* Uit die voorafgaande uiteensetting het dit hopelik duidelik geword dat die gereformeerde kerkreg ’n vak is wat geanker wil bly in die Woord en konfessie as die bronne vir die kerkreg en kerkorde. Sowel die konfessie as die kerkorde bly altyd toetsbaar aan die Skrif.
* Hoe heg die verband tussen Skrif, konfessie en kerkorde, en hoe suiwer die kerkorde ook al mag wees, die kerkorde kan nie geloof in God waarborg nie. Dit is die werk van die Heilige Gees deur die verkondiging van die Woord wat ons wederbaar. Tog kan ’n onskriftuurlike kerkorde die ware lewe in die kerk versmoor (Van der Walt, 1976:145-146).
* Die kerkorde behoort ’n diens te lewer waardeur die Woord, sakramente en tug suiwer in die kerke bedien word, sodat die gelowiges individueel en as gemeente alleen onder die gesag en heerskappy van Christus en sy Gees sal lewe en groei.
* Die kerkorde en die konfessie mag hulle nie as canones aanbied of opdring nie, maar moet juis onder leiding van die Gees die eintlike en enigste kanon, naamlik die Woord, aan die woord bring in elke faset van kerkregering.
* ’n Christokraties-pneumatiese kerkregering as die eintlike regering van die kerk volgens die Skrif bly vir die Gereformeerde kerkreg as ’n gawe en opdrag staan. Ons sou dit goedskiks as die ius constituendum kan tipeer. Die konfessie en die kerkorde mag nie hiermee in stryd wees nie, en wil juis daartoe dien om die alleenheerskappy van
|23|
Christus as ons enigste Hoof in die kerke te erken en organies en ordelik te reël. Daarom mag die Christokrasie en ekklesiologie nie van mekaar losgemaak word of teen mekaar afgespeel word nie.
* Hoewel die konfessie en kerkorde feilbaar bly, behoort veranderinge en/of afwykinge daarvan met die grootste omsigtigheid te geskied. Dit gaan immers om die regering van die liggaam van Christus, en met hierdie liggaam wat duur gekoop is deur die bloed van Jesus Christus, mag nie geëksperimenteer word nie.