Artikel 26
Artikel 26: Die diakens moet ander liggame of instellings wat aan behoeftiges hulp verleen, versoek om met hulle oorleg te pleeg sodat die gawes des te beter uitgedeel kan word onder die wat die meeste gebrek het.
Jesus erken op aarde die Joodse tradisionele barmhartigheidsinstellings (Joh 12: 6) sowel as die Romeinse staatsbestel (Mt 22: 17-21). Die filosofie van Plato veroorsaak egter dat gedurende die Middeleeue ‘n teenstelling tussen kerk (genaderyk) en staat (natuurryk) posvat. Die teenstelling tussen genade en natuur werk ook deur by die Anabaptiste en Piëtisme. Hulle stel hulle godsdienstige kring en aktiwiteit radikaal teenoor die burgerlike, maatskaplike en politieke instellings op. Hulle “kerk” vorm ’n alternatiewe lewenskring teenoor natuurlike lewensverbande. Geen samewerking is tussen kerk en wêreld moontlik nie
Die Reformasie beklemtoon weer dat God soewerein is en mense in die burgerlike regering (owerhede) en in die regering deur sy Woord en Gees (kerklike dienaars) roep en gebruik Christus is Koning oor die hele wêreld. Ons kan natuurlike en geestelike regering onderskei, maar nie van mekaar skei nie (Calvyn Inst IV.20.i,ii). Die Here word gedien waar die verskillende dienaars gehoorsaam aan die Here saamwerk. Juis op die terrein waarop die diakens
|162|
beweeg, kom hulle met die natuurlike lewe en daarom ook in aanraking met buite-kerklike instellings wat ook nood wil lenig en liefdadigheid bewys. Hulle moet met mekaar tot eer van die Here kan saamwerk.
Die artikel ontstaan in die sinode van Den Haag 1586 toe publieke amptenare behoeftige gemeentelede in armsorg oor die hoof gesien het. Die artikel wou dus die openbare hulpverlening in verbinding met die diakens bring.
Toe die GKSA die Kerkorde in 1964 hersien, is die tipiese Nederlandse uitdrukkings soos “huiszittenmeesters of ander aalmoezeniers” vervang met “ander liggame of instellings wat aan behoeftiges hulp verleen”.
Staatsdepartemente lewer vandag op ’n wye terrein welsynswerk deur middel van pensioene, hospitalisasie, uitplasing van verwaarloosde kinders, subsidie aan private ondernemings wat sonder winsbejag tehuise vir bejaardes, alkoholiste, gevalle mense, jongmense, ensovoorts oprig. So ’n private of kerklike onderneming moet as welsynsorganisasie registreer en kry ’n bepaalde WO-nommer voordat hulle staatsfondse mag verkry of vir publieke fondse mag kollekteer. Hulle behou na registrasie hulle selfstandigheid. Diakens moet dus in bepaalde gevalle volgens die aard van die behoefte waarin hulle moet help, met departemente van die staatsdiens sowel as welsynsorganisasies rekening hou. Onderlinge oorlegpleging is in belang van wie daar help en wie gehelp moet word.
Die diakens moet egter nooit behoeftiges uit die gemeente heeltemal aan nie-kerklike welsynswerkers oorgee om geld of moeite te bespaar nie. Die oomblik wanneer die diakens hulle onttrek, verdwyn die verkondiging van Christus by die hulpverlening. Die Christelike handreiking moet altyd ’n eie karakter en boodskap dra wat totaal anders as saaklike en burokratiese hulpverlening is. Die diakens moet selfs waar staatshulp verleen word, gedurig die situasie monitor. Gereelde besoeke gee morele ondersteuning en verseker dat die hulp voldoende sal wees. Die meelewing van die gemeente en ekspertise (moontlik selfs regsadvies) van die diaken(s) troos, bemoedig en lei die persoon wat in nood verkeer en dikwels juis nie oor kundigheid beskik nie.
Die diakens mag nie hulle oorlegpleging beperk tot byvoorbeeld net tehuise wat deur sinodale deputate opgerig en bestuur word nie. Hulle roeping raak nie die tehuise of stigtings nie, maar is primêr op die mense wat daar versorg word, gerig. Ter wille van dié mense en die roeping wat Christus op sy gemeente lê, moet hulle met die besture van tehuise, stigtings en ondernemings oorleg pleeg en waar nodig kritiese insette lewer.
|163|
Christus lê die roeping tot barmhartigheid so omvattend dat dit nooit beperk mag word tot hulp binne die eie gemeente of eie “kerkverband” nie (vgl Lk 10; Mt 25: 34-46 Jk 2: 14-17). Wie barmhartigheidswerk versaaklik, haal die liefde en lewe daaruit. Om te sê dat die diakens eers met die kerkraad (hulle “baas”?) moet raadpleeg voordat na buite hulp verleen word (Van der Linde 1983:112) vind geen steun in die Skrif nie. Dié standpunt verabsoluteer die kerkraad as n “bestuur” oor die kerk. Diakens moet met inisiatief ordelik, verantwoordelik en selfstandig die gemeente na buite lei om die lang verwaarloosde roeping uit te voer en om Christus ook so te verkondig.
Die roeping tot diaken-wees met die oog op die gemeente gaan van Christus en nie van die kerk uit nie (vgl artt 2,3). Reeds In die 16de eeu kon die diakens selfstandig met nie-kerklike instellings in belang van hulle dienswerk onderhandel (art 26).
Christus gee die diakens in ’n selfstandige diens aan sy kerk met die oog op die gemeente (Ef 4: 11v). Ten spyte hiervan belet die GKSA ordelike interkerklike oorleg en samewerking tussen naburige diakonieë, selfs al sou dit onderhewig aan verslag in die klassisse geskied (GKSA 1976:25-45). Die standpunt is onbegryplik waar die alternatief van “diakonale konferensies” tereg afgewys is (GKSA 1970 186-188).
Die verbod op offisiële kontak en samewerking tussen diakonieë in klassikale verband steun nie op Skriftuurlike kerkreg nie (vgl 2 Kor 8, 9). Dit berus grotendeels op ’n horisontale kerkbegrip wat die diakens as ’n deel van die plaaslike kerkraad beskou (GKSA 1976:44 pte 3.2, 3.3). Dit fundeer die diakendiens nie in Christus nie, maar in die “kerk” as struktuur en kerkraad. Diakens word hulle roeping om in hulle diens te “regeer” ontneem. Gevolglik is dit dikwels die kerkraad wat doen wat art 26 aan die diakens opdra. Diakens word selfs aan sinodale deputate onderwerp (GKSA 1976 45 pt 3.5, 3.6), alhoewel dit in stryd met die Kerkorde is (vgl artt 30.49 en 84). Met soveel hindernisse verbaas dit nie dat die diakonale taak van die gemeentes nie van die grond kom nie.