In hoofstuk 1 van Genesis lees ons van die verhouding van man en vrou in die algemeen, in hoofstuk 2 oor man en vrou in die (eerste) huwelik en in hoofstuk 3 hoe die sondeval hierdie verhouding aangetas het.
Ons vind in hierdie verse twee dinge: verskil en gelykheid. Die verskil kom duidelik na
|4|
vore in die woorde “man en vrou het Hy hulle geskep”. Die twee woorde wat in ons Afrikaanse Bybel netjies met “man” en “vrou” vertaal is, word in Genesis 6 vers 19 (in die geval van diere) met “mannetjie” en “wyfie” vertaal. Die twee woorde wat hier gebruik word (zaakaar en nequeebah), is dan ook woorde waarvan die grondbetekenis verband hou met die vorm van die geslagsorgane! Dit sou dus meer korrek gewees het om hier “manlik” en “vroulik” te gebruik as om dit met “man” en “vrou” te vertaal! Hiermee stel die Bybel die dualiteit van geslagtelikheid by die mens. “Mens” is ’n abstraksie. ’n Mens is altyd òf man òf vrou. En “mens” vind sy volle betekenis alleen in vrou en man sáám.
Weens verskillende redes het die feit en beginsel van geslagtelike verskil en die implikasies daarvan in die geskiedenis van die Christelike denke nie die aandag ontvang wat dit moes nie. Dit het alleen in die besinning oor die huwelik aan die orde gekom, sonder dat dit duidelik besef is dat dit wyer as net vir hierdie een lewensverband van belang is.
Tereg sê Van der Leeuw (1960: 143, 146) dat daar nie so iets is soos mense in die algemeen nie en dat man en vrou allermins dieselfde is. Die man is ’n mens op manlike en die vrou ’n mens op vroulike wyse. Daarom gaan die verhouding tussen man en vrou, hetsy in die huwelik, hetsy daarbuite, hetsy tussen broer of suster, moeder of seun, vader of dogter nooit buite hulle geslagtelikheid om nie.
Ons verbaas ons nie dat die mensheid uit ’n dualiteit van sekse bestaan nie. Feitlik al die soorte lewende wesens is so gemaak. Waaroor ons wel verbaas moet wees, is dat die mensheid ’n vennootskap van die twee geslagte is. Ons kyk in die tweede plek dus na die gelykheid van man en vrou volgens hierdie eerste verse van die Bybel.
Albei is mense! Albei is beeld of verteenwoordiger van God op aarde (vgl. sowel Gen. 1: 26, 27 as Gen. 5: 1, 2). Die vrou is nie — soos Calvyn selfs nog leer — in mindere mate beeld en gelykenis van die Skepper nie. Daarom ontvang albei die opdrag om die aarde te bewerk, bewoon en bewaak. Daar is nie die minste aanduiding van differensiasie in status en verantwoordelikheid of verdeling van werk op grond van geslag nie. Dit staan nêrens dat die man nie net oor die skepping nie maar ook oor die/sy vrou moet heers nie! Verder kry albei die opdrag om te vermeerder. Prokreasie is nie in die eerste plek die taak van die vrou nie! En ten slotte staan daar dat God beide, man en vrou, sy seën gegee het.
Soos reeds gesê kry ons in hierdie verse gegewens nie net oor die verhouding tussen man en vrou in die algemeen nie, maar veral man en vrou in die huwelik. In die geskiedenis van die Christelike nadenke oor die vrou is hierdie hoofstuk veral aangegryp om die ondergeskiktheid en selfs minderwaardigheid van die vrou te “bewys”. Vier redes is hiervoor aangevoer: die vrou is na die man geskep, uit die man geskep as helper vir die man geskep en het haar naam van die man ontvang.
Die vrou as tweede skepsel
Ook ons huweliksformulier leer blykbaar nog dat, omdat Adam eerste op aarde was, hy ook die meerdere van Eva moet wees.
|5|
Tydelike prioriteit beteken egter nie superioriteit nie. Hierdie argument is selfweerleggend, want dan moet ’n mens ook sê dat omdat stof, plant en dier voor Adam geskep is, hy aan hulle onderworpe moet wees. (Ons kom nog later terug op 1 Tim. 2: 11-14, waar Paulus vroue se onderdanigheid in die erediens blykbaar regverdig met die feit dat Adam voor Eva geskep is.)
Die vrou uit die man
Wat van die tweede standpunt, nl. dat die vrou sekondêr is omdat sy uit die man gemaak is? Om die volgende redes gaan dit nie op nie. As oorsprong ’n rede vir ondergeskiktheid moes wees, moes Adam aan die stof waaruit hy gemaak is, ondergeskik wees. Verder speel die man self eintlik geen aktiewe rol by die ontstaan van die vrou nie — hy slaap vas. God self maak die vrou net soos Hy die man geskep het. Ons kan dus nie werklik sê dat die vrou haar oorsprong aan die man te danke het nie.
As ons die Skrifgedeelte noukeuriger lees, bring dit ons by presies die teenoorgestelde gevolgtrekking uit. Die wyse waarop die vrou ontstaan, dui glad nie op verskil of selfs minderwaardigheid nie maar wil juis enersheid en gelykheid beklemtoon.
Dit word duidelik in die Skrif gestel dat Adam bewus was dat hy die enigste van sy soort in die tuin was. Onder die diere wat hy name gee, vind hy nie sy gelyke nie. Hy besef dat hy nie “volledig” is nie. Die volle uitdrukking van menswees het die skepping van die vrou noodsaaklik gemaak. ’n Mens mag nie die Bybel lees asof God bloot by wyse van ’n nagedagte ook nog ’n vrou as “byvoegsel” vir ’n selfgenoegsame en onafhanklike Adam skep nie. Nee, die vrou is die onontbeerlike “wederhelfte” vir die man. Dit is tog opmerklik dat God self in teenstelling met Genesis 1 vers 31 se “alles ... baie goed” in Genesis 2 vers 18 die feit dat die man alleen is, as “nie goed” aandui.
Dit alles kom ook duidelik na vore uit wie wyse waarop God Adam van ’n vrou voorsien. Hy skep nie nog ’n mens uit die stof van die aarde nie. Nee, deur middel van ’n kloneringsoperasie onder die narkose van ’n diep slaap skep hy Eva uit dieselfde materiaal, Adam se liggaam, om daarmee hulle wesenlike gelykheid en innige eenheid aan te dui. Daar kon op dié wyse geen twyfel aan haar volwaardige menslikheid bestaan nie! Sy is nie à la Simone de Beauvoir die “tweede(rangse) geslag” nie.
Baie interessante vrae, soos byvoorbeeld hoekom mans dan nie een rib minder as vroue het nie, gaan ek hier verby. Hoewel die woord wat hier met “rib” vertaal is, nêrens elders in dié sin in die Bybel voorkom nie maar meestal “sy” (die kant van iets) beteken, bly dit voorlopig tog maar die mees aanvaarbare vertaling. Die ribbes vorm immers ook die sy van die liggaam!
As ’n mens enige simboliek daarin sou wou sien, sou jy kon sê dat die vrou aan die man se sy staan, sy metgesel, sy gelyke is.
Adam erken dan ook die mens wat God na hom toe bring, tegelykertyd as een soos hy (sy gelyke) en tog verskillend. Dit is egter nie ’n teenstellende nie maar ’n komplementêre, aanvullende, vervolmakende verskil. Eva was iemand soos sy vroulike tweelingsuster.
In ons eie taal laat die woorde vir die twee geslagte (man en vrou) nie die noue
|6|
wedersydse verbondenheid so duidelik na vore kom as in die oorspronklike Hebreeus nie. Daar is die woord “vrou” (ishah) gevorm deur die toevoeging van die vroulike uitgang by die woord “mens” (ish). In (Calvyn se) Latyn (vir en virissa), in die Engels (man en wo-man, oorspronklik wif(e)man), in die Nederlands van die ou Statevertaling (man en mannin) en in ons eie (man(s)mens en vroumens het nog iets hiervan behoue gebly. Ons eie manmens en vroumens is nog die beste, want daarin word die vrou nie androsentries na aanleiding van die man benoem nie. Dit is terloops interessant dat die Hebreeuse woord adam = mens(e) vir die eerste keer in Genesis 4 vers 25 as eienaam Adam (dit wil sê met weglating van lidwoord) gebruik word.
Uit één vlees het hulle ontstaan (v. 21, 22), en tot één vlees is hulle (in die huwelik) bestem (v. 24). Adam se herkenning en erkenning van Eva as sy vrou gee aanleiding tot ’n lied, die eerste lied in die geskiedenis. Die skrywer van die boek Genesis gee Adam se jubelsang oor die vrou (v. 23) dan ook in die vorm van poësie in plaas van prosa weer!
Adam se uitdrukking (beter in die ou vertaling) “dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees” is nie bloot ’n poëtiese manier om te sê dat Eva haar biologiese oorsprong in hom het nie. Navorsing het aangetoon dat dit ’n uitdrukking in die Ou Testament is waarmee blywende lojaliteit aangedui word. “Vlees” dui op swakheid en “been” op sterkte. As die stamme van Israel vir Dawid by Hebron sê: “Hier is ons, u been en vlees” (2 Sam. 5: 1), beteken dit nie net soos die Nuwe Vertaling parafraseer: “Ons is almal u eie mense” nie. Dit beteken ook dat hulle belowe om in hulle swakheid en krag aan Dawid se regering lojaal te wees.
Adam erken Eva dus — van haar swakheid tot haar krag — as een van sy soort wat blywende trou aan hom — en hy aan haar — sal kan betoon.
Hoe ryk is die heel eerste hoofstukke van Genesis nie! Ons dink ons weet wat daar staan, en eintlik het ons nog nooit die dieptes gepeil nie.
Vers 24 is interessant omdat ’n mens niks van die patriargale sisteem, waarvolgens die ouers (veral vaders) die huwelik van hulle kinders gereël het, hierin vind nie. Hoewel die man die inisiatief neem, voeg hy nie die vrou soos ’n byvoegsel by hom nie. Die Bybel sê uitdruklik hy verlaat een samelewingsverband (sy ouers se gesin) om ’n nuwe verband (die huwelik) tot stand te bring. Die bande van trou is sterker as die bande van bloed! Hy voeg sy lewe dus by haar en “kleef haar aan” (ou vertaling) om so tot eie vervulling te kan kom.
Nog die merkwaardigste is dat die werkwoord aankleef feitlik altyd gebruik word vir ’n swakkere wat hom/haar tot ’n sterkere wend. Dit word byvoorbeeld gebruik van Israel wat God aankleef (Jos. 23: 8 en Ps. 91: 14), maar nooit die omgekeerde nie. Dit is merkwaardig dat so ’n vers in ’n mangesentreerde kultuur soos die van Israel kon “oorleef” — ’n duidelike bewys dat ons hier met Gód se Woord te make het. Dit beteken natuurlik nou nie die omgekeerde, naamlik dat die man die minderwaardige is nie, maar dui bloot op die hegte eenheid van man en vrou in die huwelik.
Die vrou ontvang haar naam van die man
Die derde argument vir die minderwaardigheid van die vrou kom ook uit dieselfde gedeelte
|7|
so pas behandel. Uit die veronderstelling dat iemand wat name gee hoër in rang is as iemand wat die naam ontvang, en wat Adam in vers 23 sê: “Sy sal ‘vrou’ genoem word”, word afgelei dat Eva (as benoemde) ’n ondergeskikte posisie sou beklee.
Adam se benaming van die diere hang seker wel met sy heerskappy oor hulle saam. ’n Noukeurige studie van die begrip “benoem/naam gee” dui egter daarop dat dit nie noodwendig gesag of heerskappy impliseer nie.
Die vrou as helper vir die man
Die vierde argument was dat die vrou vir die man geskep is. Dit word dan veral met die begrip “hulp” (ezer) “gestaaf”. Ons huweliksformulier leer blykbaar ook nog dat, omdat die vrou in die Bybel die “hulp” van die man genoem word, sy sy ondergeskikte is. (Gelukkig beperk dit darem die behulpsaam wees net tot alles wat goed en reg is!)
Noukeurige eksegese, woordanalise en vergelyking met ander Skrifgedeeltes sorg egter weer eens vir ’n verrassing. Van die ongeveer twintig keer wat die woord helper in die Ou Testament voorkom, word in verreweg die meeste gevalle (vyftien) God die Helper van sy kinders in nood genoem. Hieruit en uit ander gegewens word dit duidelik dat die woord nie so iets soos ’n minderwaardige dienskneg of selfs slaaf aandui nie (omdat God ons Helper is, is Hy nie ons onderdaan nie!), maar presies die omgekeerde: die helper is juis die sterkere of meerdere! Die afleiding sou dus wel gemaak kon word dat die man Adam voor die skepping van Eva hulploos alleen was.
Hieruit mag die feminisme egter nie die teenoorgestelde gevolgtrekking as die tradisionele aflei, naamlik dat dit ’n duidelike bewys van die meerderwaardigheid van die vrou is nie. Vers 18 praat duidelik van ’n helper wat die man se gelyke metgesel is!
Dit is interessant dat die Bybel nie sê in watter sin die vrou vir die man (en die man die vrou se) helper is nie. Om dit tot die fisiek-seksuele te beperk (die tradisionele visie van die vrou as “hulp” vir die man om van sy seksuele drange verlos te raak, of die moderne denkbeeld van die vrou as seksobjek), sou dus nie verantwoordbaar wees nie. Ons sou uit die ongekwalifiseerde wyse waarop van hulp gepraat word egter wel kan aflei dat die vrou die man (en omgekeerd) liggaamlik, geestelik, emosioneel, dit wil sê in alle opsigte, moet bystaan en steun.
Dit moet in gedagte gehou word dat dit hier om die verhouding tussen die getroude man en vrou gaan. Moontlik gaan ons egter nie te ver as ons die Skrifgedeelte ook vir ongetroude vroue (en manne) as geldig beskou nie. Al kan hulle mekaar nie op seksuele vlak steun nie, kan hulle mekaar tog op vele ander wyses aanvul.
Hierdie Skrifgedeelte word afgesluit met die mededelinge dat die man en sy vrou kaal was maar nie skaam nie. Albei was naak — nie net die vrou soos die wêreld waarin ons vandag lewe, graag wil hê nie! Dit dui ongetwyfeld op die spontane, ongehinderde liggaamlike intimiteit tussen Adam en Eva. Daarom dui dit afsluitend ook op die volmaakte goedheid van die mens wat God geskep het. Hierdie vers staan in skerp teenstelling met die volgende hoofstuk, waarin van die mens na die sondeval gesê word dat hy naak was en dit geweet het en dit hom gehinder het. Omdat daar staan dat hy ook vir God skaam was, kry die naaktheid daar nog ’n diepere betekenis. Die vervreemding het nie
|8|
tussen twee mense en op seksuele vlak begin nie, maar dit is bloot die gevolg van die dieperliggende vervreemding en wegkruip vir God. Skaamte is dan ook in die eerste plek skaam wees vir jouself en teenoor God en nie seksuele skaamte tussen man en vrou nie. In die sin dui die skaamte op skuldgevoel — sonder bereidheid tot skulderkenning
Ons gevolgtrekking met betrekking tot Genesis 1 en 2 is dat geslagtelike ondergeskiktheid net daar ingelees kan word omdat dit beslis nie deur die Skrif verkondig word nie. Ons leer hier wel van verskil, maar dit beteken nooit ondergeskiktheid nie. Die gelykheid en die wedersydse betrokkenheid van die twee geslagte staan voorop.
Die enigste gesagsverhoudings wat ons uit Genesis 1 en 2 kan aflei, is dié van God oor die mens en die van die mens (Adam en Eva) oor die skepping. Die feit dat daar hoegenaamd geen voorskrifte is dat die vrou die man moet gehoorsaam of dat die man gesag of heerskappy oor die vrou moet uitoefen nie, laat ’n mens dink.
Dit bring ons tot die voorlopige gevolgtrekking dat ons in die huwelik met ’n heeltemal ander soort samelewingsverband as in die geval van byvoorbeeld kerk, staat, bedryf ensovoort te make het. In genoemde samelewingsverbande het ons altyd met gesagsdraers en gesagsonderworpenes te make (byvoorbeeld in die geval van die staat, die owerheid en onderdane). In die geval van die huwelik (wat bowendien net uit twee mense bestaan!) kan ’n mens egter nie van gesag en gehoorsaamheid, gesagsdraer en gesagsonderworpene praat nie. (Ons sal later sien dat die man as “hoof” dit ook nie impliseer nie). Hier het ons blykbaar ’n geval van wederkerige “gesags”-uitoefening. Dit blyk ook later as Paulus sê (1 Kor. 7: 4) dat die man nie oor sy eie liggaam beskik nie maar die vrou, en die vrou nie oor hare nie maar die man. En in Efesiërs 5: 21 word man en vrou opgeroep om aan mekaar onderdanig te wees! Dit wil dus lyk asof onderdanigheid in hierdie geval nie onderworpenheid en beslis nie minderwaardigheid kan beteken nie.
Wat ’n heerlike verhouding is die huwelik!
Die sondeval het egter alles bederf.
Veranderde gesagsverhoudinge
Ons het reeds gesien dat die gesagsverhoudinge voor die sondeval soos volg was:
God
Adam en Eva
Res van die skepping (natuur)
Dit beteken dat God gesag oor die mens het, en Adam en Eva heers saam oor die natuur. (Die verhouding was dus nie — soos baie meen — van bo na onder: God — Adam — Eva — natuur nie.) Dit is hierdie verhouding wat aangetas word en wat die verbande tussen man en vrou en tussen mens en natuur totaal verander. Na die sondeval sien dit so daaruit:
|9|
God |
natuur Adam Eva |
Dit wil sê God se gesag oor die skepping word ontken, die mens (veral Adam) swoeg (as gevolg van die vloek daarop) onder die natuur, en Eva moet op haar beurt aan Adam onderdanig wees.
Na hierdie breë perspektief kyk ons agtereenvolgens na die volgende: Wat presies by die val gebeur het en wat die gevolge daarvan was.
Waarom die slang by Eva begin het
Die vraag is al baie gestel waarom die slang met Eva begin het. (As die gangbare opvatting waar is dat die man die “baas” is, moes die slang tog in die eerste plek Adam aangeval het, want as hy val, sou Eva ook val.) Baie sê dit is omdat Eva die swakkere was. Daarvoor bestaan egter geen grond nie. Die teendeel is waar. Eva stry met die Satan (Gen. 3: 2), terwyl Adam sonder ’n woord van teëspraak val. ’n Mens sou dus ook kon sê dat die slang by Eva begin het, aangesien hy geweet het dat hy die meeste weerstand van haar kant kan verwag. Dit het geblyk dat hy reg was: toe hy Eva eens gevang het, volg Adam sonder moeite.
Dit mag wees dat Eva kwesbaarder was omdat sy nie, soos Adam, eerstehands kennis gedra het van alles wat God in Eden gedoen het, asook van al sy gebooie en verbiedinge nie (byvoorbeeld Gen. 2: 15-17). Die duiwel is baie geslepe. Hy val nie die eerste mensepaar sáám aan nie maar wag totdat hy Eva alleen vind. Eva moes dalk nie alleen die stryd aangepak het nie maar dadelik ook haar man se hulp ingeroep het.
Hoe dit ook al sy, ons mag nie ’n teks soos 1 Timoteus 2: 14 (‘Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het’) so verklaar dat die skuld vir die val alleen op Eva se skouers gelê word nie. Hulle albei is daarvoor verantwoordelik. Verder is dit opmerklik dat hierdie teks sowel as 2 Korintiërs 11 vers 3 alleen sê dat Eva verlei of bedrieg is. Hierteenoor staan Skrifgedeeltes (soos Rom. 5: 12-14; 1 Kor. 15: 22) wat duidelik sê dat Adam vir die ontstaan van sonde en dood in die wêreld verantwoordelik is.
Die kern van die verleiding van die Satan was dat hy by die mens die begeerte wakker maak om soos God (sicut Deus) in plaas van net beeld van God (imago Dei) te wees. Die vrug wat die slang haar aanbied, is mooi om na te kyk, lekker om te eet en begeerlik om te besit omdat dit die beloofde kennis sal verskaf. Dit is begryplik dat Eva nie teen die pragtige voorstel van die aartsvyand van God kon standhou nie. Die tragiek is dat Adam hom deur ’n “swakke” vrou laat verlei!
Hoe is dit moontlik dat Adam so maklik geval het? Is ook dit aan sy verleidelike vrou toe te skrywe? Nee. Omdat ook hy soos God wou wees, gryp hy nie in nie. Sy stilte beteken instemming. En as daar enigiets sou gebeur, kon hy ook nog die skuld op haar pak! Hy is nie bedrieg nie maar het baie goed geweet wat hy doen toe hy die vrug uit Eva se hand neem en eet. Hy het wetend gesondig.
|10|
Na die val roep God dan ook Adam eerste tot verantwoording. Nie omdat Adam as hoof Eva onder sy toesig moes gehad het nie. (God se woorde: “Omdat jy na jou vrou geluister het ...” beteken nie dat die man as baas nooit na sy vrou mag luister nie! Die res van die sin maak dit wel duidelik dat hy nie na sy vrou moes luister nie, omdat sy iets teen God se wil gedoen het.) God stel aan Adam geen vrae oor Eva nie. Sy sal nog die geleentheid kry om vir haarself te praat.
Op God se persoonlike vrae kan Adam nie anders as om te erken dat hy kaal was, bang geword het en weggekruip het nie. As God hom egter reguit vra of hy dan nie van die verbode vrugte geëet het nie, is hy te lafhartig om ronduit sy skuld te erken. In plaas van vir Eva se onskuld te pleit (hy moes haar gewaarsku het dat sy bedrieg word toe sy met die vrug na hom toe gekom het) probeer hy homself onskuldig voordoen deur sy vrou te beskuldig. En nie net sy vrou nie maar indirek selfs ook vir God: “Die vrou wat U my gegee het ...” (v. 12). God aanvaar nie hierdie papbroekigheid nie, want as Hy straf, straf Hy Adam met die dood soos Hy reeds voor die val gesê het. God vra nie aan Eva of sy van die boom geëet het, want Hy het nie die verbod in die eerste plek aan haar gegee nie maar aan Adam. Daarom vra Hy haar alleen om te verduidelik wat gebeur het. Sy erken dadelik dat die slang haar mislei het. Sy sou kon gesê het dat dit die slang, wat die Here so skelm gemaak het, se skuld is. Of dat dit eintlik die man, wat die Here vir haar gegee het, is wat haar nie gewaarsku het nie maar haar handeling selfs goedgekeur het, se skuld is. Sy probeer egter nie die skuld van haar afskuif nie maar aanvaar dit — soos ’n man! (Verskoon die manlike seksistiese uitdrukking!)
Die straf vir die vrou
Na die tot verantwoording roep, volg die uitspraak. Vanaf vers 15 vind ons van die mees tragiese gedeeltes in die Skrif. Droewig-skreiend volg agtereenvolgens vervloeking en straf oor die slang, vrou, man en die aarde.
Die straf wat die vrou in Genesis 3 vers 16 ontvang, verdien ons besondere aandag. Dit raak haar verhouding tot haar man en kinders. Om kinders in die wêreld te bring sal swaarkry en pyn beteken. (Lyding vergesel die mens nou as ’t ware van sy geboorte af!) Hoewel haar man oor haar sal heers, sal sy hom bly begeer (ou vertaling) of na hom hunker (nuwe vertaling). Laat ons veral kyk hoe die sondeval haar verhouding tot die man raak.
Dit is baie duidelik dat die onderdanigheid (aan mekaar) nou in onderworpenheid (van die vrou aan die man) ontaard. Waar Eva haar vroeër vrywillig aan Adam onderwerp het (soos hy ook aan haar), het dit nou gedwonge heerskappy van die kant van die man geword. Waar daar eers gelykheid was, was daar nou oorheersing. Waar vroeër ware gemeenskap geheers het, was nou konflik.
“Na jou man sal jou begeerte wees” (letterlik: jou man is jou begeerte) is nie ’n gevolg van die sonde nie maar bloot die konstatering van ’n feit. As ons dit as ’n gevolg van die val sou opvat, sou dit beteken dat die vrou voor die sondeval geen seksuele drang na die man (en die man vir die vrou) geken het nie en dat seksuele begeertes dus ’n resultaat van die sonde, self sondig is. Ook nie swangerskap maar swangerskapsmoeite is die eintlike straf. Die gedagte is dan dat die vrou deur haar eie begeerte die straf (swangerskap) by herhaling laat plaasvind!
|11|
Ander verklaarders sien die betekenis van die seldsame woord vir begeerte (tesûcah) nie as seksuele begeerte nie maar as heersersbegeerte. Soos die man oor die vrou heers, wil die vrou die man domineer. Die vrou sal ’n begeerte hê om haar man te besit en te kontroleer, maar in feite sal hy oor haar heers. Die straf is dus dat die (seksuele) verhouding tussen die twee, wat deur samewerking en wedersydse aanvulling gekarakteriseer moes word, nou ’n verhouding van konkurrente en konflik geword het.
Waar die verhouding tussen die man en vrou vroeër van intimiteit en liefde getuig het waardeur die eggenote mekaar versterk het, word dit nou een waarin die man die vrou beheers. En sonde het die neiging om al verder te woeker: die metgesel van die vrou word haar heerser. Die heerser word haar besitter. En die besitter van ’n vrou word besitter van vroue! (Dink aan die poligamie wat by Lameg begin en op Salomo se harem van 1000 vroue uitloop!)
Daar is ’n ontsaglike verskil tussen ’n vrou (die begin van die ketting) en ’n seksobjek, wat selfs verkrag kan word (die einde van die vervalproses).
Adam se straf
Adam en Eva word wel gestraf maar nie (soos die slang en die aarde) vervloek nie. Die vloek oor die aarde (dorings, distels en sekerlik ook droogte en ander dinge) het egter straf vir Adam tot gevolg. Omdat hy geëet het waarvan hy nie mag nie, sal hy van nou af net met moeite ook dit wat hy wel mag geniet, moet eet! Ons het reeds vroeër aangedui hoe die orde omgekeer word: van heerser oor die natuur na beheers deur die natuur! Ook by die finale straf gebeur dit: uit die stof van die aarde tot ’n pragtige skepsel — die beeld van God — gemaak, wat nou weer tot stof terugkeer ... Die terrein van sy heerskappy word sy begraafplaas, sy troon word sy graf ...
Die mens sal dus van nou af nie meer in staat wees om die heer eerste en belangrikste opdrag wat God aan hom gegee het, naamlik die bewerking van die aarde (die sogenaamde kultuuropdrag) goed uit te voer nie. Dit is as ’t ware ’n ironiese, bose kringloop wat gesluit word: Adam word slaaf — en by sy dood ook die slagoffer — van die grond waaroor hy eers geheers het. Eva word die slavin van ’n slaaf! — terwyl sy vroeër sy gelyke was en hulle in heerlike harmonie saamgeleef het. Die omgewing vervloek en die menslike lewe vol moeite, pyn en uiteindelik die dood. Donkerder kan die prentjie seker nie wees nie.
’n Ligstraal in die duisternis
Genesis 3: 15 word nie verniet die prote evangelium (die eerste evangelieverkondiging) genoem nie! Eva — dié naam wat Adam aan sy vrou gee, getuig van sy hoop (die oorspronklike Hebreeus chawwa = lewe, is in die Septuaginta met Eua weergegee, waaruit ons Eva ontstaan het) — sal vir hulle kinders in die wêreld bring. En uit die nuwe lewe sal uiteindelik die Seun van die mens (Adam en Eva) gebore word. Volgens die woord aan die slang sal Christus dit nie sonder lyding kan doen nie (Hy sal aan die hakskeen gebyt word), maar tog sal Hy finaal Satan se mag breek (sy kop vermorsel).
Al is dit waar dat die mens sonder die vrou nie sou geval het nie, is dit ook waar dat hy sonder die (saad van) die vrou nie verlos sou word nie!
|12|
Beskrywing of bevel?
Oor een punt moet ons dus nog duidelikheid hê, en dit is of God se woorde aan Eva ’n verduideliking of regverdiging is van wat met haar na die val sou gebeur. Anders gestel: is die moeitevolle geboortes en oorheersing deur die man bloot ’n beskrywende verklaring van haar lot na die sondeval of ’n voorskriftelike bevel. As die “sal” ’n imperatief is en nie bloot ’n futurum nie, kan die onderhorige posisie van vroue op grond van hierdie Skrifgedeelte goedgekeur word.
Dit doen die bekende huweliksformulier van die drie Afrikaanse kerke byvoorbeeld as dit vir die vrou sê: “U moet nie oor u man heers nie ... Na die val het God aan Eva en deur haar aan die hele vroulike geslag gesê: Na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers. Hierdie verordening van God moet u nie teëstaan nie, maar u moet die gebod gehoorsaam en die voorbeeld navolg van die heilige vroue wat op God gehoop het en aan hulle mans onderdanig was net soos Sara aan haar man gehoorsaam was”. Ek het verordening en gebod beklemtoon om die aandag daarop te vestig dat die huweliksformulier heerskappy van die man oor die vrou as ’n blywende norm beskou en nie bloot net een van die onaangename gevolge van die sondeval wat ons moet teëwerk nie.
Ek dink dat ’n bietjie eenvoudige logika ook hier verhoed dat ons van ’n feit ’n norm gaan maak. God gee hier alleen die onvermydelike gevolge van die sonde sonder om dit te sanksioneer. “Hy sal oor jou heers” mag net so min as God se wil beskou word as dat die dood God se wil vir die mens is! Net so min as wat pynlike swangerskap of moeitevolle arbeid geregverdig kan word, mag onderdrukking deur die mans as noodsaaklik beskou word. En aangesien ons hier met ’n straf en nie ’n maatstaf te doen het nie, mag mediese middele aangewend word om geboorte te vergemaklik. Ook mag onkruiddoders gebruik word en landbouwerktuie om die mens se worsteling met die aarde te verlig. Daarom is dit ook nie sonde om manlike oorheersing teë te gaan nie. Om dit sy gang tet laat gaan is sonde! G.Ch. Aalders (1960: 139) vestig dan ook pertinent die aandag daarop dat die heerskappy van die man oor die vrou ’n vernedering en ’n vloek is en dat die eis bly om sover moontlik die oorspronklike bedoeling van die Skepper met die huwelik te herstel. Christus se verlossingswerk hou dan ook in (soos ons nog later sal sien) dat Hy die vrou van haar onderhorige posisie verlos.
Aangesien ruimte dit nie toelaat om die hele Ou Testament in besonderhede te behandel nie, gee ek alleen enkele hooftrekke. Ons vind in hierdie bedeling na die sondeval maar voor die koms van Christus sowel skadu- as ligkante. As gevolg van die sondeval tref ons negatiewe verskynsels aan soos poligamie, patriargale oorheersing, dubbele standaarde en ongelyke egskeidingsregte wat vroue benadeel het. As gevolg van Christus se nog komende verlossing het ons egter ook hier al positiewe voorbeelde waar vroue as die gelyke van mans en selfs as hulle meerdere optree.
Skadukante
Bigamie (= twee huwelike) is (weens die hardheid van hulle harte) as wettig aanvaar, nie net vir vorste nie maar ook vir die gewone man. Die Ou Testament is vol voorbeelde
|13|
vroue en byvroue te vermeerder, en Salomo stel die rekord op met 700 vroue en 300 byvroue!
Daar bestaan geen twyfel dat God dit nie so bedoel het nie, en ’n mens kan jou vandag nie voorstel hoe vroue onder sulke praktyke moes gely het nie.
Volgens die patriargale sisteem was die man en vader die meester, regeerder en besitter van die vroue in sy huishouding. (Die Hebreeuse woord baal vir eggenoot kon ook “baas” of “eienaar” beteken!) Die status van ’n getroude vrou was werklik nie anders as die van ’n kind of besitting nie, haar man kon sonder om haar te raadpleeg of selfs teen haar wil oor haar besluite neem. Hy kon selfs die geloftes wat vroue of dogters aan God gemaak het, nietig verklaar! (Lees in dié verband Num. 30.) ’n Vader kon sy eie dogter as slavin (om as byvrou diens te doen!) verkoop (vgl. die wetgewing in Eks. 21: 7-11).
Die dubbele standaarde wat in die geval van ontug gegeld het, blyk baie duidelik in Deuteronomium 22: 13-30. Die basiese beginsel agter hierdie wetgewing is dat ’n getroude of verloofde vrou die eiendom van haar man of verloofde is. Vandaar die eensydige wetgewing dat ’n man nie met ’n vrou wat aan iemand anders verloof of getroud is, gemeenskap mag hê sonder om gestenig te word nie. Hy kon egter — sonder straf — met ’n onverbonde vrou (insluitend dus prostitute) ’n verhouding hê — ook al is hy self al getroud. Dieselfde “voorreg” geld egter nie vir vroue nie: ook onverbonde vroue wat op owerspel betrap is, is gestenig — behalwe in die geval van onverloofde maagde wat in die veld verkrag is en dus tevergeefs om hulp geroep het.
Dit is te begrype dat prostitusie gefloreer het en dat vroue op seksuele gebied op jammerlike wyse misbruik is. Dit het beslis nie ’n verhouding van wedersydse trou teenoor mekaar in die huwelik bevorder nie.
’n Ander interessante Skrifgedeelte is Numeri 5: 11-31, waar breedvoerig beskrywe word hoe ’n man moet optree as hy sy vrou van ontrou teenoor hom verdink het maar omdat hy geen getuie het nie, dit nie kon bewys nie. U moet dit maar self lees. Ons vestig alleen weer die aandag op die ongelyke behandeling. Die arme vrou is hier feitlik heeltemal uitgelewer aan ’n onnodig jaloerse man of iemand wat dalk ’n bedekte manier soek om van haar ontslae te raak. (Priesters is ook omkoopbaar!) As die vrou uiteindelik onskuldig blyk te wees was sy nie op vergoeding vir onjuiste beskuldiging geregtig nie, en haar man is ook nie vir sy valse aantygings gestraf nie. Verder het alleen mans reg op hierdie prosedure gehad. Vroue was magteloos as hulle vermoed — of selfs gewéét het — dat hulle mans hulle bedrieg!
Dit is te begryp dat die egskeidingsreëls ook absoluut eensydig ten gunste van die manlike geslag was. As die verhouding van “een-vlees-wees” tot dié van heerser-onderdaan of — nog erger — eienaar-eiendom verval, is dit nie snaaks om in die Ou Testament te lees dat vroue eenvoudig weggegooi en vervang is nie! U kan gerus Deuteronomium 24: 1-4 lees. As ’n man net iets in sy vrou gevind het waarvan hy nie gehou het nie, kon hy haar eenvoudig ’n skeibrief in die hand stop en sonder enige onderhoud uit sy huis wegstuur! Mans kon dus feitlik willekeurig van hulle vrou skei, terwyl vroue geen reg gehad het om van hulle mans te skei nie.
Tereg sê Christus hierop (Matt. 19: 3-8) dat dit nie is wat die Here van die huwelik verwag
|14|
het nie. Die verval wat na die sondeval ingetree het, het — ten spyte van pogings om dit met reëls en wetgewing te bekamp — die huwelik, een van die heiligste instellings, laat verval en sowel vrou as man verontmenslik.
Ligpunte
Die Ou-Testamentiese tyd was duidelik nog nie die volmaakte bedeling nie. Ons vind behalwe die skadukante egter ook reeds ligpunte wat daarop dui dat die tyd van androsentrisme (mangesentreerdheid) nie vir altyd sou bly bestaan nie. Die eerste bewys in die rigting is dié van vroue uit die ou bedeling wat leierskapsrolle vervul het. Die tweede rigtingwyser is voorbeelde uit die Ou Testament van die herontdekking van die betekenis en vreugde van die monogame huwelik tussen twee gelyke mense.
Vroueleiers in die ou bedeling
Is dit nie merkwaardig dat die hoogste godsdienstige funksie, dié van profeet, ook deur vroue soos Mirjam, Debora en Hulda beoefen is nie? Hulda (vgl. 2 Kon. 22: 11 — 23: 25) word byvoorbeeld deur God gebruik om sy wil vir die koning en die hoëpriester en al die mense van die land te leer en so die geskiedenis van die hele volk beslissend te beïnvloed.
Vroulike leierskap was egter nie tot die godsdiens beperk nie. Debora, “Heuningby” in Hebreeus, was behalwe profetes ook regter, politieke leier en strateegaanvoerder (Rig. 4 en 5). Die hele Rigters 5 is eintlik ’n gedig wat die oorwinning van twee vroue (Debora en Jael) besing. Soortgelyke vrouefigure is Ragab, Rut, Atalia en Ester.
Selfs in die huwelikslewe het ons voorbeeld van vroue wat selfstandig opgetree het. Daar word al van aartsvader Abraham vertel dat hy Sara verskeie kere gehoorsaam was (vgl. Gen. 16: 2, 6; 21: 10-12). ’n Uitstaande voorbeeld hier is Abigail (“bron van vreugde” in Hebreeus) uit 1 Samuel 25. Dit is asof die skrywer besonder vreugde daaruit put om die optrede en uitkoms van hierdie sensitiewe, intelligente en beeldskone vrou van Nabal (= ‘dwaas’) te beskrywe. Dawid prys haar dat sy nie vir haar man gesluister het nie. En as God self ingryp, straf hy haar nie vir haar ongehoorsaamheid nie, maar hy verlos haar permanent van haar tirannieke man.
Herontdekking van die huwelik soos God dit wil hê
Behalwe vroue wat op die gebied van die godsdiens, burgerlike lewe en in die huwelik leiersrolle gespeel het, is die tweede ligpunt voorbeelde in die Ou Testament al van die herontdekking (of was dit gewoon ’n herbeklemtoning onder die leiding van die Heilige Gees?) van die huwelik volgens God se wil; dit wil sê die huwelik as ’n verhouding van wedersydse gelykheid, asook ’n verhouding van trou tussen twee mense alleen. Wat eersgenoemde betref, is Spreuke 31: 10-31 (die onderwysing van ’n vrou aan haar seun) ’n klassieke voorbeeld, en wat laasgenoemde betref, is Hooglied — kon so ’n poligamis soos Salomo dit werklik gedig het? — ’n duidelike voorbeeld. Beide hierdie Skrifgedeeltes is oorbekend, sodat ek net iets oor elk hoef te sê.
Wat die moeder van koning Lemuel hom oor ’n deugsame vrou leer, is eintlik ’n vers-vir-vers omverwerping van die destyds gebruiklike sisteem van manlike heerskappy. Die ideale vrou van Spreuke 31 — God se ideaal vir die vrou — aanvaar volle verantwoordelikheid
|15|
vir ’n wye verskeidenheid verpligtinge. Sy is onder andere vrou, huisvrou, sakevrou en onderwyseres. En sy ontvang dieselfde agting as wat haar man ontvang. Hier is — soos ook in Genesis — nie die geringste aanduiding van enige minderwaardigheid nie.
Dieselfde geld van die Hooglied (of die grootste lied, want dit is wat die oorspronklike Hebreeus beteken): ’n mens sou dit as ’n poëties-dramatiese kommentaar op Genesis 2 vers 23-24 (God se oorspronklike wil vir die huwelik) kon beskou. In Hooglied sing ’n jong man, dronk van liefde. Die Sulamitiese is ’n eenvoudige meisie van die veld maar het beter as die wyse Salomo die geheim van die liefde gepeil. Sy het onder groot verleiding aan haar herdersvriend getrou gebly. Sy het geweier om wat die magtige, ryk, wellustige Salomo haar as vervanging van egte liefde wou aanbied, te aanvaar. Hierdie pragtige boek (so lank allegories verklaar, omdat onnodige puriteinse preutsheid ’n korrekte verstaan daarvan verhinder het) is ’n hele versameling van liedere wat op bekoorlike en gevoelvolle wyse die liefde besing. Ook die dekor is vergelykbaar met dié van die eertydse paradys: ’n wêreld sprankelend met die dou van ’n splinternuwe skepping, onbevlek deur enige kwaad. Die twee verliefdes swerf deur tuine en vrugteboorde en oor groen heuwels terwyl hulle mekaar se begeertes vervul. Daar is geen sprankie van manipulasie, oorheersing of ongelykheid nie. Wedersydse bewondering, liefde en agting heers. Die leidende motief van die lied som die inhoud daarvan baie goed op: “My geliefde is myne, en ek is syne”.
Verder is dit ook baie duidelik ’n protes teen die Salomonische harem. Die liefde mag nie kunsmatig aangewakker word nie. Dit kan ook nie met geld gekoop word nie. God steek die ware liefdesvlam, wat net tussen twee mense kan bestaan, aan.
Ware vernuwing
In die nuwe gemeenskap wat as gevolg van Christus se koms moontlik word, is daar nie meer plek vir tweeslagtigheid nie. Om op ’n kompromie terug te val deur elemente van die sondeval te akkomodeer is niks minder as sonde nie. Natuurlik sal die laaste skadutjie eers met Christus se tweede koms finaal verdwyn. Dit is egter baie duidelik dat met die koms van Christus die lig oor die duisternis getriomfeer het. Die vloek van “hy sal oor jou heers” word vervang met “mans moet hulle vroue liefhê soos hulle eie liggame” (Ef. 5: 28).
Daar bestaan geen twyfel nie dat Christus se visie op die verhouding man-vrou nie op die realiteite van die val of op ’n kompromie tussen val en oorspronklike skeppingsorde gebou is nie. So riglyne is op God se oorspronklike skeppingswil gebou. Hy wil die vrou tot die menslike waardigheid wat Eva voor die sondeval geniet, herstel.
Maar voordat ons meer in besonderhede daarna gaan kyk, moet ons eers — baie vlugtig — nog ’n laaste donker tydvak, dié tussen die Ou en die Nuwe Testament, deurloop.