik aanvaar word omdat dié dae spesiale aksent verkry het.

 

4. Feesdae van sekulêr-heidense oorsprong

Die Roomse sending het gedurende die Middeleeue by kultureel-godsdienstige gebruike van die Germane aangesluit, maar daaraan ’n Christelike inhoud probeer gee. Vir die Christus- of Kersfees is by die Germaanse middelwinterfees ter ere van Wodan aangesluit. Goeie Vrydag en Paasfees moes die fees ter ere van Ostera (vgl Engelse “Easter”), die godin van die liefde, vervang, vandaar nog uitspattighede soos paaseiers en paashase as simbole van vrugbaarheid wat toe kwansuis die heelal en opstanding moes simboliseer (Pont 1981:250). “Holiday” kom van “holy day”. Die Reformatore wou beelde uit die kerkgeboue verwyder en ook allerlei inbeeldinge weer deur godsdienstige feesdae af te skaf. Dié optrede is dikwels aan Calvyn verwyt, terwyl eintlik ander Hervormers (Farel, Viret, Bucer, Knox) hieroor sterk standpunt ingeneem het (Jansen 1922:290).

 

5. Konflik tussen godsdiens en kultuur

Die kerke het in hulle totale verwerping van die godsdienstige feesdae natuurlik nie die Germaanse kultuur hierby in ag geneem nie. Volksfeeste en familietradisies op godsdienstige terrein lê in die kultuur gebed. Gevolglik het daarom die burgerlike owerhede die onderhouding van die “Christelike” feesdae (waarvan Goeie Vrydag en soms Kersdag, Hemelvaartdag en Nuwejaarsdag nie op Sondae val nie) op die kerke afgedwing. Hulle wou kulturele gebruike behou, maar ook in die corpus christianum aan die eertydse heidense feeste ’n Christelike betekenis gee. Hulle het selfs by die Pinkster en Kersdag elk ’n tweede dag bygevoeg en Hemelvaartsdag kragtens die jus patronatus in sacra voorgeskrywe.

|367|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die kerklike standpunt en gebruike met betrekking tot die Christelike feesdae verander geleidelik in Nederland van skerp afkeur en veroordeling (1574) tot kerkordelike voorskrif om naas die Sondag ook Kersdag, Pase en Pinksterdag oor twee dae te onderhou. Waar owerhede die dag van besnydenis (nuwejaar) en Hemelvaart van Christus nog verplig het, moes die predikante aandring om dit te verander.

Die Kerkorde van 1905 bepaal dat, benewens Sondag, die Kersdag, Pase, Pinkster en Hemelvaartsdag onderhou sal word terwyl die tweede feesdae aan die vryheid van die kerke oorgelaat word. Die GKSA pas in 1964 hierdie beginsel op die onderhouding van al die feesdae toe omdat onderhouding van die feesdae geen kerklik-prinsipiële aangeleentheid is nie. Dit val immers op die terrein van die kultuur soos godsdienstige volksfeeste waar die kerke self oor hulle roeping en taak kragtens die verweefdheid van kerk en volk kan besin. 

 

2. Praktiese uitvoering

Die gebruike met betrekking tot die feesdae verskil van volk tot volk. So geniet veral Kersdag en Goeie Vrydag in sommige Europese volksgemeenskappe besonder hoë agting. Talle mense besoek slegs op dié feesdae eredienste om nagmaal te vier. Daar is gevalle bekend waar gelowiges uit ’n Lutherse agtergrond so geskok was toe in ’n gereformeerde kerk geen kerkdiens op Kersdag gehou is nie, dat hulle gemeenskap opgesê het. Die predikante moet kulturele faktore in ag neem om die kerk (die gelowiges) op die beste wyse te stig (Ef 4: 11-16).

 

3. Die sogenaamde kerklike jaar

Vanuit Nederland het die gedagte van ’n “kerklike jaar” ook by sommige in Suid-Afrika posgevat. Die preekstof word Sondae volgens die feesdae ingedeel. Vier weke voor Kersfees begin “advent”-preke, sewe weke lank voor Paasfees word “lydenspreke” gelewer, tussen Paasfees en Hemelvaart volg “opstandingspreke” terwyl dit met ’n pinksterpreek afsluit. In die Ned Geref Kerk het “pinksterbidure” tussen Hemelvaartsdag en Pinkster-Sondag uit die revivalbeweging in 1860 posgevat.

Die “kerklike jaar” maak gereelde, sistematiese en aktuele Skrifprediking volgens behoeftes van elke dag onmoontlik wanneer feesdae van menslike herkoms die stigting van die kerk bepaal.

 

4. Huidige kerklike probleme met feesdae

Die feesdae wat die owerheid instel het grootliks “langnaweke” en vakansiedae geword wat swaar verkeer en ’n groot dodetol op die paaie

|368|

veroorsaak. Dit verskil radikaal van die Christelike vorm daarvan in die Middeleeue.

 

5. Geloftedag

Gelowige Afrikaners het sedert 1903 begin om “Dingaansdag” jaarliks te vier om die oorwinning van die Voortrekkers oor Dingaan in 1838 na die gereelde gelofte gedurende die laergodsdiens elke aand te herinner. In die laer het ook Engelse, Kleurlinge en Zoeloes aan die gebeure gedeel. In 1925 het G B A Gerdener ’n teks van die Gelofte opgestel waarin onder andere beloof sou wees om die dag van oorwinning jaarliks as ’n “sabbat” te onderhou. Dit bots egter met die oorspronklike weergawes van die Gelofte deur Bantjes en Pretorius in 1838. Volgens hulle het die gelofte ingehou om ’n kerkgebou op te rig en om God se groot dade gedurig aan die kinders oor te dra. Hoewel ’n groot deel van die Zoeloevolk onder leiding van Mpanda (en Swazi’s) eintlik vir Dingaan se val in Februarie 1840 verantwoordelik was, het Geloftedagvierings eksklusief die Afrikaners se kulturele en godsdienstige oorlewing na die verpletterende Anglo-Boere-oorlog gedien. Dit is in 1952 onder die sabbatwetgewing betrek en het as Geloftedag bekend geraak. Dit het so ’n bykomende Sondag geword (vgl Spoelstra 1982-c).

Die wyse waarop Dingaansdag (later genoem Geloftedag) gevier is, het aan sommige swart- en witmense aanstoot gegee. Die Gelofte van 1838 getuig van die Voortrekkers se belofte om as gelowige volk die verbond met God in gereelde eredienste te belewe en daarom ’n kerkgebou uit dankbaarheid vir oorwinning te bou en die Christelike godsdiens onder hulle kinders in te skerp. Tans word dikwels ’n erediens op 16 Desember soos op ’n Christelike feesdag gehou terwyl af en toe die ou gebruik van volksfeeste met godsdiensoefening ook nog voorkom. Gesamentlike eredienste onder leiding van een van die plaaslike Afrikaanse kerke vind ook dikwels plaas.