|6|
Baie bekend is die stelling van Rudolph Sohm, die Duitse kanonikus, wat in 1892 reeds gesê het dat die kerk wesenlik geestelik is; dit is bo-aards en bo-wêrelds en kan nie met juristiese begrippe verstaan word nie, want die wese van die kerk staan met die wese van die reg in teenspraak. Die geestelike wese van die kerk sou elke kerklike regsordening uitsluit (Sohm 1892; Smit, 1985:264; Pont, s.j.:77). Hier is die invloed van Luther se kerkbeskouing en twee-ryke-leer baie duidelik, en hy dryf hiermee die onversoenbaarheid tussen kerk en reg as twee pole op die spits — asof die Skrif nie bron kan wees vir die reg en orde wat in die kerk moet geld nie. Smit stel dat die fout van Sohm daarin bestaan dat die Christusregering teenoor in plaas van in die kerkregering gestel word (a.w., p. 264). Die enigste organisasie in die kerk sou charismaties wees en dan eintlik beperk tot die gawe van lering.
Brunner (vgl. Pont, 1981:6-7; Mans, s.j.:143; Pöhlmann, 1987:1-18) noem die verdringing van ’n geesteskerk deur ’n juridies-institusionele kerk die groot misverstand van die kerk.
Hierdie argument dat die Nuwe Testament van geen goddelike regsbeginsels en kerklike organisasie sou weet nie, is in die veertiger-jare in die geledere van die Nederlandse Hervormde Kerk sterk na vore gebring (vgl. Brouwer-Noordmansdebat: Lekkerkerker, 1971:18 e.v.; Bronkhorst, 1947:1-14; Pont, 1981:6-7). Selfs in die sestigerjare het die Nederlandse Hervormde Kerk nog geworstel met die waarde en gesag van die Bybelse gegewens oor die kerklike organisasie (vgl. studierapport, 1969). Bekend is ook die stelling van Van den Berg (1969:68-69) dat ’n bindende kerklike organisasie die kerk van Christus ’n gekerkerde kerk maak (vgl. ook Smit, 1983:60).