Hoofstuk 6: Implementering van studieresultate in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering

 

Deur die loop van die studie is telkemale daarop gewys hoe noodsaaklik dit vir die beoefening van die Gereformeerde kerkreg is om die ratihabitio van artikel 31 KO kerkordelik korrek te verwoord en ten volle en suiwer toe te pas.
Die bedoeling met hierdie kort slothoofstuk is om aan te wys hoe die korrekte beskouing en toepassing van ratificatio behoort by te dra tot die handhawing van die suiwer beginsels met betrekking tot die Gereformeerde kerkregering. In die eerste plek sal aangetoon word hoe die bewoording van artikel 31 KO behoort te lui. Daarna sal enkele opmerkings oor die uitvoering van ratificatio binne die konteks van ratihabitio gemaak word.

 

6.1 Ratifikasie en die bewoording van artikel 31 Kerkorde

Uit die bestudering van die tans geldende kerkordes van die verskillende Gereformeerde kerke wêreldwyd blyk dat daar deur die meeste kerkverbande afgewyk is van die oorspronklike bewoording van artikel 31 Dordtse Kerkorde (vergelyk 5.2.6.4 en 5.3.3.5), wat op sy beurt ´n (verswakte) weergawe van artikel 23 Middelburgse Kerkorde 1581 is (vergelyk 2.1.2.1 en 5.2.2.2.5). Dit is aangetoon dat die verwarring rondom die regte verstaan en toepassing van ratificatio daar begin (vergelyk 5.2.6.4).
Die enigste manier hoe om aan hierdie verwarring te ontkom, is om artikel 31 KO weer suiwer, ooreenkomstig artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde van 1581, te verwoord.
Op grond van die studieresultate (vergelyk 2.1.2.1 en 2.1.2.4.2) word die volgende bewoording van artikel 31 KO voorgestel:
Besluite wat op ´n meerdere vergadering met meerderheid van stemme geneem word, sal deur die kerkrade as geldig gehou (dit is getoets, geldig verklaar, aanvaar en uitgevoer) word, tensy aangetoon word dat dit in stryd met die Woord van God of teen die artikels van die geldende kerkorde is. As iemand ´n klagte het dat hy deur ´n besluit van ´n mindere vergadering verontreg word, kan hy hom op ´n meerdere vergadering beroep.
Omdat daar in die studie nie op die reg van appèl ingegaan is nie, kan die laaste sin van die voorgestelde bewoording moontlik verder verfyn word.

 

6.2 Ratifikasie in die praktyk toegepas

Aan die hand van wat Boersma (1993:409, 410; 1994a:51) oor die implementering van ratificatio gepubliseer het, word hiermee vir die kerkrade ´n werkbare metode voorgelê:
Fase 1: Besluite bestudeer en toets
1. Wanneer die acta van die meerdere vergadering verskyn, word dit deur ´n kommissie, bestaande uit twee of drie kerkraadslede deurgegaan en in sinvolle onderdele verdeel.
· Sake waarvan die kerkraad slegs kennis kan neem, word onderskei van sake wat so gou moontlik deur die kerkraad uitgevoer moet word.
· Besluite oor spesifieke onderwerpe, soos korrespondensie met buitelandse kerke of liturgiese aangeleenthede, word saamgegroepeer.
· Die indeling kan taamlik maklik aan die hand van die inhoudsopgawe van die acta gedoen word.
· Indien ´n kerkraadslid die betrokke meerdere vergadering as afgevaardigde bygewoon het, sal dit profytlik wees om hom by hierdie werk te betrek.
2. Aan die hand van die indeling van die “voorstudie-kommissie” word die hele kerkraad in kommissies verdeel om die verskillende onderdele te bestudeer.
· Elke kommissie is verantwoordelik vir die bestudering van ´n spesifieke onderdeel wat aan hom toegewys is.
· As daar genoeg eksemplare van die acta beskikbaar is, kan kommissies tegelykertyd werk. Dit sal die proses van ratifisering aansienlik bespoedig.
· Dit staan ´n kommissie vry om gemeentelede by die studie te betrek. Sodoende word die gemeente se nodige belangstelling vir die werk van die meerdere vergaderings geprikkel.
3. Die kommissie se taak is die volgende:
· Die punt(e) uit die acta wat met die oog op bestudering aan hom toegeken is, word in geheel gelees en kernagtig op skrif saamgevat.
· Die besluit wat die meerdere vergadering met betrekking tot die saak geneem het, word woordeliks weergegee.
· Die aanloop tot die besluit asook die besluit self wat die meerdere vergadering geneem het, word aan die Skrif, belydenis en kerkorde getoets om vas te stel of dit ten volle daarmee ooreenstem.
· Die kommissie stel sy bevindings op skrif.
· Die studieresultate dien by wyse van ´n skriftelike rapport as ´n aanbeveling op die kerkraad.
4. Die rapporte en aanbevelings van die verskillende kommissies word deur die kerkraad behandel.
· Die kerkraad neem indringend kennis van die sake waaroor die meerdere vergadering besin het, soos wat dit kernagtig deur die kommissie weergegee is.
· Genoegsame ruimte word vir kerkraadslede geskep om aan die kommissie vrae te stel in geval iets uit die acta onduidelik is. Sodoende kom die hele kerkraad op hoogte van hoe die meerdere vergadering oor ´n spesifieke saak besin het en wat hulle daaroor besluit het.
· Die kommissie se bevinding, nadat hulle die betrokke besluit van die meerdere vergadering getoets het, dien vervolgens as voorstel op die kerkraad.
· Met die bespreking van die voorstel toets die hele kerkraad die besluit van die meerdere vergadering.

Fase 2: Besluite geldig verklaar en aanvaar
1. Na gelang van die toets, spreek die kerkraad een van twee uit: òf hy verklaar die besluit van die meerdere vergadering geldig (dit kom ooreen met die Skrif en die kerkorde), òf hy verklaar dit ongeldig (dit kom nie ooreen met die Skrif en/of die kerkorde nie).
· Hierdie geldig- of ongeldigverklaring moet genotuleer word.
· Indien bevind word dat ´n besluit ongeldig is, moet die bewyse daarvoor noukeurig in die notule opgeneem word.
2. Indien die kerkraad ´n besluit geldig verklaar het, is die volgende stap om dit as ´n eie besluit te aanvaar (ratifiseer).
· Dit is moontlik om ratifisering saam met die geldigverklaring op skrif te stel, deur byvoorbeeld te notuleer: “Die kerkraad verklaar die besluit van die sinode insake .... (Acta, punt ...) geldig en aanvaar dit as sy eie besluit”.
· Die bedoeling van die “aanvaarding” moet duidelik gestel word, naamlik dat die kerkraad die besluit van die meerdere vergadering nou welbewus as sy eie verklaar.
3. Indien die kerkraad ´n besluit ongeldig verklaar het, is die volgende stap om die bewyse daarvoor aan die kerkverband bekend te maak.
· Die bewyse vir die ongeldigverklaring, wat reeds genotuleer is, moet in ´n beswaarskrif of - indien nodig - in ´n appèlskrif geformuleer word.
· Die beswaar of appèl moet, uit gehoorsaamheid aan Christus en liefde vir die kerkverband, so gou moontlik aan die depuate vir korrespondensie met die oog op behandeling tydens die volgende meerdere vergadering, gestuur word.
· Tot tyd en wyl die volgende meerdere vergadering gesit en uitspraak oor die beswaar of appèl gegee het, is die skrywer(s) daarvan (in hierdie geval die kerkraad), nòg de jure nòg de facto aan die vermeende ongeldige besluit in geding gebind.
· In die interim-situasie wat as gevolg hiervan ontstaan, is die kerkraad verplig om die bewyse vir ongeldigverklaring so spoedig moontlik aan die betrokke meerdere vergadering voor te lê.
· Omdat dit hier oor gehoorsaamheid aan die Here en liefde vir die medegelowiges gaan, behoort so-iets met voortdurende gebed gepaard te gaan ten einde enige vorm van eiewilligheid en independente optrede te voorkom.

Fase 3: Besluite uitvoer
Die besluit van die meerdere vergadering, wat intussen die besluit van die kerkraad geword het, moet nou uitgevoer word.
· Sommige besluite kan nie in die plaaslike kerk toegepas word nie, byvoorbeeld die meerdere vergadering se uitspraak oor ´n appèlsaak in ´n ander gemeente, of opdragte wat die sinode kragtens artikel 49 KO aan deputate gegee het. In so ´n geval handel die kerkraad nie verder met die geldigverklaarde en aanvaarde besluit nie.
· Sommige besluite kan nie direk uitgevoer word nie, maar moet in gedagte gehou word, byvoorbeeld besluite oor korrespondensie met buitelandse kerke. Dit sou goed wees as die kerkraad vir homself ´n register aanlê waarin sulke besluite opgeteken word, en waarna maklik verwys kan word as dit nodig blyk te wees.
· Sommige besluite moet deur funksionarisse in die gemeente uitgevoer word, byvoorbeeld die betaling van ramings en verpligte kollektes. Hieraan moet direk aandag gegee word.
· Deur sommige besluite word die hele gemeente geraak, byvoorbeeld kiesreg vir vroue. In so ´n geval moet die kerkraad, nadat hy die besluit van die sinode getoets, geldig verklaar en sy eie gemaak (geratifiseer) het, die gemeente so gou moontlik oor sy besluit inlig. Die aangewese weg sou wees dat die kerkraad ´n gemeentevergadering belê en die saak diepgaande met die gemeente bespreek. Sodoende kan die hele gemeente ook onder die indruk van die korrektheid van die besluit kom en van harte deelneem aan die uitvoering daarvan. Die gemeente leer tegelyk insien dat die besluit nie maar net “´n sinodebesluit” is wat teen wil en dank uitgevoer moet word nie, maar dat die betrokke besluit hulle eie kerkraad s´n is, wat in die Naam van die Here oor hulle moet regeer.
· Indien ´n lidmaat op grond van Gods Woord of die geldende kerkorde aantoon dat ´n besluit ten onregte deur die kerkraad geldig verklaar en aanvaar is, moet hy/sy die bewyse daarvoor aan die kerkraad voorlê sodat die kerkraad sy besluit kan heroorweeg.
Wanneer hierdie werkwyse met die hantering van besluite van meerdere vergaderings gevolg word, word daar aan die “sal vir vas en bindend hou” van artikel 31 KO voldoen (vergelyk 2.3).

 

6.3 Slotwoord

P. Deddens (Schilder & Deddens, s.j.:51, 52) het in verband met die Generale Sinode van die Gereformeerde Kerken in Nederland 1944 se veroordeling van ratificatio, asof dit ´n “vreemde en ongereformeerde praktijk” sou wees, die volgende opmerking gemaak:
Dat iemand de dingen niet weet, is niet erg.
Dat iemand de dingen niet weet en doet alsof hij ze wel weet, is erg.
Dat iemand de dingen niet weet en een ander, die ze wel weet, op hoogen toon onkunde en invoering van gevaarlijke nieuwigheden verwijt, is nog erger.
Maar dat een Synode van Gereformeerde Kerken, die telkens wijst op haar grooten ernst, haar breedvoerige besprekingen, haar eenstemmigheid in het nemen van besluiten, dergelijke onware beschuldigingen in een officieel Synode-stuk voor God en het forum van het Gereformeerde volk aandurft tegenover iemand, die en passant een juiste opmerking maakt, is het allerergst.
Men kan de goegemeente wel met groote woorden imponeeren, de goegemeente, die gemakkelijk buigt voor synodale autoriteit.
Maar daarmee is de waarheid niet gediend.
En daarmee is de zaak des Heeren niet gediend.
In die lig hiervan word die bede uitgespreek dat hierdie studie die oë opnuut sal oopmaak vir suiwer, Godvresende optrede in die beoefening van die Gereformeerde kerkreg. Dit is: optrede waardeur die Koningskap van Christus geheel en al eerbiedig word, ook waar dit kom by die hantering van besluite van kerklike vergaderings.