Woord vooraf

Om in diens van die HERE te mag studeer is ´n uitermate groot voorreg. Enersyds bring verdere studie ´n mens al dieper onder die indruk van die feit dat die nietige skepsel slegs ten dele ken (1 Korintiërs 13:12). Andersyds geld die troosvolle woorde van Spreuke 2:3-5 - “as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind”. Ek dank die HERE van harte vir die krag wat Hy gee om te kan bly studeer.
Ek is ook dankbaar vir die instrumente wat Hy gebruik het om my in die studie te lei. Professor A. le R. du Plooy: dankie vir u voortdurende aanmoediging, raadgewing en leiding. Mevrou Esté Duvenage in die biblioteek van die Teologiese Skool Potchefstroom: u vriendelike hulp word besonder waardeer. Aan my pa, dr. J.G. Meijer, is ek besondere dank verskuldig. Baie ure van besin en herbesin het my geleer om fyn te luister, presies te onderskei, eerlik te beoordeel, met respek te verskil as dit nodig is.
Henriëtte, my vrou: jou bydrae tot die studie is van onskatbare waarde. Jou voortdurende ondersteuning en jou liefde vir die saak waaroor dit gaan kan nie gemis word nie. Ons seuns: baie dankie vir die kinderlik eenvoudige manier waarop julle laat blyk het dat dit ook vir julle belangrik is dat hierdie groot stuk werk van Pappa moet klaarkom.
Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing en die Gereformeerde Kerk Pretoria het finansieel gehelp om die wa deur die drif te trek.
Ten slotte spreek ek graag my innige dank uit teenoor die Gereformeerde Kerk Ermelo waarvan ons deel is. Die kerkraad het studieverlof toegestaan om met die werk te kon vorder. Die gemeente het hulle volle ondersteuning gegee. Heelparty lidmate het gehelp om die administrasie rondom die afhandeling van die studie te vergemaklik. Baie dankie daarvoor.
Mag die resultate van hierdie werkstuk daadwerklik bydra tot voortdurende reformasie van die regering van Christus se kerke wêreldwyd.

Ermelo, Oktober 1995.