Hoofstuk 1: Inleiding

 

1.1 Titel en tema

Die titel sowel as die tema van hierdie verhandeling is “Ratifikasie in die Gereformeerde kerkreg”.

 

1.2 Probleemstelling

Ratifikasie (ratificatio) in die Gereformeerde kerkreg, wat te doen het met die bekragtiging van besluite van meerdere vergaderings (Deddens, 1946:12), is ´n kerkregtelike begrip waaroor sowel wetenskaplik as in die praktyk van die kerklike lewe onduidelikheid en omstredenheid bestaan. Hierdie stelling word gestaaf deur die volgende drie bewyse, wat by wyse van gemotiveerde probleemstellings weergegee word.

 

1.2.1 Probleemstelling 1

Dit is nie duidelik wat die oorsprong en die gebruik van die begrip ratificatio in die Gereformeerde kerkreg is nie.
Motivering: Die term ratihabitio (vir vas en bindend hou), waaraan ratificatio verwant is in soverre beide met die geldigheid (ratus) van besluite te doen het, is vir die eerste keer deur die Sinode Middelburg 1581 in die kerkorde van die Gereformeerde kerke opgeneem (Rutgers, 1889:384).
In die sekulêre reg van die sestiende eeu was ratihabitio ´n reeds geykte term met ´n bepaalde, welomskrewe inhoud wat nagenoeg dieselfde as ratificatio beteken (Van Jaarsveld, 1971:2). Die vraag bly tot dusver onbeantwoord waarom die kerke juis die term ratihabitio in die kerkorde opgeneem het. Dit is eweneens onduidelik waarom die term in die kerklike reg ingevoer is en gebruik word.

 

1.2.2 Probleemstelling 2

Oor die verhouding tussen ratihabitio en ratificatio in die Gereformeerde kerkreg bestaan daar geen konsensus nie.
Motivering: Enersyds word die reg van ratificatio en die ratihabitio van artikel 31 Dordtse Kerkorde so goed as sinonieme beskou. Deddens (1946:10) en Schilder (Schilder & Deddens, s.j.:39) sien in die twee begrippe die aanduiding van vrywel een en dieselfde handeling.
Andersyds word beredeneer dat ratificatio in die letterlike betekenis daarvan wesenlik anders is as ratihabitio. Dit word deur Van Dalen (1946:28) en Kamphuis (1970:58, 61) as twee afsonderlike handelinge beskou, wat geen sinonieme is of kan wees nie. Kerkrade kan die geldige besluite van ´n meerdere vergadering nie nog meer geldig (ratum) maak (facere) as wat hulle reeds is nie. Hulle kan besluite van meerdere vergaderings wel vir vas en bindend (ratum) hou (habere).

 

1.2.3 Probleemstelling 3

Oor die inhoud van die begrip ratificatio binne die Gereformeerde kerkreg bestaan daar geen konsensus nie.
Motivering: Sedert die reg van ratificatio in die veertigerjare van hierdie eeu prominente aandag in Nederland verkry het, is inhoudelik verskillende betekenisse daaraan gegee. Deddens (1946:12, 17), ondersteun deur Schilder (Schilder & Deddens, s.j.:39) beskou ratificatio as die kerke se goedkeuring en bekragtiging van besluite van meerdere vergaderings. Sonder dié tweede, onmisbare daad van die kant van die kerke het die besluit van ´n meerdere vergadering geen regskrag nie.
Dijk (soos aangehaal deur Schilder & Deddens, s.j.:48) en Nauta (1960:578) stel daarteenoor dat die besluite van ´n meerdere vergadering tewens die ratificatio van die betrokke besluit is. Kerkrade het nie nodig om ´n besluit van ´n meerdere vergadering te bekragtig en goed te keur alvorens dit uitgevoer word nie. Indien ratificatio as ´n tweede daad van die kant van die plaaslike kerke moet plaasvind, sou dit die kerk volgens Oranje (1944:31) onregeerbaar maak, aangesien dit onvermydelik tot independentisme lei.

 

1.3 Aktualiteit

Die probleemstellings toon tot ´n groot mate reeds die aktualiteit van die studie aan. Aanvullend tot die probleemstellings moet daarop gewys word dat die wetenskaplik-kerkregtelike besinning oor die ius ratificationis in Nederland voortdurend aandag geniet (Boersma, 1993:410; Te Velde, 1994:309; Bouma, 1994b:381). Die besinning sluit ´n blywende debatvoering oor die beginsels daarvan in (Boersma, 1994b:61). Verder word die praktiese implementering van ratificatio na afloop van meerdere vergaderings telkens opnuut bespreek (Boersma, 1994a:51; Bouma, 1994b:381). Dit bevestig dat daar weens gebrek aan ´n afgeronde oordeel steeds geen genoegsame eenstemmigheid oor die onderwerp in bespreking bestaan nie.
In Suid-Afrika word daar eweneens rondom die saak van ratificatio gesprek gevoer, sonder dat die term noodwendig gebruik word (Smit, 1994a:21; 1994b:9; Bingle, 1994:30). Die beperkte hoeveelheid literatuur wat direk op die onderwerp betrekking het, bevat slegs fragmentariese opmerkings. Die beginsels waarop ratificatio rus, kom nie daarin ter sprake nie en word gevolglik nie geëvalueer nie (Coetzee, 1946c:5; Du Toit, 1946b:12; Spoelstra, 1966:196; Van der Walt, 1976:164; Du Plooy, 1979:120; Lourens, 1994:30). Vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, sowel as vir Gereformeerde kerke in ander wêrelddele is die studie dus van groot belang. Indien ratificatio ´n wesenlike element van die Gereformeerde kerkreg en kerkregering is, en dit word blywend afgewys of verkeerd hanteer, word daar nie voldoen aan die opdrag van die Here aan sy kerk om voortdurend te reformeer nie (Jeremia 6:16).

 

1.4 Doelstelling

Die hoofdoel van die studie is om die belang van ratificatio vir die Gereformeerde kerkreg asook vir die Gereformeerde kerke wêreldwyd en in besonder vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika na te vors.
Om by die hoofdoelstelling uit te kom, word die volgende as newe-doele gestel:
· om uit die sekulêre reg die wese en inhoud van ratihabitio te bepaal;
· om uit te vind wat die motiewe was waarom ratihabitio in 1581 in die kerkorde van die Gereformeerde kerke opgeneem is;
· om vas te stel wat die verhouding tussen ratihabitio en ratificatio in die Gereformeerde kerkreg is;
· om die beginsels waarop ratificatio rus, asook die elemente waaruit dit bestaan te identifiseer en aan die norme van die Gereformeerde kerkreg te toets;
· om die funksionering van ratificatio in die geheel van die Gereformeerde kerkorde aan te toon;
· om die hantering en toepassing van ratificatio in die verloop van die Gereformeerde kerke se geskiedenis in Nederland en Suid-Afrika na te gaan en te evalueer;
· om ratificatio in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering te implementeer.

 

1.5 Onderwerp en hoofstukindeling

Die probleem- en doelstelling bepaal die omvang en indeling van die onderwerp.
Vir die suiwer en wetenskaplike begrensing van die onderwerp is dit in die eerste plek noodsaaklik om die oorsprong van ratificatio in die Gereformeerde kerkreg na te vors en die begrip op grond daarvan te definieer. Vervolgens moet vasgestel word of ratificatio in die Gereformeerde kerkreg tuishoort en derhalwe gehandhaaf moet word, of dat dit ´n Fremdkörper is wat nie gehandhaaf mag word nie. Indien ratificatio wel in die Gereformeerde kerkreg tuishoort, moet ondersoek word waar en hoe dit in die geheel van die kerkorde figureer. In die vierde plek moet ´n historiese studie gedoen word om vas te stel hoe die Gereformeerde kerke deur die loop van die eeue ratificatio hanteer het. Die laaste saak wat aandag moet kry, is hoe die resultate van die studie in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering geïmplementeer behoort te word.
Om die genoemde sake in ´n logiese volgorde te bespreek, word die studie soos volg ingedeel:
· die definiëring van ratificatio binne die konteks van die Gereformeerde kerkreg (hoofstuk 2);
· die toetsing van ratificatio aan die norme van die Gereformeerde kerkreg (hoofstuk 3);
· die funksionering van ratificatio in die orde van die Gereformeerde kerkreg (hoofstuk 4);
· die hantering van ratificatio in die toepassing van die Gereformeerde kerkreg (hoofstuk 5);
· die implementering van ratificatio in die praktyk van die Gereformeerde kerkreg (hoofstuk 6).

 

1.6 Metode van ondersoek

Die metode van ondersoek word deur die onderwerp en die doelstellings bepaal. Die verskillende onderdele, wat saam die onderwerp uitmaak, is die stappe wat gevolg moet word om by die doel van die studie uit te kom.
Met die oog op die definiëring van ratificatio binne die konteks van die Gereformeerde kerkreg sal eerstens vasgestel word wat ratificatio in die sekulêre reg beteken. Regswoordeboeke asook studies in die gemene en statutêre reg word geraadpleeg om vas te stel wat die wese en begrensing van ratificatio en spesifiek ratihabitio gedurende die sestiende eeu was toe dit in die Gereformeerde kerkorde opgeneem is. Uit primêre kerkhistoriese bronne (waaronder kerkordes uit die jare voor 1581 en sinode acta uit dieselfde tydperk) sal aangetoon word wat die Sinode Middelburg 1581 bedoel, geyk en bepaal het toe die term ratihabitio in die Gereformeerde kerkorde opgeneem is. Kerkhistoriese navorsingsresultate insake die Sinodes Dordrecht 1578 en Middelburg 1581 word gebruik om die herkoms van en die redes vir die invoering van ratihabitio in die kerkorde na te gaan. Die onderlinge verhouding tussen ratificatio en ratihabitio moet eweneens bepaal word.
Om ratificatio aan die norme van die Gereformeerde kerkreg te toets, word uit die Skrif, asook uit Gereformeerd-konfessionele en -kerkregtelike bronne vasgestel watter norme as toetsstene moet dien. Gemeet aan die norme sal uitgemaak word of ratificatio wesenlik deel van die Gereformeerde kerkreg is al dan nie.
Vir die bestudering van die funksionering van ratificatio in die orde van die Gereformeerde kerkreg dien die kerkorde soos dit te Dordrecht in 1618/19 vasgestel is en tans in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika as bindende orde toegepas word, as primêre bron. Kerkorde-handleidings en kommentare dien as sekondêre verwysingmateriaal.
Die hantering van ratificatio in die toepassing van die Gereformeerde kerkreg moet histories-krities beskryf word. Kerkhistoriese bronne moet geraadpleeg word ten einde uiteenlopende standpunte ten opsigte van ratificatio so volledig moontlik te kan weergee en bespreek.

 

1.7 Begrensing

In ooreenstemming met die titel, is die studie beperk tot navorsing van die begrip ratificatio in die Gereformeerde kerkreg, met insluiting van die toepassing van ratificatio in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering. Die prinsipiële deel van die studie word tot ´n ondersoek na ratificatio binne die konteks van artikel 31 Dordtse Kerkorde begrens. Wat die historiese afdeling betref, val die soeklig slegs op verwikkelinge in die Nederlandse en Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis, aangesien die onderwerp hoofsaaklik in Nederland beredeneer is en die studieresultate primêr vir die omstandighede in Suid-Afrika toegepas word.