|8|
Gedurende die Reformasie — veral die Calvinistiese reformasie — is daar nie net ’n moontlikheid van ’n Skriftuurlike kerklike orde wat as die goddelike reg vir die kerk kan geld, gesien nie, maar dit is gaandeweg ontwikkel tot ’n kerkregeringstelsel wat as die presbiteriale kerkregeringstelsel bekend is (vgl. hierteenoor Boon, 1965, wat meen dat Calvyn meer in die rigting van ’n biskoplike as 'n presbiteriale orde vir die kerk gedink het).
Die ontwikkelingslyn begin veral by Martin Bucer waarby Calvyn aansluit en die grondlyne vanuit die Skrif verder uitbou en formuleer. Sy insigte oor kerkordende beginsels lê versprei in veral sy Institusie, sy kommentare en eienaardig genoeg miskien meer geïnhibeer in sy kerkorde vir Genève (die sg. Ordonnances Ecclesiastiques van 1541-1561) aangesien die Raad van Genève hieraan meegewerk het en Calvyn nie sy gedagtes volledig kon verwoord en implementeer nie (Bronkhorst, 1947:197-198). Die invloed van Calvyn se visie op die leer en regering van die kerk op kerke van die Reformasie van die sestiende eeu was formidabel. Die deurbraak is gemaak dat die kerklike reg eiesoortig uit die Skrif en konfessie afgelees kan word. Ons wil dit slegs met enkele grepe en stellings toelig.
Bucer het in sy kerkregtelike denke sy uitgangspunt in die Skrif geneem. Dit was vir hom die eerste kanon wat alle andere canones —soos veral die Roomse kanonieke reg — moet beheers. Hy meen dat die pouslike kerkreg se fout juis daarin bestaan het dat hulle die enigste kanon van die kerk, naamlik die Skrif, van sy gesag beroof het (vgl. Van ’t Spijker, 1972:9-11).
Hy beskou die kerk as ’n Christokraties-pneumatiese en dinamiese gemeenskap waarin die goddelike reg alleenlik teenwoordig is wanneer die heerskappy van Christus daarin bedien word (Van ’t Spijker, 1972). Die orde in die kerk moet slegs dien om aan die gesag van Christus ’n deurgang te verleen (a.w.:29).
By Bucer moes die notae ecclesiae nie net dien as merktekens van die ware kerk nie, maar dit vorm ook volgens die ius divinum die wesenlike elemente van ’n kerklike orde (a.w.:34-35). Die orde wat
|9|
God vir sy kerk gegee het, bestaan nie uit ’n aantal voorskrifte of bepalings nie, maar eintlik in die hele versorging van God vir sy kerk deur die bediening van Woord, sakramente en tug waardeur die kerk as ’n orde of as ’n liggaam saamgebind en opgebou kan word (a.w.:26).
Calvyn glo dat Christus as die Hoof van die kerk self sy kerk deur sy Woord en Gees regeer, en dat Hy in die Woord die orde en gestalte van die regering van die kerk voorgeskryf het (Inst. IV,6,9). Vir Calvyn is die ordinatio Dei soos in sy Woord geopenbaar die basiese fondament vir die kerklike orde (Smit, 1983:61).
Rieker (1899:95) vat die gedagtes van Calvyn kernagtig saam wanneer hy sê dat Calvyn tussen ’n formele en ’n materiële beginsel onderskei: die formele beginsel is dat slegs dié kerkregering reg en waar is wat uit God se Woord verkry is en wat met die orde van die apostels en die vroeë kerk ooreenstem. Die materiële beginsel kan vanuit tweërlei perspektief gesien word: negatief gestel sluit Calvyn elke vorm van menslike heerskappy in die kerk uit; positief beskou, handhaaf Calvyn slegs die alleenheerskappy van Christus (vgl. ook Hovius, 1962:5-7).
Richel (1942:214) en Bohatec (vgl. Bronkhorst, 1947:203) beklemtoon die aksent wat die Heilige Gees in die gedagtes by Calvyn ten opsigte van die kerkregering ontvang.
Calvyn erken dus dat die Woord die enigste bron vir die kerkreg en kerklike bepalings is. Tog erken hy ook dat ’n kerklike orde menslike insettinge kan hê, maar dan moet dit op die Woord begrond word en in ooreenstemming wees met die “algemene reëls” wat God vir die orde en betaamlikheid van die kerk gegee het. Hier verwys hy na 1 Korintiërs 14: 40 (Inst. IV,10,30); omdat dit volgens hom dan “geheel en al goddelijk zijn” (prorsus divinae) (Plomp, 1967:15) is dit geldig vir die kerke.
Besluite wat egter die kerk as gesagsbron het, mag nie gewetensbindend wees nie (Inst. IV,10,1-10; vgl. Spoelstra, 1986:97 e.v.).
Die gevolg van veral Calvyn se positiewe standpunt oor die noue
|10|
verband tussen die Skrif en die beginsels vir die kerkregering het ander prominente leiers in die kerklike lewe tydens die Reformasie soos a Lasco en Micron in die geledere van die vlugtelingkerke, asook kerklike vergaderinge soos dié in Frankryk, Nederland en Skotland ens. beslissend beïnvloed.
Hiermee word nie gesê dat ’n bepaalde kerkorde uit die Skrif afgelees kan word nie, maar wel dat die Skrif die basiese gegewens bied, die sg. grondreëls. Hierdie grondreëls is ten tye van die Reformasie in konfessies saamgevat, en wanneer die kerke dan op grond van die eenheid in die leer saamkom, het hulle ook aan die nadere uitwerking van kerklike ordes aandag gegee (vgl. Hovius, 1962). Die eenheid in belydenis gaan dus die kerkorde vooraf, maar die kerkordes het die grondpatroon van die konfessie gevolg (Pont, 1981:7 e.v.). Die kerkorde wou die modus quo wees waarvolgens die eenheid konkreet belewe word en waarvolgens die reg van God in kerke bedien word (Spoelstra, 1986:99).
Die Calvinistiese Reformasie wou dus nie die Christusregering en kerkregering van mekaar losmaak nie, maar juis in die kerkregering en in die kerkordes as die resultaat van die kerkregtelike denke ’n deurgang en beveiliging bied vir die Christusregering.