|17|
Christus was nie ’n reaksionêre, revolusionêre brandstigter, soos Hy so dikwels vandag voorgestel word, nie. Hy het dikwels aanvaar, vergewe, genees. Dit beteken geensins dat Hy dit wat teen God se wil ingegaan het, nie radikaal teengestaan het nie. Dit geld ook van die vrou, wat (soos ons so pas gesien het) in sy tyd nie naastenby die plek gehad het wat God oorspronklik vir haar bestem het nie. Christus se houding teenoor die vrou was dan ook heeltemal uniek en radikaal verskillend van al die beskouings en houdings van sy tyd.
Christus behandel vroue nie as sodanig as ’n groep nie — net soos wat Hy ook nie oor of vir die mens as ’n groep (almal met dieselfde karaktertrekke!) leer nie. Hy hef ook nie die vrou tot die vlak van die man op nie, omdat Hy nie mense in klasse indeel nie. Daar is, merkwaardig, weinig verskil in Christus se benadering van mans en vroue. Hy behandel persone uit albei geslagte as mense, verantwoordelike individue elk met eie talente, behoeftes en mislukkings. Hy het tot mans en vroue in dieselfde verhouding as hulle tot Hom gestaan het: mans en vroue kon met Hom praat, Hom aanraak, dien en liefhê.
Dit is onmoontlik om in so ’n kort bestek soos hier toegelaat volledig te gaan. Hoe jammer ook al, kan dit nie meer as ’n oorsig wees nie. Ons probeer die materiaal onder ’n paar opskrifte indeel.
Genesis 3 het ons alreeds geleer dat die sondeval in die plek van ware eenheid, gemeenskap en harmonie, skeiding (v. 3), wedersydse beskuldigings (v. 12) en oorheersing (v. 16) gebring het. Een van die gevolge van die androsentrisme was die eensydige wetgewing met betrekking tot hoerery, poligamie, egskeiding en ander sulke praktyke waarvan ons ook reeds een en ander gehoor het.
Owerspel was in die tyd eintlik ’n vroulike sonde, omdat alleen vroue daarvoor gestraf is. Christus verwerp die gedagte dat die man, as die dominerende, vroue as objekte van hulle luste beskou en soos wild vir hulle eie bevrediging mag jag. Om hierdie uitbuiting en vernedering van vroue teë te werk is ’n radikale verandering van die hart nodig (lees Matt. 5: 27-30).
Die bekering wat Christus hier eis, is nie maklik nie, maar die alternatief vir gehoorsaamheid daaraan is die hel!
In die egskeidingspraktyke (vgl. Deut. 24: 1-4) is vroue soos wegdoenbare speelgoed wat ’n mens ’n rukkie vermaak verskaf het, behandel. Indien ’n volgende man met so ’n vrou trou wat om die onbenulligste redes ’n trekpas van haar man gekry het, beroof hy haar net verder van die bietjie menswaardigheid wat in haar oorgebly het. En net soos tweedehandse motors al minder waarde het hoe meer hulle van eienaar verander, net so het hierdie inruilskema vir vroue die vrou tot die vlak van ’n handelsartikel gedegradeer. Christus stel hierteenoor duidelik dat daar net een “grond” vir egbreuk kan wees, en Hy verbreek ook die bose ketting deur ’n huwelik met ’n geskeide vrou te verbied (Matt. 5: 31-32).
|18|
In Matteus 19: 3-12 is Jesus in gesprek, eers met die Fariseërs en daarna met sy dissipels, oor die egskeiding. Die Fariseërs wil Moses in Christus teen mekaar afspeel — sodat Jesus die verloorder sal wees! Die Fariseërs ontleen hulle definisie van die huwelik aan die sondeval. Aangesien die man na die val die heerser oor die vrou is, kan hy bepaal hoeveel vroue hy wil hê en hoe lank hy hulle sal hou.
Christus baseer egter sy standaarde vir die huwelik nie op die toestand na die sondeval nie maar op Genesis 1 en 2 (vgl. Matt. 19: 4, 5 en 8), God se oorspronklike skeppingsorde Daarvolgens is dit duidelik dat die huwelik monogaam is (net tussen een man en een vrou), en dat die mens nie wat God self saamgevoeg het, mag skei nie (v. 6).
Christus se dissipels is so verstom hieroor — die gedagte van manlike meerderwaardigheid en beskikkingsreg oor die vrou was ook deel van hulle lewensvisie wat hulle moeilik kon prysgee — dat hulle uitroep: “As dit is hoe die saak met man en vrou staan (dit wil sê dat jy jou hele lewe met een vrou moet opgeskeep sit), is dit beter om liewer nie te trou nie!” (v. 10).
Hierdie Skrifgedeelte bevestig dus wat ons vroeër al gesê het: die heerskappy van die man oor die vrou is die gevolg van die sonde, en nie ’n norm wat God (in Gen. 3: 16) neerlê nie. Christus verwerp dit hier uitdruklik as beginsel, en Hy stel in die plek daarvan die oorspronklike skeppingstandaarde van God in Genesis 1 en 2.
Prostitusie was die resultaat van ’n hele sisteem waarin die vrou as eiendom en seksobjek gesien is. In skynheiligheid is die straatvroue gebruik, en terselfdertyd is op hulle neergesien! Lukas 7: 36-50 gee ons ’n goeie voorbeeld van hoe die Fariseërs ’n slegte vrou verag en as onherroeplik verlore beskou het — terwyl hulle self die verlorenes was!
’n Mens besef nie altyd dat die hoer van wie hier vertel word, haar liefde teenoor Christus op die tipiese wyse van ’n sondige vrou van destyds betoon nie. Sy salf sy voete met reukolie wat sy met inkomste uit haar beroep gekoop het. Sy soen sy voete. En die trane van berou droog sy op sinlike wyse met haar hare af.
En Christus laat dit alles toe! Want Hy veroordeel nie maar vergewe as daar egte berou is, soos by hierdie prostituut.
Christus kom met ’n totaal nuwe opvatting van wat gesag en leierskap beteken. Dit het seker ook betekenis vir die verhouding tussen man en vrou gehad. Soos vandag het die mense van destyds ook maar gestoei om die grootste en belangrikste te wees (vgl. Mat. 18: 1-5). Status, posisie en leierskap het ’n mens bo jou medemens verhef. Christus stel hierteenoor dat iemand wat werklik ’n leier wil wees, moet wees soos een wat dien (Mark. 9: 35), en iemand wat in sy koninkryk groot wil wees, eers nederig soos ’n kindjie moet word (Matt. 18: 3-4).
Lees gerus ook Matteus 20: 20-28, waar Christus duidelik maak dat dit heidene is wat begeer om oor ander baas te speel. Sy dissipels moet egter, soos diensknegte en slawe, nie probeer om ander te oorheers nie maar, omgekeerd, hulle tot die beskikking van ander stel.
|19|
Enigeen wat in ’n onderrig- en leierskapsposisie staan, kan gerus ook Christus se verwerping van outokratiese leierskap en sy riglyne vir ware Christelike leierskap in Matteus 23: 1-12 aandagtig bestudeer. En daarby mag ons nooit Johannes 13: 1-17 vergeet nie, waarin Christus self die voorbeeld stel en sy dissipels se voete was — die veragte werk van ’n heidense slaaf!
Samevattend sou ’n mens kon sê dat Christus veral twee dinge baie duidelik beklemtoon: (1) leierskap is onbaatsugtige diens en die heerskappy ter wille van eie voordeel nie, en (2) ’n leier is ’n spanwerker en nie in die eerste plek ’n bevelvoerder of opdraggewer nie. Christus het die uitvoering van gesag as ’n gesamentlike verantwoordelikheid gesien waarin sterk, begaafde individue as diensknegte opgetree het om ander te versterk, sodat ook hulle in die besluitnemingsproses kan deelneem.
Hoewel hierdie Skrifgedeelte nie deur Christus onmiddellik op die verhouding tussen man en vrou van toepassing gemaak word nie, is die tersaaklikheid daarvan tog baie duidelik. Als die verhouding tussen leier en volgeling in ander verbande so moes wees, hoeveel te meer nie in die huwelik nie!
Christus beperk sy dissipels nie tot die bekende twaalf manspersone nie. Hy roep en onderrig mans sowel as vroue en verwag van hulle om die evangelie verder uit te dra. Hy het nie alleen “broeders” onder sy volgelinge aanvaar nie: “Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder” (Matt. 12: 50). Ook in hierdie opsig bring Hy iets totaal nuuts, aangesien vroue destyds nie toegelaat is om enige aktiewe rol in die godsdienstige lewe te speel nie.
In hierdie verband mag ons ook nie die bekende verhaal van Marta en Maria (Luk. 10: 38-42) vergeet nie. Marta is nie gelukkig oor Christus nie, omdat Hy toelaat dat haar suster na Hom sit en luister — iets buitengewoons in die destydse samelewing — in plaas van om haar kombuis toe (waar sy as vrou hoort), te stuur. Christus bestraf egter nie vir Maria wat die tradisionele vrouerol omgekeer het nie, maar vir Marta wat so bekommerd is oor dinge van verbygaande aard en — terwyl die Redder van die wêreld besig is om sy verlossende evangelie te verkondig! — haarself in haar kombuis afgesluit het.
Miskien is hierdie feit dat Christus vroue persoonlik onderrig het, en van hulle reaksie verwag het, een van die mees verbasende fasette van sy bediening. Volgens die destydse gebruike kon vroue in die sinagoge alleen luister maar nie leer nie! Christus aanvaar eenvoudig dat vroue in staat is om te leer en op intelligente wyse te begryp. Uit sy gesprekke met onder andere die Siro-Fenisiese vrou (Matt. 15: 21-28), die Samaritaanse (Joh. 4: 7-12) en Maria (Matt. 26: 6-13) blyk dit dat Hy gelyk gehad het: vroue is ook tot geestelike insig in staat. En heel dikwels het hulle veel meer insig en sensitiwiteit as sy manlike dissipels geopenbaar!
As ’n dissipel leerling, volgeling en dienskneg beteken het, was daar baie vroue onder Christus se dissipels. In Lukas 8: 1-3 lees ons dat, behalwe die twaalf, ook ’n hele aantal vroue (onder wie Maria Magdalena, Johanna, Susanna en baie ander) Hom gevolg het. Dat Christus dit toegelaat het, was ’n stoutmoedige daad in die Palestina van destyds!
|20|
In ’n kultuur waarin vroue soos kinders nòg gesien nòg gehoor mog word, gebruik Christus ook vroue as voorbeelde om na te volg. Waar die Rabbynse gelykenisse doelbewus vroue uitgesluit het, gebruik Christus juis telkens vroue in sy gelykenisse. Ek noem as voorbeelde net die volgende Skrifgedeeltes uit Lukas 4: 24-26; 11: 31; 15: 8-10; 18: 1-8 en 21: 1-4.
Vergeleke met die literêre werke van die tyd bevat die evangelies ’n besonder groot aantal verwysings na vroue. En in nie een geval word ’n vrou deur Christus volgens die destydse veralgemenings of stereotipes oor die vrou swartgesmeer of verneder nie. Christus se optrede teenoor vroue is altyd versterkend en bemoedigend, omdat Hy hulle vernederende geskiedenis oor duisende jare heen geken het.
Hy sien (in sy gelykenisse maar ook in sy daaglikse omgang) veral die onopgemerkte, onopsigtelike “klein vroutjies” aan die rand van die lewe raak. Hy sien die nood van hierdie skadufiguurtjies raak en kom hulle te hulp. Maar meer nog: Hy plaas hulle op die verhoog van sy verlossingsdrama, laat die lig van die ewigheid op hulle skyn en verewig hulle so in die heilsgeskiedenis. Lees maar net die volgende gedeeltes om uself te oortuig: Matteus 8: 14-15 (Petrus se skoonmoeder), Markus 5: 21-35 (die vrou wat aan bloedvloeiing gely het), Markus 5: 35-43 (die dogtertjie van Jaïrus), Lukas 7: 11-17 (die weduwee van Naïn) en Lukas 13: 10-17 (die kreupel vrou).
Christus het nog verder gegaan en vir vroue spesiale geleenthede geskep om belangrike rolle in die hoofmomente van sy omwandeling op aarde te speel. Ons dink hier veral aan sy geboorte, sendingopdrag, dood en opstanding.
Alreeds ’n verstommende feit is die insluiting van nie minder nie as vier vroue in sy stamregister (Matt. 1: 3, 5, 6). Nie alleen is vroue nie in Joodse geslagsregisters ingesluit nie, maar die spesifieke vroue laat ons ook die wenkbroue lig: Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Uria! Hoewel onwaardig weens geboorte en lewenswandel, kies God hierdie vier om vir altyd as voorouers van die Verlosser onthou te word.
Die eerste berig dat die Redder van die wêreld gebore sou word, word ook nie aan Maria se vader of haar verloofde, Josef, gebring nie maar aan haar persoonlik (Luk. 1: 32-35). Net so is die eerste wonderwerk van Christus (by die bruilof te Kana, Joh. 2: 1-11) nie tot die voordeel van ’n man alleen nie, maar vir beide man en vrou!
Die eerste bekeerling onder die veragte Samaritane is ook ’n vrou (Joh. 4: 7-42). Dit is merkwaardig hoe Johannes die hele gebeure in besonderhede beskrywe. Die Samaritaanse vrou was ’n patetiese figuur, deur mans misbruik en soos ’n straatvrou behandel. Sy was al vyf keer getroud en het al vyf maal die trekpas ontvang. Die laaste man wat haar opgetel het, het nie eens die moeite gedoen om met haar te trou nie! Maar hierdie eerste Samaritaanse bekeerling word ook die heel eerste sendeling van die nuwe tyd!
Ook die eerste bekeerling uit die heidendom (uit die streek van Tirus en Sidon) is ’n vrou. Christus prys haar vir haar groot geloof!
|21|
Marta (Joh. 11: 23-27) word die eerste persoon om die opstandingsboodskap van Christus te hoor: “Ek is die opstanding en die lewe”. En haar suster Maria was die eerste om, nog voordat dit gebeur het, te verstaan dat Christus eers moes sterwe, en, terwyl sy dit nog kon doen, haar liefde aan Hom bewys het en so sy liggaam nog voor sy begrafnis gesalf het (Mark. 14: 3-9).
Dit was ook die vroue wat Hom deur Galilea gevolg het, wat ooggetuies van sy kruisiging was, teenwoordig was toe Hy in die graf neergelê is, en wat vroeg op die derde dag die eerste getuies van sy opstanding geword het (Matt. 28: 9, 10 en Joh. 20: 16-18).
’n Aantal van die feitelike gegewens oor Christus se dood, begrafnis en opstanding is dus alleen as gevolg van die getuienis van vroue aan ons bekend! Hierdie vroue het groter volharding, groter getrouheid en groter geloof as selfs die twaalf dissipels aan die dag gelê.
As beloning vir hulle lojaliteit (sy manlike dissipels het Hom dikwels gedurende hierdie moeilikste fase van sy lewe verlaat) vertrou Christus aan die vroue die kragtigste boodskap toe wat nog ooit in die wêreld gehoor is: Hy het opgestaan! Weer eens is dit iets merkwaardigs as ons in gedagte hou dat vroue in die destydse wêreld nie eintlik as betroubare getuies aanvaar is nie.
Vroue word nie alleen die eerste ontvangers van die opstandingsboodskap nie. Hulle word behalwe getuies ook getuigendes: hulle word as ’t ware die eerste apostels!
Natuurlik kan ’n mens argumenteer dat die vroue die eerste ontvangers en die eerste verkondigers van die boodskap geword het eenvoudig omdat hulle (toevallig) daar was. Ek glo nie ’n mens moet uit die feit dat vroue eerste daar was, die voorkeur aan en voorrang van vroue aflei nie. Ons het alreeds gesien dat blote chronologiese voorrang (byvoorbeeld die feit dat Adam eerste geskep is) nie alles beteken nie. Christus self waarsku ook (Matt. 20: 16) teen so ’n argument. Uit die feit dat hulle op so baie “eerstes” kon aanspraak maak, kan ons egter seker wel die liefde en lojaliteit van die vroue aflei en ook dit dat die vroulike geslag, wat so ’n veragte posisie in die samelewing gehad het, in hierdie geval getrouer as sy dissipels was. Die opvallende buitengewone rol wat vroue by beslissende gebeurtenisse in Christus se lewe gespeel het, kan eenvoudig nie ontken word nie.
Dit is vir ons vandag, in ’n tyd waarin die vrou al soveel gelyke regte as die man geniet, moeilik om te besef hoe absoluut nuut Christus se optrede teenoor vroue was. Geen wonder dat selfs mense wat nie revolusionêr dink nie, sy optrede in dié verband as niks minder dan “revolusionêr” bestempel nie. Dit is beslis hoe feitlik elke mens uit sy eie tyd sy optrede sou beskrywe. Ons kan dit duidelik uit die reaksie van sy dissipels sien. (Hulle het ’n groot stryd gehad om van ’n Joods-Judaïstiese visie op die vrou tot ’n Christelike te kom!) Hulle vra Christus om die Siro-Fenesiese vrou weg te stuur; hulle bestraf diegene (tog heel waarskynlik vroue) wat hulle kindertjies na Christus bring — terwyl ons geen aanduiding het dat hulle ooit manne wat na Christus gekom het, weggewys het nie; hulle wys die vrou wat Christus gesalf het, tereg; hulle was verstom toe Christus met die Samaritaanse vrou praat, en toe die vroue van Christus se opstanding kom vertel, het hulle dit aanvanklik as vrouepraatjies afgemaak ...
|22|
Miskien het Christus se woorde en dade op geen ander faset van die destydse androsentriese samelewing so ’n indruk gemaak as juis op hierdie gebied nie. Hy het openlik met vroue gepraat, hulle aangeraak, genees, was oor hulle lot bewoë, het hulle vryelik in sy gemeenskap toegelaat en hulle dienste aanvaar.
Omgekeerd het Hy — ’n jong, ongetroude Man — vroue toegelaat om Hom aan te raak, te salf en te soen! Dit is omdat Hy met hulle in die eerste plek as mense en nie as seksuele wesens omgegaan het nie. Hy was in hulle as persone geïnteresseerd, omdat Hy seksualiteit wel as ’n integrerende deel van die mens maar nie as die totaliteit van sy menswees gesien het nie. Vroue was vir Hom nie bloot die objekte van mans se begeertes nie. Christus toon vir sy tydgenote aan dat mans en vroue vryelik met mekaar kan omgaan sonder dat dit in ’n seksuele verhouding hoef te ontwikkel. Hierdie gedagte dat die intrinsieke waarde van vroue as individue net so groot en belangrik was as dié van die manlike geslag, was totaal vreemd aan sy tyd.
Wie die posisie van die vrou in die Christendom bestudeer, herken dikwels baie min Christeliks daarin. In hierdie opsig was die Christene beslis nie baie getrou aan Christus nie! Waar het die verval ingetree? Reeds by die stigting van die kerk in Handelinge? Dalk by die vrouehater-oujongkêrel, soos Paulus al genoem is? Ons volgende hoofpunt is dus die Handelinge van die apostels en die verskillende Nuwe-Testamentiese Briewe.