Lank voor die tyd van Christus is die godsdiens van “Moses en die profete” alreeds deur ’n nuwe godsdiens, dié van die Judaïsme, vervang. Hierdie religie was op die tradisies
|16|
van die Skrifgeleerdes en Fariseërs, wat so dikwerf in die Evangelies as die teëstanders van Christus genoem word, gegrond.
Al was die posisie van die vrou in die Judaïsme nog nie so treurig as in die res van die Oosterse wêreld nie, is daar in vergelyking met die Ou Testament, ’n dramatiese verval in die posisie en status van die vrou in elke lewensfeer. Die skadukante wat ons in die ou bedeling teëgekom het, het hier die oorhand gekry. Die vrou was in absolute sin in alles minderwaardig en onderhorig aan die man: in die huwelik, gesin, godsdiens en sosiale lewe.
Die Judaïsme het die huwelik wel gewaardeer, maar — soos so dikwels — ten koste van die vrou. Die vrou is letterlik in haar pa of man se huis opgesluit. Sy moes so min moontlik in die openbaar gesien word, want met haar aangebore listigheid sou sy die “onskuldige manne” verlei. Die Talmoed waarsku byvoorbeeld telkens dat mans nie te dikwels met vroue — selfs nie hulle eie! — moet gesels nie, omdat hulle hulle uiteindelik in onsedelikheid sal laat beland. (Dat hierdie verbod ernstig geneem is, blyk uit die dissipels se verbasing toe Christus met die Samaritaanse vrou in die openbaar gepraat het.) Vroue is verplig om hulle mans se voete te was — ’n taak wat ’n slaaf nie eens verplig was om te verrig nie. Hulle word dan ook dikwels aan slawe en kinders gelykgestel.
Ook op die godsdienstige terrein het streng apartheid gegeld. In die tempel is vroue alleen tot in die hof van die vroue toegelaat, en in sinagoges moes hulle afsonderlik van die mans sit en het hulle geen aktiewe rol in die diens gespeel nie. Die torah (wet) moes liewer verbrand word as wat dit aan vroue onderrig word, het ’n bekende uitdrukking gelui! Vrouens is in beginsel as lui, dom, ononderrigbare skepsels beskou!
Die stereotipering van die vrou as praatsiek, ligsinnig, leuenagtig en die oorsaak van die kwaad in die wêreld het onder andere ook tot gevolg gehad dat haar getuienis selde enige gewig gedra het.
In die Griekse kultuur was vroue weinig hoër as vee beskou, meer ’n middel (naamlik die voortbring van gesonde burgers) as ’n doel. Hulle posisie is nog verder versleg deurdat die Grieke, anders as die Jode, nie eintlik morele standaarde gehandhaaf het nie. Prostitusie, homoseksualisme en ander soortgelyke euwels is toegelaat.
Onder die Romeine is die huwelik hoër gewaardeer. Hoewel vroue se ondergeskikte en afhanklike posisie van die man in die wet vasgelê is, het die Romeinse moeder tog ’n buitengewone waardigheid, vryheid en gelykheid met die vader geniet. Ongeveer die eerste eeu v.C. het die houding teenoor vroue in sowel positiewe as negatiewe sin merkbaar verander. Hulle ekonomiese regte en regte op egskeiding is byvoorbeeld verbeter. Samehangend met die vrywording van die vrou het ongelukkig ook die sedes verswak: toenemende permissiwiteit, egskeiding en die gevolglike ontbinding van die gesinslewe.
Hopelik is hierdie enkele flitse oor die kulturele agtergrond van die Nuwe Testament voldoende om ons beter te laat begryp wat die skrywers van die Nuwe-Testamentiese boeke bedoel het met wat hulle oor die vrou geskryf het, en hoe hulle eerste lesers hulle boodskap oor die vrou verstaan het.