Ratificatio het sy beslag in die Gereformeerde kerkreg gekry toe
die Nasionale Sinode Middelburg dit in 1581 as integrale deel van
ratihabitio in die kerkorde van die Gereformeerde kerke opgeneem
het (vergelyk 2.1.2.1). Die inhoud van ratificatio was van meet
af aan duidelik omlyn. Dit is beskou as die aanvaarding van
besluite van meerdere vergaderings op grond van die
geldigverklaring daarvan, waardeur die besluit van die meerdere
vergadering die mindere vergadering s´n word met die effek dat
dit as ´n besluit van die mindere vergadering uitgevoer word
(vergelyk 2.2). As sodanig is ratificatio (acceptatio) ook in die
jare voor 1581 toegepas, alhoewel dit toe nog nie in die kerkorde
van die Gereformeerde kerke opgeneem was nie (vergelyk
2.1.2.2.1.3).
Die doel met hierdie hoofstuk is om vas te stel hoe ratificatio
binne die konteks van ratihabitio deur die Gereformeerde kerke
sedert 1581 hanteer is. In die eerste afdeling word die hantering
van ratificatio in die verloop van die Nederlandse
kerkgeskiedenis ondersoek, aangesien ratificatio in die
Gereformeerde kerke van die Nederlande ontstaan het. In die
tweede afdeling word gefokus op die hantering van ratificatio
deur die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Die bedoeling
hiermee is om ´n voorraadopname te maak, sodat in die laaste
hoofstuk enkele tersaaklike opmerkings gemaak kan word wat van
diens kan wees vir die implementering van ratificatio in die
praktyk van die Gereformeerde kerkregering in Suid-Afrika.
Die werkwyse wat gevolg word, is om eerstens ´n beskrywing van
die kerke se optrede en kerkregtelikes se beskouings met
betrekking tot die onderwerp te gee. Daarna sal die optrede en
beskouings aan die norm wat in die Kerkorde van 1581 neergelê is,
getoets word. Die uitslag van die toets bepaal of die norm suiwer
hanteer is al dan nie. Die uitslag van die toets dien tewens as
illustrasie van die belang van die suiwere hantering van
ratificatio in die Gereformeerde kerkregering.
Ten einde ´n oorsigtelike en terselfdertyd bevatlike beeld van die hantering van ratificatio in die verloop van die Nederlandse kerkgeskiedenis te verkry, word die geskiedenis in verskillende tydvakke ingedeel. Die indeling word gemaak op grond van bepaalde ingrypende veranderings of sienswyses wat kenmerkend van ´n sekere tydvak is en wat ´n besliste invloed op die kerke se hantering van ratificatio het.
Die manier waarop die Gereformeerde kerke kort na die reformasie
met besluite van sinodes te werk gegaan het, is breedvoerig in
paragraaf 2.1.2.2.1.3 beskryf. Geen besluit van ´n meerdere
vergadering is in die plaaslike kerke toegepas alvorens die
kerkrade dit nie behoorlik getoets, geldig verklaar en aangeneem
het nie. Selfs die artikels van die konsep-belydenisskrifte en
die voorgestelde kerkordes is deur die mindere vergaderings
“wederom aangenomen” (Rutgers, 1971:24). In die jare na 1581 het
die kerke voortgegaan om besluite van meerdere vergaderings te
ratifiseer, te meer omdat dit van toe af kerkordelik bepaal is om
so te handel.
´n Ander saak wat in hierdie tydperk prominent na vore tree, is
die ontwikkeling wat die kerkorde in sy geheel, en artikel 23 van
die Middelburgse Kerkorde in besonder ondergaan het (Meijer,
1987:4). Die ratihabitio van artikel 23 is nie gewysig nie. Dit
is onveranderd in artikel 31 van die Dordtse Kerkorde oorgeneem.
Die konteks waarbinne dit staan, het egter wel verander.
Sowel die kerke se hantering van sinodebesluite as die
ontwikkeling van die kerkorde sal vervolgens bespreek word.
In Junie 1582 word die handelinge van die Nasionale Sinode Middelburg 1581 deur die Provinsiale Sinode Gelderland onder oë geneem. Uit die acta van laasgenoemde byeenkoms word dit duidelik hoe daar met die besluite van Middelburg te werk gegaan is: “Volgens zijn verlesen die articulen des lastgehaldenen nationell sijnodi tot Middelburgh, welcke der synodus voor recht und dem woort Godes gleichformich sijn erkent und geapprobiert heeft” (Deddens, s.j.:51). Die reeds gevestigde patroon van ratihabitio is gevolg: besluite word gelees, aan die norm van die Woord getoets, goedgekeur en geldig verklaar (geapprobiert), en as eie besluite aanvaar (erkent).
Amper veertig jaar later, tydens die Nasionale Sinode Dordrecht
in 1618/19, blyk dat mindere vergaderings onveranderd voortgaan
om besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer. Dominee
Festus Hommius, een van die skribas van die Nasionale Sinode te
Dordrecht 1618/19, het in hierdie verband die volgende opgemerk:
“Die besluite van konsilies moet nie aan die kerke voorgehou of
opgedring word soos bevele van die owerheid en Persiese wette
nie. Die handelinge van die konsilie moet aan alle kerke gestuur
word, sodat hulle deur die kerke volgens die reël van God se
Woord ondersoek word. Indien bevind word dat die besluite met die
Woord van God ooreenstem, word hulle goedgekeur. Ten laaste word
hulle gewillig en eenstemmig, nie teen die wil van die kerke in
of gedwonge nie, aangeneem. Want die kerke het hulle gewetens nie
aan die oordeel van die gedeputeerdes verbind nie. Ook is daar
nie aan die gedeputeerdes volkome mag gegee om in die naam van
die kerke oor van alles en nog wat te besluit nie. Die gewetens
bly altyd aan die enige Woord van God gebind. Wanneer die kerke
bevind dat die handelinge en besluite van gedeputeerdes hiermee
ooreenstem, dan eers moet die kerke die besluite vir bindend hou”
(soos aangehaal deur Deddens, 1946:17).
Die saak wat dominee Hommius stel, is nie nuut nie. Vir etlike
jare het die kerke reeds ooreenkomstig die Gereformeerde,
skriftuurlike beginsel wat hy bepleit, gehandel. Wat met
betrekking tot die onderwerp van belang is, is die
ondubbelsinnige beskrywing wat dominee Hommius van die manier
waarop sinodale besluite hanteer moet word, gee. Al die elemente
van ratihabitio word uitdruklik deur hom vermeld.
In ooreenstemming met dominee Hommius se oproep, en konform vorige mindere vergaderings se optrede, het die Klassis Neder-Veluwe in 1619 die Vyf artikels teen die Remonstrante, wat op die Dordtse Sinode vasgestel en as amptelike belydenisskrif van die Gereformeerde kerke aanvaar is, asook die Dordtse Kerkorde gelees, bespreek en “alles geapprobiert ende aengenohmen” (Deddens, s.j.:50).
Ook die Provinsiale Sinode Friesland, wat gedurende September
1619 te Leeuwarden gehou is, het spesifiek die Dordtse Leerreëls
en die Dordtse Kerkorde onder die loep geneem. Oor die Leerreëls
het die sinode gunstig geoordeel: “Opten 16en Septembris 1619
voor den middag syn die Canones nationalis synodi noopende die
leere voorgenomen ende in den synodo geleesen ende volgens
geapprobirt ende voor goed gekent als in G.h. woort wel
gefundirt” (Hooijer, 1865:447; Deddens, s.j.:50).
Met betrekking tot die Kerkorde wat die Dordtse Sinode opgestel
het, oordeel die Provinsiale Sinode Friesland nie so positief nie
(Hooijer, 1865:446). Na “rijpe bedencken ende betrachtinge van
alles” besluit die vergadering om niks te aanvaar wat “tevooren
niet gebruickt ende nu van nijes mochten ingestelt zyn”,
aangesien “daerdeur eenige scheuringe in de kercke ende gemeenten
ende onheijll in deesse onsse provintie soude moogen ontstaan”
(Deddens, s.j.:50). Daar word verder besluit om “by de oude, door
Friesland zelf opgestelde of geapprobeerde resoluties te blijven
en daarom alleen de ‘articulen’ te accepteeren, die met deze oude
‘kerckenordninge’ overeenstemmen” (Ketel, 1948:114).
Die Provinsiale Sinode Friesland verwerp “in de vreesse des
Heeren naer rijpe bedencken ende betrachtinge” een van die
vernaamste besluite van die nasionale sinode bykans geheel en al.
Slegs dit wat in die kerkorde van die nasionale sinode ooreenkom
met die reeds geldende kerkorde van die provinsiale sinode, word
aangeneem.
Die optrede van die Provinsiale Sinode Zeeland ten aansien van
die Dordtse Sinode is eweneens insiggewend. Die sinode besluit
met die oog op afvaardiging na die Nasionale Sinode van Dordrecht
1618/19 dat hulle afgevaardigdes geen absolute mag “in’t stuck
der leere” het nie. Indien daar besluite voorgestel word waaroor
hulleself of ´n groot deel van die vergadering bedenkinge het,
moet die afgevaardigdes eers oorleg met hulle opdraggewers (die
provinsiale sinode) pleeg. Laasgenoemde word uitdruklik in die
instruksie wat die afgevaardigdes saamgekry het en by die
nasionale sinode ingedien moes word, gestipuleer (vergelyk Ketel,
1948:113).
Toe die Dordtse Nasionale Sinode verdaag het en die Provinsiale
Sinode Zeeland weer in 1620 vergader, is die besluite oor die
leer sorgvuldig bestudeer: “De canones sijnodi nationalis
aengaende de vijff poincten der leere zijn in desen sijnodo
gehelesen ende van elckeen voor zijn hooft met volle
toestemminghe verclaert den Woorde Godts ghelijckvormich te zijn.
Insghelijcx is het formulier der onderteeckeninghen, geraempt in
den synodo nationali, opdat naer deszelven voorschrift de vijff
poincten ofte artickelen van alle predicanten zouden
onderteeckent worden, van de vergaderinghe aenghenomen” (Deddens,
s.j.:51).
Die handelinge van die Provinsiale Sinode wat in 1619 te Deventer
gehou is, lees soos volg: “Hijrna zijn de articulen synodi
nationalis binnen Dordrecht, gearresteert over de 5 bekende
articulen tuschen de Remonstranten ende Contraremonstranten (soo
men die noemt), van den deputatio desselven voorgelesen, van den
broederen andrachtelick aengehoort ende overwogen, oock met
eendrachtighe stemme ende betooninghe van sonderlinghe
aengenaemheyt, als in alles met Gods woort wel overeencomende,
toegestemt” (Deddens, s.j.:51).
Die slotsom waartoe gekom kan word, is dat die kerke gedurende die jare 1581 tot 1620 beginselvas gehandel het wat betref die “vir vas en bindend hou” van besluite van meerdere vergaderings. Die alleenheerskappy van Christus in die kerk is eerbiedig. Geen besluit van mense is aanvaar en uitgevoer alvorens dit nie behoorlik aan die Woord van God getoets is nie.
Die bewoording van artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde, waarin ratihabitio vir die eerste keer formeel in die Gereformeerde kerkreg opgeneem is, lui soos volg: “Si quis minoris conventus sententia se gravari queretur, ad superiorem erit provocatio. Quod vero plurium suffragiis erit probatum, id ratum habebitur, nisi verbo Dei, aut etiam articulis a Synodo generali constitutis, donec alia Synodo generali mutentur, adversari ostendatur” (Rutgers, 1889:384). In paragraaf 2.1.2.1 is reeds aangetoon dat die twee sinne van hierdie artikel ´n samestelling van twee afsonderlike artikels uit die 1578 Kerkorde is. Die twee artikels van die 1578 Kerkorde het elkeen ´n eiesoortige inhoud gehad, wat beteken dat artikel 23 van die 1581 Kerkorde ´n samevoeging van twee “heterogene beginselen” is (Jansen, 1937:138). Op die vraag of die samevoeging ten goede was al dan nie, word nie in diepte ingegaan nie, aangesien dit buite die skopus van die studie val. Wat wel van belang is, is die voortdurende redaksionele veranderings wat ná die samevoeging van die andersoortige beginsels in 1581 volg.
Die Nasionale Sinode ’s Gravenhage 1586 het artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde feitlik woordeliks oorgeneem. Die enigste verandering wat aangebring is, is dat die twee afsonderlike sinne in een sin saamgevoeg is. Deur middel van kommas word die verskillende sinsdele van mekaar onderskei: “Zoo hem iemand beklaagt door de uitsprake der minder Vergaderinge verongelykt te zyn, die zelve zal hem tot een meerder Kerkelyke Vergaderinge beroepen mogen, ende het geene door de meeste stemmen goed gevonden is, zal voor vast ende bondig gehouden worden, ten zy dat het beweezen worde te stryden tegen het Woord Gods, ofte tegen de Artikelen in dezen Generale Synode beslooten, zoo lange als dezelve door geen andere Generale Synodo verandert zyn” (Hooijer, 1865:273).
Die Provinsiale Sinode Middelburg 1591 het ten opsigte van die artikel in bespreking ´n verdere leesteken-verandering aangebring. Waar die Sinode van 1586 binne die teks slegs van kommas gebruik gemaak het, word die komma voor die sinsnede “tensy bewys word...” in 1591 met ´n dubbelpunt vervang: “Soo yemant hem beklaaght, door de uytsprake der minder Vergaderinge verongelickt te zijne, de selve sal hem tot een meerdere Kerckelicke Vergaderinge beroepen mogen, ende het gene door de meeste stemmen goet gevonden is, sal voor vast ende bondigh gehouden worden: ten zy dat het bewezen worde te stryden tegen het Woort Godts oft tegen d’artickelen in desen Provincialen Synodo besloten, soo lange als de selve door geene andere Provinciale oft Generale Synode verandert sijn” (Hooijer, 1865:311).
Die Nasionale Sinode Dordrecht 1618/19 voer die leesteken-verandering nog verder deur die dubbelpunt wat in 1591 voor die “tensy”-gedeelte aangebring is, met ´n punt te vervang (Hooijer, 1865:453). Die amptelike redaksie van artikel 31 Dordtse Kerkorde lees soos volg: “Soo yemant hem beklaeght deur de uytsprake der minder Vergaderinghe verongelijkt te zijn, die selve sal hem tot een meerder Kerkelijcke vergaderinghe beroepen moghen: ende ‘t ghene door de meeste stemmen goet gevonden is, sal voor vast ende bondich ghehouden worden. Tenzy datte bewesen worde te strijden tegen het woordt Gods, ofte teghen de Artijckelen in desen Generalen Synodo besloten, soo langhe als de selve door gheen ander Generale Synode verandert zijn” (Biesterveld & Kuijper, 1905:234).
Die eerste sin van artikel 23 van die 1581 Kerkorde stel die
beginsel van die moontlikheid van appèl (vergelyk artikel 19 van
1578). Die tweede sin handel oor hoe besluite in ´n kerklike
vergadering geneem en eerbiedig moet word (vergelyk artikel 23
van 1578). Die tweede sin bevat bowendien ´n reserwe, naamlik dat
die Woord van God die grens is van alle besluite wat op kerklike
vergaderings geneem word (vergelyk artikel 23 van 1578).
Die positiewe van die samevoeging van die twee artikels uit die
1578 Kerkorde in die een artikel in die 1581 Kerkorde moet
volgens Kamphuis (1970:52) teen die historiese agtergrond van
owerheidsinmenging gesien word: “Middelburg stipuleert de
rechtsgeldigheid van het kerkelijk besluit ook in zaken van
appèl. De uitvoering van een besluit kan en mag niet worden
gekeerd door een magistraats-beslissing, maar alleen door een
beroep op het Woord Gods of op het in de K.O. geschreven recht,
het kerkelijk recht”.
Die negatiewe van die redaksionele samevoeging is egter dat daar
ruimte vir verwarring ontstaan. Iets van sulke verwarring blyk
reeds in 1586, toe die sinode deur middel van
leesteken-veranderings die twee aparte sinne van 1581 direk aan
mekaar gekoppel het. Daarmee word van twee afsonderlike beginsels
een saamgestelde beginsel gemaak. Die saamgestelde beginsel lui
so: in geval van appèl moet aanvaar word dat die beslissing van
die meerderheid geldig en derhalwe bindend is. Die indruk word
gewek dat die gewysigde artikel slegs oor beslissings in
appèlsake handel, en die geldigheid van kerklike besluite oor die
algemeen buite rekening laat. Bowendien bly die reserwe slegs as
´n neweskikkende sin vir die beperkte bepaling staan: Gods Woord
is die grens vir meerdere vergaderings se besluite insake
appèlle.
Die Provinsiale Sinode Middelburg van 1591 versterk die gedagte
van ´n enkelvoudige beginsel deur die komma voor die
reserwe-gedeelte met ´n dubbelpunt te vervang.
Die Dordtse Sinode van 1618/19 voer die verandering ten volle
deur, deur die saamgestelde sin van 1591 opnuut in twee sinne te
verdeel. Die sinne is egter nou anders geformuleer as in 1581.
Die reg tot appèl en die geldigheid van sinodebesluite word direk
aan mekaar gekoppel, terwyl die reserwe met betrekking tot ´n
geldige besluit in ´n tweede, aparte sin volg.
Die effek van die hersamestelling van artikel 31 Dordtse Kerkorde
is beduidend en van besondere belang. Die verandering in
punktuasie gee aanleiding tot verskillende
interpretasie-moontlikhede, veral wat die trefkrag van die
reserwe-klousule betref.
Oranje (1944:35) is van mening dat artikel 31 KO taalkundig
gesproke slegs vir een verklaring vatbaar is. Daar is ´n reël wat
lui dat die besluite wat met meerderheid van stemme geneem is,
bindende besluite is. Op hierdie reël is daar volgens Oranje
slegs een uitsondering, naamlik vir besluite wat met Gods Woord
of die kerkorde strydig is. Die konsekwensie daarvan is: ek hou
my voorlopig aan die reël, totdat die bewys gelewer en aanvaar is
dat hier ´n uitsondering op die reël is. ´n Mens moet altyd begin
deur te konformeer. Wie beswaar het, kan die ordelike kerklike
weg van gravamen volg, met dien verstande dat hy hom, tot tyd en
wyl oor die gravamen uitspraak gelewer is, by die bestaande
besluit sal neerlê.
Schilder (soos na verwys deur Oranje, 1944:36) interpreteer
artikel 31 KO anders. Hy beskou die punt voor die
reserwe-klousule as ´n komma. Dit beteken dat die reël (´n
meerderheidsbesluit is geldig) die reserwe insluit. Of anders
gesê: die reserwe vorm deel van die reël. Die konsekwensie
hiervan is dat besluite wat met meerderheid van stemme geneem is,
bindend is as hulle nie in stryd met die daargestelde grens is
nie. Indien ´n besluit die daargestelde grens wél oorskry, is dit
nie bindend nie, en kan geen mens gedwing word om hom vir ´n
enkele oomblik daaraan te konformeer nie. Alvorens ´n besluit
uitgevoer word, moet uitgemaak word of dit geldig is al dan
nie.
Die historiese ontwikkeling van artikel 31 KO werp genoegsame lig
op hierdie verskilpunt om tot ´n beslissing te kom. Vanaf 1578 is
dit duidelik dat die reserwe-klousule prominent ingebou is om te
verseker dat geen enkele besluit wat in stryd met Gods Woord of
die kerkorde is, aangeneem en uitgevoer sal word nie. Die
verandering in punktuasie doen, nieteenstaande die feit dat dit
verwarring kan skep (waarvan bogenoemde verskilpunt ´n klinkklare
bewys is), aan die effek van die reserwe geen afbreuk nie. Met
ander woorde, die punt voor “tensy” wil nie die krag daarvan
verswak of die reikwydte daarvan beperk nie. Ook al staan die
reserwe-klousule in die Dordtse Kerkorde van 1618/19 as ´n aparte
sin opgeteken, is die bedoeling daarvan nog steeds dat dit
onlosmaaklik deel vorm van die reël wat die artikel stel.
Derhalwe is dit korrek om, soos Schilder gedoen het, die punt
voor “tensy” as ´n komma te interpreteer.
Die beslissing oor bogenoemde interpretasie-verskil word
ondersteun deur die besluit van die Gereformeerde Kerken
(Vrijgemaakt) (1986:597), wat die bewoording van artikel 31 KO
gewysig het soos wat dit oorspronklik in 1581 saamgestel is: “Als
iemand van oordeel is dat hem door een uitspraak van een mindere
vergadering onrecht is aangedaan, kan hij zich beroepen op de
meerdere vergadering. De uitspraak die bij meerderheid van
stemmen gedaan is, zal als bindend worden aanvaard, tenzij
bewezen wordt dat zij strijd met het Woord van God of met de
kerkorde”.
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het die artikel in 1964 op
´n soortgelyke wyse “ge-reformeer”: “Wat op ´n kerklike
vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en
bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods
Woord of die artikels van die Kerkorde. As iemand egter ´n klagte
het dat hy deur die uitspraak van die mindere vergadering
verongelyk is, kan hy hom op ´n meerdere vergadering beroep ...”
(GKSA, 1964:59). Beroep op ´n algemene sinode word nog verder
gekwalifiseer (GKSA, 1980:21; Spoelstra, 1989:192).
Sowel die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) as die Gereformeerde
Kerke in Suid-Afrika het die twee beginsels van appèl en
regsgeldige besluite tereg opnuut onderskei en in verskillende
sinne geformuleer. Die reserwe is na sy oorspronklike posisie
verskuif, sodat dit nie vir verkeerde interpretasie vatbaar
behoort te wees nie.
Die tydperk na die Dordtse Sinode van 1618/19 word in die
kerkgeskiedenis deurgaans as ´n periode van kerklike verval
beskou (Landwehr, 1929:217; Graafland, 1990:163; d’Assonville,
1992:178). Die verval het alle terreine van die kerklike lewe
geraak, ook die kerkregtelike. Terwyl skolastiek en mistiek die
leer van die kerk ondermyn (d’Assonville, 1992:181), was
inmenging van die owerheid die grootste gevaar op die front van
die kerkregering (Bakhuizen van den Brink et al., 1985:24).
Sonder dat die Gereformeerde kerke in Nederland aanvanklik
amptelik as staatskerk verklaar is, het die owerhede hulle hoe
langer hoe meer met kerklike aangeleenthede bemoei en hulle
invloed op die kerklike lewe laat geld (Bakhuizen van den Brink
et al., 1985:25).
Uit verskeie oorde en op verskillende maniere het verset teen
hierdie verval begin groei. ´n Beweging wat hom in besonder op
voortgaande hervorming toegelê het, was die sogenaamde “Nadere
Reformasie”. Die Nadere Reformasie is ´n beweging binne die
Gereformeerde kerke in Nederland, wat enersyds die verspreidende
wantoestande probeer keer en hom andersyds beywer vir die
deurwerking van die sestiende-eeuse hervorming (Van’t Spijker,
1986a:5).
Nieteenstaande talle pogings om deformasie te keer, het die
owerhede in die kerklike lewe bly inmeng. Die uiteinde van die
voortdurende owerheidsinmenging was dat die Gereformeerde kerke
in Nederland in 1816 in ´n staatskerk omskep is (Pont, 1991:17;
d’Assonville, 1992:186). Die naam van die kerk het verander na
Hervormde Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden. Daarmee saam
het die Gereformeerde kerkreg plek gemaak vir Hervormde kerkreg
(Scholtemeijer, 1969:193).
In verband met die onderwerp word ter sake opvattings van twee
prominente figure uit die Nadere Reformasie uit- en toegelig.
Daarna word kortliks aandag aan die ontstaan en wese van die
Hervormde kerkreg gegee.
Tiperend van die Nadere Reformasie is die klem wat op die individu geplaas word (Van’t Spijker, 1986a:7). In teenstelling met die sestiende-eeuse reformasie, wat opnuut die Skrifbeginsel van die plaaslike kerk as liggaam van Christus bely en beleef het, fokus die Nadere Reformasie op die geloofsbelewenisse en regte van die gelowige enkeling (Van’t Spijker, 1986a:13). Die plaaslike kerk as ´n eenheid in Christus dreig om op die agtergrond te vervaag (Graafland, 1986:359-361). Teoloë in hierdie tydvak het deurgaans geen kerkregtelike bydrae gelewer nie. Slegs die werke van Voetius en à Brakel is uitsonderings, en word daarom bespreek.
Voetius is seker een van die vernaamste, indien nie dié
vernaamste en veelsydigste teoloog uit die tyd van die Nadere
Reformasie (Van’t Spijker, 1986a:15). Die kerkregtelike debatte
wat hy tussen 1663 en 1676 gevoer het, is deur hom versamel,
gesistematiseer en in drie dele onder die gemeenskaplike titel
Politica Ecclesiastica (Pol. Eccl.) uitgegee (Landwehr, 1929:218,
219; Van’t Spijker, 1986b:74, 75). In hierdie magistrale werk
handel Voetius onder andere oor die wese van kerklike mag,
kerklike vryheid, en die werk en betekenis van klasses en
sinodes.
Voetius se vertrekpunt vir die kerkregering is die sigbare,
plaaslik geïnstitueerde kerk (Pol. Eccl., Pars 1, Lib. 1, Trac.
1; Van’t Spijker, 1986b:77). Hy omskryf die kerk as ´n gemeenskap
(societas) van gelowiges, wat vrywillig aangegaan word om die
gemeenskap (communio) van die heiliges te beoefen (Pol. Eccl.,
Pars 1, Lib. 1, Trac. 1, Cap. 1; Van’t Spijker, 1986b:78).
In sy ampsleer hou Voetius aan die gebruiklike onderskeid tussen
die gewone en buitengewone ampte waarvan in die Nuwe Testament
sprake is, vas (Pol. Eccl., Pars 2, Lib. 2, Trac. 2). Wat die
gesag van die besondere ampte betref, staan Voetius lynreg
teenoor die hiërargiese opvatting van Rome (Pol. Eccl., Pars 2,
Lib. 4). Volgens Voetius bestaan die gesag van die amp in die
gesag van die Woord. Derhalwe is die gesag van die amp nie
absoluut nie (Pol. Eccl., Pars 2, Lib. 2, Trac. 1; Van’t Spijker,
1986b:79). In soverre ampsdraers die Woord bedien, tree hulle met
gesag op. Buite daardie grens het hulle geen gesag nie. Die
gemeente beskik oor Christelike vryheid en die gawe van
onderskeiding. Dit beteken dat lidmate die reg het om
oorleweringe en gebruike, asook besluite van kerklike
vergaderings te beoordeel. Die gemeente is geen slawe van mense
nie, maar het die plig om hulle nie te vereenselwig met dit wat
teen die Woord van God stry nie (Van’t Spijker, 1993:237).
Voetius beskou die kerkverband as ´n vereniging van kerke (unio
ecclesiarum), wat op ´n verbond (confoederatio), op ´n wedersydse
belofte (correspondentia) van plaaslike kerke berus (Pol. Eccl.,
Pars 3, Lib. 1, Trac. 3, Cap. 9; Van der Walt, 1976:50).
Kerkverband dien tot welwese van die kerk (Van’t Spijker,
1993:236).
Vanuit sy standpunt oor gesag wys Voetius twee uiterstes af: die
aanmatiging van ampsgesag (Rome), sowel as die onderwaardering
daarvan (kongregasionaliste) (Van’t Spijker, 1986b:79). Alle
kerklike mag is volgens Voetius herleibaar tot die soewereine mag
van Christus wat sy kerk regeer. Ten opsigte van Christus is
kerklike mag bedienend (Pol. Eccl., Pars 1, Lib. 1, Trac. 2;
Van’t Spijker, 1986b:80).
Voetius was ´n kragtige voorstander van die bevoegdhede van
meerdere vergaderings (Pol. Eccl., Pars 3, Lib. 4, Trac. 1,2;
Kamphuis, s.j.:51). Hy bepleit geensins independentisme nie;
inteendeel, hy beveg dit ten sterkste (Van’t Spijker, 1986b:76).
Hy beskou die bevoegdheid van ´n meerdere vergadering as afgelei,
gedelegeer (Kamphuis, s.j.:51). Die oorspronklike kerklike mag
berus by die plaaslike kerk (Van’t Spijker, 1993:237). Die
bevoegdheid van ´n meerdere vergadering is nie “berowend” van
aard nie, maar “samebrengend” (non esse collatam privative, sed
cumulative). Die mag van die sinode mag in geen opsig aan die
bevoegdheid van die plaaslike kerk afbreuk doen nie. Inteendeel,
die mag van die plaaslike kerk moet deur die optrede van die
kerkverband verryk en versterk word (Pol. Eccl., Pars 3, Lib. 1,
Trac. 3, 4; Van’t Spijker, 1993:237).
Oor meerdere vergaderings se hantering van mag oordeel hy dat
sodanige vergaderings dit nie teen die Skrif, die fundamentele
kerklike wette, die kerke en die kerklike afgevaardigdes mag
gebruik nie; dit moet tot hulle voordeel aangewend word. Indien
´n sinode sy mag sou misbruik, neem die kerke die besluite van so
´n vergadering nie aan nie, maar “laten ze in’t midden of
verscheuren ze” (Pol. Eccl., Pars 3, Lib. 1., Trac. 3, Cap. 2;
Deddens, s.j.:50).
In sy jare is Willem à Brakel met die separatistiese beweging van
Jean de Labadie gekonfronteer. Alhoewel hy aanvanklik geneig het
om hom met die Labadisme te vereenselwig, het sy oë vir die kwaad
van separatisme oopgegaan (Graafland, 1990:164, 182). Hy waarsku
die kerkvolk van die laat sewentiende eeu om ooreenkomstig
artikel 28 van die Nederlandse Geloofsbelydenis die eenheid met
die kerk te soek, ook al is daar binne daardie kerk stryd oor
verskilpunte (à Brakel, 1893:599). Dit staan ´n gelowige nie vry
om te doen wat goed is in sy eie oë nie. Die kerk is, omdat hy
heilig is, wel ´n afgeskeie vergadering van die wêreld. Die kerk
mag hom egter nie sommer van ander kerke afskei soos die
Labadiste beweer nie (à Brakel, 1893:604; Van Genderen,
1986:167-170).
Aan die ander kant keer à Brakel hom teen menslike oorheersing in
die kerk. Geen ampsdraer het meer mag as ´n ander ampsdraer nie.
Daar bestaan nie so-iets soos een biskop wat mag het oor ander
herders nie (à Brakel, 1893:644, 648). Oor die ampsbediening van
die ouderlinge sê hy: hulle behoort geen ja-broers te wees wat
blindelings doen wat die leraars wil nie. Hulle werk is om in
alle nederigheid, wysheid en liefde die beste vir die kerk te
bevorder (à Brakel, 1893:674; Van’t Spijker, 1993:251).
Voetius en à Brakel het albei sekere aspekte beklemtoon wat
positief met betrekking tot die toepassing van ratificatio is.
Dat die mondige gemeente die reg en plig het om die besluite van
kerklike vergaderings te beoordeel omdat alle gesag in die kerk
van Christus afkomstig is, is niks anders as getroue uitlewing
van die beginsels wat deur die Gereformeerde kerke in die tyd van
die Reformasie bely en op skrif gestel is nie. So is ook die
standpunt dat die gesag van die amp in die gesag van die Woord
bestaan en daarom nie absoluut is nie, suiwer. Langs dié weg word
hiërargie in die kerk van Christus voorkom en bestry.
Aan die ander kant moes daar teen independentisme gewaak word,
veral teen die agtergrond van die Labadisme. ´n Positiewe stap in
die bekamping van independentisme was die handhawing van die
beginsel dat kerkverband op die wedersydse verbondsbelofte van
die plaaslike kerke berus. Dit staan plaaslike kerke nie vry om
sommer van die ander kerke af te skei deur te doen wat goed is in
eie oë nie. Geldige besluite wat in kerkverband geneem is, sal
deur die kerke getoets, aanvaar en uitgevoer word.
´n Vraagstuk wat egter ontstaan, is hoe die verhouding tussen die
mag van die plaaslike kerk en dié van die meerdere vergadering
beskou moet word. Voetius het die gedagte begin opper dat die
plaaslike kerk oor oorspronklike kerklike mag beskik, terwyl
meerdere vergaderings afgeleide, gedelegeerde bevoegdheid het.
Vanuit hierdie gedagte stel hy dat die bevoegdheid van ´n
meerdere vergadering nie berowend is nie, maar samebrengend.
Meerdere vergaderings moet die gesagsuitoefening van die kerkrade
bevorder. Op sigself is dit korrek. Meerdere vergaderings het nie
die bevoegdheid om gesag van die mindere vergaderings te ontneem
nie. Tog moet daar teen ´n ongekwalifiseerde skema van
oorspronklike en afgeleide mag of gesag gewaak word, aangesien
dit die suggestie laat dat daar vergaderings met meer gesag is en
vergaderings met minder gesag. Wie met dié denkpatroon werk,
verval in hiërargie (die pous, landheer, kerkbestuur of sinode
het die meeste gesag), of in independentisme (die
gemeentevergadering het die meeste gesag). Die skriftuurlike
beginsel is dat Christus alle gesag en mag het. Waar sy Woord
bedien word, word met gesag opgetree. Gevolglik het alle kerklike
vergaderings wat volgens die Woord handel, ewe veel gesag. Vir
die toepassing van ratificatio is die beginsel van gelyke gesag
van wesenlike belang (vergelyk artikel 36 KO en 4.4.3).
In die geheel gesien wil dit voorkom asof die kerke na 1620 meer
aandag aan die subjektiewe geloofsbelewing van die individuele
gelowiges gegee het as aan die Godgegewe reg wat deur die kerke
gehandhaaf en bedien moet word (Van’t Spijker, 1986a:15). Die
praktiese, beginselvaste toepassing van die Gereformeerde
kerkreg, waaronder die plig tot ratificatio, het tot ´n groot
mate agterweë gebly. Dit het vir die owerhede ruimte geskep om
hulle stempel op die regering van die kerk af te druk, wat
inderdaad ook gebeur het.
Die praktyk van die kerklike lewe in Nederland sedert 1618/19
toon dat die Gereformeerde kerke alles behalwe onafhanklik van
die staat was. Die byeenroeping van die Dordtse Sinode in
November 1618 is reeds ´n bewys daarvan. Die sinode is deur die
State-Generaal saamgeroep, deur die state gefinansier en deur
kommissarisse-politiek beïnvloed (Pont, 1991:2).
In die jare na die Dordtse Sinode kon die kerke ook nie daarin
slaag om uit die greep van die owerhede los te kom nie.
Provinsiale owerhede, wat baie mag in die regering van die land
gehad het, het feitlik oral medeseggenskap in die reëling van die
kerklike lewe geëis (Pont, 1991:2). Die meeste provinsiale state
het nie toegelaat dat die Dordtse Kerkorde in hulle ressort
ingevoer word nie. Traktemente van predikante asook alle ander
kerklike uitgawes is deur die state betaal.
Kommissarisse-politiek het sittingsreg op kerklike vergaderings
gehad. Op meerdere vergaderings het die owerhede leiding geneem
(Pont, 1991:2). Die merkwaardige is dat die kerke dit sonder
teëspraak so aanvaar het, wat ´n teken van deformasie is. Selfs
die weiering van die State-Generaal om ´n volgende nasionale
sinode toe te laat, het geen besondere weerstand uit die kerke
gewek nie. Die reformerende ywer in die kerke het geleidelik
minder geword (Pont, 1991:3).
Die Fransman René Descartes, wat vanaf 1629 tot 1649 in Nederland
gewoon het, het die gesag van die Skrif rasionalisties en
antroposentries ondermyn (d’Assonville, 1992:179). Die mens se
rede word as norm vir die waarheid gepropageer. Daarmee saam word
die norm van Gods Woord op die agtergrond geskuif (Pont, 1991:4).
Descartes se denke beheers die agtiende eeu, die eeu van
“Verligting”. Sy gedagtes word verder deur Locke, Toland,
Tindall, Voltaire en Rousseau uitgewerk (Scholtemeijer,
1969:191). Mede as gevolg van die invloed van Voltaire breek die
Franse rewolusie in 1789 uit, wat die denke van die mens radikaal
en permanent verander het (Pont, 1991:5). Die mens met sy
opvattings verdring die Woord, asook die ampsdraers wat die Woord
moet verkondig.
Gedurende die eerste dekades van die negentiende eeu bereik die
inmenging van die owerheid in kerklike aangeleenthede ´n
hoogtepunt. Vanaf 1805 tot 1810 word die kerke slawe onder die
juk van die Roomse koning Lodewyk Napoleon (d’Assonville,
1992:185). Napoleon het ´n plan ontwerp om die Gereformeerde
kerke onder ´n biskoplike hiërargie te bring. Kerklike eiendomme
is deur die staat gekonfiskeer. Na 1810 is geen provinsiale
sinodes meer gehou nie.
Die herstel van die Nederlandse koningshuis in 1814 het vir die
kerkregering geen verbetering gebring nie. Vervul met die idees
van die Aufklärung en die wyse waarop die kerk in Engeland
bestuur word, wend koning Willem I pogings aan om die kerk in
Nederland na sy goeddunke te organiseer (Landwehr, 1929:254). ´n
Departement van Godsdienssake word in die lewe geroep, wat ´n
Algemeen Reglement voor het bestuur van de Hervormde Kerk in het
Koninkrijk der Nederlanden opstel en laat wettig (Pont, 1991:17;
d’Assonville, 1992:186).
Die afwyking van die Gereformeerde beginsel dat besluite van
meerdere vergaderings geratifiseer moet word, blyk onder andere
uit die volgende artikels uit die Algemeen Reglement:
· Artikel 3: “Het bestuur der Hervormde kerk wordt synodaal,
provinciaal en gemeentelijk geoefend.”
· Artikel 4: “De leden der Collegien, waaraan dit onderscheiden
bestuur, volgens na te meldene bepalingen wordt opgedragen,
stemmen altijd hoofdelijk, zonder eenigszins gebonden te zijn aan
lastbrieven van de vergaderingen of kerken, voor welke zij kunnen
geacht worden te verschijnen.”
· Artikel 5: “De mindere Kerkbesturen hebben het recht
voorstellen in te zenden aan de hoogere, en om in voorkomende
gevallen derzelver voorlichting te vragen; terwijl zij
daarentegen verpligt zijn de aanschrijvingen te voldoen der
hoogere collegien, en in het bijzonder ten spoedigste de berigten
en rapporten in te zenden, welke van hen gevorderd worden.”
· Artikel 6: “Een minder Kerkbestuur vermeenende, door de
besluiten van een hooger bezwaard te zijn, heeft het recht zich
deswegens bij een nog hooger Bestuur te beklagen, onder
gehoudenheid nogtans, van aan de ontvangene bevelen inmiddels te
gehoorzamen...”
· Artikel 7: “Van alle zaken, bij uitspraak van een Kerkelijk
Collegie beslist, valt appèl aan het in rang volgend hooger
Collegie, doch ter tweeder instantie beslist zijnde, wordt geen
nieuw appèl toegestaan.”
· Artikel 16: “Het hoogste Kerkelijk Bestuur is opgedragen aan de
Synode.”
Hierdie enkele artikels weerspieël die gees wat in die geheel van
die reglement opgesluit lê. In teenstelling met die Gereformeerde
kerkregering word die “bestuur” van die kerk aan die sinode, as
hoogste vergadering, toevertrou. Die sinode beskik selfs oor
tugreg (vergelyk die vyfde afdeling uit die Reglement op de
uitoefening van kerkelijk opzicht en tucht voor de Nederlandsche
Hervormde Kerk). Besluite wat deur ´n hoër bestuur geneem is,
moet onverwyld en onvoorwaardelik deur die laer besture uitgevoer
word. Binding van ´n lashebber aan die mandaat wat die lasgewer
aan hom gee, word uitdruklik in die teendeel verander. Appèl is
wel moontlik, maar die uitslag daarvan bly ondergeskik aan die
besluit van ´n vergadering wat uit mense bestaan, terwyl die
besluit waarteen geappèlleer word, voorasnog uitgevoer moet word.
Met die aanvaarding van die Algemeen Reglement en verwante
reglemente het die Gereformeerde kerke in Nederland afstand van
hulle Gereformeerd-kerkregtelike fondament gedoen. Die Dordtse
Kerkorde is deur hierdie reglement afgeskaf (Scholtemeijer,
1969:193). Kerke stel hulleself nie meer onder die enigste gesag
van Jesus Christus nie, maar word aan die wil van kerklike
vergaderings gebind. Die ratihabitio van artikel 31 Dordtse
Kerkorde, wat die heerskappy van Christus in sy kerke eerbiedig,
word vervang deur ´n kerklik geykte sinodokrasie.
Die kerkregtelike verval wat in die Hervormde kerk in Nederland
ingetree het, het sy tol ook andersins in die kerklike lewe geëis
(Pont, 1991:128). Leervryheid het in die Hervormde Kerk
ingesluip. Elke predikant kon preek wat hy wou, en elke lidmaat
kon glo soos hy wou (Scholtemeijer, 1969:193). Onskriftuurlike
gesange is in die kerk ingevoer (d’Assonville, 1992:183).
Derhalwe moet gekonstateer word dat ´n kerk wat ratificatio
welbewus nalaat die heerskappy van Christus verloën. So ´n kerk
kan nie anders as om die vryheid wat die Koning waarborg ook te
verbeur nie.
Die kollegialistiese kerkregeringstelsel, wat die grondslag van die Algemeen Reglement van 1816 is, bring - in stryd met onder andere artikels 27 tot 32 NGB - die vrye kerke van Christus onder die juk van kerklike vergaderings. Kerkregtelik gee die invoering van die reglement aanleiding tot twee vrymakings in die negentiende eeu: die Afskeiding in 1834 en die Doleansie in 1886 (Pont, 1991:127).
Die eerste verset teen die wantoestand wat na die invoering van
die Algemeen Reglement ontwikkel het, het gekom van die manne van
die Reveil: Bilderdijk, Da Costa, Groen van Prinsterer, Van der
Kemp en Capedose (Landwehr, 1929:255; d’Assonville, 1992:190).
Die Reveil het nie soseer ´n hervorming van die kerk ten doel
gehad nie. Aan afskeiding van die bestuursjuk is daar nie gedink
nie. Die Reveil was hoofsaaklik teen die ongelowige tydgees van
daardie dae gerig. Dit het die mense na die Skrif en die
Gereformeerde belydenis teruggeroep (Scholtemeijer,
1969:196).
In die vroeë dertigerjare van die negentiende eeu word die
weerstand teen die verval in leer, lewe en kerkregering op ´n
spits gedryf. Dominee Hendrik de Cock van Ulrum (1801-1842) word
deur die klassikale bestuur aanvanklik aangespreek en later
geskors en afgesit omdat hy kinders van ander gemeentes doop en
omdat dat hy geen gesange laat sing nie (d’Assonville, 1992:191).
In dieselfde tyd word dominee Hendrik Scholte geskors omdat hy
sonder verlof van die klassikale bestuur in Ulrum gaan preek het
(Bakhuizen van den Brink et al., 1985:188; d’Assonville,
1992:191). Na rype beraadslaging en talle pogings om die
wederregtelike skorsings en afsetting ongedaan te maak, besluit
die gemeente van Ulrum om tot die ingrypende stap van afskeiding
oor te gaan. Die kerkraad, asook talle gemeentelede, onderteken
´n Acte van Afscheiding of Wederkering, waardeur hulle hulself
amptelik van die Hervormde Kerk vrymaak (Keizer, 1934:553-578;
Scholtemeijer, 1969:199).
Alhoewel die Afskeiding van 1834 hoofsaaklik weens verval in die
leer en Godvresende lewenswandel plaasgevind het (Bos, 1986:10;
d’Assonville, 1992:190-191), is die kerkregtelike konsekwensies
daarvan verreikend. ´n Kerkraad protesteer teen die
onkerkregtelike besluite van ´n meerdere vergadering (Keizer,
1934:314-321). As die meerdere vergadering geen gehoor aan die
protes van die kerkraad gee nie, besluit die kerkraad om die
optrede van die betrokke vergadering (te wete die wederregtelike
skorsing en afsetting van hulle predikant) nie vir vas en bindend
te hou nie. Die enigste manier om die optrede van die kerklike
besture nie vir vas en bindend te hou nie, was die weg van
afskeiding. Die Afskeiding was geen skeurmakery of
onskriftuurlike separasie nie (Bos, 1986:7). Vanweë die feit dat
die Gereformeerde kerkreg in daardie jare vervang is met ´n
genootskaplik-hiërargiese kerkregeringstelsel, was dit die
enigste vereiste en moontlike pad van gehoorsaamheid.
Dit is belangrik om op te merk dat die kerke wat hulleself van
die Hervormde Kerk afgeskei het, nie ´n nuwe kerk wou wees nie.
“Gedurig het die Afgeskeidenes smeekskrifte gestuur waarin daarop
gewys is dat hulle ... slegs ´n voortsetting van die ou
Gereformeerde Kerk van voor 1816 is” (Scholtemeijer, 1969:200).
Inderdaad blyk dit die geval te wees. Met betrekking tot
ratificatio het die kerke van die Afskeiding weer ooreenkomstig
die ou Gereformeerde beginsel gehandel wat stel dat kerkrade die
kerke regeer, en nie sinodale besture nie. Kerkrade is bevoeg om
besluite van meerdere vergaderings te toets en, indien hulle
ongeldig blyk te wees (soos in die geval van die afsetting van
dominees De Cock en Scholte), nie vir vas en bindend te hou
nie.
Na die kerkregtelike verval wat sedert 1816 formeel in die
Hervormde Kerk ingetree het, het die Afgeskeie kerke (later
genoem die Christelijke Gereformeerde Kerken) sedert 1834 - ten
spyte van independentistiese optrede in sekere kerke (vergelyk
onder andere H.P. Scholte se optrede tot in Pella) - die beginsel
van ratificatio weer met die daad toegepas. Dit is ook
kerkordelik so vasgelê deur die oorspronklike artikel 31 van die
Dordtse Kerkorde in ere te herstel. Tot vandag toe is die
ratihabitio onveranderd in die Kerkorde van die Christelijke
Gereformeerde Kerken (1967:29) gehandhaaf.
Met die Afskeiding van 1834 het die onrus binne die Hervormde
Kerk oor die wyse van kerkregering en die steeds oplaaiende
vrysinnigheid nie ineens bedaar nie. Baie Gereformeerdes wat nie
met die toestande en met die leer en kerkregering in die kerk
tevrede
was nie, maar wat tog ook nie die Afskeiding goedgekeur het nie,
het in die Hervormde Kerk agtergebly. Groen van Prinsterer, F.L.
Rutgers, A.F. de Savornin Lohman en A. Kuyper was van dié wat
binne die Hervormde Kerk gedurig op kerkherstel aangedring het
(Scholtemeijer, 1969:202; d’Assonville, 1992:194-195).
By verskeie geleenthede is versoekskrifte aan die sinode gestuur
waarin gevra word vir die hersiening van die kerklike reglemente
om dit in ooreenstemming met Gods Woord en die Dordtse Kerkorde
te bring (Scholtemeijer, 1969:202-203). Die versoeke het egter op
niks uitgeloop nie. Die toestand in die Hervormde Kerk het,
inteendeel, versleg (d’Assonville, 1980:65). Groen van
Prinsterer, later ondersteun deur Abraham Kuyper, het hom in die
lig hiervan daarop toegelê om oral in Nederland verenigings te
stig met die oog op kerkherstel (Scholtemeijer, 1969:203).
Teenoor die hiërargie van die Hervormde Kerk bely hulle die
Koningskap van Christus in sy kerk (d’Assonville, 1992:194). Deur
middel van koerante en traktate word die beginsels van die
skriftuurlike, Gereformeerde kerkreg opnuut onder die aandag van
die kerkvolk gebring (d’Assonville, 1992:195). ´n Vrije
Universiteit op Gereformeerde grondslag word in 1880 geopen, wat
as bolwerk vir die Gereformeerde lewe - ook (teen die sin van die
Hervormde Kerk) as opleidingsentrum vir predikante - moes dien
(Scholtemeijer, 1969:204).
In 1886 lei die stryd teen die Hervormde hiërargie, soos in 1834,
tot ernstige konflik. Die klassikale bestuur skors tagtig
ouderlinge van die gemeente Amsterdam, saam met hulle predikant
doktor Kuyper, omdat hulle weier om attestate af te gee aan
enkele vrysinnige jeugdiges wat elders belydenis van geloof wou
gaan aflê (Landwehr, 1929:262). ´n Maand later word die hele
kerkraad van Kootwijk geskors omdat hulle ´n proponent van die
Vrije Universiteit beroep het (d’Assonville, 1992:195). Die
magsvergryp van die kerklike besture lei daartoe dat talle kerke
begin doleer het (Bakhuizen van den Brink, et al., 1985:193).
Afgesette ampsdraers het by die sinode in hoër beroep gegaan,
maar dit was tevergeefs. Vir hulle was daar geen ander keuse as
om heeltemal met die kerkbestuur te breek nie. Op 16 Desember
1886 het die kerkraad van Amsterdam finaal met die sinodale
kerkorganisasie gebreek en hulleself die Nederduitsch
Gereformeerde Kerken (Dolerend) genoem (Scholtemeijer,
1969:206).
Soos die kerke van die Afskeiding, was die doel van die dolerende
kerke nie om ´n nuwe kerk te stig nie. Hulle het hulself as die
voortsetting van die ou Gereformeerde kerke beskou.
Anders as die broeders van die Afskeiding het dié van die Doleansie tot ´n diepgaande, gefundeerde kerkregtelike besinning oorgegaan, waaruit die sogenaamde Doleansie-kerkreg (Kamphuis, 1967:5) gegroei het. In verband met die toepassing van ratificatio is die Doleansie-kerkreg van groot belang. Daarom word die vernaamste punte daaruit aangeteken. Op dié manier word die kerkregtelike denke van A. Kuyper en F.L. Rutgers, wat respektiewelik “de ziel” en “het denkend hoofd” van die Doleansie genoem is (Bos, 1986:51; Kamphuis, 1967:5), terselfdertyd bespreek.
5.2.4.2.2.1 Wese van die Doleansie-kerkreg
Allereers moet opgemerk word dat die Doleansie-kerkreg geen nuwe
of selfstandige soort kerkreg is nie. In wese is dit ´n terugkeer
na die ou kerkreg soos dit in die Kerkorde van Dordrecht 1618/19
uitgedruk is. Daardie Kerkorde, en daarmee saam die Gereformeerde
kerkreg, is deur koning Willem I met die Algemeen Reglement
vervang (Bakhuizen van den Brink et al., 1985:193). Met die
Doleansie het die Gereformeerde kerke in Nederland na die
oorspronklik Gereformeerde ordening van die kerkverband
teruggekeer. Die dolerende kerke het na eenheid op grond van die
waarheid gesoek en dit in hulle kerkreg ten volle laat figureer
(Kamphuis, s.j.:47).
Die hoofdoelstellings van die Doleansie kan soos volg weergegee
word (Trimp, 1986:191):
· die kerk moet van hiërargie vrygemaak word;
· die volkskerk moet ontbind word;
· die Gereformeerde leer en kerkregering moet herstel word.
Die Doleansie-kerkreg konsentreer op die reformasie van die
kerkregering.
Kamphuis (1967:5) omskryf die kerkreg van die Doleansie as “het
kerkrecht dat zware druk legt op de zelfstandigheid van de
plaatselijke kerken, dat het kerkverband confoederatief van aard
acht en de belijdenis ziet als accoord van kerkelijke
gemeenschap”.
5.2.4.2.2.2 Beginsels van die Doleansie-kerkreg
Uit bogenoemde beskrywing van die wese van die Doleansie-kerkreg
blyk dat dit op drie basiese beginsels rus, naamlik:
· die selfstandigheid van die plaaslike kerke;
· die konfederatiewe aard van die kerkverband; en
· die belydenis as fondament vir kerklike gemeenskap.
Die selfstandigheid van die plaaslike kerk
Teenoor die kerkgenootskaplike idee van die Hervormde Kerk, stel
die Doleansie opnuut die beginsel dat die plaaslike kerk kompleet
kerk, liggaam van Jesus Christus, is (Deddens 1986:65). Omdat die
plaaslike kerk kompleet kerk is, is hy selfstandig ten opsigte
van die ander kerke met wie hy in die kerkverband saamleef
(Deddens, 1986:118). Die kerkverband maak die plaaslike kerk nie
tot kerk nie. Die plaaslike kerk is geen deel van ´n groter
landskerk of streekskerk, waarsonder hy nie kerk sou kon wees
nie.
Uit hierdie beginsel volg dat die plaaslike kerk geen mag bo hom
het behalwe die mag van Christus nie. Klassikale of sinodale
besture regeer nie die plaaslike kerk nie, en bestuur ook nie die
eiendomme van die plaaslike kerk nie. Die enigste besturende
kollege in die kerk is die kerkraad (Deddens, 1986:65).
Die konfederatiewe aard van die kerkverband
Ook al word die selfstandigheid van die plaaslike kerk as
uitgangspunt gestel, hou die Doleansie-kerkreg eweneens vas aan
die Goddelike roeping tot hegte samelewing en verbondenheid in
kerkverband, wat gevestig is op die fondament van die Woord
(Deddens, 1986:118).
Die kerkverband word beskou as ´n konfederasie. Dit beteken
enersyds dat gemeenskap met susterskerke in Christus vereis word.
Andersyds mag geen kerk deur ´n susterskerk (of deur maatreëls
wat deur owerhede getref word) tot toetreding tot of verblyf in
die kerkverband gedwing word nie (Deddens, 1986:65).
Deddens (1986:118) gee die volgende oorsig oor die eise wat die
kerke van die Doleansie aan die kerkverband stel. Hulle soek:
· ´n Kerkverband waarvan die belydenis die grondslag is.
· ´n Kerkverband met vaste en goeie afsprake (dit wil sê ´n
kerkorde) wat kerke konfederatief met mekaar gemaak het.
· ´n Kerkverband met meerdere vergaderings wie se besluite vir
die plaaslike kerke regskrag sal hê en bindend sal wees tensy
bewys word dat dit in stryd met God se Woord of die artikels van
die kerkorde is.
· ´n Kerkverband waarin die meerdere vergaderings geen hoër
vergaderings is nie, maar waarin kerkrade die enigste amptelike
kolleges bly.
· ´n Kerkverband wat independentisme en hiërargie afweer.
· ´n Kerkverband van hegte, verenigde kerke, in en deur Jesus
Christus.
Die verbond van kerke wat by wyse van kerkverband funksioneer, is
geen kerk nie. Die woord “kerk” mag nooit in ´n instituêre sin
gebruik word om daarmee die verband van kerke aan te dui nie
(Deddens, 1992:57). Deur die konfederasie van plaaslike kerke
ontstaan daar geen landskerk waarvan die plaaslike kerke
onderafdelings vorm nie (Deddens, 1986:65, 116).
Teen die agtergrond van die stryd oor kerklike eiendomme, wat na
die afskeiding van die dolerende kerke in 1886 ontstaan het, blyk
dat laasgenoemde nie ´n teoretiese kwessie is nie. Lohman en
Rutgers (1887:4, 13) het op grond van die beginsel dat die
plaaslike kerk volkome en selfstandig kerk is, beredeneer dat
kerkrade ook plaaslik die bestuur van besittings moet hanteer.
Die kerkraad is nie onderworpe aan ´n hiërargiese priesterbestuur
wat op die eiendomme van die plaaslike kerk beslag kan lê
nie.
Uit die standpunt wat oor die kerkverband gehuldig word, vloei
noodwendig die noodsaaklikheid van meerdere vergaderings voort.
Uit verset teen die hiërargiese bestuursjuk van die Hervormde
Kerk het die kerke van die Doleansie op die reformatoriese
beginsel teruggeval dat meerdere vergaderings geen hoër
vergaderings is nie (Deddens, 1986:65).
Oor die wese van ´n meerdere vergadering word gestel dat dit ´n
vergadering van kerklike gesante is, wat opdragte van hulle
senders moet uitvoer (Kamphuis, 1967:39). Voordat die
gesamentlike arbeid van ´n meerdere vergadering ´n aanvang kan
neem, is dit wesenlik dat die gesante hulleself by wyse van
kredensie as wettige afgevaardigdes sal legitimeer (Kamphuis,
1967:38) ´n Sentrale gegewe in die Nederlands-gereformeerde
kerkreg is die voorskrif uit artikel 33 Dordtse Kerkorde, dat
afgevaardigdes na meerdere vergaderings lasbriewe van hulle
senders sal inhandig. Alleen langs hierdie weg kan ´n meerdere
vergadering gekonstitueer word.
Die verhouding tussen die kerkraad en die meerdere vergaderings
word duidelik in die Doleansie-kerkreg uitgespel. As beginsel
word gestel dat daar ´n prinsipiële verskil tussen die
wese van die kerkraad en die wese van meerdere vergaderings is
(Kamphuis, 1967:38). Teenoor die organisasie van 1816 met hoër en
laer besture stel die Doleansie-kerkreg ´n samelewing van
plaaslike kerke in een kerkverband, waarin die kerkraad as die
vergadering van ampsdraers met amptelike gesag oor die gemeente
erken word, terwyl in die meerdere vergadering afgevaardigdes van
plaaslike kerke saamkom. Daar is bo die kerkraad geen enkele hoër
kerklike mag behalwe die mag van Christus alleen nie. Die klassis
en sinode staan nie bo die kerkraad nie (Deddens, 1992:50).
Ten slotte moet nog enkele opmerkings oor die oorsprong van die
gesag van meerdere vergaderings gemaak word. Anders as kerkrade,
het meerdere vergaderings geen amptelike taak of bevoegdhede van
Christus ontvang nie. Hulle take en bevoegdhede is beperk tot dit
wat die kerke self vrywillig ooreengekom het (Deddens, 1986:65).
Derhalwe is daar geen opklimmende mag, asof die kerkraad die
minste en die sinode die meeste mag sou hê nie. Dit is juis
omgekeerd: wat die oorsprong van die gesag betref, berus die
hoogste mag by die kerkraad, en van die kerkraad daal dit af na
die onderskeie meerdere vergaderings (Deddens, 1992:50).
Die aard van die meerdere vergadering se gesag is wesenlik
dieselfde as die aard van die kerkraad se gesag. Altwee se gesag
is volstrek aan die Skrif onderwerp. Hier beroep die Doleansie
hom spesifiek op artikel 36 Dordtse Kerkorde: die seggenskap van
die partikuliere sinode oor die klassis word op een lyn met die
seggenskap van die klassis oor die kerkraad geplaas (Kamphuis,
1967:38).
Die belydenis as fondament vir kerklike gemeenskap
“Het gereformeerde kerkverband staat of valt met de
gehoorzaamheid van het geloof. Daarmee is ook de radicale
oppositie met het genootschappelijke kerkrecht gegeven, het
kerkrecht zoals dat vanaf 1816 de Hervormde Kerk in Nederland
heeft gestempeld. Een kerkrecht, waarin de kerken samengesmolten
werden in een belijdenisloze eenheid. Dan gaat de bestuurlijke
eenheid boven de waarheid. Weer wordt de eenheidsband niet
gevonden in het Woord en in de belijdenis daarvan, niet in de
gemeenschappelijke gehoorzaamheid van het geloof, maar de
gemeenschappelijke onderwerping aan een bestuur.” Hierdie woorde
van Kamphuis (s.j.:46) vat die derde beginsel waarop die
Doleansie-kerkreg rus in ´n neutedop saam.
Kerkregering moet altyd diensbaar aan die deurwerking van die
heerskappy van die waarheid wees. Die eenheid van die kerk lê in
die eenheid van die daadwerklike erkenning van Christus se
Koningskap en die eenheid in die skriftuurlike leer (Johannes
17:21, 23). Die Gereformeerde belydenis is die onmisbare
grondslag van die plaaslike kerklike lewe en van die
kerkverbandelike samelewing (Artikel 29 NGB; Deddens, 1986:65).
Daarom is die openlike verklaring tydens ´n meerdere vergadering
so belangrik. Die koers van die kerke moet voortdurend
konfessioneel bevestig word (Kamphuis, s.j.:48).
Uit die beskrywing van die Doleansie-kerkreg word dit duidelik
dat dit ´n radikale terugkeer na die Gereformeerd-kerkregtelike
beginsels van die sestiende-eeuse reformasie is. Op alle fronte
word die kerkreg beskou en toegepas soos die kerke dit sedert die
Reformasie gedoen het.
Oor die gesag van meerdere vergaderings is dit opmerklik dat die
Doleansie-kerkreg ´n onderskeid tussen die oorsprong en die wese
van gesag tref. Waar Voetius tot ´n mate ongekwalifiseerd oor die
gesag van meerdere en mindere vergaderings handel, met die
konsekwensie dat die weg vir hiërargie of independentisme gebaan
kan word (vergelyk 5.2.3.1.3), gaan die Doleansie-kerkreg fyner
onderskeidend te werk. Wat die oorsprong van gesag betref, is die
gesag van die kerkraad meer as dié van die meerdere vergaderings,
aangesien die kerkraad regstreekse bevoegdhede van Christus
ontvang en die meerdere vergaderings nie. Wat die wese van gesag
betref, is dit vir alle kerklike vergaderings egter dieselfde.
Alle gesag behoort aan Christus. Watter kerklike vergadering ook
al die gesag van Christus bedien, moet dit in absolute
gehoorsaamheid aan Hom doen. Buiten Christus is daar geen gesag
nie, hoogstens onregmatige heerskappyvoering.
Met betrekking tot ratificatio is die kerke terug op die spoor om
besluite van meerdere vergaderings te toets en as hulle eie aan
te neem alvorens dit uitgevoer word. Een van die kernmomente in
die stryd teen die Hervormde bestuursjuk was juis die onregmatige
aanspraak wat meerdere vergaderings op onvoorwaardelike
gehoorsaamheid aan hulle besluite gemaak het. Die
alleenheerskappy van Christus is opnuut daarteen bely en in die
praktyk van kerkregering eerbiedig.
Vir die beskrywing van die toepassing van ratificatio in die Gereformeerde kerkreg is hierdie periode een van die vernaamstes in die kerkgeskiedenis. Veral die gebeure kort voor en tydens die Vrymaking in 1944 lewer insiggewende materiaal met betrekking tot die onderwerp. Ten einde ´n breë perspektief op die gebeure te verkry, word eers ´n kort weergawe van die verloop van die geskiedenis in hierdie tydvak gegee. Daarna word die werke van prominente figure krities bespreek.
In 1892 vind ´n vereniging tussen die kerke van die Afskeiding en
die kerke van die Doleansie, wat beide daarop aanspraak maak dat
hulle ´n voortsetting van die Gereformeerde kerke voor 1816 is
(vergelyk 5.2.4.1.2 en 5.2.4.2.1), plaas. Voortaan sou die naam
van die verenigde kerke die Gereformeerde Kerken in Nederland
wees. ´n Groep van die kerke uit die Afskeiding het nie met die
Vereniging in 1892 saamgegaan nie, en bestaan as die Christelijke
Gereformeerde Kerken voort (d’Assonville, 1992:195).
Kort na die Vereniging van 1892 het daar binne die Gereformeerde
Kerken in Nederland ´n meningsverskil oor die verbond en die doop
ontstaan. Doktor A. Kuyper, ´n leidinggewende figuur tydens die
Doleansie, het die leer van die veronderstelde wedergeboorte
begin propageer (Van Tongeren, 1952:17). Hy word weerlê deur
manne uit die kerke van die Afskeiding, onder andere professor L.
Lindeboom, dominee T. Bos en dominee J. Kok (Van Tongeren,
1952:21). Tydens die kerke se Sinode van 1905 kom die verskilpunt
oor die leer ter tafel. Dié Sinode het die opvattings van doktor
Kuyper insake die verbond en wedergeboorte as eensydig in ´n
kompromie-formule geakkommodeer (vergelyk Van Tongeren,
1952:22).
Nieteenstaande die uitspraak van die Sinode van 1905 word die
opvattings van doktor Kuyper egter steeds gepropageer asof dit
suiwer skriftuurlik is (Van Tongeren, 1952:23). Die verkondiging
daarvan word só algemeen, dat dit die “gangbare leringen” in die
Gereformeerde kerke geword het. Dit is so goed as deel van die
Gereformeerde belydenis beskou (Van Tongeren, 1952:25).
Professore S. Greijdanus en K. Schilder korrigeer die leer van
doktor Kuyper. In reaksie op die korreksie lê die aanhangers van
Kuyper se leer ´n klag by die Sinode wat in 1936 te Amsterdam
gehou is. Hulle oordeel dat die weerlegging van Kuyper se leer
“een beweging is die de kerken vergiftigt” (Meijer, 1964:140).
Die sinode neem die klag teen die professore ernstig op deur ´n
kommissie te benoem om die behandeling van die
leergeskil voor te berei (Van Tongeren, 1952:25). Tydens die
daaropvolgende Sinode (Sneek 1939) doen die kommissie verslag oor
die geskil insake die leer. Professor Schilder word daarvan
beskuldig dat hy van die Skrif en belydenis afwyk (Van Tongeren,
1952:39). Onder moeilike omstandighede - hy mag nie publiseer nie
en moet naderhand selfs onderduik - verweer professor Schilder
homself teen die beskuldigings wat teen hom ingebring is, asook
teen die wyse waarop die sinode optree (Van Tongeren, 1952:39,
51). Hy maak sy verweer en besware ook aan die kerkraad van
Kampen bekend. Hy vra die kerkraad van Kampen asook ander
kerkrade om beswaar teen die wyse waarop die sinode sake hanteer,
in te bring (Van Tongeren, 1952:51). Die Sinode van Sneek, wat in
1939 begin sit het, oordeel vyf jaar later, in Maart 1944, dat
professor Schilder hom aan muitery in die kerke skuldig maak
(Lagendijk, 1951:111; Van Tongeren, 1952:52; Janssen,
1955:123-125). Die sinode skors professor Schilder uit sy amp van
hoogleraar en as emeritus-predikant van die Gereformeerde Kerk
Rotterdam-Delftshaven, sonder om die kerkraad van daardie kerk in
die saak te ken (Lagendijk, 1951:115; Van Tongeren, 1952:52).
Enkele maande later word professor Greijdanus,
emeritus-hoogleraar van Kampen, geskors (ook as
emeritus-predikant) omdat hy nie bereid was om hom gewillig aan
die uitsprake van die sinode te onderwerp nie (Van Tongeren,
1952:53; Janssen, 1955:149). Later sou die sinode nog meer
ampsdraers skors (Lagendijk, 1951:118; Van Tongeren,
1952:156-197), wat daartoe gelei het dat ´n groot aantal kerke
hulle vanaf Augustus 1944 van die sinodale bestuursjuk vrygemaak
het (Van Tongeren, 1952:56; Janssen, 1955:154-156).
Dat ´n sinode van Gereformeerde kerke ampsdraers skors en afsit,
het nie die eerste keer in 1944 gebeur nie. In 1926 het iets
soortgelyks gebeur. Doktor J.G. Geelkerken, ´n Gereformeerde
predikant, het in daardie tyd ´n storm ontketen weens sy pleidooi
om ´n simboliese interpretasie van die geskiedenis in Genesis 1
tot 3 toe te laat. Toe die saak nie binne die kerkraad en die
klassis uitgesorteer kon word nie, is dit na die Generale Sinode
van Assen verwys. Daardie sinode het doktor Geelkerken tot
bekering opgeroep. Laasgenoemde het geweier om van standpunt te
verander. In plaas daarvan dat die plaaslike kerkraad doktor
Geelkerken oor sy hardnekkige volharding in dwaalleer vermaan en
eventueel skors, ondersteun hulle hom in sy siening en laat hulle
hom toe om verder te preek. Die sinode het toe ingegryp deur
doktor Geelkerken te skors en af te sit. Teen hierdie handeling
het beswaar ingekom van professor Greijdanus. Professor
Greijdanus het saamgestem dat doktor Geelkerken geskors moes
word, maar nie deur ´n sinode nie (Bremmer & Van der Stoel,
1944:7; Berkhof, 1947:296; Meijer, 1964:118-124).
Op die leergeskille wat in 1926 en 1936 tot 1944 ter sprake was,
word nie hier ingegaan nie. Die kerkregtelike optrede moet aan
die norme van die Gereformeerde kerkreg getoets word. Wat dit
betref is daar ´n duidelike ooreenkoms tussen die geskiedenis van
1926 en dié van 1936 tot 1944 te bespeur, alhoewel die onderskeie
sake wat in geding was inhoudelik nie met mekaar te doen gehad
het nie.
1926
Artikel 79 KO bepaal - ook wat die implementering van die
skorsing kragtens artikel 53 KO betref - dat bedienaars van die
Woord, wat ´n openbare growwe sonde bedryf of teen hulle
ondertekeningsformulier handel, deur die kerkraad en deur die
naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade geskors
moet word. Daarna moet die klassis met advies van die deputate
van die partikuliere sinode oordeel of hulle heeltemal uit hulle
amp afgesit moet word. Dit is nie ´n sinode se taak om tug oor
bedienaars van die Woord uit te oefen nie. ´n Sinode wat dit wel
doen, meng wederregtelik met die regeertaak van die kerkraad in.
Derhalwe moet vasgestel word dat die Sinode van Assen 1926
sinodokraties opgetree het (Schilder & Deddens, s.j.:37; Bremmer
& Van der Stoel, 1944:8; De Vries, 1990:14). Waar daar slegs ´n
uitspraak oor die leer gemaak moes word - wat deur die kerkraad
wat oor doktor Geelkerken toesig hou, geratifiseer moes word,
sodat hulle kerkregtelik verder kon handel - het die sinode
boonop ´n kerkregtelike uitspraak gelewer wat op die kerkraad
afgedwing is. Aan die magsvergryp van die Hervormde Kerk, wat
direk tot die Afskeiding en die Doleansie aanleiding gegee het,
maak die kerke van die Afskeiding en die Doleansie hulle nou self
skuldig.
Die gevolg van hierdie ongereformeerd kerkregtelike optrede het
weldra geblyk. Sekere kerke het die band met die Gereformeerde
Kerken verbreek en die Gereformeerde Kerken in Hersteld Verband
gevorm (Berkhof, 1947:296). Die geskiedenis herhaal homself: waar
meerdere vergaderings die kerke oorheers deur die kerkrade se reg
en plig tot ratihabitio (waaronder ratificatio) te ondermyn, lei
dit onvermydelik tot weerstand. Volharding in sinodokrasie lei
tot verskeuring van die kerklike samelewing.
1936 tot 1944
Laasgenoemde stelling word bevestig wanneer die gebeure van die
periode 1936 tot 1944 in oënskou geneem word. Afgesien van die
leeruitsprake wat deur sinodes in hierdie periode gemaak is, blyk
dit dat daar kerkregtelik ´n ander, nuwe beskouing en praktyk -
wat vreemd aan die kerkreg van die Doleansie is - ontstaan.
Veenhof (1949:20) vat die “nuwe kerkreg” soos volg saam:
· “1e. De generale synode heeft het recht haar zittingen te
continueeren wanneer zij dat met het oog op het profijt der
kerken gewenscht acht.
· 2e. Zij heeft het recht geheel uit eigen initiatief, dus zonder
dat de kerken die op haar agenda plaatsen, allerlei kerkelijke
zaken, ook welke de leer betreffen, in behandeling te nemen.
· 3e. Zij heeft het recht om van alle kerken, welke binnen het
kerkverband willen blijven, altijd en onmiddellijk onderwerping
aan en uitvoering van haar besluiten te vorderen. De kerken
hebben zeer zeker recht van appèl en gravamen, doch slechts met
dien verstande, dat zij altijd moeten beginnen met zich aan de
synodale besluiten de facto te onderwerpen, welke bezwaren zij
ook mogen hebben.
· 4e. Zij heeft het recht, altijd, waar het maar noodzakelijk
dunkt, het initiatief te nemen tot kerkelijke censuur over
ambstdragers, met volkomen uitschakeling van de kerk, waaraan de
ambstdragers verbonden zijn.”
Kernelemente uit die Gereformeerde kerkreg is aangetas: die duur
van meerdere vergaderings (artikel 35 KO), die agenda van
meerdere vergaderings (artikels 30 en 33 KO) en die bevoegdhede
van meerdere vergaderings (artikel 31 KO in verband met artikels
53 en 79 KO) (vergelyk Janssen, 1955:100-106). Insake artikel 31
KO interpreteer die sinode ratihabitio as direkte aanvaarding en
uitvoering, terwyl die “tensy” van die artikel wesenlik gewysig
word na “totdat”. Dit beteken dat sinodebesluite bindend is
totdat ´n volgende meerdere vergadering uitspreek dat ´n besluit
ongeldig is.
Die uiteinde van die sinodokratiese optrede in 1944 was dat kerke
hulle ooreenkomstig Handelinge 5:29 - “Ons moet aan God meer
gehoorsaam wees as aan die mense” (vergelyk ook artikels 7 en 32
NGB) - vrymaak van die onskriftuurlike binding aan leeruitsprake
van die sinode (Van Tongeren, 1952:55). Daarmee het hulle nie die
kerkverband verbreek nie. Kragtens die ratihabitio van artikel 31
KO het hulle die ongeldige besluite van die sinode nie aanvaar
(geaksepteer, geratifiseer) nie, en belowe om die bewyse van
ongeldigheid (ostentatio irratideclarationis) te lewer. In
reaksie hierop het die sinode die beswaarde kerke verplig om
hulle besluite uit te voer, of anders die kerkverband te verlaat
(Van Tongeren, 1952:56). Toe die Gereformeerde Kerk Bergschenhoek
voet by stuk hou deur die onskriftuurlike sinodebesluite nie te
ratifiseer en uit te voer nie, word hy in Augustus 1944 deur die
sinode uit die kerkverband verwyder (Van Tongeren, 1952:56,
198).
Op 11 Augustus 1944 word ´n vergadering belê waar beswaarde
lidmate, waaronder vele ampsdraers, byeengekom het en waar die
Acte van Vrijmaking of Wederkeer voorgelees is (Janssen,
1955:275-280). Die Vrijmaking waarvan hierdie akte melding maak,
dui op vrymaking van die sinodale bestuursjuk. Wederkeer dui op
terugkeer tot gehoorsaamheid aan die Skrif en die Gereformeerde
belydenis (Van Tongeren, 1952:59). Ooreenkomstig die Acte van
Vrijmaking of Wederkeer het talle kerkrade hulle van die binding
aan sinodebesluite losgemaak. Dit impliseer dat daardie kerkrade
´n bewuste keuse ten gunste van die geskorste ampsdraers en van
die ratifikasiereg en -plig van plaaslike kerke gemaak het.
Sodoende het hulle buite die kerkverband van die Gereformeerde
Kerken in Nederland geraak (Van Tongeren, 1952:193). Die
vrygemaakte kerke het met mekaar in verband getree. Die naam van
die kerkverband is De Gereformeerde Kerken in Nederland (Van
Tongeren, 1952:59). Ter onderskeiding van die “sinodale” kerke,
word die kerkverband dikwels nader aangedui met onderhoudend
artikel 31 Dordtse Kerkorde of Vrijgemaakt.
Soos die Afskeiding en die Doleansie niks anders as terugkeer na
en voortbou op die reeds geformuleerde Gereformeerde beginsels
was nie, was ook die Vrymaking in 1944 ´n wederkeer na die “ou
paaie” (Jeremia 6:16; vergelyk Janssen, 1955:159-160). Die kerke
het hulle nie van hulle ratificatio-plig laat beroof nie.
In die periode 1892 tot 1944 was daar sowel uitgesproke voor- as teenstanders van die reg en plig van ratificatio. Omdat die doel van hierdie verhandeling is om die belang van die ius ratificationis vir die Gereformeerde kerkreg na te vors (vergelyk 1.4), word hoofsaaklik na die werke van die voorstanders daarvan verwys. Ter wille van volledigheid word aan die sienswyses van enkele teenstanders aandag gegee.
In sy omvangryke studie oor die Gereformeerde kerkreg, wat gedurende die dertigerjare van hierdie eeu vir die eerste keer gepubliseer en in 1970 onveranderd herdruk is, maak doktor H. Bouwman waardevolle opmerkings wat op die onderwerp betrekking het.
5.2.5.2.1.1 Kerkverband
Volgens Bouwman (1970:12) berus kerkverband prinsipieel op die
eenheid van die kerke in Christus. Praktiese beoefening van
eenheid is slegs by kerke van gemeenskaplike belydenis moontlik.
Sonder eenheid in die belydenis kan daar geen eenheid in
beoefening van ´n Gereformeerde kerkverband wees nie
(1970:13).
Kerkverband kom tot stand deurdat plaaslike, selfstandige kerke
hulle aan mekaar verbind. Dit impliseer dat die plaaslike kerk
aan die kerkverband voorafgaan (1970:13). Die verskillende
plaaslike kerke smelt nie in een klassikale kerk saam nie. Hulle
word nie onderafdelings van een groot kerk, sodat hulle vryheid
en selfstandigheid opgehef sou word nie (1970:14).
Die plaaslike kerk ontleen die reg en mag van Woord-, sakrament-
en tugbediening nie aan die kerkverband nie, maar aan Christus.
Die regte wat aan die plaaslike kerke toekom, mag nie van hom
weggeneem en aan die kerkverband gegee word nie. Die kerkverband
mag op geen manier die vryheid en selfstandigheid van die
plaaslike kerke aantas nie. Dit moet wel die vryheid en
selfstandigheid van die plaaslike kerk bevorder en bewaar
(1970:14).
Volgens Bouwman is dit nie gewens om te praat van die absolute
soewereiniteit of outonomie van die plaaslike kerke nie. Die Here
is die Wetgewer. Die kerke kan nie hulle eie (outos) wet (nomos)
maak nie (1970:15). Die vryheid en selfstandigheid van die
plaaslike kerke mag derhalwe nie opgevat word asof hulle hul nie
aan die susterskerke en aan die uitsprake van meerdere
vergaderings hoef te steur nie (1970:14). Wanneer die kerke
eenmaal in kerkverband saamgekom het, is hulle aan die orde van
die kerkverband gebind. Hierdie binding is nie in stryd met die
kerke se vryheid nie, omdat Gods Woord die enigste reël vir
geloof en lewe is. Dié reël geld vir die individuele lidmate, vir
die plaaslike kerk, sowel as vir die meerdere vergaderings
(1970:15).
5.2.5.2.1.2 Meerdere vergaderings
Bouwman beskou ´n meerdere vergadering as ´n samekoms van
meerdere kerke. ´n Meerdere vergadering word saamgestel uit
afgevaardigdes van plaaslike kerke wat deur middel van ´n
kredensiebrief reg van sitting verkry (1970:17, 21, 28). Die reg
tot sitting van meerdere vergaderings word deur middel van
kredensie- en lasbriewe verleen (1970:61).
Anders as die kerkraad, is die meerdere vergadering geen vaste
kollege nie. Derhalwe het die meerdere vergadering ook geen eie,
selfstandige, volledige mag nie. In navolging van Voetius
(vergelyk 5.2.3.1.1) beskou Bouwman die mag van meerdere
vergaderings as afgelei, beperk (1970:18, 21, 22, 27). Die mag
van meerdere vergaderings is niks anders as broederlike hulp nie.
Besluite moet geneem word soos broeders van dieselfde huis dit
behoort te doen (1970:57, 66). Die mag om besluite te neem lê nie
in die feit dat die aanwesige deputate ampsdraers is nie, maar in
die feit dat die aanwesige ampsdraers wettig deur die kerke
gedeputeer en met mag beklee is om namens die deputerende kerke
te handel (1970:21).
Die woord “meerdere” wys op die groter aantal kerke wat op ´n
meerdere vergadering verteenwoordig is en ook op die meerdere
gesag wat die vergadering uitoefen. Die gesag is “meerder” omdat
´n groter hoeveelheid kerke, deur hulle afgevaardigdes, hulle
gesag verenig (1970:18). Dit beteken nie dat die meerdere
vergaderings hoër gesag of bestuursmag het nie. Ook tydens die
sitting van ´n klassis of sinode bly die mag van die kerke
dieselfde (1970:18). In die meerdere vergaderings voeg die kerke
deur middel van hulle afgevaardigdes hulle magte saam, en kan
daar gepraat word van ´n mag in hoër graad. Die mag van die
sinode is in bepaalde gevalle groter as dié van ´n enkele kerk,
byvoorbeeld in geval van hoër beroep (1970:19).
5.2.5.2.1.3 Bindingskrag van besluite
Met die aanvaarding van die kerkorde erken die plaaslike kerke
die gesag van meerdere vergaderings en verbind hulle hul
vrywillig aan die besluite van sulke vergaderings (1970:47, 63).
Wanneer ´n plaaslike kerk tot die verband van kerke toetree,
ontvang hy leiding en steun van die ander kerke. Dan moet hy
homself ook aan die leiding van die meerdere vergaderings
onderwerp. Dit is geen invoer van hiërargie in die kerk nie, maar
´n gesamentlike onderwerping aan die juk van Christus en ´n
gesamentlike soeke na die handhawing van God se reg (1970:39).
Bowendien berus die gesag van sinodes op ´n Goddelike instelling.
Wie hom teen die Christus-gegewe mag verset, tas die ordinansie
van God aan (1970:49).
Meerdere vergaderings beskik nie alleen oor die bevoegdheid om
raad en advies te gee nie. Hulle beskik kragtens Matteus 18:20 en
Handelinge 15:22-29 inderdaad oor die bevoegdheid om bindende
besluite te neem (1970:49, 52).
Meerdere vergaderings mag die plaaslike kerke nie willekeurig
bind en sodoende die vryheid en selfstandigheid van die plaaslike
kerke aantas nie (1970:50).
Geldige besluite moet deur die kerke aanvaar en uitgevoer word.
Dit is die eis van die kerkverband (1970:21, 53, 59). Wanneer ´n
kerkraad of ´n groot deel van die kerkraad weier om die
beslissing van ´n sinode te erken, het die sinode die reg om die
kerkraad die uitoefening van die amp te ontneem (1970:27) of van
die kerkverband af te sny (1970:75).
In geval van appèl moet die reël gehandhaaf word dat ´n mindere
vergadering (dit sluit ´n plaaslike kerk en individuele lidmaat
in) sal begin deur hom te onderwerp aan en te voeg na die genome
besluit. Die meerdere vergadering kan later uitmaak of die
beswaardes grondige motiewe vir hulle beswaar gehad het al dan
nie (1970:45).
5.2.5.2.1.4 Hantering van besluite
Besluite tydens meerdere vergaderings word gemeenskaplik deur die
kerke, deur middel van hulle afgevaardigdes, geneem. Daarna word
die opgetekende besluite (acta) aan al die kerke in die
kerkverband gestuur, sodat die kerke kan ondersoek of dit in
ooreenstemming met God se Woord en die artikels van die kerkorde
is, en sodat hulle die besluite van die meerdere vergaderings kan
onderhou (1970:53).
Wanneer ´n besluit geldig is, moet die kerke dit as sulks aanvaar
en uitvoer (1970:21, 53). As ´n besluit van ´n meerdere
vergadering egter met God se Woord of die geldende kerkorde in
stryd is, mag die kerke dit nie gehoorsaam nie. In daardie geval
moet dit bewys word (1970:21, 55, 58, 61). Die onus rus op die
mindere vergadering om die nodige bewyse vir ongeldigheid te
lewer (1970:56, 57).
Indien ´n plaaslike kerk oordeel dat ´n meerdere vergadering sy
bevoegdheid oorskry deur byvoorbeeld dissiplinêr te eis dat
ongeldige besluite uitgevoer moet word, moet so ´n kerk eerder
uit die kerkverband tree as om teen die Woord van God en sy eie
gewete te handel (1970:57).
5.2.5.2.1.5 Beoordeling
Alhoewel Bouwman aan die beginsels van die Gereformeerde kerkreg
wil vashou, is daar by hom inkonsekwentheid waar dit kom by die
toepassing van die beginsels. Enersyds ag hy die mag van die
meerdere vergadering slegs as “broederlike hulp”. Andersyds
identifiseer hy hom met die optrede van die Sinode Assen 1926
deur daarmee akkoord te gaan dat sinodes tugreg het wat deur die
kerkrade erken moet word. Beide standpunte is in stryd met
artikel 31 KO. Ratificatio gaan daarvan uit dat meerdere
vergaderings besluite kan neem wat kerke bind. Dit is meer as
“broederlike hulp”. Ratificatio gaan ook daarvan uit dat ´n
meerdere vergadering geen onvoorwaardelike erkenning van sy
besluite kan vereis nie, aangesien die besluite eers aan die norm
van Gods Woord en die geldende kerkorde getoets moet word.
´n Verdere inkonsekwensie blyk wanneer Bouwman aan die een kant -
met juistheid - sê dat, as ´n besluit met Gods Woord in stryd is,
dit nie uitgevoer mag word nie. Aan die ander kant sê hy -
verkeerdelik, moontlik as gevolg van die praktyk van die Sinode
van Assen 1926 - dat meerdere vergaderings tugreg het en kerke
moet begin om hulle aan die besluite van meerdere vergaderings te
onderwerp. Die “tensy” van artikel 31 KO verander in
“totdat”.
Die slotsom waartoe gekom word, is dat Bouwman wel die beginsel
van ratificatio wil handhaaf, maar die handhawing nie in die
praktyk konsekwent volhou nie. Sodoende is sy werk tekenend van
die kerkregtelike toestand waarin die Gereformeerde Kerken in
Nederland hulle in die jare tussen 1926 en 1944 bevind het.
Die duidelikste uiteensetting van die toepassing van ratificatio in die jare van die Vrymaking word aangetref in professor P. Deddens se inougurele rede getiteld De ratificeering der besluiten van meerdere vergaderingen (1946). ´n Samevatting van die wesenlike sake uit die rede word weergegee, asook tersaaklike opmerkings wat Deddens in die geskrif Eerste- en Tweedehands gezag gemaak het.
5.2.5.2.2.1 De ratificeering der besluiten van meerdere vergaderingen
Alvorens Deddens in sy inougurele rede ratificatio teties
uiteensit, gee hy ´n oorsig oor die historiese agtergrond en
prinsipiële onderbou daarvan. Hy stel dat die kerk van die Here
´n toevlugsoord van vryheid is (1946:3). Buite die kerk heers die
skepsel. Binne die kerk is geen mens iemand anders se meester
nie. Slegs een Woord geld, waaraan almal gehoorsaam moet wees:
die Woord van God.
Dit is die kerk se roeping om daardie vryheid te bewaar en geen
juk van enige ander skepsel te aanvaar nie (1946:4). Die oomblik
as die kerk die vryheid in die Here verloor, kom hy onder die mag
van die kreatuur te staan. Alle heerskappy van mense in die kerk,
van ampsdraers
onderling of van kerke ten opsigte van mekaar, is aanranding van
die gesag van die enigste Despoot, Jesus Christus, en ´n aanslag
op die vryheid wat Hy verwerf het.
Talle voorbeelde uit die geskiedenis wys hoe Christus se
alleenheerskappy in die kerk misken word: opkoms van die
monargiese episkopaat, vestiging van kerklike hiërargie,
ontwikkeling van die staatskerk in die dae van Konstantyn en
daarmee gepaardgaande sinodokrasie. Uiteindelik ontvang die pous
as Vicarius Christi onbeperkte mag oor die hele kerk (1946:5). Hy
maak wette, maar is self nie aan die wette gebind nie.
Konsiliebesluite moet eers sy toestemming verkry alvorens dit
regsgeldig is en gepubliseer kan word. Die vryheid van die kerk
word beperk tot gehoorsaamheid aan die pous.
Teen hierdie geestelike tirannie het die reformatore hulle verset
deur te appelleer op Christus se Woord. Hulle kom op vir die
regte van die gemeente, wat in die Woord vasgestel is. In die
Naam van Christus ontken Luther dat die pous, biskoppe en
konsilies alleen die reg het om te oordeel oor wat Christelik is.
Christus gee daardie reg immers aan elke Christen in besonder en
aan alle Christene in die algemeen. Ook Zwingli gaan uit van die
absolute gesag van God se Woord teenoor die hiërargie van Rome.
Calvyn is die reformator wat die lyne met betrekking tot die
hiërargie die skerpste getrek het (1946:6). Calvyn sê: alle gesag
en waardigheid in die kerk is nie aan die mens self gegee nie,
maar aan die diens waarin die mens gestel is. Konsilies moet met
die weegskaal van die Skrif geweeg word.
Die vrees vir menslike heerskappyvoering in en oor die kerk is so
sterk, dat artikel 1 van die Emdense Kerkorde begin met
doelbewuste bestryding daarvan: “Gheen Kercke sal over een ander
Kercke, gheen Dienaer des Woorts, gheen Ouderlinck, noch Diaken
sal d’een over d’ander heerschappie voeren, maar een yeghelijck
sal hen voor alle suspicien, ende aenlockinge om te heerschappen
wachten”. Met die erkenning van hierdie beginsel staan of val die
reformasie in sy geheel (Deddens, 1946:9). Alle ander artikels in
die kerkorde wat oor meerdere vergaderings handel, staan hiermee
in verband. Wie die reg en vryheid van die plaaslike kerke
misken, verwerp artikel 1 van die Emdense Kerkorde en “pleegt een
aanslag op het fundament der Reformatie”.
Aan die hand hiervan beoordeel Deddens die sinodale optrede van
die Gereformeerde Kerken in Nederland rondom 1944, en kom hy tot
die volgende slotsom:
· ´n Sinode wat op eie inisiatief die belydenis uitbrei, raak aan
die fondament van die reformasie.
· ´n Sinode wat eiemagtig sy sittings kontinueer, raak aan die
fondament van die reformasie.
· ´n Sinode wat teen die kerkorde in ampsdraers skors en afsit,
raak aan die fondament van die reformasie.
· ´n Sinode wat met totale negering van die plaaslike kerkraad
ampsdraers uitsluit van nagmaal, raak aan die fondament van die
reformasie.
Die finale slotsom waartoe hy kom, is: “Een Synode, die het ius
ratificationis naar artikel 31 ontkent, en daarmee, naast de
vrijheid der Kerken, het geweten der Kerkleden gebonden heeft, is
zoover gekomen, dat zij het beheerschende artikel der
Kerkenordening in den hartader heeft getroffen, de Kerkenordening
heeft prijsgegeven en het fundament der Reformatie heeft
ontwricht” (1946:10).
Hierdie slotsom, wat na aanleiding van genoemde historiese
gebeure gemaak is, word in die vervolg van die rede aan die hand
van artikel 31 KO toegelig en bewys. Die toeligting word ter
wille van oorsigtelikheid puntsgewys weergegee.
1. Meerdere vergaderings neem, nadat daar gestem is, besluite.
Hulle stel geen advies op nie, maar oordeel, beslis, besluit. Die
reg om besluite te neem is kragtens die “gemeen accoord” van die
kerke aan hulle gegee. In die kerkorde van die Gereformeerde
kerke is daar geen ruimte vir independentisme nie. Wie opkom vir
die vryheid van die plaaslike kerke, mag onder geen omstandighede
die vasgelegde regte van die kerkverband te na kom nie
(1946:11).
2. Op die besluit-daad van die meerdere vergadering moet nou ´n
tweede daad volg. Hierdie tweede daad kom van die kant van die
kerke. Die kerke moet, volgens belofte, die besluit van die
meerdere vergadering vir vas en bindend hou (1946:11).
3. Die belofte wat die kerke maak, is nie onvoorwaardelik nie.
Die kerke belowe om sinodebesluite vir vas en bindend te hou,
tensy. Daar is ´n grens. Die grens is God se Woord en die
kerkorde. Indien ´n meerdere vergadering die grens oorskry, hou
die kerke die besluit wat geneem is nie vir vas en bindend nie.
Dan is so ´n besluit ook nie bindend nie (1946:12).
4. Dit is die reg van die kerke om ooreenkomstig artikel 31 KO in
bepaalde gevalle sinodebesluite nie vir vas en bindend te hou nie
(1946:12).
5. Die plig van die kerke is om die grenswag te betrek deur in
ooreenstemming met artikel 31 KO die sinodebesluite te toets.
Kerke moet toesien dat God se Woord ongeskonde bewaar bly.
Versaking van die plig - die geskiedenis wys dit keer op keer -
lei vroeër of later tot die noodlottigste gevolge (1946:12).
6. Sodra die kerke na toetsing oortuig is dat die besluit van die
meerdere vergadering reg en goed is, dat dit nie met die dubbele
voorbehoud van artikel 31 KO in stryd is nie, dan eers ratifiseer
hulle die besluit. Hulle bekragtig dit, en voer dit uit
(1946:12).
7. Ratifisering is ´n geïntegreerde deel van die reg insake die
geldigheid van besluite van ´n meerdere vergadering. Sonder
ratifisering van die kant van die kerk het die besluit van ´n
meerdere vergadering geen regsgeldigheid, geen regskrag vir
daardie kerk nie, aangesien die “rechtstitel” ontbreek
(1946:12).
8. Die argument dat kerke in ´n sinode byeenkom en besluite neem,
en dat die beslissing deur die kerke in die sinodale vergadering
tewens hulle ratificatio is, is onjuis. ´n Afgevaardigde en die
kerk wat hom afvaardig kan nie met mekaar geïdentifiseer word
nie. Die afgevaardigde se werk kan en moet altyd deur die
afvaardiger getoets en bekragtig (geratifiseer) word
(1946:13).
9. Deddens beroep hom op Calvyn, wat sê dat ´n konsilie of sinode
slegs voorlopig kan oordeel; die volgende en definitiewe oordeel
berus by diegene wat deur die besluite geraak word (Institusie
IV, 9, viii). “Dat volgend oordeel is dan de ratificeering,
approbatie, bekrachtiging, goedkeuring der Synodebesluiten”
(1946:12).
10. Artikel 36 KO (oor die seggenskap van meerdere vergaderings)
staan in geen enkele opsig teenoor artikel 31 KO nie. Dit staan
ook nie aanvullend langs artikel 31 KO nie. Artikel 36 KO is niks
anders as ´n nadere onderstreping - met die oog op die praktyk -
van dit wat artikel 31 KO reeds uitgespreek het nie
(1946:13-16).
11. Die reg van ratifisering van besluite van meerdere
vergaderings het hoogstaande waarde. Dit handhaaf die vryheid en
selfstandigheid van die plaaslike kerke. Dit dien as beskerming
teen die immer opstuwende mag van hiërargie, en wel hiërargie in
sy gevaarlikste vorm: “het niet ontzien van de rechten van het
aan Gods Woord getoetste geweten” (1946:16).
12. “Neem uit artikel 31 het ratificeeringsrecht weg, en mét de
vrijheid der Kerken is de vrijheid van geweten aan banden gelegd;
één van de beide hoofdpeilers, waarop het kerkelijk recht in de
praktijk steunde, is weggeslagen, de Kerkenordening is
prijsgegeven, het fundament der Reformatie is ontwricht”
(1946:17).
13. Deddens bespreek ten slotte die vraag of toepassing van die
reg tot ratificatio nie tot chaos in die kerklike lewe lei nie.
Hy antwoord: alle ampsdraers onderteken die drie formuliere van
eenheid (artikels 53 en 54 KO). As daardie ondertekening ernstig
opgeneem word, lei ratificatio nooit tot chaos nie. Inteendeel,
onderwerping aan die Woord kom nooit bedroë daarvan af nie. Die
mag van die Woord is sterker as alle gesag van sinodebesluite.
Verbum Dei vincit (1946:17).
5.2.5.2.2.2 Eerste- en Tweedehands gezag
In hierdie geskrif, wat Deddens saam met Schilder die lig laat
sien het, reageer hy op bewerings wat ten tye van die Vrymaking
gemaak is, naamlik dat ratificatio van sinodebesluite deur ´n
mindere vergadering ´n vreemde en ongereformeerde praktyk is
(s.j.:48). Hy verwys na die optredes van die mindere vergaderings
in die jare 1571 tot 1620 (vergelyk 2.1.2.2.1.3 en 5.2.2.2) asook
na die werke van F.L. Rutgers en J. Jansen (s.j.:50) om aan te
toon dat ratificatio so oud soos die Gereformeerde kerkreg self
is.
Deddens wys voorts op die kerkregtelike beginsel wat onderskeid
maak tussen die oorspronklike (amptelike) gesag van die
ampsdraers in die plaaslike kerk en die afgeleide (nie-amptelike)
gesag van afgevaardigdes na ´n meerdere vergadering. Meerdere
vergaderings het geen eie bevoegdheid waardeur hulle op eie gesag
kan ingryp in die sake wat op die tafel van ´n mindere
vergadering tuishoort nie. Meerdere vergaderings ontvang hulle
bevoegdheid as ´n afgeleide bevoegdheid wat deur mindere
vergaderings aan hulle opgedra is (s.j.:46).
In verband met die verskil tussen die bevoegdheid (gesag) van ´n
kerkraad en dié van ´n meerdere vergadering merk Deddens elders
op dat “oneindig ver boven alle gezag van mensen uit het gezag
van Christus rijst, die spreekt door Zijn Woord” (1956c:195). Dit
beteken dat nòg ´n kerkraad, nòg ´n sinode onvoorwaardelike
onderwerping aan sy besluite kan verwag (1956a:186; 1956c:195).
5.2.5.2.2.3 Beoordeling
Deddens se omskrywing van ratificatio omvat sowel die goedkeuring
(finale oordeel) van ´n besluit van ´n meerdere vergadering as
die bekragtiging (aanneming) van so ´n besluit. Ratificatio is by
Deddens gelyk aan ratihabitio, met uitsondering van die executio
(uitvoering) van ´n geldige besluit van ´n meerdere
vergadering.
In paragraaf 2.1.2.6.2 is aangetoon dat die ratihabitio van
artikel 31 KO uit drie dele bestaan: toetsing (probatio) wat
uitloop op goedkeuring of geldigverklaring (ratideclaratio) van
´n besluit van ´n meerdere vergadering, aanvaarding (acceptatio)
van die geldigverklaarde besluit, en ten slotte uitvoering
(executio) van daardie besluit. Deddens se beskrywing van
ratificatio bevat een element meer as wat in hierdie verhandeling
voorgestel word, naamlik die geldigverklaring van ´n besluit.
Die positiewe van Deddens se studie oor ratificatio is die breë
konteks waarbinne hy dit stel. Teen die immer dreigende gevaar
van sinodokrasie is dit onmisbaar dat kerkrade die “grenswag
betrek” deur toe te sien dat die Woord van God ongeskonde bewaar
bly. Ratificatio is inderdaad geen “sine cure”, geen “bewilliging
pro forma” nie (Deddens, 1946:12). Getroue bewaking van die
grense kom neer op aktiewe, welbewuste gehoorsaamheid aan Jesus
Christus, die Koning van die kerk. In die Vrymaking was en is die
bevestiging van hierdie beginsel uit die Gereformeerde kerkreg
van kardinale belang.
Dit moet wel opgemerk word dat Deddens, wat die eerste
breedvoerige studie oor ratificatio gemaak het, nie al vier
stappe in die proses van ratihabitio noukeurig van mekaar
onderskei nie. Die gevolg hiervan is dat die eintlike betekenis
van ratificatio, dit is die kerkraad se eie-maak van besluite van
´n meerdere vergadering, onderbeklemtoon kan word.
Ratificatio, soos in hierdie verhandeling gedefinieer, is
wesenlik nie anders as dit wat Deddens daaronder verstaan nie.
Dit is wel ´n wetenskaplike verfyning van Deddens se standpunt in
hierdie saak.
5.2.5.2.3.1 Ratificatio en Eerste- en Tweedehands gezag
In die voorwoord vir die brosjure getiteld Eerste- en Tweedehands
gezag skryf Schilder (s.j.:5) dat die grondvraag met betrekking
tot die kwessie of ´n sinodebesluit deur ´n kerkraad geratifiseer
moet word al dan nie, die volgende is: “Heeft een synode primair
dan wel secundair gezag?”. In aansluiting by Deddens is Schilder
van mening dat die gesag van ´n meerdere vergadering, wat die
oorsprong daarvan betref, anders is as die gesag van ´n kerkraad
(s.j.:12). Die gesag van sinodes is naamlik ontleen, tydelik,
aksidenteel, beperk, sekondêr, tweedehands (s.j.:13); anders as
die eerstehandse gesag van die kerkrade (vergelyk die titel).
Uit die veronderstelling dat meerdere vergaderings sekondêre
gesag het, vloei as vanselfsprekend voort dat die kerkraad wat
oor primêre gesag beskik, verplig is om die besluite van die
meerdere vergadering te toets (s.j.:17). Die besluite van sinodes
word derhalwe aan die kerke bekendgemaak, sodat kerkrade kan
beslis wat hulle daarmee sal doen (s.j.:39).
´n Afsonderlike moment in die kerkregtelike proses rondom
besluitneming is “het ratificeeren en arresteeren (het voor vast
en bondig houden) der synodale besluiten” (s.j.:39). Daarvoor is
die plaaslike kerke self verantwoordelik. Om besluite van ´n
meerdere vergadering vir vas en bindend te hou (ratum habere)
beteken nie slegs dat die besluite in ´n teoretiese sin as geldig
beskou word nie. Ratum habere impliseer dat besluite met die daad
aangeneem (geratifiseer) word. Ratificatio is ´n opsetlike,
bewustelike, afsonderlike handeling van die kant van die kerkraad
(s.j.:39).
Kerkrade word nie voor ´n keuse gestel of hulle wel of nie wil
ratifiseer nie. Dit móét gedoen word, aangesien die kerke dit
deur middel van hulle kredensiebriewe by voorbaat vir mekaar
belowe het (s.j.:39). Trouens, “reeds de daad van het neemen
eener beslissing door de meerdere vergadering zelf houdt een
erkenning van het recht der kerken tot zelfstandige toetsing der
genomen besluiten, ja, de roeping daartoe in” (s.j.:7). Wie nie
´n independent is of wil wees nie, sal seker sy
ratificatio-belofte nakom, selfs al sou hy persoonlik nie
heeltemal met die verloop van sake saamstem nie (s.j.:39).
Teenoor aantygings dat ratificatio - soos dit tydens en na die
Vrymaking toegepas is en word - kerkverwoestend werk, merk
Schilder op dat die teendeel die geval is. Deur te ratifiseer
word die kerke beskerm teen ´n binding aan iets wat deur mense
bedink is (Schilder, 1946:80, 86-87). Ratificatio is ´n middel om
eenheid op grond van die waarheid te bevestig.
Oor die effek van nie-ratifikasie en nie-arrestasie van ´n
ongeldige besluit, oordeel Schilder dat die kerkverband nie
daarmee gebreek word nie (s.j.:41). Omdat die kerkverband in
artikel 31 KO die weg tot ratificatio geopen het, is sulke vrese
ongegrond. Hoogstens die manier waarop ´n mens hom tydens en ten
opsigte van die nie-ratifikasie gedra, hoogstens die “tegniek”
van die beswaard wees kan die kerkverband in gevaar bring.
Daarteen moet die sinode sowel as die beswaarde waak (s.j.:41).
5.2.5.2.3.2 Beoordeling
Ratificatio rus volgens Schilder in die verhouding wat daar
tussen die kerkraad (as lasgewer) en die sinode (as vergadering
van lashebbers) bestaan. Omdat ´n lashebber verantwoording aan sy
lasgewer verskuldig is, is ratificatio noodsaaklik. Dit is verder
noodsaaklik omdat sinodes nie die kerk regeer nie, maar wel die
kerkraad (vergelyk 2.1.2.2.1.4).
Behalwe dat Schilder nadruk lê op die verhouding tussen lasgewer
en lashebber, kom sy omskrywing van ratifikasie wesenlik met dié
van Deddens ooreen. Ratificatio is goedkeuring en aanvaarding van
die geldige besluite van meerdere vergaderings, dit wil sê gelyk
aan ratihabitio met die uitsondering van executio.
5.2.5.2.4.1 Ratificatio en die “nuwe kerkreg”
Sowel in sy Om de Unica Catholica: een beschouwing over de
positie van de bezwaarden onder en over de synodocratie (1949) as
in sy In den chaos: een woord over de huidige crisis in de
Gerefomeerde Kerken (s.j.) toon Veenhof aan hoe die reg en plig
van ratificatio ´n voortbouing op die Doleansie-kerkreg is.
Veenhof stel dat die aanleiding tot die prominente vooropstelling
van die ratifikasiereg gesoek moet word in ´n “geheel nieuwe
kerkrechtelijke beschouwing en praktijk” wat sedert 1926 met die
Sinode van Assen prinsipieel van die Doleansie-kerkreg afgewyk
het (1949:20). Die kerkreg van die Doleansie het die
selfstandigheid van die plaaslike kerk opnuut beklemtoon en die
verhouding tussen die mindere en meerdere vergaderings duidelik
uitgespel (1949:236). Sedert 1926 - toe die Sinode van Assen
doktor J.G. Geelkerken wederregtelik afgesit het - is die
kerkregtelike basis waarop die Doleansie die Gereformeerde Kerken
gestel het, verwerp (1949:236). In 1944 bereik die verwerping van
die basis volgens Veenhof ´n dieptepunt, toe die sinode aan
homself ´n regeermag oor die plaaslike kerk toegeken het. Dit is
in wese ´n terugval in die Roomse en sinodale hiërargie.
Teenoor die wanpraktyke wat in die Gereformeerde kerke plaasvind,
en op grond van die Doleansie-kerkreg, stel Veenhof dat die mag
van die kerkraad in sy aard hoër is as die mag van ´n meerdere
vergadering (s.j.:60). Hy begrond hierdie stelling deur daarop te
wys dat die kerkraad van Christus regstreeks oorspronklike,
volledige en duursame mag verkry. Die mag van die meerdere
vergaderings is via die kerke aan hulle gegee, en derhalwe
afgelei, beperk en tydelik (s.j.:60).
Veenhof beskou ´n meerdere vergadering as ´n vergadering van
kerke (s.j.:67). Dit is nie ´n vergadering van ampsdraers soos ´n
kerkraad nie. In ´n meerdere vergadering is kerke deur hulle
afgevaardigdes verteenwoordig. Die afgevaardigdes is nie daar
kragtens hulle amp nie, maar kragtens hulle afvaardiging.
Omdat ´n meerdere vergadering geen hoër vergadering is nie, kan
daar nooit sprake wees van gehoorsaamheid wat die kerkrade aan
hulle verskuldig is nie. Die besluite van ´n meerdere vergadering
het gesag omdat die kerke beloof het om besluite vir vas en
bindend te hou. Aanvaarding en uitvoering van besluite kom neer
op die nakom van onderlinge afsprake (s.j.:67).
Aan die aanvaarding van besluite is daar van meet af aan ´n grens
gestel. Besluite van meerdere vergaderings wat volgens die
oordeel van die betrokke kerkrade of persone in stryd met God se
Woord of die geldende kerkorde is, sal nie vir vas en bindend
gehou word nie. Die “tensy” van artikel 31 KO is die skarnier
waarop die hele Gereformeerde kerkregering draai (s.j.:68).
Vir vas en bindend hou beteken: die besluit van harte oorneem en
uitvoer. Die kerkraad spreek in die “vir vas en bindend hou” die
laaste woord. Indien die kerkraad oordeel en verklaar dat hy ´n
besluit nie vir vas en bindend kan of mag hou nie, moet daar twee
dinge gebeur: hy voer die besluit nie uit nie (teen hiërargie),
en hy moet aan die kerkverband bewys lewer waarom hy nie kan
ratifiseer nie (teen independentisme) (s.j.:68).
5.2.5.2.4.2 Beoordeling
Waar Veenhof na ratificatio as die “oorneem” en “uitvoer” van
besluite van meerdere vergaderings verwys, stel hy ratificatio
gelyk aan ratihabitio.
Veenhof koppel die binding aan die besluite van ´n meerdere
vergadering aan die afspraak wat die kerke in die meerdere
vergadering met mekaar het. Volgens hom het die besluite van
´n
meerdere vergadering gesag omdat die kerke beloof het om besluite
vir vas en bindend te hou. Aanvaarding en uitvoering van besluite
is gevolglik ´n kwessie van die nakom van onderlinge afsprake.
Hierdie gevolgtrekking is ontoereikend. Binding aan besluite is
nie slegs om ´n onderlinge belofte te hou nie. Daarmee word
ratificatio verhorisontaliseer. Binding aan geldige besluite is
in die eerste plek onderwerping aan die alleenheerskappy van
Christus in die kerk. Daartoe moet ratificatio bydra.
5.2.5.2.5.1 H. Dooyeweerd en D.H.T. Vollenhoven
Die manne van die Wysbegeerte van die Wetsidee, professore
Dooyeweerd en Vollenhoven, het ´n beswaarskrif ingedien teen die
skorsing van professor Schilder (Veenhof, 1949:219). Uit die
beswaarskrif en uit ander korrespondensie wat hulle gevoer het,
word dit duidelik wat hulle kerkregtelike siening rondom artikel
31 KO was. Veenhof (1949:224, 225) gee dit soos volg weer:
1. Die generale sinode is geen vergadering van kerke nie, maar
van afgevaardigdes van kerke. Die afgevaardigdes is nie daar in
hulle kwaliteit as ampsdraers, soos wanneer hulle in ´n kerkraad
opsig en tug uitoefen nie. Afgevaardigdes kan die kerke slegs
solank verteenwoordig as wat hulle hul aan die Skrif, belydenis
en kerkorde hou. As ´n kerk vir homself kan bewys dat daar nie
aan hierdie voorwaarde voldoen is nie, is die besluit wat geneem
is nie vir hom vas en bindend nie. Via die klassis en
partikuliere sinode moet die kerk poog om sy afgevaardigdes terug
te roep en om ´n nuwe sinode byeen te bring.
2. Aan die nuwe sinode moet dan bewys gelewer word dat die
besluite wat deur die vorige sinode geneem is, teen die Skrif,
belydenis en kerkorde ingaan. Indien die betrokke kerk nie daarin
slaag om sodanige bewys te lewer nie, moet hy die genome besluit
nie alleen de facto nie, maar ook de jure erken. As hy dit nie
erken nie, verbreek hy die kerkverband met die daad.
3. Tussen die besluite van ´n sinode en die van-krag-wees van die
besluite moet ´n bepaalde tyd verloop waarin die kerke
geleentheid kry om die besluite te ratifiseer.
4. Om ´n besluit van die sinode nie vir vas en bindend te hou
nie, is die goeie reg van elke kerk en elke ampsdraer, wanneer hy
dit vir homself strydig met Skrif, belydenis en kerkorde kan
bewys.
5. Daar onstaan in geval van nie-vir-vas-en-bindend-hou-nie ´n
interim waarby in elke afsonderlike geval geoordeel moet word hoe
daar verder opgetree moet word.
5.2.5.2.5.2 G. Janssen
G. Janssen (1955:99) beskryf die noodlottigheid van die situasie indien die “tensy” van artikel 31 KO as “totdat” toegepas word. In so ´n geval moet kerke altyd, onder alle omstandighede voor sinodebesluite buig, ook voor ongeldige sinodebesluite - totdat die besluit nietig verklaar is. Die implikasie daarvan is dat afgevaardigdes bo hulle senders te staan kom. Die sinode word oppermagtig. Daarteenoor bepleit Janssen ratificatio ten einde die heerskappy van Christus te eerbiedig (1955:121-122).
5.2.5.2.5.3 S. Greijdanus
Aan die hand van artikel 7 NGB onderstreep Greijdanus (s.j.:6) die onmisbare belang van toetsing en aanvaarding van kerklike besluite. “Aan dat Woord en het zich houden daaraan moet ... alle kerkelijke spreken en handelen getoetst worden, om als zoodanig erkenning te mogen vinden” (s.j.:10).
5.2.5.2.5.4 F.L. Bos
Volgens Bos het elke mindere vergadering, ampsdraer en gelowige die reg om ´n besluit wat kennelik met Gods Woord of die artikels van die kerkorde in stryd is, nie vir vas en bindend te hou nie deur regsgeldigheid daaraan te ontsê (1950:122). Dit is ´n eis van Gods Woord dat alle gewetensbindende besluite eers skriftuurlik getoets moet word alvorens dit as bindend aanvaar word (1 Korintiërs 4:6; Galasiërs 5:1). Elke bo-skriftuurlike gewetensbinding moet verwerp word (1950:124).
5.2.5.2.5.5 Beoordeling
Al die genoemde kerkregtelikes is dit eens dat ratificatio binne die konteks van artikel 31 KO van wesenlike belang is. Ratificatio word deurgaans tereg as ´n aanvaarding van sinodebesluite beskou. Met die oog op aanvaarding moet die kerke tyd gegun word sodat besluite behoorlik getoets en geldig verklaar word.
5.2.5.2.6.1 L. Oranje
In ´n geskrif getiteld Het gezag in de kerk van Christus (1946)
gee Oranje sy persoonlike mening oor die optrede van die
vrygemaaktes gedurende die kerkstryd van 1944. Oranje beskou ´n
meerdere vergadering as ´n vergadering van afgevaardigdes wat in
die reël ampsdraers is. Die afgevaardigde ampsdraers oefen op die
meerdere vergadering die drieërlei kerklike mag uit wat God in sy
Woord aan kerkrade geskenk het (1946:24), naamlik die mag om “te
leeren, te regelen en tucht uit te oefenen” (1946:25). Die mag
van ´n meerdere vergadering is numeries meer as dié van ´n
kerkraad, aangesien afgevaardigde ampsdraers van verskeie
kerkrade in ´n meerdere vergadering hulle magte saamvoeg, terwyl
´n kerkraad uit ´n kleiner getal ampsdraers bestaan. In wese is
die gesag van alle kerklike vergaderings egter presies dieselfde
(1946:25).
Teen hierdie agtergrond bespreek Oranje die vraag of daar aan
kerke die geleentheid gebied moet word om besluite van meerdere
vergaderings te ratifiseer. Hy beskou dit as ´n absoluut onjuiste
gedagte dat ratificatio wel kan geskied. “Hebben de Kerken van
Klein-Azië soms de gelegenheid gekregen, de besluiten van de
Jeruzalemse Vergadering te keuren? Of is het niet zoo gegaan, dat
die samenkomst meteen een ‘last’ heeft ‘opgelegd’ en
‘geordoneerd’? ... Ratificatie van besluiten van de meerdere
vergaderingen door de mindere is dan ook niets anders dan
independentisme, in flagranten strijd met Gods Woord. Een
foutieve gedachte, die alleen insluipen kan, als men een
tegenstelling ziet tussen de Synode en de Kerken, die daar allen
in vertegenwoordigd zijn” (1946:31).
5.2.5.2.6.2 Moderamen Generale Sinode Utrecht
Die moderamen van die Generale Sinode Utrecht 1942, waarvan
doktor G.C. Berkouwer die praeses was, het in 1944 ´n geskrif aan
alle kerkrade van die Gereformeerde Kerken in Nederland gestuur
waarin hulle hul onder andere oor die beskouing en toepassing van
ratificatio uitspreek. Die moderamen oordeel dat daar van “een
ratificatie der genomen besluiten” soos professor Schilder dit
bepleit “in onze kerken nimmer sprake geweest is” (1944:6).
Ratificatio in die sin van bekragtiging of goedkeuring is geheel
en al in stryd met die eerste beginsels van die Gereformeerde
kerkreg, “dat nl. de meerdere vergaderingen geen bestuurscolleges
zijn maar vergaderingen der kerken; de kerken komen in de
Generale Synode samen en nemen haar besluiten, en de beslissing
door deze kerken in synodale vergadering is tevens haar
ratificatie” (1944:6).
Die moderamen roep die kerke op om die toepassing van ratificatio
af te keur, aangesien dit op “muiterij in de kerken” neerkom en
dit die samelewing van kerke in een kerkverband onmoontlik maak
(1944:1).
5.2.5.2.6.3 Kerkraad Gereformeerde Kerk Kampen
In reaksie op ´n skrywe van die kerkraad van die Gereformeerde
Kerk Enschedé (vrygemaak) het dominee J. Overduin as waarnemende
praeses van die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Kampen
(sinodaal) standpunt teen die toepassing van ratificatio
ingeneem.
Die kerkraad van Kampen gaan daarvan uit dat ´n sinode ´n
vergadering van kerke is. “Wanneer de classes, particuliere
synodes en generale synodes iets besluiten, hebben dus de kerken,
in vergadering bijeen, zelve een besluit genomen” (s.j.:7). Omdat
die kerke self besluite neem, is sodanige besluite “terstond
rechtsgeldig” en is dit nie nodig dat hulle “eerst nog weer naar
de afzonderlijke kerken (kerkeraden) ter ratificatie worden
gezonden” (s.j.:7, 8). Ratificatio van besluite is volgens die
kerkraad van Kampen ´n independentistiese voorstelling wat met
reg deur die Generale Sinode Utrecht afgewys is.
5.2.5.2.6.4 Beoordeling
Oranje redeneer konsekwent. Vanuit sy beskouing oor die taak van
meerdere vergaderings kan hy nie anders as om ratificatio as
independentisme te tipeer nie. Dit is egter reeds in paragraaf
4.2 beredeneer dat die taak van die meerdere vergaderings
wesenlik van dié van die kerkraad verskil. Die meerdere
vergaderings regeer nie die kerke nie, en is nie bevoeg om die
tug toe te pas nie. Gevolglik moet alle besluite van meerdere
vergaderings wat op die regering van die plaaslike kerk
betrekking het eers deur die kerkraad as ´n eie besluit aanvaar
(geratifiseer) word alvorens dit toegepas word. Daarsonder sou
die meerdere vergadering die plaaslike kerk regeer, wat in wese
kollegialistiese hiërargie is.
Oranje se verwysing na Handelinge 15 en 16 as bewys dat
ratificatio onskriftuurlik sou wees, berus op ´n aanname.
Handelinge 16:4 vermeld hoe Paulus en Silas “die verordeninge wat
deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was,
aan hulle (die gemeentes van Listre en Derbe) oorgegee het om te
onderhou”. Die wyse waarop die onderhouding moes
geskied, word nie genoem nie. Calvyn (1977:165) stel in sy
kommentaar op Handelinge 16:4 dat die vers nie geïnterpreteer mag
word asof Paulus die gewetens van die gemeentes aan die besluite
van mense wil bind nie. So ´n uitleg is volgens Calvyn Rooms,
maar nie skriftuurlik nie. In wese ondersteun Oranje die foutiewe
uitleg van die betrokke Bybelvers. Op sterkte van ´n argumentum e
silentio kan die plig tot ratificatio nie as onskriftuurlik
afgemaak word nie.
Derhalwe moet gekonstateer word dat Oranje se kritiek op
ratificatio enersyds rus op ´n beskouing van meerdere
vergaderings as kollegialistiese regeerliggame, en andersyds op
´n foutiewe uitleg van Handelinge 16:4. Om daardie rede is die
kritiek nie geldig nie.
Ten opsigte van die kritiek wat die moderamen van die Generale
Sinode Utrecht en die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Kampen
teen die toepassing van ratificatio uitspreek, moet gestel word
dat daar nie genoegsaam rekening gehou word met die wyse waarop
kerke in ´n meerdere vergadering byeenkom nie. Dit is nie so dat
alle kerke self by ´n meerdere vergadering teenwoordig is nie.
Afgevaardigdes van kerke is teenwoordig (vergelyk artikel 33 KO).
Die kerke neem nie besluite nie, maar die afgevaardigdes neem
besluite. Die afgevaardigdes behoort aan die kerkrade wat hulle
afvaardig verantwoording van hulle werksaamhede te doen (vergelyk
4.1.3.2.4). In die lig hiervan is die argument dat ´n besluit van
´n meerdere vergadering vanaf die oomblik wat dit geneem is reeds
die besluit van elke kerk is, nie korrek nie. So ´n argument kan
gevolglik nie gebruik word om die beginsel en toepassing van
ratificatio te weerlê nie.
Die stelling dat daar in die Gereformeerde kerke nog nooit van
ratificatio sprake was nie, is ongegrond. Die Gereformeerde kerke
het hulle reeds sedert 1571 daartoe verbind om besluite van
meerdere vergaderings vir vas en bindend te hou, waaronder te
ratifiseer (vergelyk 2.1.2.2.1.3).
Uit dit wat in hierdie afdeling van die studie beskryf is, blyk
dat die ius ratificationis soos wat dit in die jare rondom die
Vrymaking beskou en hanteer is, gegrond is op bepaalde sienings
van die kerkverband, die wese en mag van meerdere vergaderings,
en die posisie van gedeputeerdes. Die meeste vrygemaaktes se
beskrywing van ratificatio is deurgaans baie omvattend. Dit kan
soos volg saamgevat word:
· Ratificatio is ´n opsetlike, welbewuste, afsonderlike daad van
die plaaslike kerke wat volg op die besluit-daad van ´n meerdere
vergadering.
· Ratificatio is die bekragtiging en aktiewe aanvaarding van ´n
besluit van ´n meerdere vergadering wat volg nadat die besluit
getoets is en die kerkraad oortuig is dat dit reg en goed is.
· Ratificatio is ´n geïntegreerde deel van die reg insake die
geldigheid van besluite van ´n meerdere vergadering. Sonder
ratificatio van die kant van die plaaslike kerk het die besluit
van ´n meerdere vergadering geen regskrag vir die kerk nie.
· Ratificatio is ´n plig waartoe elke plaaslike kerk hom in die
kredensiebrief verbind het.
· Indien ´n kerkraad weens gewigtige redes ´n besluit van ´n
meerdere vergadering nie kan ratifiseer nie, moet hy
ooreenkomstig artikel 31 KO bewys van sy besware lewer.
· Deur ratificatio van besluite van meerdere vergaderings word
die grense van die kerklike lewe bewaak. Enersyds word die
vryheid en selfstandigheid van die plaaslike kerke teen hiërargie
beskerm. Andersyds beskerm dit die plaaslike kerk teen
independentisme, aangesien besluite van meerdere vergaderings nie
net vir kennisgewing aangeneem kan word nie.
· Ratificatio raak die wese van die sestiende-eeuse reformasie.
Dit is ´n ou kerkregtelike gebruik wat reeds deur die
Gereformeerde kerke vanaf 1571 in die praktyk van die kerklike
lewe toegepas is.
· Die toepassing van ratificatio is ´n voortbouing op die
Doleansie-kerkreg.
Die geskiedenis van die Gereformeerde kerke in Nederland na 1944
word deur voortdurende stryd gekenmerk. Sowel in die
Gereformeerde Kerken as in die Gereformeerde Kerken
(Vrijgemaakt), en later in die Nederlandse Gereformeerde Kerken
het artikel 31 KO en die hantering van ratificatio ´n
besprekingspunt gebly. In hierdie onderafdeling sal aangetoon
word hoe daar binne die onderskeie kerkverbande ten aansien van
ratificatio gehandel is.
Aan die hand van die volgende skema (vergelyk 2.3) sal die
beskouings en hantering van ratificatio bespreek word.
DIE PROSESSE VAN RATIHABITIO EN IRRATIHABITIO
Besluite van ´n meerdere vergadering
Toetsing
(probatio)
Ratihabitio
Irratihabitio
Geldigverklaring
Ongeldigverklaring
(ratideclaratio) (irratideclaratio)
Aanvaarding Bewys van
ongeldigverklaring
(acceptatio) in mindere vergadering
(probatio irratideclarationis)
Uitvoering Voorlegging van bewys aan
(executio) meerdere vergadering
(ostentatio irratideclarationis)
In die voorafgaande paragrawe is verwys na L. Oranje se afwysing van ratificatio. Alhoewel Oranje noem dat dit sy persoonlike beskouing van ratificatio is (1946:5), is dit ´n toonbeeld van hoe die Gereformeerde Kerken in die algemeen daaroor geoordeel het (vergelyk Schilder & Deddens, s.j.:48). Verskeie teoloë van die Gereformeerde Kerken het hulle na die Vrymaking ondubbelsinnig oor die onderwerp in bespreking uitgelaat. Met verloop van jare is sowel die teoloë van die Gereformeerde Kerken se siening oor ratificatio as die kerkregtelike afwyking van artikel 31 KO sedert 1926 en 1944 offisieel veranker, deurdat artikel 31 van die Dordtse Kerkorde in 1957 ooreenkomstig hulle beskouings aangepas is.
In 1952, agt jaar na die Vrymaking, verskyn die derde druk van
dominee J. Jansen se Korte Verklaring van de Kerkorde. Die derde
druk is ´n vermeerderde druk van die tweede, waarin die
eerste druk van 1923 op sekere punte radikaal gewysig is. Aan die
verklaring van artikel 31 KO is veelseggende veranderings
aangebring, waarna nou kortliks verwys word.
In die eerste druk van sy kerkorde handleiding toon Jansen aan
dat die “tensy” van artikel 31 KO soos volg opgevat moet word:
“Het besluit moet bewezen worden te strijden tegen het Woord
Gods, zoo staat er. Maar voor wie? Wil dat zeggen, dat de
appellant het moet bewijzen voor de meerdere vergadering, en als
hij haar overtuigen kan met bewijzen, er van ontslagen is? Maar
dat spreekt vanzelf. Een besluit dat strijdig is met Gods Woord
is voor niemand geldig. Of wil het zeggen, dat wij aan de
besluiten der meerderheid gebonden zijn, tenzij iemand een of
ander besluit voor zich zelf bewezen acht in strijd te zijn met
Gods Woord? Dit laatste is het juiste antwoord” (1923:147).
Jansen vertolk die beginsel suiwer. Indien ´n besluit na toetsing
ongeldig blyk te wees, word dit nie deur die kerkraad geldig
verklaar en as eie aanvaar (acceptatio) nie. Bewyse word gelewer
waarom die besluit ongeldig is (ostentatio irratideclarationis).
Tot tyd en wyl die bewyse nog nie gelewer en beoordeel is nie,
word die ongeldige besluit nie uitgevoer nie. ´n Ongeldige
sinodebesluit mag vir geen oomblik as bindend geag of gehou word
nie.
In die derde druk van die handleiding verwys Jansen by die
bespreking van artikel 31 KO na artikel 854 uit die acta van die
Generale Sinode Sneek 1939: “Bij elk appèl of voorstel mag de
appellant of adressant de zaken niet omkeren; wanneer iemand
meent dat bepaalde besluiten met Gods Woord in strijd zijn, niet
overeenstemmen met de Confessie of ingaan tegen de Kerkorde, mag
hij niet eisen dat de synode de uitvoering van deze beslissingen
opschorte totdat zij hem bewezen heeft, dat haar besluiten wel in
overeenstemming zijn met de Heilige Schrift, de Confessie en de
Kerkorde maar hij moet bewijzen, dat de synode ongelijk heeft; de
bewijslast rust geheel op hem; bovendien blijven de besluiten van
kracht, want het kerkelijk leven zou verstoord worden, indien
ieder lid of elke kerk het recht had om, wanneer er bezwaren
rijzen, de beslissingen naast zich neer te leggen; de synode
waarschuwt met grote ernst tegen zulke beschouwingen, die in geen
enkele gereformeerde belijdenis of Kerkorde enige steun vinden”
(1952:151).
Die verandering in Jansen se kommentaar oor artikel 31 KO is
ooglopend. In 1923 het hy gestel dat ´n besluit van ´n meerdere
vergadering wat ongeldig blyk te wees vir geen oomblik bindend is
nie. In 1952 stel hy op sterkte van sinodale acta dat ´n besluit
van ´n meerdere vergadering wat ongeldig blyk te wees, wel
bindend is totdat bewys van ongeldigheid gelewer is en daardie
bewys deur ´n volgende vergadering aanvaar is. Die “tensy” van
artikel 31 KO word verstaan en toegepas as “totdat”. Dit kan wees
dat die kerke vir ´n tydperk van tot drie jaar verplig word om
aan die ongeldige besluit van ´n meerdere vergadering uitvoering
te gee.
Hierdie veranderde interpretasie van artikel 31 KO word nog
verder geïllustreer as Jansen die opsies bespreek wat uitgeoefen
kan word indien iemand hom nie met ´n sinodebesluit kan
identifiseer nie (1952:151):
· Opsie 1: die beswaarde konformeer hom deur nie teen die besluit
te appelleer nie; of wel te appelleer maar inmiddels die besluit
de facto (feitlik) te erken; of te appelleer en daarna in die
uitspraak te berus.
· Opsie 2: kerklike vergaderings pas die reg van toleransie toe
op voorwaarde dat die afwykende gevoel van die leer geen
fundamentele punt van die waarheid raak nie, en dat die dwalende
sy afwykende gevoel nie propageer nie en bereid is om hom deur
die kerke te laat onderrig.
· Opsie 3: die meerdere vergadering eis die aanvaarding en
uitvoering van besluite. By nie-aanvaarding van besluite volg een
van twee dinge: òf die beswaarde verlaat die kerkverband
vrywillig òf hy word uit die kerkgemeenskap uitgesluit.
Opsie 2 pas nie by die ander twee opsies nie, aangesien dit nie
oor ´n sinodebesluit handel nie, maar oor duidelik aanwysbare
afwyking van die leer. Die opsie word in hierdie verband wel
genoem, aangesien die Sinode van Assen 1957 dit in ´n gewysigde
vorm in artikel 33 van die Hersiene Kerkorde oorneem.
Nauta (1960:578) is van mening dat daar in die Gereformeerde kerkreg nooit sprake was van ´n handeling waardeur besluite van ´n sinode eers onderwerp moet word aan die goedkeuring van ´n mindere vergadering nie. Nauta oordeel dat besluite volgens artikel 31 KO vir vas en bindend, dit wil sê geratifiseer, gehou moet word. Dit beteken dat die neem van die besluit tewens die ratificatio daarvan is: ´n gedagte wat reeds deur andere in die dae van die Vrymaking uitgespreek is (vergelyk 5.2.5.2.6.2; Schilder & Deddens, s.j.:49).
Die praktyk van die Sinode Assen 1926 en die Generale Sinode
Sneek 1939 se interpretasie van artikel 31 KO, asook die
beskouings van etlike teoloë het daartoe gelei dat die
Gereformeerde Kerken tydens die Generale Sinode van Assen in 1957
die betrokke artikel fundamenteel verander het en daarmee die
veranderde kerklike praktyk geyk het.
Artikel 31 van die Hersiene Kerkorde lui (gedeeltelik) soos
volg:
· “1. ... De besluiten van de vergaderingen dragen een bindend
karakter.
· 2. Degenen, die enige uitspraak of handeling van een
vergadering in strijd achten met de bepalingen van de kerkorde,
of op andere wijze door zulk een uitspraak of handeling het
welzijn der kerk geschaad achten, of menen dat hun daardoor
onrecht aangedaan is, kunnen in appèl gaan bij de naastvolgende
meerdere vergadering. Indien zij zulk een uitspraak of handeling
in strijd achten met duidelijke uitspraken van Gods Woord, zijn
zij gehouden in appèl te gaan; in welk geval de vergadering,
hangende dit appèl, hen niet zal verplichten tot het verrichten
van of tot het medewerken aan enige handeling, die naar hun
gevoelen tegen de bedoelde uitspraken zou ingaan, met dien
verstande dat zij zich voor het overige te gedragen hebben aan de
door de desbetreffende vergadering gegeven aanwijzingen.
· 5. Een vergadering kan in geval van appèl de uitvoering van een
door haar genomen besluit opschorten.”
Nauta (1971:141) merk by die verklaring van artikel 31 van die
Hersiene Kerkorde op dat die meerdere vergadering in elke
afsonderlike geval van appèl moet oordeel of daar genoegsame
redes bestaan om die besluit waarteen geappelleer word, op te
skort. Dit impliseer dat, ook al word in artikel 31.2 teoreties
gestel dat ´n appellant nie verplig is om - hangende ´n appèl -
die besluit in geding uit te voer nie, die praktyk van so ´n aard
is dat die meerdere vergadering ooreenkomstig artikel 31.5 sal
oordeel of die besluit waarteen geappelleer word tydelik
opgeskort sal word al dan nie. In effek kan ´n kerkraad nie
besluit om weens grondige redes ´n besluit nie vir vas en bindend
te hou nie. Die meerdere vergadering oordeel finaal oor die
binding aan en uitvoering van besluite, nie die kerkraad nie.
Artikel 33 van die Hersiene Kerkorde moet saam met artikel 31
gelees word. Dit sê: “Indien iemand zich bezwaard gevoelt over
een besluit of uitspraak van de generale synode, als naar zijn
oordeel in strijd met duidelijke uitspraken van Gods Woord,
zullen de vergaderingen jegens hem tolerantie gebruiken, tenzij
zijn wijze van optreden een bedreiging zou inhouden voor de goede
werking van de kerkelijke gemeenschap ter plaatse of in het
kerkverband”.
Die feit dat daar sprake is van ´n meerdere vergadering wat
verdraagsaamheid (tolerantie) teenoor ´n mindere vergadering moet
gebruik, dui daarop dat die meerdere vergadering meer
gesaghebbend as die mindere vergadering is. Die meerdere
vergadering moet oordeel of die beswaarde mindere vergadering of
individu genoegsame gronde vir beswaar het. Indien die beswaarde
- ongeag die inhoud van sy beswaar - die kerklike lewe te veel in
beroering bring, sal die meerdere vergadering met die nodige
maatreëls tot sy beskikking moet optree (Nauta, 1971:148).
Die Gereformeerde Kerken se interpretasie en latere verandering
van artikel 31 KO is tekenend van hoe in daardie kerke ten
opsigte van ratificatio gehandel word.
Indien dit so is dat ´n besluit van ´n sinode vas en bindend is
totdat ´n volgende sinode die bewyse vir die teendeel aanvaar en
die betrokke besluit vernietig, is daar van ratificatio deur
kerkrade geen sprake nie. Kerkrade kan besluite van meerdere
vergaderings hoogstens toets of hulle geldig is, waarna die
besluit - ongeag die uitslag van die toets - uitgevoer moet word.
Geldigverklaring en aanvaarding van besluite, wat eweneens
onmisbaar deel van ratihabitio vorm (vergelyk die skema), word
welbewus nie toegelaat nie.
Laasgenoemde stelling word bevestig wanneer bedeneer word dat die
besluit van die meerdere vergadering tegelyk die ratificatio van
die besluit is. Uitgaande van die standpunt dat die sinode
regeer- en tugmag het, is dit nie ter sake dat kerkrade eers die
besluite van die sinode as hulle eie moet aanvaar alvorens dit
uitgevoer word nie. Die sinode besluit en die kerkraad voer slegs
die besluit van die sinode uit.
Gemeet aan die beginsels van die Gereformeerde kerkreg word dit
duidelik dat die Gereformeerde Kerken met sy Hersiene Kerkorde
radikaal afwyk van die wyse waarop die Gereformeerde kerke regeer
behoort te word. Deur die plig tot ratideclaratio en ratificatio
aan kerkrade te ontsê, tree die vergadering van lashebbers (die
meerdere vergadering) aanmatigend op teenoor die vergadering van
lasgewers (die mindere vergadering). Met die verandering van
“tensy” in “totdat” word eweneens aanmatigend opgetree, aangesien
dit impliseer dat ongeldige besluite ten minste tydelik uitgevoer
moet word. Die tweevoudige bewyslewering van ongeldigheid
(probatio irratideclarationis en ostentatio irratideclarationis)
is oneffektief solank as wat die ongeldige besluit waarteen
beswaar gemaak word, nie deur ´n volgende meerdere vergadering
nietig verklaar is nie.
Alhoewel artikels 31 en 33 van die Hersiene Kerkorde soepel mag
voorkom, word die deur in beginsel wyd oopgemaak vir hiërargie in
die vorm van sinodokrasie (Van Tongeren, s.j.:11-13; Boersma,
1984:1-5).
Gedurende die jare na die Vrymaking het ´n gees van
independentisme in die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt)
ontwikkel (Munneke, 1972:156; Boersma, 1984:6). Professor K.
Schilder het van meet af aan teen hierdie gees gewaarsku deur
daarop te wys dat “we de vrijmaking van de hiërarchie niet zien
omslaan in een losbandigheid van kerkindividualisme” (De Vries,
1990:15). Kerkregtelik gesproke was een van die kernpunte waarin
die gees van independentisme hom vertoon het ´n hantering van die
ratihabitio van artikel 31 KO sonder verpligte bewyslewering by
irratihabitio (De Vries, 1990:15, 21, 39).
In die weerlegging en bestryding van die independentisme was dit
veral professor J. Kamphuis wat in die laat sestigerjare opnuut
na die betekenis van ratum habebitur ondersoek ingestel het. In
sy rede getiteld Kerkelijke Besluitvaardigheid (1970:55-65) maak
hy opmerkings oor die hantering van artikel 31 KO, wat direk op
die onderwerp betrekking het. Ander kundiges wat hulle menings
hieroor op skrif gestel het, is R. Bremmer, H. Bouma, M. te Velde
en A. Boersma. Elkeen se standpunte word weergegee en bespreek.
Kamphuis (1970:58) verklaar die betekenis van die term
ratihabitio in artikel 31 KO deur die Nederlandse weergawe
daarvan te ontleed. Die Nederlands vir ratihabitio is voor vast
en bondig houden. Die samestelling vast en bondig is volgens
Kamphuis toutologies, versterkend. Dit kom in geen Nederlandse
woordeboek voor nie (Anon., 1954:10). Vast beteken: bindend, van
krag. Bondig beteken in verband met ooreenkomste, besluite en
verdrae: vas, onverbreeklik, geldig, deugdelik, onaantasbaar, van
krag en waarde. Die betekenis van die samestelling voor vast en
bondig houden kom dan neer op: waak, vir iets sorg, iets
oppas.
Kamphuis stel dat diegene wat tot uitvoering van besluite van
meerdere vergaderings geroep is, verplig is om die genome
besluite van hulle lashebbers eers aan die Woord van God en aan
die kerkordelik beskrewe reg van die kerke te toets alvorens
hulle tot uitvoering oorgaan (1970:56, 62, 64, 65). Uitvoering
van besluite dra geen outomatiese en slaafse karakter nie, maar
´n Christelik-vrye karakter (1970:56). Hiermee bevestig Kamphuis
die Gereformeerd-kerkregtelike beginsel teenoor die Roomse
standpunt van papa locuta, causa finita, wat alle hiërargiese
stelsels van kerkregering beheers (vergelyk 3.1).
Kamphuis se verklaring van ratihabitio kom egter nie volledig
ooreen met wat in paragraaf 2.1.2.2.2 oor die herkoms van die
term in die Gereformeerde kerkreg gestel is nie.
Hy het gelyk dat ´n besluit van ´n meerdere vergadering van meet
af aan geldig of ongeldig is. ´n Ongeldige besluit kan nie geldig
gemaak word nie. Net so min kan ´n reeds geldige besluit nog meer
geldig gemaak word. ´n Geldige besluit van lashebbers (´n sinode)
kan wel deur ´n lasgewer (die kerkraad) as geldig gehou word. Dit
impliseer dat die kerkraad die geldige besluit van ´n sinode sal
“oppas” deur dit in die kerklike lewe plaaslik toe te pas.
In sy opvatting van ratihabitio mis Kamphuis die geldigverklaring
en aanvaarding van besluite van meerdere vergaderings.
Klaarblyklik verklaar hy die ratihabitio van die 1581 Kerkorde in
terme van 1578 se “skuldig sal wees na te kom”, deur van
ratihabitio sonder meer executio te maak. Dit lei tot ´n
verskraalde opvatting en toepassing van die begrip.
Met betrekking tot die term ratificatio oordeel Kamphuis dat dit
´n eis van eerlikheid is om vas te stel dat artikel 31 KO nie van
ratificatio praat nie, maar van ratihabitio. Alhoewel beide terme
te doen het met bekragtiging van besluite, dui ratihabitio op
“voor rechtskragtig houden”, terwyl ratificatio “rechtskracht
verlenen, rechtskragtig maken” beteken (1970:58).
Kamphuis is verder van mening dat artikel 31 KO nie met die
onjuiste gedagte beswaar moet word dat daar ratificatio moet kom
in die sin van kompletering van die regsvorm van ´n genome
besluit nie (1970:61). Hy ag Deddens se standpunt oor
ratificatio, naamlik dat dit ´n tweede daad van bekragtiging is,
verkeerd (1970:61). Teen die einde van die tagtigerjare bevestig
hy sy siening oor ratificatio soos dit tydens die Vrymaking
hanteer is. In ´n resensie oor Berkouwer se boek Zoeken en vinden
(1992:10) verwys hy na sy genoemde rede, en stel hy onomwonde:
“ik kies tegen het zogenaamde ratificatie-recht”.
In hierdie opsig oordeel Kamphuis, gemeet aan die betekenis wat
ratificatio in die Gereformeerde kerkreg het (vergelyk die
skema), verkeerd. Inderdaad moet ratificatio nie in sy letterlike
betekenis van regsgeldig máák beskou en gebruik word nie. Dit het
Deddens ook nie gedoen nie (vergelyk 5.2.5.2.2). Daarmee moet
ratificatio in die sin van acceptatio egter nie as onjuis geag
word, soos wat Kamphuis doen nie.
Oor die “tensy” van artikel 31 KO maak Kamphuis (1992:10) dié
opmerking: “Maar het ‘tenzij’ van artikel 31 is duidelijk in het
de voorrang geven aan Gods Woord boven ieder kerkelijk besluit”.
Daaruit blyk dat Kamphuis, nieteenstaande die feit dat hy die
geldigverklaring en aanvaarding van besluite van meerdere
vergaderings misken, die ongeldigverklaring van ongeldige
besluite en die genoegsame bewyslewering daarvan, van hoogstaande
belang ag.
In die geheel gesien is Kamphuis se beskouing van ratihabitio ´n
verskraling ten opsigte van wat sy voorganger, P. Deddens,
daaroor gestel het. Kamphuis se beoordeling van ratificatio, soos
wat dit in die Gereformeerde kerkreg gebruik en spesifiek deur
Deddens vertolk en toegepas is, is klaarblyklik nie reg nie. Die
onmisbare element van welbewuste aanvaarding van besluite van
meerdere vergaderings word agterweë gelaat.
Soos Kamphuis, verskil Bremmer (1984:188) van Deddens deur te sê
dat laasgenoemde ratifikasiereg verkeerdelik uit artikel 23 van
die Middelburgse Kerkorde 1581 afgelei het. Bremmer gee wel toe
dat artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde (later artikel 31
van die Dordtse Kerkorde) ruimte skep vir die gedagte dat
kerkrade die besluite van meerdere vergaderings moet ratifiseer.
Tog ag hy dit nie korrek om dit so te beskou dat “een besluit van
een meerdere vergadering pas rechtskracht ontvangt, wanneer het
door de plaatselijke kerk word geratificeerd”.
Omdat Bremmer se standpunt met dié van Kamphuis verwant is, word
hierop geen verdere kommentaar gelewer nie.
Ooreenkomstig Kamphuis se opmerking dat die term ratificatio ´n
mens op ´n verkeerde spoor in die Gereformeerde kerkreg kan lei
(vergelyk 5.2.6.2.1), merk Bouma (1994b:381) op dat ratificatio
in die letterlike sin van “geldig maak” die indruk kan skep dat
kerkrade deur ´n eie beslissing aan die besluite van meerdere
vergaderings regskrag moet verleen. Dit is volgens Bouma - met
reg (vergelyk 2.1.2.5.3) - ´n foutiewe gedagte. ´n Kerkraad
verleen geen regsgeldigheid aan sinodale besluite nie. ´n Sinode
is bevoeg om bindende, dit is regsgeldige besluite te neem. Die
oomblik wanneer die offisiële handelinge van die sinode op die
kerkraadstafel lê, is die kerkraad volgens Bouma daaraan gebind
(1994a:370). Op grond van artikel 31 KO verklaar kerkrade dat
hulle sinodale uitsprake as bindend aanvaar. Die besluite het
regskrag en is regsgeldig (1994b:381).
Bouma (1994b:382) betoog verder dat elke kerkraad by voorbaat in
sy kredensiebrief belowe het om die besluite van die vergadering
as bindend te erken en te aanvaar. Kerkrade kan gevolglik voldoen
met kennisneming van die acta. Die kerkraad het nie nodig om nog
´n keer oor binding te besluit nie. Indien iemand ´n beswaar teen
´n besluit het, moet die kerkraad daardie beswaar toets en indien
nodig oorneem en die kerklike weg bewandel. Sou die beswaar
ongegrond wees, kom die kerkraad tot die slotsom dat die
bestaande besluit steeds regsgeldig is. In so ´n geval maak die
kerkraad die besluit van die sinode ook nie regsgeldig nie
(1994b:382).
In ooreenstemming met Kamphuis hou Bouma geen rekening met die
plig van kerkrade om besluite van meerdere vergaderings te toets,
geldig te verklaar en te aanvaar nie. Die kommentaar wat in
hierdie opsig by Kamphuis se beskouing gelewer is, is ook hier
van toepassing.
Te Velde (1994:309) meen dat ´n sinodebesluit van krag is, tensy
die ongeldigheid bewys word. Hier lê volgens Te Velde die verskil
tussen die independentisme en die Gereformeerde kerkreg.
Oor die manier waarop sinodale besluite ontvang en uitgevoer moet
word, stel Te Velde dat daar twee moontlikhede is. Die normale,
mees voorkomende wyse van optrede is om die acta af te wag
alvorens met implementering van besluite begin word. In ´n
uitsonderlike geval kan ´n kerkraad by wyse van ´n brief -
geskrywe deur die skriba van die sinode - van ´n spesifieke
besluit wat hom primêr direk raak, in kennis gestel word.
As die kerkraad die acta ontvang, word alle besluite nie
onmiddellik toegepas nie. “De Gereformeerde Kerken hechten er
waarde aan, dat zulke besluiten goed gelezen worden en dat ze
getoetst worden aan de Schrift en de kerkorde. Wij noemen dat de
‘ratificatie’ (1994:309).”
Te Velde spel die wyse waarop ratificatio (soos hy dit bedoel)
moet plaasvind, met name uit. Enkele broeders maak ´n samevatting
van die acta. Hulle dui aan watter punte besondere aandag
verdien. Die besluite word getoets en na toetsing “bewust”
aanvaar. “In deze
bijzondere aandacht voor de toetsing en voor het bewust
aanvaarden van besluiten hebben we een mooi stukje gereformeerde
traditie opgebouwd” (1994:309).
Verskillende kerkrade ratifiseer teen verskillende tempos, wat
meebring dat een besluit nie oral ewe vinnig in werking tree nie.
Daarvoor moet kerke mekaar ruimte gee.
Met betrekking tot diegene wat beswaard is oor ´n bepaalde
besluit, meen Te Velde (1994:310) dat sulke mense nie die
uitvoering van ´n besluit eindeloos mag vertraag nie. Almal staan
onder dieselfde roeping om aan God gehoorsaam te wees. Tog moet
deeglik rekening gehou word met beswaardes. In die kerk word nie
met dwang gewerk nie, maar met oortuiging.
By Te Velde word dit nie heeltemal duidelik wat hy presies onder
die term “bewuste aanvaarding” verstaan nie. Moontlik sluit dit
geldigverklaring van besluite in, moontlik dui dit slegs op
ratificatio in die sin van acceptatio. Nietemin kom Te Velde met
sy beskouing van ratificatio as integrale onderdeel van
ratihabitio baie nader aan die suiwer Gereformeerde beginsel as
Kamphuis, Bremmer en Bouma.
Boersma het in verskeie artikels ´n bydrae tot die gesprek oor
ratificatio gelewer.
Ten opsigte van Deddens se standpunt oordeel Boersma (1994a:51)
soos volg: “Het is niet zo, dat alle synodebesluiten eerst door
elke kerkeraad goedgekeurd moeten zijn, voordat ze rechtsgeldig
zijn. Maar de besluiten, die voor de plaatselijke kerk of ook
voor alle kerken gelding hebben, die moeten eerst geratificeerd,
eerst bekrachtigd worden, en daarna uitgevoerd”. Hieruit blyk dat
Boersma ´n onderskeid tussen goedkeuring en bekragtiging van
besluite maak. Hy ken nie aan kerkrade die bevoegdheid toe om
besluite van meerdere vergaderings goed te keur ten einde die
besluit regsgeldig te maak nie. Boersma ondersteun wel Deddens se
gedagte dat besluite geratifiseer moet word alvorens dit
uitgevoer word. Onder ratificatio of bekragtiging verstaan
Boersma (1994a:51) die volgende: “De genomen besluiten zullen
bekeken worden, de argumenten gewogen, en op basis van deze
besluitvorming zal de kerkeraad vervolgens overgaan tot invoering
van die besluiten die voor het kerkelijk leven van belang
zijn”.
Boersma heg besondere waarde aan die effek van ratificatio.
Indien kerkrade langs die weg van ratificatio sorgvuldig met
sinodebesluite werk, kan die kerkraad ook van die gemeente verwag
om aan die uitvoering van die besluite saam te werk. So kry die
besluite plaaslike regskrag. Hulle word in die gemeente uitgevoer
“op basis van een besluit van de kerkeraad. Immers deze
vergadering van ambtsdragers regeert de gemeente, dat doet een
classis of een synode niet” (1994a:51).
Boersma lig bogenoemde met ´n voorbeeld toe. Gestel ´n suster in
die gemeente sou sê: ek is verkiesbaar vir die amp, want die
sinode sê so - dan is daar sprake van ´n geweldige kortsluiting.
Die kerkraad sal eers oor so ´n saak ´n besluit moet neem
(ratifiseer), met volle inagneming van artikel 31 KO se binding
aan sinodebesluite. Met ander woorde: ´n sinodebesluit is nie per
se ´n kerkraadsbesluit nie. ´n Sinodebesluit moet by wyse van
ratificatio eers ´n kerkraadsbesluit word alvorens ´n lidmaat hom
op die uitvoering daarvan kan beroep (1994a:51).
Oor die praktyk van ratificatio maak Boersma insiggewende
opmerkings (1993:409-410; 1994a:51):
· Na ontvangs van die acta behoort dit in onderdele verdeel en
deur verskillende kommissies bestudeer te word (probatio).
· Die kommissies rapporteer oor hulle werksaamhede en die
kerkraad neem besluite (ratideclaratio en ratificatio) oor die
uitvoering van sake wat die eie gemeente direk raak.
· Oor ander besluite wat die gemeente nie direk raak nie,
byvoorbeeld ´n appèl van ´n ander gemeente, word slegs ´n
positiewe oordeel uitgespreek (ratideclaratio).
· Indien ´n besluit ongeldig bevind word (irratideclaratio), word
in ooreenstemming met artikel 31 KO beswaar aangeteken,
geappelleer of vir revisie van ´n ongeldige besluit gevra
(probatio en ostentatio irratideclarationis).
· As kerkrade dit alles weldeurdag gedoen het, kan hulle die
gemeente met geratifiseerde, eie besluite regeer.
In ´n vervolg-artikel in Reformanda bespreek Boersma (1994b:61)
die rede van Kamphuis, waarin Kamphuis Deddens tot ´n mate
opponeer. Boersma sien geen werklike teenstrydigheid tussen beide
nie, maar verklaar hulle standpunte binne die konteks van hulle
onderskeie omstandighede: “Prof. Deddens richtte zich tegen de
synodale ontkrachting van art. 31: ‘het besluit van de synode is
tevens haar ratificatie’. Prof. Kamphuis moest in het geweer
komen tegen een onafhankelijke opstelling van kerkeraden en
predikanten tegenover besluiten van meerdere vergaderingen: ‘als
wij ze niet ratificeren, hebben ze geen enkel rechtskracht in de
kerk’” (1994b:62). Boersma kom tot die slotsom dat uit beide
professore se onderwys geleer kan word dat “er grote belangen op
het spel staan, als het gaat om het als bindend aanvaarden van
kerkelijke besluiten” (1994b:62). Boersma waarsku daarteen dat
die kerke hulleself nie van hulle vryheid mag laat beroof nie,
die vryheid wat daar onder die heerskappy van die Woord van God
is, en wat deur artikel 31 KO beskerm word.
Kragtens ´n besluit van die Sinode Groningen-Zuid 1978, is die
kerkorde van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) in geheel
hersien (Gereformeerde Kerken in Nederland, 1986:3). Ook die
bewoording van artikel 31 KO is gewysig. Die huidige redaksie lui
soos volg: “Als iemand van oordeel is dat hem door een uitspraak
van een mindere vergadering onrecht is aangedaan, kan hij zich
beroepen op de meerdere vergadering. De uitspraak die bij
meerderheid van stemmen gedaan is, zal als bindend worden
aanvaard, tenzij bewezen wordt dat zij in strijd is met het Woord
van God of met de kerkorde”.
Die id ratum habebitur uit die Dordtse Kerkorde is vertaal met
zal als bindend worden aanvaard. Harmannij (1990:64) lig die
betekenis van die sinsnede soos volg toe: “de kerkorde kent aan
geen enkele vergadering het laatste woord toe. Dat laatste woord
is alleen aan Gods Woord. Besluiten die daarmee strijden, mogen
altijd bestreden worden”. Harmannij (1990:65) is van mening dat
die artikel soos wat dit tans in die Kerkorde van die
Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) opgeneem is, die kerke van
sinodokrasie sowel as konsistoriokrasie bewaar: “De kerken zijn
geholpen met een stelsel, waarin elke vergadering zich moet
onderwerpen aan toetsing van haar besluiten aan Gods Woord en de
gezamenlijk overeengekomen kerkorde”.
Die beoordeling van die hersiene redaksie van artikel 31 KO, in
samehang met ´n samevattende beoordeling van die genoemde
standpunte wat deur teoloë in die Gereformeerde Kerken
(Vrijgemaakt) gestel is, volg hierna.
Kamphuis, Bremmer en Bouma merk tereg op dat ´n reeds geldige
besluit van ´n meerdere vergadering nie nog meer geldig gemaak
kan word as wat dit reeds is nie. Tweedens handhaaf hulle ook met
reg die “tensy” van artikel 31 KO ten einde sowel die kwaad van
hiërargie as van independentisme teen te gaan.
Wat die inhoud van ratihabitio betref, handhaaf hulle slegs die
probatio en executio van besluite van meerdere vergaderings. Die
ratideclaratio en die acceptatio of ratificatio van besluite is
klaarblyklik nie voldoende in berekening gebring nie. Ingevolge
hierdie omskrywing word die besluit van die meerdere vergadering
nie deur die mindere vergadering sy eie gemaak nie en ook nie as
sy eie uitgevoer nie. Daarmee word (wellig onbedoeld) nie by die
welbewuste uitvoering van geëiende besluite deur die kerkrade
uitgekom nie.
Te Velde en Boersma handhaaf, soos Kamphuis en Bremmer, eweneens
ten volle die “tensy” van artikel 31 KO ten einde hiërargie en
independentisme teen te gaan. Hulle handhaaf ook die taak van die
selfstandige kerk met betrekking tot ratihabitio soos die kerke
voor 1581 dit toegepas en die Sinode Middelburg 1581 dit geyk
het. Spesifieke aandag word aan die erns van ratificatio binne
die konteks van ratihabitio gegee.
Waar Te Velde die verskillende elemente van ratihabitio nie
heeltemal duidelik onderskei nie (alhoewel hy aan die ander kant
nie een van die elemente met name misken nie), doen Boersma dit
wel. Om hierdie rede is Boersma se bydrae in verband met die
onderwerp tot dusver die mees waardevolle in die Gereformeerde
Kerken (Vrijgemaakt).
Die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) se vertaling van id ratum
habebitur uit die Dordtse Kerkorde met zal als bindend worden
aanvaard is meer as net ´n taalkundige aanpassing. Dit is nie
duidelik wat presies met die woord “aanvaar” in die hersiene
kerkorde artikel bedoel word nie. Ratihabitio vooronderstel dat
probatio van besluite van meerdere vergaderings plaasvind, en dui
die handelinge van ratideclaratio, acceptatio en executio aan.
Die woord “aanvaar” is in vergelyking hiermee ´n vae begrip.
· Eerstens het dit geen historiese agtergrond nie, wat
ratihabitio (vir vas en bindend hou) wel het.
· Tweedens kan aanvaarding, soos dit in die hersiene artikel
gebruik word, tot die aksie van geldigverklaring (ratideclaratio)
beperk word. In dié geval word die besluit van die meerdere
vergadering geen besluit van die kerkraad wat as sodanig
uitgevoer moet word nie.
· Derdens kan aanvaarding neerkom op acceptatio deur die kerkraad
van die plaaslike kerk sonder voorafgaande geldigverklaring. In
daardie geval word aan die meerdere vergadering te veel mag
toegeken en ´n opening vir hiërargie gelaat.
· Vierdens kan die term “aanvaarding” in die hersiene kerkorde
sowel geldigverklaring as aanvaarding beteken, maar dan sê die
historiese term ratihabitio - wat bowendien executio insluit -
meer as die nuwe term “aanvaar” wat executio nie insluit nie.
Op grond van bogenoemde argumente is die woord “aanvaar” in die
hersiene kerkorde van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) op
sy minste ´n verswakking van die oorspronklike “sal vir vas en
bindend hou”.
Kort na die Vrymaking in 1944 het daar binne die Gereformeerde
Kerken (Vrijgemaakt) ´n frontvorming ontstaan wat met die verset
teen die heerskappyvoering van meerdere vergaderings saamgehang
het (Boersma, 1984:6; De Vries, 1990:11).
Op die agenda van die Generale Sinode van die Gereformeerde
Kerken (Vrijgemaakt) Kampen 1951 verskyn ´n beswaarskrif van die
Gereformeerde Kerk Kralingen (De Vries, 1990:12). Die sinode
verwerp die beswaarskrif met opgawe van redes. Met ´n beroep op
die selfstandigheid van die plaaslike kerk en op die reg tot
appèl kragtens artikel 31 KO aanvaar die kerkraad van Kralingen
nie die besluit van die sinode nie. Die optrede van die kerkraad
is deur vele geag as misbruik maak van die appèlreg en ´n
veragting van die kerkverband. Dit het tot hewige polemiek in die
pers gelei (De Vries, 1990:13-17).
In 1960 publiseer dominee B. Telder van die Gereformeerde Kerk
Breda ´n boek getiteld Sterven ... en dan?, waarin hy ´n variasie
van die leer oor die sieleslaap propageer (De Vries, 1990:22;
1993:37). Dominee Telder vind op sommige plekke in Nederland
ondersteuning vir sy leer, nieteenstaande die feit dat hy aan sy
ondertekening van die belydenis ontrou is (artikel 53 KO).
Teenoor die leer van dominee Telder ontstaan egter ook verset.
Beswaarskrifte word by die kerkraad van die Gereformeerde Kerk
Breda, waar dominee Telder predikant is, asook by ander kerke
ingedien (De Vries, 1990:24). Dominee Telder en die kerkraad van
Breda is nie bereid om hulle gevoelens in enige meerdere
vergadering of kerk te laat toets nie. Ten spyte van die feit dat
hierdie predikant en sy kerkraad independentisties in stryd met
artikel 53 KO en die ondertekeningsformulier handel, verklaar die
Particuliere Synode van het Zuiden van 1962/63 nie dat die
kerkverband opgeskort moet word nie, maar neem die partikuliere
sinode die saak as sulks in behandeling. Op grond van ´n
studierapport van dominee J.R. Wiskerke spreek die sinode uit dat
die leer van dominee Telder ´n dwaalleer is. Die sinode spreek
verder uit dat dominee Telder hom nie aan die
ondertekeningsformulier gehou het nie, en dat die kerkraad van
Breda gefouteer het deur hom nie tereg te wys nie (Wiskerke,
1963:240-252; De Vries, 1990:24). Ook word die verwagting
uitgespreek dat die kerke in klassisverband wat verkeerdelik oor
hierdie saak geoordeel het, tydens ´n eersvolgende klassis
volgens artikel 31 KO die uitsprake van die partikuliere sinode
vir vas en bindend sal hou, sodat die eenheid in die leer nie in
die ressort van hierdie partikuliere sinode in gevaar gebring
word nie (Wiskerke, 1963:251-252; De Vries, 1990:25). Die klassis
moet daarop toesien dat dominee Telder en die kerkraad van Breda
hulle ooreenkomstig die kerkorde en die ondertekeningsformulier
gedra (Wiskerke, 1963:252).
Met die uitspraak van die sinode, wat rus en vrede in die
kerkverband tot gevolg moes hê, is die saak egter nie afgehandel
nie. Die tydskrif Opbouw, wat in 1956 opgerig is, bepleit
verdraagsaamheid jeens dominee Telder en sy leer. Daarteenoor
word in De Reformatie aangedring op verkondiging van die suiwer
leer, binding aan die belydenis en bestryding van
independentisme, waaraan kerke hulle klaarblyklik skuldig maak
(De Vries, 1990:25). Die einde van hierdie stryd is dat die kerk
van Breda, wat in independentisme volhard het, buite die verband
van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) geraak het.
In dieselfde tyd waarin die Telder-saak sy loop neem, woed ´n
soortgelyke stryd elders in die VGKN. Tussen die kerkraad van die
Gereformeerde Kerk Groningen-Suid en hulle predikant, dominee A.
van der Ziel, ontstaan konflik weens laasgenoemde se persoonlike
begeerte om samesprekings met die oog op hereniging met die
Gereformeerde Kerken te voer (De Vries, 1990:27). Teen die
uitdruklike verbod van sy kerkraad gaan dominee Van der Ziel met
sodanige samesprekings voort, wat daartoe lei dat die kerkraad
hom na vele gesprekke in Mei 1963 skors (De Vries, 1990:38;
1993:50). Oor die manier waarop die skorsing plaasgevind het, het
daar ´n kerkregtelike dispuut ontwikkel wat uitgekring het vanaf
die klassis na die partikuliere sinode en die generale sinode,
wat in 1965 oor hierdie saak uitspraak moes lewer (Boersma,
1984:7; De Vries, 1990:41, 51). Die partikuliere sinode spreek
uit dat dominee Van der Ziel afsettingswaardig is (De Vries,
1990:53), wat tot gevolg gehad het dat die kerkraad van
Groningen-Zuid hulle predikant uiteindelik moes afsit (De Vries,
1990:54). Met die afsetting het die onrus nie gaan lê nie. Talle
gemeentelede skaar hulle by die afgesette predikant en vorm die
sogenaamde “Tehuisgemeente” in Groningen.
Op 31 Oktober 1966 verskyn ´n Open Brief aan de ‘Tehuisgemeente’
in Groningen, onderteken deur 25 lidmate van die Gereformeerde
Kerken (Vrijgemaakt). In die brief word ´n direkte aanval op die
kerklike vergaderings geloods wat dominee Van der Ziel geskors en
afgesit en die skorsing en afsetting goedgekeur het (De Vries,
1990:64; 1993:20). Enkele maande later, in April 1967, vergader
die Generale Sinode van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) te
Amersfoort-Wes. Een van die afgevaardigdes na die sinode is
dominee B. Schoep, ´n ondertekenaar van die Open Brief (De Vries,
1990:66). Weens sy volgehoue verbintenis tot die inhoud van die
Open Brief spreek die sinode uit dat dominee Schoep nie as lid
van die sinode kan dien nie. Elders in die land word
ondertekenaars van die brief eweneens tot verantwoording geroep
(De Vries, 1990:67).
In reaksie daarop skei verskeie kerke en predikante hulle van die
Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) af. Dwarsoor die land word
kerke buite die verband van die Gereformeerde Kerken
(Vrijgemaakt) gestig. Ook diegene wat die Telder-saak goedgesind
was, gaan hiermee saam. ´n Kerkverband van ongeveer 30 000
lidmate ontstaan, wat as die Nederlandse Gereformeerde Kerken
bekend staan.
Sedert 1972 werk die Nederlandse Gereformeerde Kerken aan ´n
Akkoord voor Kerkelijk Samenleven wat in 1982 amptelik aanvaar is
en as kerkorde dien.
Artikel 31 van die Dordtse Kerkorde is in ´n gewysigde vorm in
die Akkoord opgeneem. Grondliggend aan die wysiging van artikel
31 KO is die mening dat elke kerk die reg het om ´n bepaalde
besluit nie uit te voer en nie vir vas en bindend te hou nie
(Boersma, 1984:8). Hierdie mening spruit voort uit die siening
dat die kerkverband vrywillig aangegaan is, waarbinne die
plaaslike kerke vry en selfstandig funksioneer (Boersma, 1984:6).
Tydens die Landelijke Vergadering te Utrecht in 1974 is die
siening soos volg verwoord: “De kerken spreken uit, dat het al of
niet aanvaarden van het (een) kerkelijk akkoord geen oorzaak van
breuk of verwijdering mag zijn tussen gemeenten die een zijn in
geloof en belijden. De kerken verzoeken alle gemeenten, die
bezwaren hebben tegen aanvaarding van het (een) kerkelijk
akkoord, zich zoveel mogelijk te richten naar hetgeen met de
meeste stemmen goedgevonden wordt; en inzonderheid hun
mederwerking te verlenen aan en hun stem te doen horen op de
gemeenschappelijke vergaderingen, ook al kan voor hetgeen daar
wordt besloten geen medeverantwoordelijkheid worden gedragen”
(Boersma, 1984:8).
Binne die konteks van bogenoemde denke is die binding aan
besluite van meerdere (landelike) vergaderings in artikel 34 van
die Akkoord vasgelê: “Een besluit van de regionale of landelijke
vergadering zal door de plaatselijke kerken bekrachtigt worden en
in onderlinge liefde nagekomen, tenzij dit besluit strijdig
bevonden wordt met de Heilige Schrift of ook als het niet
overeenstemt met het Akkoord van kerkelijk samenleven. De kerk
die een besluit niet bekrachtigt om bovengenoemde redenen, of
niet kan uitvoeren om redenen die het welzijn van de gemeente
betreffen, zal hiervan aan de zusterkerken rekenschap geven”.
Die Nederlandse Gereformeerde Kerken se interpretasie van
ratihabitio vind neerslag in hulle Akkoord voor Kerkelijk
Samenleven. Blykens die Akkoord moet besluite van meerdere
vergaderings deur die plaaslike kerke bekragtig word alvorens dit
in liefde uitgevoer word. Bekragtiging vind plaas tensy ´n
besluit strydig bevind word met die Woord of die Akkoord of
indien ´n kerk dit nie kan uitvoer nie weens redes wat die welsyn
van die gemeente betref. Indien ´n besluit nie bekragtig kan word
nie, moet aan die susterskerke rekenskap gegee word.
Hieruit blyk dat sekere elemente van ratihabitio toegepas word,
en ander nie. Bekragtiging (ratideclaratio) en uitvoering
(executio) van besluite word met name genoem. Die elemente wat
ontbreek, is die aanvaarding (acceptatio) van die bekragtigde
besluit en die bewyslewering (ostentatio) indien ´n besluit
ongeldig blyk te wees. Ostentatio word vervang met “rekenskap
gee”.
Die rede waarom hierdie elemente ontbreek, moet gesoek word in
die siening wat die Nederlandse Gereformeerde Kerken op die
kerkverband het. Plaaslike kerke handel uiteindelik na eie
goeddunke. Daarby is die advies van die kerkverband profytlik,
maar nie noodsaaklik nie. Gevolglik is dit nie nodig dat die
plaaslike kerk die besluit van die meerdere vergadering sy eie
maak (acceptatio) nie.
Dat die woorde “vas en bindend” en die bewyslewering (ostentatio
irratideclarationis) ná die tensy, wat prominent in die Dordtse
Kerkorde gebesig word, in die Akkoord van die Nederlandse
Gereformeerde Kerken ontbreek, is geen toevalligheid nie.
Besluite van meerdere vergaderings word nie vir vas en bindend
gehou nie, net so min as wat die Akkoord in sy geheel vir vas en
bindend gehou word (vergelyk die opmerking wat tydens die
Landelike Vergadering in 1974 gemaak is, waarna hierbo verwys
is).
Die gevolgtrekking moet gemaak word dat, nieteenstaande die feit
dat heelparty noodsaaklike elemente van ratihabitio in artikel 34
van die Akkoord opgeneem is, die wesenlike element van acceptatio
(dit is: ratificatio) weggelaat is. Die weglating van acceptatio
is die yking van independentisme in die Nederlandse Gereformeerde
Kerken. Plaaslike kerke kan besluite van meerdere vergaderings
bekragtig sonder om dit as hulle eie te aanvaar. Die reël dat
rekenskap gegee moet word wanneer besluite nie bekragtig en
uitgevoer word nie, is ´n ontkragting van die “tensy bewys word”
van artikel 31 KO. Dit is, gesien die feit dat binding aan
besluite in die Akkoord ontbreek, ´n ope vraag wat die
kerkverband ten opsigte van ´n plaaslike kerk kan doen as die
betrokke kerk om watter rede ook al slegs rekenskap van die
nie-bekragtiging van besluite gee.
Die beskrywing van die gebeure in die periode 1944 tot 1995 het
begin waar die Gereformeerde kerke in Nederland nog almal (op
papier) aan die oorspronklike redaksie van artikel 31 Dordtse
Kerkorde gebind was. Die id ratum habebitur is in die Kerkorde
van die Gereformeerde Kerken in 1944, soos in die Kerkorde van
die Christelijke Gereformeerde Kerken (1967:29; vergelyk
5.2.4.1.2) suiwer weergegee as zal voor vast en bondig gehouden
worden. Afwykende interpretasies en toepassings van ratihabitio
het daartoe gelei dat die Gereformeerde kerke in Nederland sedert
1944 by twee geleenthede ´n skeuring ondergaan het. Oor die
skeurings as sodanig word daar nou geen uitspraak gelewer nie. In
verband met die onderwerp is dit opmerklik dat die kerkregtelike
geskil sowel in 1944 as in 1967 oor ratificatio gegaan het.
Die uiteinde van die geskiedenis is dat, waar daar in 1944 een
suiwer weergawe van ratihabitio was, daar in 1995 drie
uiteenlopende weergawes is. Blykens die beoordeling wat van
elkeen gegee is, is geeneen van die drie weergawes suiwer
nie.
Die Gereformeerde Kerken het ´n hiërargiese inhoud aan artikel 31
KO gegee, die Nederlandse Gereformeerde Kerken ´n
independentistiese, terwyl die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt)
ratihabitio tot “aanvaar” verswak het. Eersgenoemde twee misken
ratificatio welbewus. Sodoende wyk hulle af van een van die
fundamentele beginsels waarop die Gereformeerde kerkregering
rus.
Die gesprek oor binding aan besluite van meerdere vergaderings
sal nimmereindigend wees as daar nie teruggekeer word na die
skriftuurlike beginsel wat die Gereformeerde kerke reeds in 1581
kerkordelik neergelê het nie, en as die drie aksies van
ratihabitio nie sorgvuldig onderskei en in die kerkorde veranker
word nie.
In die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis kan die periode 1652 tot
1859 in drie tydvakke onderverdeel word. In die beginjare, na die
koms van Jan van Riebeeck (1652 tot 1795), was die kerk onder
beheer van die Oos-Indiese Kompanjie. In die daaropvolgende jare,
1795 tot 1843, het die plaaslike owerhede in die Kaap direkte
toesig en beheer oor die kerke uitgeoefen. Daarna, vanaf 1843 tot
1859, het die kerke in Suid-Afrika op ´n kruispad gekom. Die
Groot Trek het onder andere ´n groot invloed op die verloop van
die kerkgeskiedenis in Suid-Afrika gehad.
Oor elkeen van die onderskeie tydvakke sal agtereenvolgens enkele
opmerkings gemaak word sodat vasgestel kan word tot hoe ´n mate
daar van ratificatio in die Kaapse kerke sprake was.
Met die stigting van ´n halfwegstasie aan die Kaap was die
Oos-Indiese Kompanjie nie net geïnteresseerd in ´n verversingspos
vir verbygaande skepe en ´n bloeiende handelspraktyk nie. Die
bewindhebbers van die Kompanjie wou ook in die geestelike
behoeftes van hulle amptenare voorsien en het selfs begeer dat
daar sendingwerk onder die bevolking van Afrika gedoen sal word
(Scholtemeijer, 1969:210). Laasgenoemde blyk by uitstek uit die
gebed van Jan van Riebeeck by sy landing aan Kaap die Goeie Hoop
op 6 April 1652: “ende onder dese wilde brutale menschen
(mogelijck sijnde) uwe ware gereformeerde Christelijcke eere
mettertijt mochte voortgeplant ende verbreijt worden, tot uwes H.
Naemes loff” (Van Jaarsveld, 1971:6).
Uit hierdie gebed is dit verder duidelik dat met die koms van die
Hollanders aan die Kaap die Gereformeerde godsdiens in
Suid-Afrika gevestig is (Scholtemeijer, 1969:211). Die
belangrikste kerkboeke wat Jan van Riebeeck saamgebring het, was
die Statebybel met sy Gereformeerde verklarende aantekeninge, die
Psalmboek met die Gereformeerde belydenisskrifte en ook enkele
liturgiese formuliere wat tydens die Sinode van Dordrecht 1618/19
in Nederland vasgestel is en in die Gereformeerde kerke aldaar in
gebruik was (d’Assonville, 1992:198). Aan die hand van die
verskillende kerkboeke en ooreenkomstig die gebruike wat in die
Gereformeerde kerke in Nederland van toepassing was, is die
kerklike lewe aan die Kaap ingerig, alhoewel daar gedurende die
eerste jare na die volksplanting nog nie werklik sprake van ´n
goed georganiseerde kerklike lewe was nie (Van Broekhuizen,
1922:11; Scholtemeijer, 1969:211; Pont, 1991:150).
Met die aankoms van dominee J. van Arckel, die eerste vaste
predikant in die Kaap, is die Gereformeerde Kerk Kaapstad formeel
in 1665 gestig (Pont, 1991:150). ´n Kerkraad, bestaande uit een
ouderling en een diaken, is eweneens benoem (Scholtemeijer,
1969:212). Met verloop van tyd word meer gemeentes gestig: in
Stellenbosch (1689), Drakenstein (1691), Roodezand (1743),
Zwartland (1744), Graaff-Reinet (1792) en Swellendam (1794)
(Scholtemeijer, 1969:212-213; d’Assonville, 1992:200-201). Oral
waar gemeenskappe van trekkende burgers ontstaan het, is daar
ruimte gesoek om ´n kerk te stig. Rondom die kerke het dan
dikwels dorpe ontstaan (d’Assonville, 1992:201).
Wat die ordening van die kerklike lewe en die eerste gemeentes
betref, is dit duidelik dat - sover moontlik - die Nederlandse
patroon van kerkregering nagevolg is (Odendaal, 1957:32). Met
inagneming van die Politieke Raad en die Here XVII, wat hulle
patronaatsreg ten volle uitgeoefen het, is die kerke regeer
(Pont, 1991:152).
Oor die vraag watter kerkorde in die vroeë Kaapse kerke van krag
was, bestaan daar uiteenlopende menings.
· Kleynhans (1973:17) en Van der Watt (1976:9, 42-43) toon met
verwysing na ´n brief van dominee J.G. d’Ailly, predikant van die
Kaapse gemeente in die vroeë agtiende eeu, asook op grond van
duidelik aanwysbare historiese insidente aan dat die Dordtse
Kerkorde van 1618/19 die vigerende kerkorde in die Kaapse kerke
was.
· Jooste (1958:13) stel dat “die grondslae waarop die kerklike
lewe aan die Kaap gereël is, sodanig was dat ons dit Gereformeerd
kan noem in die sin van die Sinode van Dordrecht (1618/19)”.
· Kruger (1957:34) oordeel dat die Politieke Raad nooit offisieel
enige kerkorde aan die Kaap afgekondig het nie. Die kerke het
volgens Kruger moontlik òf die Dordtse Kerkorde òf die Kerkorde
van Batavia as “handleiding gebruik sover dit moontlik was vir
toestande aan die Kaap”.
· Spoelstra (1984:54) deel Kruger se mening. Hy stel dit as ´n
feit dat daar aan die Kaap geen kerkorde gegeld het nie. Volgens
Spoelstra maak dit die Kaapse kerke voor 1804 nie vorm- of
ordeloos nie, aangesien binding aan en belewing van die
Gereformeerde belydenis die inrigting van die kerklike lewe
bepaal het.
· Engelbrecht (1936:9) is van oortuiging dat die Dordtse Kerkorde
in die dae van die Oos-Indiese Kompanjie “glad nie van krag was
nie”. Hy motiveer nie sy oortuiging nie.
· Alhoewel dit uit die verskillende standpunte blyk dat daar nie
met sekerheid gesê kan word of die Dordtse Kerkorde van 1618/19
in die Kaapse kerke van krag was nie, kan aanvaar word dat die
kerklike lewe wel op ´n Gereformeerde wyse ingerig is. Die meeste
geskiedskrywers is van mening dat die beginsels vir die
kerkregering, soos wat dit in die Gereformeerde belydenis
verwoord is, in die kerklike lewe toegepas is.
Nieteenstaande die pogings om die suiwer Gereformeerde beginsels
in die kerklike lewe aan die Kaap toe te pas, was daar van meet
af aan twee liggame wat die ontwikkeling van die kerke gerem het
(Scholtemeijer, 1969:213; d’Assonville, 1992:199). Parallel met
die gebeure in Nederland gedurende die sewentiende eeu, het die
Kaapse kerke onder owerheidsinmenging gebuk gegaan. Bowendien het
die Klassis Amsterdam die selfstandigheid van die kerke in die
Kaap aangetas.
Wat laasgenoemde betref het genoemde Klassis aanvanklik volgens
artikel 39 van die Dordtse Kerkorde die Gereformeerdes aan die
Kaap as verspreidwonendes beskou en bearbei. Toe daar in die Kaap
selfstandige, plaaslike kerke gestig is, het die Klassis
voortgegaan om sake vanuit Nederland te reël. Die Klassis
Amsterdam waak daarteen dat die gemeentes aan die Kaap niks meer
sal wees as ´n uitbreiding van die kerk in die vaderland nie
(Pont, 1991:157). In effek is die selfstandigheid van die
plaaslike kerk misken: een van die grondreëls van die
Gereformeerde kerkregering word tersyde gestel. Vir 150 jaar het
die Klassis Amsterdam hulle stempel op die Kaapse kerke bly
afdruk, wat meegebring het dat die kerklike lewe nie behoorlik
ontwikkel het nie (d’Assonville, 1992:199).
Aan die ander kant het die owerheid die kerke aan bande gelê deur
oral in te meng. ´n Verteenwoordiger van die regering (die
Politieke Raad) moes elke kerkraadsvergadering bywoon (Van
Broekhuizen, 1922:25; Pont, 1991:153). Die owerheid het die
laaste seggenskap wat betref die verkiesing van kerkraadslede,
besteding van gelde, stigting van nuwe gemeentes en beroeping van
predikante gehad (Scholtemeijer, 1969:213). Die burgerlike
regering het homself die reg toegeëien om besluite van die kerke
eers goed te keur alvorens dit uitgevoer word (d’Assonville,
1992:199).
Die gemeentes kon nie in ´n meerdere vergadering, soos die
Gereformeerde kerke dit ken, byeenkom nie. Die Klassis Amsterdam
het dit uitdruklik verbied (Pont, 1991:157). Om enigsins in die
behoefte aan gemeenskaplike beraadslaging te voorsien, het
naburige kerke soms bymekaargekom as ´n soort “groot kerkraad”
(Scholtemeijer, 1969:214). In 1746 is die eerste “Gekombineerde
Kerkvergadering” gehou (Van Broekhuizen, 1922:91; Pont,
1991:157). Oor die invloed van dié vergadering sê Van Broekhuizen
(1922:110) dat dit nie verreikend was nie “omdat hulle geen
besluit sonder goedkeuring van die regering kon neem nie; verder
het die meeste gemeentes en kerkrade met hulle vreeslike
uitgestrektheid hulle eie pad moes veg”. Dertien jaar later, in
1759, het die owerheid weer met die Gekombineerde Kerkvergadering
weggedoen (Scholtemeijer, 1969:214). Tot en met 1795 het die
owerheid direkte toesig oor die kerklike lewe bly hou en is die
kerk as ´n departement van die staatsdiens beskou (d’Assonville,
1992:199).
Uit die gegewens wat hierbo vermeld is, dui alles daarop dat die
Kaapse kerke in die jare 1652 tot 1795 op papier volgens die
beginsels van die Gereformeerde kerkreg, soos dit in die
Gereformeerde belydeniskrifte en in die Dordtse Kerkorde verwoord
is, ingerig en regeer is. Die praktyk van kerkregering was
klaarblyklik egter heel anders.
In teenstelling met die belydenis (in besonder artikels 27 tot 32
NGB oor die plaaslike kerk en artikel 36 NGB oor die onderskeie
take van die owerheid en die kerk) en die Dordtse Kerkorde
(vergelyk onder andere artikels 29 tot 52 oor die take van die
verskillende kerklike vergaderings) het die Klassis Amsterdam en
die Politieke Raad die regering van die kerke uit die hande van
die kerkrade geneem. Gevolglik het die Kaapse kerke onder
klassikrasie (onregmatige inmenging van die klassis in die
regering van die plaaslike kerke) en caeseropapie (onregmatige
indringing van die owerheid in kerklike sake) gebuk gegaan.
Noodwendig vloei hieruit voort dat daar van die ratihabitio in
artikel 31 Dordtse Kerkorde niks tereg gekom het nie. Reeds die
feit dat daar amper nooit meerdere vergaderings belê is nie, maak
ratihabitio onmoontlik. Verder is die finale woord nie aan Gods
Woord - soos bedien deur die kerkraad - oorgelaat nie, maar aan
´n klassis en die burgerlike owerheid.
In 1795 is die Kaap deur Engeland in besit geneem. Die verowering
het op die kerklike lewe geen grootskaalse veranderings tot
gevolg gehad nie, behalwe dat die band met die Klassis Amsterdam
heeltemal verbreek is (Scholtemeijer, 1969:215).
´n Gebeurtenis wat wel ingrypende gevolge vir die kerklike lewe
aan die Kaap ingehou het, is die Franse rewolusie van 1789. Die
leuse van “vryheid, gelykheid en broederskap”, wat die kerklike
lewe in Europa ingrypend beïnvloed het, het ook na die Kaap
oorgewaai. Onder hierdie leuse mag een kerk nie bo ´n ander
bevoorreg word nie en alle mense moet gelyke regte hê
(Scholtemeijer, 1969:215).
Met die Vrede van Amiens in 1802 word die Kaap aan Nederland
teruggegee. Omdat die Oos-Indiese Kompanjie reeds opgehou het om
te bestaan, val die Kaap direk onder die regering van die
Bataafse Republiek (Van Broekhuizen, 1922:141). Goewerneur
Janssens en kommissaris-generaal De Mist word uit Nederland na
die Kaap gestuur om sake in orde te bring. Deurdring van die
filosofie van die Franse Rewolusie het De Mist begin om die
staatsbestel aan die Kaap te reorganiseer. Ook die kerk, wat nog
al die jare as ´n departement van die staat beskou en hanteer is,
word deel van De Mist se reorganisasie-plan (Scholtemeijer,
1969:216).
Nadat De Mist homself op hoogte gebring het van die wyse waarop
die kerklike lewe in die Kaap tot 1804 ingerig is, het hy ´n
kerkorde opgestel wat op 25 Julie 1804 in werking gestel is (Van
Broekhuizen, 1922:143; Scholtemeijer, 1969:216). Die orde bestaan
uit 52 artikels en verskil radikaal van die Dordtse Kerkorde
(d’Assonville, 1992:202). Die naam van die kerk, wat voorheen
Gereformeerde Kerk was, is deur De Mist na die Hervormde
Kerkgenootskap verander (Van Broekhuizen, 1922:147-150). Daaruit
blyk De Mist se kerkbegrip. Hy sien die kerk as ´n genootskap van
mense wat diensbaar aan die staat moet wees (d’Assonville,
1992:202). Die Naam van die Here kom nie in sy kerkwet voor nie.
Daar word slegs melding gemaak van ´n “Hoogste Wese”: ´n vae,
onbepaalde godheid wat eerbiedig moet word ter bevordering van
deug en goeie sedes (Scholtemeijer, 1969:216). Wat die
kerkregering betref beskou De Mist die sinode as die kerk, terwyl
die gemeentes takke daarvan is. Die sinode is ´n hoofbestuur, en
die gemeentes is almal aan die bestuur ondergeskik (d’Assonville,
1992:202). Die kollege (sinode) regeer die ondergeskikte lede
(gemeentes). De Mist het sodoende ´n tipies kollegialistiese
stelsel van kerkregering in die Kaap ingevoer (vergelyk 3.1).
Hiermee is met die Gereformeerde wyse van kerkregering formeel en
materieel afgereken (d’Assonville, 1992:203).
´n Voordeel (in Gereformeerd-kerkregtelike terme) van De Mist se
Kerkorde is dat daar voorsiening gemaak word vir die hou van ´n
algemene kerkvergadering. As gevolg van omstandighede sou die
eerste algemene vergadering eers in 1824 gehou word
(Scholtemeijer, 1969:217). Nietemin is die ruimte daarvoor
formeel geskep, wat ´n verbetering ten opsigte van die praktyk
voor 1795 was.
Met betrekking tot die onderwerp is dit van belang om op te merk
dat De Mist se Kerkorde nêrens direk melding maak van die binding
van besluite wat deur die algemene vergadering geneem is nie. In
die kollegialistiese stelsel van kerkregering is besluite van
hoëre kerkbesture vanself bindend. In artikels 48, 50 en 51 van
De Mist se Kerkorde word bepaal dat die goewerneur die laaste sê
het oor die agenda van die algemene kerkvergadering, asook oor
die besluite wat die vergadering neem. Die goewerneur moet
toestemming gee alvorens ´n besluit van krag word (Van
Broekhuizen, 1922:168-169; Pont, 1991:188-189).
Op 8 Januarie 1806 het Engeland die Kaap weer - hierdie keer
permanent - in besit geneem (Kruger, 1957:44; d’Assonville,
1992:203). Ten opsigte van die kerklike lewe het die Engelse
voorlopig geen veranderings aan die bestaande toestand aangebring
nie. Die Kerkorde van De Mist is kragtens artikel 8 van die Akte
van Kapitulasie onveranderd deur die Engelse oorgeneem (Kruger,
1957:44; Odendaal, 1957:83; Scholtemeijer, 1969:217).
Nieteenstaande die handhawing van die status quo met betrekking
tot die vorm van kerkregering, was die Engelse bewindhebbers
daarop uit om die kerke, soos die res van die samelewing in die
Kaap, te verengels (Kruger, 1957:44; d’Assonville, 1992:203).
Politieke kommissarisse sou voortaan vir die Engelse belange in
die kerk moes waak. Predikante word nou deur ´n Engelse
goewerneur aangestel, verplaas en betaal. Staatsgesag in en oor
die kerk word verskerp.
Met verloop van tyd het die kerk in die Kaap verengels, mede as
gevolg van die feit dat Engelse en Skotse predikante ingevoer is
om in die Hollandse gemeentes te dien (Kruger, 1957:46-49;
d’Assonville, 1992:204). Leerstellig sowel as kerkregtelik bereik
die Kaapse kerke ´n laagtepunt (Scholtemeijer, 1969:218). Die
invoer van gesange in 1814 sonder dat ´n meerdere vergadering
daaroor besluit en kerkrade dit aanvaar het, dien as ´n
bevestiging van die leerstellige en kerkregtelike warboel
(d’Assonville, 1992:206).
Die Skotse predikante aan die Kaap het vanaf hulle aankoms daarop
aangedring dat die artikels in De Mist se Kerkorde wat vir ´n
algemene vergadering of sinode voorsiening maak, toegepas moes
word (Scholtemeijer, 1969:218). In 1824 word aan hulle eise
voldoen. Afgevaardigdes uit twaalf van die veertien kerke in die
Kaap vergader tesame (Odendaal, 1957:97). Dit was die eerste
amptelike algemene kerkvergadering (sinode) in Suid-Afrika
(Kruger, 1957:52; d’Assonville, 1992:207).
Hierdie eerste sinode het die Kerkorde van De Mist offisieel as
grondwet van die Kaapse kerke aanvaar (Odendaal, 1957:100).
Aanvullend tot De Mist se Kerkorde is Reglementen voor het
bestuur der Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika opgestel
(Odendaal, 1957:100). Vir hierdie reglement is hoofsaaklik van
Koning Willem 1 se reglement gebruik gemaak, wat sedert 1816 as
kerkwet vir die Nederlandse Hervormde Kerk gedien het.
Alhoewel Odendaal (1957:103) van mening is dat die sinode van
1824 “soveel moontlik probeer het om die gees van Dordt daarin
(in die nuwe reglement - GJM) te laat leef”, moet gekonstateer
word dat die bedoeling van die reglement, soos uitgedruk in die
volgende artikels (aangehaal deur Pont, 1991:217, 219),
uitgesproke ongereformeerd is:
· Artikel 3: “De mindere besturen hebben het regt, voorstellen in
te zenden aan de hoogere, en in voorkomende gevallen derzelver
voorlichting te vragen; terwyl zy daarentegen verpligt zyn, aan
de aanschryvingen der hoogere Kollegien te voldoen.”
· Artikel 4: “Een minder Kerkbestuur vermeenende door de
besluiten van een hooger bezwaard te zyn, heeft het regt zich
deswegens by nog hooger bestuur te beklagen; mits nogtans
gehouden zynde, van inmiddels aan de ontvangene bevelen te
gehoorzamen, ten zy de zaak by de eindelyke uitspraak, niet weder
in zyn geheel zoude kunnen gebragt worden.”
· Artikel 5: “Van alle zaken, by uitspraak van een kerkelyk
Kollegie beslist, valt appèl aan het in rang volgend hoogere
Kollegie, doch ter tweeder instantie beslist zynde, wordt geen
nieuw appèl toegestaan.”
· Artikel 9: “De hoogste directie der Hervormde Kerk in deze
volksplanting omtrent Kerkelyke zaken berust bij de Algemeene
Kerkvergadering.”
· Artikel 20: “In alle Gemeenten zal een afzonderlyke Kerkenraad
zyn ... van welken alle de betrekkingen en pligten door de
Algemeene Kerkvergadering by een reglement op den Kerkenraden
zullen worden bepaald, en omschreven overeenkomstig Artikel 24
van de thans vigeerende Kerkenorde van het jaar 1804.”
Die Hervormde teoloog, S.P. Engelbrecht (1936:11-12) spreek ´n
gunstige oordeel oor die reglement uit as hy sê: “Dit vorm vandag
nog die grondslag van die verskillende Suid-Afrikaanse Kerke,
behalwe van die Gereformeerde Kerk. Die kerk-ontbindende beginsel
van die outonomie van die plaaslike gemeente is in hierdie
reglement nie gehuldig nie”. Laasgenoemde opmerking dien slegs as
´n bevestiging dat, met die aanvaarding van die reglement, die
Kaapse kerke offisieel afstand van die ou
Gereformeerd-kerkregtelike tradisie gedoen het, waarin op grond
van die Skrif en die belydenis uitgegaan word van die
selfstandigheid van die plaaslike kerk (Kruger, 1957:55;
Scholtemeijer, 1969:219; d’Assonville, 1992:207). Die Nederduitse
Gereformeerde kerkgeskiedskrywer, professor P.B. Van der Watt
(1980:38-50) is eweneens van mening dat die Algemene Reglement
van 1824 ´n “belemmering” vir die kerkregtelike ontwikkeling van
die Nederduitse Gereformeerde Kerk was, omdat die Dordtse
Kerkorde nie as basis daarvoor gebruik is nie.
Sedert 1824 het die Kaapse kerke gereeld in sinodes byeengekom
(d’Assonville, 1992:208). Die Skotse predikante was nie met die
inmenging van die owerheid in kerklike sake gediend nie. Op die
sinodes het ernstige konflik tussen predikante en politieke
kommissarisse ontstaan (Scholtemeijer, 1969:218). Om ´n einde aan
die wrywing te maak, het die goewerneur gevra dat die sinode ´n
kerkwet moet help opstel waardeur die kerk in die toekoms sonder
inmenging van die goewerneur sy sake kon bestuur. In 1842 het die
sinode ´n kerkwet voorberei wat deur goewerneur George Napier
aanvaar en in Ordonnansie 7 van 1843 afgekondig is. Hierin het
die owerhede aan die kerk die reg toegeken om sonder bekragting
van die regering wette te maak. Sinodes sou ook voortaan sonder
die teenwoordigheid van politieke kommissarisse kon vergader
(Scholtemeijer, 1969:219). Alhoewel die owerheid nog nie ten
volle onafhanklikheid aan die kerk toegestaan het nie, kan 1843
as die jaartal beskou word waarin ´n einde aan regstreekse
staatsbeheer oor die kerk gekom het (Kruger, 1957:60-61).
In die kerkwet van 1842 is die naam van die Kaapse kerke vanaf
die Hervormde Kerkgenootskap na die Nederduitse Gereformeerde
Kerkgenootskap verander (Scholtemeijer, 1969:218).
Die periode 1795 tot 1843 word met die uitsig op kerklike vryheid ten opsigte van owerheidsinmenging afgesluit. Die Kerkorde van De Mist, tesame met die aanvullende reglemente wat die Sinode 1824 opgestel het en Ordonnansie 7 van 1843, maak daarvoor voorsiening dat die kerk betreklik onafhanklik van die owerheid kan funksioneer. Daardie vryheid impliseer egter nog nie ware vryheid in Christus nie. Met die offisiële aanvaarding van De Mist se Kerkorde en die aanvullende reglemente in 1824 het die Kaapse kerke afstand gedoen van hulle Gereformeerd-kerkregtelike fondament, net soos wat die Gereformeerde kerke in Nederland in 1816 met die invoering van koning Willem I se reglement van hulle Gereformeerde fondament afstand gedoen het (vergelyk 5.2.3.2.4). Die Kaapse kerke is sedert 1843 wel tot ´n groot mate van owerheidsinmenging bevry, maar is sedertdien ´n nuwe juk opgelê: die juk van ´n kerklik geykte kollegialistiese sinodokrasie. Kerke word gebind aan die wil van kerklike vergaderings. Die ratihabitio van artikel 31 Dordtse Kerkorde, wat gerig is op eerbiediging van die alleenheerskappy van Christus in sy kerk, word steeds totaal misken. Daarmee saam word vir die ratificatio van besluite geen ruimte gelaat nie. Besluite van hoër besture moet deur laer besture uitgevoer word, bloot omdat die hoër bestuur die besluit geneem het - nie omdat die kerkraad dit as sy eie aanvaar het nie.
Vanaf 1834 het Boere in groot getalle uit die Kaapkolonie begin
trek (Jooste, 1958:44; Van der Watt, 1977:5). Voor hulle vertrek
uit die Kaap het hulle ernstige, dog tevergeefse pogings
aangewend om ´n predikant te beweeg om saam met hulle te gaan
(Engelbrecht, 1936:27; Scholtemeijer, 1969:223; Pont, 1991:283,
290-291). Alhoewel die Voortrekkers gepoog het om ook kerklik
geheel en al onafhanklik van die Engelse oorheersing in die Kaap
te staan (Jooste, 1958:44), het dit nie geslaag nie. Kaapse
predikante het die Trekkers van tyd tot tyd in die Transvaal en
Natal besoek en hulle geestelik as lidmate van die kerk in die
Kaap bearbei (Engelbrecht, 1936:50-58; Scholtemeijer,
1969:223-224; d’Assonville, 1992:217). Die kerklike lewe in die
Transvaal is dan ook ontwikkel en voortgebou op die grondslag van
die kerk in die Kaapkolonie (Van der Watt, 1977:21).
In 1852 word die nood weens gebrek aan behoorlike kerklike
bediening so groot, dat die Transvalers ´n versoek tot inlywing
aan die Kaapse sinode rig (Scholtemeijer, 1969:224; Pont,
1991:339). Die Kaapse sinode het die versoek, onderworpe aan
sekere voorwaardes, goedgekeur (Pont, 1991:346). Voordat die
Transvalers egter op die voorwaardes van die sinode kon reageer,
kom die jong proponent Dirk van der Hoff, wat in Den Haag
(Nederland) georden en in die Kaap gelegitimeer is, deur die
toedoen van ´n sekere professor Lauts in die Transvaal aan (Van
der Watt, 1977:67; d’Assonville, 1992:217). Kort na sy aankoms
word hy in die Transvaalse kerk as predikant bevestig, met die
gevolg dat met inlywing by die Kaapse kerke nie voortgegaan word
nie (Odendaal, 1957:118; Scholtemeijer, 1969:225).
In 1953 word die Nederduitsch Hervormde Kerk in Transvaal gestig
(d’Assonville, 1992:218). Op die eerste Algemene Kerkvergadering
van die Hervormde Kerk in 1853 word besluit dat geen ander
kerkgenootskappe in die land toegelaat sal word nie
(Scholtemeijer, 1969:225). Die Volksraad het die besluit van die
Algemene Kerkvergadering goedgekeur. Sodoende is die Hervormde
Kerk deur die regering as staatskerk van die Zuid-Afrikaanse
Republiek (Z.A.R.) verklaar (d’Assonville, 1992:218).
Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kaap
is voorlopig net so in die Hervormde Kerk oorgeneem en toegepas
(Engelbrecht, 1936:141; Scholtemeijer, 1969:225). Tien jaar
later, op 24 Oktober 1863 is ´n eie kerkwet vir die Hervormde
Kerk gefinaliseer en deur die Volksraad van die Z.A.R. bekragtig.
Opmerklik van die Hervormde Kerkwet is dat dit duidelik gegrond
is op die Kaapse Kerkwet van 1842 (Engelbrecht, 1936:142; Storm,
1989:131). Die beginsel dat “die Kerk ´n ondeelbare eenheid” is,
geld as uitgangspunt vir die kerkwet (Engelbrecht, 1936:142). Die
bestuur van die kerk word uitgeoefen “1e. Over de Gemeenten door
Kerkeraden; 2e. Door de Commissie der Algemene Kerkvergadering;
3e. Over al de Gemeenten tezamen door de Algemeene
Kerkvergadering” (Engelbrecht, 1936:143). Van ´n terugkeer na die
Gereformeerd-kerkregtelike beginsels was daar in die Hervormde
Kerk van die Z.A.R. duidelik geen sprake nie. Dominee Van der
Hoff self het ook nooit gepoog om na die
Gereformeerd-kerkregtelike beginsels terug te keer nie, aangesien
hy nie daarin opgelei is nie. Hy kom uit die vrysinnige Hervormde
Kerk van Nederland (d’Assonville, 1992:219), waaruit daar alreeds
in 1834 ´n afskeiding was (vergelyk 5.2.4.1).
Weens hierdie omstandighede was daar steeds woelinge binne die
Hervormde Kerk in die Transvaal, veral in Rustenburg waar
Philippus Snyman as ouderling gedien het
(d’Assonville, 1992:219). Daar was nog altyd ´n
Gereformeerde element wat ontevrede was met die ongereformeerde
leer (onder andere die gesange) en inrigting van die kerklike
lewe in die Hervormde Kerk (Jooste, 1958:45; Scholtemeijer,
1969:226; d’Assonville, 1992:218).
In 1859, met die koms van dominee Dirk Postma in die Z.A.R., word
die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika herstig (d’Assonville,
1992:225). Die Gereformeerde Kerke het vanuit die staanspoor
(reeds in die Afskeidingsakte) besluit om terug te keer na die
leer, diens en tug soos dit deur die Sinode van Dordrecht 1618/19
bepaal is (Scholtemeijer, 1969:233; Van der Watt, 1977:84).
Vir die eerste keer sedert 1804, met die invoering van De Mist se
Kerkorde en die afskaffing van die Dordtse Kerkorde, word die
moontlikheid vir die ratihabitio van besluite van meerdere
vergaderings weer geopen. In 1859 is die Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika die enigste kerkverband wat hom kerkordelik verbind
tot die hantering van besluite van meerdere vergaderings soos die
Gereformeerde kerke in Nederland dit sedert die sestiende-eeuse
reformasie gedoen het en in 1581 geyk het.
Tiperend van die periode 1652 tot 1795 is dat die Kaapse kerke op
papier volgens die Dordtse Kerkorde ingerig en regeer is. Die
praktyk van kerkregering was egter radikaal anders. Die Kaapse
kerke het onder oorheersing van die Amsterdamse Klassis en die
plaaslike owerheid gebuk gegaan, wat tot gevolg het dat daar vir
die ratihabitio, met inbegrip van ratificatio, in artikel 31
Dordtse Kerkorde gedurende hierdie periode geen ruimte was nie.
Inteendeel, kerkrade is hulle reg en plig van ratihabitio en dus
ook van ratificatio welbewus ontneem.
Gedurende die periode 1795 tot 1843 word offisieel met die
Dordtse Kerkorde weggedoen. Alhoewel die kerke ´n groter mate van
vryheid ten opsigte van die owerheid geniet, bring die Kerkorde
van De Mist, tesame met die aanvullende reglemente wat die Sinode
1824 opgestel het, die Nederduitse Gereformeerde Kerk onder die
juk van sinodokrasie. Die Hervormde Kerk in die Z.A.R. aanvaar in
beginsel dieselfde orde en reglemente, wat beteken dat ook in
daardie kerkverband sinodokraties te werk gegaan word. Nog steeds
word vir kerkrade geen ruimte vir die ratificatio van besluite
van meerdere vergaderings gelaat nie.
Eers in 1859, met die herstigting van die Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika (met die koms van Jan van Riebeeck is die
Gereformeerde Kerke vir die eerste keer gestig - vergelyk
5.3.1.1.1), word daar teruggekeer na die Dordtse Kerkorde en word
die moontlikheid geskep om ooreenkomstig artikel 31 van daardie
Kerkorde besluite van meerdere vergaderings vir vas en bindend te
hou sonder dat ´n owerheid of kerklike bestuur binding aan hulle
besluite forseer.
Die samevattende slotsom waartoe gekom word, is dat daar in die
kerklike lewe in Suid-Afrika voor 1859 geen sprake van
ratihabitio, waaronder ratificatio, van besluite van meerdere
vergaderings was nie.
In die vorige paragrawe is aangetoon dat met die herstigting van
die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1859 die deur vir
kerkrade geopen is om die besluite wat deur meerdere vergaderings
geneem is, ooreenkomstig artikel 31 KO te ratifiseer. Of kerkrade
sedertdien daadwerklik hulle ratificatio-plig nagekom het, is
moeilik om vas te stel, omdat daar - sover vasgestel kon word -
geen gegewens daaroor gepubliseer is nie. Die term ratifikasie
word byvoorbeeld nie in die indeks van die teologiese biblioteek
van die PU vir CHO of in die register van sinodebesluite van die
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vermeld nie (Lourens,
1990:77).
Ten einde ´n aanduiding te kry in hoeverre kerkrade wél die
besluite van meerdere vergaderings ná toetsing en
geldigverklaring as hulle eie aanvaar (geratifiseer) het, word
uit die voorwoorde van die eerste sinodes van die Gereformeerde
Kerke in Suid-Afrika enkele relevante opmerkings aangehaal.
Die eerste Algemeene Sijnodale Vergadering der Gereformeerde
Kerken in Suid-Afrika is vanaf 20 tot 24 Maart 1862 te
Reddersburg gehou.
In artikel 12 van die acta (GKSA, 1862:8) word melding gemaak van
´n openbare verklaring wat met die aanvang van die sinode aan die
sinodegangers voorgehou is, waarmee die aanwesiges hulle
instemming moes betuig. In die verklaring word die kerke gebind
aan die Dordtse Kerkorde van 1618/19. Artikels 14 en 19 van die
acta (GKSA, 1862:10) vermeld dat die Dordtse Kerkorde as
“algemeene Kerke-orde voor onze Kerk” voorgelees en aangeneem
word.
Artikel 46 (GKSA, 1862:19) bepaal dat die sinodale handelinge
gedruk moet word. In die voorwoord van die acta (GKSA, 1862:4)
skryf dominees D. Postma en J. Beijer die volgende oor hoe die
besluite van die sinode deur die gemeentes ontvang en hanteer
moet word: “En alzoo, lieve Broeders en Zusters, in den Heere!
wenschen wij met u te deelen en door u beschouwd te worden; -
gedenkt onzer in uwe liefde en gebeden”.
Die tweede sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika word
gedurende Junie 1863 te Rustenburg gehou. Op versoek van die
praeses, dominee Beijer, lees die skriba die sinodale handelinge
van die eerste sinode voor (GKSA, 1863:7). Artikel 9 (GKSA,
1863:7) vermeld dat die praeses navraag doen of alle gemeentes ´n
uitgawe van die eerste acta ontvang het, waarop bevestigend
geantwoord word. Daar word besluit om die handelinge van die
tweede sinode ook te druk (GKSA, 1863:17) en aan die gemeentes
beskikbaar te stel.
In die Voorberigt van die acta word die leser versoek om “deze
handelingen met belangstelling te ontvangen”.
Artikel 54 uit die acta van die derde sinode (GKSA, 1866:15) vermeld dat die handelinge van die tweede sinode in die vergadering voorgelees is. Soos met die vorige twee acta, word ook nou besluit om dit te druk (GKSA, 1866:19).
In die voorwoord van die acta van die Sinode 1882 (GKSA, 1882:v)
word die vertroue uitgespreek “dat wanneer gij kennis gemaakt
hebt met de handelingen dezer Synode, gij met ons zult opmerken
de groote zegeningen die de Heere wederom aan Zijne Kerk
geschonken heeft door deze Synode en opgewekt worden tot
dankbaarheid”.
Oor die inhoud van die besluite word die hoop uitgespreek dat dit
vir die leser sal blyk dat “de Kerk door hare Synode zich ook nu
weer duidelijk heeft uitgesproken, in opzicht tot leer, dienst en
tucht, als de van ouds bekende Geref. Kerk van Nederland”.
In die voorwoord van die acta van die Sinode 1888 (GKSA, 1888:3) word spesifiek na artikel 31 KO verwys as die handelinge aan die gemeentes en individuele lidmate voorgelê word: “Wij hopen dan nu ook, dat allen nu weder tot hunne gemeenten teruggekeerd, niet alleen uit een maatschappelijk oogpunt volgens de meerderheid der stemmen hetgeen besloten is ijverig zullen behartigen in hunne gemeenten, maar ook in die meerheid der stemmen de Voorzienigheid Gods zullen eerbiedigen. Dus niet alleen, zeggen wij, uit een maatschappelijk oogpunt, maar ook met eene Christelijke nederigheid en belangstelling de zaken die bij meerderheid der stemmen ten nutte der Kerk in het algemeen besloten zijn, zullen helpen uitvoeren in ootmoedige getrouwheid. (Zie ook Art. 31 van onze Dordsche Kerkorde)”.
Die voorwoord van hierdie acta (GKSA, 1907:4) word met die volgende sin afgesluit: “Met dit korte voorwoord bieden wij nu deze notulen de gemeenten aan, en vertrouwen dat door het lezen er van de liefde, ijver en belangstelling voor het heil van Sion bevorderd zal worden”.
´n Meer algemene, maar nietemin dringende oproep word aan die gemeentes gerig: “Wij zullen niet uitwijden over de handelingen der Synode, die wij met dezen uitzenden aan de gemeenten. Wij vragen slechts aan de gemeenten: leest dezelve met ernst in de gewichtige tijden waarin we ons bevinden” (GKSA, 1916:4).
Die slot van die inleidende woorde van die acta van 1918 (GKSA, 1918:4) lees soos volg: “Hiermee bied ons die Handelinge van die Sinode 1918 aan die geagte en belangstellende leser en die werk, waarvan die Handelinge ´n verslag is, beveel ons Gode”.
Samevattend blyk dat gemeentes die volgende met die sinodale acta
behoort te doen:
· Hulle moet dit met belangstelling ontvang en met ywer lees.
· Deur die acta te lees, moet hulle met die besluite van die
sinode kennis maak.
· Besluite van die sinode moet as belangrik geag word en met ywer
in die gemeentes uitgevoer word.
· Sodoende moet die heil van die kerke bevorder word.
Gemeet aan die verskeie handelinge wat in die ratihabitio van
artikel 31 KO opgesluit lê (vergelyk 2.3), is daar slegs twee
punte van ooreenkoms, te wete die lees en die uitvoer van
besluite van ´n meerdere vergadering. Dit is nie duidelik of die
kerke die besluite van die sinode, nadat hulle dit gelees het,
ook getoets, geldig verklaar en aanvaar het, alvorens hulle dit
uitgevoer het nie. Daar word ook geen melding gemaak van die pad
wat gevolg moet word indien ´n kerkraad nie met ´n bepaalde
besluit van die sinode kan saamstem nie.
Oor die algemeen wil dit voorkom asof belangstellende lesers van
die eerste sinodes se besluite kennis geneem het. Kerkrade het
die besluite waarskynlik ongetoets in die praktyk van die
kerklike lewe toegepas.
Die redes waarom daar so vaag na kerkrade se optrede met
betrekking tot die ratihabitio van artikel 31 KO verwys word, kan
die volgende wees.
· In die eerste plek moet onthou word dat dominee Dirk Postma,
wat ´n toonaangewende rol in die herstigtingsgeskiedenis van die
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1859 gespeel het, uit die
Afgeskeie kerke in Nederland afkomstig was. Die Afskeiding in
Nederland het nie op ´n intens kerkregtelike stryd gevolg nie.
Die primêre punt in geding was die verval in die Gereformeerde
leer en lewenswandel (vergelyk 5.2.4.1.2). Die kerke van die
Doleansie was veel meer kerkregtelik onderlê en toegespits as dié
van die Afskeiding. Dit kan dus wees dat die Gereformeerde Kerke
in Suid-Afrika in die beginjare weens hulle noue verbintenis met
die Afgeskeie kerke in Nederland ook nie kerkregtelik so nougeset
volgens die Gereformeerde beginsels, soos neergelê in die Dordtse
Kerkorde, te werk gegaan het nie.
· ´n Tweede moontlike rede vir die vaagheid waarna hierbo verwys
word, kan onkunde wees. Die kerke in Suid-Afrika het as gevolg
van omstandighede nog nooit ooreenkomstig artikel 31 KO die
besluite van meerdere vergaderings in die volle sin van die woord
vir vas en bindend gehou (ratihabitio) nie. Gedurende die periode
1652 tot 1795 was ratihabitio weens klassikrasie en caeseropapie
buite die kwessie. In die periode 1795 tot 1859 het ´n kerkwetlik
geykte sinodokrasie dit vir kerkrade onmoontlik gemaak om volgens
die Gereformeerde beginsels op te tree (vergelyk 5.3.1.3.4). Die
toepassing van artikel 31 KO in omstandighede waar nòg die
owerheid nòg die meerdere vergadering slaafse onderwerping van
kerkrade vorder, was heeltemal iets nuuts. In sulke omstandighede
kan eensydige optrede weens geb[???]
Om ´n oorsig oor die hantering van ratificatio - indien enige - in die Gereformeerde kerkreg in Suid-Afrika te verkry, word in die volgende paragrawe ondersoek tot hoe ´n mate die vigerende kerkordes van onderskeidelik die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk daarvoor voorsiening maak.
Artikel 23 van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde
Kerk (1991:6) lui soos volg: “Die besluite van vergaderinge is
bindend, maar daaroor kan in appèl na ´n meerdere vergadering
gegaan word ...”.
Hierdie artikel sny die moontlikheid van ratificatio geheel en al
af. Besluite van kerklike vergaderings is bindend. Die
moontlikheid vir appèl word wel oopgehou, maar dit neem nie weg
nie dat, solank die saak waarteen geappelleer word nog nie
afgehandel is nie, die oorspronklike besluit - hetsy geldig of
ongeldig - bindend is.
Omdat binding as ´n feit gestel word, kan kerkrade nie die
besluite van ´n meerdere vergadering toets, geldig verklaar en as
hulle eie aanvaar nie. Rossouw (s.j.:63) maak in hierdie verband
die volgende opmerking: “Die vermeende reg (ratifikasie-reg) van
´n mindere vergadering om te besluit of hulle die besluite van ´n
meerdere vergadering aanvaar, is ´n sieklike vondeling van die
independentisme ...”.
Teenoor die opmerking van Rossouw moet gestel word dat al die
elemente van die ratihabitio van artikel 31 Dordtse Kerkorde,
uitgesonderd die executio van besluite, in artikel 23 van die
Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk misken word. Die
enigste wat ´n kerkraad volgens artikel 23 van die Nederduitse
Gereformeerde Kerk se Kerkorde te doen staan, is om die besluite
van die meerdere vergadering uit te voer. Laasgenoemde kom neer
op sinodokrasie: die plaaslike kerk word deur sinodebesluite
regeer, nie deur die kerkraad wat eers die besluite van die
sinode sy eie maak (ratifiseer) nie.
Bepaling 9.10 (NHK, s.j.:10) stel oor die werkwyse van die ring:
“Onmiddellik na afloop van die ringsvergadering voltooi die
ringskriba die notule en stuur dit vir behandeling na elke
kerkraad in die ring”.
Bepaling 12.10 (NHK, s.j.:23) verorden onder andere die volgende
oor die werkwyse van die Algemene Kerkvergadering: “Alle besluite
van die Algemene Kerkvergadering is bindend op die hele Kerk van
die oomblik waarop dit geneem word, tensy die Vergadering anders
besluit”.
Opmerklik in verband met bogenoemde bepalings is die verskil in
die besluitbevoegdheid van die ring en dié van die Algemene
Kerkvergadering. Waar die ring se besluite vir behandeling na die
kerkrade gestuur word, is die besluite van die Algemene
Kerkvergadering - met of sonder behandeling - bindend vir die
kerkraad.
Wat die bewoording van Bepaling 12.10 betref, geld dieselfde
kommentaar as wat hierbo ten opsigte van artikel 23 van die
Nederduitse Gereformeerde Kerk se Kerkorde gelewer is.
Artikel 31 van die Kerkorde van die Afrikaanse Protestantse Kerk
(1992:26) lui soos volg: “Die besluit van ´n vergadering is
bindend, maar wanneer ´n lidmaat of kerkvergadering hom veronreg
voel of meen dat ´n besluit in stryd is met die Skrif en/of
belydenisskrifte en/of die kerkorde en/of ´n ander sinodebesluit,
kan hy appelleer na ´n meerdere vergadering of ´n beswaarskrif
indien by die betrokke vergadering wat ´n besluit geneem het, ter
motivering vir die verandering van die besluit”.
Bepaling 58A (APK, 1992:42) sluit by artikel 31 aan: “Wanneer ´n
lidmaat ´n besluit van ´n ouderlingevergadering, ´n kerkraad of
´n meerdere vergadering nie kan onderskryf nie, kan hy dit by
wyse van ´n appèl aanhangig maak”.
Ten opsigte van artikel 31 word volstaan met die kommentaar wat
onder 5.3.3.2 gegee is in verband met die woorde “Die besluit van
´n vergadering is bindend”.
Ten opsigte van bepaling 58A is die woordjie “onderskryf”
beduidend. Dit was die gewoonte van die Gereformeerde kerke na
die Reformasie om besluite van meerdere vergaderings, nadat hulle
behoorlik getoets is, deur middel van mondelinge toestemming en
skriftelike “onderskrywing” (ondertekening) as hulle eie te
aanvaar (vergelyk 2.1.2.2.1.3). Of die bedoeling van die “nie kan
onderskryf nie” in bepaling 58A hiermee verband hou, is nie
duidelik nie. Indien dit wel daarmee verband hou, staan dit in
direkte teenstelling met die inhoud van artikel 31. As ´n besluit
van ´n kerklike vergadering in elk geval bindend is, het dit geen
sin om so ´n besluit nog by nabaat te onderskryf nie.
Artikel 31 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika (1980:21) lui onder andere soos volg: “Wat op ´n
kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet
as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd
is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde”.
Hierdie bewoording van die artikel is amptelik deur die Sinode
van Potchefstroom 1964 aanvaar (GKSA, 1964:59; Spoelstra.
1989:192). Ratihabitio word in die veranderde artikel weergegee
as “moet vir vas en bindend beskou word”.
In paragraaf 2.1.2.4.3 is reeds aangetoon dat “moet vir vas en
bindend beskou word” ´n heelwat verswakte weergawe van
ratihabitio is. In die eerste plek skep die imperatiewe “moet”
die indruk dat binding aan geldige besluite as onderwerping aan
´n hiërargiese hoër instansie volg - wat beslis nie die bedoeling
van ratihabitio is nie. In die tweede plek open “beskou” die deur
vir ´n independentistiese kennisname van besluite sonder dat
hulle uitgevoer word. Derhalwe moet vasgestel word dat “moet vir
vas en bindend beskou word” suiwerder weergegee behoort te word
met “sal vir geldend gehou word”, waarin die elemente van
probatio, ratideclaratio, accepatatio (of ratificatio) en
executio vervat is (vergelyk 2.1.2.4.1).
Nieteenstaande die swak weergawe van ratihabitio in die huidige
artikel 31 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika, word die reg en plig van kerkrade steeds duidelik
genoeg omskryf om besluite van meerdere vergaderings nie
klakkeloos in die plaaslike kerke uit te voer nie. Artikel 31 eis
dat kerkrade erns sal maak met die toetsing, geldigverklaring en
aanvaarding van besluite van meerdere vergaderings alvorens dit
uitgevoer word.
Uit die tersaaklike artikels en bepalings van die kerkordes van die verskillende Afrikaanse kerke wat op ´n Gereformeerde grondslag (naamlik die drie Formuliere van Eenheid) leef, blyk dat slegs die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika ruimte laat vir die reg en plig van ratificatio. Die ander drie kerkverbande het met ´n gelykluidende “besluite van kerklike vergaderings is bindend” kerkrade van hulle Godgegewe regte en pligte ontneem (vergelyk 3.3). Sodoende word die selfstandigheid van die plaaslike kerk prysgegee, aangesien die binding aan besluite en die regering van die kerk - waarvoor Christus, die Opperherder, die herders van die plaaslike kerk verantwoordelik hou (Handelinge 20:28; Efesiërs 4:11; 1 Petrus 5:2) - uit die hande van die kerkraad geneem word en uiteindelik by die meerdere vergadering berus.
In die inleiding van die studie is genoem dat daar in die
Gereformeerd-kerkregtelike besinning in Suid-Afrika tot op dese
min oor die onderwerp gepubliseer is (vergelyk 1.3). Die
opmerkings wat wel oor ratificatio gemaak is, is so volledig
moontlik versamel en word vervolgens in ‘n chronologiese volgorde
weergegee.
Soos in die voorafgaande paragrawe, word die standpunte aan die
hand van die reeds bekende skema (vergelyk 2.3) bespreek.
Du Toit beoordeel in twee artikels in Die Kerkblad die gebeure
rondom die kerkstryd in Nederland wat in 1944 op die Vrymaking
uitgeloop het (vergelyk 5.2.5).
In die eerste artikel (1946a:14) beskryf hy die vrygemaaktes se
antwoord op die vraag aan wie bewys gelewer moet word indien ´n
besluit van ´n meerdere vergadering met die Woord van God stry.
“Die beswaardes meen dat dit genoegsaam is as iemand voor die
forum van sy eie konsiënsie die bewys gelewer het, hoewel dit nie
uitsluit dat hy ook die meerdere vergadering moet probeer oortuig
nie. Sodra dit vir die eie gewete vasstaan dat ´n bepaalde
besluit in stryd is met die Skrif en die kerkorde, het iemand nie
nodig om homself te onderwerp nie” (1946a:14).
In weerlegging hiervan oordeel Du Toit dat “die juiste posisie is
dat iemand hom de facto onderwerp en dan by die volgende sinode
sy besware kenbaar maak” (1946a:14).
Du Toit skryf verder dat “sommige beswaardes selfs so ver gaan om
te beweer dat alle besluite van meerdere vergaderinge eers deur
die plaaslike kerk bekragtig moet word voordat hulle van bindende
krag is. Volgens hulle het die sinode nie meer gesag as die
kerkraad nie, maar minder” (1946a:14). Klaarblyklik verwys hy na
P. Deddens se beskrywing van ratificatio (vergelyk
5.2.5.2.2).
In die tweede artikel, wat op die eerste volg, spreek Du Toit sy
oordeel oor die beskouings van die “sommige beswaardes” uit. Met
betrekking tot hulle uitsprake oor meer en minder gesag van die
verskillende kerklike vergaderings meen Du Toit (1946:12) dat die
anti-sinodale rigting op anargie in die kerklike lewe afstuur op
grond van ´n eensydige beklemtoning van een kerkregtelike
beginsel, te wete die selfstandigheid van die plaaslike gemeente.
“Hulle vergeet egter dat die sinode ook gesag dra... Die kerkreg
van die anti-sinodales hel gevaarlik oor na Independentisme. As
hulle standpunt konsekwent gehandhaaf moet word, is kerkregering
´n onmoontlikheid... As elkeen vir homself kan uitmaak of hy hom
gaan onderwerp aan ´n besluit al dan nie, is die deur vir anargie
wyd oopgemaak” (1946b:12).
Du Toit is van mening dat die beswaardes vergeet dat in die dae
van die Doleansie die selfstandigheid van die plaaslike gemeente
wel besonder sterk beklemtoon moes word teenoor die sinodokrasie
van die Hervormde Kerk, maar dat daarmee die gesag van die
meerdere vergaderings nie in die gedrang gekom het nie. “Dan sou
die kerke van die Doleansie in flagrante stryd gekom het met die
Geref. kerklike tradisie” (1946b:12).
Beoordeling
Du Toit se beoordeling van die vrygemaaktes (soos hy dit noem
“beswaardes” en “anti-sinodales”) se opvattings rondom die gesag
van meerdere vergaderings is weens ´n gebrek aan inagneming van
alle gegewens nie suiwer nie. In paragrawe 5.2.5.2.2. en
5.2.5.2.3 is aangetoon dat die vrygemaakte teoloë ´n definitiewe
onderskeid tussen die oorsprong en die aard van die gesag van die
verskillende kerklike vergaderings maak. Wat die oorsprong betref
is die gesag van die meerdere vergadering minder as die van die
mindere vergadering. Wat die aard betref is alle gesag dieselfde.
Du Toit neem hierdie onderskeid nie in ag nie, met die gevolg dat
hy die verkeerde en misplaaste aanname maak asof die vrygemaaktes
sou “vergeet dat ´n sinode ook gesag dra”.
Met hierdie foutiewe beoordeling in gedagte, benader Du Toit die
vrygemaaktes se hantering van sinodebesluite. Hy veroordeel die
suiwer Gereformeerde praktyk om besluite van meerdere
vergaderings te bekragtig alvorens dit uitgevoer word (vergelyk
2.3 en 3.3) asof dit voortspruit uit die gedagte dat ´n meerdere
vergadering van minder belang is. Sonder om dit aan die norme van
die Gereformeerde kerkreg te meet, wys Du Toit die noodsaaklike
aksies van ratideclaratio en ratificatio af.
Bowendien is Du Toit se kritiek op die bewyslewering indien ´n
besluit ongeldig geag word, eensydig. Hy beklemtoon met reg die
noodsaaklikheid dat die bewyse vir ongeldigheid nie net “voor die
forum van die eie konsiënsie” gelewer moet word nie (probatio
irratideclarationis), maar ook aan die kerkverband bekendgemaak
moet word (ostentatio irratideclarationis). Ten onregte eis hy de
facto onderwerping aan ´n besluit wat ongeldig geag word. ´n
Besluit is nie bindend as dit ongeldig is nie. Daar mag geen
binding aan so ´n besluit geëis word totdat ´n volgende meerdere
vergadering opnuut daaroor besin en besluit het nie. Laasgenoemde
is hiërargie: die sinode heers met sy besluite (ook ongeldige
besluite) oor die gewetens van die kerke.
In die geheel gesien kom Du Toit se beskouing en toepassing van
artikel 31 KO direk ooreen met dié van die Gereformeerde Kerken
in Nederland na die Vrymaking, wat radikaal van die Gereformeerde
kerkreg afwyk (vergelyk 5.2.6.1.4).
Soos Du Toit, bespreek Coetzee die ratifikasiereg in artikels in Die Kerkblad na aanleiding van die kerkstryd in Nederland gedurende die Tweede Wêreldoorlog en publikasies wat in verband daarmee verskyn het.
Na aanleiding van P. Deddens (1946) se rede oor die onderwerp
beskryf Coetzee ratificatio as “die reg van alle kerkrade, asook
predikante, ouderlinge, diakens en lidmate, sowel gesamentlik as
individueel, om besluite van meerdere vergaderings, hetsy
klassikale of sinodale, aan te neem of te verwerp, al na gelang
hulle dit mag goedvind” (1946a:4). “En as ´n kerkraad of ´n
lidmaat dan vir homself tot die konklusie kom dat een of ander
besluit van ´n kerklike vergadering, volgens sy beskouing, stry
met die Woord van God of met een of ander artikel van die
Kerkorde, dan het hy die reg om sodanige besluit rustig langs hom
neer te lê, dit nie vir vas en bindend te beskou nie, te weier om
dit na te leef en uit te voer, ja, meer nog, homself verbonde en
verplig te beskou om dit te verwerp, en dan voortaan rustig en
onbelemmerd binne die kerkverband te bly, terwyl ´n kerklike
vergadering sodanige kerkraad of kerk of lidmaat wat homself op
die ratifikasiereg beroep, ongemoeid behoort te bly. Elke poging
van die kant van sodanige kerklike vergadering om gehoorsaamheid
te vorder, moet verwerp word as hiërargie en sinodokrasie”
(1946a:5).
Oor die implikasie hiervan meen Coetzee dat “die besluite van
meerdere vergaderinge geen gesag of bindende krag het nie,
voordat hulle nie deur al die plaaslike kerke wat in sodanige
verband en korrespondensie begrepe is, goedgekeur en geratifiseer
is nie” (1946a:4, 5).
In sy beoordeling van die ratifikasiereg, soos dit deur die
vrygemaaktes voorgestaan en toegepas is, stel Coetzee (1946b:4)
onomwonde: “En dan wil ons dadelik begin met te sê dat die
Gereformeerde Kerke histories sodanige ratifikasiereg, van
sodanige inhoud, nooit geken het nie”. Hy motiveer hierdie skerp
veroordeling deur in die eerste plek daarop te wys dat artikel 31
KO “nie bedoel om die ‘ratifikasiereg’ in die lewe te roep en vas
te lê nie, maar alleen om die reg van gravamen te waarborg. En
die Gereformeerdes het die reg van gravamen nooit so verstaan dat
elke lidmaat, ampsdraer of mindere vergadering die reg het om
besluite van kerkrade en meerdere vergaderinge rustig langs hom
neer te lê en te weier om daaraan enige uitvoering te gee, met ´n
beroep op sy ‘aan-Gods-Woord-getoetste consciëntie’”
(1946b:4).
´n Tweede rede wat Coetzee vir sy veroordeling van die
ratifikasiereg aanvoer, is “dat daar nêrens in geen enkele van
die Kerkordes uit die 16e en 17e eeu wat deur die Gereformeerdes
opgestel is, ook maar melding gemaak word van ´n ratifikasiereg
en dat daar nêrens ´n bepaling gemaak is dat die besluite van
meerdere vergaderings of te wel van kerkrade, eers deur mindere
vergaderings (of deur die kerklede) goedgekeur en bekragtig moet
word, voordat hulle van krag kan wees en vir vas en bindend gehou
moet word. Indien dit, soos vandag beweer word, die hartaar en
lewensbeginsel is van die Reformasie van die 16e eeu, waarmee die
hele Reformasie staan of val, dan sou ´n mens ten minste verwag
dat hierdie ‘lewensbeginsel’ ook uitdruklik in die Kerkorde sou
geformuleer gewees het” (1946b:4).
Die derde grond waarop Coetzee ratifikasiereg as ongereformeerd
verwerp, is die - volgens hom - feit dat ´n mens “by geen
gereformeerde canonicus uit die bloeityd van die GKe sodanige
ratifikasiereg aantref nie. Verwysing na ´n enkele reël uit die
werk van Voetius is eensydig. Daarenteen wys die geskiedenis uit
dat die Remonstrante en Independente wel daarop aanspraak maak.
In die worsteljare voor die byeenroeping van die Dordtse Sinode
1618-19 was dit juis die Remonstrante wat daarop gestaan het dat
daar ´n ratifikasiereg moet wees en het hulle by die Owerheid
daarop aangedring dat ´n ratifikasiereg in die briewe van
sameroeping gewaarborg moes word. Alleen - hulle het dit nie
ratifikasiereg genoem nie, maar ‘reg van reses’, d.w.s.
gedeputeerdes ter sinode, wanneer hulle nie saamstem en hulleself
nie wil onderwerp aan die meerderheidsbesluit nie, moet die reg
hê om die werksaamhede van die sinode tot stilstand te bring om
eers geleentheid te hê om met hulle senders te gaan praat en
opdragte te gaan haal... Sodanige ratifikasiereg het die
Gereformeerdes in die begin van die 17e eeu beslis verwerp. Ook
die Independente het altyd aanspraak gemaak op die
ratifikasiereg... Hulle wou aan meerdere vergaderings hoogstens
die status toeken van konferensies en het die eindbeslissing in
alle kerklike sake altyd opgeëis vir die
‘aan-Gods-Woord-getoetste consciëntie der kerkleden’”
(1946b:5).
Die slotsom waartoe Coetzee kom, is dat “wie in die Geref. Kerke
´n ratifikasiereg wil handhaaf met die inhoud wat deur die
canonicus van ‘De Geref. Kerken handhavende art. 31 K.O.’ (dit is
P. Deddens - GJM) in sy inougurele rede daarvan gegee is, in die
hart van die gereformeerde kerkregering sny. Handhawing van
sodanige reg, met sodanige inhoud maak gereformeerde kerkverband
onmoontlik. Hier het ons te doen met individualisme wat op die
spits gedryf is” (1946c:4). “Wie die reg van toetsing of
ratifikasie handhaaf, verwaarloos die ordelike, kerklike weg,
dien geen gravamen in nie, maar eis vir homself die reg op om die
Belydenis aan die Skrif te toets, of ook wel enige kerklike
beslissing aan die Skrif of die Kerkorde, om self regter te wees,
alleen gebonde aan sy ‘aan-Gods-Woord-getoetste consciëntie’”
(1946c:5).
Volgens Coetzee handhaaf die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
hulle kerkorde, insluitende artikel 31 KO, en word die “toetsing-
of ratifikasie-reg afgewys” (1946c:5).
Beoordeling
Coetzee beskryf ratificatio as toetsing en die daaropvolgende
geldigverklaring of ongeldigverklaring van besluite van meerdere
vergaderings. Sy beskrywing kom nie ooreen met dié van Deddens
nie. Laasgenoemde beskou ratificatio as die geldigverklaring en
aanvaarding van besluite (vergelyk 2.1.2.5.1 en 2.1.2.5.2). Omdat
Coetzee Deddens se beskouing van ratificatio nie suiwer weergee
nie, kom hy tot ´n foutiewe beoordeling van die vrygemaaktes se
denke en werke en reken hy eensydig met ratificatio in die
Gereformeerde kerkreg af.
Coetzee se voorstelling dat ratificatio die ruimte vir kerkrade
en lidmate skep en beskerm om besluite van kerklike vergaderings
op ´n independentistiese wyse eenvoudig langs hulle neer te lê en
steeds ongestoord die kerklike gemeenskap te beoefen, is nie
korrek nie. Deddens het ratificatio in dié sin nie voorgestaan
nie. Ratificatio binne die konteks van ratihabitio van artikel 31
KO skep ook hoegenaamd nie sulke ruimte nie. Die teendeel is
waar. Wie nie kan ratifiseer (besluite aanneem) nie, is verplig
om die bewyse daarvan so spoedig moontlik langs die ordelike weg
aan die tersaaklike kerklike vergadering voor te lê. In
weerlegging van Coetzee se wanvoorstelling van ratificatio moet
gestel word dat welbewuste ratifisering van besluite teen
independentisme gerig is, aangesien besluite van kerklike
vergaderings nie maar net vir kennis aangeneem kan word nie
(vergelyk 3.2.4).
Coetzee se bewering dat ratificatio nie in artikel 31 KO
opgesluit lê nie, in geen kerkorde van die 16e en 17e eeue
voorkom nie, en ook deur geen Gereformeerde kerkregtelike ooit
voorgestaan is nie, is in stryd met die feite. In hoofstuk 2 is
genoegsaam aangetoon dat ratificatio as integrale deel van
ratihabitio in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering
sedert die sestiende-eeuse reformasie toegepas is en
dienooreenkomstig in die kerkorde geyk is. As sodanig is dit deur
Gereformeerde kerkregtelikes bepleit en toegepas (vergelyk onder
andere Rutgers, 1971:24).
Om die Remonstrante se “reg van reses” en ratificatio as
sinonieme te beskou, is onjuis. Die Remonstrante het met hulle
reg van reses gepoog om tydens die Dordtse Sinode van 1618/19 die
voortgang van die sinode te belemmer (d’Assonville, 1992:175).
Ratificatio geskied in die eerste plek nie tydens die sitting van
die sinode nie, maar daarna. In die tweede plek is dit nie daarop
gerig om die voortgang van die kerkregering te belemmer nie, maar
om dit te bevorder. Om hierdie redes kan die Remonstrantse reg
van reses nie met ratificatio vergelyk word nie.
Al met al blyk dat Coetzee se kritiek op ratificatio nie gegrond
is nie. Deur eers ´n eie, skeefgetrokke beeld van ´n saak te vorm
en dan daardie beeld te kritiseer sonder om die oorspronklike
saak behoorlik te ondersoek, is nie korrek nie.
In ooreenstemming met Du Toit en Coetzee beskryf en beoordeel
Spoelstra ratificatio soos hy meen dit deur die vrygemaaktes in
Nederland beskou en toegepas word.
“Wanneer die ratificatio so sag moontlik voorgestel word”, so
skryf Spoelstra (1966:195), “word gesê dat die lidmate ´n reg en
plig het om kerkraadsbesluite aan die Skrif, Belydenis en
Kerkorde te toets. In die geval van besluite, in ´n meerdere
vergadering geneem, moet die kerkrade die handelinge ter tafel
neem met die vraag of daar enige broeder is wat ´n bepaalde
besluit nie vir vas en bindend kan aanvaar nie. Indien wel, moet
hy sy besware aanvoer (die kerkraad met sy gawes van
onderskeiding dien). Die ratifikasie word dan afhanklik gemaak
van die uitspraak van die kerkraad”.
Spoelstra beskou die voordeel van sulke ratifikasie “dat alle
kerkraadslede (en selfs lidmate) van die besluite van kerklike
vergaderinge deeglik en krities (beoordelend) kennis moet neem
(terwyl die geringe belangstelling vir die handelinge van
meerdere vergaderinge gewoonlik ontstellend is)” (1966:195).
Tog, so oordeel hy verder, “beteken ratificatio meer as net ´n
kritiese toetsing van besluite. Dit kom neer (soos die woord
aandui) op die goedkeuring, bekragtiging en aanvaarding van
besluite. ´n Lidmaat sou dan eers ´n kerkraadsbesluit, of ´n
kerkraad die besluit van ´n meerdere vergadering, van krag moet
maak” (1966:196). Dit is volgens Spoelstra in stryd met artikel
31 KO. Hy meen dat artikel 31 KO wel die reg en die plig van
elkeen (selfs buite die kerkverband) erken om kerklike besluite
aan die Skrif, belydenis en kerkorde te toets (1966:196;
1986:107; 1989:187), maar volgens hom verleen artikel 31 KO geen
independentistiese ratifikasiereg aan die kerkraad of
gemeentelede nie.
Spoelstra is van mening dat die - volgens hom foutiewe -
ratifikasie-opvatting die gevolg is van ´n dualistiese
(tweeslagtige) en antitetiese (teenstrydige) siening van die
gemeente (kerk) en kerkraad, asook kerkraad en meerdere
vergadering; van die miskenning van ´n meerdere vergadering as
kerkraadsvergadering (artikel 29 KO); van ´n reaksie teen
meerdere vergaderings wat in stryd met die kerklike weg (artikels
30 en 33 KO) sake ter hand neem wat op ´n mindere vergadering
tuisgehoort het. Veral wanneer ´n nasionale sinode hom vergryp
(sodat geen appèl meer moontlik is nie), stuur dit volgens
Spoelstra op rampspoed af soos in Nederland (1940-1943) rondom
artikel 31 KO gebeur het. As ´n sinode sonder meer kerkraadswerk
gaan doen, sal kerkrade (wat misken was) ten minste op ´n
ratifikasiereg aanspraak maak. “Kortom: as ´n sinode magte
gebruik wat dit nie besit nie, laat dit kerkrade ook op magte
aanspraak maak wat hulle nie besit nie” (1966:196).
Spoelstra spreek hom voorts uit oor “voorstanders van die
ratifikasiereg wat miskien nog sou aanvoer dat artikel 31 KO nie
sê ‘totdat bewys word’ nie, maar ‘tensy bewys word’” (1966:197).
Hiervolgens mag - so meen Spoelstra - geredeneer word dat dit nie
nodig is om sinodale besluite juridies as vas en bindend te
beskou totdat ´n sinode dit verander nie. Hierteenoor stel hy
“dat, indien die kerkverband (meerdere vergadering) koöperatiewe,
vennootskaplike of federale verbindinge van elke deelnemende kerk
(gemeente) is, dit vanselfsprekend is dat die bewys ook weer in
´n ooreenstemmende of breër vergadering van die kerkverband
gelewer moet word, anders sou dit regskrenking impliseer teenoor
die kerke wat verbygegaan word wanneer ´n vergadering van mindere
kerke ´n besluit van meer kerke tersyde stel. Dit is ´n saak van
reg en het niks met oppermagtigheid van die meerdere vergadering
te doen nie” (1966:197; vergelyk 1986:106).
Beoordeling
Spoelstra beskou ratificatio vrywel as ´n sinoniem van
ratihabitio deur dit te omskryf as die reg en plig om besluite
van kerklike vergaderings krities te toets, goed te keur en te
bekragtig, en te aanvaar. Die enigste onderdeel van ratihabitio
wat Spoelstra nie as deel van ratificatio beskou nie, is die
uitvoering van besluite. In hierdie opsig gee hy P. Deddens se
beskouing van ratificatio suiwer weer (vergelyk 5.2.5.2.2.3).
Sy positiewe beklemtoning van die toetsing van besluite van
kerklike vergaderings alvorens dit uitgevoer word, is ´n
verbetering op dit wat deur Coetzee daaroor gestel is.
Dat hy die daaropvolgende, tipies Gereformeerd-kerkregtelike
aksies van geldigverklaring en aanvaarding van besluite as in
stryd met artikel 31 KO afmaak, is nie korrek nie.
Wat die ongeldigverklaring van besluite betref merk Spoelstra
tereg op dat dit noodsaaklik is om die bewyse van ongeldigheid
bekend te maak. Tog wil dit voorkom asof hy bepleit dat ´n
besluit van ´n meerdere vergadering wat weens vermeende
ongeldigheid nie vir vas en bindend gehou kan word nie, van krag
is totdat ´n volgende meerdere vergadering hom opnuut daaroor
uitgespreek het. Dit sou beteken dat ´n ongeldige besluit vir ´n
tyd lank as geldig, en derhalwe bindend gehou moet word - wat nie
reg is nie.
In die geheel beskou blyk dit dat Spoelstra, soos Du Toit en
Coetzee, geen suiwer beeld van ratificatio vorm nie, en gevolglik
tot ´n eensydige beoordeling en veroordeling daarvan kom.
Die regsgeleerde L. Roeleveld, afkomstig uit die Gereformeerde
Kerken (Vrijgemaakt) in Nederland, stel as reël dat ´n
meerderheidsbesluit van ´n kerklike vergadering vas en bindend,
ratus, geldig is (1987:22). Die futurum in artikel 31 KO dui ´n
voortdurende, onvoltooide toekomstige handeling aan (1987:24).
Die teks van artikel 31 KO bepaal dat ´n besluit geldig sal wees
sonder uitdruklike bekragtiging, behoudens die tensy.
Kragtens die lasgewingsooreenkoms (kredensiebrief) is ´n lasgewer
(kerkraad) onmiddellik gebind aan die daad van die lashebber
(afgevaardigde) in soverrre die lashebber binne die grense van sy
opdrag opgetree het (1972b:59). ´n Besondere daad van
bekragtiging (ratificatio) hoef nie daaraan toegevoeg te word
nie. Die lasgewer het wel die reg en plig om te toets of die
meerdere vergadering binne sy volmag gebly het. Indien ´n
kerkraad ´n ultra vires besluit van ´n meerdere vergadering tog
sou uitvoer, kan dit as ratificatio beskou word. Dit wil sê: ´n
ongeldige besluit word geldig gemaak. Roeleveld is van mening dat
hierteen gewaak moet word, aangesien kerkrade deur middel van
hulle toetsingsplig die wag moet betrek en moet waak teen
meerdere vergaderings wat hulle mandate oorskry (1972b:59).
Die meerderheid van stemme bind nie ingeval die besluit strydig
met fundamentele beginsels van geloof of kerkreg is nie
(1987:23). Hierdie norm is volgens Roeleveld die belangrikste van
die besluitvorming. Die soewereiniteit van die Goddelike en
kerklike reg is ´n hoër gesag as die meerderheidstem van die
kerkvergaderings. Kerklike samekomste is verbind om die Skrif,
belydenis en kerkorde te alle tye te handhaaf (artikels 53 en 54
KO). Die soewereiniteit van reg waarborg gewetensvryheid en
kerklike vryheid. ´n Gemeente in konfederale kerkverband is
ooreenkomstig artikel 7 NGB nie aan ´n verkeerde besluit van ´n
meerdere vergadering gebind nie (1987:23). ´n Besluit van ´n
meerdere vergadering is ook ongeldig indien die afgevaardigdes
buite hul volmag gehandel het. Een van die gevalle is indien
hulle fundamentele kerkregtelike beginsels geskend het.
Indien ´n besluit van ´n meerdere vergadering volgens bewering
van belanghebbendes nietig is, is laasgenoemde daaraan nòg
volgens sy gewete nòg andersins gebonde (1987:23). Dit is die
geval indien ´n besluit vernietigbaar sou wees. ´n Vernietigbare
besluit veronderstel dat ´n verdere regshandeling van ´n bevoegde
instansie nodig is om die bestaande besluit nietig te maak. Die
kerkorde ken net geldige of nietige besluite, nie vernietigbare
besluite nie (1987:24).
Toetsing is volgens Roeleveld ´n wesenlike, onmisbare onderdeel
in die besluitnemingsproses. ´n Kerkraad of lidmaat mag nie
sommer uit vermeende eiebelang of om ander redes beweer dat ´n
besluit van ´n meerdere vergadering nietig is nie. Ewemin mag hy
sommer aanneem dat ´n besluit geldig is. Al die betrokkenes het
die plig om te toets wat die geval is (1987:24).
Die uitoefening van die toetsingsreg deur belanghebbendes is
wesenlik verskillend van wat in die volkereg ratificatio genoem
word (1987:24). In die laaste geval is ´n besluit van
verteenwoordigers nie geldig alvorens dit deur die betrokke state
bekragtig is nie. Dit lei tot ´n vertraende en verlammende
invloed in die gesamentlike besluitvorming van die deelgenote in
´n konfederasie. “Art. 31 ken vir die plaaslike gemeentes en
beswaarde lidmate nie so ´n ratifikasiereg toe nie. Daar word nie
van ratum facere nie, maar van ratum habere gepraat. Die verskil
is evident” (1987:24).
Erkenning van ratificatio kan volgens Roeleveld tot
independentisme lei (1972b:59).
Beoordeling
Roeleveld wys met juistheid daarop dat ´n besluit van ´n kerklike
vergadering uit die staanspoor geldig of ongeldig is. ´n
Ongeldige besluit kan nie geldig gemaak word nie. Net so min kan
´n geldige besluit ongeldig gemaak word. Roeleveld beklemtoon ook
tereg die noodsaaklikheid dat besluite van meerdere vergaderings
getoets moet word, en dat ongeldige besluite ooreenkomstig
artikel 7 NGB nie uitgevoer mag word nie. Die “tensy” van artikel
31 KO moet gehandhaaf bly.
Oor die positiewe deel van ratihabitio, te wete die
geldigverklaring en aanvaarding van besluite alvorens dit
uitgevoer word, spreek Roeleveld hom egter minder positief uit.
Hy stel uitdruklik dat van bekragtiging van besluite in die
Gereformeerde kerkreg geen sprake kan wees nie.
Die vraag wat hier ontstaan, is waarop die toetsing van besluite
wél moet uitloop as dit nie tot bekragtiging van die besluite
behoort te lei nie. Indien ´n getoetste besluit sonder
bekragtiging en aanvaarding toegepas moet word, kan dit tot die
ongereformeerde praktyk van sinodokrasie lei: deur sinodebesluite
word die plaaslike kerk regeer (vergelyk 3.2.3).
Wat Roeleveld se beoordeling van ratificatio betref, is dit
opmerklik dat hy op grond van ratificatio in die volkereg tot die
slotsom kom dat so-iets nie in die Gereformeerde kerkreg
tuishoort nie. Sonder om uit die geskiedenis van die
Gereformeerde kerkreg vas te stel wat die inhoud van ratihabitio
en ratificatio in die Gereformeerde kerkorde is (vergelyk
2.1.2.6), ontken Roeleveld die voorkoms en toepassing daarvan in
artikel 31 KO.
Met sy gevolgtrekking dat artikel 31 KO vir die kerke geen
ratifikasiereg toeken nie en dat erkenning van ratificatio tot
independentisme lei, kan - gemeet aan die bevindings soos dit in
paragraaf 2.1.2.7 weergegee is - nie saamgegaan word nie.
Van der Walt (1976:153) is van mening dat die meerdere
vergaderings se gesag en mag altyd bedienend bly. Daarom is hulle
besluite steeds toetsbaar aan die heilige Skrif. Die reg van
toetsing word in artikels 31 en 46 KO neergelê.
Artikel 31 KO lê volgens Van der Walt egter “nie die sg.
ratifikasiereg van plaaslike kerke vas as grens vir die
seggenskap (auctoritas) van meerdere vergaderinge nie. Die
artikel lê die Woord van God neer as grens vir alle kerklike
gesag en mag, in meerdere vergaderings sowel as in die plaaslike
kerk. So verskil die kerk van die valse kerk met sy eie mag en
gesag” (1974:6).
Onder ratificatio verstaan Van der Walt die reg om sinodebesluite
te bekragtig en approbeer (1976:164).
Beoordeling
Van der Walt stel ratificatio verkeerdelik as begrensing van die
gesag van ´n meerdere vergadering voor. Deur ratificatio word die
gesag van ´n meerdere vergadering nie aan bande gelê nie. Wanneer
´n kerkraad die besluite van ´n meerdere vergadering voor
uitvoering eers toets, geldig verklaar en as hulle eie aanvaar,
doen hulle niks anders nie as om Christus se regering in en oor
die kerk te eerbiedig - iets wat Van der Walt uitdruklik
voorstaan.
Die gevolgtrekking waartoe gekom moet word, is dat Van der Walt
´n verkeerde beskouing van ratificatio het en die verkeerde
beskouing dan veroordeel (vergelyk wat dit betref die kritiek op
Coetzee onder 5.3.4.2).
Du Plooy bespreek ratificatio in verband met artikel 84 KO. Hy
meen artikel 36 KO bewys dat artikel 84 KO nie independentisties
verstaan mag word, asof die gesag oorspronklik by die plaaslike
kerk of kerkraad lê wat besluite kan ratifiseer nie
(1979:127).
In verband met artikel 31 KO noem hy dat die Woord van God die
grens vir alle kerklike besluite is (1979:126). Artikel 31 KO
stel volgens Du Plooy die gesag van die Woord sentraal, en is ´n
belydenis dat die Woord alleen gesag het. Die toepassing van
artikel 31 KO onderskei die kerk van die valse kerk “wat aan
homself en sy ordinansies meer mag en gesag toeskryf as aan die
Woord van God” (artikel 29 NGB). Artikel 31 KO bied die ruimte of
deurgang vir die Woord van God sodat die Woord van God die eerste
en laaste sê in die kerk en meerdere vergaderings sal hê. Op
hierdie wyse regeer die Koning dan self sy kerk.
Artikel 31 KO hou, met die oog op menslike sondigheid, die ruimte
oop sodat die besluite van ´n meerdere vergadering aan die Woord
getoets kan word (1979:126).
Beoordeling
Soos die kerkregtelikes wie se uitsprake in die voorafgaande
paragrawe weergegee en bespreek is, maak Du Plooy geen onderskeid
tussen die oorsprong en die aard van die gesag van die
verskillende kerklike vergaderings nie. Waar die vrygemaaktes
ratificatio verbind het aan die verskil in oorsprong van die
(afgeleide) gesag van ´n meerdere vergadering teenoor die
(oorspronklike) gesag van die kerkraad, stel Du Plooy dit voor
asof ratificatio - in ooreenstemming met artikels 36 en 84 KO -
te doen het met die aard van die gesag van die verskillende
kerklike vergaderings. Op grond daarvan wys hy ratificatio
af.
Inderwaarheid het ratificatio niks te doen met die gedagte dat ´n
kerkraad meer gesag as ´n meerdere vergadering sou hê en daarom
al die besluite van die meerdere vergadering moet ratifiseer nie.
Ratificatio rus op die beginsel dat Christus alleen Koning van sy
kerk is. Daarom moet die kerkraad, wat geroep word om in diens
van Christus die gemeente te regeer, alles in sy vermoë doen om
menslike heerskappyvoering - waaronder sinodokrasie - te
weerstaan. Daartoe dien ratificatio, in opvolging van die
toetsing van besluite.
Smit beskou artikel 31 KO as die artikel in die kerkorde wat die
grens vir kerklike gesag neerlê (1984:123). Die regsgeldigheid
van kerkregering rus volgens Smit nie in die eerste plek op die
bevoegde regeringsorgane van die kerk nie, maar op die Woord van
God, op grond waarvan die kerkregering uitgeoefen word. Kerklike
vergaderings het met ander woorde uit hulleself geen
gesagsbevoegdheid nie. “Kerkregering is Woordregering en
Woordregering is deur die Gees. So regeer Jesus Christus sy kerk
deur sy Woord en Gees” (1992:518).
Hieruit volg enersyds dat slegs besluite wat op grond van Gods
Woord geneem is, die gewete bind: nie omdat dit ´n kerklike
besluit is nie, maar omdat dit in ooreenstemming met Gods Woord
is (1984:107). Andersyds mag daar in die kerk van Christus geen
menslike dwang wees nie, sodat die gemeente aan die lewensdoel
sal beantwoord waarvoor God hom bestem het. Sulke vryheid kan nie
in bandeloosheid ontaard nie, solank die grense wat die Woord
daarvoor stel - en soos dit in artikel 31 KO vir die inrigting
van die kerklike lewe veranker is - eerbiedig word
(1984:107).
Met betrekking tot die gevaar van menslike heerskappyvoering in
die kerk waarsku Smit (1994b:10): “As ons kerke hulle nie op
breër vergaderings teen sinodokrasie sou beywer, dit wil sê teen
onnodige reglementering en teen agendas wat buite die kerke
saamgestel word nie, word die sinode ongemerk die eintlike
regeerder van die kerk”.
Tegelyk wys hy op die teenoorgestelde gevaar van bandelose
willekeur: “Die uitvoering van Sinodebesluite is noodsaaklik vir
die effektiewe Christusregering in die kerk. En, trouens, vir die
behoud van die kerk. Kerke wat hulle eiewillig onttrek van hulle
gesamentlike verantwoordelikheid en aanspreeklikheid vir
besluite, is in werklikheid besig om die pilare te ondergrawe
waarop die gemeenskaplikheid van die kerke rus: die eenheid, die
heiligheid, die katolisiteit en die apostolisiteit van die kerk
van die Here. Ronduit: kerklike eiewilligheid is opstand teen die
Christusregering en geweld teen die behoud van die waarheid in
die kerk. Dit kan nie anders nie as om te lei tot kerklike
deformasie en in die verste konsekwensie kerklike destruksie”
(1994a:22). Wat laasgenoemde betref, stel Smit (1994a:22) die
uiters relevante vraag: “Kan dit kerkregtelik in orde wees dat ´n
kerkraad selfstandig besluit om kelkies met die nagmaalviering te
gebruik, terwyl die Sinode juis hierdie aangeleentheid aan
deputate opgedra het vir ondersoek in die lig van die Skrif?”
Hierdie vraag word ook deur onder andere J. du Plessis (1995:29)
geantisipeer: “Ten spyte van hierdie besluit (oor die nie-gebruik
van kelkies tydens nagmaal - GJM), verneem ons, is daar reeds
kerkrade wat kelkies gebruik... ´n Gees van independentisme maak
ons mense ontuis in die kerk van ons liefde”.
Smit se gedagtes oor artikel 31 KO konsentreer rondom sy
opvatting oor die aard van ´n meerdere vergadering. Hy beskou ´n
meerdere vergadering as ´n byeenkoms van kerkrade. Derhalwe is
“Sinodebesluite ... besluite wat elke plaaslike kerk in
samewerking met ander plaaslike kerke geneem het. Sinodebesluite
word ... deur die plaaslike kerke uitgevoer omdat die plaaslike
kerke self daardie besluite geneem het” (1994a:22). Die “tensy”
van artikel 31 KO tree by hierdie opvatting slegs in werking as
“´n kerkraad op grond van eie studie tot die vaste oortuiging
gekom het dat die betrokke besluit in stryd met die Skrif, die
Belydenisskifte, of die Kerkorde is” (1994a:22).
Beoordeling
Smit wys met reg op die gevaar van hiërargie enersyds (die sinode
wat die kerke regeer) en independentisme andersyds (kerke hou
hulle nie aan sinodebesluite nie), wat beide aan die
Christusregering in die kerk afbreuk doen. Hy beklemtoon ook
tereg die beginsel dat alle besluite van alle kerklike
vergaderings aan die Woord van God onderworpe is.
In sy omskrywing van die aard van die meerdere vergadering
onderskei Smit egter nie tussen lasgewer en lashebber nie.
Volgens hom is in die vergadering van lashebbers (die
afgevaardigdes) die hele vergadering van lasgewers (die kerkraad)
teenwoordig - dieselfde gedagtegang as wat die teoloë van die
Gereformeerde Kerken in Nederland sedert die Vrymaking volg
(vergelyk 5.2.5.2.6 en 5.2.6.1). Sodoende word die besluite van
´n meerdere vergadering onmiddellik as kerkraadsbesluite gereken,
en bly daar uiteraard geen ruimte vir die probatio,
ratideclaratio en acceptatio van besluite oor nie. Besluite wat
´n kerkraad in samewerking met ander kerkrade geneem het, moet
slegs uitgevoer word (executio).
Terwyl die “tensy” van artikel 31 KO kerkrade verplig om alle
besluite van meerdere vergaderings te toets versmal Smit dit tot
´n situasie waarin ´n kerkraad by geval deur eie studie tot die
oortuiging kom dat ´n bepaalde besluit nie ooreenkomstig die
Woord van God of die geldende kerkorde is nie.
Alhoewel Smit hiërargie wil bestry, staan hy in sy beskouing van
die sinode as ´n vergadering van alle kerkrade ´n
kollegialisties-hiërargiese vorm van kerkregering voor.
In ´n redaksionele artikel in Die Kerkblad bespreek Van der Walt
(1987:21) die vraag wat elke plaaslike kerk se roeping ten
opsigte van die uitvoering van genome sinodebesluite is.
In die beantwoording van die vraag stel hy dat daar in die
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nie oral dieselfde met
sinodebesluite te werk gegaan word nie. Volgens Van der Walt word
daar in die meeste kerke moeite gedoen om sinodebesluite te
bestudeer, te toets, bekend te stel en tot uitvoering te bring.
Die praktyk bestaan egter ook dat van sekere besluite net
geselekteerd kennis geneem word of nie eens kennis geneem word
nie.
Oor die implikasie van net kennis neem of nie eens kennis van
sinodebesluite neem nie oordeel Van der Walt dat kerkrade die
bindingskrag van die besluite sodoende aantas en ondermyn. Indien
kerkrade nie kan konformeer nie, moet beswaar teen besluite
aangeteken word, anders stel kerkrade hulle eie oordeel bo dié
van die Woord en kan kerkrade hul aan ontbinding en skeurmakery
skuldig maak.
Van der Walt spreek die wens uit dat kerklike vergaderings nooit
vergaderings mag wees wat net besluite sonder uitvoeringseffek
neem nie.
Beoordeling
In die enkele artikel wat Van der Walt met betrekking tot die
onderwerp gepubliseer het, word dit duidelik dat hy dit
noodsaaklik ag dat daar soos volg met sinodebesluite te werk
gegaan sal word:
· Besluite van die meerdere vergaderings moet deur die kerkrade
getoets word.
· Wanneer ´n besluit geldig is, moet die kerkraad hom daaraan
konformeer en moet hy die besluit aan die gemeente
bekendstel.
· So ´n besluit moet ook uitgevoer word.
· Indien die kerkraad hom nie aan ´n besluit kan konformeer nie,
moet hy beswaar aanteken.
Alhoewel Van der Walt die verskillende elemente van ratihabitio
nie by name noem nie, wil dit voorkom dat hy elkeen per
implikasie bedoel en as deel van die suiwere toepassing van
artikel 31 KO beskou.
In ´n brief in Die Kerkblad reageer Van Wyk (1988:38, 40) op die
artikel van Van der Walt wat in die voorafgaande paragraaf
bespreek is.
Van Wyk meen dat “die teorie wat S.J. van der Walt neergeskryf
het, pragtig is, maar in die praktyk is dit ´n heel ander saak.
Onder die ouer garde heers die idee van ratifikasie steeds,
naamlik dat die kerkraad elke sinodebesluit moet oorweeg en dan
besluit of hulle daartoe verbind voel of nie. Dit is duidelik uit
artikel 31 KO dat hierdie praktyk nie korrek is nie. Dit is deur
en deur Independentisties, sal die kerkregtelikes sê”
(1988:38).
Van Wyk meen dat die praktyk om sinodebesluite te toets en
daaraan te konformeer voortspruit uit ´n besluit van die
Nasionale Sinode Potchefstroom 1958 om die sinode te verklein. Om
hierdie verkeerde praktyk te voorkom en uit te skakel, stel hy
die vraag of sinodebesluite nie veel meer effektief uitgevoer sou
word as elke kerkraad maar weer sy ouderling en predikant na die
sinode toe afvaardig nie (1988:40).
Beoordeling
Van Wyk se omskrywing en veroordeling van ratificatio sluit aan
by dié van Du Toit (vergelyk 5.3.4.1) en Coetzee (vergelyk
5.3.4.2). Die beoordeling van laasgenoemde twee teoloë se
beskouings is derhalwe ook hier van toepassing.
Aanvullend tot wat reeds in genoemde paragrawe gestel is, moet
opgemerk word dat Van Wyk geen rekening met die aard en
samestelling van die onderskeie kerklike vergaderings hou nie.
Ook al sou ´n nasionale sinode uit afgevaardigdes van alle
kerkrade bestaan, bly dit ´n vergadering van afgevaardigdes, wie
se besluite deur die lasgewers getoets, geldig verklaar en
aangeneem moet word alvorens dit uitgevoer word.
Lourens (1994:30) beskou ratificatio as ´n daad van die plaaslike
kerk waardeur hy hom individueel-selfstandig van sinodebesluite
losmaak en sy eie besluite neem.
Ratifikasiereg op sinodebesluite impliseer volgens hom dat ´n
kerkraad sy eie besluit herroep of hom nie daaraan steur nie.
Lourens meen dat, indien kerkrade die besluite van sinodes sou
ratifiseer, die kerke hulle nie meer aan hulle eie ooreenkomste
hou nie.
Hy stel voor dat kerkrade wat reeds ratificatio toegepas het,
weer opnuut oor die kerklike gemeenskap in die algemeen en oor
eerlikheid by die kerklike vergaderings met die lees van die
Openlike Verklaring moet nadink.
Beoordeling
In sy bestryding van die independentisme wys Lourens tereg daarop
dat kerkrade moet besin oor hulle roeping ten aansien van die
kerkverband. Kerkrade mag hulle inderdaad nie eensydig van
sinodebesluite losmaak nie. Gehoorsaamheid aan Christus en liefde
vir die kerkverband moet ´n kerkraad motiveer om besluite van die
kerkverband (meerdere vergaderings) vir vas en bindend te hou
(vergelyk 3.2.4).
Lourens veroordeel die aksie van ratificatio ten onregte as
independente optrede. Sy oordeel dat, wanneer kerkrade besluite
van ´n meerdere vergadering ratifiseer, hulle hul eie ooreenkoms
verbreek, is nie reg nie. Ratificatio het niks te doen met die
neem van ´n ander besluit teenoor of in die plek van die besluit
wat reeds deur die meerdere vergadering geneem is nie.
Ratificatio het te doen met die suiwere hantering van die reeds
genome besluit.
In die studie is genoegsaam aangewys dat independentisme deur
ratificatio bestry word, instede daarvan - soos Lourens beweer -
in die hand gewerk word (vergelyk onder andere 2.1.2.3.2).
Wanneer kerkrade die besluite van meerdere vergaderings na
toetsing en geldigverklaring vir hulle eie rekening neem
(ratifiseer) en uitvoer, sal daar vir independentisme geen ruimte
wees nie.
Wanneer al die feite rondom die hantering van ratificatio in die
verloop van die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis in ag geneem
word, blyk die volgende.
Voor 1859 was daar in die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika geen
ruimte vir ratificatio nie. Klassikrasie, caeseropapie en
invoering van ´n nuwe kerkorde het die mindere vergaderings
verhinder om hulle plig en reg van ratificatio ten aansien van
die besluite van meerdere vergaderings uit te leef (vergelyk
5.3.1.4).
Na 1859, met die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se terugkeer
na die Dordtse Kerkorde, word ratificatio weer ´n moontlikheid.
In die eerste jare na 1859 is die Gereformeerde Kerke egter vaag
oor die toepassing van die ratihabitio van artikel 31 KO. Dit
word uit die geraadpleegde bronne nie duidelik of die kerke die
besluite van die sinodes, nadat hulle dit gelees het, ook
getoets, geldig verklaar en geratifiseer het alvorens hulle dit
uitgevoer het nie (vergelyk 5.3.2.9).
Uit die vigerende kerkordes van die verskillende kerke in
Suid-Afrika op ´n Gereformeerde grondslag, blyk dat slegs die
Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die reg
en plig van ratificatio ruimte laat (vergelyk 5.3.3.5).
Tot hoe ´n mate daardie reg en plig uitgevoer word, is nie
duidelik nie. Gereformeerde teoloë verskil daaroor. Die laaste
jare word steeds meer gekonsentreer op die toepassing van artikel
31 KO in sy volle omvang. Waar die teoloë van die veertiger jare
hulleself onomwonde teen selfs die toetsing van besluite
uitgespreek het, word dit uit publikasies van die laaste tyd
duidelik dat die noodsaak van die toepassing van al die
verskillende elemente van ratihabitio meer en meer ingesien word
(vergelyk 5.3.3).
In geheel gesien is ratificatio binne die konteks van ratihabitio
´n weinig-besproke en onderskatte onderwerp in die
Suid-Afrikaanse Gereformeerde kerkreg. Te midde van die positiewe
ontwikkeling wat daar tans rondom die handhawing van artikel 31
KO in die nimmereindigende stryd teen hiërargie en
independentisme is, behoort die regte visie op en toepassing van
ratificatio ´n wesenlike bydrae tot die funksionering van die
Gereformeerde kerkreg in die algemeen en die kerkregering in die
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die besonder te lewer.