Die term ratifikasie (ratificatio) bestaan uit twee Latynse
woorde: ratum en facere. Die werkwoord facere beteken “maak,
berei, vervaardig, bou, voortbring, saamstel” (Postma, 1975:116).
Die adjektief ratum dra verskeie betekenisse, maar dui veral op
“eweredigheid, vasstaande, geldig, van krag, wettig” (Postma,
1975:267; Van Jaarsveld, 1971:14). Die samestelling ratum facere
kan letterlik vertaal word as “geldig maak”.
Regs- en ander woordeboeke gee die betekenis van ratum facere
deurgaans weer as “bevestig, bekragtig” (Black, 1979:1135; Bosman
et al., 1982:1579; Curzon, 1994:319; Dietl & Moss, 1979:626;
Reifferscheid et al., 1968:206).
Roeleveld (1987:24) en Black (1979:1135) haal ´n hofsaak aan
waarin ratificatio binne die nie-kerklike positiewe reg (in
hierdie studie genoem sekulêre reg) omskryf word as “the
affirmance by a person of a prior act which did not bind him but
which was professedly done on his account, whereby the act, as to
some or all persons, is given effect to as if originally
authorized by him”.
In die hedendaagse verteenwoordigingsreg dui die begrip
ratificatio sowel op die geldig maak van wéttig gemaakte
voorstelle deur afgevaardigdes, as op die geldig maak van
ónwettige, vernietigbare besluite wat afgevaardigdes geneem het
(Black, 1979:1135; Roeleveld, 1987:24). In die volkereg het dit
´n soortgelyke betekenis en toepassing: “Ratifikation bezeichnet
die Genehmigung zwischenstaatlicher Verträge. Diese werden zwar
stets von Bevollmächtigten geschlossen; bedürfen aber der
späteren Genehmigung durch das Staatsoberhaupt, bzw. das
Parlement” (Reifferscheid et al., 1968:206).
Hiemstra en Gonin (s.j.:275) beskryf ratihabitio as die
goedkeuring of bekragtiging van ´n eie regshandeling waaraan ´n
gebrek kleef, of die handeling van ´n ander - byvoorbeeld van ´n
lashebber of saakwaarnemer - wat buite sy opdrag of bevoegdheid
opgetree het.
Die Duitse regsgeleerde Sigerist gee in sy proefskrif die
volgende omskrywing van ratihabitio: “Ratum habere speziell ist
gleich firmum habere, confirmare, agnoscere, comprobare,
servendum esse, etwas für rechtsgiltig, rechtsbeständig
unanfechtbar halten, aufrecht erhalten, billigen...” (soos
aangehaal deur Van Jaarsveld, 1971:18).
In die “Handlexikon zu den Quellen des Römischen Rechts” van
Heumann-Seckell (soos aangehaal deur Van Jaarsveld, 1971:18) word
eweneens ´n verklaring van ratihabitio gegee: “...bezeichnet
ratum habere und ratihabitio die nachfolgende Gültigerklärung,
Genehmigung, Bekraftigung, sei es a) eines eigenen mangelhaften
Geschäfts; b) die nachträgliche Zustimmung zu einer fremden
Handlung...”.
Bostaande aanhalings maak dit duidelik dat ratihabitio en
ratificatio in die sekulêre reg oor die algemeen as sinonieme
beskou en hanteer word. Beide dui op die bekragtiging van ´n
voorafgaande daad of besluit. Derhalwe word ratificatio en
ratihabitio in verskeie regswoordeboeke as sinonieme aangedui
(Lewis & Short, 1969:1525; Black, 1979: 1135; Anon.,
1992:292).
Roeleveld (1987:24) wyk van die algemene beskouing oor
ratificatio en ratihabitio af. Hy is van mening dat die
uitdrukkings ratihabitio en ratum habere ´n ruimer betekenis as
ratificatio en ratum facere het. Ratificatio vorm volgens hom
deel van ratihabitio.
Dit blyk dat daar oor die verhouding tussen ratificatio en
ratihabitio in die sekulêre reg nie volkome eenstemmigheid
bestaan nie. Die meeste regsgeleerdes beskou die twee begrippe as
sinonieme. Een regskundige wie se bronne geraadpleeg is, beskou
ratificatio as deel van ratihabitio. Op dié verskil word in
hierdie verband nie verder ingegaan nie, aangesien dit buite die
bestek van ´n Gereformeerd-kerkregtelike studie val. Daar word
wel in die vervolg van die studie kerkregtelik met die onderskeie
verhoudingsmoontlikhede rekening gehou.
In sy proefskrif wat oor die leerstuk van ratifikasie in die
Suid-Afrikaanse verteenwoordigingsreg handel, gee S.R. van
Jaarsveld (1971) ´n insiggewende oorsig oor die ontwikkeling en
hantering van ratificatio in die gemene reg. Uit die proefskrif
asook uit ander studies oor die onderwerp word verskeie gegewens
aangehaal wat betrekking het op die regte verstaan van die
historiese belading van ratificatio en hoe dit as vakterm geyk
geraak het.
Die leerstuk van ratihabitio in die Romeinse reg is volgens Van
Jaarsveld (1971:2) reeds baie oud. Hy stel dat daar in die
Romeinse reg geen noemenswaardige verskil tussen ratihabitio en
ratificatio bestaan nie (Van Jaarsveld, 1971:14). In die Romeinse
regsgeskrifte het die wisselterme ratificatio en ratihabitio
verskillende betekenisse, waaronder: bekragtiging, bevestiging,
erkenning, latere wettiging of geldigverklaring (Van Jaarsveld,
1971:17). Die verskillende betekenisse is variante van die begrip
goedkeuring.
Van Jaarsveld (1971:24) merk verder op dat ratihabitio en
ratificatio onderskei word van die begrip confirmatio.
Laasgenoemde dui op die bevestiging van regshandelinge.
Ratihabitio en ratificatio dui in onderskeiding hiervan op
verlening van terugwerkende regskrag.
Ratificatio is op verskillende terreine van die Romeinse reg
toegepas. Met name in die verteenwoordigingsreg het dit die
betekenis van verlening van terugwerkende regskrag.
Binne die verteenwoordigingsreg beteken ratihabitio (of
ratificatio) dat ´n dominus die handeling van ´n procurator of
gestor, wat laasgenoemde sonder opdrag of toestemming namens hom
verrig het, bekragtig (Van Jaarsveld, 1971:26). Ratihabitio is
die latere verlening van ontbrekende toestemming of magtiging, ´n
eensydige daad van die kant van die dominus (Van Jaarsveld,
1971:26).
In die Romeinse reg het ratihabitio op een van twee maniere
plaasgevind:
· deur stilswye (indien ´n dominus ´n regshandeling verrig in
opvolging van regshandelinge wat reeds vroeër deur sy
verteenwoordiger verrig is, kan sy latere handeling die bedoeling
openbaar dat die voorafgaande handelinge van die verteenwoordiger
sy goedkeuring wegdra. As sulks konstitueer sy latere handelinge
´n daad van ratihabitio) (Van Jaarsveld, 1971:78);
· deur ´n goedkeurende uitspraak (Van Jaarsveld, 1971:77).
· Oor die tydstip van ratihabitio het daar geen twyfel bestaan
nie. Dit moet so gou moontlik na die verrigting van die
verteenwoordiger se handeling plaasvind (Van Jaarsveld,
1971:79).
· Die belangrikste enkele gevolg van ratihabitio is dat die
dominus volle verantwoordelikheid vir die regshandeling van die
gestor aanvaar asof dit van meet af aan sy eie regshandeling was.
Hy aanvaar derhalwe ook ten volle aanspreeklikheid vir die
gevolge wat die regshandeling mag meebring (Van Jaarsveld,
1971:81). Om hierdie rede beteken ratihabitio die verlening van
regskrag aan ´n voorafgaande handeling of besluit. Die verleende
regskrag is terugwerkend van aard en wel vanaf die moment waarop
die oorspronklike handeling deur die gestor verrig is (Van
Jaarsveld, 1971:82).
· In die Romeins-Hollandse reg het die begrip ratihabitio oor die
algemeen die betekenis van bekragtiging, bevestiging of
goedkeuring van handelinge (Van Jaarsveld, 1971:94). Die afdwing
van verpligtings wat uit ´n gestor se handelinge of besluite
voortvloei, kan afhanklik gemaak word van die plaasvind van
ratihabitio al dan nie (Van Jaarsveld, 1971:96).
· Ratihabitio in die Romeins-Hollandse reg geskied, net soos in
die Romeinse reg, deur ´n uitspraak van die dominus of deur sy
stilswye (Van Jaarsveld, 1971:114). Ratihabitio deur ´n uitspraak
geskied wanneer duidelike woorde te dien effekte deur die dominus
gebesig word (Van Jaarsveld, 1971:116). Stilswyende ratihabitio
geskied by wyse van ´n opvolgende goedkeurende handeling deur die
dominus. Byvoorbeeld: indien ´n vader sy seun se optrede nie
goedkeur nie, moet hy dadelik sy afkeur te kenne gee. As die
vader sou stilbly, word sy stilswye as goedkeuring aanvaar.
· Om aan te toon dat die begrip ratihabitio na 1581 - toe dit vir
die eerste keer in die Gereformeerde kerkreg opgeneem is
(vergelyk 2.1.2.1) - wesenlik onveranderd in die sekulêre reg
hanteer is, word enkele tersaaklike opmerkings in die verband
weergegee. Moontlike latere ontwikkelinge en verfynings van die
begrip in die gemene (en in die statutêre) reg kan vir die
toepassing daarvan in die Gereformeerde kerkreg eventueel gebruik
word.
· In die Hollandse reg van die sewentiende en agtiende eeu kom
die begrip “mandaat” saam met ratihabitio na vore (Van Jaarsveld,
1971:124). ´n Gestor ontvang volmag (mandaat) van die dominus om
namens hom sekere regshandelinge te verrig. Wanneer die gestor in
ooreenstemming met sy mandaat opgetree het, word dit deur die
dominus bekragtig (ratihabitio) (1971:24). Sodoende verleen die
dominus regsgeldigheid aan die handelinge van die gestor.
· Ook in die volkereg kom die begrip ratificatio voor. Besluite
van verskillende volks-verteenwoordigers is nie geldig alvorens
dit deur die betrokke state wat hulle verteenwoordig, bekragtig
(geratifiseer) is nie (Roeleveld, 1987:24).
In die Duitse reg word daar onderskei tussen gebrekkige
verteenwoordigingshandelinge ten aansien waarvan Genehmigung
(ratihabitio) toegepas kan word en enige ander soort gebrekkige
handeling ten aansien waarvan Bestätigung (confirmatio) aangewend
kan word om sodoende die gebrek aan te suiwer. Genehmigung
(ratihabitio) dui op die geldigmaking van ´n handeling wat sonder
volmag verrig is (Van Jaarsveld, 1971:143).
Gedurende die negentiende eeu is daar in die Duitse reg drie
teorieë ontwikkel om die verhouding tussen dominus en gestor te
bepaal, te wete die Repräsentations-theorie, die
Geschäftsherrn-theorie en die Vermittlungs-theorie. Die drie
teorieë kom hierin ooreen dat die handelinge van die gestor deur
die dominus geratifiseer moet word (Van Jaarsveld, 1971:238).
In die Duitse reg is dit moontlik dat ´n kontrak, wat deur ´n
gestor namens ´n dominus gesluit is, voor ratificatio geldig kan
wees. Dit is egter nie afdwingbaar solank dit nie geratifiseer is
nie (Van Jaarsveld, 1971:239).
In die Nederlandse en Franse reg word ratificatio aangedui met
die term bekragtiging. In besondere gevalle word ook gebruik
gemaak van die begrippe “bevestiging” en “goedkeuring” as
sinonieme van bekragtiging (Van Jaarsveld, 1971:190).
In die Suid-Afrikaanse reg word ratificatio - net soos in die ou
Romeinse reg - beskou as die uitdruklike of stilswyende
goedkeuring deur ´n dominus van òf ´n ongemagtigde
verteenwoordigingshandeling òf ´n regshandeling wat die perke van
die verleende volmag oorskry het, wat namens hom verrig is. Deur
ratificatio word sodanige handeling met volle regskrag,
terugwerkend vanaf die oomblik wat dit plaasgevind het, beklee
(Van Jaarsveld, 1971:349).
In die Engelse reg beteken ratificatio eweneens dieselfde as in
die ou Romeinse reg, naamlik die goedkeuring van ´n ongemagtigde
verteenwoordigingshandeling deur ´n dominus (Van Jaarsveld,
1971:335). Die gevolg van ratificatio is dat ´n aanvanklik
nie-geldige handeling ten volle regsgeldig word, asof magtiging
daartoe aanvanklik verleen is.
Met betrekking tot die verhouding tussen dominus en gestor
onderskei die Engelse reg twee moontlikhede (Van Jaarsveld,
1971:335):
· Die gestor tree as spreekbuis van die dominus op. Die dominus
word as handelende party beskou wanneer daar met ´n derde
gekontrakteer word.
· Die gestor tree selfstandig namens die dominus op. Die gestor
bereik ´n wilsooreenstemming met die party met wie hy ten behoewe
van die dominus kontrakteer.
Samevattend kan die volgende met betrekking tot ratificatio in
die sekulêre reg gestel word:
· In die gemene reg bestaan daar volgens die meeste kundiges geen
verskil tussen ratificatio en ratihabitio nie. Dit word as
sinonieme terme beskou en gebruik. Onder die skrywers wat
geraadpleeg is, is daar slegs een wat ratificatio as ´n onderdeel
van ratihabitio beskou.
· Ratihabitio (of te wel ratificatio) is in die gemene reg ´n ou
leerstuk, wat prominent in die verteenwoordigingsreg voorkom.
· Ratihabitio in die verteenwoordigingsreg het met die
bekragtiging van ´n verteenwoordiger se regshandelinge deur ´n
dominus te doen.
· Ratihabitio in die verteenwoordigingsreg beteken dat ´n
regshandeling van ´n verteenwoordiger by nabaat bekragtig en
sodoende geldig (ratum) gemaak (facere) word. In ´n uiterste
geval kan dit ´n nie-geldige handeling van ´n verteenwoordiger
geldig maak.
· Dit is moontlik dat ´n kontrak, wat deur ´n gestor namens ´n
dominus gesluit is, voor ratificatio reeds geldig kan wees. Die
geldige kontrak is egter nie afdwingbaar alvorens dit nie
geratifiseer is nie.
· Die verhouding en onderlinge ooreenkoms wat tussen ´n dominus
en sy verteenwoordiger bestaan, is grondliggend vir die hantering
en toepassing van ratihabitio.
· Ratihabitio is ´n handeling van die dominus, waarop hy as
lasgewer volle reg het.
· Ratihabitio geskied by wyse van stilswyende aanvaarding of
goedkeuring deur ´n uitspraak.
· Ratihabitio moet so gou moontlik na die regshandeling(e) van
die verteenwoordiger (gestor) geskied.
· Die effek van ratihabitio is dat ´n regshandeling van ´n
verteenwoordiger regskrag verkry vanaf die oomblik dat dit
plaasgevind het (met terugwerkende krag).
· Sonder ratihabitio ontbreek die regsgeldigheid aan die
regshandeling van die verteenwoordiger. Dit beteken dat die
dominus nie daardeur gebind word nie.
Ratihabitio, wat in die sekulêre reg oor die algemeen as ´n
sinoniem van ratificatio beskou word (vergelyk 2.1.1.2), is ´n
term wat vir die eerste keer formeel deur die Nasionale Sinode
Middelburg 1581 in die woordeskat van die Gereformeerde kerkreg
opgeneem is. Sedert 1581 kom die term ratihabitio in die kerkorde
van die Gereformeerde kerke voor.
Die Latynse bewoording van artikel 23 van die Middelburgse
Kerkorde lui soos volg (Rutgers, 1889:384):
Si quis minoris conventus sententia se gravari queretur, ad
superiorem erit provocatio. Quod vero plurium suffragiis erit
probatum, id ratum habebitur, nisi verbo Dei, aut etiam articulis
a Synodo generali constitutis, donec alia Synodo generali
mutentur, adversari ostendatur.
Kersten (1961:127) gee ´n modern Nederlandse vertaling van die
artikel:
Zo iemand zich beklaagt door de uitspraak der mindere vergadering
verongelijkt te zijn, die zal hetzelve tot een meerdere beroepen
mogen. En hetgeen, dat bij de meeste stemmen goedgevonden is, zal
voor vast en bondig gehouden worden, tenzij dat het bewezen worde
te strijden tegen het Woord Gods, of tegen de artikelen in onze
Generale Synode besloten, zolang dezelve door geen andere
Generale Synode veranderd zijn.
Die Latynse teks kan soos volg in Afrikaanse weergegee word:
As iemand ´n klagte het dat hy deur ´n besluit van ´n mindere
vergadering verontreg word, sal beroep (moontlik) wees op ´n
meerdere (vergadering). Wat deur die stemme van ´n meerderheid
goedgekeur sal word, sal as geldig gehou word, tensy aangetoon
word dat dit teen die Woord van God of ook teen die artikels wat
deur ´n generale sinode bepaal is, ingaan, totdat dit gewysig
word deur ´n ander generale sinode.
Artikel 23 van die 1581 Kerkorde bevat twee sinne. Die twee sinne
vat twee afsonderlike artikels uit die Kerkorde wat deur die
Sinode te Dordrecht in 1578 opgestel is, saam. Die betrokke twee
artikels uit die Kerkorde van 1578 is:
· Artikel 19 (hoofstuk 2, artikel 4): “Zoo iemant hem beklaagt,
dat hy door het oordeel der mindere Verzamelingen bezwaart is,
die zal zyn zaake voor een meerdere mogen betrekken” (Hooijer,
1865:148).
· Artikel 23 (hoofstuk 2, artikel 8): “In allen zaken (altyd
uitgenomen van welke wy een uitgedrukt Woord Gods hebben) als de
stemmen naarstelyk gewogen zyn, zal men blyven by’t advis der
meeste stemmen, om daarna te besluiten, ‘t welke een ieder
schuldig zal zyn na te komen” (Hooijer, 1865:149).
Oor die eerste sin van artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde
insake die reg tot appèl, wat ooreenkom met artikel 19 van die
Dordtse Kerkorde 1578, word nie nou verder gehandel nie,
aangesien dit buite die direkte skopus van hierdie studie val.
Die bewoording van die tweede sin van artikel 23 uit die
Middelburgse Kerkorde van 1581, asook die hele artikel 23 van die
Dordtse Kerkorde van 1578 is relevant.
Tussen laasgenoemde twee artikels kan, wat die inhoud betref,
hoofsaaklik drie verskille aangetoon word.
In die eerste plek merk Jansen (1923:146) op dat die spesifieke
terminologie “uitgedrukte Woord Gods” van 1578 in 1581 vervang is
met ´n meer algemene term: “Woord Gods”. Die rede hiervoor is dat
talle besluite van ´n kerklike vergadering nie op grond van ´n
bepaalde teks nie, maar op grond van ´n Skrifbeginsel geneem
word. Die toevoeging “of tegen de artikelen in onze Generale
Synode besloten, zolang dezelve door geen andere Generale Synode
veranderd zijn” was noodsaaklik om die kerklike en konfessionele
onverskilligheid van manne soos Coolhaes hok te slaan (Kamphuis,
1970:55). Sonder om die kerkorde op dieselfde vlak as Gods Woord
te stel, word wel beklemtoon dat die orde wat die kerke onderling
aanvaar het, bindend vir die kerklike lewe is, ook wat die
besluitnemingsproses betref.
Hierdie verskil in bewoording is nie wesenlik nie. Beide artikels
bring een en dieselfde skriftuurlike eis onder woorde. Die
beginsel van 1578 het nie weggeval nie, dit is in 1581 slegs
noukeuriger omskryf (Kamphuis, 1970:53).
Die tweede verskilpunt raak die uitdrukkings “als de stemmen
naarstelyk gewogen zyn, zal men blyven by’t advis der meeste
stemmen” en “om daarna te besluiten, ‘t welke een ieder schuldig
zal zyn na te komen” uit die 1578 Kerkorde. Die advies van die
meeste stemme en die daaropvolgende finale besluitneming waarvan
1578 melding maak, herinner aan die destydse gebruik van dubbel
stemming (Deddens, 1946:11). Sedert 1581 word met een stemming
volstaan.
Hierdie verskilpunt val buite die raamwerk van die studie en bly
derhalwe verder buite beskouing.
Die derde verandering wat in die redaksie van 1581 aangebring is,
is die sinsnede “zal voor vast en bondig gehouden worden”. Dit
vervang die “schuldig zal zyn na te komen” van 1578. Die
verandering raak die term ratihabitio (voor vast en bondig
houden), wat hier vir die eerste keer in die Gereformeerde
kerkorde voorkom.
· In die volgende paragraaf (2.1.2.2) sal ondersoek gedoen word
na die herkoms van die term ratihabitio in die Gereformeerde
kerkreg. In ´n daaropvolgende paragraaf (2.1.2.3) sal vasgestel
word wat die redes vir die invoering van die term was. Daarna sal
die betekenis van die terme ratihabitio (2.1.2.4) en ratificatio
(2.1.2.5) in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering
sedert 1581 vasgestel word, en wat die verhouding tussen
ratihabitio en ratificatio in die Gereformeerde kerkreg van die
sestiende eeu was (2.1.2.6). Op grond van die verskillende
bevindings sal uitgemaak kan word of die opname van ratihabitio
in artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde ´n kerkregtelike
Fremdkörper ten opsigte van die vorige kerkordes was, al dan nie
(2.1.2.7).
Die eerste vraag wat beantwoord moet word, is waar die saak van ratihabitio vandaan kom. Ten einde die vraag te beantwoord, word ´n kort ondersoek ingestel na die werk van die reformatore, die Gereformeerde belydenisskrifte en die praktyk van kerkregering van die sestiende eeu tot die jaar 1581 in soverre dit op die onderwerp betrekking het.
2.1.2.2.1.1 Ratihabitio by Luther en Calvyn
· Die eerste spore van ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg
word teruggevind by die reformatore van die sestiende eeu. Die
bespreking van die reformatore se gedagtes in hierdie verband
word beperk tot dié van Luther en Calvyn, aangesien hulle werk
beduidende rigting gegee het aan die Gereformeerd-kerkregtelike
ontwikkeling sedert die eerste helfte van die sestiende eeu.
· Luther (1483-1546)
· Maarten Luther se denke en optrede maak onder andere die weg
oop vir ontwikkeling van kerkreg op die ou skriftuurlike
grondslag (Van der Walt, 1976:100). Luther (1523b:225) het ´n
afkeer van die rigoristiese en hiërargiese Roomse kanonieke reg
gehad, alhoewel hy tog die invloed van die owerheid op die
regering van die kerk toegelaat het (cuius regio, eius religio)
(Van der Walt, 1976:104).
· Enkele insidente uit sy lewensverhaal is tekenend van die wyse
waarop Luther sy afkeer van die hiërargiese stelsel van
kerkregering te kenne gegee het.
· In 1519 raak hy in ´n twisgesprek tussen sy kollega Karlstadt
en Johann van Eck betrokke (Lindsay, 1963:237-239; d’Assonville,
1992:104). Die gesprek handel oor die gesag van konsilies en die
primaat van die pous (Luther, 1520a:130). Van Eck verdedig die
Roomse standpunt dat die besluite van ´n konsilie wat wettig
byeen is, aanvaar moet word, aangesien Christus met sy kerk bly
tot aan die einde van die wêreld. Luther stel daarteenoor dat die
biskop van Rome ´n feilbare mens is en konsilies eweneens uit
mense met gebreke bestaan. Hy beroep hom op die reël van 1
Tessalonisense 5:21 - “Beproef alle dinge; behou die goeie” - en
betoog dat pouslike uitsprake of besluite van konsilies nie bo
daardie reël verhef mag word nie. Hy beroep hom ook op die
uitspraak van Augustinus wat stel dat alle skrywers geoordeel
moet word deur die Goddelike Skrif wat die grootste gesag het
(Borchardt, 1988:330). Op grond van Johannes 10:4, 5 en 14 stel
hy (1523b:225) dat die gemeente as skape van die hemelse Herder
“das Recht hat, die Lehre zu beurteilen. Bischof, Papst, Gelehrte
und jedermann hat Macht, zu lehren: aber die Schafe sollen
urteilen, ob sie Christi Stimme oder der Fremden Stimme lehren”.
Die slotsom waartoe Luther kom, is eenvoudig maar skerp:
konsilies kan dwaal en die pous besit geen primaat van Christus
nie (Van der Walt, 1976:101; Borchardt, 1988:326). Die gelowige,
kragtens sy algemene priesterskap, moet aan die hand van die
Bybel standpunt inneem en stel. Daardie standpunt mag alleen in
die lig van die Skrif beoordeel word (Kuyper, 1936:3).
· In 1520 word Luther se “rewolusionêre” siening oor die mag van
die pous indringend getoets. Die pous dreig hom met die banvloek
(Lindsay, 1963:247). Luther moet binne sestig dae sy standpunte
herroep. Boonop moet al sy boeke verbrand word (d’Assonville,
1992:104). Uiteindelik word hy verban. Uit sy reaksie op die
verbanning blyk Luther se reformatoriese siening op die
hiërargiese aanmatiging van gesag deur ampsdraers. Met opgaaf van
redes verbrand hy die pouslike banbul en al die pouslike dekrete
(Luther, 1520b:198-203; Lindsay, 1963:251).
· ´n Jaar later, in 1521, word hy gedaag om voor die keiser in
Worms te verskyn (Lindsay, 1963:252; d’Assonville, 1992:105).
Weereens weier hy om sy standpunte te herroep, wat tot gevolg het
dat - benewens die kerklike ban - ook die ryksban oor hom en sy
volgelinge uitgespreek word. In alles wat hy doen, laat Luther
(1523a:205-223) gehoorsaamheid aan God swaarder weeg as
gehoorsaamheid aan mense (Handelinge 4:19, 5:29). Hy handhaaf die
gesag van die Skrif in die beoordeling van kerklike besluite.
Besluite van ampsdraers, kerklik sowel as nie-kerklik, wat teen
die uitsprake van die Skrif ingaan, het vir Luther geen bindende
krag nie.
· Calvyn (1509-1564)
· Calvyn se gedagtes oor die ware Christokrasie in die kerk,
asook die mag van kerklike vergaderings en die regsgeldigheid van
hulle besluite, sluit by dié van Luther aan. Dit word net in ´n
heelwat breër raamwerk en fyner besonderhede gestel. Calvyn se
standpunte wat op die ratihabitio van kerklike besluite
betrekking het, word duidelik in die vierde boek van sy
Institusie weerspieël (1559a:163-235; 1559b:1430-1500).
· Calvyn stel as allesbeheersende uitgangspunt dat Christus
alleen die Hoof en Hoeksteen van die kerk is (IV, 2, i; IV, 3, i;
IV, 6, viii-x). Hierdie belydenis is bepalend vir sy omskrywing
van die doel van die kerklike mag, naamlik dat dit sal dien tot
opbou en nie tot afbreking van die kerk nie (IV, 8, i).
Ampsdraers mag nooit méér as dienaars van Christus wees nie.
Dienaars moet alles in hulle vermoë doen om “vir Christus sy
gesag te bewaar” (IV, 8, i). Christus, as die enigste Meester van
sy kerk, moet as enigste Koning erken word. Die kerk moet deur
een wet regeer word: “die wet van vryheid, naamlik die heilige
Woord van die evangelie” (IV, 10, i).
· Die gesag wat Christus oor sy kerk voer, dra Hy nie aan mense
oor nie, maar “verleen Hy ten volle aan die amp waarin Hy die
mense stel” (IV, 8, ii). Om dit korter te stel: die Woord wat
bedien moet word, het gesag. Ampsdraers kan op geen ander gesag
aanspraak maak buiten die gesag wat hulle kragtens die Woord
ontvang nie (IV, 8, ii). Die mag van die ampsdraers is dus nie
onbegrens nie. Inteendeel, “dit is aan die Here se Woord
ondergeskik en as’t ware daarin ingesluit” (IV, 8, iv). Die kerk
mag aan geen ander diensbaarheid onderwerp en deur geen ander
bande vasgesnoer word, as die diensbaarheid aan en die bande van
Christus nie (IV, 10, i). Bowendien doen Christus geen afstand
van sy gesag as Hy dit deur ampsdraers laat bedien nie. Dit is
dan ook die reg van Christus dat Hy die Voorsitter van alle
konsilies is. Christus ís Voorsitter “wanneer die hele
vergadering deur sy Woord en Gees regeer word” (IV, 9, i).
· In die lig hiervan beoordeel Calvyn Rome se aanspraak op die
onfeilbaarheid van hulle konsilies. Hy bevraagteken die Roomse
pretensie dat dit wat die konsilie goedkeur ook “sonder enige
twyfel”, dit wil sê ongetoets, deur die lidmate aanvaar moet
word; en dat, indien die konsilies iets verdoem, dit ook sonder
enige toetsing deur die lidmate as verdoem beskou moet word (IV,
8, x). In sy kommentaar op Handelinge 15:28 spreek Calvyn
(1977:149-150) hom soos volg oor die gesagsaanmatiging van Rome
uit: “Hoe dwaas zijn dus de papisten, die uit deze woorden (want
die Heilige Gees en ons het besluit - GJM) willen bewijzen, dat
er bij de kerk eenig eigen gezag berust; ja zij zijn met
zichzelven in openlijken strijd. Want onder welk voorwendsel
kunnen zij beweren, dat de kerk niet dwalen kan dan dat zij
onmiddellijk door den Heiligen Geest bestuurd wordt? Daarom
beroemen zij zich met grooten mond dat het ingevingen des Geestes
zijn, wat wij beweren dat hunne uitvindsels zijn. Trotschelijk
leggen zij daarom al den nadruk op het partikel: het heeft ons
goedgedacht. Want indien de Apostelen iets besloten hebben, los
van den Heiligen Geest, valt terstond hunne eerste grondstelling,
dat de concilien niet besluiten, dan wat hun door den Heiligen
Geest ingegeven is”.
· Met bogenoemde bevraagtekening van Rome se Skrifverklaring wil
Calvyn geen wanorde in die kerk van Christus skep nie. Hy stel
uitdruklik dat dit iemand nie vrystaan om na eie goeddunke
besluite van konsilies aan te neem of “´n streep deur hulle te
trek” nie (Institusie, IV, 9, viii). Wat wél moet gebeur, is dat
konsiliebesluite sorgvuldig geweeg en volgens die reël van die
Skrif ondersoek moet word. Die besluit van die konsilie moet as’t
ware ´n “voorlopige” (1559a:187), ´n “voorwaardelike”
(1559b:1454) oordeel wees; die ondersoek van die besluit mag nie
verhinder word nie (IV, 9, viii). “Op die weegskaal van die
Woord” moet alle menslike wette geweeg word, sodat daar nie
gedwaal word nie (IV, 10, viii).
· Na aanleiding hiervan kom Borchardt (1988:333) tot ´n slotsom:
“Almal moet steeds bewus wees van hul swakheid en daarom
noukeurig binne die perke van Gods Woord hou. Want almal bely
saam met Paulus dat hulle nog nie die eindpunt bereik het nie
(Filippense 3:12)”.
· ´n Ander beginsel wat eksplisiet deur Calvyn beklemtoon word,
is die selfstandigheid van die plaaslike kerk (d’Assonville,
1992:119). Teenoor die hiërargiese stelsel van Rome formuleer
Calvyn ooreenkomstig die Skrif die beginsel dat die ampte in die
plaaslike kerk moet funksioneer tot opbou van die liggaam van
Christus (IV, 3-6). Op grond van Romeine 12:8 stel Calvyn dat
“elke kerk van die begin af sy eie vergadering gehad het” wat
“oor die regsbevoegdheid beskik het om oortredings in die
gemeente reg te stel” (IV, 3, viii; IV, 4, vi).
· Bucer (1491-1551), kerkhervormer van Straatsburg, ondersteun
Calvyn in hierdie opsig. Bucer bepleit kerkreg as reg van die
gemeente, pastorale reg. “Elke willekeurige kerk van Christus
heeft de totale Christus, en met Hem alles wat door de Vader ons
met Hem geschonken is. Daarin ligt de bron van het kerkelijk
recht en van het kerkelijk gezag” (Van’t Spijker, 1972:25).
· In teenstelling met Luther toon Calvyn aan dat die regering van
die kerk en die regering van die burgerlike owerheid in beginsel
onderskei moet word (III, 19, xv). Die burgerlike owerhede mag
hulle nie inmeng met die regering van die kerk nie, en die kerk
mag sy regering nie aan die burgerlike owerhede toevertrou nie.
Samevatting
Luther en Calvyn het, wat die kerkreg betref, op sekere punte van
mekaar verskil. Hulle uiteenlopende gedagtes oor die taak van die
burgerlike owerheid ten opsigte van die kerk loop selfs op
verskillende kerkregeringstelsels uit. Tog vul hulle mekaar oor
die onderwerp in bespreking aan en stem hulle op bepaalde punte
wesenlik ooreen.
Die verskillende gedagtes van die reformatore kan samevattend
soos volg weergegee word:
· Christus is die enigste Koning van sy kerk.
· Die kerk van Christus word plaaslik vergader en regeer.
· Die plaaslike kerk is selfstandig en smelt nie saam met ander
plaaslike kerke in ´n groter kerkformasie op, wat - soos by Rome
- finale gesag uitoefen nie.
· Christus laat sy gesag in die plaaslike kerke deur ampsdraers
bedien.
· Ampsdraers in die plaaslike kerk word deur Christus geroep en
verantwoordelik gehou vir die regering van die kerk.
· Ampsdraers staan in diens van Christus en het in onderdanigheid
aan Hom gesag.
· In soverre ampsdraers in diens van Christus staan, tree hulle
met gesag op en is hulle besluite bindend.
· Buite hulle diens aan Christus in onderwerping aan sy Woord het
ampsdraers geen gesag nie.
· Plaaslike kerke, wat in meerdere kerklike vergaderings
byeenkom, is bevoeg om - ooreenkomstig die Woord van God -
besluite te neem.
· Mense met gebreke kom in kerklike vergaderings byeen. Daarom
moet al hulle besluite ooreenkomstig die reël van 1
Tessalonisense 5:21 aan die norm van die Woord getoets word.
· ´n Besluit van ´n meerdere kerklike vergadering is as’t ware ´n
voorlopige oordeel, wat aan die Woord getoets moet word.
· Besluite wat die toets van die Woord nie kan deurstaan nie, is
ongeldig en nie bindend nie: gehoorsaamheid aan God weeg altyd
swaarder as gehoorsaamheid aan mense (Handelinge 4:19, 5:29).
· Dit staan niemand vry om na eie goeddunke besluite van kerklike
vergaderings te aanvaar of te verwerp nie, want sodoende sou
hulle die eenheid van die kerk aantas.
2.1.2.2.1.2 Ratihabitio in die Gereformeerde belydenisskrifte
· Die skriftuurlike basis van die kerkregering, wat deur die
reformatore opnuut ontdek en verkondig is, is met verloop van
jare deur die Gereformeerde kerke in hulle belydenisskrifte
veranker. Veral die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), wat deur
Guido de Brès in 1561 opgestel en in 1571 as belydenisskrif deur
die Gereformeerde kerke aanvaar is (Noordzij, 1994:17, 18), is ´n
duidelike weerspieëling van die reformatore se
Gereformeerd-kerkregtelike denke.
· Dat Christus die enigste Koning van sy kerk is, is die
allesbeheersende beginsel van artikels 27 tot 32 van die NGB. In
artikel 27 NGB word bely dat Christus ´n “ewige Koning” is. In
artikel 29 NGB word Jesus Christus as die “enigste Hoof” van die
kerk erken. Artikel 31 NGB sluit daarby aan deur na Christus as
die “enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk”
te verwys. In artikel 32 NGB word Christus die “enigste Meester”
van die kerk genoem. Die verskillende artikels beklemtoon twee
Skrifbeginsels: dat Christus Kóning van sy kerk is, en dat Hy
alléén Koning van sy kerk is.
· Dat die kerk van Christus plaaslik vergader word en dat die
plaaslike kerk selfstandig is en nie saam met ander plaaslike
kerke in ´n groter, meer gesaghebbende kerkformasie opsmelt (soos
by Rome die geval is) nie, word bely in artikels 27 tot 29 NGB.
In artikel 27 NGB word bely dat die kerk van Christus “nie
gebonde is aan of bepaal is tot ´n sekere plek of persone nie,
maar dat dit oor die hele wêreld versprei en verstrooi” is.
Hieruit volg dat die algemene Christelike kerk op verskillende
plekke (dit is: plaaslik) dwarsoor die wêreld deur Christus
vergader word (vergelyk Schilder, 1977:87; Van Bruggen,
1980:134). Die plaaslikheid van die kerk word verder bely in
artikel 28 NGB: “Almal is verplig om by die ware kerk aan te
sluit en hulle daarmee te verenig”. Alhoewel die term “plaaslike
kerk” nie in artikel 28 NGB voorkom nie, word dit as
vanselfsprekend veronderstel, aangesien dit nie moontlik is om as
lede by ´n onsigbare, nie-plaaslike liggaam aan te sluit en
daarmee te verenig nie (vergelyk Schilder, 1977:91; Van Bruggen,
1980:142). Net so vooronderstel artikel 29 NGB dat Christus sy
kerk plaaslik vergader. Die Woord, sakramente en tug word bedien
waar die gelowiges hulle ooreenkomstig die bevel van Christus op
´n bepaalde plek (artikel 27 NGB) onder toesig van sy ampsdraers
(artikel 30 NGB) aansluit en verenig (artikel 28 NGB).
· Die bediening van Christus se koningskap in die plaaslike kerke
deur ampsdraers en die taak van die ampsdraers om in die Naam van
Christus oor die kerk te regeer, kom na vore in artikel 30 NGB.
Die ware kerk “moet ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse”
regeer word. “Daar moet naamlik dienaars, ouderlinge en diakens
wees ... om die kerkraad te vorm.”
· Die verhouding tussen ampsdraers en Christus (die enigste
Gesaghebber), asook die verhouding tussen ampsdraers onderling
word in artikel 31 NGB bely. Bedienaars van die Woord (en in
gelyke mate alle ander ampsdraers) het almal “een en dieselfde
mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus
is”.
· In soverre ampsdraers in diens van Christus staan, tree hulle
met gesag op. Elke lidmaat moet “vir die bedienaars van die Woord
en die ouderlinge van die kerk besondere agting hê ter wille van
die werk wat hulle doen” (artikel 31 NGB).
· Dit staan iemand nie vry om na eie goeddunke besluite van
ampsdraers (en ook kerklike vergaderings) te aanvaar of te
verwerp nie. Dit “wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en
te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou,
moet aanvaar word” (artikel 32 NGB).
· Buite hulle diens aan Christus, in onderwerping aan sy Woord,
het ampsdraers egter geen gesag nie. Inteendeel, “alle menslike
versinsels en alle wette wat mense wil invoer om die gewetens
daardeur te bind en te dwing, moet verwerp word” (artikel 32
NGB).
· Besluite van kerklike vergaderings wat die toets van die Woord
nie kan deurstaan nie, is ongeldig en nie bindend nie. Geen
geskrifte van mense of besluite van kerkvergaderings mag met die
waarheid (Woord) van God gelykgestel word nie, want die waarheid
is bo alles (artikel 7 NGB). Vraag en antwoord 54 van die
Heidelbergse Kategismus (HK) lê eweneens besondere klem op die
heerskappy van Gods Woord in die kerk: die Seun van God vergader,
beskerm en onderhou sy kerk “deur sy Gees en Woord”.
Dienooreenkomstig word in die “Besluit” van die Dordtse Leerreëls
gestel dat bedienaars van die Woord “hulle moet weerhou van alle
uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van
die Heilige Skrif oorskry. Sulke uitsprake kan aan die
skaamtelose dwaalleraars ´n gegronde rede gee om die leer van die
Gereformeerde Kerke sleg te maak of te belaster”. Alhoewel die
Dordtse Leerreëls etlike jare na 1581 opgestel is, is dit
duidelik dat die beginsel wat daarin uitgespreek word, dieselfde
is as dié in die ander twee belydenisskrifte.
· Burgerlike owerhede mag nie met die regering van die kerk
inmeng nie, ook nie met die kerk se besluitnemingsproses nie.
Alhoewel dit die taak van die owerhede is “om die heilige
Woordbediening te beskerm” (artikel 36 NGB), is dit die taak van
die ampsdraers in die plaaslike kerk om die kerk te regeer
(artikel 30 NGB) en om sodoende die ryk van die antichris te
vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder
(artikel 36 NGB). Oor die vraagstuk of die kerke in artikel 36
NGB nie juis bely dat owerhede afgodery en valse godsdiens moet
teengaan en uitroei nie (vergelyk Polman, s.j.b.:290-306), het
die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
in 1979 na aanleiding van ´n beswaarskrif (GKSA, 1973:191-193)
die korrekte bedoeling van die artikel bevestig (GKSA, 1979:478).
Die Franse teks van die NGB maak dit duidelik dat dit die
owerhede se taak is om die heilige Woordbediening (die kerk) te
beskerm, sódat (Frans: pour) die kerk deur die Woordbediening
alle afgodery en valse godsdiens sal kan teengaan en uitroei.
Ratihabitio in die Gereformeerde belydenisskrifte kan kortliks
soos volg saamgevat word:
· Christus alleen is Koning van sy kerk. Aan sy alleen-heerskappy
is en moet alles in die kerk onderwerp word.
· Die kerk word deur Christus plaaslik vergader en regeer.
· Besluite van kerklike vergaderings wat eendrag en eenheid in
die waarheid bevorder, moet aanvaar en in gehoorsaamheid aan God
onderhou word.
· Besluite wat nie eendrag en eenheid in die waarheid bevorder
nie (dit wil sê: menslike versinsels en wette wat mense wil
invoer om die gewetens daardeur te bind en te dwing), mag nie
aanvaar word nie, maar moet in gehoorsaamheid aan God verwerp
word.
· Burgerlike owerhede mag nie met die besluitnemingsproses van
kerklike vergaderings en die daaropvolgende aanvaarding of
verwerping van besluite deur die kerke inmeng nie.
2.1.2.2.1.3 Ratihabitio in die praktyk van kerkregering voor 1581
· Die feit dat die Gereformeerde kerke kort na die begin van die
reformasie nog geen kerkorde gehad het nie, het nie beteken dat
sake in die kerke op onordelike en willekeurige wyse hanteer is
nie. Hovius (1962:12, 13) toon aan dat die bestaande
belydenisskrifte as formuliere van eenheid en sodoende tegelyk as
gemeen akkoord vir die kerklike lewe gedien het. Die belydenis
insake die kerkregering, soos verwoord in die NGB, het as
beginsel vir die kerke se kerkregtelike optrede gegeld. So het
daar vanuit die belydenis ´n kerkregtelike praktyk ontstaan wat
enkele jare later in ´n kerkorde geyk is.
· Hovius (1962:10) kom tot die gevolgtrekking dat die grondreëls
van die belydenis tegelyk die sleutelartikels van die kerkorde
is. Hierdie gevolgtrekking word ondersteun deur Kamphuis
(1966:154), wat daarop wys dat die Gereformeerde kerkorde in die
Gereformeerde belydenis rus. Die praktyk van kerkregering vorm
die skakel tussen die reeds bestaande belydenis en die, in
daardie stadium, nog komende kerkorde. Met betrekking tot die
onderwerp lewer die wyse waarop die kerke tussen 1571 en 1581 met
besluite van meerdere vergaderings te werk gegaan het, belangrike
gegewens op.
· 1571
· Die eerste amptelike sinode wat die Gereformeerde kerke in die
Nederlande belê het, was die Synode onder het kruis gehouden te
Emden 1571 (Hooijer, 1865:54; Noordzij, 1994:16). Tydens daardie
sinode is die artikels van die Konvent van Wesel, wat nie die
regskrag van ´n kerkorde gehad het nie (Roeleveld, 1972a:48),
breedvoerig bespreek en verfyn. Die eindproduk van die
indringende besprekings was ´n (eerste) kerkorde wat wel regskrag
gehad het. Nauta (1961:55) beskryf die vooruitgang wat vanaf die
Weselse Konvent na die Sinode van Emden ingetree het, deur daarop
te wys dat Wesel reël hoe Gereformeerde kerke plaaslik ingerig
behoort te word, terwyl Emden nadruk lê op hoe die verband tussen
plaaslike kerke gereël moet word. Vir die funksionering van die
kerkverband het Emden die Franse Kerkorde as voorbeeld gebruik,
waarin die invloed van Calvyn duidelik merkbaar is (Nauta,
1961:56).
· Twee sleutelartikels van die acta van die Emdense Sinode is die
eerste artikel, wat die gelykheid van die ampte bepaal, en die
slotartikel wat soos volg lui: “Deze Articulen de wettelyke ende
behoorlyke order der Kerken betreffende, zyn alzoo met gemein
accoort gestelt, datse (zoo ’t de nuttigheid der Kerken
vereischt) verandert, vermeerdert ende vermindert mogen ende
behoren te worden. Nochtans zal ‘t geen byzondere Kerke vry
staan, zulks te doen: maar alle Kerken zullen arbeiden deze te
onderhouden, tot dat in een Synodale vergadering anders besloten
wordt”. Laasgenoemde artikel sny independente kerklike optrede by
die wortel af (Bremmer, 1984:74). Dit onderstreep ook die
geldigheid van die kerkorde artikels wat tydens die sinode
vasgestel is (Hooijer, 1865:75).
· Die slotartikel van die Emdense Sinode, wat die basis vir
artikel 86 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika vorm, berus op verskeie uitsprake in die
belydenis.
· In die eerste plek word ooreenkomstig artikels 27 en 32 NGB
belowe dat die kerke wat hulle in die sinode tot die kerkverband
verbind het, hulleself ook aan die kerkorde bind wat deur die
kerkverband in die sinode vasgestel is.
· In die tweede plek word daar ooreenkomstig dieselfde artikel 32
NGB asook artikel 7 NGB met name bygevoeg dat die Kerkorde van
Emden nie beskou moet word as die alfa en die omega nie. Daar is
ruimte vir verandering, vir vermeerdering en vermindering, soos
dit nodig blyk te wees. Die veranderings wat aangebring behoort
te word, mag egter nie deur ´n individuele kerk gedoen word nie.
Daaroor moet die kerke gesamentlik in ´n volgende sinode besin en
besluit.
· Nadat die Sinode van Emden verdaag het, het die kerke gehoor
gegee aan die oproep wat van die sinode uitgegaan het. Op grond
van die gemeenskaplike belydenis dat die kerk plaaslik vergader
(artikel 28 NGB) en regeer word (artikel 30 NGB), het die
plaaslike kerke dit as hulle plig geag om die sinodale besluite
eers aan die norm van Gods Woord te toets (artikels 7 en 32 NGB)
alvorens dit in die kerklike lewe toegepas word. Lohman en
Rutgers (1887:199) vermeld dat dit wat te Emden vasgestel is,
eers nog ´n keer in klassisse deur die kerke selfstandig
aangeneem is alvorens dit in praktyk deurgevoer word. So het die
Cuelsscher Gemeynten aanvanklik besluit om die artikels van die
Emdense Sinode nie te onderskryf nie (Lohman & Rutgers,
1887:200).
· Mindere vergaderings het die besluite van meerdere vergaderings
na toetsing aan die Skrif òf vir hulle rekening geneem òf nie as
hulle eie aanvaar nie.
· 1574
· Die Klassis Dordrecht van 20 April 1574 neem twee en ´n half
jaar na die Emdense Sinode die volgende besluit: “De broederen
hebben bewilliget dat men indese bijkomst alle handelingen sal
verrichten na den Embdischen Synodo” (Deddens, s.j.:51). Later in
1574, op die derde Augustus, vergader die kerke in die Klassis
Dordrecht andermaal. Hierdie keer dien die handelinge van die
Provinsiale Sinode, wat vanaf 16 tot 28 Junie 1574 in hulle stad
gehou is, op die agenda (Hooijer, 1865:97). Die Provinsiale
Sinode Dordrecht 1574 het ´n besluit geneem wat amper woordeliks
ooreenkom met die slotbesluit van die Emdense Sinode. Die laaste
artikel in die handelinge maak weer ´n appèl op die kerke om die
besluite van die sinode as hulle eie besluite te beskou en uit te
voer (Hooijer, 1865:109).
· Die Klassis Dordrecht het ooreenkomstig die sinodale besluit
opgetree deur die volgende te beslis: “Sijn ghelesen die Acta des
Dordraceensen Synodi ende besloten eendrachtelick by den
broederen die sellighe een ijder in sijn Kerck int werk
testellen” (Deddens, s.j.:51). Deur die handelinge van die sinode
te lees, neem die klassis welbewus kennis van dit wat op die
meerdere vergadering besluit is. Daarby bly dit egter nie.
Vervolgens word daar eendragtig besluit dat die gelese en
aanvaarde besluite van die sinode in elke kerk binne die ressort
van die klassis in werking gestel sal word.
· 1578
· Nie net kerkrade en klassisse het daartoe oorgegaan om die
besluite en artikels van meerdere vergaderings te toets nie. Voor
die byeenkoms van die kerke in die Nasionale Sinode te Dordrecht
in Junie 1578, vergader die Provinsiale Sinode Noord-Holland
vanaf 7 April in dieselfde jaar. Dié sinode besluit dat elke
klassis in sy ressort die artikels van die Sinodes van Emden 1571
en Dordrecht 1574 asook die artikels van voorgaande provinsiaal
sinodale vergaderings moet lees om na te gaan “wat men van dyen
sal connen aennemen oft nyet ende daer syne redenen by verclaeren
met oyck alsulcke particuliere zwaericheden, die een yegelyck in
zyn classe scriftelyck sal aenteyckenen” (Ketel, 1948:113). Daar
is verder besluit om die tyd van die volgende provinsiale sinode
uit te stel, sodat die besluite van die komende nasionale sinode
ook onder oë geneem kan word.
· Ooreenkomstig die oproep van die Provinsiale Sinode
Noord-Holland is die artikels van die nasionale sinodes wat reeds
gehou is deur die klassisse in Noord-Holland nagegaan, ook dié
van die Dordtse Sinode wat in Junie 1578 vergader het. Op 15
September 1578 vergader die Provinsiale Sinode Noord-Holland
opnuut. Die bevindinge wat oor die verskillende acta gemaak is,
is deurgaans positief: “Item zyn alhier in tegenwoerdicheyt der
broederen alle die articulen des voergeruerden nationalen synodi
Dordracensis gelesen ende wel aengemerckt” (Deddens, s.j.:51).
Tog is daar nie oor alles saamgestem nie. Dit blyk uit die
volgende aanhalings uit die acta: “Het ´negende artyckel
desselfden nationalis synodi is duyster ende incorrect’. Aan het
‘elfste artyckel’ wil men ´nyet gebonden en zijn’, het
negentiende wordt geaccepteerd, bij het negende de belofte
geplaatst dat men dit zooveel mogelijk zal trachten na te komen”
(Ketel, 1948:113). Tenslotte word vasgestel “met malcanderen in
alle die articulen te verwilligen behoudens de uitzondering die
in veel articulen worden gestelt” (Ketel, 1948:113). Daar word
verder “besloten dat zy (die broeders wat na die provinsiale
sinode afgevaardig is - GJM) in alles deselfde gelyck met
malcanderen verwilligen ende dieselfde voer goet aennemen ende
altesamen ende elcx beloeft diezelfde nae haere vermoegen int
werck te stellen” (Deddens, s.j.:51). Deur die Provinsiale Sinode
Noord-Holland word bevestig dat wettige besluite van meerdere
vergaderings in werking gestel word. Daarbenewens word geoordeel
dat sekere besluite en artikels van meer as een meerdere
vergadering nie vir vas en bindend gehou word nie.
· Die Provinsiale Sinode Gelderland van 1579 het ongeveer ´n jaar
later, op 20 Augustus, eweneens die handelinge van die Nasionale
Sinode Dordrecht 1578 ter tafel geneem. Uit die handelinge van
daardie provinsiale sinode blyk wat hulle met die nasionale
sinode se besluite gedoen het: “Seijndt voorgelesen die
articulen, die in Junio anno 1578 toe Dordrecht verordenet und
opgericht seijnn, die welcke alle kerckendienaeren und
ouderlingen die tegenwoordich geweest, voor recht und der H.
Schrift gelijkvormich te sijn bekant hebben; hebben oock
insgelijcken vrijwilligh toesaemen onderschreven” (Deddens,
s.j.:51).
· Die Klassis Dordrecht van 5 Julie 1578 het enkele weke na die
afsluiting van die Nasionale Sinode Dordrecht 1578 soos volg met
die handelinge te werk gegaan: “Acta Synodi Nationalis ghelesen
hebbende ende omghevraecht sijnde offse alle teghenwoordige
dienaren voor goet kenden ende begeerden te onderteekenen,
antwoorden jae ende hebbent gedaen” (Deddens, s.j.:51).
· Daar moet gestel word dat die beskouing en optrede wat hierbo
kortliks weergegee is, nie geïsoleerd, gedeeltelik of slegs
tydelik voorgekom het nie. In al die verskillende provinsies van
die Nederlande is daar op hierdie manier te werk gegaan. Alle
besluite van meerdere vergaderings is aan dieselfde wyse van
toetsing onderwerp. Kerkorde artikels, sowel as
konsep-belydenisskrifte en ander besluite wat deur die
verskillende sinodes geneem is, is getoets. Die patroon van
goedkeuring het in die vroeë 1570’s posgevat. Dit is voortgesit
tot en met 1620 (vergelyk 5.2.2.1).
Kommentaar
In sy rede oor die geldigheid van die ou kerkordes wys Rutgers
daarop hoe die Gereformeerde kerke in die vroeë 1570’s die
Kerkorde van Emden bejeën het. Volgens Rutgers (1971:12) is die
artikels van die Emdense Kerkorde “niet als een voorstel,
waarover nu door anderen zou moeten beslist worden; niet als een
ontwerp, welks definitieve vaststelling nog van iemands
goedkeuring zou afhankelijk zijn” opgestel nie. Die artikels van
die kerkorde was van meet af aan “Synodale besluiten, die dus als
zoodanig zooveel mogelijk moesten gevolgd worden; als een
samenstel van regelingen, waarnaar nu vervolgens het kerkelijk
leven zou zijn in te richten”. Die kerke wat by wyse van hulle
afgevaardigdes gehelp het om die kerkorde op te stel, en - waar
nodig - te wysig, is aan en deur dié orde gebind (Rutgers,
1971:23). Die binding het egter nie beteken dat die plaaslike
kerkrade, deur wie Christus oor sy kerk regeer (Rutgers,
1971:18), direk voortgegaan het om die Emdense Kerkorde
klakkeloos in die kerklike lewe toe te pas nie. Dit was naamlik
die gewoonte van die kerke om die vasgestelde kerkorde nog ´n
keer in ´n mindere vergadering aan te neem alvorens dit toegepas
word: “De reeds vastgestelde ordening werd dan als het ware
geratificeerd, juist door hen die de lastgevers der Synode
geweest waren” (Rutgers, 1971:24). Op die oog af, aldus Rutgers,
was dit oorbodig en selfs vreemd om so te werk te gaan. Besluite
word deur ´n meerdere vergadering geneem en na die tyd deur
mindere vergaderings oor en oor bespreek, asof dit nie reeds
volwaardige besluite is nie. By nadere insien was dié werkwyse
egter besonder doeltreffend. Sodoende kon die algemene akkoord
van en tussen die samewerkende kerke des te beter blyk. Die
optrede van die verskillende mindere vergaderings het tot ware
eensgesindheid in die kerklike lewe bygedra (Rutgers, 1971:24).
Verder is daar vir enige vorm van menseheerskappy in die kerk
geen ruimte gelaat nie (Rutgers, 1971:44).
Laasgenoemde optrede van die mindere vergaderings moet derhalwe
nie as eiesinnig of independentisties geïnterpreteer word nie
(vergelyk Rutgers, 1971:42; Du Plooy, 1982:364, 365, 419). Daar
was ruimte om sake te bespreek en ondersoek, “maar binnen zekere
grenzen, en regelmaat zonder formalisme. Er kon vrijheid zijn,
zonder dat die vrijheid op losbandigheid en willekeur uitliep”
(Rutgers, 1971:43). Die suiwer verhouding tussen die
selfstandigheid van die plaaslike kerk en die belewing van
kerkverband is voortdurend nagestreef.
As die Provinsiale Sinode Friesland in die lig van bogenoemde
oordeel om weens grondige redes nie ´n besluit van die Nasionale
Sinode Dordrecht te aanvaar nie, is dit nie deur die ander kerke
as rewolusionêre optrede beskou wat onmiddellik of onvermydelik
tot verbreking van die kerkverband lei nie. “Nooit werden de
kerken behoorende tot deze vergadering (die Provinsiale Sinode
Friesland - GJM) buiten het verband geplaatst. De Provinciale
Synode Zuid-Holland hield er zelfs rekening mee” (Ketel,
1948:114). In hulle formulier van eenheid (artikels 7 en 32 van
die NGB) sowel as in die kerkorde (artikel 31) het die kerke met
mekaar afgespreek om besluite van kerklike vergaderings, wat die
toets van die Woord nie slaag nie, nie as bindend te aanvaar nie
(vergelyk Rutgers, 1971:43). Daardie afspraak is in die praktyk
van die kerkregering toegepas. Uiteraard kon die provinsiale
sinode die besluite van die nasionale sinode nie eensydig en
sonder verdere optrede langs hom neerlê nie. Daaroor is die
slotartikel van Emden 1571, wat eweneens in die belydenis rus,
duidelik genoeg.
Ketel (1948:114) kom tot die konklusie dat die kerke in die
Noordelike Nederlande aanvanklik sterker gebind was aan die
“tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord” van artikel
23 Middelburgse Kerkorde, as aan die “vir vas en bindend hou” van
die besluite van meerdere vergaderings. “Het eerste was het
wachtwoord voor het tweede, en het (besluit - GJM) werd dan ook
niet ‘doorgelaten’ in de kerkelijke samenleving wanneer het dit
wachtwoord niet kende” (Ketel, 1948:114).
Samevatting
Uit die beskrywing van die kerke se hantering van besluite van
meerdere vergaderings word dit duidelik dat - ooreenkomstig die
belydenis, wat as gemeen akkoord gedien het - ´n reeks
opeenvolgende aksies plaasgevind het voordat ´n sinodebesluit in
die verskillende plaaslike Gereformeerde kerke toegepas is. Die
aksies kan soos volg onderskei word:
· Die acta van ´n meerdere vergadering dien op die agenda van ´n
mindere vergadering.
· Die mindere vergadering lees die acta van die meerdere
vergadering deur.
· Nadat die acta gelees is, word die verskillende artikels en
besluite sorgvuldig getoets aan die norm van God se Woord.
· Wanneer ´n spesifieke besluit of artikel aan die norme van die
Skrif gemeet is, word elke lid van die vergadering afsonderlik
gevra of dit in alles daarmee ooreenkom.
· Indien die hele vergadering eenstemmig is dat die besluit in
alles met die Woord van God ooreenkom, word die besluit
geapprobeer, goedgekeur.
· Goedgekeurde besluite word eenparig deur die vergadering as
hulle eie aanvaar.
· Besluite wat mondeling aanvaar is, word ook met die daad
aanvaar deur dit te onderteken. Laasgenoemde geld in besonder
waar die belydenisskrifte en die kerkorde bekragtig moes
word.
· Goedgekeurde, aanvaarde en ondertekende besluite word as
bindend beskou.
· Oor bindende besluite word eenparig geoordeel dat hulle
uitgevoer moet word.
· Indien die vergadering na toetsing oordeel dat ´n besluit van
die meerdere vergadering nie met God se Woord ooreenstem nie,
word dit nie bekragtig nie.
· Besluite wat nie bekragtig kan word nie, word nie aanvaar en
onderteken nie. Sulke besluite is nie bindend nie en word
gevolglik ook nie uitgevoer nie.
· In sulke gevalle is die kerke ooreenkomstig die slotartikel van
die kerkorde verplig om vir regstelling van die sinodebesluit te
vra.
2.1.2.2.1.4 Ratihabitio: ´n skriftuurlike beginsel en praktyk
Dit blyk dat die beginsel van ratihabitio eerstens bely en
uitgedra is deur die reformatore. Hulle gedagtes het neerslag in
die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus
gevind, wat sedert 1571 offisieel as gemeen akkoord van die
Gereformeerde kerke gegeld het.
Vanaf 1571 is ratihabitio in ooreenstemming met die belydenis in
die praktyk van die Gereformeerde kerkregering toegepas, alhoewel
die term nog nie in die kerkorde opgeneem was nie. Die volgende
dien ter motivering vir laasgenoemde bevinding.
Christus is die enigste Koning van sy kerk
Teenoor die Roomse hiërargie, in besonder die primaatskap van die
pous, het die reformatore op die Skrifbeginsel gestaan dat
Christus alleen die Koning van die kerk is. Alleen sy Woord is
wet. Mensewoorde moet altyd buig voor die Woord van die Koning.
In die NGB (artikels 27, 29, 31 en 32) word die Christokrasie
herhaaldelik beklemtoon en as allesbeheersende beginsel bely. Die
belydenis dat Christus die kerk deur sy Woord en Gees regeer
(artikel 7 NGB; antwoord 54 HK), is grondliggend aan die wese van
ratihabitio. Besluite van kerklike vergaderings sal as geldig
gehou word (ratum habebitur), tensy dit met die Woord van die
Koning in stryd is. Indien ´n besluit nie met die wil van die
Koning ooreenkom nie, is dit vir geen oomblik geldig nie.
Christus het deur sy Woord die eerste en laaste en enigste
seggenskap in die kerk.
Die kerk van Christus word plaaslik vergader en
regeer
Teenoor die kerkbegrip van Rome, waarvolgens ´n gesentraliseerde
hoër mag (pous en konsilies) die kerk van bo af tot op grondvlak
bestuur, stel die reformatore die Skrifbeginsel dat Christus sy
kerk plaaslik vergader en regeer. Hierdie beginsel word in die
NGB prominent bely. In artikels 30 en 31 word bely dat Christus
sy koningskap in die plaaslike kerke deur ampsdraers laat bedien.
Ouderlinge in die plaaslike kerk word deur Christus geroep en
verantwoordelik gehou vir die regering van die kerk. Hierdie
belydenis lê die grondslag vir ratihabitio, wat daarvan uitgaan
dat die kerk nie deur die sinode nie, maar deur die kerkraad
regeer word. Daarom moet die besluite van meerdere kerklike
vergaderings wat direk op die kerke betrekking het, daadwerklik
die besluite van die plaaslike kerk word alvorens dit uitgevoer
kan word. Dit geskied as ´n kerkraad die besluit van ´n sinode
nie maar net objektief as vas en bindend beskou nie, maar die
sinodebesluit met die daad sy eie maak deur dit vir homself
geldig te verklaar en aan te neem. Sodoende word die plaaslike
kerk nie deur sinodebesluite regeer nie, maar deur die kerkraad
wat deur die Here daartoe geroep is.
Plaaslike kerke leef in kerkverband
Die beklemtoning van die plaaslike kerk mag nie die gedagte laat
ontstaan dat elke kerk kan doen wat goed is in sy eie oë nie. Die
reformatore bely uitdruklik die eenheid tussen die kerke. Hierdie
eenheid word in artikel 27 NGB verwoord: “tog is die kerk met
hart en wil deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees
saamgevoeg en verenig”. Die eenheid word konkreet gemaak in
ratihabitio. Kragtens die eenheid in Christus sal kerkrade die
besluite van meerdere vergaderings (dit is: die kerkverband) vir
vas en bindend hou.
Besluite van mense is toetsbaar
Ampsdraers in diens van Christus is, nieteenstaande hulle
uitnemende posisie, mense met gebreke. Daarom moet al hulle
besluite ooreenkomstig die reël van 1 Tessalonisense 5:21 aan die
norm van die Woord getoets word. Hierdie Skrifgefundeerde
oortuiging van die reformatore is die grondslag van artikels 7 en
32 NGB. Dit is tewens die grondslag van die ratihabitio in die
kerkorde. Om ´n besluit van ´n meerdere vergadering vir vas en
bindend te hou, is ´n reël met ´n ingeboude voorbehoud: ténsy die
besluit in stryd is met die Woord van God. Die voorbehoud stel
per implikasie dat besluite van mense toetsbaar is aan die Woord
van die Koning wat die enigste seggenskap het.
Gehoorsaamheid in liefde
Gehoorsaamheid aan die Koning van die kerk werk na twee kante
toe. Dit streef na onderwerping aan die Woord en dit bestry
sodoende tegelyk die energie van dwaling. Hierdie tweevoudige
gehoorsaamheid is die grondtoon van die werk van die reformatore.
Dit kom ook in die belydenisskifte na vore. In artikel 32 NGB
bely die kerke die volgende: “En daarom verwerp ons alle menslike
versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien
en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur bindend te
dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en
eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid
aan God te onderhou”.
Ratihabitio veronderstel eweneens hierdie tweevoudige
gehoorsaamheid. Uit liefde vir die Koning van die kerk en vir die
kerkverband word geldige besluite van meerdere vergaderings vir
vas en bindend gehou. Ongeldige besluite word nie vir vas en
bindend gehou nie. In laasgenoemde geval dryf liefde vir die
kerkverband die plaaslike kerk daartoe om sy motivering waarom hy
´n bepaalde besluit ongeldig ag met haas bekend te maak, sodat so
´n ongeldige besluit - waaraan geen kerk gebind mag wees nie - so
gou moontlik hersien kan word. Liefdevolle gehoorsaamheid aan die
Koning van die kerk is die kenmerk van alle
Gereformeerd-funksionerende kerke in ´n kerkverband. Artikel 29
NGB druk dit soos volg uit: “kortom, wanneer almal hulle
ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee
in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof
erken”.
Slotsom
Uit alles wat oor die herkoms van die saak van ratihabitio
beredeneer is, is dit duidelik dat die saak in beginsel deur die
reformatore gestel is. Via die belydenis en die praktyk van
kerkregering het dit voor 1581 inhoudelik reeds gefunksioneer.
Die Sinode Middelburg het dít, wat op grond van beginsels vir
etlike jare in praktyk reeds toegepas is, slegs geyk deur na ´n
term te soek wat die inhoud van die saak kan dek.
2.1.2.2.2.1 Die term ratihabitio uit die sekulêre reg oorgeneem
Toe die Sinode Middelburg 1581 die term ratihabitio in die
Gereformeerde kerkorde opgeneem het, was dit in die sekulêre reg
reeds geyk.
In paragraaf 2.1.1 is aangetoon wat ratihabitio, in samehang met
ratificatio, in die sekulêre reg beteken. Dit dui op die
handeling van ´n lashebber of verteenwoordiger (gestor) wat by
nabaat deur ´n lasgewer (dominus) bekragtig en sodoende geldig
gemaak word. Dit geskied by wyse van stilswyende aanvaarding of
goedkeuring deur ´n uitspraak, en moet so gou moontlik na die
handeling van die verteenwoordiger plaasvind. Die effek van
ratihabitio is dat die handeling van ´n verteenwoordiger regskrag
verkry vanaf die oomblik dat dit plaasgevind het. Sonder
ratihabitio is die optrede van die verteenwoordiger nie
regsgeldig nie, wat beteken dat die dominus nie daardeur gebind
word nie.
2.1.2.2.2.2 Die term ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg toegepas
Die feit dat die kerke ´n term uit die sekulêre reg oorgeneem
het, beteken nie noodwendig dat al die elemente daarvan sonder
meer toegepas is nie. In hierdie paragraaf sal aangetoon word tot
watter mate die kerke die term oorgeneem het. Eerstens word gewys
op die elemente van ratihabitio in die sekulêre reg wat wel in
die Gereformeerde kerkreg oorgeneem is. Vervolgens sal die
element uitgewys word wat nie oorgeneem is nie.
Elemente wat oorgeneem is
Soos in die sekulêre reg, het ratihabitio in die Gereformeerde
kerkreg te doen met ´n lasgewer (dominus) en ´n lashebber
(gestor). Die lasgewer in die Gereformeerde kerkreg is die
kerkraad, wat ooreenkomstig artikel 30 NGB deur die Here geroep
en verantwoordelik gehou word vir die regering van die plaaslike
kerk. Die lashebber(s) is die kerkraad se afgevaardigde(s) na die
meerdere vergadering. Die lashebber (afgevaardigde) word wettig
deur die lasgewer (kerkraad) afgevaardig. Die lashebber
(afgevaardigde) ontvang ´n mandaat om in opdrag van die lasgewer
(kerkraad) oor sake te handel wat op ´n vooraf vasgestelde agenda
geplaas is (vergelyk artikels 30 en 33 KO asook die
kredensiebrief vir afgevaardigdes na meerdere vergaderings).
Na afloop van die lashebber se optrede (dit is as die meerdere
vergadering sy werk afgehandel het en gesluit is), moet daar
verslag aan die lasgewer gedoen word. Die lasgewer (in die
sekulêre reg: dominus) moet die optrede van die lashebber (in die
sekulêre reg: gestor) bekragtig. In Gereformeerd-kerkregtelike
terme: die kerkraad moet, nadat hy die handelinge van die
afgevaardigdes (meerdere vergadering) getoets het, verklaar dat
die vergadering van afgevaardigdes hulle opdrag in ooreenstemming
met hulle mandaat uitgevoer het.
Omdat die kerkraad deur die Here geroep word om die kerk in sy
Naam te regeer, is hy daartoe verplig om die handelinge van sy
afgevaardigdes te toets. Die vergadering van afgevaardigdes
regeer nie die kerk nie, maar die kerkraad regeer die kerk in
onderworpenheid aan die Woord van God.
In die sekulêre reg is twee maniere van ratihabitio moontlik:
stilswyende aanvaarding of goedkeuring deur ´n uitspraak. Die
Gereformeerde kerkreg, soos toegepas in die jare voor 1581, ken
slegs een manier van ratihabitio. Besluite van meerdere
vergaderings word voorgelees, bestudeer, getoets en mondeling
sowel as skriftelik bekragtig (vergelyk 2.1.2.2.1.3). Goedkeuring
vind slegs deur ´n uitspraak plaas.
Met betrekking tot die tyd van ratihabitio geld die reël in die
sekulêre reg dat dit so gou as moontlik na die handeling van die
verteenwoordiger moet geskied. In die Gereformeerde kerkreg geld
in beginsel dieselfde reël. Besluite van meerdere vergaderings
moet nie vir ´n onbepaalde tyd “ongeratihabeer” bly nie.
Inteendeel, geldige besluite moet so gou moontlik getoets,
aanvaar en uitgevoer word, terwyl ongeldige besluite so gou
moontlik hersien moet word (vergelyk 2.1.2.2.1.4). Tog het dit in
die jare kort na die reformasie voorgekom dat ´n geruime tyd
verloop het alvorens die kerke tot ratihabitio oorgegaan het
(vergelyk 2.1.2.2.1.3), moontlik omdat kerklike vergaderings
tydens die tagtigjarige oorlog (1568-1648) nie maklik byeengeroep
kon word nie.
Wat die terugwerkende regskrag ten opsigte van ´n besluit van ´n
verteenwoordiger betref, bestaan daar eweneens ´n duidelike punt
van ooreenkoms tussen die sekulêre reg en die Gereformeerde
kerkreg. ´n Besluit van ´n meerdere vergadering was op die
oomblik toe dit geneem is reeds geldig of ongeldig. ´n Besluit
word dus nie later geldig (ratum) of ongeldig (irratum) gemaak
(facere) nie. Alhoewel ´n besluit vir die Here - wat volkome wys
is (artikel 1 NGB) - van meet af aan geldig of ongeldig is, kan
´n kerkraad dit egter eers ná beoordeling in die lig van die
Skrif as sodanig vasstel. Daarom moet die geldige besluite van
die meerdere vergadering na toetsing deur die kerkraad geldig
verklaar (ratideclaratio) word. Deur die vir-die-Here reeds
geldige besluit van ´n meerdere vergadering geldig te verklaar,
gee die kerkraad welbewus erkenning daaraan. Daar word verklaar
dat die besluit van meet af aan geldig was. In daardie opsig kom
dit ooreen met die terugwerkende regskrag waarvan in die sekulêre
reg sprake is.
Indien ´n kerkraad na toetsing egter sou bevind dat ´n bepaalde
besluit van ´n meerdere vergadering ongeldig blyk te wees, kan hy
die besluit nie self herroep nie. In so ´n geval moet ´n
soortgelyke meerdere vergadering wat gehou gaan word daardie
betrokke besluit herroep. Intussen is die kerkraad geroep om die
besluit ongeldig te verklaar (irratideclaratio).
Die enigste element wat nie oorgeneem is nie
In die sekulêre reg word handelinge van ´n verteenwoordiger by
wyse van ratihabitio deur ´n dominus geldig gemaak. Dit kan selfs
gebeur dat ´n verteenwoordiger se ongeldige handelinge deur
middel van ratihabitio geldig gemaak word (vergelyk 2.1.1.4). In
die Gereformeerde kerkreg is dit onmoontlik. ´n Ongeldige
besluit, dit is ´n besluit wat teen die Woord van God of die
geldende kerkorde ingaan, mag en kan nie geldig gemaak word nie.
Net so min mag en kan ´n geldige besluit van ´n meerdere
vergadering deur ´n kerkraad ongeldig gemaak word. Roeleveld
(1987:24) merk met reg op dat die Dordtse Kerkorde net geldige of
nietige besluite ken, nie vernietigbare besluite nie.
2.1.2.2.2.3 Balans
Ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg vertoon duidelike
ooreenkomste met ratihabitio in die sekulêre reg van die
sestiende eeu. Dit is geen toevalligheid dat die Gerefomeerde
kerke, wat in daardie stadium al geruime tyd die praktyk van
ratihabitio in die kerklike lewe beoefen het, in 1581 besluit het
om juis dié term in die kerkorde op te neem nie. Dit blyk dat die
Sinode Middelburg 1581 ´n bestaande term uit die sekulêre reg
oorgeneem het wat essensieel dieselfde strekking het as waarvoor
dit in die Gereformeerde kerkreg gebesig sou word. Van die enkele
element wat nie in die Gereformeerde kerkreg inpas nie, is
ontslae geraak. Sodoende het ratihabitio in die kerkorde in
sekere opsigte ´n nuwe inhoud verkry, wat ooreenkom met die
praktyk van die kerkregering voor 1581, wat op sy beurt
voortvloei uit die Nederlandse Geloofsbelydenis en die
Heidelbergse Kategismus as formuliere van eenheid en die
skriftuurlike denke van die reformatore.
Die inhoudelike verandering wat die term in die Gereformeerde
kerkreg ondergaan het, is daarop gerig om die heerskappy van
Christus in sy kerk te eerbiedig. Dit sal in die volgende
paragrawe nader aangetoon word.
Uit die verloop van die geskiedenis kan vier redes aangevoer word waarom die Sinode Middelburg 1581 besluit het om die woorde “schuldig zal zyn na te komen” van die 1578 Kerkorde te vervang met “zal voor vast en bondig gehouden worden”.
Gereformeerd-kerkregtelik gesproke was die sestiende-eeuse
reformasie hoofsaaklik daarop gerig om enige vorm van hiërargie
in die kerklike lewe teen te gaan. Calvyn het die
allesbeheersende beginsel gestel dat Christus die enigste Hoof
van die kerk is en dat geen mens of vergadering daardie Hoofskap
mag verdring nie (vergelyk 2.1.2.2.1.1). Die openbaring oor
Christus as die enigste Kerkhoof is vervolgens eerbiedig deur
Gereformeerde kerke bely (vergelyk onder andere artikels 27 tot
32 NGB, antwoord 54 HK) en gehoorsaam in die praktyk van
kerkregering aanvaar (vergelyk 2.1.2.2.1.3; GKSA, 1980:12,
13).
Bevryding van die pouslike hiërargie beteken egter nie noodwendig
dat Christus as enigste Hoof van die kerk erken word nie. In die
Gereformeerde kerke was en is dit voortdurend vir voorgangers ´n
versoeking om hiërargies op te tree. Dominokrasie, waarin die
dominee ´n oorheersende rol speel, konsistoriokrasie, waarin die
kerkraad - sonder inagneming van die kerkverband - al die sê het,
of sinodokrasie waar die sinode die kerkraad se
verantwoordelikheid ontneem en die kerke vanuit ´n topstruktuur
wil regeer, is almal verskillende vorms van hiërargie
(d’Assonville, 1992:97).
Om hiërargie in die vorm van sinodokrasie te bestry, het die
kerke ooreengekom om kerkordelik vas te stel dat besluite van
meerdere vergaderings nie sonder meer uitgevoer word nie. Sulke
besluite sal vir vas en bindend gehou word (ratihabitio), wat
onder andere beteken dat hulle eers deur die plaaslike kerke
ondersoek sal word of hulle geldig is, alvorens hulle aanvaar en
in die kerklike lewe uitgevoer word.
Die bepaling “skuldig sal wees na te kom” uit die 1578 Kerkorde
is, soos die latere ratihabitio, ook bedoel om anti-hiërargies te
wees. Tog beskerm ratihabitio die kerke meer teen hiërargie as
“skuldig sal wees na te kom”, aangesien laasgenoemde in praktyk
kan neerkom op uitvoering van besluite sonder dat hulle vooraf
behoorlik getoets en as eie aanvaar is. In die voorkoming van
hiërargie is ratihabitio derhalwe ´n verbetering op die reeds
bestaande kerkorde artikel.
Teen die einde van die sestiende eeu ontwikkel daar ´n meer
vrysinnige opvatting oor die handhawing van die Gereformeerde
belydenis soos wat dit in daardie stadium in die Nederlandse
Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus vervat is
(d’Assonville, 1992:129). Teoloë soos Coornhert en Coolhaes, wat
die Gereformeerde belydenis en kerkorde as totaal onbelangrik
beskou, veroorsaak onrus en verdeeldheid in die kerklike lewe
(Kamphuis, 1970:54, 55). Met ´n beroep op artikel 7 NGB
distansieer hulle hul van alle bindende sinodebesluite. Die
gevolg is dat hulle deur verkeerde interpretasies van die Skrif
afwyk, wat daartoe lei dat elkeen doen wat reg is in sy eie oë
(Rigters 21:25).
Om hierdie vernietigende gees van independentisme (wat immer met
leervryheid gepaard gaan) teen te staan, word besluit om
ratihabitio in die kerkorde op te neem (Noordzij, 1994:70).
Daarvolgens word sinodebesluite hoog geag, aangesien hulle vir
vas en bindend gehou sal word. Ratihabitio waarborg vryheid in
Christus, dit is vryheid wat nie op losbandigheid en willekeur
uitloop nie. Ratihabitio stel vryheid onder een voorwaarde: “dat
de kerken één bleven in belijdenis en tezamen onderworpen aan
Gods Woord” (Rutgers, 1971:43).
Kamphuis (1970:58-60) en Nauta (1971:136) beklemtoon die
anti-independentistiese betekenis van ratihabitio. Volgens hulle
dui ratihabitio daarop dat ´n saak waaroor ´n beslissing geneem
is, as onverbreeklik beskou moet word. Wat geldig is en as
sodanig aanvaar is, moet uitgevoer word; anders het dit geen sin
om besluite te neem nie.
Dit is die bedoeling van ratihabitio in artikel 23 van die
Middelburgse Kerkorde om ontbinding van die kerklike lewe ten
alle koste te beveg. Ratihabitio beskerm die kerk van die Here
teen dwaalleraars wat onder vroom voorwendsels aan die eenheid in
Christus afbreuk doen.
In die stryd teen independentisme is ratihabitio nie ´n
verbetering of ´n verswakking ten aansien van “skuldig sal wees
na te kom” nie. Middelburg 1581 handhaaf die
anti-independentistiese strekking van Dordrecht 1578. Beide
bepalings verbind kerke gelyklik tot die uitvoering van besluite
van meerdere kerklike vergaderings. Ook verplig beide artikels
kerke om bewyse voor te lê indien ´n besluit nie uitgevoer kan
word nie, omdat bevind is dat sodanige besluit in stryd met die
Woord van God of die geldende kerkorde is. Laasgenoemde is tipies
anti-independentisties, aangesien dit vir kerke geen ruimte laat
om ´n besluit - waaroor hulle oordeel dat dit ongeldig is -
eensydig langs hulle neer te lê sonder om aan die kerkverband die
bewyse vir die vermeende ongeldigheid voor te lê nie.
In sy rede oor die geldigheid van die ou kerkordes van die
Nederlandse Gereformeerde kerke bespreek Rutgers (1971) die
kwessie van owerheidsgesag en kerklike gesag met betrekking tot
die geldigheid van die ou kerkordes.
In 1571, toe die eerste sinode van Gereformeerde kerke in Emden
vergader, was die owerhede van die Nederlande nog geensins ten
gunste van die Reformasie nie (Rutgers, 1971:25, 27). Die kerke
het onder Spaans-Roomse tirannie gebuk gegaan (d’Assonville,
1992:128). Een voordeel van die vyandiggesindheid van die
owerhede was dat die kerke sonder inmenging van die staat hulle
werk gedoen het. Nieteenstaande wrede onderdrukking was die kerke
onafhanklik en vry. Hulle het die kerklike lewe ooreenkomstig
Gods Woord, sonder voorskriftelikheid van owerheidsweë
ingerig.
Na 1571 verander die geskiedenis egter handomkeer. Willem van
Oranje voer sedert 1572 vanuit die provinsies Holland en Zeeland
die stryd teen Spanje. Op 1 April 1572 behaal die Nederlanders
met die oorname van Den Briel ´n groot oorwinning oor die
Spanjaarde (Noordzij, 1994:19). Van daar af word die Spanjaarde
stelselmatig verdryf. Oral waar die Spanjaarde verslaan word,
ontstaan Gereformeerde kerke. In 1573 word prins Willem van
Oranje Gereformeerd (d’Assonville, 1992:128). Die prins beywer
hom vir die beskerming en uitbreiding van die Gereformeerde
religie. Die mag van die owerheid word gebruik om die reformasie
deur te voer. “Heelwat personen en Kerken zijn toen, om het zoo
eens uit te drukken, Gereformeerd gemaakt” (Rutgers,
1971:25).
Die voordeel van die radikale verandering was dat die
Gereformeerde kerke sonder lewensgevaar hulle gang kon gaan. Die
nadeel was, onteenseglik, die gevaar van afhanklikwording van die
owerheid. Dat hierdie gevaar nie denkbeeldig was nie, blyk uit
die feit dat die kerke in hulle optrede en besluitneming al hoe
meer gebind word aan die opinie en bekragtiging van die
owerheid.
Aanvanklik het die owerheid nie baie met die regering van die
Gereformeerde kerke ingemeng nie. “De kerken legden zich neder
bij overheidsregelingen, die haar feitelijk toelieten, bijna
geheel hare eigene ordening na te leven. En de Overheid heeft de
Kerken veelzins ontzien, hetzij door zich van regelingen te
onthouden (Holland en Friesland), of wel door approbatie van de
Gereformeerde Kerkenordening (Overijssel, Gelderland en Utrecht),
of wel door het maken of approbeeren eener regeling die
genoegzaam daarmede overeenkwam (Groningen, Drenthe en Zeeland)”
(Rutgers, 1971:34).
Met verloop van tyd het die situasie egter ingrypend verander. In
die loop van 1578 het die Leidse magistraat byvoorbeeld ontken
dat die kerke wat in meerdere vergaderings byeenkom, bevoeg is om
geldige besluite te neem (Kamphuis, 1970:52; Bremmer, 1984:191).
In Groningen en Drente vaardig die owerheid self ´n kerkorde uit
wat deur die kerke aanvaar en uitgevoer moes word (Rutgers,
1971:33).
Teen hierdie agtergrond word dit duidelik waarom die Sinode
Middelburg in 1581 poog om die kerklike samekomste waarlik
kerklik te hou. Een van die maniere waarop die kerke probeer het
om van owerheidsinmenging ontslae te raak, was om voortaan geen
ruimte vir afgevaardigdes van die magistraat of die hoë owerheid
by enige kerklike vergadering te maak nie (Hooijer,
1865:199).
Die vernaamste besluit wat die sinode in hierdie verband geneem
het, was die hersiening van artikel 23 van die bestaande
kerkorde. Deur die oordeel in appèlsake en die
besluitnemingsbevoegdheid van die kerklike vergaderings aan
mekaar te koppel, en boonop by wyse van ratihabitio regskrag van
kerklike besluitneming te erken, het die sinode alles in sy
vermoë gedoen om verkeerde inmenging van die owerheid teen te
werk (Kamphuis, 1971:52; Bremmer, 1984:188; Noordzij, 1994:53,
55).
Samevattend kan as derde rede vir die invoering van ratihabitio
gestel word dat die kerke langs hierdie weg in beginsel ooreenkom
dat slegs húlle (die kerke) geldige besluite van kerklike
vergaderings vir vas en bindend kan hou. Deur middel van
ratihabitio skakel die kerke die owerhede sowel by die néém van
besluite oor kerklike sake as die geldigverklaring, aanvaarding
en uitvoering van besluite oor kerklike sake uit. Waar die woorde
“skuldig sal wees na te kom” uit die 1578 Kerkorde vir die
owerheid nog ruimte bied om van kerke te verwag dat hulle die
owerheid se besluite oor kerklike aangeleenthede uitvoer, is die
formulering van 1581 ´n verbetering weens die besliste afwysing
van owerheidsinmenging by die neem, beoordeling en uitvoering van
besluite van meerdere vergaderings.
In paragraaf 2.1.2.2 oor die herkoms van ratihabitio in die
Gereformeerde kerkreg is aangetoon dat die saak van ratihabitio
deur die reformatore opnuut in beginsel gestel is. Dit het via
die Nederlandse Geloofsbelydenis, wat in die jare voor die
vasstelling van ´n kerkorde as gemeen akkoord vir die
kerkregering gedien het, praktyk geword in die kerkregering
gedurende die jare 1571 tot 1581. Die Sinode Middelburg het die
bestaande praktyk van “vir vas en bindend hou” slegs geyk deur ´n
term te kies wat die inhoud van die saak genoegsaam dek. Hulle
het die term ratihabitio uit die sekulêre reg gekies en dit, wat
die inhoud betref, Gereformeerd aangepas en in die kerkorde
opgeneem. Dit was ´n logiese besluit om die bestaande kerklike
praktyk met die toepaslike term uit die sekulêre reg in die
Gereformeerde kerkreg te veranker.
Waar ratihabitio ´n reeds bestaande praktyk in die Gereformeerde
kerkregering yk, is dit ´n baie noukeuriger aanduiding van die
saak waaroor dit gaan as die woorde “skuldig sal wees na te kom”.
Ratihabitio dui die aksies van toetsing, regsgeldigverklaring,
aanvaarding en uitvoering van besluite van meerdere vergaderings
aan, terwyl “skuldig sal wees na te kom” slegs na uitvoering van
besluite verwys.
Al vier redes waarom ratihabitio in die Gereformeerde kerkorde opgeneem is, vertoon een gemeenskaplike komponent: dit is ingevoer ten einde “vir Christus sy gesag te bewaar” (Calvyn, Institusie IV, 8, i). In vergelyking met “skuldig sal wees na te kom” is dit ´n besliste en noodsaaklike verbetering. Ten einde die kerklike lewe teen hiërargie, independentisme en owerheidsinmenging te beskerm en tegelyk ´n reeds bestaande, skriftuurlik-verantwoorde kerkregtelike praktyk kerkordelik vas te lê, het die kerke tereg besluit om die term ratihabitio in die Gereformeerde kerkorde en -reg op te neem.
In paragraaf 2.1.2.2.1.3 is aangetoon hoe die Gereformeerde kerke
gedurende die sestiende eeu die besluite van meerdere
vergaderings hanteer het. Dit was die kerke se gewoonte om:
· besluite van meerdere vergaderings aan die Skrif te toets;
· ooreenkomstig die uitslag van die toets die betrokke besluit
goed te keur (of af te keur) en geldig te verklaar (of ongeldig
te verklaar);
· hulleself aan ´n geldigverklaarde besluit te bind deur dit as
hulle eie besluit te aanvaar;
· geldigverklaarde en aanvaarde besluite uit te voer.
Uit hierdie vier onderskeie handelinge blyk dit dat die besluit
van ´n meerdere vergadering algaande die besluit van die mindere
vergadering word. Inderdaad is dit die bedoeling van ratihabitio
(ratum habere). Die werkwoord habere dui, afgesien van “hou” ook
op “besit, hê” (Postma, 1975:133). Deur die daad van ratihabitio
word die besluit van ´n meerdere vergadering die “besit”, die
“eiendom” van die mindere vergadering.
Die proses waardeur ´n besluit van ´n meerdere vergadering die
eiendom van die mindere vergadering word, kan stapsgewys soos
volg weergegee word:
· Wanneer ´n meerdere vergadering ´n besluit neem, is dit nog nie
die besluit van die mindere vergadering nie.
· Wanneer die mindere vergadering die besluit van die meerdere
vergadering by wyse van die acta ontvang het en toets, bly dit
nog die meerdere vergadering se besluit.
· Ook bly die besluit die meerdere vergadering s’n as die mindere
vergadering dit na toetsing goed- of afkeur en dienooreenkomstig
geldig of ongeldig verklaar.
· Eers as die mindere vergadering die geldigverklaarde besluit as
sy eie aanvaar, word dit sý besluit.
· ´n Aanvaarde, eie besluit word uitgevoer. Ratihabitio sluit
uitvoering van besluite in.
Wat uit die voorafgaande bronnestudie oor die handeling van
ratihabitio na vore gekom het, kan skematies soos volg
uiteengesit word:
DIE PROSES VAN RATIHABITIO
A. Word getoets (probatio)
B. Word goedgekeur Besluite van meerdere vergaderings
en geldig verklaar
(ratideclaratio)
word
C. Word aanvaar
(acceptatio)
Besluite van mindere vergaderings
D. Word uitgevoer
(executio)
Ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg kan gedefinieer word as die regshandeling van ´n mindere vergadering waardeur die besluite van ´n meerdere vergadering in die lig van die Skrif, belydenis en kerkorde getoets (probatio), geldig verklaar (ratideclaratio), as eie aanvaar (acceptatio) en uitgevoer (executio) word.
Ratihabitio kom as ´n futurum
(ratum habebitur) in artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde
voor. Die implikasie van die futurum is tweërlei.
In die eerste plek moet die futurum nie as ´n imperatief (moet
vir vas en bindend gehou word) gelees word nie. Binding aan
geldige besluite volg nie as onderwerping aan ´n hoër instansie
nie, maar as nakom van ´n belofte. Die futurum beklemtoon die
belofte-karakter.
Tweedens moet die futurum nie as ´n praesens geïnterpreteer en
toegepas word nie. Hier staan nie “´n meerderheidsbesluit is vas
en bindend” nie. In daardie geval sou daar van toetsing en
aanvaarding van besluite geen sprake kon wees nie. Dan het die
Gereformeerde kerke van meet af aan teen hulle eie kerkordelike
reëling opgetree. Die futurum, anders as die praesens, stel dat
besluite vir vas en bindend gehou sal word, “constaterende wat
het geval zal zijn” (Roeleveld, 1972b:54; 1987:22). Indien ´n
besluit geldig is, sal dit as sodanig aanvaar en uitgevoer word;
indien dit na toetsing ongeldig blyk te wees, sal dit nie
uitgevoer word nie.
Verder moet opgemerk word dat die habere (hou vir) van
ratihabitio nie as “beskou as” verstaan behoort te word nie
(GKSA, 1980:21). Om ´n besluit vir vas en bindend te hou, dui op
´n reeks handelinge, soos hierbo aangetoon is. “Beskou” dui slegs
op oorweging en beoordeling (HAT, 1985:84). “Beskou” is derhalwe
´n verswakking ten opsigte van “hou vir”. Wanneer ratihabitio as
“beskou as” in die kerkorde vertaal en toegepas word, soos in die
Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika die geval is,
kan dit tot gevolg hê dat daar van besluite, nieteenstaande hulle
geldigheid, op ´n independente wyse kennis geneem word sonder dat
hulle in praktyk uitgevoer word.
Die term ratificatio bestaan uit twee Latynse woorde: ratum en
facere, wat letterlik vertaal kan word as “geldig maak”. In die
sekulêre reg het dit oor die algemeen die betekenis van
“bevestig, bekragtig” (vergelyk 2.1.1.1), dieselfde as
ratihabitio (vergelyk 2.1.1.2).
Oor die inhoud en beskrywing van ratificatio in die Gereformeerde
kerkreg word daar uiteenlopend gedink. Ter wille van oriëntasie
word die verskillende gedagtes weergegee, sonder om tans tot ´n
definisie van die begrip te kom. In ´n volgende paragraaf (2.2)
sal ratificatio gedefinieer word.
Coetzee (1946a:4, 1946c:5) beskou ratifikasiereg as toetsingsreg,
die reg van alle kerkrade, asook predikante, ouderlinge, diakens
en lidmate om besluite van meerdere vergaderings aan te neem of
te verwerp, al na gelang hulle dit mag goedvind.
Te Velde (1994:309) is van mening ratificatio in die
Gereformeerde kerkreg behels om besluite van meerdere
vergaderings goed te lees, aan die Skrif en die kerkorde te toets
en dan bewustelik te aanvaar.
Van Wyk (1988:38) sien, soos Te Velde, twee elemente in die
handeling van ratificatio wanneer hy opmerk dat ´n kerkraad elke
sinodebesluit moet oorweeg en dan moet besluit of hulle daartoe
verbind voel of nie.
In sy rede oor die geldigheid van die ou kerkordes beskryf
Rutgers (1971:24) die gebruik van mindere vergaderings om die
kerkorde artikels, wat op ´n meerdere vergadering vasgestel is,
as “wederom aan te nemen”. Die manier waarop Rutgers (1971:24)
die “aanneem”-daad nader omskryf, is veelseggend: “De reeds
vastgestelde ordening werd dan als het ware geratificeerd, juist
door hen, die de lastgevers der Synode geweest waren”.
Jansen (1950:50) sluit by Rutgers aan en sê van ratificatio: “En
bij de eenparige aanvaarding op de meerdere vergadering, kwam dan
in den eerste tijd nog de herhaling dezer aanvaarding door de
mindere vergadering, om de vastgestelde ordening ook voor haar
ressort te ratificeeren (goed te keuren)”.
Die persoon wat wetenskaplik die breedvoerigste oor ratificatio
gehandel het, is P. Deddens. In sy inougurele rede vind hy noue
aansluiting by Rutgers. Deddens (1946:12) omskryf ratificatio as
deel van ratihabitio soos volg: “Zoodra nu de Kerken na toetsing
overtuigd zijn: het besluit van de meerdere vergadering is recht
en goed, het strijdt niet met het dubbele voorbehoud van art. 31,
dan eerst ratificeeren ze dat besluit. Nu eerst bekrachtigen ze
het, en voeren ze het uit. Dat wil dus zeggen: ratificeering is
een integreerend deel van den rechtsvorm inzake de geldigheid van
besluiten eener meerdere vergadering”. Hy omskryf ratificatio
verder as die “approbatie, bekrachtiging, goedkeuring der
Synodebesluiten” (1946:12). In hierdie omskrywing stel Deddens
ratificatio - met uitsondering van executio - gelyk aan
ratihabitio.
Du Toit (1946a:14), Nauta (1960:578) en Kamphuis (1970:60) deel
Deddens se omskrywing van die term.
Oranje (1944:31) merk, sonder om die term self te omskryf, op:
“Ratificatie van besluiten van de meerdere vergaderingen door de
mindere is ... niets anders dan independentisme, in flagranten
strijd met Gods Woord”.
Dit is uit die onderskeie beskrywings duidelik dat daar geen
eenstemmigheid oor die inhoud van ratificatio bestaan nie. Die
omvang van ratificatio is volgens onderskeie skrywers
verskillend.
Coetzee beskou ratificatio as toetsing (probatio) wat op geldig-
of ongeldigverklaring (rati- of irratideclaratio) van ´n besluit
van ´n meerdere vergadering uitloop. Jansen beskou dit as
geldigverklaring (ratideclaratio) en aanvaarding (acceptatio) van
besluite. Te Velde en Van Wyk interpreteer ratificatio as die
toets (probatio) en aanvaar (acceptatio) van besluite. Rutgers
beskou dit slegs as aanvaarding (acceptatio) van besluite.
Deddens sluit in sy definisie van ratificatio by Rutgers
aan, maar in sy verdere omskrywing brei hy die begrip uit tot
geldigverklaring (ratideclaratio) en aanvaarding
(acceptatio).
Dit blyk dat, nieteenstaande die uiteenlopende beskouing wat oor
ratificatio gehuldig word, al die elemente wat deur die
onderskeie kerkregtelikes as deel van ratificatio beskou word,
eweneens deel van ratihabitio vorm (vergelyk 2.1.2.4.2). Dit
impliseer dat ratificatio en ratihabitio in die Gereformeerde
kerkreg - soos in die sekulêre reg - nou aan mekaar verwant
is.
Om aan die begripsverwarring - wat onmiskenbaar tot ernstige
meningsverskille in die kerklike lewe lei (vergelyk die
aangehaalde opmerking van Oranje) - te ontkom, is dit noodsaaklik
om die omvang van ratificatio in verhouding tot die omvang van
ratihabitio in die Gereformeerde kerkreg te bepaal.
Uit die vakliteratuur word dit duidelik dat daar oor die algemeen
onvoldoende onderskeid gemaak word tussen ratihabitio (ratum
habere) en ratificatio (ratum facere). Dit is wetenskaplik nie
verantwoordbaar nie. Rutgers het ratum facere beperk tot
acceptatio. Deddens het in sy definisie van ratificatio by hom
aangesluit, maar in sy verdere beskrywende terme ratideclaratio
by ratificatio ingesluit. Deur die breëre omskrywing word ratum
facere met uitsondering van die executio identies met ratum
habere.
Om identifisering van die twee begrippe te vermy, word in hierdie
verhandeling aangesluit by die omskrywing van Rutgers en die
definsie van Deddens. Ratificatio word as sinoniem van acceptatio
beskou. Sodoende word die kerkregtelike gebruik van die
Gereformeerde kerke gedurende die sestiende eeu, wat die Sinode
Middelburg 1581 kerkordelik geyk het, in ratificatio sorgvuldig
bewaar. Mindere vergaderings moet geldige besluite van meerdere
vergaderings as hulle eie besluite aanvaar.
In verband hiermee merk Kamphuis (1970:58, 61) op dat ratificatio
nie die term is wat die saak noukeurig genoeg aandui nie, omdat
ratificatio letterlik neerkom op geldig maak van besluite. Die
mindere vergadering se aanvaarding van besluite behoort nie met
so ´n term aangedui te word nie. Die term acceptatio is ´n
noukeuriger aanduiding van die saak in bespreking. Aangesien die
term ratificatio egter reeds in die Gereformeerde kerkreg
ingeburger is, word dit verder in die studie gebruik, maar dan in
die sin van acceptatio.
Dit is reeds beredeneer dat ratihabitio die regshandeling van ´n
mindere vergadering aandui wat in drie dele onderskei kan word,
te wete geldigverklaring (ratideclaratio), aanvaarding
(acceptatio) en uitvoering (executio) van besluite van ´n
meerdere vergadering (vergelyk 2.1.2.2.1.3). In die vorige
paragraaf is die omvang van ratificatio omskryf as die mindere
vergadering se eie-maak van die geldige besluite van ´n meerdere
vergadering.
Ratificatio in die Gereformeerde kerkreg vorm in hierdie
verhandeling, anders as wat oorwegend in die sekulêre reg beskou
word (vergelyk 2.1.1.2), ´n onderdeel van ratihabitio.
Ratificatio dui die tweede deel van die ratihabitio-handeling
aan, naamlik die aanvaarding (acceptatio) van geldige besluite
van meerdere vergaderings. Ratideclaratio (geldigverklaring) van
besluite vorm geen deel van ratificatio nie. Ratideclaratio gaan
aan ratificatio vooraf en loop daarop uit. Executio is ook nie
deel van ratificatio nie, maar spruit daaruit voort.
Deur ratificatio word die geldigverklaarde besluit van die
meerdere vergadering daadwerklik die eie besluit van die mindere
vergadering.
DIE VERHOUDING VAN RATIHABITIO EN RATIFICATIO
Besluite van ´n meerdere vergadering
Toetsing
(probatio)
Ratihabitio Goedkeuring/ geldigverklaring
deur (ratideclaratio)
mindere vergaderings
Aanvaarding
(ratificatio/acceptatio)
Uitvoering
(executio)
Aan die slot van paragraaf 2.1.2.1 is die vraag gesuggereer of
ratihabitio, toe dit deur die Sinode Middelburg 1581 in die
kerkorde opgeneem is, ´n Fremdkörper in die Gereformeerde kerkreg
was. Aan die hand van die resultate wat die studie tot hiertoe
oplewer, kan die vraag gemotiveerd beantwoord word.
Die eerste element van ratihabitio, dit is om besluite van
meerdere vergaderings te toets en geldig te verklaar, is
gefundeer in artikels 7 en 32 van die NGB asook in antwoord 54
HK. Die Gereformeerde kerke het in die betrokke belydenis
artikels, wat in daardie dae tewens as gemeen akkoord vir die
kerkverband gedien het, met mekaar afgespreek om alle besluite
van kerklike vergaderings ondergeskik te beskou aan die Woord van
God en slegs dié besluite te aanvaar wat met die Skrif
ooreenkom.
Die tweede element van ratihabitio, dit is om besluite van
meerdere vergaderings te ratifiseer (aksepteer), spruit voort uit
die beginsel dat die kerk van Jesus Christus plaaslik vergader
(artikels 27 tot 29 NGB; vergelyk 2.1.2.2.1.2) en regeer word
(artikel 30 NGB). Christus het geen ander regeerders in sy kerk
aangestel behalwe die kerkraad nie (artikel 32 NGB). Die sinode
regeer nie die plaaslike kerk nie, maar die kerkraad. Hierdie
saak sal nader toegelig word in paragraaf 4.2.
Die derde element van ratihabitio, dit is om besluite van
meerdere vergaderings uit te voer, rus in die beginsel dat die
verskillende plaaslike kerke in een en dieselfde Gees saamgevoeg
en verenig is (Efesiërs 4:4-6; artikel 27 NGB). Dit wat die
kerkverband in die meerdere vergadering op grond van Gods Woord
besluit, sal - buiten enkele besluite wat op deputate betrekking
het, en op voorwaarde van die “tensy” van artikel 31 KO - in die
plaaslike kerk uitgevoer word.
Al drie elemente van ratihabitio, waarvan ratificatio een is,
wortel in die beginsels van die Gereformeerde kerkreg. Daar kan
gekonkludeer word dat ratihabitio en ratificatio geen Fremdkörper
in die Gereformeerde kerkreg is nie. Ratihabitio is in wese niks
anders as die “schuldig zal zyn na te komen” uit die 1578
Kerkorde nie. Dit is wel ´n noodsaaklike uitbreiding daarop.
“Schuldig zal zyn na te komen” veronderstel nie per se dat
besluite van meerdere vergaderings getoets, geldig verklaar en
aangeneem sal word alvorens dit uitgevoer word nie.
In die lig van die bostaande kan ratificatio gedefinieer word as die aanvaarding (acceptatio) van besluite van meerdere vergaderings ná die geldigverklaring (ratideclaratio) daarvan, waardeur die besluit van die lashebber (meerdere vergadering) die lasgewer (kerkraad) s’n word, met die effek dat dit as die besluit van die lasgewer uitgevoer (executio) word.
Ooreenkomstig die definisie behoort ratificatio (acceptatio)
binne die konteks van ratihabitio soos volg toegepas te word:
· Kerkrade moet by ontvangs van die handelinge van meerdere
vergaderings al die besluite van die meerdere vergadering aan die
norm van die Woord van God en die geldende kerkorde toets.
· Op grond van die toetsing moet die vergadering konstateer of ´n
besluit geldig of ongeldig is.
· ´n Geldige besluit moet by wyse van notulering geldig verklaar
word (ratideclaratio).
· Die vergadering moet ook op skrif uitspreek dat hy die
geldigverklaarde besluit as sy eie besluit aanvaar (ratificatio,
acceptatio).
· Die vergadering besin oor die wyse waarop die geldigverklaarde
en -aanvaarde besluit uitgevoer gaan word (executio). Van sekere
besluite sal daar slegs kennis geneem word (byvoorbeeld uitsprake
oor appèlskrifte wat nie deur die mindere vergadering self aan
die meerdere vergadering gerig is nie), terwyl ander besluite
direk uitgevoer moet word (byvoorbeeld die betaling van verpligte
kollektes). Deurgaans sal dit raadsaam wees om die gemeente van
die uitvoering van besluite op hoogte te bring en te hou.
Indien na toetsing bevind word dat ´n besluit nie met die Woord
van God of die geldende kerkorde ooreenkom nie, moet die volgende
gebeur:
· ´n Ongeldige besluit moet by wyse van notulering ongeldig
verklaar word (irratideclaratio). Die redes vir die
ongeldigverklaring moet uitdruklik in die notule vermeld
word.
· Uit liefde vir die Koning van die kerk en vir die kerkverband
moet die bewyse waarom ´n besluit ongeldig verklaar moes word by
wyse van ´n beswaarskrif so gou moontlik aan ´n meerdere
vergadering bekend gemaak word (ostentatio
irratideclarationis).
· Wanneer ´n beswaarskrif oor ´n bepaalde besluit op die agenda
van die meerdere vergadering dien, moet daardie vergadering -
nadat die aanvanklike besluit en die beswaarskrif deeglik oorweeg
is - een van twee dinge besluit:
* Die beswaarskrif is gegrond, wat beteken dat die aanvanklike
besluit ongeldig is en nie uitgevoer mag word nie. In daardie
geval moet die meerdere vergadering die aanvanklike besluit ook
ongeldig verklaar.
* Die beswaarskrif word skriftuurlik, konfessioneel en/of
kerkordelik ongegrond bewys, wat beteken dat daar niks aan die
aanvanklike besluit verander nie en die kerke dit gevolglik vir
vas en bindend sal hou.
Skematies kan die onderskeie handelinge van mindere vergaderings
soos volg weergegee word:
DIE PROSESSE VAN RATIHABITIO EN IRRATIHABITIO
Besluite van ´n meerdere vergadering
Toetsing
(probatio)
Ratihabitio Irratihabitio
Geldigverklaring Ongeldigverklaring
(ratideclaratio) (irratideclaratio)
Aanvaarding Bewys van ongeldigverklaring
(acceptatio) in mindere vergadering
(probatio irratideclarationis)
Uitvoering Voorlegging van bewys aan
(executio) meerdere vergadering
(ostentatio irratideclarationis)
Indien ratificatio (acceptatio) binne die konteks van ratihabitio
nie so toegepas word nie, impliseer dit verbreking van die
onderlinge afspraak. Deur die kerkorde te aanvaar, verbind die
kerke hulle daartoe om besluite van meerdere vergaderings vir vas
en bindend te hou. Dit veronderstel dat hulle ook tot die daad
van aanvaarding (ratificatio) verbind is, aangesien ratificatio
onlosmaaklik deel vorm van ratihabitio.
´n Slotopmerking moet gemaak word oor wie vir ratificatio binne
die konteks van ratihabitio verantwoordelik is.
In die kerklike lewe van die sestiende-eeuse reformasie het sowel
kerkrade as klassisse en partikuliere sinodes die onderskeie
aksies van ratihabitio ten aansien van besluite van meerdere
vergaderings uitgevoer (vergelyk 2.1.2.2.1.3). Ratihabitio deur
klassisse en partikuliere sinodes het daarop neergekom dat húlle
aanvaarding van ´n bepaalde besluit van die meerdere vergadering
deur die kerke in hulle ressort uitgevoer sal word. Dit kom neer
op onvoldoende erkenning van die kerkraad se posisie en taak,
aangesien geen meerdere vergadering namens ´n kerkraad besluite
kan neem nie. Moontlik kan dit toegeskryf word aan die geringe
vermoëns van die kerkrade in daardie tyd. Dit is ´n
kerkhistoriese kwessie wat in die raamwerk van hierdie studie nie
verder ondersoek kan word nie.
Omdat Christus alleen aan kerkrade regeermag gegee het, en hulle
in die Gereformeerde kerklike lewe die enigste regeerkolleges is,
en aangesien meerdere vergaderings geen permanente sittingsreg
het nie, is kerkrade die enigste bevoegde instansies om besluite
van meerdere vergaderings met die daad vir vas en bindend te hou,
waaronder ratifiseer. Hierdie reg en plig van ratifikasie kom ook
nie aan lidmate toe nie. Lidmate kan òf konformeer òf beswaar
aanteken teen besluite van kerklike vergaderings.