6. Die verband tussen konfessie en kerkorde

6.1 Algemeen

Ons het tot dusver meer gekonsentreer op die duidelike verband tussen die Skrif en die daaruit voortvloeiende voorskrifte of kerkordende bepalings vir die kerkregering. Dit het ons reeds met die bestaan van ’n konfessie in aanraking gebring, want dit het geblyk dat ’n deel van die konfessie juis bepaalde geloofswaarhede oor die kerk en kerkregering formuleer.

Tereg sê Smit (1983:64) dat die verband tussen die kerkorde en die konfessie in die Skrif vasgelê is.

Die belydenis is in sy geheel ’n weerklank of antwoord op die inhoud van die Woord. Hier gaan dit oor al die geloofswaarhede wat die Skrif ons in sy dele en in sy geheel leer. Terloops, daarom is teksverwysings by ’n konfessie noodsaaklik (Hovius, 1962:36).

’n Kerkorde bevestig die antwoord van die konfessie; soos die

|11|

belydenis rus dit op die Skrif, maar meer konkretiserend en prakties gerig. Omdat dit essensieel en struktureel op die konfessie betrekking het, is dit ook nie nodig om by elke artikel ’n Skrifbewys te voeg nie (vgl. Hovius, 1962:24).

Die kerkorde se gesag lê op ’n ander vlak as dié van die Skrif en konfessie. Tereg sê Smit (1983:85): die Skrif is ten opsigte van die gesag die norma normans (normerende norm), die konfessie is die norma normata (genormeerde norm) en die kerkorde is die norma ministrans (bedienende norm).

Daarom vorm die kerkorde nie die akkoord van kerklike gemeenskap nie, maar wel die konfessie. Die kerkorde bepaal onder meer die wyse waarvolgens kerke wat in gemeenskap met mekaar lewe, mekaar sal dien en bystaan t.o.v. die opbou van die kerk van Christus.

6.2 Die verband is histories gelê

Kragtens die feit dat kerk ’n katolieke en apostoliese kerk is, soos ons dit inderdaad bely in die apostolicum en Niceanum, en omdat ons glo in die verligtende werk van die Heilige Gees deur die geskiedenis, mag ons nie vanuit biblisistiese en individualistiese oorwegings die werk van die Heilige Gees in die kerk van Christus in die kerkgeskiedenis vergeet nie.

Hiermee maak ons nie die kerkgeskiedenis ’n bron vir die kerkreg nie — soos by Rome wel die geval is (Kamphuis, s.j.: 90 e.v.); ons maak ook nie die gewoonte (soos Wesel) ’n metodologiese vertrekpunt nie. Ons erken wel die werking van die Heilige Gees (vgl. Hand 15), en is bewus daarvan dat sowel die konfessie as die kerkorde onder leiding van die Gees ’n geskiedenis deurloop het (vgl. ook Wolf 1960:15; Coertzen, 1986:51).

Dit is opvallend dat die konfessionele en kerkregtelike ontwikkeling in die sestiende en begin-sewentiende eeue parallel langs mekaar en in mekaar verloop het, en onder meer die Nederlandse geloofsbelydenis en die Dordtse kerkorde tot gevolg gehad het.

Tussen hierdie twee dokumente is daar fundamentele ooreenkomste, maar ook skynbare verskille. Verder word die volledigheid en/of genoegsaamheid van hierdie dokumente vir ’n deugdelike kerkregering deur sommige bevraagteken. Vanweë gebrek aan tyd, maar ter wille van die aktualiteit daarvan gee ons kortliks hieraan aandag.

|12|

6.3 Die ooreenkoms tussen die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Kerkorde (soos gewysig volgens art 86)

Met betrekking tot die ooreenkoms tussen die confessio Belgica en die kerkorde volstaan ons met enkele opmerkings (vgl. Hovius, 1962).
* In die geheel gesien is die konfessie en die kerkorde in mekaar veranker: in die konfessie (art 32) bely ons die daarstelling en bestaan van 'n kerkorde, asook sy twee soorte bepalinge wat op die voetspoor van Calvyn se onderskeidings later bekend geword het (Voetius) as die ius divinum positivum en die ius divinum permissivum. Eersgenoemde bepalinge is onveranderlik terwyl die tweede groep verander mag word aangesien as belangrikste norm hier die volgende geld: aedificatio ecclesiae suprema lex (vgl. Hovius, 1962:11; ook KO art 86). Op sy beurt spreek die kerkorde weer sy verankerdheid in die konfessie uit (vgl. KO artikels 53-55; 61 en 68).
* Beide dokumente — in lyn met die denke van Bucer en Calvyn — beskou die bediening van die Woord, sakramente en tug as die eintlike wyse waarvolgens Christus sy kerk regeer en versorg.
* Die konfessie en kerkorde handhaaf primêr die alleenheerskappy van Christus in sy kerk; albei aksentueer die funksie van die dienste waardeur Christus Hom laat bedien aan die kerk, en beide dokumente handhaaf dieselfde kerkbegrip waarvolgens tussen die plaaslike en algemene kerk onderskei word en waarin die plaaslike kerk die algemene kerk op ’n bepaalde plek is (vgl. Van der Walt, 1976:147; Hovius, 1962:20 e.v.; Du Plooy, 1982:332 e.v.). Ten opsigte van die gesag, die amp, die kerk en ook die kerklike tug stem die konfessie en die kerkorde ooreen.

6.4 Kritiek ten opsigte van die verband of gebrek aan ’n (volledige) verband tussen Skrif, konfessie en kerkorde

Die kritiekpunte sentreer hoofsaaklik rondom die volgende aangeleenthede; feitlik alle kritiek fokus min of meer rondom die ampte (dienste):
* Die verhouding tussen die charisma en diakonia;
* Vrae en twyfel oor die volledigheid van die reformasie van die ampte;
* Die afwesigheid van die vrou in ’n amp of ampte;

|13|

* Die verskil tussen die konfessie en kerkorde met betrekking tot die doktore-amp;
* Die posisie van die diakens in die kerkregering;
* Die meerdere vergaderinge volgens die gegewens in die kerkorde teenoor dié in die konfessie.

6.4.1 Die verhouding tussen die charisma en diakonia

* Die probleem/kritiek

Die kritiek teen die konfessie en kerkorde is hoofsaaklik dat hierdie twee dokumente nie genoeg skopus aan die charismata gee nie. In meer ekstreme kringe word selfs die bewering gemaak dat die aksent op die dienste ’n denkkonstruksie van ’n latere tyd as die Nuwe Testamentiese tyd sou wees, omdat die Nuwe Testament eintlik die aksent op die genadegawes sou lê.

* Perspektief

Ten einde goeie perspektief hierop te kry, moet die volgende feite verdiskonteer word:

** Calvyn het 1 Korintiërs 14: 40 (veral die woorde “alles” en “orde”) so verstaan dat die hele kerklike lewe met die geopenbaarde wil van God moet ooreenstem (vgl. Smit, 1983, hfst 2-4). Calvyn het verder in sy hermeneuse ten opsigte van die Skrifbeginsels oor kerkregering by die resultaat van die gegewens, naamlik soos dit in die Pastorale Briewe na vore tree, begin (Hovius, 1962:9). Hy het daarby rekening gehou met twee sake: daar is eerstens ’n voortgang in die openbarings-geskiedenis, en tweedens is die Skrif in sy onmiddellike en verwyderde verband met Skrifte vergelyk. Hiermee wou hy nie die Nuwe Testamentiese kerkbeeld imiteer nie, maar wel die grondlyne daaruit aflees (Runia, aangehaal by Versteeg, 1985:8).

** Die Calvinistiese Reformasie het sterk gereageer teen die anababtiste wat eensydig charismaties geneig was en afsydig teenoor n kerklike orde gestaan het.

** Wanneer die bevestigingsformuliere vir predikante, ouderlinge en diakens tesame met die Skrif, belydenis en kerkorde gelees word, blyk dit duidelik dat daar geen spanning tussen die dienste en die genadegawes was nie.

|14|

** Die liberale teologie, die opkoms van die Skrifkritiek en aksente wat dikwels in die eskatalogiese rigtings gele is, het in die negentiende en twintigste eeue nuwe momentum aan die charismata ten koste van die dienste gegee (vgl. bv. Schweitzer, Brunner, Kasemann e.a.) — asof die Joodse opset meer institusionalisties en dié by Paulus meer charismaties sou wees (vgl. Lekkerkerker, 1971:85 e.v.; Dick 1982:190).

** Ons moet in lyn met die denke van Küng (1967:210-212) teen wanopvattings ten opsigte van die charismata waarsku:

Teen die gedagte asof die genadegawes buitengewoon is, en tot enkelinge beperk is, stel Küng die gewoonheid daarvan en die feit dat dit aan elkeen in die kerk gegee is (1 Pt 4: 10; Ef 4: 7). Dit is ook nie bedoel as ’n begaafdheid as sodanig nie, maar as ’n diens ter opbou van mekaar.

Die genadegawes is iets wat volstrek eie is aan die kerk as liggaam van Christus; (vgl. Versteeg, 1985:21). Dit wys juis weg van die persoon na God as die Gewer daarvan sodat dit steeds God is wat deur sy Woord en Gees regeer. Versteeg (a.w.:23) wys daarop dat die hele gemeente charismaties is; dat die Ou Testamentiese kerk en ampte nog volgens die gedagte van representasie gewerk het, terwyl die Nuwe Testamentiese kerk en kerkregering op die beginsel van partisipasie berus: almal staan naas mekaar; die dienste funksioneer in die kerk, vorm deel van die kerk as liggaam van Christus en moet juis elke lid toerus en dien sodat al die lede volgens hul genadegawes sal dien tot opbou van die kerk (vgl. ook Roberts, 1963:130-160).

* Konklusie

Die konfessie en kerkorde sluit hierby aan, hoewel sterk aksent gelê word op die dienste as sodanig. Wie die konfessie en kerkorde teen die agtergrond van die Skrif as die enigste werklike bron vir die kerkregering lees, sal bemerk dat die dienste nooit as ’n doel op sigself gestel word nie. Inteendeel, dit beklemtoon juis die dienskarakter en die funksionaliteit daarvan ter wille van goeie orde en die opbou van die kerk (vgl. Versteeg, 1985:29; Kung, 1967:216, 444-445; Ridderbos, 1966:497 e.v.).

Dit lê in die aard van ’n kerkorde dat dit nie ’n definisie wil gee van die verhouding charisma-diakonia nie, maar eerder aandag gee aan die funksie en dienswerk van elke besondere diakonia. Daarmee ontken

|15|

die konfessie en kerkorde nie die feit dat die diens (amp) self ’n genadegawe is nie. Dit reël egter die feit dat die diens (amp) die genadegawe in funksie moet bring.

6.4.2 Onvolledige reformasie ten opsigte van die dienste?

* Kritiek

Daar is ook teoloë wat meen dat die reformasie t.o.v. die dienste onvolledig was. Dit is ’n gedagte wat nogal aan die vorige punt verwant is.

Dick (1982 en 1985) het sowel in sy proefskrif as in ’n artikel in n teologiese tydskrif ernstige kritiek op die reformasie gelewer en beweer onder meer die volgende:
* Die amp van die bedienaar van die Woord is oorgeaksentueer (1983:453);
* Die drieledige ampsisteem getuig enersyds van Roomse oorblyfsels en andersyds van ’n ontkenning van die Nuwe Testamentiese pluriforme ampsleer (1983:457; 1982:41 e.v.);
* Die reformatoriese kerkordes verraai steeds ’n skeiding tussen die geestelikes en die leke soos by Rome (1985:456);
* Die charismatiese grondslag van die dienste volgens die Dordtse kerkorde is nie in die Reformasie in berekening gebring nie (1985:458);
* Die Reformasie sou uit reaksie teen die anababtiste nie uitvoering aan die gesantskapskarakter in die kerkordes gegee het nie; buitendien sou die Dordtse sinode slegs “lokaal-partikuliere gesag” aan artikels 30-32 van die Nederlandse Geloofsbelydenis gegee het (vgl. Dick, 1985:460-461; ook Van Itterzon, 1971:70-72).

* Perspektief

Ek meen dat Dick (vgl. 1982:1-14; 28, 30, 61 ens.) veral hierin fouteer deurdat hy sy vertrekpunt ten opsigte van die kerkorde ekklesiologies in plaas van Christologies neem — asof die kerkorde ’n sine qua non is om die kerk te laat funksioneer en die kerkorde die wese van die kerk bepaal. Tweedens is die kerkorde kragtens sy aard

|16|

en bedoeling nie daarop gerig om ’n volledige kerkorganisasie weer te gee nie. Dick onderskei ook nie tussen die tydelike en blywende ampte soos die reformatore nie (vgl. Rossouw, 1984:230). Die Reformasie het ook onderskei tussen buitengewone en besondere dienste wat Christus en sy apostels ingestel en/of gegee het, en die gewone dienste/genadegawes wat in die gemeente onder leiding van die besondere dienste gefunksioneer het. Charismatiese funksies het nie almal in ’n bepaalde besondere amp ontwikkel nie, hoewel die dienste wat Christus ingestel het self genadegawes was en ook bedoel was om die genadegawes in die kerk te stimuleer tot diens (Versteeg, 1985). Daarom funksioneer die ampte volgens die konfessie en kerkorde ook juis in die kerk sodat die kerk in ’n relasie tot Christus mag lewe en mag dien as ’n koninklike priesterdom sonder ’n ampte/priesterstand daartussen.

Die kritiek van Dick en andere teen die Reformasie (vgl. Boon, 1965; Rossouw, 1984:6 e.v., 188 e.v.) is ’n ingewikkelde problematiek en een wat sekerlik ons ernstige aandag verdien. Dit is tegelyk nie iets wat ons nou kan bespreek nie, behalwe om ter oorweging enkele opmerkings daaroor te maak:
* Ons het reeds gesien dat die konfessionele en kerkordelike diensbegrip ministerieel is; dit wil Christus se regering in die kerk bedien;
* Hierin stem dit met die NuweTestamentiese diensbegrip ooreen. In die Nuwe Testament blyk dit dat die dienste nie vanuit die Ou Testament of nog minder vanuit die Griekse agtergrond verstaan moet word nie, maar vanuit Christus. Hy is die eintlike Regeerder, die vervulling van die Ou Testamentiese leitourgia (priesterdiens), en Hy het die dienste nuut gegee om Hom aan sy kerk te bedien (vgl. Versteeg, 1985:30);
* Daarom vervul alle dienste volgens die Nuwe Testamentiese diensbegrip in dié sin dieselfde funksie deurdat almal dienaars van Christus is — ’n feit wat as ’n sentrale gedagte deur die konfessie en kerkorde loop.
* Selfs indien daar dus meer dienste as die drie besondere dienste in die kerke sou funksioneer, bring dit geen wesenlike verandering mee nie.

|17|

6.4.3 Die afwesigheid van vroue in die ampte

In die laaste drie dekades (en sedert die begin van die tagtigerjare in die geledere van die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika) het die vraag na die posisie van die vrou in die kerk en veral die vraag of ’n vrou in die dienste van predikant, ouderling en/of diaken verkiesbaar sou wees volgens die Skrif, ’n aktuele en brandende vraag geword.

Ons kan uiteraard nie op die meriete van die saak in hierdie rede ingaan nie. Op grond van ons tema is dit egter belangrik om te stel dat Calvyn en die kerklike vergaderinge van die sestiende eeu tot en met die sinode van Dordrecht 1618/19 asook die Drie Formuliere van Eenheid die vrou se dienste buite en los van die besondere ampte beskou. Die Calvinistiese Reformasie is dit eens dat die vrou nie in die besondere diens van lering en regering mag dien nie (vgl. Calvyn se kommentaar op 1 Kor 14: 33-36). Calvyn het wel volgens sy kommentaar op Romeine 12: 8, sy institusie (IV,3,9) en sy kerkorde (Pont, 1981:30) bepaalde vroue as diakens laat dien, maar dan op ’n terrein van die diakonale diens wat met die versorging van siekes en armes te doen gehad het (vgl. ook besluit van Wesel 1568 (Pont, 1981:84-85). In die Dordtse kerkorde van 1618/19 en in die konfessie word vroue eksplisiet en implisiet van die besondere dienste uitgesluit.

Met behoud van die beginsel van die gesag van die Skrif en met behulp van ’n suiwere hermeneutiek en eksegese en openbarings-geskiedenis is dit ons plig om met die Skrif as bron opnuut die lig op die probleem rondom die diens van vroue in besondere dienste al dan nie te laat val — ’n terrein wat ’n studie op sigself is. Sodanige studie word tans deur deputate van die Sinode van 1985 onderneem (Acta 1985:325 e.v.).

6.4.4 Die doktore-amp; vier of drie dienste?

* Die probleem

Die konfessie noem in art 30 die drie dienste van bedienaar van die Woord, die ouderling en diaken wat die raad van die kerk vorm, terwyl die Dordtse kerkorde in art 2 van vier dienste melding maak waarby die sg. doktore-amp bygevoeg is. Die verskil het reeds tot ’n hele diskussie en heelwat publikasies gelei (vgl. Bavinck, 1899; Henderson, 1962; Dankbaar 1964/65:135 e.v. ens.).

|18|

Die probleem is op verskillende maniere hanteer en beantwoord:

Bavinck (1899) meen dat die konfessie kragtens sy aard nader aan die Skrif as die kerkorde bly en erken hiermee by implikasie dat Christus nie so ’n amp ingestel het nie. Daarenteen erken die kerkorde volgens Bavinck die werk van die doktore as ’n funksie wat uit ’n gawe van die Heilige Gees voortgevloei het, en omdat die kerk die noodsaak van so ’n diens aanvoel, is dit in die kerkorde opgeneem.

Dick (1982:124-125; 1985:460-461) gaan heeltemal ’n ander weg in sy verklaring op: hy meen die feit dat die kerkorde van vier dienste praat ’n bewys daarvan is dat die sinode van Dordrecht self nie so ernstig was oor die bindende krag van artikels 30-32 van die konfessie nie. Verder beweer hy dat ons vandag ook nie soveel erns hoef te maak met die belydenis oor die kerkregering volgens die konfessie nie omdat dit van fundamentalisme sou getuig. Die minder bindende krag van art 30-32 volgens Dick ten tye van die Sinode van Dordrecht 1618/19 is toe te skryf aan die teenwoordigheid van afgevaardigdes uit Engeland by wie ’n episkopaalse kerkregering-stelsel gegeld het. Derhalwe is hierdie artikels oor ’n ander kam as die res van die konfessie geskeer om nie een bepaalde wyse van kerkregering af te dwing nie.

Dankbaar (1964/65) toon noukeurig aan dat Calvyn se standpunte oor die doktore-amp wanneer dit uit sy institusie, kommentare en kerkorde beskou word, verwarrend is.

* Perspektief

Van ’t Spijker (1970:392) is tereg oortuig dat Bucer as die vader van die doktore-amp beskou kan word. Volgens hom moet die doktore die leer van die Skrif in die kerk en skole uitlê. Hulle het ook die opleiding van die predikante behartig (vgl. ook Rossouw, 1984:202).

Calvyn het volgens Dankbaar (1964/65:35) hierdie amp by Bucer oorgeneem. Soms laat hy die vierde amp weg as hy oor die ampte skryf; byvoorbeeld in die confessio Gallicana (Franse konfessie van 1559) “wat óf in geheel deur Calvyn opgestel is, óf deur hom nagesien is” (Rossouw, 1984:237; vgl. art 29 van die Franse konfessie; Schaff, 1877:376). Ander kere, soos blyk uit sy institusie (IV,1,1), sy kerkorde (art 2) en kommentaar op Efesiërs 4: 11 onderskei hy wel duidelik ’n vierde amp, naamlik die doktore.

|19|

Dit blyk wel dat Calvyn enersyds tussen herders (predikante) en leraars (doktore) onderskei, en tog andersyds weer ’n noue relasie tussen herders en leraar sien. Een persoon kan soms albei funksies verrig. Dit het ook gebeur dat sommige slegs doktore was en ander slegs predikante.

Verder onderskei Calvyn tussen doktore in engere sin en doktore in ruimere sin. Eersgenoemde is ’n diens wat direk te doen het met die teologiese opleiding van predikante, en daarom is dit ook ’n kerklike diens. Die tweede groep doktore het met die breë en meer algemene onderwys te doen, en hoewel hy dit ook as kerklike werk gesien het, het dit eerder ’n noue band met die owerheid gehad (vgl. Dankbaar, 1964/65:160).

Die kerkorde het Calvyn gevolg en daarom vind ons die vermelding en omskrywing van ’n vierde amp (KO art 2 en 18), bekend as die amp van professore.

Gewoonlik word die amp van professore in direkte verband met die amp van predikant gebring waarvolgens die professore ’n gedifferensieerde diens van lering verrig en steeds bedienaars van die Woord is. Die Nuwe Testamentiese begronding hiervoor vind ons veral in 2 Timoteus 2: 2 (vgl. Van der Linde, 1983:78).

Dankbaar (1964/65:162 e.v.) toon verder aan dat nadat die universiteit van Leiden in 1575 opgerig was, die kerke afgesien het van pogings om professore ’n kerklike ampte verleen. So het die opleiding van predikante gaandeweg uit die hande van die kerke gegaan. In die sewentiende eeu wou die professore nie onder direkte toesig van die kerke staan nie, hoewel hulle die formuliere onderteken het. Dit het weer daartoe gelei dat die kerke in vergaderinge die professore slegs adviserende stem gegee het, en self ook die eksaminering van die voornemende predikante kerklik hanteer het.

* Konklusie

In die lig van die prinsipiële en historiese perspektiewe lyk dit nie of daar ’n werklike spanning tussen die Skrif, konfessie en kerkorde rondom die doktore-amp bestaan nie.

Die feit dat die professore aan ons teologiese skole slegs adviserende stem het, en hul diens tog as ’n kerklike diens beskou word, hoef nie as ’n anomalie gesien te word nie. Die voorwaarde is egter dat die

|20|

kerke nie mag dink dat professore aan die teologiese skole nooit of onder geen omstandighede met volle keurstem na meerdere vergaderinge afgevaardig mag word nie.

6.4.5 Die posisie van diakens in die kerkregering

* Probleem

Die konfessie reken in artikel 30 die diakens tot die kerkraad terwyl die kerkorde die diakens nie as lede van die kerkraad beskou nie, behalwe in klein gemeentes (KO art 38).

Heelwat gereformeerde teoloë meen dat dit ’n uitgemaakte saak is dat die diakens wel tot die kerkraad gereken kan word (vgl. Hovius, 1962:19 en 33).

* Perspektief

In Nederland is die diakens sedert 1574 volgens die kerkordes wat uit daardie tyd dateer, nie as deel van die kerkraad beskou nie (Nauta, s.j.:1 e.v.). Daarenteen was die diakens in die Waalse en Franse kerke van die sestiende eeu wel deel van die kerkraad (Acts of Synod, 1981:506 e.v.).

Hoewel Polman (Onze Ned. Geloofsbelijdenis, IV, p.22-29) meen dat artikel 30 se bedoeling is dat die diakens as hulpouderlinge by die kerkraad by kom, lyk dit meer korrek om die verklaring vir die verskil tussen die konfessie en die kerkorde op ’n ander vlak te soek:

Ons ontmoet naamlik twee lyne in die sestiende-eeuse reformasie ten opsigte van die diakenamp. Die een lyn loop via Calvyn, a Lasco na die Nederlandse kerke en kerkordes; die ander lyn via die Franse en Waalse kerke. Calvyn, a Lasco en die Nederlandse kerkordes het nie die diakens as deel van die kerkraad beskou nie, en hierdie invloed vanaf Calvyn na Nederland was die dominante invloed op die kerkorde van Dordt 1618/19. Die Franse konfessie wat tegelyk die vernaamste bron vir die Nederlandse konfessie was, het wel die diakens as deel van die kerkraad beskou. Dus, die dominante faktor by die formulering van die konfessie het van Franse en Waalse kant gekom, en daarom noem artikel 30 van die konfessie ook die diakens as deel van die kerkraad (vgl. veral Acts of Synod, 1981:508 e.v.; Pont, 1981:49; Nauta, s.j.).

|21|

* Konklusie

Die besluit van die sinode van die GKSA 1945 verklaar die saak soos volg: die konfessie sou die beginsel reël dat daar drie ampte is wat ex officio in die kerk besig is, terwyl die kerkorde nader reël hoe die onderskeie dienste in die kerk hul diens moet verrig. Hiervolgens regeer ouderlinge en diakens onderskeidelik elk op hul eie terrein, maar nie gesamentlik oor dit wat eie is aan die onderskeie dienste nie.

6.4.6 Leer die konfessie die funksionering van meerdere vergaderinge?

Op grond van die feit dat in die konfessie (artikel 30) slegs van ’n kerkraad melding gemaak word en nêrens van meerdere vergaderinge nie, soos wat die kerkorde dit byvoorbeeld in artikel 29 doen, word kritiek op die bestaansreg van meerdere vergaderinge gelewer (Hovius, 1962:17).

Hovius toon aan dat die beginsel van meerdere vergaderinge wel in artikel 32 van die konfessie opgesluit lê waar daar sprake is van die “regeerders van kerk”. Hy beweer dat volgens die oorspronklike Franse teks van die konfessie hier in die meervoud van “kerke” gepraat word, en so dui op ’n vergadering van meer kerke. Wanneer die Franse konfessie van 1559 hiermee saamgelees word, blyk dit ook dat hulle wou onderskei tussen meerdere vergaderinge aan die een kant en ’n plaaslike kerkraadsvergadering aan die ander kant (vgl. ook artikel 32 van confessio Gallicana waar in ’n voetnoot ’n verwysing na Hand 15 gemaak word; verder is daar onteenseglik ’n noue verband en ooreenkoms tussen die Franse konfessie, art 32 en 33 en die Nederlandse konfessie, art 32).

Die bestaan van ’n kerkraad asook die funksionering van meerdere vergaderinge word in die belydenis bely en in die kerkorde nader uitgewerk en gereël.

Wanneer die kerkorde egter ten opsigte van meerdere vergaderinge teen die agtergrond van die Skrif en konfessie gelees word, word dit duidelik dat gewaak moet word teen die volgende tendense:
- om meerdere vergaderinge teenoor of langs die plaaslike kerk te stel;

|22|

- om ’n sinode as kerk te beskou;
- om sinodes (of meerdere vergaderinge) te ooraksentueer. So ’n toedrag van sake het al in Nederland die versugting meegebring wat geformuleer is as: “wij vergaderen tot wij tot de vaderen vergaderd worden” (Pont in TKK II, s.j.:174).

Die Skrif, konfessie en kerkorde laat blyk eenstemmig dat sowel ’n kerkraad as meerdere vergadering diensbaar moet wees aan die regering van Christus deur sy Woord en Gees, en dat die meerdere vergaderinge bloot funksioneel en utilitêr is ten opsigte van die regering, versorging en opbou van die kerk as die liggaam van Christus.