4. Stryd bring worsteling en stimulering

4.1 Die stryd van die Reformasie teen die Roomse Kerk en die anababtisme het die Hervormers gestimuleer tot kerkherstel en suiwere grondslae vir ’n Skriftuurlike kerkreg en ’n duideliker visie op die sg. ius divinum. Weldra kom ons terug op die positiewe standpunt van Bucer en Calvyn en andere.

4.2 In Duitsland het die spanning tussen ’n sg. geesteskerk en ’n regskerk tot die krisis van die Krichenkampf (1933-1948) gelei. Gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu het daar ook ’n

|7|

soort Lutherrenaissance plaasgevind (Coertzen, 1984:179 e.v.).

’n Hele groep Duitse kerkregtelikes het aan ’n evangeliese kerkreg begin bou waarin gepoog is om die skeiding en spanning tussen die onsigbare en sigbare kerk en tussen die begrippe kerk en reg met mekaar te versoen. Die eintlike stimulering vir teoloë soos Heckel, Wolf en Dombois (vgl. Coetzen 1984 en 1986) was die kerkstryd (Kirchenkampf) waarin die kerk met die nasionaal-sosialisme geworstel het en die kerk hom verset het teen die totalitêre regime wat die kerk se wese hom wou ontneem. Die besef het deurgedring dat die kerk en reg albei vanuit die Skrif as bron tesame met ’n belydenis oor die kerk bepaal word. Wolf (1960:15) laat ’n ander klank as Sohm hoor wanneer hy sê: “Kirchen wird nur im Glauben erfahren, ebenso Kirchliches Recht”.

Johannes Heckel se siening van die kerkreg as liefdesreg en genadereg, en Wolf se beskouing van die kerkreg as belydende reg, bevestig die feit dat die Duitse kerkregtelikes begryp dat daar ’n noue verband tussen Skrif, belydenis en kerkreg bestaan, en dat die bronne vir die goddelike reg slegs die Skrif en konfessie kan wees (vgl. Smit, 1985:263 e.v.).

4.3 ’n Derde voorbeeld van die feit dat stryd teen onsuiwere kerkregtelike aksente tot stimulering dien en moet dien, vind ons met die koms en beskouinge van die kollegialisme. Vanuit die liberale teologie van die negentiende eeu, wat die band tussen koninkryk en kerk verbreek het, die positiwisme van die Aufklärung en die denkbeelde van die Franse rewolusie het die kollegialisme met sy genootskaplike kerkbegrip teen die begin van die negentiende eeu sy intrede in Nederland en Suid-Afrika gemaak (Ridderbos, 1972:289-291; Du Plooy, 1982:23-24).

Die effek wat hierdie beskouinge op die kerk en kerkregering gehad het, was geweldig. Dit het die gereformeerde wereld verdeel en verskeur. Tegelyk het dit ook gedien tot ’n nuwe belangstelling in die Reformasie en ’n verantwoording oor die bronne vir die goddelike reg in die kerk van Jesus Christus. Vandaar ook die opmerklike belangstelling by teoloë van sowel die Nederduitse Gereformeerde as Nederduitsche Hervormde Kerk ten opsigte van die kerkreg in die tweede helfte van die twintigste eeu. Opnuut word daar gesoek na die eintlike bronne vir die kerkreg.