Hoofstuk 4: Die arbeid van die kerk

4.1. Die openbare erediens

48.1 Die erediens is, onder die genadige werking van die Heilige Gees, die amptelike openbare samekoms van die gemeente tot ontmoeting met God en onderlinge gemeenskap van die heiliges onder leiding van die besondere ampte en deur die bediening van die Woord, die bediening van die heilige sakramente, die gebed, kerklied en dankoffers.

48.2 Die inrigting van die eredienste word deur die kerkraad vasgestel met gebruikmaking van die liturgiese grondlyne soos deur die Algemene Sinode vasgelê.

48.3 Die leiding van eredienste berus by een van die volgende persone:
48.3.1 die bedienaar van die Woord van die plaaslike gemeente, of in sy/haar afwesigheid:
48.3.2 die konsulent;
48.3.3 ’n ander bevoegde bedienaar van die Woord21 van gereformeerde belydenis wat deur die kerkraad daartoe uitgenooi is;
48.3.4 ’n student van ’n teologiese fakulteit van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (vergelyk Artikel 5.2 van die Kerkorde) wat, óf in ooreenstemming met die vereistes van die betrokke kuratorium en met toestemming van die kerkraad, deel van sy/haar praktiese opleiding in die gemeente ontvang, óf na voltooiing van sy/haar praktiese werk deur ’n kerkraad uitgenooi is;
48.3.5 ’n ouderling wat preekvergunning van die kerkraad en die ring ontvang het (vergelyk Artikels 3, 10 en 16.1.8 van die Kerkorde).

48.4 Prediking:
48.4.1 met die oog op die verkondiging van die volle raad van God moet die prediking deurgaans volle reg aan die kerklike jaar en die Belydenisskrifte laat geskied; en
48.4.2 die inhoud van die prediking moet steeds ’n verklaring en toepassing van die Heilige Skrif wees.

48.5 Die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls moet deurentyd sistematies in die prediking aan die orde gestel word.


21 Onder ’n bevoegde bedienaar van die Woord wat eredienste kan lei, word verstaan ’n persoon met ampsbevoegdheid in die NG Kerk of ’n ander kerk van gereformeerde belydenis. Wanneer ’n kerkraad aan ’n persoon wat nie sodanig bevoeg geag word nie ’n uitnodiging rig om ’n erediens te lei, word daar strydig met die Kerkorde gehandel (Vgl Handelinge Algemene Sinod 1998, bl 409, 1.19.2.2). Vergelyk die Reglement vir die Verhouding tot ander Kerke en Groepe.


Kerkorde NGKerk (2011)

 

TREFWOORDEN

Liturgie