|1|

Bybelse verrassings oor die vrou

 

Prof. B.J. van der Walt*

En die koning ... het briewe gestuur na al die provinsies, na elke provinsie in sy eie skrif en na elke volk in sy eie taal. Hierin het gestaan dat elke man baas moet wees in sy eie huis ...”

Ons lees met ’n glimlag maar ook met ’n traan hierdie slotwoorde van die eerste hoofstuk van die boek Ester. Die agtergrond daarvan ken u: Koningin Vasti het iets soos ’n paleisrevolusie veroorsaak omdat sy geweier het dat haar man met haar skoonheid voor sy halfdronk buitelandse gaste spog. Sy kon nie gehoorsaam nie, want dit sou skending van haar vrouwees, vernietiging van haar persoon wees om soos ’n ding of ’n dier ten toon gestel te word. ’n Mens kan jou voorstel hoe die magtige Ahasveros hom voor sy besoekers moes geskaam het.

Om hierdie “feministiese” rebellie in die kiem te smoor en te probeer verhoed dat dit ‘n beroering dwarsoor die groot Persiese ryk veroorsaak (ook ander vroue gaan hulle mans só met minagting behandel!), beveel die “kenners van wet en reg” twee dinge aan.

In die eerste plek word van Vasti ’n voorbeeld gemaak: sy word eenvoudig “vervang”. Of dit ook beteken het dat sy van kant gemaak is — en so dalk die eerste bekende martelaar in die stryd om die vryheid van die vrou geword het —, sê die Bybel nie. Dit sou in die geval van so ’n Persiese potentaat geensins ongewoon gewees het nie!

In die tweede plek word ’n onherroeplike Medies-Persiese wet uitgevaardig en dit word per amptelike koninklike briewe aan die regeerders van al 127 provinsies van die ryk gestuur. Die inhoud daarvan het u reeds hierbo gelees: elke man moet baas wees in sy eie huis, sodat “elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met eerbied behandel” (v. 20).

Hierdie een voorbeeld van opstand teen vroue-onderdrukking en die mislukking daarvan lê alleen nog skerper klem op die absoluut onderhorige posisie van die vrou in dié tyd.

Was dit van die begin af so? Is dit al wat die Ou Testament en die res van die Bybel oor die vrou te sê het? Gelukkig nie!

 

Die eerste tien verrassings

Het u die volgende geweet? Hier begin die verrassings:

* Die Bybel leer, ten spyte daarvan dat dit geslagsverskille ten volle erken, nêrens die ongelykheid van die geslagte nie maar hulle volkome gelykheid en wedersydse aanvulling van mekaar.


* Direkteur, IRS, PU vir CHO, Potchefstroom 2520.

|2|

* Uit die feit dat Eva eers na Adam en uit hom (sy rib) geskep is, mag nie afgelei word dat sy sy mindere is niet. Wie dieselfde soort argumente gebruik, kan ook bewys dat Adam die mindere is!

* Die straf wat die vrou (volgens Gen. 3: 16) as gevolg van die sondeval moet dra (moeilike swangerskap en heerskappy deur die man), in ’n feit naar nie ’n norm nie. Die vrou kan en moet dus ook hiervan verlos word.

* Christus se omgang met vroue was absoluut nuut, omdat dit verskil het van alle ander standpunte van sy tyd oor die vrou.

* Die Bybelse begrip “helper” wat vir die vrou gebruik word, beteken eintlik dat sy die sterkere is wat haar swakkere man moet ondersteun.

* “Aankleef” deur die man (in Gen. 2: 24, ou vertaling) word gewoonlik gebruik om aan te dui dat ’n mindere sy toevlug tot ’n meerdere neem, soos byvoorbeeld Israel tot God.

* Die woord hoof in die Bybel het ’n verskeidenheid betekenisse en hoef dus nie noodwendig te beteken dat die man die gesagsfiguur is wat die vrou moet lei of regeer nie.

* Die Woord van God eis wel van slawe en kinders gehoorsaamheid, maar nooit van vroue aan hulle mans nie.

* Die enigste plek waar die werkwoord “gesag/mag hê oor” (exousiazo) in die Skrif gebruik word om die verhouding tussen man en vrou aan te dui, is dit wedersyds: die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man, en omgekeerd (1 Kor. 7: 4). Ook die onderdanigheid waartoe die Woord van God oproep, is wedersyds (Ef. 5: 21).

* Daar is in die Bybel geen regstreekse verbod teen leierskapposisies van vroue in die kerk nie. Ook Paulus se opdrag dat vroue tydens eredienste moet swyg, was nie bedoel om vir alle tye en plekke te geld nie.

Dit is seker genoeg om u te oortuig dat die Bybel ook vir die vrou ’n paar verrassings inhou.

Hierdie verrassings is eenvoudig die resultaat van ’n poging om die Bybel weer ’n keer deeglik te bestudeer. Dit het duidelik geword dat die gangbare opvatting dat die Bybel die ondergeskikte, mindere — selfs minderwaardige — posisie van die vrou sou leer, totaal mis is. Sulke gedagtes is eenvoudig in die Woord van God ingelees. Die Bybel is só verklaar dat dit sê wat dit nie werklik openbaar nie en nie sou sê wat dit in werklikheid openbaar nie! Ons besef nie altyd dat óns interpretasie van die Skrif nie met die Skrif self gelykgestel mag word nie ...