2. Die genoegsaamheid al dan nie van die Skrif en konfessie as bronne vir die goddelike reg volgens Rome, die anababtise en Luther

2.1 Roomse Kerk

Die Roomse Kerk aanvaar ook dat die kerkreg op die goddelike reg berus, maar dit blyk dat die ius divinum nie op die Skrif alleen gebaseer word nie. Uitgaande van die onvolkomenheid van die Skrif ten opsigte van openbaringe oor die regering van die kerk, en insgelyks vanweë die Roomse aanvaarding van die beginsels van die natuurreg, verkry die pous as verteenwoordiger van Christus op

|5|

aarde die hoogste outoriteit om die goddelike reg te bepaal. So is die goddelike reg soos eindelik saamgestel in die codex iuris canonici eintlik pouslike reg en vermeng met gegewens uit die Skrif, die tradisie, kerklike besluite, staatswette en gewoontes, (vgl. Smit, 1985:15 e.v.; Mans s.j.:135). Tereg vra Van ’t Spijker (1972:10): “Maar waar was de vrijheid van het evangelie gebleven?” Die deformasie van die kerk was inderdaad die gevolg van die verbreekte verband tussen die Christokrasie en ekklesiologie en ’n verkeerde Skrifbeskouing.

2.2 Die Anababtiste

By die anababtiste was daar ’n duidelike tendens na biblisisme en na die spiritualisme. Van wette en kerkordende bepalinge wou hulle niks weet nie, en daarom ontstaan daar by hulle ’n spanning tussen die Woord en Gees en tussen die amp en die charisma (Dick, 1982:120 e.v.; Plomp, 1967:14).

2.3 Luther

Luther verbrand die kanonieke reg omdat hy die Woord as enigste gesaghebbende bron in die kerk aanvaar. Sy eensydige siening van die kerk waarvolgens hy die onsigbare gestalte van die kerk oorbeklemtoon het, asook sy twee-ryke-leer het grootliks (selfs onbedoel) aanleiding gegee tot die Erastianisme, die Kollegialisme en Independentisme. Dit lei tot ’n skeiding tussen die kerk en reg, tot die intrede van owerheidsgesag in die kerk omdat die reg en regstoepassing in die kerk verskuif is na die wêreldlike regiment (of owerheid) as die vernaamste lid (membrum praecipium) van die kerk. Op hierdie wyse is die Woord as enigste gesagsbron vir die kerk verdring (vgl. Smit, 1985:29 e.v.; Du Plooy, 1987:4-6).

2.4 Gevolge

Teen die agtergrond van hierdie vorstelike regeermag (of caesaropapisme) volgens die Roomse en Lutherse beskouinge, asook teen die agtergrond van die episkopalisme in Engeland en Amerika en dié van die spiritualisme, moet ons die verwarring en negatiewe standpunte van die negentiende en twintigste eeue ten opsigte van kerkreg en kerkregering verstaan.