|87|

Artikel 11

Die kerk moet die bedienaars van die Woord onderhou

 

Artikel 11: Die kerkraad wat die kerk verteenwoordig, is verplig om sy bedienaars van die Woord met behoorlike onderhoud te versorg en mag hulle nie die onderhoud weerhou ot hulle uit hulle diens ontslaan sonder kennis en goedkeuring van die klassis met advies van die deputate van die partikuliere sinode nie.

 

A. Kerkregtelik

1. Die koninkryk van God vereis die bediening van die Woord

By die vorige artikels is telkens op die sentrale beginsel gewys dat Christus sy heerskappy deur die bediening van die Woord en die Heilige Gees wat geloof werk, verwesenlik (Lk 4: 43; Mt 28: 19, Joh 14: 26; Rm 10: 12-17; Heid Kat S 2 en 48). Gevolglik moet die gemeente sorg dat die diens van die Woord onbelemmerd voortgaan.

 

2. Die gemeente moet die bedienaars van die Woord versorg

Die stam van Levi en die priesters wat die volk godsdienstig bedien het, het nie land geërf nie, maar moes deur die volk onderhou word (Nm 18: 20v, Dt 18: 1v). In die Nuwe Testament moet die wat onderwys ontvang al hulle gawe met die wat onderwys gee, deel (Gl 6: 6). Die gemeente moet bedienaars van die Woord onderhou omdat hulle die evangelie liefhet (FiI 4: 17; Heid Kat S 38). ’n Soldaat stry nie op eie koste nie. Wie ’n wingerd plant, moet van die vrugte eet. Diegene wat die evangelie preek, moet van die evangelie lewe (1 Kor 9: 6-14). In die reël moet die predikant hom as ’n soldaat van Jesus Christus voltyds wy aan sy roeping (2 Tm 2: 4).

 

3. Tentmakerbediening

Dit staan ’n leraar nogtans vry om nie van die reg op onderhoud gebruik te maak nie. Hy mag verlang om self in sy eie onderhoud te voorsien want die ware evangeliedienaar werk nie vir loon nie (1 Kor 9: 15-18). Hy dien vrywillig met die oog op die gemeente. Die gemeente is nie daar ter wille van hom nie (1 Kor 9: 19). Paulus was ’n tentmaker (Hd 18: 3). Daarom word die begrip “tentmaker-predikant” gebruik vir ’n dienaar wat in sy eie onderhoud voorsien maar (let wel!) so oorvloedig in die gemeente arbei dat die gemeente in geen

|88|

enkele opsig skade ly nie. Voltydse kerkdiens en volledige onderhoud geskied op die veronderstelling dat ’n predikant al sy tyd aan die bediening van die gemeente en evangelisasie na buite wy. “Tentmakery” het nooit in belang van die dienaar nie, maar ter wille van die kerke (koninkryk) geskied. Calvyn wys inmeng in ’n sekulêre beroep gevolglik skerp af.

 

4. Die gemeente het reg om ’n beroepsooreenkoms op te sê

Die beroepsooreenkoms tussen predikant en gemeente het kerkregtelike en kontrakregtelike implikasies. ’n Predikant kan sy ooreenkoms beëindig (artt 10,12). Net so kan die kerk die diens van die predikant beëindig in die gewone reg moet die “werknemer” gewoonlik die “werknemer” voor die tyd kennis gee dat ’n dienskontrak beëindig gaan word. Al is die predikant in kerkregtelike sin dienaar van Christus en nie ’n werknemer by die kerkraad nie, gee dit hom en die klassis uit ’n regsoogpunt eerder minder aanspraak om ’n ooreenkoms vol te hou wat die kerkraad nie meer kan of wil volhou nie. Soms moet die diens van ’n predikant in belang van die rus en opbou van die kerk van God dringend beëindig word.

 

5. Om vergenoeg te wees

Binne ’n kapitalistiese ekonomie beskou mense eiebelang, selfsug en jag na meer loon, selfs by predikante, as gewoon. Dit word met mag, geluk, status en sukses vereenselwig. In sosialisme beskou die werker weer dat hy reg het op die vermoë van die gemeenskap. Diens van die Woord wat primêr op die toewyding aan God gerig is (1 Tm 4: 8), word gevolglik met die oog op geld beoefen (1 Tm 6: 6-19).

Die predikant moet egter dieper waardes en sekerhede as rykdom verkondig en uitleef. ’n Geroepe bedienaar van die Woord moet weet dat sy diens nie volgens sekulêre norme van posevaluasie, studiejare en ervaring soos by staatsamptenare en in die privaatsektor beloon kan word nie. Die evangeliedienaar moet tevrede wees met wat hy het en in baie gevalle ter wille van Christus en sy gemeente gebrek ly (2 Kor 11: 16-33; Hb 13: 5; 2 Tm 2: 3).

Dominees wat geld en gemak najaag, wek bytende satire op. So vra die digter Adam Small (1973) die dominees met hulle skottels gebakte aartappels en duur motorkarre hoe klere van kameelhare en ’n dis van sprinkane en heuning hulle sal pas.

 

6. Inter-kerklike sustentasie

Die liefde en eenheid in Christus verplig die kerke om na mekaar se belange en behoeftes om te sien sonder om oor daardie kerke te heers. Kerke moet mekaar (of armes in daardie kerke) op ’n ordelike wyse help (Rm 15: 26,27; 2 Kor 8 en 9; Gl 6: 2). Daarom verleen die kerke onderling aan mekaar hulp of sustentasie om bediening van die Woord te laat voortgaan (Heid Kat S 38; GKSA 1964:392-408).

|89|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

In 1581 het die Kerkorde nog slegs bepaal dat die gemeentes hulle dienaars behoorlik moes onderhou. Indien hulle dit sou nalaat, moes die klassis oordeel of die predikant van so ’n gemeente weggeneem moes word. In 1586 bepaal artikel 11 teenoor artikel 10: “Aan die ander kant sal die kerkraad … verplig wees om sy dienaars met behoorlike onderhoud te versorg en dit sonder kennis en oordeel van die klassis nie mag staak nie, wat ook wanneer middele vir onderhoud ontbreek, sal oordeel of die betrokke predikant nie verplaas kan word nie.” Artikel 11 bepaal dus ’n reg van die kerk parallel met die reg van die predikant in artikel 10. Die situasie is vandag besonder relevant in kerke van die Derde Wêreld waar finansiële nood soos tydens die Reformasie kan voorkom.

Artikels 10 en 11 dui op die bilaterale karakter van die beroepsverbintenis. Tegelykertyd aanvaar die kerke in kerkverband kragtens die band in Christus ’n mate van verantwoordelikheid om mekaar in so ’n situasie te help. Die Sinode van Utrecht 1905 in Nederland het die deputate van die Part Sinode by die klassis gevoeg (De Moor 1906:10). Dit versterk die gevaar van dominokrasie teenoor die kerkraad. Die bybring van deputate kos geld en is onnodig omdat wanneer ’n klassis verkeerdelik toestem om ’n predikant los te maak appèl na ’n die partikuliere sinode moontlik is (art 31).

 

2. Probleme met betrekking tot bepaling van “behoorlike onderhoud”

2.1 Salaris of traktement

Hoewel die Kerkorde die kerk reeds in die 16de eeu tereg vir onderhoud aanspreek, het die munisipaliteite predikante toe aangestel en gesalarieer. Staatsalaris vir predikante van die NGK en NHK was tot ongeveer 1875 in SuidAfrika ook die reël. Die GKSA het van die begin af elkeen sy eie predikant onderhou en staatsalaris in stryd met ’n vrye kerk beskou (Spoelstra 1963:217v,273; Van der Linde 1983:51; Kruger et al 1966:89).

Predikante is tot in die 20ste eeu met “traktement” onderhou wat uit ’n kontantbedrag per jaar, ’n pastorie, vervoerreëlings en selfs in natura ’n aantal sakke koring vir brood, gerwe gars vir perdevoer en hamels vir slagdoeleindes bestaan het. Die ou Sinodes verwys na Gl 6: 6 en het dit feitlik letterlik uitgevoer. Elkeen gee wat hy beloof het. Diakens moes reël en op toerbeurt uit die wyke die onderhoud aflewer. “Traktement” was destyds feitlik al waarvoor kerklik bygedra is. Vir ander uitgawes plaaslik of in kerkverband is gekollekteer.

Omdat ’n predikant ’n dienaar van Christus en nie ’n werknemer van die gemeente is nie, wys sommige “salaris” of salarisskale vir predikante prinsipieel af. Dieselfde kerke betaal egter aan teologiese professore as predikante “salaris”. Die salaris word selfs soms deur die Universiteit vasgestel. Kerkregtelik kan “salaris” net so wel as “traktement” in terme van artikel 11 as behoorlike onderhoud kwalifiseer.

|90|

2.2 Euwels aan “traktement” verbonde

Iemand in die private sektor moet met ’n “salaris” self sy onderhoud, lewenstandaard, huisvesting, voertuig, telefoon, ensovoorts bekostig. Omdat die kerk “behoorlike onderhoud” (traktement) moet voorsien (art 11), is veral na 1960 al meer geredeneer dat die kerk vir alle behoeftes van die predikant verantwoordelik is (Kruger ei al 1967:92). Dit grens aan sosialisme wat die gemeente ten volle vir die individu verantwoordelik hou en die predikant sy rentmeesterskap voor God ontneem. Beroepsbriewe het toenemend toelaes per kind, studiegeleenthede, biblioteek, inkomstebelasting of selfs verkryging van ’n eie huis op rekening van die kerk gediversifieer.

In die lig van inflasie alleen al moet ’n kerk wat die bediening van die Woord voorop stel, sy eie pastorie hê al sou dit verhuur word wanneer ’n predikant sy eie huis bewoon. Daarby moet die versorging nie per item die predikant probeer voorskryf nie. By die bepaling van predikantonderhoud word byvoordele ten opsigte van pastorie, vry telefoon, motortoelae, vry water en ligte, pensioenvoordele sonder bybetaling (art 13), ensovoorts dikwels verswyg sodat slegs die kontantuitkering met ander salarisse vergelyk kan word. Indien “salarisse” na buite vergelyk word, behoort salarisskale onvermydelik daarmee saam ingestel te word en die predikant ’n groter aandeel te neem in bekostiging van die items wat die ouderling en diaken uit hulle “salaris” bekostig om die kerk te bedien. Sommige beweer ’n pastorie benadeel ’n predikant, terwyl onderwysers vry woning toejuig. Niks verhoed ’n predikant om self beleggings (bv annuïteite met die oog op huisvesting by emeritaat) te doen nie.

 

2.3 Wanneer is onderhoud behoorlik?

“Onderhoud” kan slegs deur middel van ’n norm of maatstaf as “behoorlik” beoordeel word. Sommige neem al die behoeftes en begeertes van die predikant as maatstaf, bv grootte van huisgesin, studieskuld, predikant se belasting- en versekering-aanspreeklikheid, motorkeuse, lewenskoste in ’n bepaalde omgewing, lewenspeil van die betrokke gemeente, ensovoorts. Ander dink in terme van ’n willekeurige verhouding tussen ’n werkgewer en huurling. Teoreties kan onderhoud van predikant tot predikant en van gemeente tot gemeente verskil en nog as “behoorlik” beskou word (Van der Linde 1983:49v), maar kerkrade kan ook hulle verantwoordelikheid verwaarloos.

In praktyk word oor die algemeen ’n kontantuitkering met byvoordele vasgestel voordat die kerk weet wie beroep is en wat sy “behoeftes” is. Gangbare en vergelykbare “salarisse” uit die sekulêre wêreld dien baie keer as norm. So maak beroepsbriewe soms selfs van “vakansiebonusse” en onthaaltoelae (wat op etiese gronde betwyfel kan word), melding. Hoewel van “traktement” gepraat word het ons in praktyk dikwels met gewone salaris te doen. Klassisse het na 1960 al meer begin om “riglyne” (salarisskale) vir onderhoud van predikante neer te lê en deur middel van visitasie (art 44) af te dwing. Versorging het so al meer (ten spyte van artt 11 en 30) gesinodaliseer en ’n salariskarakter verkry.

|91|

Behoorlike onderhoud moet onvermydelik aan die hand van een of ander vergelykbare salaris uit die omgewing as norm bepaal word. Die Emeritaatsfonds (ou EPPW en W) neem reeds pensioen van ’n senior lektor as norm (1982). Miskien kan die salaris van ’n skoolhoof as basis geneem word en daarvan die direkte voordele soos ’n gratis pensioenfonds, vry woning, subsidie in motortoelae, ensovoorts afgetrek word (dit wil sê voordele wat die skoolhoof nie ontvang nie). ’n Predikantsalaris wat aan ’n vergelykbare norm beantwoord, stel die dominee in staat om self sy kinders te laat studeer, sy motor te herstel, versekering en voorsorgfondse te bekostig. Rasionalisering vereis bydraes van kerk en predikant vir ’n behoorlike uitkering by aftrede. Die advies van Sinode 1985 dat kerkrade predikante tydens diens aan eie huise moet help, is in stryd met artikel 30 KO geneem, moeilik uitvoerbaar en kon deur die Sinode self as ’n voorsorgfonds by die Emeritaatsfonds aangebied word. So ’n voorsorg lê op die weg van ’n sinode. Die huis wat ’n predikant tydens sy diens benodig, verskil van wat hy by aftrede sal nodig hê.

 

2.4 Gemeentelike of sinodale onderhoud?

Prinsipieel is die kerk (gemeente) deur middel van die kerkraad vir die onderhoud van predikante verantwoordelik. In die kollegialistiese kerke is die eertydse owerheidsalarisse en salarisskale onder sentrale sinodale beheer oorgeneem en uit ’n sentrale sinodale kas betaal. Die GKSA het in 1949 in die lig van die selfstandigheid en verantwoordelikheid van die plaaslike kerk (Van der Linde 1983:49) geweier om dié voorbeeld te volg. Ondertussen het dieselfde kerke, veral vanaf 1982, ten opsigte van artikel 13 wat dieselfde beginsel as artikel 11 vir elke plaaslike kerk stel, tog ’n Emeritaatsfonds sinodaal aangepak. Daar heers duidelik teenstrydige persepsies asof daar beginsels op die spel is. Realiteite verplig waarskynlik vandag salarisskale met pensioenvoorsiening as ons van “behoorlike onderhoud” in kerk en kerkverband wil praat.

 

3. Weë en middele om bediening van die Woord te bekostig

Gedurende die vorige eeu het die kerkraad op die platteland voor ’n beroep elke gesinshoof gevra na sy “belofte” vir die “traktement” van die predikant Dit beklemtoon die vrywillige liefde en verantwoordelikheid vir die diens van die Woord wat elke gelowige moet motiveer. Daarvolgens het die beroepsbrief die traktement “aan hierdie standplaas verbonde” vasgestel. Vermoënde mense het dikwels baie minder as ander gegee. Gevolglik het kerkrade toe probeer om mense se vermoë te skat en hulle te “raam” — ’n stelsel wat moeilik regverdig kon werk. Daarna is liewers gevra dat mense van hulle bruto of netto inkomste ’n eenvormige persentasie (bv 3%) as kerklike bydrae afdra wat die kerkraad in staat sou stel om binne perke vir uitgawes te begroot.

In kerke in die Derde Wêreld het die idee van ’n eenvormige “Iidmaatskapfooi” soos by ’n sekulêre vereniging ingeburger. Hier staan “lidmaatskap” aan “kerk as instituut” en nie die bediening van die Woord nie, voorop. Soms is ook baie negatief geoordeel oor pogings van kerke om deur middel van

|92|

gesamentlik pogings soos verkopings, middele vir kerklike doeleindes in te samel (GKSA 1955:376-385). Dié oordeel kan betwis word. Indien die ware wat verkoop word van die “lidmate” self kom en deur hulle arbeid verwerk-en-verryk is, kan die verkoping daarvan tog nie veroordeel word nie. Die onderskeid tussen “kerklike doeleindes” en “Christelik-nasionale en maatskaplike lewe” (1955:384) is iets wat die Bybel nie ken nie en waarskynlik op Kuyper se skeiding van kerk as “instituut” en “organisme” berus.

Soms beskik kerke oor fondse of bemakings wat as ’t ware die gemeente se verpligtinge kan oorneem. In die lig van die kerk se dankbaarheidsplig (Heid Kat S 38) mag dit nooit gebeur nie en moet dergelike inkomste vir ander doeleindes in diens van die koninkryk verantwoordelik bestee word.

Die kerkraad moet die finansies volgens erkende norme administreer en noukeurig kontroleer. ’n Begroting moet jaarliks opgestel en stip daaraan gehou word. Die kerkraad moet toesien dat vir elke ontvangs ’n kwitansie en vir elke uitbetaling ’n magtiging uitgereik word. Jaarlikse oudit deur ’n bekwame instansie is onontbeerlik. Besware dat dit in ’n “kerk” nie pas nie, is onsin. Hoe smartlik ookal, diefstal van kerkgeld kom voor en sonder kontrole kan administrateurs onder verdenking geplaas word. Die eer van God, sy kerk en van diegene wat die geld hanteer, vereis stiptelike en gereelde finansiële kontrole. Twee handtekeninge op ’n kerktjek is dan ook nie ’n mosie van wantroue in die kassier nie.

Kerke wat ’n predikant nie finansieel kan onderhou nie, moet hulle na die klassis wend (art 41). Daarom betrek artikel 11 ook die klassis. Die aansoek vir sustentasie by die klassis moet berus op geouditeerde finansiële state (die werklike posisie) en bewyse dat die gemeente na vermoë bydra, verantwoordelik begroot en op ’n tekort afstuur. Wanneer ’n kerk glad nie meer 'n predikant kan onderhou nie, kom ontslag onder artikel 11 ter sprake.

’n Gemeente wat die bediening van die Woord waardeer, sal daarvoor offer. Gewoonlik stel klassisse en partikuliere sinodes eie reglemente op waaraan aansoeke om sustentasie moet beantwoord en daarin word bogenoemde vereistes vir die aansoek om sustentasie gestel.

 

4. Sending of sustentasie

Gewoonlik het kerke uit die Eerste Wêreld “sending” onder mense van die Derde Wêreld gedoen en bekostig. “Sending” het daarna verkeerdelik ’n noemer vir “sustentasie” van selfstandige “swart” kerke geword. Wanneer blanke kerke swart kerke finansieel onderhou, kom dit paternalisties (vgl art 84) oor. Dit hou daardie kerke afhanklik, smoor inisiatief en verhoed dat eie finansiële kontrole, begroting en administrasie ontwikkel.

Sodra ’n kerk selfstandig word, moet dit jaarliks vir sustentasie by die eertydse sendende kerk aansoek doen. Verder moet die twee kerke ooreenkom hoe die sending (evangelisasie) verder saam voortgesit gaan word en die ooreenkoms aan die onderskeie klassisse meedeel. Die kerkraad moet sorg vir absoluut noukeurige finansiële administrasie, baie gereelde oudit en moet nie huiwer om van elkeen wat kerkgeld hanteer die uitreik van kwitansies te verwag en boeke gereeld (maandeliks) te kontroleer nie.

|93|

5. Ontslag van ’n dienaar van die Woord

Wanneer ’n kerkraad namens die kerk oortuig is dat hy die onderhoud van die predikant moet staak, deel hy sy besluit met motivering aan die klassis mee om goedkeuring (approbasie) te verkry. In die klassis moet deputate van die Part Sinode adviseer. Die advies staan op rekening van die deputate en geskied nie namens die partikuliere sinode nie, anders sou byvoorbeeld appèl (art 31) teen die klassis nie moontlik wees nie en hierdie persone (vgl art 49) die besluite van ’n wettige kerkvergadering dikteer (kyk artt 30,84). Die klassis is nie verplig om die advies op te volg nie, waarna die deputate daarby kan berus of na die partikuliere sinode appelleer. Geen kerkraad kan egter verplig word om ’n predikant te onderhou wanneer die klassis sy ontslag toegestem het nie.

Die mees algemene rede vir ontslag volgens artikel 11 behoort finansiële onvermoë van die kerk te wees. Soms wil ’n kerk ’n bepaalde predikant se diens nie langer hê nie, en hom nie verder onderhou nie, alhoewel hy hom nie aan ’n skorsingswaardige sonde skuldig gemaak het nie (artt 79,80). Hy mag slordig, onbekwaam of lui wees, aanstoot gee, twis, veeleisend, onsmaaklik en afstootlik optree of sonder vrug werk (Bos 1950:303; Kruger et al 1966:93v). Wanneer ’n “ondraaglike toestand” ontstaan het, mag die kerkraad oordeel dat die predikant nie langer met vrug kan dien nie. Geen persoon en geen instansie kan ’n kerkraad dwing om ’n predikant te onderhou wat die kerk van Christus skade doen nie.

Wanneer die klassis adviseer dat die kerkraad ’n predikant sal ontslaan, moet volle en/of later gedeeltelike onderhoud verseker word tot op datum waarop die ontslag van krag word. indien nodig moet die klassis gepaste hulp verleen. Die periode van ongeveer drie maande se vasgestelde onderhoud word soms “waggeld” genoem Die klassis stel onmiddellik al die kerke in kerkverband van die besluit in kennis en meld dat indien die predikant nie voor die bepaalde datum na ’n ander kerk beroep word nie, hy ipso facto van sy diens ontslaan is en sy beroepbaarheid as predikant verval (kyk artt 3,4,5 en Calvyn Inst IV.3.vii). Wanneer die datum verstryk, vind geen verdere handeling plaas nie en die persoon gaan eervol oor tot “‘n ander staat van lewe” (art 12).


Spoelstra, B. (1989)


COMMENTAAR OP
Kerkorde GKSA (2000) 11