In hierdie hoofstuk sal aangetoon word hoe die reg en plig van ratificatio in die orde van die Gereformeerde kerkreg, dit wil sê in die Gereformeerde kerkorde, funksioneer. Om dié funksionering te kan aantoon, word verskillende kerkorde artikels saaklik saamgegroepeer en in verband met die onderwerp bespreek. Die artikels wat vir dié doel bestudeer word, word aangehaal uit die tans geldende kerkorde (KO) van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA, 1980).
Artikel 29 KO onderskei tussen vyf kerklike vergaderings wat onderhou word, te wete die kerkraad, klassis, partikuliere sinode, nasionale sinode en algemene sinode. Hierdie onderskeid is in beginsel reeds deur die Sinode van Emden in 1571 getref (Hooijer, 1865:68; Jansen, 1923:133). Om te bepaal hoe die reg en plig van ratificatio met betrekking tot genoemde kerklike vergaderings funksioneer, is dit eers van belang om vas te stel hoe hierdie vergaderings saamgestel word en wat hulle onderlinge verhouding is. Daaroor word deur Gereformeerde kerkregtelikes uiteenlopend gedink. ´n Oorsig oor die vernaamste gedagterigtings word weergegee, waarna ´n balans opgemaak en die funksionering van ratificatio met betrekking tot die wese van die kerklike vergaderings uitgewys word.
Dit word oor die algemeen in die Gereformeerde kerkreg gestel dat
meerdere kerklike vergaderings (klasses en sinodes) wesenlik van
´n kerkraad verskil (Jansen, 1923:186; Van Dalen, 1946:23;
Deddens, 1956a:186; Meulink & De Wolff, 1967:73; Van der Linde,
1983:157; Bouma, 1988:39). Drie motiewe word aangevoer om die
onderskeid te begrond:
· Die kerkraad is ´n samekoms van ampsdraers wat kragtens hulle
amp in die vergadering dien, terwyl die meerdere vergadering uit
afgevaardigdes saamgestel word wat kragtens hulle afvaardiging
optree (Jansen, 1923:186; Van Dalen, 1946:23; Meulink & De Wolff,
1967:90; Van der Linde, 1983:157).
· Christus het deur middel van die apostels die kerkraad self
ingestel en met gesag beklee, terwyl daar vir die instelling van
die ander kerklike samekomste geen regstreekse bevel in die Skrif
te vind is nie (Meulink & De Wolff, 1967:74, 75).
· Die kerkraad is ´n vaste kollege, terwyl die ander vergaderings
na afhandeling van die agenda uiteengaan en nie meer bestaan nie
(Meulink & De Wolff, 1967:73).
In die volgende paragrawe sal die wese van die verskillende
kerklike vergaderings van nader beskou word om vas te stel of die
genoemde onderskeid geregverdig is.
Artikel 37 KO, in samehang met artikels 30 tot 32 NGB, gee ´n
beknopte omskrywing van die wese van die kerkraad. Artikel 37 KO
verorden dat in alle kerke ´n kerkraad moet wees wat gereeld
onder voorsitterskap van die bedienaar van die Woord moet
vergader. Die samestelling van die kerkraad word eweneens in die
kerkorde bepaal. Die kerkraad is ´n vergadering van die
Woordbedienaar(s) en die ouderlinge.
Anders as artikel 37 KO, reken artikel 30 NGB die diakens ook as
deel van die kerkraad. Op die veelbesproke vraagstuk of die
diakens wel of nie deel van die kerkraad uitmaak nie (vergelyk
Polman, s.j.b.:23-29) word nie verder ingegaan nie, aangesien dit
nie direk op die onderwerp betrekking het nie. Wat wel van belang
is, is die manier waarop die kerkraad saamgestel word.
Die Gereformeerde kerke bely in artikel 31 NGB dat ampsdraers
behoorlik tot die onderskeie ampte verkies moet word: “Ons glo
dat die bedienaars van die Woord, die ouderlinge en diakens tot
hulle ampte verkies moet word deur middel van ´n wettige
verkiesing van die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en
in goeie orde, soos die Woord van God leer”. In aansluiting by
die NGB lê die kerkorde ook klem op die feit dat die kerkraad
saamgestel word uit ampsdraers wat deur die plaaslike kerk tot
die amp verkies word. So verorden artikels 22 en 24 KO dat
ouderlinge en diakens deur die gemeente onder leiding van die
kerkraad verkies moet word. Die NGB en die kerkorde volg wat dit
betref die Skrif. In 1 Timoteus 4:14 word na die kerkraad as ´n
raad of kollege verwys en Handelinge 6:5 maak melding van die
gemeente se medewerking by die verkiesing van die eerste
diakens.
Die NGB beklemtoon ook dat die kerkraad deur die Here daargestel
en geroep is om in sy Naam die plaaslike kerk te regeer: “Ons glo
dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurwyse
wat ons Here ons in sy Woord leer, geregeer moet word. Daar moet
dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die
sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die
herders die kerkraad te vorm” (artikel 30 NGB).
Volgens die Gereformeerde belydenis en kerkorde is die kerkraad
´n vaste kollege in die plaaslike kerk (Jansen, 1923:24;
1952:169). Die kerkraad is die kerk se adres (Deddens,
1994:61).
In die tweede plek bestaan die kerkraad uit ampsdraers van die
plaaslike kerk (Jansen, 1923:209; Van der Linde, 1983:145, 157).
Artikel 37 KO gaan van die beginsel uit dat die amp in die
plaaslike kerk gewortel is (vergelyk Handelinge 6:3-6; Handelinge
20:17, 28; Handelinge 21:18; Titus 1:5). Iemand kan nie op die
kerkraad dien indien hy nie as lidmaat van die gemeente tot die
amp geroep is en daarin dien nie.
Ten derde bely die Gereformeerde kerke dat die kerkraad geen
afvaardiging van die gemeente is nie. Ampsdraers verteenwoordig
nie die gemeente in die sin dat hulle in alles aan die wens van
die gemeente gevolg moet gee en dienooreenkomstig aan die
gemeente rekenskap verskuldig is nie (Jansen, 1923:136).
Ampsdraers word deur die Here by wyse van verkiesing tot die amp
geroep (Handelinge 6:5; Handelinge 14:23). Dit impliseer dat
hulle aan die wil van die Here gehoor moet gee. Die kerkraad se
taak word nie deur die gemeente aan hom opgelê nie, maar deur die
Here in Wie se diens hy staan. Hulle “lasbrief”, hulle
werksopdrag is direk van die Here afkomstig (1 Petrus 5:1-3). Die
kerkraad is oor hulle ampswerk aan die Here verantwoording
verskuldig. Laasgenoemde word in die bevestigingsformulier vir
ouderlinge opgemerk in die oproep aan die lidmate om hulle onder
die toesig en regering van die ouderlinge te stel, “want hulle
waak oor u lewe en sal eendag rekenskap moet gee”.
Plaaslike kerke is met mekaar in een gemeenskap of verbond
saamgevoeg. Jesus Christus is die band tussen die verskillende
plaaslike kerke, in die sin dat Hy die Hoof van sy katolieke kerk
is (artikel 27 NGB). Tegelyk onderhou Jesus Christus die verbond
tussen die kerke deur al die kerke in sy verlossingswerk te laat
deel en aan sy Koningskap te onderwerp (Openbaring 1:13, 20).
Uit hierdie verbondenheid volg ´n opdrag: die verbond wat God in
Christus opgerig het en in stand hou, moet met die daad deur die
kerke onderhou word. Dit gebeur deur die samelewing van kerke in
die kerkverband. Kerkverband moet as ´n gawe en daaruit
voortvloeiende verpligting beskou word wat voortkom uit die
verbond wat God in Christus tussen die kerke opgerig het (Du
Plooy, 1982:416; Deddens, 1994:69). Kerkverband rus in die
eenheid van geloof en doop (Efesiërs 4:4, 5; Greijdanus,
s.j.:10), dit is die eenheid in leer. Christus bid vir almal wat
deur die apostoliese woord in Hom glo dat hulle in alle tye en
lande een sal wees (Johannes 17:20-21). Sonder die eenheid in die
waarheid (Johannes 17:6, 14, 17) kan daar nie van kerkverband
sprake wees nie.
Kerkverband is deur Gereformeerde kerke onder andere gereël deur
plaaslike kerke in meerdere vergaderings byeen te laat kom. Sulke
meerdere vergaderings moet besin en besluit oor sake wat mindere
vergaderings nie kan afhandel nie en oor sake wat die kerke
gemeenskaplik raak (artikel 30 KO).
In sy verhandeling oor die kerk en meerdere vergaderings gee Du
Plooy (1979:113-115) ´n oorsig oor die standpunte wat gehuldig
word insake die samestelling van meerdere vergaderings.
Dit blyk dat daar in hoofsaak vier gedagterigtings is:
· ´n Meerdere vergadering is ´n samekoms van kerke (Oranje,
1944:27; Bouwman, 1970:17, 21; Spoelstra, 1988:248).
· ´n Meerdere vergadering is ´n samekoms van kerkrade (Spoelstra,
1966:176).
· ´n Meerdere vergadering is ´n samekoms van ampsdraers (Jansen,
1952:188; Pont, 1981:228).
· ´n Meerdere vergadering is ´n samekoms van afgevaardigdes van
kerke (Venema, s.j.:229; Van Dalen, 1946:22; Bouma, 1988:46;
1994a:369).
Dat ´n meerdere vergadering ´n samekoms van meerdere kerke is,
word uitdruklik in artikel 41 KO gestel. Die vraag is egter: op
watter wyse vergader die kerke? Om die inhoud van die reg en plig
van ratificatio te bepaal, is die antwoord op hierdie vraag van
kardinale belang.
Pont (1981:229) beantwoord hierdie vraag bevestigend. Volgens hom
is ´n meerdere vergadering ´n kwantitatiewe uitbreiding van die
kerkraad. Die sinodale of algemene kerkvergadering is ´n
oorkoepelende kerkraad, terwyl die kerkraad van die plaaslike
gemeente die plaaslike kerkraad is.
Van der Linde (1983:158) merk hierteenoor op dat die
Gereformeerde kerkreg op grond van die Skrif en die belydenis
slegs een kerkraad ken: die kerkraad in die plaaslike kerk. In
die Gereformeerde kerkreg kan daar op geen manier buite die
plaaslike kerk ´n breër of hoër kerkraad geskep word wat as ´n
opperraad oor ander kerkrade heers nie (vergelyk Calvyn,
1559b:1509-1510; Du Plooy, 1979:109).
Indien ´n meerdere vergadering ´n samekoms van kerkrade sou wees,
sou daar sekerlik meer as twee, ten minste drie kerkraadslede as
´n consistorium contractum afgevaardig moes word. Van die minimum
van drie geld: tres faciunt collegium (drie vorm ´n kollege).
Bowendien sou alle aanwesige kerkraadslede by ´n meerdere
vergadering kragtens hulle deelwees van die kerkraad ´n keurstem
moet hê. Dit is egter nie die geval nie. Kerkraadslede wat nie na
´n meerdere vergadering afgevaardig is nie, kan volgens artikel
42 KO slegs ´n adviserende stem ontvang. Die feit dat sommige
aanwesiges by ´n meerdere vergadering keurstem het en aan ander
´n adviserende stem toegesê kan word, onderstreep die
Gereformeerde sienswyse dat ´n meerdere vergadering nie as
uitgebreide kerkraad beskou moet word nie.
Hierin verskil die Gereformeerde kerkregering prinsipieel van die
kollegialisme. Binne die kollegialistiese stelsel van
kerkregering is die meerdere vergadering ´n “regspersoon, ´n
struktuur in die hande van verteenwoordigers van laer besture wat
die belange van die enkelinge in die genootskap moet behartig”
(Du Plooy, 1979:9).
In aansluiting by die kollegialistiese gedagtegang dat ´n
meerdere vergadering uit kerkrade saamgestel word, stel Jansen
(1952:188) dat ´n meerdere vergadering ´n samekoms van ampsdraers
is. Weens praktiese redes word daar volgens Jansen gebruik gemaak
van delegasie (afvaardiging) en representasie (verteenwoordiging)
na ´n meerdere vergadering. Delegasie verander nie die amptelike
karakter van die meerdere vergadering nie, want die amptelike
bevoegdheid van die afgevaardigdes berus by die amp wat hulle
beklee, sowel as by die amp van die ampsdraers wat hulle
afvaardig. Pont (1981:228) deel Jansen se mening. So ook
Spoelstra (1966:206), wat meen dat die motief vir afvaardiging na
´n meerdere vergadering gesoek moet word in die feit dat ´n hele
kerkraad weens praktiese redes nie by so ´n vergadering
teenwoordig kan wees nie.
Die kerkorde bepaal inderdaad dat bedienaars van die Woord en
ouderlinge na ´n meerdere vergadering afgevaardig word (artikel
41). Uit dié bepaling kan egter nie afgelei word dat
afgevaardigdes kragtens hulle regeeramp na ´n meerdere
vergadering afgevaardig word nie. Die bediening van die regeeramp
is immers aan die plaaslike kerk verbonde en daartoe beperk
(artikel 30 NGB). Dáár, ín die plaaslike kerk, regeer die
bedienaars van die Woord en die ouderlinge in Naam en in opdrag
van Christus. Dáár word die Woord, die sakramente en die tug deur
die daartoe geroepe ampsdraers bedien. Buite die plaaslike kerk
het ´n bedienaar van die Woord of ´n ouderling geen regeermag van
watter aard ook al nie (vergelyk onder andere artikel 15 KO;
Bouwman, 1970:21). In ´n meerdere vergadering word wel besluite
geneem wat die regering van die plaaslike kerke raak en
beïnvloed. Die meerdere vergadering tree ten behoewe en tot opbou
van die regering in die plaaslike kerke op (Van’t Spijker,
1993:236, 237). Dit beteken egter nie dat die meerdere
vergadering die plaaslike kerk regeer nie (vergelyk 4.2.2).
Du Plooy (1979:117) se beredenering - wat ook deur ander
kerkregtelikes gevolg word (onder andere Spoelstra, 1966:260) -
dat afgevaardigdes in ´n meerdere vergadering “met regering,
leiding en diens ten behoewe van al die kerke wat daar saamgekom
het” besig is, gaan in die lig hiervan nie op nie.
Indien ´n meerdere vergadering wel ´n vergadering van regerende
ampsdraers sou wees, is so ´n vergadering per implikasie ´n
uitgebreide kerkraad. Laasgenoemde is in die Gereformeerde
kerkreg nie die geval nie, soos in die vorige paragraaf aangetoon
is.
Dat artikel 41 KO bepaal dat spesifiek bedienaars van die Woord
en ouderlinge na meerdere vergaderings afgevaardig word, het
daarmee te doen dat absolute en onvoorwaardelike onderwerping aan
Christus, die Koning van die kerk, die wagwoord vir afvaardiging
is. Afgevaardigdes moet ooreenkomstig hulle kredensiebriewe
“volgens Gods Woord, die Drie Formuliere van Eenheid en die
Kerkorde besluite neem”. Daarvoor is diepgaande kennis van die
Woord, die belydenis en die kerkorde nodig. Bowendien is kennis
van die sake wat op die agenda dien, noodsaaklik. In die kerke is
dit die predikante en ouderlinge wat deurgaans die meeste kennis
van kerklike sake het. Hulle is vanweë daardie kennis, tesame met
hulle (veronderstelde) kennis van die Skrif, belydenis en
kerkorde die aangewese persone om na ´n meerdere vergadering
afgevaardig te word.
Du Plooy (1979:116) stel dat afvaardiging een van die
wesenskenmerke van ´n meerdere vergadering is. ´n Meerdere
vergadering is nie maar ´n byeenkoms van persone of ampsdraers
kragtens hulle amp nie, maar ´n vergadering van afgevaardigdes
met lasbriewe (Du Plooy, 1979:117; Kleynhans, 1985:152).
Dat ´n meerdere vergadering inderdaad ´n samekoms van
afgevaardigdes van kerke is, word in artikel 33 KO bevestig.
Die term “afgevaardigde” in artikel 33 KO wys heen na ´n
instansie wat stuur (Spoelstra, 1966:209). Die geloofsbriewe wat
die afgevaardigdes met hulle saamneem is “vertrouensbriewe wat
eerstens getuig dat die draer daarvan wettig afgevaardig
(gestuur) is en wat tweedens die mandaat of bevoegdheid van die
draer presies omlyn en bepaal in hoeverre die sender hom deur die
afgevaardigde laat verteenwoordig” (Spoelstra, 1966:209). Die
feit dat die afgevaardigde geen oop mandaat het om bloot na eie
goeddunke te handel en te besluit nie, wys daarop dat hy as
gestuurde die mindere is van diegene wat hom stuur. Indien ´n
afgevaardigde buite sy mandaat sou optree, is die afvaardiger
vanselfsprekend nie aan sy optrede gebonde nie, en kan hy dit
nietig verklaar.
In die lig hiervan word dit duidelik dat afvaardiging (delegatio)
en verteenwoordiging (representatio) nie met mekaar verwar moet
nie. ´n Kerkraad se afgevaardigde na ´n meerdere vergadering is
nie sy verteenwoordiger by die daardie vergadering, in dié sin
dat die hele kerkraad in die persoon van die afgevaardigde daar
teenwoordig is nie. Indien dit die geval sou wees, sou die
meerdere vergadering steeds ´n uitgebreide kerkraadsvergadering
wees, wat nie so is nie (vergelyk 4.1.3.2.1).
Die kredensiebrief stel dit nie voor asof die afgevaardigde die
verteenwoordiger van die kerkraad is nie. Die bewoording van die
kredensiebrief is wat dit betref sorgvuldig gekies.
Afgevaardigdes ontvang “las en volmag om namens die kerkraad,
asof hy self op die vergadering verteenwoordig is” te help
oordeel en besluit oor sake wat op die agenda dien. “Asof die
kerkraad self op die vergadering verteenwoordig is”: dit beteken
dat die kerkraad self nie teenwoordig is nie, anders sou die sin
gelees het “in wie die kerkraad teenwoordig is”. Die
afgevaardigde is nie die kerkraad of die “gesig” van die
kerkraad, soos Du Plooy (1982:273, 274) uit die proswpon van 2
Korintiërs 8:24 aflei nie. In 2 Korintiërs 8 en 9 is daar geen
sprake van ´n meerdere vergadering en afvaardiging na ´n meerdere
vergadering wat so ´n afleiding en toepassing regverdig nie.
Die kerkraad se afgevaardigde staan - om dit so te sê - op sy eie
voete, om saam met ander afgevaardigdes ooreenkomstig die mandaat
wat aan hom verleen is, sake op sy agenda te behandel en af te
handel. As die afgevaardigdes hulle taak volbring het, moet hulle
na hulle onderskeie afvaardigers teruggaan en verslag oor hulle
werksaamhede doen.
Na wat in die voorafgaande drie punte bespreek is, kan die volgende gevolgtrekking gemaak word: ´n meerdere vergadering is ´n vergadering van Gereformeerde kerke wat hulle deur afgevaardigdes laat verteenwoordig. Die kerkrade wat die afgevaardigdes stuur, is en bly die lasgewers. Afgevaardigdes behoort na afhandeling van hulle opdragte aan die kerkrade verantwoording van hulle werksaamhede te doen.
Die slot van artikel 35 KO impliseer die tydelike aard van
meerdere vergaderings. Wanneer die samekoms van afgevaardigdes sy
opdragte afgehandel het, ontbind die vergadering en hou die
voorsitter op om voorsitter te wees.
Daar mag wel deputate benoem word wat ´n welomskrewe opdrag
ontvang waarvolgens sekere besluite van ´n klassis of sinode
uitgevoer word (artikel 49 KO; Smit, 1994a:21). Sulke deputate
vorm egter nie ´n synodus contracta of ´n voortsetting van die
geslote en ontbinde vergadering nie. Kragtens artikel 49 KO is
die deputate gebind aan die opdragte wat aan hulle gegee is, en
mag hulle nie buite hulle mandaat optree nie. Hulle taak is om op
´n volgende soortgelyke samekoms van afgevaardigdes verslag van
hulle werksaamhede te lewer. Die meerdere vergadering of ´n
deputategroep van die meerdere vergadering word gevolglik nooit
´n permanente struktuur langs of bo die kerkraad nie (Du Plooy,
1979:117) en kan nie regeer nie.
Uit alles wat tot hier toe oor die wese van die verskillende
kerklike vergaderings beredeneer is, kan die volgende kort
samevatting gemaak word:
· Daar is ´n prinsipiële onderskeid tussen die kerkraad en die
ander kerklike vergaderings.
· Die kerkraad is ´n permanente kollege wat uit verkose
ampsdraers bestaan.
· Die ander kerklike vergaderings is meerdere vergaderings wat
saamgestel word uit afgevaardigdes van meer kerke. Meerdere
vergaderings het, anders as die kerkraad, geen permanensie nie.
Hulle is geen blywende instansies nie.
Dié samevatting maak dit tot ´n mate reeds duidelik wat die
verhouding tussen die verskillende kerklike vergaderings is. In
artikel 29 KO word die kerkraad voorop geplaas, soos dit in die
Gereformeerde kerkregering behoort te wees (Spoelstra, 1966:176).
Die kerkraad vorm die basis vir die kerkregering, van waaruit die
ander kerklike vergaderings by wyse van afvaardiging saamgestel
word (Van der Linde, 1983:145; Bouma, 1988:32).
Hieruit volg dat die kerkraad (synde die afvaardiger of lasgewer)
die meerdere is van die meerdere vergadering (synde die samekoms
van afgevaardigdes of lashebbers). ´n Lasgewer is meer as sy
lashebber. Andersom gesê: ´n deputaat of ´n vergadering van
deputate is nooit meer as die sendende kerke nie (Schilder,
s.j.:7; Deddens, 1994:72).
Aan die ander kant staan die sendende kerke nie los van die
kerkverband nie. Aan die gawe van die kerkverbond is onlosmaaklik
die eis tot kerkverband-oefening verbind. Die feit dat die
plaaslike kerk selfstandig is, beteken nie dat hy outonoom mag
optree nie. Laasgenoemde is independente optrede (Bouma, 1988:38,
39; De Vries, 1990:11, 19, 79; De Vries, 1993:47, 57).
Ratificatio spruit voort uit die gegewe dat ´n verteenwoordiger
namens ´n opdraggewer ´n saak met ´n derde party bespreek en tot
´n besluit kom (vergelyk 2.1.1.4). As sulks kom dit ook in die
Gereformeerde kerkreg voor (vergelyk 2.1.2.5).
In die voorafgaande paragrawe is uit die kerkorde aangetoon dat
die kerkraad in ´n afvaardiger-verhouding met al die ander
kerklike vergaderings staan. Meerdere vergaderings is uiteindelik
samekomste van afgevaardigdes van kerkrade. Selfs partikuliere,
nasionale en algemene sinodes, waarheen alle kerkrade nie self
afgevaardigdes stuur nie, is steeds byeenkomste van
afgevaardigdes van kerke. Kleiner wordende meerdere vergaderings
by wyse van getrapte afvaardiging maak geen verskil aan die feit
dat die kerkrade in die eerste plek die afvaardigende instansies
is nie (Spoelstra, 1989:281).
Omdat die verhouding van die kerkraad tot ´n meerdere vergadering
een is van afvaardiger tot afgevaardigde, is die daad van
ratificatio van die kant van die kerkraad onmisbaar. Grondliggend
aan artikels 29, 33, 35, 37, 41 en 49 KO - wat almal op die wese
van die verskillende kerklike vergaderings betrekking het - is
die onontbeerlike daad van die kerkraad om die optrede van sy
afgevaardigdes geldig te verklaar en amptelik as sy eie te
aanvaar. Daarsonder sal kerkrade òf in independentisme verval, òf
hulleself aan die onregmatige bestuursjuk van ´n samekoms van
afgevaardigdes onderwerp (hiërargie). Sonder ratificatio word aan
die meerdere vergaderings te veel of te min erkenning gegee.
In aansluiting by die onderskeid tussen die wese van die kerkraad en die wese van die meerdere vergaderings, word in hierdie afdeling eers vasgestel wat die taak van elkeen van dié onderskeie kerklike vergaderings is. In die lig daarvan sal bepaal kan word hoe ratificatio ten opsigte van die take van die kerklike vergaderings funksioneer.
In die plaaslike kerk moet die Woord, sakramente en tug onder
gedurige voorbidding bedien word (Handelinge 2:42; 1 Korintiërs
11:33; Hebreërs 10:25; artikel 29 NGB). Langs dié weg word die
heiliges vir hulle dienswerk toegerus en as liggaam van Christus
opgebou (Efesiërs 4:12).
Dit is die taak van die kerkraad om te sorg vir en te waak oor
die bediening van Woord, sakramente en tug (Handelinge 6:4;
Efesiërs 4:11). Die kollege van ampsdraers (presbuterion - 1
Timoteus 4:14) moet soos getroue herders oor die gemeente regeer
(Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:2). Die regering raak sowel toesig
oor die leer wat verkondig en bely word, as toesig oor die lewe
van die gemeente (Spoelstra, 1966:232; Bouma, 1988:45; Spoelstra,
1989:170). Ook moet die kerkraad hom daarvoor beywer dat alles in
die gemeente welvoeglik en ordelik toegaan (1 Korintiërs 14:40).
Hy moet die belange van die plaaslike kerk in alle opsigte
behartig (Van der Linde, 1983:119).
Om sy taak sinvol en na behore te verrig, is dit noodsaaklik dat
die kerkraad gereeld onder voorsitterskap van die bedienaar(s)
van die Woord sal vergader (Artikel 37 KO). Dit beteken: onder
die heerskappy van Jesus Christus moet die kerkraad sy regeertaak
verrig (Spoelstra, 1989:215).
Die kerkraad is derhalwe die enigste “bestuur van mense” wat met
die regering van die kerk belas en gemoeid is (Calvyn,
1559b:1509-1510; Deddens, 1956a:186; Meulink & De Wolff,
1967:73). Deur die ampsdraers in die plaaslike kerk word die kerk
regeer “volgens die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons
geleer het in sy Woord” (artikel 30 NGB). Geen ander kerklike
vergadering word tot regering van die plaaslike kerk geroep en
gemagtig nie. Daarom mag geen ander vergadering hom aan die
regering van die plaaslike kerk vergryp nie. Waar dit wel gebeur,
lei dit tot independentisme (waar die gemeentevergadering homself
as regeerliggaam verhef) of tot sinodokrasie (waar die meerdere
vergadering hom die regeermag toe-eien). Teen laasgenoemde verset
Calvyn (1559b:1509-1516) hom prinsipieel, deur daarop te wys dat
dit sonde is “dat die biskop vir hom alleen iets toegeëien het
wat aan die kerke gegee is. Dit is trouens asof die senaat (die
kerkraad - GJM) verdryf is en die konsul alleen die regering in
die hande gekry het”. Calvyn skryf verder: “Dit was dus ´n uiters
laakbare daad dat een mens die gesag wat aan almal behoort, op
hom oorgedra, die deur vir tirannieke willekeurigheid oopgemaak,
die kerk beroof het van iets wat daaraan behoort, ... ”
(Institusie IV, 11, vi).
In verband met die taak van meerdere vergaderings stel Spoelstra
(1989:169) dat enige aanduiding in die Skrif ontbreek waar
Christus in die plek van die apostels ´n hiërargie, ´n
superintendente-amp of ´n sinode-instituut oor die gemeente(s)
sou ingestel het. Spoelstra is van mening dat die saamkom in
sinodes op ´n ander vlak lê as die ampsbediening in die gemeente.
Tog beskou Spoelstra die meerdere vergadering steeds as ´n
vergadering wat amptelik regeer (1966:260). Hy verwys na die
meerdere vergadering as ´n tweede vlak van kerkregering waarin
selfstandige kerke met mekaar in ´n kerkordelike ooreenkoms tree
en aan mekaar hulp verleen om waarlik kerke van Christus te wees
en te bly.
Pont (1981:228) ondersteun dieselfde gedagte. In aansluiting by
sy siening oor die samestelling van meerdere vergaderings
(4.1.3.2) is Pont van oortuiging dat die betrokke vergaderings -
net soos die kerkraad - met die regering van die kerk belas is.
Die meerdere vergaderings is regerende vergaderings, vergaderings
van die ampte wat byeenkom ter wille van die regering van die
kerk.
In die lig van wat in die vorige paragraaf oor die taak van die
kerkraad beredeneer is, kan die stelling dat die meerdere
vergadering in die Gereformeerde kerkreg die taak het om te
regeer, nie skriftuurlik verdedig word nie. Tereg merk Sikkel,
soos aangehaal deur Deddens (s.j.:47) op: “Laat toch alle
gedachte aan een regeerende synode worden losgelaten, want dit is
niets anders als ... de Paus. De Kerkeraden regeeren de Kerken.
En dat doen zij enkel en alleen naar Gods Woord”. Ook Jansen
beklemtoon in die eerste uitgawe van sy kerkorde handleiding
(1923:186) die beginsel dat ´n meerdere vergadering geen
bestuurskollege van persone is wat bo die kerkraad staan nie.
Uit die Skrif blyk wat die taak van die meerdere vergaderings wél
is. In die meerdere samekomste moet daar saam besin en besluit
word oor gemeenskaplike sake, asook oor sake waaroor ´n mindere
vergadering geen genoegsame klarigheid kry nie (Handelinge 15:2;
Romeine 15:26).
In die meerdere vergaderings word daar gesamentlik geluister na
die stem van Christus en gee die een kerk op die ander ag in
opdrag van die Here (artikel 30 KO; Van der Linde, 1983:119,
274). Die taak van die meerdere vergadering is ook om kerkrade te
adviseer met betrekking tot hulle regeertaak (artikels 41 en 44
KO). Daardeur neem die meerdere vergadering nie die regeertaak
van die kerkraad oor nie, maar ondersteun hy die kerkraad in sy
ampswerk.
Met die oog op die sinvolle afhandeling van die meerdere
vergadering se werksaamhede is dit gewens dat afgevaardigdes,
behoudens uitsondering in buitengewone gevalle, geen imperatiewe
mandaat het nie (Jansen, 1952:158; Meulink & De Wolff, 1967:82).
´n Mindere vergadering moet in die reël nie vooraf bepaal hoe sy
afgevaardigde(s) moet stem nie. Deur middel van meerdere,
beginselvaste beraadslaging moet immers meer lig op ´n saak kom
alvorens gestem word.
Ten slotte moet gestel word dat meerdere vergaderings nie bevoeg
is om - behalwe in appèlsake - besluite van mindere vergaderings
goed of af te keur nie. Wat dit betref bepaal die kerkorde
uitdruklik dat meerdere vergaderings nie sake moet behandel wat
in mindere vergaderings afgehandel kan word nie (artikel 30).
Artikel 30 KO impliseer dat sake wat in ´n mindere vergadering
bevredigend afgehandel is nie op die agenda van die meerdere
vergadering dien nie. Dit beteken onder andere dat meerdere
vergaderings nie die besluite van mindere vergaderings sal
ratifiseer nie, in teenstelling met die kerkrade wat die besluite
van die onderskeie meerdere vergaderings ná goedkeuring móét
ratifiseer.
Omdat die kerkraad die enigste regeerliggaam in die kerk is, en
die meerdere vergaderings met hulle besluite aan die regering van
die plaaslike kerk diensbaar moet wees, volg dit as
vanselfsprekend dat die kerkraad die besluite van die meerdere
vergadering moet ratifiseer.
Deur ratificatio word enersyds verseker dat besluite van die
meerdere vergadering nie onuitgevoer bly nie (teen
independentisme). Andersyds word verseker dat die besluit van die
meerdere vergadering nie sonder meer, sonder toetsing en
aanvaarding deur die kerkraad, die kerk regeer nie (teen
hiërargie). Hierdie dubbele versekering kom ooreen met die
volgende woorde uit die kredensiebrief: “Hierdie Kerk verbind hom
om alle besluite van u vergadering wat met bogenoemde reël nie in
stryd is nie (teen hiërargie - GJM), vir bindend en vas te beskou
en hulle getrou te help nalewe en uitvoer (teen independentisme -
GJM)”.
Dit blyk dat ratificatio noodwendig na die afsluiting van die
meerdere kerklike vergaderings moet volg, en dat dit ´n tipies
Gereformeerde handeling is. Ratificatio is een van die
grondliggende sake waarin die Gereformeerde kerkregeringstelsel
hom prinsipieel van alle ander kerkregeringstelsels onderskei. In
hiërargiese stelsels is besluite van meerdere vergaderings sonder
meer bindend. In die independentistiese stelsel het dit slegs ´n
adviserende karakter, wat die eenheid in leer, diens en tug
aantas.
Artikel 30 KO bepaal die agendas van die verskillende kerklike vergaderings. Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake behandel. Daarmee is die grondbeginsel gestel. Op die basis van die grondbeginsel moet verder uitgemaak word hoe die agendas van die verskillende kerklike vergaderings saamgestel word.
In ooreenstemming met sy taak, is die agenda van die kerkraad
deurgaans uitgebreid. Binne die konteks van artikel 30 KO behoort
die kerkraad hom uit te spreek oor alle kerklike sake wat voor
hom kom (Van der Linde, 1983:124). Alles wat betrekking het op
die regering van die kerk in die wydste sin van die woord, moet
deur die kerkraad behandel en afgehandel word. Dit impliseer dat
die kerkraad ´n oop agenda het.
Sommige sake moet die kerkraad saam met ander kerke behandel
(Spoelstra, 1966:186), waaronder sake van gemeenskaplike belang
en sake wat die kerkraad nie by magte is om alleen af te handel
nie.
Laasgenoemde mag egter nooit daartoe lei dat kerkrade
gerieflikheidshalwe sake na ´n meerdere vergadering verwys nie.
Die kerkraad mag nie sy regeerplig ontduik deur die oordeel aan
´n vergadering oor te laat wat nie daartoe geroep word nie
(vergelyk 4.2.2).
Afgesien van die grondbeginsel dat kerklike vergaderings slegs
kerklike sake moet behandel, stel artikel 30 KO ´n verdere
beginsel ten opsigte van die agenda van die meerdere
vergaderings: “Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel
word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of
sake wat by die meerdere vergadering tuishoort”.
Hiervolgens word in die eerste plek ´n beperking op die
samestelling van die agenda van die meerdere vergaderings
geplaas. In die tweede plek gaan dit in artikel 30 KO oor die
afhandeling van die agenda.
Oor elkeen van die twee sake word nou enkele opmerkings gemaak.
Artikel 33 KO sluit aan en bou voort op die beginsel wat artikel
30 KO ten aansien van die samestelling van die agenda van die
meerdere vergaderings neergelê het. Afgevaardigdes na die
meerdere vergadering moet hulle opdragte saambring, onderteken
deur die wat hulle stuur. Die opdragte is nie soseer ´n
instruksie vir hoe die afgevaardigdes moet stem nie. Dit spel
primêr uit wat die afgevaardigdes moet behandel (Van der Linde,
1965:149). Die verskillende opdragte van al die afgevaardigdes
tesame, saam met die gemeenskaplike sake wat op die vergadering
tuishoort, vorm gevolglik die agenda van die betrokke vergadering
(Spoelstra, 1966:209). Die vergadering van afgevaardigdes kan nie
op eie inisiatief ekstra sake op sy agenda byvoeg sonder dat die
afvaardigers daarvoor gevra het nie (Jansen, 1923:154). Indien
dit wel gebeur, oorskry die vergadering die bevoegdheid wat aan
hom verleen is, wat beteken dat hy onwettig optree (Van der
Linde, 1983:125; Spoelstra, 1989:185). Besluite wat uit sulke
onwettige optrede sou voortspruit, is by voorbaat ongeldig,
ongeag die inhoud daarvan.
Hieruit blyk dat die agenda van die meerdere vergadering geslote
is in dié opsig dat die vergadering self nie kan besluit watter
sake hy gaan behandel nie.
Die kredensie- of lasbriewe gee afgevaardigdes na die meerdere vergadering volmag om die sake wat op die betrokke vergadering voorkom, te help behandel en afhandel. In die volmag lê eweneens ´n las opgesluit (vergelyk die bewoording van die kredensiebrief: “met las en volmag”). Afgevaardigdes staan onder ´n verpligting om die sake wat op die agenda dien, af te handel. Dit beteken dat ´n meerdere vergadering nie net kennis van sake op sy agenda kan neem sonder om verder daarmee te handel nie. Die mandaat wat gegee word, moet ten volle uitgevoer word voordat die vergadering ooreenkomstig artikel 35 KO beëindig word.
Afgevaardigdes is verplig om aan hulle afvaardigers verslag van
hulle werksaamhede te doen. Soos wat ´n volgende meerdere
vergadering hulle oor die handelinge van deputate wat deur ´n
vorige vergadering aangewys is, moet uitspreek (artikel 49 KO;
Jansen, 1923:222; Bouwman, 1970:217, 227; Spoelstra, 1989:290),
so moet ´n kerkraad die handelinge van sy afgevaardigdes
beoordeel. Dit geskied as die acta van die meerdere vergadering
(vergadering van afgevaardigdes) deur die kerkraad (vergadering
van afvaardigers) met die daad vir vas en bindend gehou word. Die
acta van die meerdere vergadering word sodoende in die agenda van
die kerkraad opgeneem. Elke handeling en besluit word
ooreenkomstig artikel 31 KO getoets of dit ooreenkom met die
mandaat wat aan die afgevaardigdes gegee is. Deur toetsing moet
die afvaardiger vasstel of die afgevaardigdes ooreenkomstig hulle
las en volmag gehandel het. Indien die toetsing (probatio) op
geldigverklaring (ratidaclaratio) uitloop, behoort die daad van
ratificatio (acceptatio) te volg. Deur ratificatio word die
besluite van die meerdere vergadering ook die besluite van die
kerkraad.
Met betrekking tot die agendas van die verskillende kerklike
vergaderings moet gekonstateer word dat ratificatio ´n onmisbare
skakel is in die proses waarin die afgehandelde sake van die
meerdere vergadering met die oog op uitvoering die saak van die
mindere vergadering word.
Artikel 36 KO bepaal: “Dieselfde seggenskap het die klassis oor
die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die
nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene
sinode oor die nasionale sinode het”.
Artikel 36 KO noem nie die gesag van die kerkraad oor die
gemeente nie.
Met die oog op hierdie artikel stel Bouwman (1970:18) oor die
oorsprong van gesag dat die kerkraad eie mag het, terwyl die
meerdere vergaderings oor afgeleide mag beskik. Schilder
(s.j.:13; 1977:100) neem Bouwman se gedagte oor as hy die gesag
van die kerkraad beskryf as eerstehands, primêr, en die gesag van
die meerdere vergaderings tweedehands, sekondêr. Schilder
(1977:100) begrond sy beskouing in die veronderstelling dat die
kerkraad as afvaardiger meer mag het as die meerdere vergadering,
wat ´n samekoms van afgevaardigdes is. Meulink en De Wolff
(1967:74) motiveer die onderskeid in gesag deur daarop te wys dat
die kerkraad regstreeks deur Christus met gesag beklee is, terwyl
die meerdere vergadering via die kerkraad gesag ontvang. Volgens
Van Dalen (1946:23) dra die kerkraad amptelike gesag, terwyl
meerdere vergaderings nie ´n amptelike karakter dra nie en ook
nie met amptelike gesag kan handel en besluit nie.
Jansen (1923:164) vat, in aansluiting by Bouwman, die oorsprong
van die gesag van meerdere vergaderings soos volg saam:
· dit is nie oorspronklik nie, maar afgelei (by wyse van
afvaardiging);
· dit is nie algemeen nie, maar begrens (in ooreenstemming met
die agenda);
· dit is nie hoër nie, maar minder (´n afgevaardigde het minder
mag as die afvaardiger);
· dit is nie voortdurend nie, maar tydelik (as die vergadering
verdaag, het hy geen bevoegdhede meer nie).
Na die Sinode van Assen 1926, wat doktor J.G. Geelkerken geskors
en afgesit het, verander Jansen se mening oor die oorsprong van
die gesag van meerdere vergaderings. Hy spreek in 1952 selfs oor
gekumuleerde mag van meerdere vergaderings wanneer hy skryf:
“Door middel van afvaardiging verkrijgen de meerdere
vergaderingen de macht (potestas) als een van de kerken afgeleide
(derivata), aan de afgevaardigden opgedragen (delegata) en in de
meerdere vergaderingen samengebrachte (cumulata) macht”
(1952:167).
Teenoor bogenoemde onderskeid wat getref word, stel Van der Linde
(1965:150) dat - hoewel daar verskil tussen die kerkraad en die
meerdere vergaderings is - daar geen wesenlike of prinsipiële
verskil tussen die gesag van beide is nie. Beide het as
instellings van Christus deel aan die kerkregering deur die gesag
wat Christus deur sy ampsdraers laat bedien. Du Plooy (1979:125)
deel Van der Linde se mening.
Uitgaande van die standpunt dat Jesus Christus sy kerk
on-middellik deur sy Gees en Woord regeer, en middellik deur die
amp, is Pont (1981:231) van mening dat die hervormde vadere die
gesag in die kerk in die hande van die sinodale vergadering van
ampsdraers gelê het. ´n Soortgelyke standpunt word deur enkele
kerkregtelikes aan die hand van artikel 36 KO ingeneem, naamlik
dat meerdere vergaderings meerdere seggenskap het (vergelyk
Spoelstra, 1989:464). Daarvolgens moet mindere vergaderings, ook
al is hulle dit nie eens met ´n bepaalde besluit van die meerdere
vergadering nie, begin deur hulleself aan die besluit van ´n
meerdere vergadering te konformeer. Na konformasie kan die
mindere vergadering besluit of hy teen die besluit beswaar gaan
aanteken of nie (Oranje, 1946:36).
Dit val nie binne die bestek van hierdie studie om die
verskillende standpunte oor die oorsprong van die gesag van die
onderskeie kerklike vergaderings in diepte met mekaar te vergelyk
en ´n oordeel oor elkeen te vorm nie. Wat tans van belang is, is
om vas te stel hoe ratificatio ten opsigte van die aard van die
gesag van die verskillende vergaderings funksioneer.
Met die oog daarop word die standpunt van Deddens (1956a:186)
onderskryf, wat stel dat daar - wat die aard van die gesag betref
- slegs een gesag is: die gesag van God in Christus (Matteus
28:18; Romeine 13:1; 1 Korintiërs 15:27; Efesiërs 1:22). Alle
gesag in die kerk word aan Christus ontleen en nie aan die aantal
ampsdraers of kerke of afgevaardigdes nie. Alle menslike gesag is
afhanklik van en gebind aan Christus se gesag. Dit beteken dat
die gesag van die kerkraad en die gesag van die meerdere
vergaderings wesenlik presies dieselfde is, in soverre dit in
gehoorsaamheid aan Christus bedien word (artikel 31 NGB; vergelyk
Spoelstra, 1966:188).
Wie die gesag van die meerdere vergadering hoër as die gesag van
die mindere vergadering ag, sal die besluit van die meerdere
vergadering as van deurslaggewende belang beskou, ongeag wat die
inhoud daarvan is. In so ´n geval moet die besluit van die
meerdere vergadering deur die mindere aanvaar word bloot omdat
die meerdere besluit het. Dit is hiërargie, waarteen gewaak moet
word (artikel 7 NGB; vergelyk Spoelstra, 1966:188).
Wie die aard van die gesag van die meerdere vergadering laer
beskou as die aard van die gesag van die mindere vergadering, sal
die besluit van die meerdere vergadering slegs as ´n advies
beskou, ongeag wat die inhoud daarvan is. In so ´n geval mag die
mindere vergadering die besluit van ´n meerdere vergadering
tersyde stel, bloot omdat ´n meerdere vergadering met mindere
gesag die besluit (advies) geneem het. Dit is independentisme,
waarteen eweneens gewaak moet word, aangesien dit die eenheid van
die kerke misken.
Teenoor beide hierdie verkeerde opvattings moet die Skrifbeginsel
gehandhaaf word wat hierbo gestel is, naamlik dat alle gesag van
Christus is. Waar die Woord van Christus spreek, moet daar met
ontsag geluister word. Besluite van kerklike vergaderings is
geldig en het daarom gesag indien dit met die Woord van God
ooreenstem. Die gesag lê nie in die vergadering as sulks nie,
maar in die Woord waarvoor die vergadering buig. So gesien, dra
besluite van ´n meerdere vergadering presies dieselfde gesag as
die besluit van ´n mindere vergadering. ´n Besluit is nie
gesagvol omdat die sinode dit geneem het of omdat die kerkraad
dit geldig verklaar het nie. ´n Besluit is geldig en gesagvol
wanneer dit in ooreenstemming met die Woord van die Here geneem
is.
Alle gesags-aanmatiging buite hierdie skriftuurlike reël om is
uit die bose (Deddens, 1956c:195).
Wanneer mindere vergaderings die besluite van meerdere
vergaderings ratifiseer, het dit niks te doen met die geldig maak
van of die gesag verleen aan ´n reeds genome besluit nie. ´n
Besluit wat met die Woord van God ooreenstem is van meet af aan
geldig en gesagvol. Indien dit strydig is met die Woord van God,
is die besluit uit die staanspoor ongeldig en gevolglik sonder
enige gesag (vergelyk Roeleveld, 1987:23, 24).
Die grond van ratihabitio met betrekking tot die gesag van die
verskillende vergaderings en hulle besluite is dat alle gesag aan
Christus behoort. Daarom is enige besluit van enige vergadering
toetsbaar aan sy Woord.
´n Besluit van ´n meerdere vergadering mag nie sonder die
voorafgaande toetsing en geldigverklaring geaksepteer
(geratifiseer) en uitgevoer word nie. ´n Kerkraad wat ´n besluit
van ´n meerdere vergadering sonder toetsing en geldigverklaring
aanvaar en uitvoer, gee aan die meerdere vergadering geleentheid
om hiërargies op te tree (artikel 7 NGB).
Aan die ander kant mag die besluit van ´n meerdere vergadering na
toetsing en geldigverklaring nie ongeratifiseerd bly nie.
Sodoende word die gesag van die meerdere vergadering onderskat en
ruimte vir eiewilligheid van die plaaslike kerk geskep.
Sinodokrasie sowel as konsistoriokrasie verwerp Christus se
gesag. Altwee hierdie kerkregtelike dwalings word deur die suiwer
hantering van die reg en plig van ratificatio teengegaan.
Artikel 31 KO bepaal dat dit wat op ´n kerklike vergadering met
meerderheid van stemme besluit is, as vas en bindend beskou moet
word. Artikel 33 KO bepaal dat elke afgevaardige na ´n meerdere
vergadering ´n keurstem sal hê. ´n Keurstem is die stem waardeur
op grond van Gereformeerde norme vasgestel word watter voorstel
die voorkeur moet geniet en die besluit van die vergadering moet
word (Van der Linde, 1983:137; Spoelstra, 1989:205). Sowel
artikel 31 KO as artikel 33 KO rus op die beginsel dat meerdere
vergaderings die reg het om besluite te neem (Bouwman, 1937:222;
Meulink & De Wolff, 1967:78).
Die beginsel dat meerdere kerklike vergaderings besluite kan
neem, word uit die Skrif afgelei. Die Spreuke-skrywer sê in
hoofstuk 11:14: “in die veelheid van raadgewers is redding”,
asook in hoofstuk 15:22: “planne misluk sonder beraadslaging,
maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand”.
Handelinge 15:22-29 vermeld dat die apostels en ouderlinge
bindende besluite neem insake die onderhouding van die
skaduagtige wette deur nie-Joodse Christene, en die geldigheid
van die Mosaïese wet ten opsigte van die afgodsoffers. Die
besluite is geldig vir alle kerke (Handelinge 16:4; vergelyk
Openbaring 2:24 in verband met Handelinge 15:24, 28).
Die grondreël dat meerdere vergaderings bevoeg is om bindende
besluite te neem, staan teenoor die standpunt van die
independente, wat oordeel dat ´n meerdere vergadering slegs
adviese kan gee (Bouwman, 1970:20; Van der Linde, 1983:129).
Vir die daad van ratificatio is hierdie skriftuurlike beginsel
van wesenlike belang. Ratificatio kom nie daarop neer dat ´n
nie-bindende advies van ´n meerdere vergadering in ´n besluit van
die kerkraad omskep word om sodoende regsgeldigheid te verkry
nie. Aan die wese en inhoud van die meerdere vergadering se
besluit word daar deur ratificatio niks verander nie. ´n Reeds
geldige besluit word slegs na geldigverklaring (ratidaclaratio)
en aanvaarding (acceptatio of ratificatio) die kerkrade se eie
besluit (vergelyk 2.2). Suiwer hantering van die ratificatioreg
en -plig is noodsaaklik vir die daadwerklike bewaring van die
eenheid in leer, diens en tug.
In verskeie artikels van die kerkorde word verwys na adviese wat
meerdere vergaderings of deputate van ´n meerdere vergadering
moet gee (artikels 4, 5, 11, 12, 13, 14, 38, 77, 79). Die oordeel
van die klassis waarvan in artikel 41 KO sprake is, kom eweneens
op advies neer (Jansen, 1952:193; Spoelstra, 1989:253).
Advies dui in die kerkorde gewoonlik op die oordeel van ´n
meerdere vergadering oor ´n handeling wat volledig by die
kerkraad tuishoort (Spoelstra, 1989:418). Vanweë die erns en
gewig van die betrokke handeling soek die kerkraad na
regverdigheid en onpartydigheid (Bouwman, 1970:637). Met die oog
op verantwoording aan die Here moet die meerdere vergadering die
kerkraad met advies bystaan. Sodoende dien advies as ´n vorm van
kontrole, wat versigtigheidshalwe toegepas word (Jansen,
1952:328).
Die bedoeling van advies is dat daar ooreenkomstig die inhoud
daarvan gehandel sal word (Van der Linde, 1983:247). Daarmee word
die regeertaak nie uit die hande van die kerkraad geneem nie. Die
kerkraad behoort hom met die advies van die meerdere vergadering
te vereenselwig en gaan volgens hierdie meerdere advies met sy
eie regeerhandeling voort (Kruger, 1966:458). Indien ´n kerkraad
nie die advies van die klassis kan volg nie, moet hy òf vir
hersiening van die advies aan die volgende klassis vra, òf hom op
die partikuliere sinode
beroep. Uit krag van die kerkverband kan die kerkraad nie ´n
gevraagde advies van die klassis eenvoudig tersyde stel en sy eie
gang gaan nie (Rutgers, 1922:303).
Hieruit volg dat ratificatio ´n wesenlike rol speel in die proses
waar die mindere vergadering advies van ´n meerdere vergadering
of deputate ontvang en hanteer. Deur middel van ratificatio word
verseker dat die advies van die meerdere vergadering nie deur die
mindere vergadering verontagsaam of bloot vir kennisgewing
aangeneem word nie. Wanneer byvoorbeeld ooreenkomstig artikel 41
KO advies ingewin word, is die kerkraad wat daarvoor vra verplig
om dit te ratifiseer en sodoende die advies sy eie te maak. Net
so moet die advies wat in geval van beroeping of tug gegee word,
deur die kerkraad as sy eie aangeneem word. Uiteraard geld dat
ratificatio in al hierdie gevalle eers na geldigverklaring van
die advies plaasvind (vergelyk 2.1.2.4.2).
Wanneer advies van die meerdere vergadering deur die kerkraad
geratifiseer word, is dit eweneens duidelik dat die kerkraad sy
regeertaak vir geen oomblik aan ´n meerdere vergadering oordra of
afstaan nie. Die stelling van Jansen (1952:328) dat kerkrade
hulle eie mag en vryheid beperk deur hulleself in geval van tug
te verplig om voor afsnyding die advies van die klassis te vra,
gaan derhalwe nie op nie. Die advies van die klassis is geen
outoritêre daad van ´n meerdere vergadering waardeur die kerkraad
“van bo af” gedwing word nie. Die advies van die klassis word by
wyse van ratificatio die kerkraad se eie besluit.
Artikel 10 KO maak melding van toestemming wat die klassis moet
gee alvorens ´n bedienaar van die Woord losgemaak kan word uit
die kerk wat hom beroep het. Net so mag iemand wat die diens van
sy kerk onderbreek of nie in vaste diens staan nie, volgens
artikel 15 KO nie hier en daar gaan preek sonder die toestemming
van die klassis of ´n partikuliere sinode nie.
Die toestemming waarvan in beide artikels sprake is, kom volgens
Spoelstra (1989:86) neer op approbasie, goedkeuring. Jansen
(1952:50) beskou toestemming as ´n daad van bewilliging.
Binne die konteks van artikel 10 KO kom toestemming daarop neer
dat die kerkraad, nadat hy losmaking van sy predikant bewillig
het, sy beslissing aan die klassis voorlê en ook sy (die klassis
se) bewilliging vir die vertrek vra. Die bewilliging of
toestemming van die klassis moet nie hiërargies opgevat word asof
die klassis oor die kerkraad regeer nie. Dit is bedoel om die
motiewe vir, sowel as die effek van die vertrek te verifieer.
Indien ´n klassis toestemming weier, moet die kerkraad die
klassis se weiering aanvaar (ratifiseer) of - indien hulle dit
noodsaaklik ag - daarteen appelleer (Van der Linde, 1983:46).
In alle gevalle moet die toestemming van die klassis deur die
kerkraad geratifiseer word. Soos advies, kan toestemming of
weiering nie net vir kennisgewing aangeneem word nie. Dit moet
aktief en welbewus deur die kerkraad sy eie gemaak word. In
praktyk kom dit daarop neer dat, ingeval van losmaking
ooreenkomstig artikel 10 KO, die besluit van die kerkraad en die
toestemming van die klassis een gesamentlike handeling word. Deur
ratificatio word die toestemming van die klassis ´n bevestiging
van die reeds genome besluit van die kerkraad.
In artikel 44 KO word bepaal dat en hoe daar kerkvisitasie gedoen
moet word. Een van die sake wat tydens die visitasie bespreek
behoort te word, is die vraag of die kerkraad die kerkorde in
alles onderhou. Daaruit vloei voort dat vasgestel moet word of
die kerkraad erns maak met die ratihabitio van artikel 31 KO.
Ratificatio, as integrale onderdeel van ratihabitio, is geen
opsionele daad waartoe sommige kerke hulle verplig kan voel en
wat ander kan nalaat nie. Kerke het in artikel 31 KO met mekaar
afgespreek om besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer.
Die nakom van daardie afspraak moet gekontroleer word. Kerke moet
op mekaar ag gee deur toe te sien dat besluite van meerdere
vergaderings vir vas en bindend gehou word (vergelyk Smit,
1994a:22). Diegene wat nalatig is in die nakom van die belofte om
besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer, moet broederlik
vermaan word (artikel 44 KO).
Artikels 53 en 54 KO bepaal dat bedienaars van die Woord,
professore aan die Teologiese Skole, ouderlinge, diakens en
proponente die drie Formuliere van Eenheid moet onderskryf en
onderteken. Hiermee verseker die ondertekenaar die kerk wat hy
dien en die kerke in kerkverband dat sy innerlike
geloofsoortuiging in die belydenis verwoord is (Spoelstra,
1989:300).
Die onderskrywing van die belydenis gaan voorop. Dit geskied
wanneer ampsdraers mondeling op die vrae van die
bevestigingsformulier antwoord. Deur die belydenis mondeling te
onderskryf, betuig die ampsdraer sy innerlike aanvaarding en
heelhartige instemming met die belydenis (Kruger, 1966:332; Van
der Linde, 1983:180). Die ondertekening is die skriftelike
bevestiging van die innerlike aanvaarding. Deur die sigbare
ondertekening bevestig die ampsdraer sy voorneme om die
suiwerheid van die leer, die eenheid van die kerk en die
kerkverband te handhaaf en dwalings te weerstaan (Kruger,
1966:332). Omdat die ondertekening sigbaar geskied, kan daar
altyd later op teruggekom word. Die ondertekenaar is gebind aan
sy woord en handtekening.
In paragraaf 2.1.2.2.1.3 is aangetoon dat dit die gewoonte van
die Gereformeerde kerke in die sestiende eeu was om besluite van
meerdere vergaderings te toets en dan as hulle eie te aanvaar.
Die wyse waarop dit geskied het, is dat elke lid van die
vergadering hom in die lig van Gods Woord mondeling uitspreek ten
gunste van die besluit. Sodoende word die besluit deur die hele
vergadering onderskryf. Daarna word dit in die notule opgeteken
dat die besluit as geldig aanvaar is. Die optekening van die
vereenselwiging met die besluit in die notule is in wese
dieselfde as die ondertekening van die belydenis, waarvan in
artikels 53 en 54 KO sprake is. Deur beide aksies word die
dokument of besluit waarmee mondelinge instemming betuig is, ook
skriftelik as eie aanvaar.
Dit blyk dat ratificatio van besluite en binding aan die
belydenis wesenlik op een lyn lê. Om ooreenkomstig artikels 53 en
54 KO die drie Formuliere van Eenheid te onderskryf en onderteken
is niks anders as persoonlike ratificatio nie.
Die slotartikel van die kerkorde, artikel 86, stel dat elke kerk,
klassis of sinode hulle daarop moet toelê om die artikels van die
kerkorde te onderhou totdat die algemene sinode anders verorden.
Die beginsel waarop hierdie artikel rus, is die wettige
ooreenkoms of afspraak in die kerkorde waarvolgens kerke in
kerkverband saamleef (Van der Linde, 1983:276).
Die ooreenkoms tussen die kerke het tot stand gekom weens die
eenheid van die kerke in belydenis (vergelyk 2.1.2.2.1.4). Die
artikels van die kerkorde het op grond van die belydenis hulle
beslag gekry.
Soos wat die meerdere vergaderings die verskillende kerkorde
artikels geformuleer het, is dit
deur mindere vergaderings getoets, geldig verklaar en as eiendom
van die kerke aanvaar (vergelyk 2.1.2.2.1.3). Elke artikel is met
die daad vir vas en bindend gehou, met insluiting van
ratificatio, alvorens dit amptelik as deel van die kerkorde
aanvaar is. Toe die Sinode van Dordrecht in 1618/19 die Kerkorde
- wat nou nog die basis vir die Kerkorde van die Gereformeerde
Kerke in Suid-Afrika vorm - aanvaar het, was dit ´n dokument wat
reeds deur die kerke geratifiseer is. Dit beteken dat die kerke
die kerkorde as hulle eie aanvaar het en gevolglik daaraan gebind
is.
Binding aan die kerkorde rus derhalwe nie net op trou aan die
afsprake wat met die kerke in die kerkverband gemaak is nie
(Spoelstra, 1989:471), maar ook trou aan die belofte wat elke
plaaslike kerk kragtens ratificatio afgelê het.
“Sake vir behandeling op meerdere vergaderings moet nie opgestel
word voordat die besluite van die voorgaande sinodes oor die
voorgestelde punte nagegaan is nie, sodat wat eenmaal afgehandel
is, nie weer voorgestel word nie tensy dit noodsaaklik geag word
om iets te verander” (artikel 46 KO).
In hierdie artikel word kort en bondig gestel dat die Woord van
die Here altyd dieselfde is, sodat wat vandag op grond daarvan
besluit word, nie môre verander hoef te word nie (Van der Linde,
1983:167). Die uitspraak word eenmaal gegee oor hoe volgens God
se Woord gehandel moet word; daarmee is die saak afgehandel. As
so ´n uitspraak dan deur al die kerke in kerkverband geratifiseer
is, moet daar nie weer op so ´n besluit teruggekom word nie,
tensy aangetoon word dat dit noodsaaklik is om iets te
verander.
Die grondtoon van artikel 46 KO is dieselfde as die basis waarop
artikel 31 KO rus, naamlik dat kerke aan geldige besluite van
kerklike vergaderings gebind is. Daar is geen geleentheid vir ´n
eiesinnige kerk om “soos ´n druppende kraan vergadering na
vergadering met dieselfde voorstel te kom totdat hy eindelik sy
eie afwykende gevoel deurgedruk kry nie” (Van der Linde,
1983:167).
Ratificatio van besluite van meerdere vergaderings waarborg dat
kerke aan skriftuurlike besluite van kerklike vergaderings gebind
word en bly.
Met betrekking tot ´n aantal kerkorde artikels is aangetoon dat
ratificatio òf grondliggend aan òf integraal deel uitmaak van die
betrokke artikel. Op grond daarvan kan gekonstateer word dat
ratificatio geen vreemde verskynsel in die Gereformeerde kerkorde
is nie. Die teendeel blyk waar te wees. Wie die plig tot
ratificatio in die Gereformeerde kerkreg ontken, weerstaan die
orde van die kerk in al die bogenoemde fundamentele artikels.
Ratificatio is ´n belydende aksie. Dit is daadwerklike
eerbiediging van die Christokrasie in die samelewing van die
kerke. Kerke wat die daad van ratihabitio volgens afspraak nakom
(artikel 31 KO), deur onder andere geldige besluite van meerdere
vergaderings te ratifiseer, bly mekaar in Christus as ware kerke
herken en erken.