1. Vertrekpunte

In wat hier volg, gaan ons die Bybel van voor af deurblaai en eenvoudig lees wat daar staan. Hiermee bedoel ek nie dat dit moontlik is om ooit heeltemal van die bril, die eie voorveronderstellings waarmee jy na die Skrif gaan — en so graag deur Gods Woord bevestig wil hê! — afstand te doen nie. In alle geval gaan ons vir twee soorte brille wat

|3|

die Bybel beslis verdraai, in ons pasoppens wees: die ouere bril van manlike seksisme en die hedendaagse bril van die feminisme. Ons gaan dus die Bybelse materiaal herondersoek en probeer om nie te verontagsaam wat daar staan nie, of om dit so te buig dat dit by ons eie idees inpas nie, maar om te sorg dat ons wéét wat daar werklik staan en seker kan wees dat ons beskouinge en opvattings oor die vrou werklik Bybels is en nie bloot ’n weerspieëling van tradisionele of eietydse standpunte nie.

Die oorsig behels agtereenvolgens die volgende: Die Ou Testament, iets oor die Judaïsme, die Grieks-Romeinse wêreld se siening van die vrou, wat die vier Evangelies oor die vrou sê, Handelinge en die Briewe oor die vrou, en ten slotte enkele samevattende gevolgtrekkings.

Om te voorkom dat hierdie oorsig ’n boek word (hoe meer bladsye, hoe minder mense wat bereid is om dit te lees!), beskou ek die detaileksegese as kombuiswerk. Soos ’n vrou al die apparaat waarmee sy ’n ete voorberei het, in die kombuis laat en net die heerlike dis op die eetkamertafel plaas, so lê ek bloot die resultate van my eksegese op die tafel. (Diegene wat graag wil weet wat agter die skerm ter voorbereiding daarvan gebeur het, kan gerus van die bronne in die literatuurlys raadpleeg.)

Deur die algemene gevolgtrekking waartoe ek gekom het alreeds nou te verskaf, verraai ek natuurlik al iets van die verrassing. Aan die ander kant kan dit lesers help om wat hierna kom, gemaklik te volg. Die basiese beginsel van verskeidenheid én samehang in die skepping neem in die geval van man en vrou ’n besondere vorm aan. Die verskil bestaan in hierdie geval egter alleen as gevolg van die dualiteit van geslagtelikheid en nie as gevolg van enige verskil in menswees nie. Daarom beteken verskil hier ook nie ongelykheid of andersheid, minder/meerwaardigheid nie.

Ook die samehang neem in hierdie geval van samehangende verskeidenheid ’n besondere vorm aan, nl. dié van wedersydse afhanklikheid en wedersydse aanvulling, en loop in die huwelik op die intiemste vorm van menslike kontak (één vlees wees) uit.

Hierdie basiese gedagte van verskeidenheid (man en vrou is uniek in hulle geslagtelikheid) in eenheid (komplementariteit van die twee geslagte) lê aan alles wat ons uit die Bybel oor die vrou vind ten grondslag. (Na die sondeval word die verhouding van gelykheid en onderlinge afhanklikheid een van manlike oorheersing en vroulike onderworpenheid. Hierdie sondige feit word egter nooit in die Bybel as ’n norm voorgehou nie.)

Maar laat ons met die konkrete verrassings begin. Dit begin al by die heel eerste boek van die Bybel en die heel eerste hoofstuk daarvan.