In die algemeen kan gestel word dat die boeke van die Nuwe Testament wat ons ná die Evangelies vind, getrou gebly het aan die visie en die riglyne wat Christus self ten opsigte van die vrou gegee het. Ons deel die groot hoeveelheid materiaal onder die volgende hoofde in: (1) beginseluitsprake, (2) die betekenis van hoofskap, gesag en onderworpenheid, (3) die vrou in verhouding tot die man in die algemeen, (4) die (getroude vrou in verhouding tot haar eie man, en (5) die vrou in die kerklike gemeenskap.
Die twee Skrifgedeeltes wat hier ons aandag vra, is Handelinge 2: 15-21 en Galasiërs 3: 26-29.
In die eerste gedeelte word die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster beskrywe. Die klem lê hier in ’n besondere mate op die samebindende, verenigende krag van van die Gees. In die eerste plek word Hy op “alle mense” uitgestort. Die lang lys van mense uit ’n groot verskeidenheid volkere wat daar teenwoordig was, maak dit vir ons duidelik dat rasseverskille in die nuwe bedeling nie van belang is nie. In die tweede plek word Joël se profesie ook ten opsigte van die geslagte bevestig: die Heilige Gees word op “seuns en dogters” uitgestort, sodat hulle sal profeteer. Ook geslagtelike verskille is nie in die nuwe gemeenskap van gelowiges van belang nie In die derde plek word sowel oues as jonges by die seën betrek, sodat ook rang nie meer belangrik is nie. Vierdens ontvang selfs dienaars en dienaresse die Gees, sodat ook klasverskille vir die Christene onbelangrik word.
Verskille as gevolg van geboorte, besittings, rang en geslag word betekenisloos in die nuwe gemeenskap van die koninkryk van God. Hierdie gedagte dat God uit ’n groot
|23|
verskeidenheid ’n nuwe eenheid saamstel, vind ons ook in Galasiërs 3: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een” (v. 28).
Ons vind in hierdie vers presies dieselfde gedagte as in Handelinge 2: geestelike verbondenheid is belangriker as etniese en rasseverskille. Die gelowiges se lojaliteit en hoogste voorkeur het vanaf hulle Joodsheid of Grieksheid na die eenheid wat hulle in Christus het, verskuif. Natuurlik sal hulle Jode en Grieke bly, maar dit is nie belangrik ten opsigte van hulle (gelyke) deelname aan die kerklike lewe nie. En omdat rasseverskille in die kerk nie ter sake is nie is rassediskriminasie sondig. Dit behoort die eerste samelewingsverband te wees waar so ’n sonde uitgeroei word! In die twede plek is klasseverskille (vry mense en slawe) ook nie meer belangrik nie. En derdens — baie belangrik vir ons ondersoek — kry geestelike eenheid ook voorrang bo man- of vrouwees.
Hierdie twee Skrifgedeeltes impliseer dus dat ware eenheid nie bereik kan word sonder gelyke geleenthede tot deelname in die kerklike lewe vir almal nie — afgesien van ras, klas of geslag. Of anders gestel: Christelike eenheid kan — en moet — bereik word ten spyte van verskille in ras, klas of geslag. Rasse-, klasse- of geslagsdiskriminasie is ’n sondige ontkenning van die eenheid van Christus se kerk.
In hierdie twee Skrifgedeeltes vind ons kristalheldere beginsels, sodat leiding vir die praktyk in hierdie normatiewe uitsprake, en nie uit allerlei uitsonderingsgevalle nie, gevind moet word.
Aangesien hoofskap gewoonlik in die geskiedenis as gesag en gevolglike onderworpenheid vir die gesagsonderdaan (die vrou) geïnterpreteer is, is dit belangrik om eers hieroor duidelikheid te bereik. Dan sal ons hierna byvoorbeeld baie korter oor verskillende Skrifgedeeltes kan handel.
Die man die hoof?
Hoofskap word soms in die Bybel aangedui om die meerdere teenoor die mindere aan te dui (bv. Christus as Hoof van sy kerk). Ander kere dui dit op gelyke status (byvoorbeeld God as die Hoof van Christus). En in nog andere gevalle is die hoof selfs die mindere (byvoorbeeld wanneer Christus Hom aan Pontius Pilatus, die hoof van die Romeinse bewind, onderwerp).
Die groot vraag is dus of die Bybel iets oor status wil sê wanneer dit die man die hoof van die vrou noem. As dit nie die geval is nie, kan hoofskap en gelykheid beide aanvaar word. Net so hoef gelykheid en onderdanigheid in die huwelik mekaar dan nie te weerspreek nie.
’n Manier om meer duidelikheid te vind kan wees om die
verskillende betekenisse van die oorspronklike Griekse woord
kephale na te gaan. Ons vind hoofsaaklik vier, waarvan
veral die laaste drie vir ons belangrik is, te wete “hoof” as
* aanduiding van die hele mens,
|24|
* aanduiding van die oorsprong, begin of
groeipunt,
* aanduiding van ’n verenigende beginsel en
* aanduiding van leierskap en gesag.
Gewoonlik word die uitdrukking dat die man die hoof van die vrou is, alleen in hierdie laaste sin geïnterpreteer. Analoë voorbeelde hiervan sal dan die hoof van ’n skool, die hoof(man) van ’n stam en die hoof (as rigtingbepaler vir die liggaam) wees.
Die enigste geval waar die hoof as “bron” verstaan is, is as bron van intelligensie. Volgens hierdie interpretasie impliseer dit dan dat die man die hoof is omdat hy die redelike is en die vrou die emosionele. Hierdie sienswyse is egter die resultaat van onbybelse stereotipering. In die Bybel word die hoof eerder as bron van lewe gesien en nooit (soos by ons Westerlinge) as bron van verstand nie. By die Oosterling was — merkwaardig — die hart die bron van denke en rede!
Die groot vrag is dus wat die korrekte interpretasie van ’n teks soos 1 Korintiërs 11: 3 is: “Ek wil egter hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus”. Met so ’n indrukwekkende dogmatiese regverdiging kan die hoofskap van die man oor die vrou seker nie as ’n tydgebonde uitspraak net vir ’n bepaalde groep mense afgemaak word nie. Maar die belangrikste vraag is of Paulus daarmee bedoel het wat die Christelike tradisie daarvan gemaak het.
Dit is interessant dat die denkbeeld van die man as hoof van die vrou nie in sy tyd gangbaar was nie en hierdie metafoor dus iets oorspronkliks van hom moes gewees het.
Kom ons kyk dus watter van die drie betekenisse van “hoof” (bron, eenheid of leierskap) Paulus moontlik in gedagte kon gehad het. Ons gaan eers na hoe die drie betekenisse in die huwelik kan inpas, om dan die uitslag aan twee tekste, waar daar van hoofskap sprake is, te toets.
Eerste betekenis van hoof
In die betekenis van fontein, bron, oorsprong of groeipunt pas dit pragtig in by die huwelik. Christus as Hoof moet hier ook aandui wat die man se hoofskap moet beteken. En telkens as Christus in die Skrif aan mans as ’n voorbeeld voorgehou word om na te volg, is dit nie sy krag, gesag en heerskappy nie maar sy nederigheid, selfverloëning en diens. In dié verband beteken Christus se hoofdkap (in die betrokke tekste in Korintiërs, Efesiërs en Kolossense) altyd bron van lewe, groei en diens (vgl. byvoorbeeld Ef. 5: 23, 25 en 29). En ’n mens sou dit kon saamvat deur te sê dat Christus die oorsprong van liefde is.
Dit is egter belangrik dat daarop gelet word dat die parallel Christus-kerk en man-vrou nie oorspan word nie. Christus se Hoofskap oor die kerk is onbeperk, dié van die man oor die vrou beperk en gekwalifiseer. (Die man kan ook nooit sy vrou verlos soos Christus die kerk nie). Hier word metafories alleen een spesifieke faset van Christus se hoofskap (sy dienende, lewegewende en voedende liefde) as voorbeeld vir die man in sy verhouding tot sy vrou gestel.
Die Christelike man vervul dus sy rol as hoof die beste wanneer hy sy vrou op die
|25|
onbaatsugtigste wyse liefhet en dien. Hoofskap beteken dat die man die leiding in selfoorgawe moet neem. En, in teenstelling met wat baie vandag glo, is die huwelik nie daar om vir jouself iets te kry nie maar om (vir jou huweliksmaat) te gee! Anders as die seksisme (= oorbeklemtoning van geslagtelikheid) en feminisme (= oorbeklemtoning van die vroulike) praat die Bybel nie van die regte van man en vrou nie maar hulle verantwoordelikhede. Dit beteken nie dat die man sy vrou (of die vrou haar man) soos ’n vloermat mag behandel nie; inteendeel, as hoof is hy die bron, groeipunt en stimulus wat haar in ’n klimaat van liefde tot volle menswees laat ontwikkel.
Tweede betekenis van hoof
Ook die gedagte van hoofskap as ’n verenigende beginsel is nie vreemd aan die huwelik nie. Sny iemand se nek af, en dieselfde lot tref beide die hoof en die liggaam. (As ’n man dus sy hoofskap misbruik, getuig dit van uiterste onnoselheid, omdat hy homself op dié wyse benadeel!) Met hierdie metafoor of beeldspraak van hoof word dus nabyheid, eenheid en wedersydse afhanklikheid uitgedruk (vgl. byvoorbeeld 1 Kor. 11: 11-12). Die belangrike gedagte van man en vrou as ’n tweede-eenheid, van een vlees wees, wat ons in Genesis al teëgekom het, kom hier dus weer na vore (vgl. Ef. 5: 31). En dit is belangrik om te onthou dat “een vlees” nie bloot fisiek-bioties verstaan moet word nie. Die huwelik is onder andere ook ’n psigiese, opvoedkundige, ekonomiese, juridiese, estetiese en godsdienstige eenheid! Baie moderne mense glo dat ’n huwelik nie kan slaag as die man die hoof is nie. Daarteenoor is die Bybelse visie dat die beginsel van hoofskap in werklikheid die huwelikseenheid beskerm en versterk.
Derde betekenis van hoof
Soos Paulus met die begrip “hoof” behalwe selfopofferende liefde en hegte harmonie in die derde plek ook die gedagte van gesagdraende leierskap wou oordra? Tradisioneel was dit die enigste betekenis wat ons aan die woord geheg het, omdat vir ons hoof en in bevel wees onafskeidelik is. In Hebreeus kan die woord rosh (= hoof) inderdaad in die figuurlike betekenis van “hoof oor” gebruik word (byvoorbeeld hoof oor ’n gesin), hoewel die idee dikwels eerder dié van voorrang as van kontrolerende gesag is. Die Jood Paulus sou seker wel van hierdie betekenis bewus gewees het, en ook sy (onder andere Joodse) lesers sou nie moeite hê om die begrip “hoof” met leierskap te verbind nie.
Baie eksegete glo dan ook vandag nog dat hoof uitsluitlik as gesagdraende leier verstaan moet word. Die huwelik is volgens hulle hiërargies van karakter, dit wil sê die vrou is aan die man onderworpe en, in haar onderdanigheid aan hom, gehoorsaamheid verskuldig.
Die agtergronde van hierdie verkeerde opvatting van hoofskap kan die volgende wees:
(1) Die straf by die sondeval (heerskappy van die man oor die vrou) word as norm beskou. Hierdie straf beteken (soos ons reeds aangetoon het) egter nie dat die man oor die vrou behoort te heers of dat vroue in pyn moet lewe skenk nie. Die wanorde van die sondeval mag nie die orde word wat ons wil handhaaf nie!
(2) Die eiesoortigheid van die huwelik onder die menslike samelewingsverbande word nie raakgesien nie. Die huwelik is nie ’n leër wat ‘’n bevelvoerder, ’n maatskappy
|26|
wat ’n direkteur, ’n fabriek wat ’n baas of ’n staat wat ’n regeerder het nie.
(3) Daar word nie duidelik onderskei tussen die persoon en die amp van die man nie. (’n Huwelik bestaan, anders as al die ander samelewingsverbande, net uit twee lede!). In sy amp as hoof moet die man toesien dat die norme vir die huwelik uitgeleef word. Hy is egter nie self die norm nie!
Hoe die man hoof is
Maar wat is dan die regte visie op die hoofskap van die man? Of het dit alleen die eerste twee betekenisse (van oorsprong en eenheidsbeginsel)? Voorlopig sien ek dit soos volg: Hoofskap dui in die huwelik op ’n amp (behalwe man is die man ook hoof!) En amp beteken verantwoordelikheid. Die man is as ampsdraer aan God verantwoording verskuldig of die huwelik aan God se norme daarvoor beantwoord. Die man moet toesien dat hy en sy vrou se huwelik volgens die beginsel van wedersydse trou aan mekaar in die regte rigting groei en ontwikkel. In sy amp as hoof moet hy sy vrou — en homself as man! — volgens God se maatstaf vir die huwelik na die ware doel van die huwelik lei. (Dit beteken natuurlik nie dat hy oor allerlei klein besonderhede moet besluit nie!) Om hierdie taak te kan uitvoer sal dit ook nodig wees dat die man as hoof namens beide egteliede as die segsman of verteenwoordiger van die huwelik na buite optree.
Dit is interessant om terloops die aandag daarop te vestig dat die man wel die hoof in die huwelik genoem word, maar nêrens in die Bybel die hoof van die gesin nie!
Saamgevat beteken hoof dus oorsprong, eenheid en verantwoordelikheid. U besef egter dat hiermee alles nog nie glashelder en duidelik is nie. Vandaar die volgende vraag:
Is die man (dan nie) die gesagsdraer (nie)?
Hier moet ons onthou wat ons alreeds by Christus self oor gesag geleer het. Vir Hom beteken gesag nie dat die een Christen grootmeneer oor die ander speel nie, maar presies die teenoorgestelde, naamlik nederige diens (vgl. Luk. 22: 24-27). Die heidense manier van gesag uitoefen, is dus vir sy dissipels — manlik en vroulik — verbode.
Die woord gesag (exousia), wat meer as honderd keer in die Nuwe Testament voorkom, word, merkwaardig, uiters selde (net twee maal) vir die huweliksverhouding gebruik. Die eerste geval is 1 Korintiërs 11: 10, waar van die vrou verwag word om ’n teken van die man se gesag oor haar kop te hê ter wille van die engele. Hierdie Skrifgedeeltes is so moeilik om te verklaar dat dit alle kommentatore laat kleitrap, sodat ons dit ook liewer daar laat.
Die tweede teks is 1 Korintiërs 7: 4, waar staan dat nie die vrou nie maar die man gesag oor haar eie liggaam het. Dieselfde vers vervolg egter dat ook die man nie gesag oor sy eie liggaam het nie maar die vrou. Aangesien gesag hier wederkerig is, kan hierdie vers nie gebruik word om te suggereer dat die man ’n soort gesag oor sy vrou het wat sy vrou nie in dieselfde mate oor hom sal hê nie. Die belang van hierdie teks vir ’n Bybelse perspektief op die verhouding tussen man en vrou kan moeilik oorskat word. Anders as in die andere menslike samelewingsverbande is gesag in die huwelik nie ’n eenrigtinggesag nie maar ’n tweerigtinggesag!
|27|
Dit beteken dat man en vrou in die huwelik gesag het. Maar wat dan van ’n Skrifgedeelte soos 1 Timoteus 2 vers 12, waar gesê word dat vroue nie oor hulle eie man (of mans in die algemeen? — die Grieks het net een woord (aner) vir die getroude man en man in die algemeen, soos wat dit net een woord (gune) vir getroude vrou en vrou in die algemeen het) gesag mag uitoefen nie?
Ongelukkig word nie die normale woord vir gesag (exousia) nie maar die min gebruikte werkwoord authentein hier gebruik. Dit dui blykbaar op wederregtelike toe-eiening van gesag. Paulus verwerp hier dus heel waarskynlik ’n spesifieke soort dominerende en teësprekende gesag wat ’n vrou nie oor die man (of haar eie man) mag hê nie.
Ons mag verder ook nie die teenoorgestelde hieruit aflei nie, dit wil sê, as Paulus sê die vrou mag nie gesag oor die man hê nie, is dit nie vanselfsprekend geïmpliseer dat die man wel gesag oor die vrou het nie. Dit sou uiters swak logika wees om hieruit te wil aflei dat die dominerende gesag wat Paulus hier vir vroue oor hulle mans afkeur, wel vir mans oor hulle vroue aanvaarbaar is!
As ons in gedagte hou hoe algemeen aanvaar word dat die man die gesagsdraer in die huwelik is (en sommige glo selfs ook in die kerk en in die breë samelewing), tref dit ons as ’n skok om te verneem dat daarvoor klaarblyklik geen grond in die Woord van God bestaan nie.
Die vrou die onderdanige
Iemand sou kon sê: Al beteken die Bybelse begrip “hoof” nie “baas” nie, en al is gesag nie die voorreg van die man alleen nie, word daar tog uitdruklik vir die vrou gesê dat sy aan haar man onderdanig moet wees.
Nadat ons dus na die begrippe “hoof” en “gesag” gekyk het, moet ons ook nog aan die woord onderdanigheid aandag gee.
In 1 Korintiërs 14 vers 34 en 1 Timoteus 2 vers 11 word slegs gesê dat die vrou onderdanig moet wees, maar nie uitdruklik aan die man soos in Efesiërs 5 vers 22, Kolossense 3 vers 18 en 1 Petrus 3 vers 1 wel die geval is nie. Wat beteken onderdanigheid presies?
Om die vraag te kan beantwoord sal ons in gedagte moet hou nie net dat gesag nie maar ook onderdanigheid in die verskillende menslike verband verskillend is. Die Bybel praat byvoorbeeld van onderdanigheid in geval van die staat (Rom. 13: 1; Tit. 3: 1; 1 Petr. 2: 13), van gehoorsaamheid van slawe (Ef. 6: 5; Kol. 3: 22; 1 Tim. 6: 1) en kinders (Luk. 2: 51; Ef. 6: 1-3; 1 Tim. 3: 4 en Tit. 1: 6), leer onderdanigheid aan ouderlinge en kerkleiers (1 Kor. 6: 16; 1 Petr. 5: 5 en Hebr. 13: 19) asook van vroue aan hulle eie mans (Ef. 5: 22; Kol. 3: 18; Tit. 6: 5; 1 Petr. 3: 1, 5) — nie van alle vroue aan alle mans nie. Maar al word ook dieselfde woord (onderdanig) gebruik, beteken dit tog nie dat dit in al die gevalle dieselfde is nie. ’n Man se verhouding tot sy eie vrou is tog nie dieselfde as dié tussen hom en sy slaaf of sy kind nie! (Die verskil blyk byvoorbeeld al daarin dat van vroue wel onderdanigheid gevra word maar nooit gehoorsaamheid soos in die geval van slawe en kinders nie.)
Verder moet ons ook die aandag daarop vestig dat die Bybel in al hierdie gevalle grense stel. Gehoorsaamheid in die geval van die staat mag nie ongehoorsaamheid aan God
|28|
beteken nie (Hand. 4: 9). Ook die gesag van eienaars oor hulle slawe was nie absoluut nie (vgl. verskillende tekste in Eksodus en Deuteronomium). Ook ouers moet hulle kinders nie so behandel dat hulle opstandig of moedeloos word nie (Ef. 6: 4; Kol. 3: 21).
’n Mens moet ook versigtig wees om nie te maklik parallelle tussen slawerny en die huwelik te trek nie. Slawerny is nie ’n samelewingsverband nie maar ’n sondige gebruik uit ’n bepaalde tyd. Die huwelik is ’n Goddelike, permanente, menslike samelewingsverband. Dit is dus foutief om te redeneer dat, aangesien slawerny sonde was, hoofskap van die man in die huwelik ook verkeerd is. (Of om die raad wat Paulus in 1 Korintiërs 7: 21 aan slawe gee: “Maar as jy kans kry om vry te word, maak gerus daarvan gebruik”, ook by vroue aan te beveel!)
Maar wat beteken onderdanigheid nou in die huwelik spesifiek? As ek die Skrif reg verstaan, is dit (1) altyd ’n vrywillige aksie van bereidheid tot samewerking; (2) ’n wederkerige aksie van vrou en man (vgl. weer Ef. 5: 21) en (3) iets wat eerder op ’n houding as op ’n bepaalde funksie dui. (Die vrou het nie ’n spesifieke rol, naamlik die van onderhorige nie — die man moet ook aan die vrou onderdanig wees.)
Die feit dat Paulus alleen van slawe en kinders maar nie van vroue gehoorsaamheid verag nie, het ons aandag al daarop gevestig dat die betekenis van die woord onderdanigheid nie dieselfde as gehoorsaamheid is nie. Om byvoorbeeld wedersyds aan mekaar gehoorsaam te wees is ’n logiese onsinnigheid! “Gehoorsaamheid” hoort by die taal van gesag; onderdanigheid egter nie — in ooreenstemming met wat ons reeds gevind het, naamlik dat daar nie van eenrigtinggesag in die huwelik sprake is nie. Behalwe in 1 Korintiërs 7: 4 (waar dit oor wedersydse gesag handel), word die woord gesag nêrens in die Nuwe Testament gebruik om enige aspek van die verhouding man-vrou te beskrywe nie. Mans ontvang nêrens die bevel om hulle vrou aan hulle gesag te onderwerp nie (tewens geen gesagsdraer in die Nuwe Testament kry die opdrag nie) of vroue om hulle aan die gesag van hulle mans te onderwerp nie. Onderdanigheid is nie onderworpenheid nie!
Onderdanigheid van die vrou aan die man is iets totaal anders as blote verpligte gehoorsaamheid aan wette, aanvaarding van ’n regering of beantwoording aan gesag. Die beginsel van wederkerige onderdanigheid is so radikaal en omvattend dat verpligte gehoorsaamheid aan gesag nie naastenby op dieselfde vlak daarmee gestel kan word nie. In onderdanigheid gee ’n mens jou hele wese in elke dimensie van die huwelikslewe. Dit is ’n lewenshouding van spontane, vreugdevolle diens aan die ander.
Manne en vroue is nie aan mekaar onderdanig omdat hulle moet nie (= gehoorsaamheid) maar omdat hulle wil (= diensbaarheid). Hulle is onderdanig nie omdat hulle onder gesag buig nie maar omdat hulle liefde met liefde beantwoord.
Wat Paulus hier bied, is duidelik nie die gangbare wêreldse definisies van onderdanigheid nie. Enkele voorbeelde van sulke valse onderdanigheid is die volgende: (1) berekenende onderdanigheid bloot op uiteindelike voordeel vir jouself gerig; (2) minderwaardigheidsonderdanigheid van die verloorder wat sy selfagting kwyt is; (3) vredeliewendheidsonderdanigheid, wat, ter wille van vrede, maar buig; (4) berustingsonderdanigheid, waarin jy in òf gelatenheid òf opstandigheid die onvermydelike moet aanvaar.
|29|
Die belangrikste nog is dat, deurdat man en vrou aan mekaar onderdanig is, hulle so aan die norm van die huwelik onderdanig is. Dit is nog veel belangriker as die blote verhouding tussen die twee individue, want deur dit te doen is die mens gehoorsaam aan die taak waartoe God hom in die huwelik roep.
In die huwelik is daar niks wat van die een gevra word wat nie ook van die ander vereis word nie; gesag oor mekaar (1 Kor. 7: 4), onderdanigheid aan mekaar (Ef. 5: 21) en eerbied vir mekaar (1 Petr. 3: 6, 7).
Die vrou die swakkere
Nog ’n laatste vraag: Dui die uitdrukking “swakkere geslag” vir die vrou (1 Petr. 3: 7) nie dalk op minderwaardigheid of onderdanigheid nie?
Die woord swak dui moontlik op haar beperkter fisieke krag, sodat haar man haar in ag moet neem en beskerm. Die waarskynlikste is egter dat die swak geregtelike posisie wat die vrou destyds in vergelyking met die man gehad het (waarvan ons reeds heelwat verneem het), hier bedoel word. Mans kon as gevolg daarvan hulle vrouens maklik uitbuit. ’n Christelike eggenoot moet egter nie sy vrou in terme van haar ongelyke wetlike posisie beskou nie maar eerder in die lig van haar gelyke geestelike status voor God.
“Swakkere geslag” dui dus hoegenaamd nie op inherente (intellektuele, morele ens.) minderwaardigheid by die vrou nie, maar op die uitwendige omstandighede van destyds (soos byvoorbeeld weinig onderwysgeleenthede vir vroue). En ook al bedoel “swakker” hier fisiek swakker, impliseer dit nog geensins minderwaardigheid nie!
Gevolgtrekkings
Ons het nou lank oor hoofskap, gesag en onderdanigheid gesels. Ek probeer dus enkele voorlopige gevolgtrekkings — al klink hulle effens negatief — maak.
Hoofskap mag nie in terme van gesag/regering/heerskappy geïnterpreteer word nie. Ek kan duidelik die elemente van (1) liefde en offervaardigheid en (2) ware harmoniese eenheid in die begrip van hoofskap sien, maar ek twyfel nog of die gedagte van gesag daarin vervat is. In die lig van die Skrif lyk dit vir my eerder of gesag in die huwelik altyd wederkerig is. (Die vrou het gesag oor die man en die man oor die vrou.)
Onderdanigheid mag nie in terme van ’n funksie, naamlik die van gehoorsaamheid, geïnterpreteer word nie. Dit dui eerder op ’n bepaalde houding wat beide vrou en man moet openbaar. Uit onderdanigheid mag dus ook geen minderwaardigheid afgelei word nie. (As man en vrou aan mekaar onderdanig moet wees, wie is dan die minderwaardige?) Die begrip minder- of meerwaardigheid pas hoegenaamd nie in die huwelik nie! Man en vrou is gelyk by die skepping (Gen. 1: 27) en ook gelyk in die verlossing (Gal. 3: 28).
Ook al kon ons nie finale duidelikheid kry nie, was ons worsteling met die Skrif nie tevergeefs nie. Al weet ons nog nie presies wat die antwoord is nie, sal ons ten minste in die toekoms nie as vanselfsprekend aanvaar dat hoofskap (in die geval van die man in die huwelik) gesag, meerderwaardigheid en die reg tot onderwerping beteken nie!
|30|
Twee Skrifgedeeltes van nader bekyk
Kom ons probeer nou teen die agtergrond van die bietjie lig wat ons wel kon vind, twee Skrifgedeeltes bekyk, naamlik 1 Korintiërs 11 vers 3 e.v. en Efesiërs 5 vers 21 e.v.
Van 1 Korintiërs 11 vers 3 e.v. kan ons kortliks die volgende sê:
(1) Die woord onderdanigheid kom glad nie hierin voor nie.
(2) Die feit dat Paulus in vers 8 sê dat die man nie uit die vrou geneem is nie maar die vrou uit die man, het ons alreeds vroeër gesien, beteken nie dat die man meerderwaardig is nie. Verder vind ons hier veel eerder die gedagte van “begin” of “oorsprong” as die idee van “gesag” of “heerskappy.”
(3) Ons het geen probleme met die feit dat Christus se hoofskap in vers 3 gesag oor die kerk impliseer nie. Daar is egter niks in die Bybel wat ons verhoed om sy hoofskap ook as “bron” te verstaan nie (vgl. byvoorbeeld Kolossense 1: 18).
(4) Die gedagte van bron/oorsprong maak ook die sinsnede in vers 3: “God die hoof van Christus”, duideliker. Dan is God de Vader, die bron waaruit die Seun uitgaan, en sit ons nie met die probleem dat Christus aan die Vader ondergeskik gemaak word en ons in die kettery van die subordinatianisme laat beland nie!
(5) As Paulus se doel hier werklik was om heerskappy en ondergeskiktheid aan te dui, sou hy dalk liewer die verhouding tussen meester en slaaf as voorbeeld kon gebruik het.
(6) Afgesien van hoof as “oorsprong” sou die betekenis van “eenheid” ook inpas. Dit sou ons geen probleme met die verhouding tussen God en Christus en Christus en die kerk verskaf nie.
(7) Ook omdat Paulus vroeër in sy brief (die reeds genoemde 1 Kor. 7: 4) nie van gesag as iets eensydigs net van die kant van die man gepraat het nie, sal ’n mens nie verwag dat hy “hoof” later wel in die betekenis van heerskappy/onderdanigheid sal gebruik nie.
In Efesiërs 5 vers 21-25 word saam met die hoofskap van die man ook die onderdanigheid van die vrou genoem. Daarom is dit maklik om aan hoof hier die betekenis van heersende leierskap te gee. Die volgende moet egter opgemerk word:
(1) ’n Parallel word getrek tussen Christus as hoof van die kerk en die man as hoof van die vrou. Christus se hoofskap oor die kerk beteken egter eenvoudig dat Hy die kerk so liefgehad het dat Hy sy lewe daarvoor gegee het (v. 25). Dit is dus logies om die hoofskap van die man oor die vrou ook net so te verstaan.
(2) Ons moet verder in gedagte hou dat vers 24 in die oorspronklike Grieks met ’n sterk maar (alla) begin en nie met ’n “daarom/dus/gevolglik” nie. Die gedagtegang loop dus ongeveer soos volg: Die man moet sy vrou liefhê, maar (soos die kerk aan Christus onderdanig is) moet die vrou nie dink dat dit haar in ’n besondere posisie
|31|
sonder verantwoordelikhede plaas nie en van haar kan moet sy ook aan hom onderdanig wees. As ons dit so lees, sluit hierdie vers pragtig aan by die vroeëre vers 21, waar van beide man en vrou verwag word om aan mekaar onderdanig te wees.
(3) Ook uit vers 32, waar staan dat die vrou eerbied aan haar man moet betoon, kan ons nie veel aflei nie. Die man mag ook nie sonder eerbied of agting vir sy vrou wees nie! (Vgl. 1 Petr. 3: 7b).
Tot sover die kwessie van hoofskap, gesag en onderdanigheid. Ons kom nou by ons volgende hoofpunt — waarvan ons intussen al heelwat te wete gekom het! — naamlik die vrou in verhouding tot die man in die algemeen. (Daarna volg nog twee punte: die vrou in verhouding tot haar eie man en die vrou in die kerklike lewe.)
Wat Paulus van die verhouding tussen Christene in die algemeen te sê het, sal sekerlik ook op die verhouding tussen mans en vroue (getroud en ongetroud) in die algemeen van toepassing wees. Paulus gee, afgesien van wat hy spesifiek vir die getroude man en vrou te sê het, weinig riglyne oor die verhouding tussen man en vrou as sodanig. Die basiese gedagte van verskeidenheid (uniekheid van man en vrou in hulle geslagtelikheid) én terselfdertyd eenheid (aanvullendheid van die geslagte) moet ook hier vasgehou word. Paulus beklemtoon veral die eenheid in Christus van man en vrou.
Die tekste
Die twaalf plekke waar Paulus oor man en vrou handel, kan ons soos volg indeel. Ses van hulle (Rom. 7: 2; 1 Kor. 7; Ef. 5: 21-33; Kol. 3: 18-19; 1 Tess. [?] 14: 34-35 en 1 Tim. 2: 8-15) het spesifiek die huweliksverhouding tussen man en vrou in gedagte. Drie ander (1 Kor. 11: 3-16; 14: 34-35 en 1 Tim. 2: 8-15) staan in die konteks van vroue se gedrag in die kerk, maar dit is nie duidelik (as gevolg van die vroeër genoemde feit dat die Grieks nie verskillende woorde het om die Engels “woman/wife” en “man/husband” weer te gee nie en dit dus uit die verband afgelei moet word) of dit oor man en vrou in die algemeen of getroude man en vrou handel nie. Van die oorblywende drie gedeeltes (Gal. 3: 28; 1 Tim. 5: 2-3 en Rom. 1: 26-27) het ons die Galasiërse teks reeds behandel. Die teks uit Timoteus handel oor hoe ouers en jonger vroue behandel moet word, en die Romeinse teks praat van natuurlike verhoudings tussen persone van verskillende geslag en onnatuurlike verhoudings tussen persone van dieselfde geslag. Wat Paulus dus in Galasiërs 3: 28 sê (‘dit maak nie saak of iemand ... man of vrou is nie’) beteken duidelik nie dat hy die verskille tussen manlikheid en vroulikheid nie ten volle erken nie. Hy beklemtoon sowel verskil as eenheid in Christus.
Man nie hoof van vrou buite huwelik nie
As die Skrif leer dat die man die hoof van die vrou in die huwelik is, mag ons beslis nie die verkeerde gevolgtrekking maak dat die man ook die hoof (as gesagsdraer gesien) oor die vrou in ander samelewingsverbande (soos byvoorbeeld die kerk) is nie. Dit bots nie alleen met ons daaglikse ervaring nie (’n vrou kan van ’n skool, waar haar eie man ook ’n onderwyser is, die hoof wees, of die vrou kan staatshoof wees van ’n land waar haar man burger is), maar ek glo ook nie dat die Bybel ons daartoe die reg gee nie. En
|32|
op die Bybel is gebou die reformatoriese beginsel van soewereiniteit in eie kring van die verskillende samelewingsverbande, wat onder andere leer dat een verband nie oor ’n ander mag heers nie en dat elke menslike verband sy eie soort gesagstruktuur het.
Maar, hoewel die Bybel nie leer dat die vroulike geslag aan die manlike geslag onderdanig is nie, wil baie gereformeerde denkers dit tog in die geval van die kerk so hê. (Hulle vind natuurlik tekste daarvoor.) Soos te verwagte het hulle dan probleme met ongetroude vroue en weduwees in die kerk. Moet hierdie “soort” vroue (wat nie deur hulle mans “verteenwoordig” kan word nie), dan nie ten minste byvoorbeeld stemreg hê of in kerklike ampte kan dien nie? word gevra. In sulke onnodige probleme belang ’n mens egter wanneer jy nie die beginsel van soewereiniteit in eie kring ken of wil aanvaar nie en gevolglik nie helder kan onderskei nie.
In plaas van hier op die reeds genoemde tekste in te gaan (vgl. hierbo) gee ek liewer ’n aantal basiese beginsels wat Paulus in die verskillende Skrifgedeeltes neerlê:
1. Die huwelik is ’n onontbindbare gemeenskap wat duur solank die huweliksgenote lewe.
2. Dit is ’n eksklusiewe verbintenis van trou tussen net twee mense.
3. Die huweliksgenote het ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar in alles wat hulle is en besit. In vergelyking met die beskouings en praktyke van sy tyd verkondig Paulus ’n besonder egalistiese visie van die huwelik. Hy bepleit nòg ’n patriargale (= regering deur die vader) nòg ’n matriargale (= heerskappy deur die ma) struktuur. Ons het alreeds gesien dat “hoof” en “onderdanigheid” nie op ’n hiërargiese struktuur in die huwelik dui nie. Die feit dat hy die man oproep om sy vrou lief te hê en die vrou om haar man onderdanig te wees, neem nie die verantwoordelikheid van die vrou om haar man lief te hê en die man om aan sy vrou onderdanig te wees, weg nie. Die liefde van die man en die onderdanigheid van die vrou is in feite slegs verskillende wyses van uitdrukking van die wedersydse onderdanigheid waartoe Efesiërs 5: 21 ons oproep. Op hierdie wyse bied hy ’n visie van die huwelik wat totaal nuut was vir sy eie tyd en ook vir nog baie eeue daarna.
4. Dit is ook duidelik dat die huwelik ’n waardige instelling van God is wat geëerbiedig moet word. Die blote feit dat Paulus die huwelik as ’n beeld gebruik om die verhouding tussen Christus en die kerk te illustreer, toon al hoe geweldig hoog hy die huwelik aanslaan. Die Bybelskrywer wil dan ook dat gelowiges moet sorg dat die heidense buitestaanders nie die indruk sal kry dat hulle die huwelik nie belangrik ag nie (Hebr. 13: 4).
5. Hiermee hang saam ’n positiewe houding teenoor seksualiteit in die huwelik. In die huwelik is geslagsgemeenskap nie ’n mag nie maar ’n moet. Die nuwe is hier dat Paulus beklemtoon dat nie net die vrou haarself aan die man moet gee nie maar dat die man ook nie sê oor sy eie liggaam het nie (1 Kor. 7: 5). Wie dus 1 Korintiërs 7 so verklaar asof Paulus daarin die ongetroude staat bo die huwelik stel en seksualiteit minag, doen die Bybel onreg aan. Sowel die ongetroude as getroude staat is volgens hom gawes van God.
|33|
6. Samehangend hiermee is dit ook duidelik dat Paulus die doel van die huwelik as wedersydse selfoorgawe in liefde sien. Voortplanting is nie die enigste en eerste doel nie.
7. Die huis is nie ’n toevallige deel van die man se lewe maar die volledige lewe van die vrou nie. Dit is ’n belangrike basis vir albei maar nie die hele bestaan van een van hulle nie. Hulle het albei ook verantwoordelikhede daarbuite. En binne-in die huis het dus ook die man, en nie net die vrou nie, verantwoordelikhede.
So gee Paulus geen vaste model wat vir alle tye en plekke moet geld nie, maar wel duidelike riglyne. Vandag lyk hulle nie meer vir ons so opspraakwekkend nie, omdat ons al eeue volgens baie van die norme lewe. In Paulus se eie tyd was dit egter beginsels wat die gangbare praktyke ten opsigte van die huwelik feitlik heeltemal sou omkeer. Die blote feit dat hy net manne oor die huwelik aanspreek nie (die gewoonte in sy tyd) maar ook die vroue, was al iets heel besonders!
Die belangrikste tekste in hierdie verband is, soos reeds gesê, 1 Korintiërs 11 vers 2-16; 1 Korintiërs 14 vers 34-36 en 1 Timoteus 2 vers 8-15. Om op al die probleme in verband met hierdie Skrifgedeeltes in te gaan, sal veels te veel plek in beslag neem. Ek gee dus alleen weer net ’n paar algemene gevolgtrekkings na aanleiding van my eie worsteling daarmee.
1 Korintiërs 11
Moontlik is die agtergrond van 1 Korintiërs 11 dat die vroue bekommerd was dat, deur die gebruike van destyds te volg, hulle die gelykheid met die mans, wat in Christus hulle deel geword het, sou ontken. Paulus erken die gelykheid van vroue in die erediens en hulle volle deelname in gebed en profesie. Hy toon egter ook aan dat die gelykheid geen rede vir valse gelyksoortigheid tussen die geslagte bied nie, sodat daar geen rede is waarom enige gebruike in kleredrag in ooreenstemming met hulle geslagtelike verskille omver gewerp hoef te word nie. Paulus aanvaar dus geslagtelike verskille as deel van God se skeppingswil en verwerp die valse gelykskakeling tussen man en vrou. ’n Man aanbid soos ’n man en ’n vrou soos ’n vrou!
Afgesien hiervan is daar niks wat suggereer dat Paulus definitiewe verskille tussen die aktiwiteite van die twee geslagte tydens eredienste voorgestaan het nie. Albei kon deelneem aan gebed, profesie en sang (1 Kor. 11: 4, 5; 1 Tim. 2: 8-9; Ef. 5: 19 en Kol. 3: 16).
1 Korintiërs 14
Wat in Korintiërs 14 vers 34-36 betref, aanvaar die meeste eksegete vandag dat Paulus hier nie absolute swye van vroue tydens eredienste verwag nie. Hy verbied hier nie dat vroue ooit aan mans vrae mag stel nie, maar alleen dat ’n getroude vrou in die openbaar profesië deur haar man gemaak mag bevraagteken en hom daardeur belaglik maak.
|34|
1 Timoteus 2
Die agtergrond van 1 Timoteus 2 vers 8-15 was heel waarskynlik dat die mans in Efese die eredienste gebruik het om hulle eie twiste voort te sit en dat ook die vroue hulleself op ’n aanstootlike wyse wou laat geld. Die Christelike vrou in Paulus se tyd het — na duisende jare van onderdrukking — so pas maar begin besef wat vryheid in Christus beteken. Nog nie heeltemal gereed vir hulle nuwe vryheid nie het hulle hulle ore vir die Gnostiese sektes geleen. Die Gnostiek was (teenoor die Judaïsme se manlike seksisme) voorstanders van uniseks, dit wil sê, hulle het geslagtelike verskille ontken. Gevolglik het die Christenvroue gedink dat hulle hulle vryheid openbaar deur in die openbaar van hulle mans te verskil of besprekings te domineer terwyl hulle nie regtig bevoeg was om daaraan deel te neem nie. Hulle wil dus wederregtelik gesag oorneem. Paulus verbied in streng woorde dat vroue hierdie spesifieke lelike, dominerende soort “gesag” oor hulle mans sal probeer uitoefen en ander probeer onderrig terwyl hulle nie vroue is wat die gawes en opleiding daarvoor gehad het nie.
Ons het hier dus met ’n verbod in ’n heel spesifieke geval te doen en mag nie hieruit aflei dat Paulus ’n permanente gebod vir alle tye gee, sodat geen vrou ooit in die kerk onderrig mag gee nie. Hierdie verbod geld nie eksklusief net vir vroue nie. Enige gelowige — vroulik of manlik — het nie outomaties die reg om te mag onderrig nie. Enigeen wat nog nie die nodige kennis het nie en dus maklik mislei kan word, moet (eers) stilby en hom/haar laat leer.
Samevattend sou ons dus kon sê dat daar niks in Paulus se briewe is wat die gevolgtrekking regverdig of noodsaak dat die plek van vroue in die erediens wesenlik anders as dié van mens is nie.
Vroueleiers op kerklike gebied
Wat van leierskap van vroue in die kerk? Dit is moeilik om hiervan ’n duidelike beeld te kry, omdat daar blykbaar in verskillende fases van ontwikkeling en op verskillende plekke verskillende leierskapspatrone bestaan het. Verder het ons baie min inligting oor die presiese verhouding tussen amp en funksie (verantwoordelikhede) in die Nuwe-Testamentiese kerk. Leierskap is ook (op een lyn met wat Christus self geleer het) eerder gesien as diens in plaas van status of gesag. Leierskap was ’n gawe wat ten bate van die hele gemeente aangewend moes word. Verder was die verantwoordelikheid vir die gemeente ook ’n gesamentlike verantwoordelikheid en nie bloot dié van individuele leiers nie. Die vyf basiese “ampte” wat ons in die Nuwe Testament kan identifiseer (apostel, biskop, ouderling, diaken en weduwee), is dan ook nie tegniese terme soos ons dit vandag ken nie (vgl. alleen die laaste: weduwee!).
As ons na die vereistes vir die ampte kyk, lyk dit asof vanselfsprekend aanvaar is dat hulle mans sal wees. Daar word egter nêrens gesê dat hulle noodwendig mans móét wees nie. Die veronderstelling dat hulle uit die manlike geslag moet kom, word nie in die vorm van ’n bevel gegee nie, en daar word ook geen prinsipiële rede(s) voor gegee nie.
Dit wil dus lyk asof die feit dat die kerklike ampsdraers hoofsaaklik manlik was, gewoon ’n weerspieëling was van gebruike in die destydse samelewing, waarin die manlike geslag die leiding geneem het. Die feit dat vroulike diakens wel voorgekom het (1 Tim. 3: 11
|35|
dui heel waarskynlik eerder op vroulike diakens as die vroue van (manlike) diakens en Rom. 16: 1 noem Febe ’n diaken in die gemeente van Kenchreë), bevestig alleen dat ons 1 Timoteus 2: 12 nie so moet verstaan dat vroue nooit enige kerklike amp mag beklee nie.
Verskillende voorbeelde
Vroue het dus die reg gehad om op hulle eie tipiese vroulike wyse leiding in die kerk te gee en het dit ook gedoen. Behalwe Febe weet ons ons andere ook van Prisca (Priscilla is die verkleiningsvorm) wat die orator Apollos onderrig het (Hand. 18: 26), en in vyf van die ses gevalle waar daar van huisgemeentes melding gemaak word, was vroue onder hulle leiers. ’n Noukeurige bestudering van die kerke in Jerusalem, Rome, Filippi, Tessalonika, Kolosse, Korinte en ander plekke lei ons tot die gevolgtrekking dat vroue prominent in die kerngroep van gelowiges was en dikwels ’n definitiewe rol in die leiding van die gemeentes gespeel het. Die feit dat dit in groter mate in Rome en Masedonië as in Jerusalem en die meer Oostelike gebied die geval was, is bloot aan die kulturele verskille van destyds toe te skrywe. Dit verklaar ook die feit dat tog nog veel meer mans as vroue genoem word. Die vrou het in die vroeë kerk nogtans ’n veel groter rol gespeel as wat meestal besef en erken word!