67.1 In die lig van Romeine 13 erken die Kerk die staat as ’n dienaar van God tot ons beswil. Dit is God wat aan die staat die opdrag gegee het om die reg te handhaaf en die kwaaddoeners te straf.
67.2 Die Kerk erken dat die staatsowerheid wat deur sy fisiese swaardmag in beheer van ’n bepaalde staatsgebied is, deur God beskik is en as sodanig eerbiedig moet word. Die norm vir die Kerk se deelname aan die publieke regsverkeer en uitoefening van burgerlike regte is die Woord van God.
67.3 Christus is die Hoof van die kerk. Daarom beskou die Kerk sy reg op vryheid van godsdiens, wat sy Bybels-profetiese getuienis teenoor die staatsowerheid en die wêreld waarin hy staan, insluit, as onvervreembaar. In die uitoefening hiervan maak hy aanspraak op die regsbepaalde beskerming van die owerheid.
67.4 Die Kerk nader staatsowerhede op alle vlakke op ’n ordelike wyse. Hierdie skakeling word gedoen deur sy erkende kerkvergaderinge of die kommissies wat hulle daarvoor aanwys. Skakeling oor sake wat die Kerk in sy algemene sinodale verband raak, geskied deur die Algemene Sinode of sy betrokke kommissie. Skakeling sonder ’n opdrag van die Algemene Sinode geskied deur die betrokke kommissie in oorleg met die Algemene Sinodale Moderamen (vergelyk Artikel 43.1.3 van die Kerkorde en die voetnota).