Hoofstuk 2: Die ampte van die kerk

2.2. Die bedienaars van die Woord

7.1 ’n Bedienaar van die Woord vir ’n plaaslike gemeente word deur die kerkraad van die gemeente met goedkeuring van die gemeente en die ring, beroep. Voordat die beroepsbrief afgestuur word, moet
7.1.1 die goedkeuring van die gemeente deur afkondiging verkry word;
7.1.2 die ring of sy gevolmagtigde kommissie skriftelik bevestig dat daar aan al die kerklike vereistes vir die uitbring van die beroep voldoen is. Indien nie aan die vereistes voldoen is nie, word die beroep deur die ring of sy gevolmagtigde kommissie ongeldig verklaar.
7.1.3 besware teen ’n beroep of beroepene by die betrokke ring of ringskommissie ingedien word wat dit volgens die bepalinge van die betrokke sinodale gebied hanteer.

7.2 Bedienaars van die Woord in diens van die kerkverband (ring, sinode of Algemene Sinode [vir bevoegdheid vergelyk die Reglement vir die Reëling van die Bevoegdheid van Bedienaars van die Woord, Proponente en Emeriti, punte 2.3.1 en 2.3.2]) word deur die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde kommissie beroep. Voordat die beroepsbrief afgestuur word, moet
7.2.1 die goedkeuring van die kerkverband verkry word deur bekendmaking van die beroep in die Kerkbode en
7.2.2 die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie of sy gevolmagtigde skriftelik bevestig dat daar aan al die kerklike vereistes vir die uitbring van die beroep voldoen is. Indien nie aan die vereistes voldoen is nie, word die beroep deur die betrokke sinodale regs- /kerkordekommissie of sy gevolmagtigde na die kerkvergadering terugverwys vir regstelling, of, indien nodig, word die beroep ongeldig verklaar.

7.3 Die beroepsvergadering stel die beroepsbrief op.
7.3.1 'n Lid van die ringskommissie, wat nie lid van die betrokke gemeente is nie, adviseer die kerkraad.
7.3.2 In gevalle van beroepe deur die kerkverband, word die advies deur die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie of sy gevolmagtigde gegee.

7.4 Die beroepsbrief is die diensaanbod wat aan die hand van Artikel 9 van die Kerkorde die diensopdrag en na aanleiding van Artikel 13 van die Kerkorde die diensvoordele van die beroepene omskryf. In gevalle van beroepe deur die kerkverband, word die nodige aanpassings gemaak ten opsigte van die diensopdrag en diensvoordele.

7.5 Binne die raamwerk van die Kerkorde en die sinodale besluite van toepassing is die bepalings van die beroepsbrief onderhandelbaar by oorweging van die beroep6.

7.6 Na oorweging van die bepalings van die beroepsbrief en enige onderhandelinge daaromtrent, word die diensooreenkoms waarvolgens die bedienaar van die Woord in diens van die gemeente of die kerkverband gaan tree, finaal opgestel.

7.7 Die finale diensooreenkoms met ’n gemeenteleraar word deur die ring of sy gevolmagtigde kommissie en in geval van ’n bedienaar van die Woord in diens van die kerkverband deur die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie of sy gevolmagtigde goedgekeur. Hierna word die finale ooreenkoms deur beide partye onderteken en kan die bevestiging plaasvind met inagneming van die ander vereistes vir bevestiging (vergelyk Artikel 8 van die Kerkorde).

7.8 Hierdie diensooreenkoms kan van tyd tot tyd gewysig word met instemming van beide partye en skriftelike goedkeuring van die ring of sy gevolmagtigde kommissie in die geval van ’n gemeenteleraar, en die betrokke sinodale regs-/kerkordekommissie of sy gevolmagtigde in die geval van ’n leraar in diens van die kerkverband.


6 Vergelyk Funksionele Besluite: Bedienaar van die Woord: beroepsbrief en prosedures by beroeping.


Kerkorde NGKerk (2011)

 

TREFWOORDEN

Beroeping

VERWANT MET
Kerkorde GKN (1905) Art. 5
Kerkorde GKSA (2000) 5
Kerkorde GKv (1978) Art. 6
Kerkorde vGKN (2008) 6
Kerkorde VGKSA (2005) 6