Deur die loop van die studie is telkemale daarop gewys hoe
noodsaaklik dit vir die beoefening van die Gereformeerde kerkreg
is om die ratihabitio van artikel 31 KO kerkordelik korrek te
verwoord en ten volle en suiwer toe te pas.
Die bedoeling met hierdie kort slothoofstuk is om aan te wys hoe
die korrekte beskouing en toepassing van ratificatio behoort by
te dra tot die handhawing van die suiwer beginsels met betrekking
tot die Gereformeerde kerkregering. In die eerste plek sal
aangetoon word hoe die bewoording van artikel 31 KO behoort te
lui. Daarna sal enkele opmerkings oor die uitvoering van
ratificatio binne die konteks van ratihabitio gemaak word.
Uit die bestudering van die tans geldende kerkordes van die
verskillende Gereformeerde kerke wêreldwyd blyk dat daar deur die
meeste kerkverbande afgewyk is van die oorspronklike bewoording
van artikel 31 Dordtse Kerkorde (vergelyk 5.2.6.4 en 5.3.3.5),
wat op sy beurt ´n (verswakte) weergawe van artikel 23
Middelburgse Kerkorde 1581 is (vergelyk 2.1.2.1 en 5.2.2.2.5).
Dit is aangetoon dat die verwarring rondom die regte verstaan en
toepassing van ratificatio daar begin (vergelyk 5.2.6.4).
Die enigste manier hoe om aan hierdie verwarring te ontkom, is om
artikel 31 KO weer suiwer, ooreenkomstig artikel 23 van die
Middelburgse Kerkorde van 1581, te verwoord.
Op grond van die studieresultate (vergelyk 2.1.2.1 en 2.1.2.4.2)
word die volgende bewoording van artikel 31 KO voorgestel:
Besluite wat op ´n meerdere vergadering met meerderheid van
stemme geneem word, sal deur die kerkrade as geldig gehou (dit is
getoets, geldig verklaar, aanvaar en uitgevoer) word, tensy
aangetoon word dat dit in stryd met die Woord van God of teen die
artikels van die geldende kerkorde is. As iemand ´n klagte het
dat hy deur ´n besluit van ´n mindere vergadering verontreg word,
kan hy hom op ´n meerdere vergadering beroep.
Omdat daar in die studie nie op die reg van appèl ingegaan is
nie, kan die laaste sin van die voorgestelde bewoording moontlik
verder verfyn word.
Aan die hand van wat Boersma (1993:409, 410; 1994a:51) oor die
implementering van ratificatio gepubliseer het, word hiermee vir
die kerkrade ´n werkbare metode voorgelê:
Fase 1: Besluite bestudeer en toets
1. Wanneer die acta van die meerdere vergadering verskyn, word
dit deur ´n kommissie, bestaande uit twee of drie kerkraadslede
deurgegaan en in sinvolle onderdele verdeel.
· Sake waarvan die kerkraad slegs kennis kan neem, word onderskei
van sake wat so gou moontlik deur die kerkraad uitgevoer moet
word.
· Besluite oor spesifieke onderwerpe, soos korrespondensie met
buitelandse kerke of liturgiese aangeleenthede, word
saamgegroepeer.
· Die indeling kan taamlik maklik aan die hand van die
inhoudsopgawe van die acta gedoen word.
· Indien ´n kerkraadslid die betrokke meerdere vergadering as
afgevaardigde bygewoon het, sal dit profytlik wees om hom by
hierdie werk te betrek.
2. Aan die hand van die indeling van die “voorstudie-kommissie”
word die hele kerkraad in kommissies verdeel om die verskillende
onderdele te bestudeer.
· Elke kommissie is verantwoordelik vir die bestudering van ´n
spesifieke onderdeel wat aan hom toegewys is.
· As daar genoeg eksemplare van die acta beskikbaar is, kan
kommissies tegelykertyd werk. Dit sal die proses van ratifisering
aansienlik bespoedig.
· Dit staan ´n kommissie vry om gemeentelede by die studie te
betrek. Sodoende word die gemeente se nodige belangstelling vir
die werk van die meerdere vergaderings geprikkel.
3. Die kommissie se taak is die volgende:
· Die punt(e) uit die acta wat met die oog op bestudering aan hom
toegeken is, word in geheel gelees en kernagtig op skrif
saamgevat.
· Die besluit wat die meerdere vergadering met betrekking tot die
saak geneem het, word woordeliks weergegee.
· Die aanloop tot die besluit asook die besluit self wat die
meerdere vergadering geneem het, word aan die Skrif, belydenis en
kerkorde getoets om vas te stel of dit ten volle daarmee
ooreenstem.
· Die kommissie stel sy bevindings op skrif.
· Die studieresultate dien by wyse van ´n skriftelike rapport as
´n aanbeveling op die kerkraad.
4. Die rapporte en aanbevelings van die verskillende kommissies
word deur die kerkraad behandel.
· Die kerkraad neem indringend kennis van die sake waaroor die
meerdere vergadering besin het, soos wat dit kernagtig deur die
kommissie weergegee is.
· Genoegsame ruimte word vir kerkraadslede geskep om aan die
kommissie vrae te stel in geval iets uit die acta onduidelik is.
Sodoende kom die hele kerkraad op hoogte van hoe die meerdere
vergadering oor ´n spesifieke saak besin het en wat hulle daaroor
besluit het.
· Die kommissie se bevinding, nadat hulle die betrokke besluit
van die meerdere vergadering getoets het, dien vervolgens as
voorstel op die kerkraad.
· Met die bespreking van die voorstel toets die hele kerkraad die
besluit van die meerdere vergadering.
Fase 2: Besluite geldig verklaar en aanvaar
1. Na gelang van die toets, spreek die kerkraad een van twee uit:
òf hy verklaar die besluit van die meerdere vergadering geldig
(dit kom ooreen met die Skrif en die kerkorde), òf hy verklaar
dit ongeldig (dit kom nie ooreen met die Skrif en/of die kerkorde
nie).
· Hierdie geldig- of ongeldigverklaring moet genotuleer word.
· Indien bevind word dat ´n besluit ongeldig is, moet die bewyse
daarvoor noukeurig in die notule opgeneem word.
2. Indien die kerkraad ´n besluit geldig verklaar het, is die
volgende stap om dit as ´n eie besluit te aanvaar
(ratifiseer).
· Dit is moontlik om ratifisering saam met die geldigverklaring
op skrif te stel, deur byvoorbeeld te notuleer: “Die kerkraad
verklaar die besluit van die sinode insake .... (Acta, punt ...)
geldig en aanvaar dit as sy eie besluit”.
· Die bedoeling van die “aanvaarding” moet duidelik gestel word,
naamlik dat die kerkraad die besluit van die meerdere vergadering
nou welbewus as sy eie verklaar.
3. Indien die kerkraad ´n besluit ongeldig verklaar het, is die
volgende stap om die bewyse daarvoor aan die kerkverband bekend
te maak.
· Die bewyse vir die ongeldigverklaring, wat reeds genotuleer is,
moet in ´n beswaarskrif of - indien nodig - in ´n appèlskrif
geformuleer word.
· Die beswaar of appèl moet, uit gehoorsaamheid aan Christus en
liefde vir die kerkverband, so gou moontlik aan die depuate vir
korrespondensie met die oog op behandeling tydens die volgende
meerdere vergadering, gestuur word.
· Tot tyd en wyl die volgende meerdere vergadering gesit en
uitspraak oor die beswaar of appèl gegee het, is die skrywer(s)
daarvan (in hierdie geval die kerkraad), nòg de jure nòg de facto
aan die vermeende ongeldige besluit in geding gebind.
· In die interim-situasie wat as gevolg hiervan ontstaan, is die
kerkraad verplig om die bewyse vir ongeldigverklaring so spoedig
moontlik aan die betrokke meerdere vergadering voor te lê.
· Omdat dit hier oor gehoorsaamheid aan die Here en liefde vir
die medegelowiges gaan, behoort so-iets met voortdurende gebed
gepaard te gaan ten einde enige vorm van eiewilligheid en
independente optrede te voorkom.
Fase 3: Besluite uitvoer
Die besluit van die meerdere vergadering, wat intussen die
besluit van die kerkraad geword het, moet nou uitgevoer word.
· Sommige besluite kan nie in die plaaslike kerk toegepas word
nie, byvoorbeeld die meerdere vergadering se uitspraak oor ´n
appèlsaak in ´n ander gemeente, of opdragte wat die sinode
kragtens artikel 49 KO aan deputate gegee het. In so ´n geval
handel die kerkraad nie verder met die geldigverklaarde en
aanvaarde besluit nie.
· Sommige besluite kan nie direk uitgevoer word nie, maar moet in
gedagte gehou word, byvoorbeeld besluite oor korrespondensie met
buitelandse kerke. Dit sou goed wees as die kerkraad vir homself
´n register aanlê waarin sulke besluite opgeteken word, en waarna
maklik verwys kan word as dit nodig blyk te wees.
· Sommige besluite moet deur funksionarisse in die gemeente
uitgevoer word, byvoorbeeld die betaling van ramings en verpligte
kollektes. Hieraan moet direk aandag gegee word.
· Deur sommige besluite word die hele gemeente geraak,
byvoorbeeld kiesreg vir vroue. In so ´n geval moet die kerkraad,
nadat hy die besluit van die sinode getoets, geldig verklaar en
sy eie gemaak (geratifiseer) het, die gemeente so gou moontlik
oor sy besluit inlig. Die aangewese weg sou wees dat die kerkraad
´n gemeentevergadering belê en die saak diepgaande met die
gemeente bespreek. Sodoende kan die hele gemeente ook onder die
indruk van die korrektheid van die besluit kom en van harte
deelneem aan die uitvoering daarvan. Die gemeente leer tegelyk
insien dat die besluit nie maar net “´n sinodebesluit” is wat
teen wil en dank uitgevoer moet word nie, maar dat die betrokke
besluit hulle eie kerkraad s´n is, wat in die Naam van die Here
oor hulle moet regeer.
· Indien ´n lidmaat op grond van Gods Woord of die geldende
kerkorde aantoon dat ´n besluit ten onregte deur die kerkraad
geldig verklaar en aanvaar is, moet hy/sy die bewyse daarvoor aan
die kerkraad voorlê sodat die kerkraad sy besluit kan
heroorweeg.
Wanneer hierdie werkwyse met die hantering van besluite van
meerdere vergaderings gevolg word, word daar aan die “sal vir vas
en bindend hou” van artikel 31 KO voldoen (vergelyk 2.3).
P. Deddens (Schilder & Deddens, s.j.:51, 52) het in verband met
die Generale Sinode van die Gereformeerde Kerken in Nederland
1944 se veroordeling van ratificatio, asof dit ´n “vreemde en
ongereformeerde praktijk” sou wees, die volgende opmerking
gemaak:
Dat iemand de dingen niet weet, is niet erg.
Dat iemand de dingen niet weet en doet alsof hij ze wel weet, is
erg.
Dat iemand de dingen niet weet en een ander, die ze wel weet, op
hoogen toon onkunde en invoering van gevaarlijke nieuwigheden
verwijt, is nog erger.
Maar dat een Synode van Gereformeerde Kerken, die telkens wijst
op haar grooten ernst, haar breedvoerige besprekingen, haar
eenstemmigheid in het nemen van besluiten, dergelijke onware
beschuldigingen in een officieel Synode-stuk voor God en het
forum van het Gereformeerde volk aandurft tegenover iemand, die
en passant een juiste opmerking maakt, is het allerergst.
Men kan de goegemeente wel met groote woorden imponeeren, de
goegemeente, die gemakkelijk buigt voor synodale autoriteit.
Maar daarmee is de waarheid niet gediend.
En daarmee is de zaak des Heeren niet gediend.
In die lig hiervan word die bede uitgespreek dat hierdie studie
die oë opnuut sal oopmaak vir suiwer, Godvresende optrede in die
beoefening van die Gereformeerde kerkreg. Dit is: optrede
waardeur die Koningskap van Christus geheel en al eerbiedig word,
ook waar dit kom by die hantering van besluite van kerklike
vergaderings.