Hoofstuk 3: Die toetsing van ratifikasie aan die norme van die Gereformeerde kerkreg

 

3.1 Die toetsstene

Die Gereformeerde kerkregering is prinsipieel onderskei van die Roomse, die Lutherse, die Erastiaanse, die kollegialistiese en die kongregasionalistiese stelsels van kerkregering (Kuyper, 1935:1-12; Van der Linde, 1965:77-81; Spoelstra, 1966:21-26; GKSA, 1980:8-12).
Die Roomse stelsel berus op die onskriftuurlike belydenis van die oppermag en onfeilbaarheid van die pous (papa locuta, causa finita est). Alle outoriteit berus by die geestelikes en is daarvan afhanklik. Die Roomse wêreldkerk het een belydenis, een liturgie, een taal en een sentrale regering waardeur die katolisiteit sigbaar vergestalt word. Rome ken geen plaaslike kerk met ´n kerkraad wat regeer nie (Kuyper, 1935:1; Spoelstra, 1966:21; GKSA, 1980:8).
Die Lutherse stelsel aanvaar die vors van die land se oppermag in alle tydelike dinge. Die vors het dus ook gesag oor die kerk in sy land (cuius regio, eius religio). Vir die handhawing van orde stel die vors op elke plek konsistories saam wat as staatsregtelike liggame uit teoloë en wetsgeleerdes bestaan. Die plaaslike kerkraad het in effek geen regerings- en ook geen besluitnemingsbevoegdheid nie (Van der Linde, 1965:80; Spoelstra, 1966:22; GKSA, 1980:9).
Nou verwant aan die Lutherse stelsel is die Erastiaanse stelsel. Waar die prediking, synde bediening van die sleutelmag, vir die Lutherane nog inspraak op die kerkregering het, word die prediking in die Erastiaanse stelsel as raadgewing beskou en die tug as waarskuwing. Die gesag oor die kerk kom geheel aan die burgerlike owerheid toe. Ouderlinge besit geen eie regeeramp nie. Hulle kan die owerheid hoogstens voorlig oor die wyse van kerkregering (Van der Linde, 1965:81; Spoelstra, 1966:23; GKSA, 1980:11).
Binne die kollegialistiese stelsel van kerkregering word die kerk as ´n vereniging van individue beskou. Die kerk funksioneer soos enige ander vereniging in die samelewing. Die kerkraad is ondergeskik aan ´n sinodale genootskapsorganisasie. Die mindere vergaderings is bloot uitvoerders van sinodale gesag en hulle is verplig om die reglemente van die hoër besture te gehoorsaam (Kuyper, 1935:19; Van der Linde, 1965:78; Spoelstra, 1966:23; GKSA, 1980:11).
Teenoor bogenoemde stelsels van kerkregering staan die independente of kongregasionalistiese stelsel, wat die hoogste menslike soewereiniteit aan die plaaslike kerk toeken. In soverre daar van kerkverband sprake is, het die vergadering van kongregasies geen bevoegdheid om aan die hoë posisie van elke individuele kongregasie afbreuk te doen nie. Nie die kerkraad tree gesaghebbend op nie, maar die gemeente. Die regeermag berus by die gemeentevergadering. Die kerkraad voer slegs die wil van die gemeente uit (Kuyper, 1935:12; Van der Linde, 1965:79; Spoelstra, 1966:26; GKSA, 1980:12).
Die Gereformeerde of presbiteriale stelsel van kerkregering (Kuyper, 1935:1; Kleynhans, 1982:78; Pont, 1981:190) rus op vyf skriftuurlike en belydenisgefundeerde beginsels, naamlik:
· dat die Here Jesus Christus in en oor sy kerk die alleenheerskappy voer (Matteus 23:8; Matteus 28:18; Johannes 13:13; Efesiërs 1:10; Efesiërs 4:15, 16; Efesiërs 5:24; Kolossense 1:18; 1 Petrus 5:4);
· dat die plaaslike kerk, selfstandig, ten volle liggaam van Christus is (Romeine 16:5; 1 Korintiërs 12:12-33; Galasiërs 1:2; Efesiërs 4:4; Kolossense 1:24; Openbaring 1:4, 13-20, Openbaring 2 en 3);
· dat Christus Hom in die regering van sy kerk laat dien deur ouderlinge (presbiters), wat in gelykheid saamkom in die kerkraad (Handelinge 14:23; Handelinge 20:17, 28; 1 Timoteus 3:5; 1 Timoteus 4:14; Titus 1:5-9; 1 Petrus 5:2);
· dat Christus plaaslike kerke in een geloof saambind (Openbaring 1:4, 13, 20; Openbaring 2 en 3) en hulle tot die beoefening van kerkverband oproep (Handelinge 15:6, 22, 25; 1 Korintiërs 16:1-3; 2 Korintiërs 8:4; Kolossense 4:16);
· dat Christus aan burgerlike owerhede geen seggenskap in die kerkregering skenk nie (Johannes 18:36; 2 Korintiërs 10:4; Efesiërs 6:12).
Hierdie skriftuurlike beginsels word algemeen beskou as die “pilare” waarop die Gereformeerde of presbiteriale kerkregering rus (Kuyper, 1936:6-12; Van der Linde, 1965:82-106; GKSA, 1980:13; Pont, 1981:190; Spoelstra, 1989:16-17).
Elkeen van hierdie sake figureer ook prominent in die Gereformeerde belydenis (vergelyk 2.1.2.2.1.2 vir ´n volledige uiteensetting daarvan).
Christus se Hoofskap en alleenheerskappy word ten volle in artikels 7 en 27 tot 32 NGB asook Sondag 21 HK eerbiedig. Alle menslike regering in die kerk is onderwerp aan Christus se opperheerskappy. Besluite van kerklike vergaderings is immer ondergeskik en toetsbaar aan die Woord van die Koning (Polman, s.j.a.:275, 277, 280; Venema, s.j.:25, 230; Vonk, 1950:198-200; Vallensis, 1952:92;).
Die selfstandigheid van die plaaslike kerk en die regering van die plaaslike kerk deur die kerkraad word bely in artikels 27 tot 31 NGB. Die gedagte van ´n oor-die-kerkraad-heersende vergadering of ´n hiërargiese opklimming in die amp is vreemd aan die Gereformeerde belydenis (Van Tongeren, s.j.:15; Van Bruggen, 1980:153, 154).
Die roeping tot uitoefening van kerkverband op grond van die kerkverbond wat die Here opgerig het en die binding aan geldige besluite van meerdere vergaderings lê opgesluit in artikels 27 en 32 NGB (Vonk, 1956:181; Van Bruggen, 1980:155).
Die taak van die burgerlike owerheid met betrekking tot die kerkregering word uitgemeet in artikel 36 NGB (Polman, s.j.b.:299).
Die vyf skriftuurlike en belydenisgefundeerde “pilare” waarop die Gereformeerde kerkregering rus, word as betroubare toetsstene (norme) by die toetsing van die definisie van ratificatio gebruik.

 

3.2 Die toets

3.2.1 Toetssteen 1: Christus alleen die Hoof van die kerk

Is die daad van ratificatio gehoorsame, onvoorwaardelike onderwerping aan die alleenheerskappy van Jesus Christus, die Hoof van die kerk?
Uiteenlopende antwoorde word op hierdie vraag gegee, waaraan in hoofstuk 5 breedvoerig aandag gegee word (vergelyk Oranje, 1946:31; Coetzee, 1946c:4, 5; Deddens, 1946:10-12). Dit is tans die bedoeling om die definisie van ratificatio aan die eerste toetssteen te meet.
Die antwoord op die vraag is positief. Om besluite van meerdere vergaderings, nadat hulle sorgvuldig getoets en regsgeldig verklaar is, as sodanig te aanvaar (acceptatio), getuig van aktiewe gehoorsaamheid aan die Here Jesus Christus. Die effek van ratificatio is dat die kerke welbewus ja sê vir alle besluite wat met die Woord van die Koning ooreenstem. Aan die ander kant is die effek van irratificatio (nie-aanvaarding van ongeldige besluite deur middel van probatio en ostentatio irratideclarationis) dat welbewus nee gesê word teen alles wat nie met die wil van die Koning ooreenkom nie.
Langs die weg van ratificatio as deel van ratihabitio en irratificatio as deel van irratihabitio onderwerp die kerke hulle onvoorwaardelik aan die gesag van Christus en verwerp hulle welbewus alle ander nie- en onskriftuurlike bindings (artikel 32 NGB).

3.2.2 Toetssteen 2: Die plaaslike kerk is selfstandig

Word met die daad van ratificatio genoegsaam met die selfstandigheid van die plaaslike kerk rekening gehou?
Ook hierdie vraag moet positief beantwoord word. Aanvaarding van geldige besluite van meerdere vergaderings deur die kerkraad rus op die beginsel dat die kerk plaaslik vergader word. Die bedoeling van ratificatio is juis dat ´n besluit wat die meerdere vergadering geneem het, daadwerklik die plaaslike kerk s´n word. Die lasgewer (kerkraad) is geroep om die lashebber (meerdere vergadering) se dade as sy eie te aanvaar. Uiteindelik moet dit wat die kerke se afgevaardigdes gesamentlik besluit het, gewoonlik (opdragte aan deputate van die meerdere vergaderings is byvoorbeeld ´n uitsondering) deur elke kerk selfstandig uitgevoer word. Deur ratificatio word verseker dat laasgenoemde wel gebeur.

3.2.3 Toetssteen 3: Christus regeer sy kerk deur middel van die kerkraad

Word die kerkraad se Godgegewe plek en taak deur die daad van ratificatio gerespekteer?
Hierdie vraag word in samehang met en in aansluiting by die vorige vraag beantwoord. Om besluite van meerdere vergaderings in die plaaslike kerk te ratifiseer, spruit daaruit voort dat ´n meerdere vergadering uit afgevaardigdes van meerdere kerke bestaan (artikel 33 KO) en dat die kerkraad die kerk regeer (artikel 32 NGB). ´n Besluit van ´n meerdere vergadering kan gewoonlik nie uitgevoer word alvorens die kerkraad dit nie as sy eie aanvaar het nie. Sodoende bly die kerkraad die instansie waardeur Christus sy kerk regeer.

3.2.4 Toetssteen 4: Die roeping tot kerkverband

Word die roeping tot en daadwerklike belewing van kerkverband deur die daad van ratificatio eerbiedig?
Die mening word meermale uitgespreek dat ratificatio aan die kerkverband afbreuk doen, omdat kerkrade daardeur in staat gestel word om besluite van meerdere vergaderings selfstandig te beoordeel en - indien hulle dit verkies - sommer langs hulle neer te lê (Coetzee, 1946a:4; Du Toit, 1946b:12; Van Wyk, 1988:38). Dit is egter nie die bedoeling van ratificatio (acceptatio) nie. Die teendeel moet gebeur. Ooreenkomstig artikel 31 KO is die plaaslike kerk geroep om die besluite wat die kerkverband (meerdere vergadering) geneem het, sorgvuldig te bestudeer en - indien dit geldig is - te aanvaar (ratifiseer/aksepteer) en uit te voer.
Indien ´n bepaalde besluit - omdat dit met die Woord van God in stryd is - ongeldig blyk te wees, moet gehoorsaamheid aan Christus en liefde vir die kerkverband ´n plaaslike kerk motiveer om die kerkverband se aandag daarop te vestig. Bewyse vir die ongeldigverklaring (ostentatio irratideclarationis) van so ´n besluit moet so gou moontlik aan die meerdere vergadering voorgelê word. Die “tensy” van artikel 31 KO is hier die sleutelwoord. Indien die “tensy” van artikel 31 KO nie gehonoreer word nie, verval die kerke in die sonde van independentisme. Gereformeerde kerke is verplig om, nadat hulle ´n ongeldige besluit van ´n meerdere vergadering vir hulleself ongeldig bewys en verklaar het (probatio irratideclarationis), hierdie bewys aan die meerdere vergadering voor te lê (ostentatio irratideclarationis).
By die onderhouding van artikel 31 KO sal die plaaslike kerke inderdaad die kerkverband beleef en respekteer, en sal hulle nie tot independentisme verval nie.

3.2.5 Toetssteen 5: Burgerlike owerhede het geen seggenskap in die kerkregering nie

Word die skriftuurlike onderskeid tussen die kerk en die burgerlike owerhede deur ratificatio erken?
Die feit dat die onus op kerkrade rus om besluite van meerdere kerklike vergaderings te ratifiseer, impliseer dat die owerhede nòg in die kerkverband, nòg in die plaaslike kerk oor die bevoegdheid beskik om te regeer. Dit is nie die owerhede se besluite wat deur die mindere vergaderings geratifiseer moet word nie. Dit is ook nie die owerhede se taak om besluite van kerklike vergaderings regsgeldig te verklaar en te aanvaar nie. Ratificatio veronderstel dat kerkrade en burgerlike owerhede elkeen sal bly by die roeping waartoe hulle geroep is.

 

3.3 Die bevinding

Gemeet aan die vyf toetsstene is ratificatio geen Fremdkörper in die Gereformeerde kerkregering nie. Die teendeel blyk. Ratificatio maak ´n wesenlike deel van die Gereformeerde kerkregering uit.
Laasgenoemde gevolgtrekking word soos volg gemotiveer. Indien besluite van meerdere vergaderings nie geratifiseer word nie, word daar in wese afbreuk gedoen aan die alleenheerskappy van Christus in en oor sy kerk. Een van twee geskied: die selfstandigheid van die plaaslike kerk word prysgegee, aangesien die binding aan besluite en derhalwe die regering van die kerk uiteindelik by die meerdere vergadering berus (hiërargie), of die moontlikheid word geskep om die kerkverband met die daad te verbreek, aangesien kerkrade slegs van besluite van meerdere vergaderings kan kennis neem sonder om dit as hulle eie te aanvaar en uit te voer (independentisme).
Dat ratificatio tipies Gereformeerd is, word nog verder bevestig as die Gereformeerde kerkregeringstelsel in hierdie opsig met ander, nie-Gereformeerde stelsels van kerkregering vergelyk word.
In die Roomse stelsel is ratificatio ondenkbaar, omdat alle outoriteit by die geestelikes berus en daarvan afhanklik is. Pouslike besluite moet nie na toetsing geldig verklaar en aanvaar word nie; dit moet blindelings uitgevoer word.
Die Lutherse en Erastiaanse stelsels het ook geen ruimte vir ratificatio nie. Omdat die landsheer die kerk regeer, moet besluite - nadat hy dit goedgekeur het - sonder teëspraak eerbiedig word.
Binne die kollegialistiese stelsel met sy sinodale topstruktuur word dit ewemin geduld dat “laere” vergaderings die besluite van die “hoëre” besture ratifiseer alvorens hulle dit uitvoer.
Omdat meerdere vergaderings in die kongregasionalistiese stelsel van ondergeskikte belang is en slegs adviese kan gee (geen bindende besluite kan neem nie), is daar geen sprake van die geldigverklaring en aanvaarding van bindende besluite nie.
Die gevolgtrekking is dat ratificatio ´n eg en suiwer Gereformeerd-kerkregtelike beginsel en praktyk is wat nie slegs bykomstig is nie, maar wat die onderwerping aan die heerskappy van Christus in die kerkregering in sy wese raak. Deddens (1946:10) merk derhalwe met reg op: “Wie het ius ratificationis naar art. 31 ontkent, ... is zoover gekomen, dat zij het beheerschende artikel der Kerkenordening in den hartader heeft getroffen, de Kerkenordening heeft prijsgegeven en het fundament der Reformatie heeft ontwricht”.