Artikel 74

Die kerkraad as bedienaar van die versoening

 

Artikel 74: As iemand, nadat hy deur twee of drie persone in liefde oor ’n heimlike sonde vermaan is, geen gehoor gee nie of ’n openbare sonde bedryf het, moet dit by die kerkraad aanhangig gemaak word.

 

A. Kerkregtelik

1. Die tughandeling as bediening van versoening

Hierdie artikel is feitlik woordeliks aan Mt 18: 17 ontleen en dui dus ’n weg aan wat Jesus self bepaal het. Die basiese kerkregtelike beginsels by artikels 71, 72 en 73 is gevolglik hier ook ter sake. Dit word egter nie weer hier bespreek nie.

 

2. Gemeente of Kerkraad

Die Skrif praat in Mt 18: 17 van gemeente, kerk (ekklesia) terwyl die Kerkorde kerkraad gebruik. Die Bevestigingsformulier vir ouderlinge verduidelik dat die Skrif nie bedoel dat die mededeling aan die gemeentelede individueel gedoen moet word nie, maar heel gepas aan “diegene wat deur die gemeente gekies is om hulle te regeer”. Op sigself is hierdie motivering vir ’n demokratiese vertolking (Kruger 1965:437: De Jong 1918:39v) vatbaar wat nie in die Skrif steun nie. Daarvolgens tree die kerkraad as orgaan vir die gemeente op. Die Anabaptiste en Independente wil die gemeente selfs tug laat uitoefen. Dit is nie alleen onuitvoerbaar nie, maar ook in stryd met die roeping tot die apostels en ouderlinge om die sleutels van die hemelryk te bedien (Mt 16: 19, Joh 20: 21-23; 2 Kor 10: 8; 1 Tm 3: 5; Hd 28).

Die ouderlinge tree op as geroepenes en gesante van God (NGB 31: artt 2,3,23 KO). In die monargaal-episkopale kerkregering gebruik Christus as enigste Hoof van sy kerk elke ouderling individueel (Inst IV.3.i,vii,viii), maar hulle moet kragtens hulle eenheid in en met die gemeente (1 Kor 12) die tugoefeninge gesamentlik onderneem wanneer die ekskommunikasie of ban

|398|

(NGB 32) in die gedrang kom. Die Skrif noem die ouderlinge dan ook dikwels in gesamentlike optrede (Hd 11: 30; 15: 2,4,6,22,23; 16: 4; 20: 17,28,31). Calvyn praat van die kerkraad juis wanneer reggespreek moet word (Inst IV.11.i,vi). Die raad van ouderlinge of biskoppe moet die geestelike regering bedien wat een of twee ouderlinge nie meer afsonderlik kan doen nie. As sodanig bedien die kerkraad die versoening in ’n tweede fase vir en in die gemeente asof die gemeente self daarin handel (2 Kor 5).

 

3. Oorgang van heimlike na openbare sonde

Volgehoue verwerping van liefdevolle Christelike vermanings of verset teen die geopenbaarde wil van Christus, maak verdere onderlinge vermaning onmoontlik en noodsaak ’n verskerpte tughandeling. Die bearbeiding betrek nou die gemeente wat onder hierdie verharding of openbare sonde ly en seergemaak is (1 Kor 12: 26; 2 Kor 5: 12,13). Nou moet die ouderlinge vir die doeleindes van artikel 71 KO die bearbeiding ter hand neem. Kragtens die een liggaam in Christus wees moet ander gelowiges nog steeds gesamentlik of afsonderlik met die sondaar bly praat as gemeente en liggaam van Christus (1 Kor 12). Dit geskied van nou af onafhanklik van die handeling wat die ouderlinge onderneem. Tug bou tot op die laaste fase (art 77) op voortgaande onderlinge vermaning.

 

B. Kerkregering

1. Opname in die agenda

Die kerkraad is die adres van die kerk (Hd 11: 30; 20: 17) waar die hardnekkige verwerping van vermanings sowel as openbare sonde bekendgemaak moet word. Onmiddellik lê Mt 18 die plig op en magtig artikels 72,73 die voorsitter en skriba van die kerkraad om vooraf vas te stel of die klaers self reeds met die vermeende sondaar gehandel het voordat hulle die saak per skrywe of persoonlik na die kerkraad neem. Slegs wanneer aan die eise van die Here Jesus in Mt 18 (artt 71-74) voldoen was, mag die kerkraad op die getuies as sodanig ingaan. Die voorskrif geld ook vir ouderlinge.

Wanneer die voorsitter, skriba of ’n ouderling ’n klag in die kerkraad lê, moet elke ouderling teenwoordig hom nogtans ook verantwoord of die saak volgens voorskrifte van Christus vir die agenda kwalifiseer en aan die prosedure van Mt 18 (artt 72,73) beantwoord. Hy is as ouderling van God geroep om die goeie naam en eer van die mede-gelowige wat sondig, te beskerm (Heid Kat S 43).

Die woorde “in liefde” (art 74) stel ’n norm waaraan die voorafgaande vermanings en die aangee by die kerkraad moet beantwoord. Sodra opgemerk word dat liefde in die vooraf arbeid ontbreek het, moet die aanwesige ouderlinge die saak nie ter tafel neem nie. Dit kan maklik die geval wees wanneer die predikant of ouderling teen iemand gebots het. In so ’n geval moet die kerkraad

|399|

eers nog ’n getuie bybring en die onderlinge vermaning nog eers voortsit. Liefde vereis dat genoegsame vermanings (Mt 18) vooraf moes geskied het. Wanneer ’n growwe openbare sonde aangemeld word, moet die kerkraad dadelik daaraan aandag gee.

 

2. Die vorm waarin die saak aangegee moet word

2.1 Wie volgens Mt 18 kan optree

Die klaers (getuies) hoef nie noodwendig uit die gemeente te kom of selfs gelowiges te wees nie (De Jongh 1918:69). Hulle moet egter persoonlik by die kerkraad bekend en in die reël gewillig wees om die kerkraad in sy verdere behandeling van die saak behulpsaam te wees. “Broer” in Mt 18: 15 dui op mense wat mekaar ken. Op anonieme klagtes gaan geen kerkraad in nie.

 

2.2 Twee of drie persone

Die Skrif aanvaar dat die waarheid in die mond van twee of drie getuies vasstaan. Die getuies moet bereid en in staat wees om die aard en omvang van bearbeiding aan die sondaar te beskryf. Klaers kan maklik ’n liefdelose twisgesprek en verwyte vermaninge volgens Mt 18 noem. Dit mag nie aanvaar word nie.

Dit is altyd aan te beveel dat die “getuies” (klaers) self voor die kerkraad verskyn en op vrae van die ouderlinge antwoord. Die ondersoek mag uitwys dat nie verder op die saak ingegaan kan word nie, omdat die sondaar nog nie uit die Bybel vermaan was nie en daarom nie gesê kan word dat die persoon hom teen Christus verhard nie. Indien ’n klag skriftelik aan die kerkraad meegedeel en daarin “getuies” genoem word, moet die voorsitter en/of skriba vooraf by die getuies vasstel of hulle die klag ondersteun en oor die bearbeiding kan getuig. Die klaer word nie gewantrou nie, maar die kerkraad sowel as die persoon oor wie die klag gaan, moet kragtens artikels 72-74 beskerm word. Die gevaar bestaan dat die kerkraad ’n skriftelike klag ter tafel kan neem waarvan agterna mag blyk dat die prosedure nie vooraf artikels 72-74 nagekom het nie. Dit bring die regsgeldigheid van handelinge wat mense se naam en eer raak, in gedrang. Wanneer die wyskouderling een van die mede-vermaners (Kruger 1985a) was, kan hy gewoonlik die saak met “getuie” in die volle kerkraad aanhangig maak.

 

3. Ondersoek deur die kerkraad

Wanneer geoordeel is dat ’n saak ordelik volgens artikel 74 KO ter tafel gekom het, moet die kerkraad vervolgens bepaal wat die klag presies inhou. ’n Kerkraad moet nie sommer dadelik met ’n saak op loop sit nie. Die persone wat vermaan het, moet eers noukeurig aangehoor en, waar nodig, uitgevra word. Daarna moet die sondaar rustig met die saak gekonfronteer en oor sy vermeende sonde, gesindheid, gewete, geloof en verhouding tot God en die Skrifgesag uitgevra word. Die Skrif moet die einde van alle teenspraak inhou.

|400|

Voorlopige ondersoek moet liefs in die volle kerkraad gedoen word, sodat elke ouderling presies op hoogte kom voordat hy help oordeel. ’n Kommissie is nou eenmaal nie die kerkraad nie (De Jongh 1918:67). Die aangeklaagde kan egter om ’n kommissie vra maar besit altyd die reg om teenwoordig te wees waar die getuies oor hom handel, mits hulle hulle stigtelik kan gedra. Die kerkraad moet slegs oordeel nadat die feite vasstaan, anders moet met ’n non liquet volstaan word en die voordeel van twyfel aan die aangeklaagde gegee word (De Jongh 1918:70)

Wanneer iemand nie voor die kerkraad wil of kan verskyn nie, kan ’n kommissie van minstens drie lede (getuies) met die ondersoek belas word. Kerkrade maak egter te gou en te veel van kommissies gebruik. ’n Kommissie loop groter gevaar om ’n saak partydig te beskou en skep die idee van afstand tussen kerkraad en gemeentelede. Die kommissierapport vorm meestal die grondslag van die kerkraad se handelinge en moet daarom onpartydig alle kante belig. Indien spanning tussen die klaers en aangeklaagde heers, moet die kommissielede so ver as moontlik die vertroue van beide kante en albei kante dieselfde inspraak in die kommissie geniet. ’n Kerklike ondersoek moet altyd aan die norme van regverdigheid. onpartydigheid, eerlikheid, waarheid, integriteit, waardigheid, geduld, welmenendheid, kortom: die liefde, beantwoord waarby gelowige gehoorsaamheid aan die Skrif deurslag gee. Die eed moet in hoë uitsonderingsgevalle en slegs om ernstige redes gebruik word (Heid Kat S 37).

Wanneer ’n kommissie ’n saak moet ondersoek is dit gebiedend noodsaaklik dat hulle opdrag duidelik sal sê wat die klag inhou. Hulle rapport moet sê watter vermaninge aan die sondaar gerig is en hoe hy daarop reageer het. Wat sy verweer inhou en wat die huidige stand van sake is. Die kommissie moet sonder kommentaar, leidende konklusies of aanbevelings aan die kerkraad rapporteer sodat die kerkraad eers besluit nadat die saak volkome duidelik en van twee kante gehoor is. ’n Kommissie lê immers hoogstens ’n saak voor en handel dit nie af nie.

Hoewel deesdae meestal van kommissies gebruik gemaak word, vereis die reg dat iemand geleentheid moet hê om self sy saak in die kerkraad te stel en te verdedig. Dit gebeur nog waar oor ampsdraers (artt 79.80) geoordeel word. Dikwels doen kommissies onder leiding van een of twee die werk waarop die kerkraad slegs sy seël plaas. Hierdie werkswyse bring die eer, waardigheid, versigtigheid en eerlikheid van die kerkraad in gedrang. Die kerkraad moet in staat wees om kommissiewerk te kontroleer en te korrigeer. Daar moet tegelykertyd ’n hoë premie op die vertroulike karakter van elke kerklike ondersoek geplaas word (De Jongh 1918:68). As vertroulikhaid geskend word, ontbreek die liefde (1 Kor 13: 7) en ly die kerk in eer skade.

 

3. ’n Mond om te praat

Sommige persone kan hulleself nie verdedig nie, byvoorbeeld as gevolg van gebrekkige opleiding, onkunde met kerklike prosedures, spraakgebrek, ouderdom, emosionele spanning, opvlieëndheid, skugterheid, mensevrees, lae selfbeeld en baie ander redes. Dit sou die persoon se reg krenk indien hy geen

|401|

hulp kon kry om sy saak te help stel nie. Die Kerkorde spreek glad nie hieroor nie. Dit is immers nie wêreldlike regspraak waar ’n hele opgawe van wette, bepalinge en reglemente nagekom moet word wat regskundige hulp noodsaaklik maak nie. Daarbenewens is so ’n aanvraag om ’n “mond” die uitsondering.

Die kerkraad kan die aanvraag vergun waar so ’n hulp die doeleindes van die tughandeling in artikel 71 KO sou bevorder (vgl Rutgers by De Jongh 1918:111-113). Dit staan egter vas dat die kerkraad sy vergunning mag weier of terugtrek wanneer hy oordeel dat die vergunning misbruik word of die kerklike handeling skade doen. Meestal wil mense ’n prokureur inbring wat dan die kerklike handeling aan nie-kerklike regsprosedures wil laat beantwoord asof ’n hofsaak gevoer word.

Die beginsels in artikels 30 en 71 KO lê nadruk op die verskil tussen ’n kerklike en burgerlike regshandeling. Tweedens het die kerkraad steeds met ’n lid in dieselfde liggaam (1 Kor 12) te doen en moet die vermeende sondaar persoonlik op vrae oor geloof, gewete, gesindheid en feitlike situasie antwoord. Die “mond” kan oor uiterlike bykomstighede en wanneer ’n kerkraad baie formeel raak oor prosedures hulp bied. Die “mond” moet daarom ’n natuurlike en nie professionele bystander wees nie.

 

4. Die inhoud van die klag

Die Kerkorde reglementeer nie soos die burgerlike reg tuggevalle en tugprosedures nie. ’n Wêreldlike hof is absoluut gebonde aan die strafwet en formele aspekte soos formulering van die klag, wetlike voorskrifte en prosedures. By kerklike tughandelinge gaan dit primêr om die persoon te behou vir die koninkryk (art 30) en nie om oortreding van ’n kerklike wetboek of regsbepaling nie (De Jongh 1918:55). Die klag moet egter wel duidelik aandui wat die persoon teen die Christelike leer of lewe soos dit in Skrif en Belydenis voorgeskrywe staan, gesondig het en hoedanig hy daarin hardnekkig volhard. Die inhoud (die “materie”) van die klag is van beslissende en bepalende betekenis, terwyl kerklike voorskrifte en prosedures van ondergeskikte belang is. Wanneer die kerkraad byvoorbeeld voorskryf dat ’n klag alleen “skriftelik” ontvang sal word, meng ’n kerklike voorskrif met die regering van God in sy kerk en volk steurend in. Dit kan selfs vanweë ’n formele beletsel tugoefening verhoed (vgl tweede deel NGB 29). Wie deur liefde gemotiveer die eer van God, heil van gemeente en sondaar soek en God gehoorsaam, kan nie om ’n formele rede met sonde verlief neem nie.

’n Kerkraad is nie deur die oorspronklike bewoording van ’n klag gebonde nie en kan gedurende die ondersoek ’n klag herformuleer om meer of minder in te sluit as waarmee oorspronklik begin was en kan op goeie grond die klaers by die aangeklaagde betrek. Die kerkraad ondersoek en behandel die saak (De Jongh 1918:67) om so gou doenlik die doelstellings van artikel 71 te probeer bereik. Die kerkraad mag selfs behandeling opskort indien hoop bestaan om versoening deur middel van arbitrasie te bereik.

|402|

5. Geen afskrik- of strafmaatreëls nie

In die wêreldlike regspraak en ouerlike tug word dikwels van dreigemente, afskrik- en strafmaatreëls gebruik gemaak. Sommige ouderlinge val in die versoening om in die kerkregering ook te dreig en ultimatums uit te reik dat indien die persoon hom nie bekeer of skik nie, sal verdere tugstappe volg. Daarin kan geen sondaar ’n dringende roepstem van liefde om sy behoud hoor nie. Die tug is nie God se straf oor sonde nie, maar beoog slegs dat die sondaar sy sonde sal bely en versoen word.

Ter wille van die liefde noem die notule by die eerste aankondiging onder artikel 74 KO liewer nie die naam van die persoon nie, maar verwys slegs na ’n “broeder”, “suster” of “gesin” en die klag. Die kerkraad weet uit die aard van die opgawe met wie hulle handel. Indien berou en versoening spoedig intree of die klag ongegrond bevind word, reflekteer die notule nie direk op iemand nie.

 

6. Wetsbeskerming vir ampsdraers en kerkrade in tugsake

Die ampsdraers en kerkrade is wetlik bevoeg om in tugsake volgens die Kerkorde op te tree en kan nie daaroor wetlik vervolg word nie. Wanneer iemand in die loop van sy kerklike bediening vertroulike inligting bekom, mag hy nie weier om daaroor in ’n hof te getuig wanneer hy as getuie gedagvaar word nie. Hy kan egter wel by die hof vra om sekere feite nie te openbaar nie, omdat dit in vertroue aan hom meegedeel is.

Geen individu (ouderling) mag in ’n hof sonder toestemming van die kerkraad oor kerklike handelinge gaan getuienis lewer nie. Die kerkraad kan vooraf besluit om op privilege te pleit wanneer getuies uit sy midde of sy notuleboeke in ’n hofgeding vir getuienis geroep word. ’n Ouderling wat as getuie oor kerklike handelinge gedagvaar word, moet voor die hof verskyn, en dan daar om privilege pleit. Hy hoef nie enige getuienis af te lê voordat die hof oor sy pleitgronde vir bevoorregting uitspraak gedoen het nie.

’n Ouderling of kerkraad kan slegs in ’n lasteraksie op grond van ’n tughandeling betrek word wanneer die eiser bewys kan lewer dat by die verweerder persoonlike vyandigheid, verkeerde motiewe, slegte trou, oordrywing of opset tot ’n skewe voorstelling aanwesig was (GKSA 1942: art 46).

Dit spreek vanself dat ampsdraers wat buite die kerkraad om oor tugsake met hulle eggenotes, vriende of mense praat, geen wetsbekerming het nie en vir laster gedagvaar kan word en ook uit hulle amp gesit kan word (Kruger 1966:442).