Hoofstuk 5: Die hantering van ratifikasie in die toepassing van die Gereformeerde kerkreg

 

5.1 Inleiding

Ratificatio het sy beslag in die Gereformeerde kerkreg gekry toe die Nasionale Sinode Middelburg dit in 1581 as integrale deel van ratihabitio in die kerkorde van die Gereformeerde kerke opgeneem het (vergelyk 2.1.2.1). Die inhoud van ratificatio was van meet af aan duidelik omlyn. Dit is beskou as die aanvaarding van besluite van meerdere vergaderings op grond van die geldigverklaring daarvan, waardeur die besluit van die meerdere vergadering die mindere vergadering s´n word met die effek dat dit as ´n besluit van die mindere vergadering uitgevoer word (vergelyk 2.2). As sodanig is ratificatio (acceptatio) ook in die jare voor 1581 toegepas, alhoewel dit toe nog nie in die kerkorde van die Gereformeerde kerke opgeneem was nie (vergelyk 2.1.2.2.1.3).
Die doel met hierdie hoofstuk is om vas te stel hoe ratificatio binne die konteks van ratihabitio deur die Gereformeerde kerke sedert 1581 hanteer is. In die eerste afdeling word die hantering van ratificatio in die verloop van die Nederlandse kerkgeskiedenis ondersoek, aangesien ratificatio in die Gereformeerde kerke van die Nederlande ontstaan het. In die tweede afdeling word gefokus op die hantering van ratificatio deur die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Die bedoeling hiermee is om ´n voorraadopname te maak, sodat in die laaste hoofstuk enkele tersaaklike opmerkings gemaak kan word wat van diens kan wees vir die implementering van ratificatio in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering in Suid-Afrika.
Die werkwyse wat gevolg word, is om eerstens ´n beskrywing van die kerke se optrede en kerkregtelikes se beskouings met betrekking tot die onderwerp te gee. Daarna sal die optrede en beskouings aan die norm wat in die Kerkorde van 1581 neergelê is, getoets word. Die uitslag van die toets bepaal of die norm suiwer hanteer is al dan nie. Die uitslag van die toets dien tewens as illustrasie van die belang van die suiwere hantering van ratificatio in die Gereformeerde kerkregering.

 

5.2 Die hantering van ratifikasie in die verloop van die Nederlandse kerkgeskiedenis

5.2.1 Indeling van die geskiedenis in tydvakke

Ten einde ´n oorsigtelike en terselfdertyd bevatlike beeld van die hantering van ratificatio in die verloop van die Nederlandse kerkgeskiedenis te verkry, word die geskiedenis in verskillende tydvakke ingedeel. Die indeling word gemaak op grond van bepaalde ingrypende veranderings of sienswyses wat kenmerkend van ´n sekere tydvak is en wat ´n besliste invloed op die kerke se hantering van ratificatio het.

5.2.2 1581-1620: Ratifikasie konsekwent toegepas

Die manier waarop die Gereformeerde kerke kort na die reformasie met besluite van sinodes te werk gegaan het, is breedvoerig in paragraaf 2.1.2.2.1.3 beskryf. Geen besluit van ´n meerdere vergadering is in die plaaslike kerke toegepas alvorens die kerkrade dit nie behoorlik getoets, geldig verklaar en aangeneem het nie. Selfs die artikels van die konsep-belydenisskrifte en die voorgestelde kerkordes is deur die mindere vergaderings “wederom aangenomen” (Rutgers, 1971:24). In die jare na 1581 het die kerke voortgegaan om besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer, te meer omdat dit van toe af kerkordelik bepaal is om so te handel.
´n Ander saak wat in hierdie tydperk prominent na vore tree, is die ontwikkeling wat die kerkorde in sy geheel, en artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde in besonder ondergaan het (Meijer, 1987:4). Die ratihabitio van artikel 23 is nie gewysig nie. Dit is onveranderd in artikel 31 van die Dordtse Kerkorde oorgeneem. Die konteks waarbinne dit staan, het egter wel verander.
Sowel die kerke se hantering van sinodebesluite as die ontwikkeling van die kerkorde sal vervolgens bespreek word.

5.2.2.1 Die kerke se hantering van sinodebesluite
5.2.2.1.1 Provinsiale Sinode Gelderland 1582

In Junie 1582 word die handelinge van die Nasionale Sinode Middelburg 1581 deur die Provinsiale Sinode Gelderland onder oë geneem. Uit die acta van laasgenoemde byeenkoms word dit duidelik hoe daar met die besluite van Middelburg te werk gegaan is: “Volgens zijn verlesen die articulen des lastgehaldenen nationell sijnodi tot Middelburgh, welcke der synodus voor recht und dem woort Godes gleichformich sijn erkent und geapprobiert heeft” (Deddens, s.j.:51). Die reeds gevestigde patroon van ratihabitio is gevolg: besluite word gelees, aan die norm van die Woord getoets, goedgekeur en geldig verklaar (geapprobiert), en as eie besluite aanvaar (erkent).

5.2.2.1.2 Nasionale Sinode Dordrecht 1618/19

Amper veertig jaar later, tydens die Nasionale Sinode Dordrecht in 1618/19, blyk dat mindere vergaderings onveranderd voortgaan om besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer. Dominee Festus Hommius, een van die skribas van die Nasionale Sinode te Dordrecht 1618/19, het in hierdie verband die volgende opgemerk: “Die besluite van konsilies moet nie aan die kerke voorgehou of opgedring word soos bevele van die owerheid en Persiese wette nie. Die handelinge van die konsilie moet aan alle kerke gestuur word, sodat hulle deur die kerke volgens die reël van God se Woord ondersoek word. Indien bevind word dat die besluite met die Woord van God ooreenstem, word hulle goedgekeur. Ten laaste word hulle gewillig en eenstemmig, nie teen die wil van die kerke in of gedwonge nie, aangeneem. Want die kerke het hulle gewetens nie aan die oordeel van die gedeputeerdes verbind nie. Ook is daar nie aan die gedeputeerdes volkome mag gegee om in die naam van die kerke oor van alles en nog wat te besluit nie. Die gewetens bly altyd aan die enige Woord van God gebind. Wanneer die kerke bevind dat die handelinge en besluite van gedeputeerdes hiermee ooreenstem, dan eers moet die kerke die besluite vir bindend hou” (soos aangehaal deur Deddens, 1946:17).
Die saak wat dominee Hommius stel, is nie nuut nie. Vir etlike jare het die kerke reeds ooreenkomstig die Gereformeerde, skriftuurlike beginsel wat hy bepleit, gehandel. Wat met betrekking tot die onderwerp van belang is, is die ondubbelsinnige beskrywing wat dominee Hommius van die manier waarop sinodale besluite hanteer moet word, gee. Al die elemente van ratihabitio word uitdruklik deur hom vermeld.

5.2.2.1.3 Klassis Neder-Veluwe 1619

In ooreenstemming met dominee Hommius se oproep, en konform vorige mindere vergaderings se optrede, het die Klassis Neder-Veluwe in 1619 die Vyf artikels teen die Remonstrante, wat op die Dordtse Sinode vasgestel en as amptelike belydenisskrif van die Gereformeerde kerke aanvaar is, asook die Dordtse Kerkorde gelees, bespreek en “alles geapprobiert ende aengenohmen” (Deddens, s.j.:50).

5.2.2.1.4 Provinsiale Sinode Friesland 1619

Ook die Provinsiale Sinode Friesland, wat gedurende September 1619 te Leeuwarden gehou is, het spesifiek die Dordtse Leerreëls en die Dordtse Kerkorde onder die loep geneem. Oor die Leerreëls het die sinode gunstig geoordeel: “Opten 16en Septembris 1619 voor den middag syn die Canones nationalis synodi noopende die leere voorgenomen ende in den synodo geleesen ende volgens geapprobirt ende voor goed gekent als in G.h. woort wel gefundirt” (Hooijer, 1865:447; Deddens, s.j.:50).
Met betrekking tot die Kerkorde wat die Dordtse Sinode opgestel het, oordeel die Provinsiale Sinode Friesland nie so positief nie (Hooijer, 1865:446). Na “rijpe bedencken ende betrachtinge van alles” besluit die vergadering om niks te aanvaar wat “tevooren niet gebruickt ende nu van nijes mochten ingestelt zyn”, aangesien “daerdeur eenige scheuringe in de kercke ende gemeenten ende onheijll in deesse onsse provintie soude moogen ontstaan” (Deddens, s.j.:50). Daar word verder besluit om “by de oude, door Friesland zelf opgestelde of geapprobeerde resoluties te blijven en daarom alleen de ‘articulen’ te accepteeren, die met deze oude ‘kerckenordninge’ overeenstemmen” (Ketel, 1948:114).
Die Provinsiale Sinode Friesland verwerp “in de vreesse des Heeren naer rijpe bedencken ende betrachtinge” een van die vernaamste besluite van die nasionale sinode bykans geheel en al. Slegs dit wat in die kerkorde van die nasionale sinode ooreenkom met die reeds geldende kerkorde van die provinsiale sinode, word aangeneem.

5.2.2.1.5 Provinsiale Sinode Zeeland 1619/20

Die optrede van die Provinsiale Sinode Zeeland ten aansien van die Dordtse Sinode is eweneens insiggewend. Die sinode besluit met die oog op afvaardiging na die Nasionale Sinode van Dordrecht 1618/19 dat hulle afgevaardigdes geen absolute mag “in’t stuck der leere” het nie. Indien daar besluite voorgestel word waaroor hulleself of ´n groot deel van die vergadering bedenkinge het, moet die afgevaardigdes eers oorleg met hulle opdraggewers (die provinsiale sinode) pleeg. Laasgenoemde word uitdruklik in die instruksie wat die afgevaardigdes saamgekry het en by die nasionale sinode ingedien moes word, gestipuleer (vergelyk Ketel, 1948:113).

Toe die Dordtse Nasionale Sinode verdaag het en die Provinsiale Sinode Zeeland weer in 1620 vergader, is die besluite oor die leer sorgvuldig bestudeer: “De canones sijnodi nationalis aengaende de vijff poincten der leere zijn in desen sijnodo gehelesen ende van elckeen voor zijn hooft met volle toestemminghe verclaert den Woorde Godts ghelijckvormich te zijn. Insghelijcx is het formulier der onderteeckeninghen, geraempt in den synodo nationali, opdat naer deszelven voorschrift de vijff poincten ofte artickelen van alle predicanten zouden onderteeckent worden, van de vergaderinghe aenghenomen” (Deddens, s.j.:51).
Die handelinge van die Provinsiale Sinode wat in 1619 te Deventer gehou is, lees soos volg: “Hijrna zijn de articulen synodi nationalis binnen Dordrecht, gearresteert over de 5 bekende articulen tuschen de Remonstranten ende Contraremonstranten (soo men die noemt), van den deputatio desselven voorgelesen, van den broederen andrachtelick aengehoort ende overwogen, oock met eendrachtighe stemme ende betooninghe van sonderlinghe aengenaemheyt, als in alles met Gods woort wel overeencomende, toegestemt” (Deddens, s.j.:51).

5.2.2.1.6 Slotsom

Die slotsom waartoe gekom kan word, is dat die kerke gedurende die jare 1581 tot 1620 beginselvas gehandel het wat betref die “vir vas en bindend hou” van besluite van meerdere vergaderings. Die alleenheerskappy van Christus in die kerk is eerbiedig. Geen besluit van mense is aanvaar en uitgevoer alvorens dit nie behoorlik aan die Woord van God getoets is nie.

5.2.2.2 Die ontwikkeling van die kerkorde
5.2.2.2.1 Middelburg 1581

Die bewoording van artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde, waarin ratihabitio vir die eerste keer formeel in die Gereformeerde kerkreg opgeneem is, lui soos volg: “Si quis minoris conventus sententia se gravari queretur, ad superiorem erit provocatio. Quod vero plurium suffragiis erit probatum, id ratum habebitur, nisi verbo Dei, aut etiam articulis a Synodo generali constitutis, donec alia Synodo generali mutentur, adversari ostendatur” (Rutgers, 1889:384). In paragraaf 2.1.2.1 is reeds aangetoon dat die twee sinne van hierdie artikel ´n samestelling van twee afsonderlike artikels uit die 1578 Kerkorde is. Die twee artikels van die 1578 Kerkorde het elkeen ´n eiesoortige inhoud gehad, wat beteken dat artikel 23 van die 1581 Kerkorde ´n samevoeging van twee “heterogene beginselen” is (Jansen, 1937:138). Op die vraag of die samevoeging ten goede was al dan nie, word nie in diepte ingegaan nie, aangesien dit buite die skopus van die studie val. Wat wel van belang is, is die voortdurende redaksionele veranderings wat ná die samevoeging van die andersoortige beginsels in 1581 volg.

5.2.2.2.2 ’s Gravenhage 1586

Die Nasionale Sinode ’s Gravenhage 1586 het artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde feitlik woordeliks oorgeneem. Die enigste verandering wat aangebring is, is dat die twee afsonderlike sinne in een sin saamgevoeg is. Deur middel van kommas word die verskillende sinsdele van mekaar onderskei: “Zoo hem iemand beklaagt door de uitsprake der minder Vergaderinge verongelykt te zyn, die zelve zal hem tot een meerder Kerkelyke Vergaderinge beroepen mogen, ende het geene door de meeste stemmen goed gevonden is, zal voor vast ende bondig gehouden worden, ten zy dat het beweezen worde te stryden tegen het Woord Gods, ofte tegen de Artikelen in dezen Generale Synode beslooten, zoo lange als dezelve door geen andere Generale Synodo verandert zyn” (Hooijer, 1865:273).

5.2.2.2.3 Middelburg 1591

Die Provinsiale Sinode Middelburg 1591 het ten opsigte van die artikel in bespreking ´n verdere leesteken-verandering aangebring. Waar die Sinode van 1586 binne die teks slegs van kommas gebruik gemaak het, word die komma voor die sinsnede “tensy bewys word...” in 1591 met ´n dubbelpunt vervang: “Soo yemant hem beklaaght, door de uytsprake der minder Vergaderinge verongelickt te zijne, de selve sal hem tot een meerdere Kerckelicke Vergaderinge beroepen mogen, ende het gene door de meeste stemmen goet gevonden is, sal voor vast ende bondigh gehouden worden: ten zy dat het bewezen worde te stryden tegen het Woort Godts oft tegen d’artickelen in desen Provincialen Synodo besloten, soo lange als de selve door geene andere Provinciale oft Generale Synode verandert sijn” (Hooijer, 1865:311).

5.2.2.2.4 Dordrecht 1618/19

Die Nasionale Sinode Dordrecht 1618/19 voer die leesteken-verandering nog verder deur die dubbelpunt wat in 1591 voor die “tensy”-gedeelte aangebring is, met ´n punt te vervang (Hooijer, 1865:453). Die amptelike redaksie van artikel 31 Dordtse Kerkorde lees soos volg: “Soo yemant hem beklaeght deur de uytsprake der minder Vergaderinghe verongelijkt te zijn, die selve sal hem tot een meerder Kerkelijcke vergaderinghe beroepen moghen: ende ‘t ghene door de meeste stemmen goet gevonden is, sal voor vast ende bondich ghehouden worden. Tenzy datte bewesen worde te strijden tegen het woordt Gods, ofte teghen de Artijckelen in desen Generalen Synodo besloten, soo langhe als de selve door gheen ander Generale Synode verandert zijn” (Biesterveld & Kuijper, 1905:234).

5.2.2.2.5 Kommentaar

Die eerste sin van artikel 23 van die 1581 Kerkorde stel die beginsel van die moontlikheid van appèl (vergelyk artikel 19 van 1578). Die tweede sin handel oor hoe besluite in ´n kerklike vergadering geneem en eerbiedig moet word (vergelyk artikel 23 van 1578). Die tweede sin bevat bowendien ´n reserwe, naamlik dat die Woord van God die grens is van alle besluite wat op kerklike vergaderings geneem word (vergelyk artikel 23 van 1578).
Die positiewe van die samevoeging van die twee artikels uit die 1578 Kerkorde in die een artikel in die 1581 Kerkorde moet volgens Kamphuis (1970:52) teen die historiese agtergrond van owerheidsinmenging gesien word: “Middelburg stipuleert de rechtsgeldigheid van het kerkelijk besluit ook in zaken van appèl. De uitvoering van een besluit kan en mag niet worden gekeerd door een magistraats-beslissing, maar alleen door een beroep op het Woord Gods of op het in de K.O. geschreven recht, het kerkelijk recht”.
Die negatiewe van die redaksionele samevoeging is egter dat daar ruimte vir verwarring ontstaan. Iets van sulke verwarring blyk reeds in 1586, toe die sinode deur middel van leesteken-veranderings die twee aparte sinne van 1581 direk aan mekaar gekoppel het. Daarmee word van twee afsonderlike beginsels een saamgestelde beginsel gemaak. Die saamgestelde beginsel lui so: in geval van appèl moet aanvaar word dat die beslissing van die meerderheid geldig en derhalwe bindend is. Die indruk word gewek dat die gewysigde artikel slegs oor beslissings in appèlsake handel, en die geldigheid van kerklike besluite oor die algemeen buite rekening laat. Bowendien bly die reserwe slegs as ´n neweskikkende sin vir die beperkte bepaling staan: Gods Woord is die grens vir meerdere vergaderings se besluite insake appèlle.
Die Provinsiale Sinode Middelburg van 1591 versterk die gedagte van ´n enkelvoudige beginsel deur die komma voor die reserwe-gedeelte met ´n dubbelpunt te vervang.
Die Dordtse Sinode van 1618/19 voer die verandering ten volle deur, deur die saamgestelde sin van 1591 opnuut in twee sinne te verdeel. Die sinne is egter nou anders geformuleer as in 1581. Die reg tot appèl en die geldigheid van sinodebesluite word direk aan mekaar gekoppel, terwyl die reserwe met betrekking tot ´n geldige besluit in ´n tweede, aparte sin volg.
Die effek van die hersamestelling van artikel 31 Dordtse Kerkorde is beduidend en van besondere belang. Die verandering in punktuasie gee aanleiding tot verskillende interpretasie-moontlikhede, veral wat die trefkrag van die reserwe-klousule betref.
Oranje (1944:35) is van mening dat artikel 31 KO taalkundig gesproke slegs vir een verklaring vatbaar is. Daar is ´n reël wat lui dat die besluite wat met meerderheid van stemme geneem is, bindende besluite is. Op hierdie reël is daar volgens Oranje slegs een uitsondering, naamlik vir besluite wat met Gods Woord of die kerkorde strydig is. Die konsekwensie daarvan is: ek hou my voorlopig aan die reël, totdat die bewys gelewer en aanvaar is dat hier ´n uitsondering op die reël is. ´n Mens moet altyd begin deur te konformeer. Wie beswaar het, kan die ordelike kerklike weg van gravamen volg, met dien verstande dat hy hom, tot tyd en wyl oor die gravamen uitspraak gelewer is, by die bestaande besluit sal neerlê.
Schilder (soos na verwys deur Oranje, 1944:36) interpreteer artikel 31 KO anders. Hy beskou die punt voor die reserwe-klousule as ´n komma. Dit beteken dat die reël (´n meerderheidsbesluit is geldig) die reserwe insluit. Of anders gesê: die reserwe vorm deel van die reël. Die konsekwensie hiervan is dat besluite wat met meerderheid van stemme geneem is, bindend is as hulle nie in stryd met die daargestelde grens is nie. Indien ´n besluit die daargestelde grens wél oorskry, is dit nie bindend nie, en kan geen mens gedwing word om hom vir ´n enkele oomblik daaraan te konformeer nie. Alvorens ´n besluit uitgevoer word, moet uitgemaak word of dit geldig is al dan nie.
Die historiese ontwikkeling van artikel 31 KO werp genoegsame lig op hierdie verskilpunt om tot ´n beslissing te kom. Vanaf 1578 is dit duidelik dat die reserwe-klousule prominent ingebou is om te verseker dat geen enkele besluit wat in stryd met Gods Woord of die kerkorde is, aangeneem en uitgevoer sal word nie. Die verandering in punktuasie doen, nieteenstaande die feit dat dit verwarring kan skep (waarvan bogenoemde verskilpunt ´n klinkklare bewys is), aan die effek van die reserwe geen afbreuk nie. Met ander woorde, die punt voor “tensy” wil nie die krag daarvan verswak of die reikwydte daarvan beperk nie. Ook al staan die reserwe-klousule in die Dordtse Kerkorde van 1618/19 as ´n aparte sin opgeteken, is die bedoeling daarvan nog steeds dat dit onlosmaaklik deel vorm van die reël wat die artikel stel. Derhalwe is dit korrek om, soos Schilder gedoen het, die punt voor “tensy” as ´n komma te interpreteer.
Die beslissing oor bogenoemde interpretasie-verskil word ondersteun deur die besluit van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) (1986:597), wat die bewoording van artikel 31 KO gewysig het soos wat dit oorspronklik in 1581 saamgestel is: “Als iemand van oordeel is dat hem door een uitspraak van een mindere vergadering onrecht is aangedaan, kan hij zich beroepen op de meerdere vergadering. De uitspraak die bij meerderheid van stemmen gedaan is, zal als bindend worden aanvaard, tenzij bewezen wordt dat zij strijd met het Woord van God of met de kerkorde”.
Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het die artikel in 1964 op ´n soortgelyke wyse “ge-reformeer”: “Wat op ´n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde. As iemand egter ´n klagte het dat hy deur die uitspraak van die mindere vergadering verongelyk is, kan hy hom op ´n meerdere vergadering beroep ...” (GKSA, 1964:59). Beroep op ´n algemene sinode word nog verder gekwalifiseer (GKSA, 1980:21; Spoelstra, 1989:192).
Sowel die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) as die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het die twee beginsels van appèl en regsgeldige besluite tereg opnuut onderskei en in verskillende sinne geformuleer. Die reserwe is na sy oorspronklike posisie verskuif, sodat dit nie vir verkeerde interpretasie vatbaar behoort te wees nie.

5.2.3 1620-1816: Nadere Reformasie en ontstaan van die Hervormde kerkreg

Die tydperk na die Dordtse Sinode van 1618/19 word in die kerkgeskiedenis deurgaans as ´n periode van kerklike verval beskou (Landwehr, 1929:217; Graafland, 1990:163; d’Assonville, 1992:178). Die verval het alle terreine van die kerklike lewe geraak, ook die kerkregtelike. Terwyl skolastiek en mistiek die leer van die kerk ondermyn (d’Assonville, 1992:181), was inmenging van die owerheid die grootste gevaar op die front van die kerkregering (Bakhuizen van den Brink et al., 1985:24). Sonder dat die Gereformeerde kerke in Nederland aanvanklik amptelik as staatskerk verklaar is, het die owerhede hulle hoe langer hoe meer met kerklike aangeleenthede bemoei en hulle invloed op die kerklike lewe laat geld (Bakhuizen van den Brink et al., 1985:25).
Uit verskeie oorde en op verskillende maniere het verset teen hierdie verval begin groei. ´n Beweging wat hom in besonder op voortgaande hervorming toegelê het, was die sogenaamde “Nadere Reformasie”. Die Nadere Reformasie is ´n beweging binne die Gereformeerde kerke in Nederland, wat enersyds die verspreidende wantoestande probeer keer en hom andersyds beywer vir die deurwerking van die sestiende-eeuse hervorming (Van’t Spijker, 1986a:5).
Nieteenstaande talle pogings om deformasie te keer, het die owerhede in die kerklike lewe bly inmeng. Die uiteinde van die voortdurende owerheidsinmenging was dat die Gereformeerde kerke in Nederland in 1816 in ´n staatskerk omskep is (Pont, 1991:17; d’Assonville, 1992:186). Die naam van die kerk het verander na Hervormde Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden. Daarmee saam het die Gereformeerde kerkreg plek gemaak vir Hervormde kerkreg (Scholtemeijer, 1969:193).
In verband met die onderwerp word ter sake opvattings van twee prominente figure uit die Nadere Reformasie uit- en toegelig. Daarna word kortliks aandag aan die ontstaan en wese van die Hervormde kerkreg gegee.

5.2.3.1 Nadere Reformasie

Tiperend van die Nadere Reformasie is die klem wat op die individu geplaas word (Van’t Spijker, 1986a:7). In teenstelling met die sestiende-eeuse reformasie, wat opnuut die Skrifbeginsel van die plaaslike kerk as liggaam van Christus bely en beleef het, fokus die Nadere Reformasie op die geloofsbelewenisse en regte van die gelowige enkeling (Van’t Spijker, 1986a:13). Die plaaslike kerk as ´n eenheid in Christus dreig om op die agtergrond te vervaag (Graafland, 1986:359-361). Teoloë in hierdie tydvak het deurgaans geen kerkregtelike bydrae gelewer nie. Slegs die werke van Voetius en à Brakel is uitsonderings, en word daarom bespreek.

5.2.3.1.1 Gisbertus Voetius (1589-1676)

Voetius is seker een van die vernaamste, indien nie dié vernaamste en veelsydigste teoloog uit die tyd van die Nadere Reformasie (Van’t Spijker, 1986a:15). Die kerkregtelike debatte wat hy tussen 1663 en 1676 gevoer het, is deur hom versamel, gesistematiseer en in drie dele onder die gemeenskaplike titel Politica Ecclesiastica (Pol. Eccl.) uitgegee (Landwehr, 1929:218, 219; Van’t Spijker, 1986b:74, 75). In hierdie magistrale werk handel Voetius onder andere oor die wese van kerklike mag, kerklike vryheid, en die werk en betekenis van klasses en sinodes.
Voetius se vertrekpunt vir die kerkregering is die sigbare, plaaslik geïnstitueerde kerk (Pol. Eccl., Pars 1, Lib. 1, Trac. 1; Van’t Spijker, 1986b:77). Hy omskryf die kerk as ´n gemeenskap (societas) van gelowiges, wat vrywillig aangegaan word om die gemeenskap (communio) van die heiliges te beoefen (Pol. Eccl., Pars 1, Lib. 1, Trac. 1, Cap. 1; Van’t Spijker, 1986b:78).
In sy ampsleer hou Voetius aan die gebruiklike onderskeid tussen die gewone en buitengewone ampte waarvan in die Nuwe Testament sprake is, vas (Pol. Eccl., Pars 2, Lib. 2, Trac. 2). Wat die gesag van die besondere ampte betref, staan Voetius lynreg teenoor die hiërargiese opvatting van Rome (Pol. Eccl., Pars 2, Lib. 4). Volgens Voetius bestaan die gesag van die amp in die gesag van die Woord. Derhalwe is die gesag van die amp nie absoluut nie (Pol. Eccl., Pars 2, Lib. 2, Trac. 1; Van’t Spijker, 1986b:79). In soverre ampsdraers die Woord bedien, tree hulle met gesag op. Buite daardie grens het hulle geen gesag nie. Die gemeente beskik oor Christelike vryheid en die gawe van onderskeiding. Dit beteken dat lidmate die reg het om oorleweringe en gebruike, asook besluite van kerklike vergaderings te beoordeel. Die gemeente is geen slawe van mense nie, maar het die plig om hulle nie te vereenselwig met dit wat teen die Woord van God stry nie (Van’t Spijker, 1993:237).
Voetius beskou die kerkverband as ´n vereniging van kerke (unio ecclesiarum), wat op ´n verbond (confoederatio), op ´n wedersydse belofte (correspondentia) van plaaslike kerke berus (Pol. Eccl., Pars 3, Lib. 1, Trac. 3, Cap. 9; Van der Walt, 1976:50). Kerkverband dien tot welwese van die kerk (Van’t Spijker, 1993:236).
Vanuit sy standpunt oor gesag wys Voetius twee uiterstes af: die aanmatiging van ampsgesag (Rome), sowel as die onderwaardering daarvan (kongregasionaliste) (Van’t Spijker, 1986b:79). Alle kerklike mag is volgens Voetius herleibaar tot die soewereine mag van Christus wat sy kerk regeer. Ten opsigte van Christus is kerklike mag bedienend (Pol. Eccl., Pars 1, Lib. 1, Trac. 2; Van’t Spijker, 1986b:80).
Voetius was ´n kragtige voorstander van die bevoegdhede van meerdere vergaderings (Pol. Eccl., Pars 3, Lib. 4, Trac. 1,2; Kamphuis, s.j.:51). Hy bepleit geensins independentisme nie; inteendeel, hy beveg dit ten sterkste (Van’t Spijker, 1986b:76). Hy beskou die bevoegdheid van ´n meerdere vergadering as afgelei, gedelegeer (Kamphuis, s.j.:51). Die oorspronklike kerklike mag berus by die plaaslike kerk (Van’t Spijker, 1993:237). Die bevoegdheid van ´n meerdere vergadering is nie “berowend” van aard nie, maar “samebrengend” (non esse collatam privative, sed cumulative). Die mag van die sinode mag in geen opsig aan die bevoegdheid van die plaaslike kerk afbreuk doen nie. Inteendeel, die mag van die plaaslike kerk moet deur die optrede van die kerkverband verryk en versterk word (Pol. Eccl., Pars 3, Lib. 1, Trac. 3, 4; Van’t Spijker, 1993:237).
Oor meerdere vergaderings se hantering van mag oordeel hy dat sodanige vergaderings dit nie teen die Skrif, die fundamentele kerklike wette, die kerke en die kerklike afgevaardigdes mag gebruik nie; dit moet tot hulle voordeel aangewend word. Indien ´n sinode sy mag sou misbruik, neem die kerke die besluite van so ´n vergadering nie aan nie, maar “laten ze in’t midden of verscheuren ze” (Pol. Eccl., Pars 3, Lib. 1., Trac. 3, Cap. 2; Deddens, s.j.:50).

5.2.3.1.2 Willem à Brakel (1635-1711)

In sy jare is Willem à Brakel met die separatistiese beweging van Jean de Labadie gekonfronteer. Alhoewel hy aanvanklik geneig het om hom met die Labadisme te vereenselwig, het sy oë vir die kwaad van separatisme oopgegaan (Graafland, 1990:164, 182). Hy waarsku die kerkvolk van die laat sewentiende eeu om ooreenkomstig artikel 28 van die Nederlandse Geloofsbelydenis die eenheid met die kerk te soek, ook al is daar binne daardie kerk stryd oor verskilpunte (à Brakel, 1893:599). Dit staan ´n gelowige nie vry om te doen wat goed is in sy eie oë nie. Die kerk is, omdat hy heilig is, wel ´n afgeskeie vergadering van die wêreld. Die kerk mag hom egter nie sommer van ander kerke afskei soos die Labadiste beweer nie (à Brakel, 1893:604; Van Genderen, 1986:167-170).
Aan die ander kant keer à Brakel hom teen menslike oorheersing in die kerk. Geen ampsdraer het meer mag as ´n ander ampsdraer nie. Daar bestaan nie so-iets soos een biskop wat mag het oor ander herders nie (à Brakel, 1893:644, 648). Oor die ampsbediening van die ouderlinge sê hy: hulle behoort geen ja-broers te wees wat blindelings doen wat die leraars wil nie. Hulle werk is om in alle nederigheid, wysheid en liefde die beste vir die kerk te bevorder (à Brakel, 1893:674; Van’t Spijker, 1993:251).

5.2.3.1.3 Slotsom

Voetius en à Brakel het albei sekere aspekte beklemtoon wat positief met betrekking tot die toepassing van ratificatio is. Dat die mondige gemeente die reg en plig het om die besluite van kerklike vergaderings te beoordeel omdat alle gesag in die kerk van Christus afkomstig is, is niks anders as getroue uitlewing van die beginsels wat deur die Gereformeerde kerke in die tyd van die Reformasie bely en op skrif gestel is nie. So is ook die standpunt dat die gesag van die amp in die gesag van die Woord bestaan en daarom nie absoluut is nie, suiwer. Langs dié weg word hiërargie in die kerk van Christus voorkom en bestry.
Aan die ander kant moes daar teen independentisme gewaak word, veral teen die agtergrond van die Labadisme. ´n Positiewe stap in die bekamping van independentisme was die handhawing van die beginsel dat kerkverband op die wedersydse verbondsbelofte van die plaaslike kerke berus. Dit staan plaaslike kerke nie vry om sommer van die ander kerke af te skei deur te doen wat goed is in eie oë nie. Geldige besluite wat in kerkverband geneem is, sal deur die kerke getoets, aanvaar en uitgevoer word.
´n Vraagstuk wat egter ontstaan, is hoe die verhouding tussen die mag van die plaaslike kerk en dié van die meerdere vergadering beskou moet word. Voetius het die gedagte begin opper dat die plaaslike kerk oor oorspronklike kerklike mag beskik, terwyl meerdere vergaderings afgeleide, gedelegeerde bevoegdheid het. Vanuit hierdie gedagte stel hy dat die bevoegdheid van ´n meerdere vergadering nie berowend is nie, maar samebrengend. Meerdere vergaderings moet die gesagsuitoefening van die kerkrade bevorder. Op sigself is dit korrek. Meerdere vergaderings het nie die bevoegdheid om gesag van die mindere vergaderings te ontneem nie. Tog moet daar teen ´n ongekwalifiseerde skema van oorspronklike en afgeleide mag of gesag gewaak word, aangesien dit die suggestie laat dat daar vergaderings met meer gesag is en vergaderings met minder gesag. Wie met dié denkpatroon werk, verval in hiërargie (die pous, landheer, kerkbestuur of sinode het die meeste gesag), of in independentisme (die gemeentevergadering het die meeste gesag). Die skriftuurlike beginsel is dat Christus alle gesag en mag het. Waar sy Woord bedien word, word met gesag opgetree. Gevolglik het alle kerklike vergaderings wat volgens die Woord handel, ewe veel gesag. Vir die toepassing van ratificatio is die beginsel van gelyke gesag van wesenlike belang (vergelyk artikel 36 KO en 4.4.3).
In die geheel gesien wil dit voorkom asof die kerke na 1620 meer aandag aan die subjektiewe geloofsbelewing van die individuele gelowiges gegee het as aan die Godgegewe reg wat deur die kerke gehandhaaf en bedien moet word (Van’t Spijker, 1986a:15). Die praktiese, beginselvaste toepassing van die Gereformeerde kerkreg, waaronder die plig tot ratificatio, het tot ´n groot mate agterweë gebly. Dit het vir die owerhede ruimte geskep om hulle stempel op die regering van die kerk af te druk, wat inderdaad ook gebeur het.

5.2.3.2 Ontstaan van die Hervormde kerkreg
5.2.3.2.1 Kerk en staat na 1618/19

Die praktyk van die kerklike lewe in Nederland sedert 1618/19 toon dat die Gereformeerde kerke alles behalwe onafhanklik van die staat was. Die byeenroeping van die Dordtse Sinode in November 1618 is reeds ´n bewys daarvan. Die sinode is deur die State-Generaal saamgeroep, deur die state gefinansier en deur kommissarisse-politiek beïnvloed (Pont, 1991:2).
In die jare na die Dordtse Sinode kon die kerke ook nie daarin slaag om uit die greep van die owerhede los te kom nie. Provinsiale owerhede, wat baie mag in die regering van die land gehad het, het feitlik oral medeseggenskap in die reëling van die kerklike lewe geëis (Pont, 1991:2). Die meeste provinsiale state het nie toegelaat dat die Dordtse Kerkorde in hulle ressort ingevoer word nie. Traktemente van predikante asook alle ander kerklike uitgawes is deur die state betaal. Kommissarisse-politiek het sittingsreg op kerklike vergaderings gehad. Op meerdere vergaderings het die owerhede leiding geneem (Pont, 1991:2). Die merkwaardige is dat die kerke dit sonder teëspraak so aanvaar het, wat ´n teken van deformasie is. Selfs die weiering van die State-Generaal om ´n volgende nasionale sinode toe te laat, het geen besondere weerstand uit die kerke gewek nie. Die reformerende ywer in die kerke het geleidelik minder geword (Pont, 1991:3).

5.2.3.2.2 Die Aufklärung en die kerk

Die Fransman René Descartes, wat vanaf 1629 tot 1649 in Nederland gewoon het, het die gesag van die Skrif rasionalisties en antroposentries ondermyn (d’Assonville, 1992:179). Die mens se rede word as norm vir die waarheid gepropageer. Daarmee saam word die norm van Gods Woord op die agtergrond geskuif (Pont, 1991:4). Descartes se denke beheers die agtiende eeu, die eeu van “Verligting”. Sy gedagtes word verder deur Locke, Toland, Tindall, Voltaire en Rousseau uitgewerk (Scholtemeijer, 1969:191). Mede as gevolg van die invloed van Voltaire breek die Franse rewolusie in 1789 uit, wat die denke van die mens radikaal en permanent verander het (Pont, 1991:5). Die mens met sy opvattings verdring die Woord, asook die ampsdraers wat die Woord moet verkondig.
Gedurende die eerste dekades van die negentiende eeu bereik die inmenging van die owerheid in kerklike aangeleenthede ´n hoogtepunt. Vanaf 1805 tot 1810 word die kerke slawe onder die juk van die Roomse koning Lodewyk Napoleon (d’Assonville, 1992:185). Napoleon het ´n plan ontwerp om die Gereformeerde kerke onder ´n biskoplike hiërargie te bring. Kerklike eiendomme is deur die staat gekonfiskeer. Na 1810 is geen provinsiale sinodes meer gehou nie.
Die herstel van die Nederlandse koningshuis in 1814 het vir die kerkregering geen verbetering gebring nie. Vervul met die idees van die Aufklärung en die wyse waarop die kerk in Engeland bestuur word, wend koning Willem I pogings aan om die kerk in Nederland na sy goeddunke te organiseer (Landwehr, 1929:254). ´n Departement van Godsdienssake word in die lewe geroep, wat ´n Algemeen Reglement voor het bestuur van de Hervormde Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden opstel en laat wettig (Pont, 1991:17; d’Assonville, 1992:186).

5.2.3.2.3 Tersaaklike artikels uit die Algemeen Reglement van 1816

Die afwyking van die Gereformeerde beginsel dat besluite van meerdere vergaderings geratifiseer moet word, blyk onder andere uit die volgende artikels uit die Algemeen Reglement:
· Artikel 3: “Het bestuur der Hervormde kerk wordt synodaal, provinciaal en gemeentelijk geoefend.”
· Artikel 4: “De leden der Collegien, waaraan dit onderscheiden bestuur, volgens na te meldene bepalingen wordt opgedragen, stemmen altijd hoofdelijk, zonder eenigszins gebonden te zijn aan lastbrieven van de vergaderingen of kerken, voor welke zij kunnen geacht worden te verschijnen.”
· Artikel 5: “De mindere Kerkbesturen hebben het recht voorstellen in te zenden aan de hoogere, en om in voorkomende gevallen derzelver voorlichting te vragen; terwijl zij daarentegen verpligt zijn de aanschrijvingen te voldoen der hoogere collegien, en in het bijzonder ten spoedigste de berigten en rapporten in te zenden, welke van hen gevorderd worden.”
· Artikel 6: “Een minder Kerkbestuur vermeenende, door de besluiten van een hooger bezwaard te zijn, heeft het recht zich deswegens bij een nog hooger Bestuur te beklagen, onder gehoudenheid nogtans, van aan de ontvangene bevelen inmiddels te gehoorzamen...”
· Artikel 7: “Van alle zaken, bij uitspraak van een Kerkelijk Collegie beslist, valt appèl aan het in rang volgend hooger Collegie, doch ter tweeder instantie beslist zijnde, wordt geen nieuw appèl toegestaan.”
· Artikel 16: “Het hoogste Kerkelijk Bestuur is opgedragen aan de Synode.”
Hierdie enkele artikels weerspieël die gees wat in die geheel van die reglement opgesluit lê. In teenstelling met die Gereformeerde kerkregering word die “bestuur” van die kerk aan die sinode, as hoogste vergadering, toevertrou. Die sinode beskik selfs oor tugreg (vergelyk die vyfde afdeling uit die Reglement op de uitoefening van kerkelijk opzicht en tucht voor de Nederlandsche Hervormde Kerk). Besluite wat deur ´n hoër bestuur geneem is, moet onverwyld en onvoorwaardelik deur die laer besture uitgevoer word. Binding van ´n lashebber aan die mandaat wat die lasgewer aan hom gee, word uitdruklik in die teendeel verander. Appèl is wel moontlik, maar die uitslag daarvan bly ondergeskik aan die besluit van ´n vergadering wat uit mense bestaan, terwyl die besluit waarteen geappèlleer word, voorasnog uitgevoer moet word.

5.2.3.2.4 Slotsom

Met die aanvaarding van die Algemeen Reglement en verwante reglemente het die Gereformeerde kerke in Nederland afstand van hulle Gereformeerd-kerkregtelike fondament gedoen. Die Dordtse Kerkorde is deur hierdie reglement afgeskaf (Scholtemeijer, 1969:193). Kerke stel hulleself nie meer onder die enigste gesag van Jesus Christus nie, maar word aan die wil van kerklike vergaderings gebind. Die ratihabitio van artikel 31 Dordtse Kerkorde, wat die heerskappy van Christus in sy kerke eerbiedig, word vervang deur ´n kerklik geykte sinodokrasie.
Die kerkregtelike verval wat in die Hervormde kerk in Nederland ingetree het, het sy tol ook andersins in die kerklike lewe geëis (Pont, 1991:128). Leervryheid het in die Hervormde Kerk ingesluip. Elke predikant kon preek wat hy wou, en elke lidmaat kon glo soos hy wou (Scholtemeijer, 1969:193). Onskriftuurlike gesange is in die kerk ingevoer (d’Assonville, 1992:183).
Derhalwe moet gekonstateer word dat ´n kerk wat ratificatio welbewus nalaat die heerskappy van Christus verloën. So ´n kerk kan nie anders as om die vryheid wat die Koning waarborg ook te verbeur nie.

5.2.4 1816-1892: Afskeiding en Doleansie

Die kollegialistiese kerkregeringstelsel, wat die grondslag van die Algemeen Reglement van 1816 is, bring - in stryd met onder andere artikels 27 tot 32 NGB - die vrye kerke van Christus onder die juk van kerklike vergaderings. Kerkregtelik gee die invoering van die reglement aanleiding tot twee vrymakings in die negentiende eeu: die Afskeiding in 1834 en die Doleansie in 1886 (Pont, 1991:127).

5.2.4.1 Afskeiding 1834
5.2.4.1.1 Historiese verloop

Die eerste verset teen die wantoestand wat na die invoering van die Algemeen Reglement ontwikkel het, het gekom van die manne van die Reveil: Bilderdijk, Da Costa, Groen van Prinsterer, Van der Kemp en Capedose (Landwehr, 1929:255; d’Assonville, 1992:190). Die Reveil het nie soseer ´n hervorming van die kerk ten doel gehad nie. Aan afskeiding van die bestuursjuk is daar nie gedink nie. Die Reveil was hoofsaaklik teen die ongelowige tydgees van daardie dae gerig. Dit het die mense na die Skrif en die Gereformeerde belydenis teruggeroep (Scholtemeijer, 1969:196).
In die vroeë dertigerjare van die negentiende eeu word die weerstand teen die verval in leer, lewe en kerkregering op ´n spits gedryf. Dominee Hendrik de Cock van Ulrum (1801-1842) word deur die klassikale bestuur aanvanklik aangespreek en later geskors en afgesit omdat hy kinders van ander gemeentes doop en omdat dat hy geen gesange laat sing nie (d’Assonville, 1992:191). In dieselfde tyd word dominee Hendrik Scholte geskors omdat hy sonder verlof van die klassikale bestuur in Ulrum gaan preek het (Bakhuizen van den Brink et al., 1985:188; d’Assonville, 1992:191). Na rype beraadslaging en talle pogings om die wederregtelike skorsings en afsetting ongedaan te maak, besluit die gemeente van Ulrum om tot die ingrypende stap van afskeiding oor te gaan. Die kerkraad, asook talle gemeentelede, onderteken ´n Acte van Afscheiding of Wederkering, waardeur hulle hulself amptelik van die Hervormde Kerk vrymaak (Keizer, 1934:553-578; Scholtemeijer, 1969:199).

5.2.4.1.2 Beoordeling van gebeure

Alhoewel die Afskeiding van 1834 hoofsaaklik weens verval in die leer en Godvresende lewenswandel plaasgevind het (Bos, 1986:10; d’Assonville, 1992:190-191), is die kerkregtelike konsekwensies daarvan verreikend. ´n Kerkraad protesteer teen die onkerkregtelike besluite van ´n meerdere vergadering (Keizer, 1934:314-321). As die meerdere vergadering geen gehoor aan die protes van die kerkraad gee nie, besluit die kerkraad om die optrede van die betrokke vergadering (te wete die wederregtelike skorsing en afsetting van hulle predikant) nie vir vas en bindend te hou nie. Die enigste manier om die optrede van die kerklike besture nie vir vas en bindend te hou nie, was die weg van afskeiding. Die Afskeiding was geen skeurmakery of onskriftuurlike separasie nie (Bos, 1986:7). Vanweë die feit dat die Gereformeerde kerkreg in daardie jare vervang is met ´n genootskaplik-hiërargiese kerkregeringstelsel, was dit die enigste vereiste en moontlike pad van gehoorsaamheid.
Dit is belangrik om op te merk dat die kerke wat hulleself van die Hervormde Kerk afgeskei het, nie ´n nuwe kerk wou wees nie. “Gedurig het die Afgeskeidenes smeekskrifte gestuur waarin daarop gewys is dat hulle ... slegs ´n voortsetting van die ou Gereformeerde Kerk van voor 1816 is” (Scholtemeijer, 1969:200). Inderdaad blyk dit die geval te wees. Met betrekking tot ratificatio het die kerke van die Afskeiding weer ooreenkomstig die ou Gereformeerde beginsel gehandel wat stel dat kerkrade die kerke regeer, en nie sinodale besture nie. Kerkrade is bevoeg om besluite van meerdere vergaderings te toets en, indien hulle ongeldig blyk te wees (soos in die geval van die afsetting van dominees De Cock en Scholte), nie vir vas en bindend te hou nie.
Na die kerkregtelike verval wat sedert 1816 formeel in die Hervormde Kerk ingetree het, het die Afgeskeie kerke (later genoem die Christelijke Gereformeerde Kerken) sedert 1834 - ten spyte van independentistiese optrede in sekere kerke (vergelyk onder andere H.P. Scholte se optrede tot in Pella) - die beginsel van ratificatio weer met die daad toegepas. Dit is ook kerkordelik so vasgelê deur die oorspronklike artikel 31 van die Dordtse Kerkorde in ere te herstel. Tot vandag toe is die ratihabitio onveranderd in die Kerkorde van die Christelijke Gereformeerde Kerken (1967:29) gehandhaaf.

5.2.4.2 Doleansie 1886
5.2.4.2.1 Historiese verloop

Met die Afskeiding van 1834 het die onrus binne die Hervormde Kerk oor die wyse van kerkregering en die steeds oplaaiende vrysinnigheid nie ineens bedaar nie. Baie Gereformeerdes wat nie met die toestande en met die leer en kerkregering in die kerk tevrede
was nie, maar wat tog ook nie die Afskeiding goedgekeur het nie, het in die Hervormde Kerk agtergebly. Groen van Prinsterer, F.L. Rutgers, A.F. de Savornin Lohman en A. Kuyper was van dié wat binne die Hervormde Kerk gedurig op kerkherstel aangedring het (Scholtemeijer, 1969:202; d’Assonville, 1992:194-195).
By verskeie geleenthede is versoekskrifte aan die sinode gestuur waarin gevra word vir die hersiening van die kerklike reglemente om dit in ooreenstemming met Gods Woord en die Dordtse Kerkorde te bring (Scholtemeijer, 1969:202-203). Die versoeke het egter op niks uitgeloop nie. Die toestand in die Hervormde Kerk het, inteendeel, versleg (d’Assonville, 1980:65). Groen van Prinsterer, later ondersteun deur Abraham Kuyper, het hom in die lig hiervan daarop toegelê om oral in Nederland verenigings te stig met die oog op kerkherstel (Scholtemeijer, 1969:203). Teenoor die hiërargie van die Hervormde Kerk bely hulle die Koningskap van Christus in sy kerk (d’Assonville, 1992:194). Deur middel van koerante en traktate word die beginsels van die skriftuurlike, Gereformeerde kerkreg opnuut onder die aandag van die kerkvolk gebring (d’Assonville, 1992:195). ´n Vrije Universiteit op Gereformeerde grondslag word in 1880 geopen, wat as bolwerk vir die Gereformeerde lewe - ook (teen die sin van die Hervormde Kerk) as opleidingsentrum vir predikante - moes dien (Scholtemeijer, 1969:204).
In 1886 lei die stryd teen die Hervormde hiërargie, soos in 1834, tot ernstige konflik. Die klassikale bestuur skors tagtig ouderlinge van die gemeente Amsterdam, saam met hulle predikant doktor Kuyper, omdat hulle weier om attestate af te gee aan enkele vrysinnige jeugdiges wat elders belydenis van geloof wou gaan aflê (Landwehr, 1929:262). ´n Maand later word die hele kerkraad van Kootwijk geskors omdat hulle ´n proponent van die Vrije Universiteit beroep het (d’Assonville, 1992:195). Die magsvergryp van die kerklike besture lei daartoe dat talle kerke begin doleer het (Bakhuizen van den Brink, et al., 1985:193). Afgesette ampsdraers het by die sinode in hoër beroep gegaan, maar dit was tevergeefs. Vir hulle was daar geen ander keuse as om heeltemal met die kerkbestuur te breek nie. Op 16 Desember 1886 het die kerkraad van Amsterdam finaal met die sinodale kerkorganisasie gebreek en hulleself die Nederduitsch Gereformeerde Kerken (Dolerend) genoem (Scholtemeijer, 1969:206).
Soos die kerke van die Afskeiding, was die doel van die dolerende kerke nie om ´n nuwe kerk te stig nie. Hulle het hulself as die voortsetting van die ou Gereformeerde kerke beskou.

5.2.4.2.2 Doleansie-kerkreg

Anders as die broeders van die Afskeiding het dié van die Doleansie tot ´n diepgaande, gefundeerde kerkregtelike besinning oorgegaan, waaruit die sogenaamde Doleansie-kerkreg (Kamphuis, 1967:5) gegroei het. In verband met die toepassing van ratificatio is die Doleansie-kerkreg van groot belang. Daarom word die vernaamste punte daaruit aangeteken. Op dié manier word die kerkregtelike denke van A. Kuyper en F.L. Rutgers, wat respektiewelik “de ziel” en “het denkend hoofd” van die Doleansie genoem is (Bos, 1986:51; Kamphuis, 1967:5), terselfdertyd bespreek.

5.2.4.2.2.1 Wese van die Doleansie-kerkreg

Allereers moet opgemerk word dat die Doleansie-kerkreg geen nuwe of selfstandige soort kerkreg is nie. In wese is dit ´n terugkeer na die ou kerkreg soos dit in die Kerkorde van Dordrecht 1618/19 uitgedruk is. Daardie Kerkorde, en daarmee saam die Gereformeerde kerkreg, is deur koning Willem I met die Algemeen Reglement vervang (Bakhuizen van den Brink et al., 1985:193). Met die Doleansie het die Gereformeerde kerke in Nederland na die oorspronklik Gereformeerde ordening van die kerkverband teruggekeer. Die dolerende kerke het na eenheid op grond van die waarheid gesoek en dit in hulle kerkreg ten volle laat figureer (Kamphuis, s.j.:47).
Die hoofdoelstellings van die Doleansie kan soos volg weergegee word (Trimp, 1986:191):
· die kerk moet van hiërargie vrygemaak word;
· die volkskerk moet ontbind word;
· die Gereformeerde leer en kerkregering moet herstel word.
Die Doleansie-kerkreg konsentreer op die reformasie van die kerkregering.
Kamphuis (1967:5) omskryf die kerkreg van die Doleansie as “het kerkrecht dat zware druk legt op de zelfstandigheid van de plaatselijke kerken, dat het kerkverband confoederatief van aard acht en de belijdenis ziet als accoord van kerkelijke gemeenschap”.

5.2.4.2.2.2 Beginsels van die Doleansie-kerkreg

Uit bogenoemde beskrywing van die wese van die Doleansie-kerkreg blyk dat dit op drie basiese beginsels rus, naamlik:
· die selfstandigheid van die plaaslike kerke;
· die konfederatiewe aard van die kerkverband; en
· die belydenis as fondament vir kerklike gemeenskap.

Die selfstandigheid van die plaaslike kerk
Teenoor die kerkgenootskaplike idee van die Hervormde Kerk, stel die Doleansie opnuut die beginsel dat die plaaslike kerk kompleet kerk, liggaam van Jesus Christus, is (Deddens 1986:65). Omdat die plaaslike kerk kompleet kerk is, is hy selfstandig ten opsigte van die ander kerke met wie hy in die kerkverband saamleef (Deddens, 1986:118). Die kerkverband maak die plaaslike kerk nie tot kerk nie. Die plaaslike kerk is geen deel van ´n groter landskerk of streekskerk, waarsonder hy nie kerk sou kon wees nie.
Uit hierdie beginsel volg dat die plaaslike kerk geen mag bo hom het behalwe die mag van Christus nie. Klassikale of sinodale besture regeer nie die plaaslike kerk nie, en bestuur ook nie die eiendomme van die plaaslike kerk nie. Die enigste besturende kollege in die kerk is die kerkraad (Deddens, 1986:65).

Die konfederatiewe aard van die kerkverband
Ook al word die selfstandigheid van die plaaslike kerk as uitgangspunt gestel, hou die Doleansie-kerkreg eweneens vas aan die Goddelike roeping tot hegte samelewing en verbondenheid in kerkverband, wat gevestig is op die fondament van die Woord (Deddens, 1986:118).
Die kerkverband word beskou as ´n konfederasie. Dit beteken enersyds dat gemeenskap met susterskerke in Christus vereis word. Andersyds mag geen kerk deur ´n susterskerk (of deur maatreëls wat deur owerhede getref word) tot toetreding tot of verblyf in die kerkverband gedwing word nie (Deddens, 1986:65).
Deddens (1986:118) gee die volgende oorsig oor die eise wat die kerke van die Doleansie aan die kerkverband stel. Hulle soek:
· ´n Kerkverband waarvan die belydenis die grondslag is.
· ´n Kerkverband met vaste en goeie afsprake (dit wil sê ´n kerkorde) wat kerke konfederatief met mekaar gemaak het.
· ´n Kerkverband met meerdere vergaderings wie se besluite vir die plaaslike kerke regskrag sal hê en bindend sal wees tensy bewys word dat dit in stryd met God se Woord of die artikels van die kerkorde is.
· ´n Kerkverband waarin die meerdere vergaderings geen hoër vergaderings is nie, maar waarin kerkrade die enigste amptelike kolleges bly.
· ´n Kerkverband wat independentisme en hiërargie afweer.
· ´n Kerkverband van hegte, verenigde kerke, in en deur Jesus Christus.
Die verbond van kerke wat by wyse van kerkverband funksioneer, is geen kerk nie. Die woord “kerk” mag nooit in ´n instituêre sin gebruik word om daarmee die verband van kerke aan te dui nie (Deddens, 1992:57). Deur die konfederasie van plaaslike kerke ontstaan daar geen landskerk waarvan die plaaslike kerke onderafdelings vorm nie (Deddens, 1986:65, 116).
Teen die agtergrond van die stryd oor kerklike eiendomme, wat na die afskeiding van die dolerende kerke in 1886 ontstaan het, blyk dat laasgenoemde nie ´n teoretiese kwessie is nie. Lohman en Rutgers (1887:4, 13) het op grond van die beginsel dat die plaaslike kerk volkome en selfstandig kerk is, beredeneer dat kerkrade ook plaaslik die bestuur van besittings moet hanteer. Die kerkraad is nie onderworpe aan ´n hiërargiese priesterbestuur wat op die eiendomme van die plaaslike kerk beslag kan lê nie.
Uit die standpunt wat oor die kerkverband gehuldig word, vloei noodwendig die noodsaaklikheid van meerdere vergaderings voort. Uit verset teen die hiërargiese bestuursjuk van die Hervormde Kerk het die kerke van die Doleansie op die reformatoriese beginsel teruggeval dat meerdere vergaderings geen hoër vergaderings is nie (Deddens, 1986:65).
Oor die wese van ´n meerdere vergadering word gestel dat dit ´n vergadering van kerklike gesante is, wat opdragte van hulle senders moet uitvoer (Kamphuis, 1967:39). Voordat die gesamentlike arbeid van ´n meerdere vergadering ´n aanvang kan neem, is dit wesenlik dat die gesante hulleself by wyse van kredensie as wettige afgevaardigdes sal legitimeer (Kamphuis, 1967:38) ´n Sentrale gegewe in die Nederlands-gereformeerde kerkreg is die voorskrif uit artikel 33 Dordtse Kerkorde, dat afgevaardigdes na meerdere vergaderings lasbriewe van hulle senders sal inhandig. Alleen langs hierdie weg kan ´n meerdere vergadering gekonstitueer word.
Die verhouding tussen die kerkraad en die meerdere vergaderings word duidelik in die Doleansie-kerkreg uitgespel. As beginsel word gestel dat daar ´n prinsipiële verskil tussen die
wese van die kerkraad en die wese van meerdere vergaderings is (Kamphuis, 1967:38). Teenoor die organisasie van 1816 met hoër en laer besture stel die Doleansie-kerkreg ´n samelewing van plaaslike kerke in een kerkverband, waarin die kerkraad as die vergadering van ampsdraers met amptelike gesag oor die gemeente erken word, terwyl in die meerdere vergadering afgevaardigdes van plaaslike kerke saamkom. Daar is bo die kerkraad geen enkele hoër kerklike mag behalwe die mag van Christus alleen nie. Die klassis en sinode staan nie bo die kerkraad nie (Deddens, 1992:50).
Ten slotte moet nog enkele opmerkings oor die oorsprong van die gesag van meerdere vergaderings gemaak word. Anders as kerkrade, het meerdere vergaderings geen amptelike taak of bevoegdhede van Christus ontvang nie. Hulle take en bevoegdhede is beperk tot dit wat die kerke self vrywillig ooreengekom het (Deddens, 1986:65). Derhalwe is daar geen opklimmende mag, asof die kerkraad die minste en die sinode die meeste mag sou hê nie. Dit is juis omgekeerd: wat die oorsprong van die gesag betref, berus die hoogste mag by die kerkraad, en van die kerkraad daal dit af na die onderskeie meerdere vergaderings (Deddens, 1992:50).
Die aard van die meerdere vergadering se gesag is wesenlik dieselfde as die aard van die kerkraad se gesag. Altwee se gesag is volstrek aan die Skrif onderwerp. Hier beroep die Doleansie hom spesifiek op artikel 36 Dordtse Kerkorde: die seggenskap van die partikuliere sinode oor die klassis word op een lyn met die seggenskap van die klassis oor die kerkraad geplaas (Kamphuis, 1967:38).

Die belydenis as fondament vir kerklike gemeenskap
“Het gereformeerde kerkverband staat of valt met de gehoorzaamheid van het geloof. Daarmee is ook de radicale oppositie met het genootschappelijke kerkrecht gegeven, het kerkrecht zoals dat vanaf 1816 de Hervormde Kerk in Nederland heeft gestempeld. Een kerkrecht, waarin de kerken samengesmolten werden in een belijdenisloze eenheid. Dan gaat de bestuurlijke eenheid boven de waarheid. Weer wordt de eenheidsband niet gevonden in het Woord en in de belijdenis daarvan, niet in de gemeenschappelijke gehoorzaamheid van het geloof, maar de gemeenschappelijke onderwerping aan een bestuur.” Hierdie woorde van Kamphuis (s.j.:46) vat die derde beginsel waarop die Doleansie-kerkreg rus in ´n neutedop saam.
Kerkregering moet altyd diensbaar aan die deurwerking van die heerskappy van die waarheid wees. Die eenheid van die kerk lê in die eenheid van die daadwerklike erkenning van Christus se Koningskap en die eenheid in die skriftuurlike leer (Johannes 17:21, 23). Die Gereformeerde belydenis is die onmisbare grondslag van die plaaslike kerklike lewe en van die kerkverbandelike samelewing (Artikel 29 NGB; Deddens, 1986:65). Daarom is die openlike verklaring tydens ´n meerdere vergadering so belangrik. Die koers van die kerke moet voortdurend konfessioneel bevestig word (Kamphuis, s.j.:48).

5.2.4.2.3 Slotsom

Uit die beskrywing van die Doleansie-kerkreg word dit duidelik dat dit ´n radikale terugkeer na die Gereformeerd-kerkregtelike beginsels van die sestiende-eeuse reformasie is. Op alle fronte word die kerkreg beskou en toegepas soos die kerke dit sedert die Reformasie gedoen het.
Oor die gesag van meerdere vergaderings is dit opmerklik dat die Doleansie-kerkreg ´n onderskeid tussen die oorsprong en die wese van gesag tref. Waar Voetius tot ´n mate ongekwalifiseerd oor die gesag van meerdere en mindere vergaderings handel, met die konsekwensie dat die weg vir hiërargie of independentisme gebaan kan word (vergelyk 5.2.3.1.3), gaan die Doleansie-kerkreg fyner onderskeidend te werk. Wat die oorsprong van gesag betref, is die gesag van die kerkraad meer as dié van die meerdere vergaderings, aangesien die kerkraad regstreekse bevoegdhede van Christus ontvang en die meerdere vergaderings nie. Wat die wese van gesag betref, is dit vir alle kerklike vergaderings egter dieselfde. Alle gesag behoort aan Christus. Watter kerklike vergadering ook al die gesag van Christus bedien, moet dit in absolute gehoorsaamheid aan Hom doen. Buiten Christus is daar geen gesag nie, hoogstens onregmatige heerskappyvoering.
Met betrekking tot ratificatio is die kerke terug op die spoor om besluite van meerdere vergaderings te toets en as hulle eie aan te neem alvorens dit uitgevoer word. Een van die kernmomente in die stryd teen die Hervormde bestuursjuk was juis die onregmatige aanspraak wat meerdere vergaderings op onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan hulle besluite gemaak het. Die alleenheerskappy van Christus is opnuut daarteen bely en in die praktyk van kerkregering eerbiedig.

5.2.5 1892-1944: Nuwe kerkreg en die Vrymaking

Vir die beskrywing van die toepassing van ratificatio in die Gereformeerde kerkreg is hierdie periode een van die vernaamstes in die kerkgeskiedenis. Veral die gebeure kort voor en tydens die Vrymaking in 1944 lewer insiggewende materiaal met betrekking tot die onderwerp. Ten einde ´n breë perspektief op die gebeure te verkry, word eers ´n kort weergawe van die verloop van die geskiedenis in hierdie tydvak gegee. Daarna word die werke van prominente figure krities bespreek.

5.2.5.1 Historiese verloop: 1892 tot 1944
5.2.5.1.1 Beskrywing van gebeure

In 1892 vind ´n vereniging tussen die kerke van die Afskeiding en die kerke van die Doleansie, wat beide daarop aanspraak maak dat hulle ´n voortsetting van die Gereformeerde kerke voor 1816 is (vergelyk 5.2.4.1.2 en 5.2.4.2.1), plaas. Voortaan sou die naam van die verenigde kerke die Gereformeerde Kerken in Nederland wees. ´n Groep van die kerke uit die Afskeiding het nie met die Vereniging in 1892 saamgegaan nie, en bestaan as die Christelijke Gereformeerde Kerken voort (d’Assonville, 1992:195).
Kort na die Vereniging van 1892 het daar binne die Gereformeerde Kerken in Nederland ´n meningsverskil oor die verbond en die doop ontstaan. Doktor A. Kuyper, ´n leidinggewende figuur tydens die Doleansie, het die leer van die veronderstelde wedergeboorte begin propageer (Van Tongeren, 1952:17). Hy word weerlê deur manne uit die kerke van die Afskeiding, onder andere professor L. Lindeboom, dominee T. Bos en dominee J. Kok (Van Tongeren, 1952:21). Tydens die kerke se Sinode van 1905 kom die verskilpunt oor die leer ter tafel. Dié Sinode het die opvattings van doktor Kuyper insake die verbond en wedergeboorte as eensydig in ´n kompromie-formule geakkommodeer (vergelyk Van Tongeren, 1952:22).
Nieteenstaande die uitspraak van die Sinode van 1905 word die opvattings van doktor Kuyper egter steeds gepropageer asof dit suiwer skriftuurlik is (Van Tongeren, 1952:23). Die verkondiging daarvan word só algemeen, dat dit die “gangbare leringen” in die Gereformeerde kerke geword het. Dit is so goed as deel van die Gereformeerde belydenis beskou (Van Tongeren, 1952:25). Professore S. Greijdanus en K. Schilder korrigeer die leer van doktor Kuyper. In reaksie op die korreksie lê die aanhangers van Kuyper se leer ´n klag by die Sinode wat in 1936 te Amsterdam gehou is. Hulle oordeel dat die weerlegging van Kuyper se leer “een beweging is die de kerken vergiftigt” (Meijer, 1964:140). Die sinode neem die klag teen die professore ernstig op deur ´n kommissie te benoem om die behandeling van die
leergeskil voor te berei (Van Tongeren, 1952:25). Tydens die daaropvolgende Sinode (Sneek 1939) doen die kommissie verslag oor die geskil insake die leer. Professor Schilder word daarvan beskuldig dat hy van die Skrif en belydenis afwyk (Van Tongeren, 1952:39). Onder moeilike omstandighede - hy mag nie publiseer nie en moet naderhand selfs onderduik - verweer professor Schilder homself teen die beskuldigings wat teen hom ingebring is, asook teen die wyse waarop die sinode optree (Van Tongeren, 1952:39, 51). Hy maak sy verweer en besware ook aan die kerkraad van Kampen bekend. Hy vra die kerkraad van Kampen asook ander kerkrade om beswaar teen die wyse waarop die sinode sake hanteer, in te bring (Van Tongeren, 1952:51). Die Sinode van Sneek, wat in 1939 begin sit het, oordeel vyf jaar later, in Maart 1944, dat professor Schilder hom aan muitery in die kerke skuldig maak (Lagendijk, 1951:111; Van Tongeren, 1952:52; Janssen, 1955:123-125). Die sinode skors professor Schilder uit sy amp van hoogleraar en as emeritus-predikant van die Gereformeerde Kerk Rotterdam-Delftshaven, sonder om die kerkraad van daardie kerk in die saak te ken (Lagendijk, 1951:115; Van Tongeren, 1952:52). Enkele maande later word professor Greijdanus, emeritus-hoogleraar van Kampen, geskors (ook as emeritus-predikant) omdat hy nie bereid was om hom gewillig aan die uitsprake van die sinode te onderwerp nie (Van Tongeren, 1952:53; Janssen, 1955:149). Later sou die sinode nog meer ampsdraers skors (Lagendijk, 1951:118; Van Tongeren, 1952:156-197), wat daartoe gelei het dat ´n groot aantal kerke hulle vanaf Augustus 1944 van die sinodale bestuursjuk vrygemaak het (Van Tongeren, 1952:56; Janssen, 1955:154-156).
Dat ´n sinode van Gereformeerde kerke ampsdraers skors en afsit, het nie die eerste keer in 1944 gebeur nie. In 1926 het iets soortgelyks gebeur. Doktor J.G. Geelkerken, ´n Gereformeerde predikant, het in daardie tyd ´n storm ontketen weens sy pleidooi om ´n simboliese interpretasie van die geskiedenis in Genesis 1 tot 3 toe te laat. Toe die saak nie binne die kerkraad en die klassis uitgesorteer kon word nie, is dit na die Generale Sinode van Assen verwys. Daardie sinode het doktor Geelkerken tot bekering opgeroep. Laasgenoemde het geweier om van standpunt te verander. In plaas daarvan dat die plaaslike kerkraad doktor Geelkerken oor sy hardnekkige volharding in dwaalleer vermaan en eventueel skors, ondersteun hulle hom in sy siening en laat hulle hom toe om verder te preek. Die sinode het toe ingegryp deur doktor Geelkerken te skors en af te sit. Teen hierdie handeling het beswaar ingekom van professor Greijdanus. Professor Greijdanus het saamgestem dat doktor Geelkerken geskors moes word, maar nie deur ´n sinode nie (Bremmer & Van der Stoel, 1944:7; Berkhof, 1947:296; Meijer, 1964:118-124).

5.2.5.1.2 Evaluering van gebeure

Op die leergeskille wat in 1926 en 1936 tot 1944 ter sprake was, word nie hier ingegaan nie. Die kerkregtelike optrede moet aan die norme van die Gereformeerde kerkreg getoets word. Wat dit betref is daar ´n duidelike ooreenkoms tussen die geskiedenis van 1926 en dié van 1936 tot 1944 te bespeur, alhoewel die onderskeie sake wat in geding was inhoudelik nie met mekaar te doen gehad het nie.

1926
Artikel 79 KO bepaal - ook wat die implementering van die skorsing kragtens artikel 53 KO betref - dat bedienaars van die Woord, wat ´n openbare growwe sonde bedryf of teen hulle ondertekeningsformulier handel, deur die kerkraad en deur die naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade geskors moet word. Daarna moet die klassis met advies van die deputate van die partikuliere sinode oordeel of hulle heeltemal uit hulle amp afgesit moet word. Dit is nie ´n sinode se taak om tug oor bedienaars van die Woord uit te oefen nie. ´n Sinode wat dit wel doen, meng wederregtelik met die regeertaak van die kerkraad in. Derhalwe moet vasgestel word dat die Sinode van Assen 1926 sinodokraties opgetree het (Schilder & Deddens, s.j.:37; Bremmer & Van der Stoel, 1944:8; De Vries, 1990:14). Waar daar slegs ´n uitspraak oor die leer gemaak moes word - wat deur die kerkraad wat oor doktor Geelkerken toesig hou, geratifiseer moes word, sodat hulle kerkregtelik verder kon handel - het die sinode boonop ´n kerkregtelike uitspraak gelewer wat op die kerkraad afgedwing is. Aan die magsvergryp van die Hervormde Kerk, wat direk tot die Afskeiding en die Doleansie aanleiding gegee het, maak die kerke van die Afskeiding en die Doleansie hulle nou self skuldig.
Die gevolg van hierdie ongereformeerd kerkregtelike optrede het weldra geblyk. Sekere kerke het die band met die Gereformeerde Kerken verbreek en die Gereformeerde Kerken in Hersteld Verband gevorm (Berkhof, 1947:296). Die geskiedenis herhaal homself: waar meerdere vergaderings die kerke oorheers deur die kerkrade se reg en plig tot ratihabitio (waaronder ratificatio) te ondermyn, lei dit onvermydelik tot weerstand. Volharding in sinodokrasie lei tot verskeuring van die kerklike samelewing.

1936 tot 1944
Laasgenoemde stelling word bevestig wanneer die gebeure van die periode 1936 tot 1944 in oënskou geneem word. Afgesien van die leeruitsprake wat deur sinodes in hierdie periode gemaak is, blyk dit dat daar kerkregtelik ´n ander, nuwe beskouing en praktyk - wat vreemd aan die kerkreg van die Doleansie is - ontstaan. Veenhof (1949:20) vat die “nuwe kerkreg” soos volg saam:
· “1e. De generale synode heeft het recht haar zittingen te continueeren wanneer zij dat met het oog op het profijt der kerken gewenscht acht.
· 2e. Zij heeft het recht geheel uit eigen initiatief, dus zonder dat de kerken die op haar agenda plaatsen, allerlei kerkelijke zaken, ook welke de leer betreffen, in behandeling te nemen.
· 3e. Zij heeft het recht om van alle kerken, welke binnen het kerkverband willen blijven, altijd en onmiddellijk onderwerping aan en uitvoering van haar besluiten te vorderen. De kerken hebben zeer zeker recht van appèl en gravamen, doch slechts met dien verstande, dat zij altijd moeten beginnen met zich aan de synodale besluiten de facto te onderwerpen, welke bezwaren zij ook mogen hebben.
· 4e. Zij heeft het recht, altijd, waar het maar noodzakelijk dunkt, het initiatief te nemen tot kerkelijke censuur over ambstdragers, met volkomen uitschakeling van de kerk, waaraan de ambstdragers verbonden zijn.”
Kernelemente uit die Gereformeerde kerkreg is aangetas: die duur van meerdere vergaderings (artikel 35 KO), die agenda van meerdere vergaderings (artikels 30 en 33 KO) en die bevoegdhede van meerdere vergaderings (artikel 31 KO in verband met artikels 53 en 79 KO) (vergelyk Janssen, 1955:100-106). Insake artikel 31 KO interpreteer die sinode ratihabitio as direkte aanvaarding en uitvoering, terwyl die “tensy” van die artikel wesenlik gewysig word na “totdat”. Dit beteken dat sinodebesluite bindend is totdat ´n volgende meerdere vergadering uitspreek dat ´n besluit ongeldig is.
Die uiteinde van die sinodokratiese optrede in 1944 was dat kerke hulle ooreenkomstig Handelinge 5:29 - “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (vergelyk ook artikels 7 en 32 NGB) - vrymaak van die onskriftuurlike binding aan leeruitsprake van die sinode (Van Tongeren, 1952:55). Daarmee het hulle nie die kerkverband verbreek nie. Kragtens die ratihabitio van artikel 31 KO het hulle die ongeldige besluite van die sinode nie aanvaar (geaksepteer, geratifiseer) nie, en belowe om die bewyse van ongeldigheid (ostentatio irratideclarationis) te lewer. In reaksie hierop het die sinode die beswaarde kerke verplig om hulle besluite uit te voer, of anders die kerkverband te verlaat (Van Tongeren, 1952:56). Toe die Gereformeerde Kerk Bergschenhoek voet by stuk hou deur die onskriftuurlike sinodebesluite nie te ratifiseer en uit te voer nie, word hy in Augustus 1944 deur die sinode uit die kerkverband verwyder (Van Tongeren, 1952:56, 198).
Op 11 Augustus 1944 word ´n vergadering belê waar beswaarde lidmate, waaronder vele ampsdraers, byeengekom het en waar die Acte van Vrijmaking of Wederkeer voorgelees is (Janssen, 1955:275-280). Die Vrijmaking waarvan hierdie akte melding maak, dui op vrymaking van die sinodale bestuursjuk. Wederkeer dui op terugkeer tot gehoorsaamheid aan die Skrif en die Gereformeerde belydenis (Van Tongeren, 1952:59). Ooreenkomstig die Acte van Vrijmaking of Wederkeer het talle kerkrade hulle van die binding aan sinodebesluite losgemaak. Dit impliseer dat daardie kerkrade ´n bewuste keuse ten gunste van die geskorste ampsdraers en van die ratifikasiereg en -plig van plaaslike kerke gemaak het. Sodoende het hulle buite die kerkverband van die Gereformeerde Kerken in Nederland geraak (Van Tongeren, 1952:193). Die vrygemaakte kerke het met mekaar in verband getree. Die naam van die kerkverband is De Gereformeerde Kerken in Nederland (Van Tongeren, 1952:59). Ter onderskeiding van die “sinodale” kerke, word die kerkverband dikwels nader aangedui met onderhoudend artikel 31 Dordtse Kerkorde of Vrijgemaakt.
Soos die Afskeiding en die Doleansie niks anders as terugkeer na en voortbou op die reeds geformuleerde Gereformeerde beginsels was nie, was ook die Vrymaking in 1944 ´n wederkeer na die “ou paaie” (Jeremia 6:16; vergelyk Janssen, 1955:159-160). Die kerke het hulle nie van hulle ratificatio-plig laat beroof nie.

5.2.5.2 Gedagtes van prominente figure uit die periode 1892 tot 1944

In die periode 1892 tot 1944 was daar sowel uitgesproke voor- as teenstanders van die reg en plig van ratificatio. Omdat die doel van hierdie verhandeling is om die belang van die ius ratificationis vir die Gereformeerde kerkreg na te vors (vergelyk 1.4), word hoofsaaklik na die werke van die voorstanders daarvan verwys. Ter wille van volledigheid word aan die sienswyses van enkele teenstanders aandag gegee.

5.2.5.2.1 H. Bouwman

In sy omvangryke studie oor die Gereformeerde kerkreg, wat gedurende die dertigerjare van hierdie eeu vir die eerste keer gepubliseer en in 1970 onveranderd herdruk is, maak doktor H. Bouwman waardevolle opmerkings wat op die onderwerp betrekking het.

5.2.5.2.1.1 Kerkverband

Volgens Bouwman (1970:12) berus kerkverband prinsipieel op die eenheid van die kerke in Christus. Praktiese beoefening van eenheid is slegs by kerke van gemeenskaplike belydenis moontlik. Sonder eenheid in die belydenis kan daar geen eenheid in beoefening van ´n Gereformeerde kerkverband wees nie (1970:13).
Kerkverband kom tot stand deurdat plaaslike, selfstandige kerke hulle aan mekaar verbind. Dit impliseer dat die plaaslike kerk aan die kerkverband voorafgaan (1970:13). Die verskillende plaaslike kerke smelt nie in een klassikale kerk saam nie. Hulle word nie onderafdelings van een groot kerk, sodat hulle vryheid en selfstandigheid opgehef sou word nie (1970:14).
Die plaaslike kerk ontleen die reg en mag van Woord-, sakrament- en tugbediening nie aan die kerkverband nie, maar aan Christus. Die regte wat aan die plaaslike kerke toekom, mag nie van hom weggeneem en aan die kerkverband gegee word nie. Die kerkverband mag op geen manier die vryheid en selfstandigheid van die plaaslike kerke aantas nie. Dit moet wel die vryheid en selfstandigheid van die plaaslike kerk bevorder en bewaar (1970:14).
Volgens Bouwman is dit nie gewens om te praat van die absolute soewereiniteit of outonomie van die plaaslike kerke nie. Die Here is die Wetgewer. Die kerke kan nie hulle eie (outos) wet (nomos) maak nie (1970:15). Die vryheid en selfstandigheid van die plaaslike kerke mag derhalwe nie opgevat word asof hulle hul nie aan die susterskerke en aan die uitsprake van meerdere vergaderings hoef te steur nie (1970:14). Wanneer die kerke eenmaal in kerkverband saamgekom het, is hulle aan die orde van die kerkverband gebind. Hierdie binding is nie in stryd met die kerke se vryheid nie, omdat Gods Woord die enigste reël vir geloof en lewe is. Dié reël geld vir die individuele lidmate, vir die plaaslike kerk, sowel as vir die meerdere vergaderings (1970:15).

5.2.5.2.1.2 Meerdere vergaderings

Bouwman beskou ´n meerdere vergadering as ´n samekoms van meerdere kerke. ´n Meerdere vergadering word saamgestel uit afgevaardigdes van plaaslike kerke wat deur middel van ´n kredensiebrief reg van sitting verkry (1970:17, 21, 28). Die reg tot sitting van meerdere vergaderings word deur middel van kredensie- en lasbriewe verleen (1970:61).
Anders as die kerkraad, is die meerdere vergadering geen vaste kollege nie. Derhalwe het die meerdere vergadering ook geen eie, selfstandige, volledige mag nie. In navolging van Voetius (vergelyk 5.2.3.1.1) beskou Bouwman die mag van meerdere vergaderings as afgelei, beperk (1970:18, 21, 22, 27). Die mag van meerdere vergaderings is niks anders as broederlike hulp nie. Besluite moet geneem word soos broeders van dieselfde huis dit behoort te doen (1970:57, 66). Die mag om besluite te neem lê nie in die feit dat die aanwesige deputate ampsdraers is nie, maar in die feit dat die aanwesige ampsdraers wettig deur die kerke gedeputeer en met mag beklee is om namens die deputerende kerke te handel (1970:21).
Die woord “meerdere” wys op die groter aantal kerke wat op ´n meerdere vergadering verteenwoordig is en ook op die meerdere gesag wat die vergadering uitoefen. Die gesag is “meerder” omdat ´n groter hoeveelheid kerke, deur hulle afgevaardigdes, hulle gesag verenig (1970:18). Dit beteken nie dat die meerdere vergaderings hoër gesag of bestuursmag het nie. Ook tydens die sitting van ´n klassis of sinode bly die mag van die kerke dieselfde (1970:18). In die meerdere vergaderings voeg die kerke deur middel van hulle afgevaardigdes hulle magte saam, en kan daar gepraat word van ´n mag in hoër graad. Die mag van die sinode is in bepaalde gevalle groter as dié van ´n enkele kerk, byvoorbeeld in geval van hoër beroep (1970:19).

5.2.5.2.1.3 Bindingskrag van besluite

Met die aanvaarding van die kerkorde erken die plaaslike kerke die gesag van meerdere vergaderings en verbind hulle hul vrywillig aan die besluite van sulke vergaderings (1970:47, 63). Wanneer ´n plaaslike kerk tot die verband van kerke toetree, ontvang hy leiding en steun van die ander kerke. Dan moet hy homself ook aan die leiding van die meerdere vergaderings onderwerp. Dit is geen invoer van hiërargie in die kerk nie, maar ´n gesamentlike onderwerping aan die juk van Christus en ´n gesamentlike soeke na die handhawing van God se reg (1970:39). Bowendien berus die gesag van sinodes op ´n Goddelike instelling. Wie hom teen die Christus-gegewe mag verset, tas die ordinansie van God aan (1970:49).
Meerdere vergaderings beskik nie alleen oor die bevoegdheid om raad en advies te gee nie. Hulle beskik kragtens Matteus 18:20 en Handelinge 15:22-29 inderdaad oor die bevoegdheid om bindende besluite te neem (1970:49, 52).
Meerdere vergaderings mag die plaaslike kerke nie willekeurig bind en sodoende die vryheid en selfstandigheid van die plaaslike kerke aantas nie (1970:50).
Geldige besluite moet deur die kerke aanvaar en uitgevoer word. Dit is die eis van die kerkverband (1970:21, 53, 59). Wanneer ´n kerkraad of ´n groot deel van die kerkraad weier om die beslissing van ´n sinode te erken, het die sinode die reg om die kerkraad die uitoefening van die amp te ontneem (1970:27) of van die kerkverband af te sny (1970:75).
In geval van appèl moet die reël gehandhaaf word dat ´n mindere vergadering (dit sluit ´n plaaslike kerk en individuele lidmaat in) sal begin deur hom te onderwerp aan en te voeg na die genome besluit. Die meerdere vergadering kan later uitmaak of die beswaardes grondige motiewe vir hulle beswaar gehad het al dan nie (1970:45).

5.2.5.2.1.4 Hantering van besluite

Besluite tydens meerdere vergaderings word gemeenskaplik deur die kerke, deur middel van hulle afgevaardigdes, geneem. Daarna word die opgetekende besluite (acta) aan al die kerke in die kerkverband gestuur, sodat die kerke kan ondersoek of dit in ooreenstemming met God se Woord en die artikels van die kerkorde is, en sodat hulle die besluite van die meerdere vergaderings kan onderhou (1970:53).
Wanneer ´n besluit geldig is, moet die kerke dit as sulks aanvaar en uitvoer (1970:21, 53). As ´n besluit van ´n meerdere vergadering egter met God se Woord of die geldende kerkorde in stryd is, mag die kerke dit nie gehoorsaam nie. In daardie geval moet dit bewys word (1970:21, 55, 58, 61). Die onus rus op die mindere vergadering om die nodige bewyse vir ongeldigheid te lewer (1970:56, 57).
Indien ´n plaaslike kerk oordeel dat ´n meerdere vergadering sy bevoegdheid oorskry deur byvoorbeeld dissiplinêr te eis dat ongeldige besluite uitgevoer moet word, moet so ´n kerk eerder uit die kerkverband tree as om teen die Woord van God en sy eie gewete te handel (1970:57).

5.2.5.2.1.5 Beoordeling

Alhoewel Bouwman aan die beginsels van die Gereformeerde kerkreg wil vashou, is daar by hom inkonsekwentheid waar dit kom by die toepassing van die beginsels. Enersyds ag hy die mag van die meerdere vergadering slegs as “broederlike hulp”. Andersyds identifiseer hy hom met die optrede van die Sinode Assen 1926 deur daarmee akkoord te gaan dat sinodes tugreg het wat deur die kerkrade erken moet word. Beide standpunte is in stryd met artikel 31 KO. Ratificatio gaan daarvan uit dat meerdere vergaderings besluite kan neem wat kerke bind. Dit is meer as “broederlike hulp”. Ratificatio gaan ook daarvan uit dat ´n meerdere vergadering geen onvoorwaardelike erkenning van sy besluite kan vereis nie, aangesien die besluite eers aan die norm van Gods Woord en die geldende kerkorde getoets moet word.
´n Verdere inkonsekwensie blyk wanneer Bouwman aan die een kant - met juistheid - sê dat, as ´n besluit met Gods Woord in stryd is, dit nie uitgevoer mag word nie. Aan die ander kant sê hy - verkeerdelik, moontlik as gevolg van die praktyk van die Sinode van Assen 1926 - dat meerdere vergaderings tugreg het en kerke moet begin om hulle aan die besluite van meerdere vergaderings te onderwerp. Die “tensy” van artikel 31 KO verander in “totdat”.
Die slotsom waartoe gekom word, is dat Bouwman wel die beginsel van ratificatio wil handhaaf, maar die handhawing nie in die praktyk konsekwent volhou nie. Sodoende is sy werk tekenend van die kerkregtelike toestand waarin die Gereformeerde Kerken in Nederland hulle in die jare tussen 1926 en 1944 bevind het.

5.2.5.2.2 P. Deddens

Die duidelikste uiteensetting van die toepassing van ratificatio in die jare van die Vrymaking word aangetref in professor P. Deddens se inougurele rede getiteld De ratificeering der besluiten van meerdere vergaderingen (1946). ´n Samevatting van die wesenlike sake uit die rede word weergegee, asook tersaaklike opmerkings wat Deddens in die geskrif Eerste- en Tweedehands gezag gemaak het.

5.2.5.2.2.1 De ratificeering der besluiten van meerdere vergaderingen

Alvorens Deddens in sy inougurele rede ratificatio teties uiteensit, gee hy ´n oorsig oor die historiese agtergrond en prinsipiële onderbou daarvan. Hy stel dat die kerk van die Here ´n toevlugsoord van vryheid is (1946:3). Buite die kerk heers die skepsel. Binne die kerk is geen mens iemand anders se meester nie. Slegs een Woord geld, waaraan almal gehoorsaam moet wees: die Woord van God.
Dit is die kerk se roeping om daardie vryheid te bewaar en geen juk van enige ander skepsel te aanvaar nie (1946:4). Die oomblik as die kerk die vryheid in die Here verloor, kom hy onder die mag van die kreatuur te staan. Alle heerskappy van mense in die kerk, van ampsdraers
onderling of van kerke ten opsigte van mekaar, is aanranding van die gesag van die enigste Despoot, Jesus Christus, en ´n aanslag op die vryheid wat Hy verwerf het.
Talle voorbeelde uit die geskiedenis wys hoe Christus se alleenheerskappy in die kerk misken word: opkoms van die monargiese episkopaat, vestiging van kerklike hiërargie, ontwikkeling van die staatskerk in die dae van Konstantyn en daarmee gepaardgaande sinodokrasie. Uiteindelik ontvang die pous as Vicarius Christi onbeperkte mag oor die hele kerk (1946:5). Hy maak wette, maar is self nie aan die wette gebind nie. Konsiliebesluite moet eers sy toestemming verkry alvorens dit regsgeldig is en gepubliseer kan word. Die vryheid van die kerk word beperk tot gehoorsaamheid aan die pous.
Teen hierdie geestelike tirannie het die reformatore hulle verset deur te appelleer op Christus se Woord. Hulle kom op vir die regte van die gemeente, wat in die Woord vasgestel is. In die Naam van Christus ontken Luther dat die pous, biskoppe en konsilies alleen die reg het om te oordeel oor wat Christelik is. Christus gee daardie reg immers aan elke Christen in besonder en aan alle Christene in die algemeen. Ook Zwingli gaan uit van die absolute gesag van God se Woord teenoor die hiërargie van Rome. Calvyn is die reformator wat die lyne met betrekking tot die hiërargie die skerpste getrek het (1946:6). Calvyn sê: alle gesag en waardigheid in die kerk is nie aan die mens self gegee nie, maar aan die diens waarin die mens gestel is. Konsilies moet met die weegskaal van die Skrif geweeg word.
Die vrees vir menslike heerskappyvoering in en oor die kerk is so sterk, dat artikel 1 van die Emdense Kerkorde begin met doelbewuste bestryding daarvan: “Gheen Kercke sal over een ander Kercke, gheen Dienaer des Woorts, gheen Ouderlinck, noch Diaken sal d’een over d’ander heerschappie voeren, maar een yeghelijck sal hen voor alle suspicien, ende aenlockinge om te heerschappen wachten”. Met die erkenning van hierdie beginsel staan of val die reformasie in sy geheel (Deddens, 1946:9). Alle ander artikels in die kerkorde wat oor meerdere vergaderings handel, staan hiermee in verband. Wie die reg en vryheid van die plaaslike kerke misken, verwerp artikel 1 van die Emdense Kerkorde en “pleegt een aanslag op het fundament der Reformatie”.
Aan die hand hiervan beoordeel Deddens die sinodale optrede van die Gereformeerde Kerken in Nederland rondom 1944, en kom hy tot die volgende slotsom:
· ´n Sinode wat op eie inisiatief die belydenis uitbrei, raak aan die fondament van die reformasie.
· ´n Sinode wat eiemagtig sy sittings kontinueer, raak aan die fondament van die reformasie.
· ´n Sinode wat teen die kerkorde in ampsdraers skors en afsit, raak aan die fondament van die reformasie.
· ´n Sinode wat met totale negering van die plaaslike kerkraad ampsdraers uitsluit van nagmaal, raak aan die fondament van die reformasie.
Die finale slotsom waartoe hy kom, is: “Een Synode, die het ius ratificationis naar artikel 31 ontkent, en daarmee, naast de vrijheid der Kerken, het geweten der Kerkleden gebonden heeft, is zoover gekomen, dat zij het beheerschende artikel der Kerkenordening in den hartader heeft getroffen, de Kerkenordening heeft prijsgegeven en het fundament der Reformatie heeft ontwricht” (1946:10).
Hierdie slotsom, wat na aanleiding van genoemde historiese gebeure gemaak is, word in die vervolg van die rede aan die hand van artikel 31 KO toegelig en bewys. Die toeligting word ter wille van oorsigtelikheid puntsgewys weergegee.
1. Meerdere vergaderings neem, nadat daar gestem is, besluite. Hulle stel geen advies op nie, maar oordeel, beslis, besluit. Die reg om besluite te neem is kragtens die “gemeen accoord” van die kerke aan hulle gegee. In die kerkorde van die Gereformeerde kerke is daar geen ruimte vir independentisme nie. Wie opkom vir die vryheid van die plaaslike kerke, mag onder geen omstandighede die vasgelegde regte van die kerkverband te na kom nie (1946:11).
2. Op die besluit-daad van die meerdere vergadering moet nou ´n tweede daad volg. Hierdie tweede daad kom van die kant van die kerke. Die kerke moet, volgens belofte, die besluit van die meerdere vergadering vir vas en bindend hou (1946:11).
3. Die belofte wat die kerke maak, is nie onvoorwaardelik nie. Die kerke belowe om sinodebesluite vir vas en bindend te hou, tensy. Daar is ´n grens. Die grens is God se Woord en die kerkorde. Indien ´n meerdere vergadering die grens oorskry, hou die kerke die besluit wat geneem is nie vir vas en bindend nie. Dan is so ´n besluit ook nie bindend nie (1946:12).
4. Dit is die reg van die kerke om ooreenkomstig artikel 31 KO in bepaalde gevalle sinodebesluite nie vir vas en bindend te hou nie (1946:12).
5. Die plig van die kerke is om die grenswag te betrek deur in ooreenstemming met artikel 31 KO die sinodebesluite te toets. Kerke moet toesien dat God se Woord ongeskonde bewaar bly. Versaking van die plig - die geskiedenis wys dit keer op keer - lei vroeër of later tot die noodlottigste gevolge (1946:12).
6. Sodra die kerke na toetsing oortuig is dat die besluit van die meerdere vergadering reg en goed is, dat dit nie met die dubbele voorbehoud van artikel 31 KO in stryd is nie, dan eers ratifiseer hulle die besluit. Hulle bekragtig dit, en voer dit uit (1946:12).
7. Ratifisering is ´n geïntegreerde deel van die reg insake die geldigheid van besluite van ´n meerdere vergadering. Sonder ratifisering van die kant van die kerk het die besluit van ´n meerdere vergadering geen regsgeldigheid, geen regskrag vir daardie kerk nie, aangesien die “rechtstitel” ontbreek (1946:12).
8. Die argument dat kerke in ´n sinode byeenkom en besluite neem, en dat die beslissing deur die kerke in die sinodale vergadering tewens hulle ratificatio is, is onjuis. ´n Afgevaardigde en die kerk wat hom afvaardig kan nie met mekaar geïdentifiseer word nie. Die afgevaardigde se werk kan en moet altyd deur die afvaardiger getoets en bekragtig (geratifiseer) word (1946:13).
9. Deddens beroep hom op Calvyn, wat sê dat ´n konsilie of sinode slegs voorlopig kan oordeel; die volgende en definitiewe oordeel berus by diegene wat deur die besluite geraak word (Institusie IV, 9, viii). “Dat volgend oordeel is dan de ratificeering, approbatie, bekrachtiging, goedkeuring der Synodebesluiten” (1946:12).
10. Artikel 36 KO (oor die seggenskap van meerdere vergaderings) staan in geen enkele opsig teenoor artikel 31 KO nie. Dit staan ook nie aanvullend langs artikel 31 KO nie. Artikel 36 KO is niks anders as ´n nadere onderstreping - met die oog op die praktyk - van dit wat artikel 31 KO reeds uitgespreek het nie (1946:13-16).
11. Die reg van ratifisering van besluite van meerdere vergaderings het hoogstaande waarde. Dit handhaaf die vryheid en selfstandigheid van die plaaslike kerke. Dit dien as beskerming teen die immer opstuwende mag van hiërargie, en wel hiërargie in sy gevaarlikste vorm: “het niet ontzien van de rechten van het aan Gods Woord getoetste geweten” (1946:16).
12. “Neem uit artikel 31 het ratificeeringsrecht weg, en mét de vrijheid der Kerken is de vrijheid van geweten aan banden gelegd; één van de beide hoofdpeilers, waarop het kerkelijk recht in de praktijk steunde, is weggeslagen, de Kerkenordening is prijsgegeven, het fundament der Reformatie is ontwricht” (1946:17).
13. Deddens bespreek ten slotte die vraag of toepassing van die reg tot ratificatio nie tot chaos in die kerklike lewe lei nie. Hy antwoord: alle ampsdraers onderteken die drie formuliere van eenheid (artikels 53 en 54 KO). As daardie ondertekening ernstig opgeneem word, lei ratificatio nooit tot chaos nie. Inteendeel, onderwerping aan die Woord kom nooit bedroë daarvan af nie. Die mag van die Woord is sterker as alle gesag van sinodebesluite. Verbum Dei vincit (1946:17).

5.2.5.2.2.2 Eerste- en Tweedehands gezag

In hierdie geskrif, wat Deddens saam met Schilder die lig laat sien het, reageer hy op bewerings wat ten tye van die Vrymaking gemaak is, naamlik dat ratificatio van sinodebesluite deur ´n mindere vergadering ´n vreemde en ongereformeerde praktyk is (s.j.:48). Hy verwys na die optredes van die mindere vergaderings in die jare 1571 tot 1620 (vergelyk 2.1.2.2.1.3 en 5.2.2.2) asook na die werke van F.L. Rutgers en J. Jansen (s.j.:50) om aan te toon dat ratificatio so oud soos die Gereformeerde kerkreg self is.
Deddens wys voorts op die kerkregtelike beginsel wat onderskeid maak tussen die oorspronklike (amptelike) gesag van die ampsdraers in die plaaslike kerk en die afgeleide (nie-amptelike) gesag van afgevaardigdes na ´n meerdere vergadering. Meerdere vergaderings het geen eie bevoegdheid waardeur hulle op eie gesag kan ingryp in die sake wat op die tafel van ´n mindere vergadering tuishoort nie. Meerdere vergaderings ontvang hulle bevoegdheid as ´n afgeleide bevoegdheid wat deur mindere vergaderings aan hulle opgedra is (s.j.:46).
In verband met die verskil tussen die bevoegdheid (gesag) van ´n kerkraad en dié van ´n meerdere vergadering merk Deddens elders op dat “oneindig ver boven alle gezag van mensen uit het gezag van Christus rijst, die spreekt door Zijn Woord” (1956c:195). Dit beteken dat nòg ´n kerkraad, nòg ´n sinode onvoorwaardelike onderwerping aan sy besluite kan verwag (1956a:186; 1956c:195).

5.2.5.2.2.3 Beoordeling

Deddens se omskrywing van ratificatio omvat sowel die goedkeuring (finale oordeel) van ´n besluit van ´n meerdere vergadering as die bekragtiging (aanneming) van so ´n besluit. Ratificatio is by Deddens gelyk aan ratihabitio, met uitsondering van die executio (uitvoering) van ´n geldige besluit van ´n meerdere vergadering.
In paragraaf 2.1.2.6.2 is aangetoon dat die ratihabitio van artikel 31 KO uit drie dele bestaan: toetsing (probatio) wat uitloop op goedkeuring of geldigverklaring (ratideclaratio) van ´n besluit van ´n meerdere vergadering, aanvaarding (acceptatio) van die geldigverklaarde besluit, en ten slotte uitvoering (executio) van daardie besluit. Deddens se beskrywing van ratificatio bevat een element meer as wat in hierdie verhandeling voorgestel word, naamlik die geldigverklaring van ´n besluit.
Die positiewe van Deddens se studie oor ratificatio is die breë konteks waarbinne hy dit stel. Teen die immer dreigende gevaar van sinodokrasie is dit onmisbaar dat kerkrade die “grenswag betrek” deur toe te sien dat die Woord van God ongeskonde bewaar bly. Ratificatio is inderdaad geen “sine cure”, geen “bewilliging pro forma” nie (Deddens, 1946:12). Getroue bewaking van die grense kom neer op aktiewe, welbewuste gehoorsaamheid aan Jesus Christus, die Koning van die kerk. In die Vrymaking was en is die bevestiging van hierdie beginsel uit die Gereformeerde kerkreg van kardinale belang.
Dit moet wel opgemerk word dat Deddens, wat die eerste breedvoerige studie oor ratificatio gemaak het, nie al vier stappe in die proses van ratihabitio noukeurig van mekaar onderskei nie. Die gevolg hiervan is dat die eintlike betekenis van ratificatio, dit is die kerkraad se eie-maak van besluite van ´n meerdere vergadering, onderbeklemtoon kan word.
Ratificatio, soos in hierdie verhandeling gedefinieer, is wesenlik nie anders as dit wat Deddens daaronder verstaan nie. Dit is wel ´n wetenskaplike verfyning van Deddens se standpunt in hierdie saak.

5.2.5.2.3 K. Schilder

5.2.5.2.3.1 Ratificatio en Eerste- en Tweedehands gezag

In die voorwoord vir die brosjure getiteld Eerste- en Tweedehands gezag skryf Schilder (s.j.:5) dat die grondvraag met betrekking tot die kwessie of ´n sinodebesluit deur ´n kerkraad geratifiseer moet word al dan nie, die volgende is: “Heeft een synode primair dan wel secundair gezag?”. In aansluiting by Deddens is Schilder van mening dat die gesag van ´n meerdere vergadering, wat die oorsprong daarvan betref, anders is as die gesag van ´n kerkraad (s.j.:12). Die gesag van sinodes is naamlik ontleen, tydelik, aksidenteel, beperk, sekondêr, tweedehands (s.j.:13); anders as die eerstehandse gesag van die kerkrade (vergelyk die titel).
Uit die veronderstelling dat meerdere vergaderings sekondêre gesag het, vloei as vanselfsprekend voort dat die kerkraad wat oor primêre gesag beskik, verplig is om die besluite van die meerdere vergadering te toets (s.j.:17). Die besluite van sinodes word derhalwe aan die kerke bekendgemaak, sodat kerkrade kan beslis wat hulle daarmee sal doen (s.j.:39).
´n Afsonderlike moment in die kerkregtelike proses rondom besluitneming is “het ratificeeren en arresteeren (het voor vast en bondig houden) der synodale besluiten” (s.j.:39). Daarvoor is die plaaslike kerke self verantwoordelik. Om besluite van ´n meerdere vergadering vir vas en bindend te hou (ratum habere) beteken nie slegs dat die besluite in ´n teoretiese sin as geldig beskou word nie. Ratum habere impliseer dat besluite met die daad aangeneem (geratifiseer) word. Ratificatio is ´n opsetlike, bewustelike, afsonderlike handeling van die kant van die kerkraad (s.j.:39).
Kerkrade word nie voor ´n keuse gestel of hulle wel of nie wil ratifiseer nie. Dit móét gedoen word, aangesien die kerke dit deur middel van hulle kredensiebriewe by voorbaat vir mekaar belowe het (s.j.:39). Trouens, “reeds de daad van het neemen eener beslissing door de meerdere vergadering zelf houdt een erkenning van het recht der kerken tot zelfstandige toetsing der genomen besluiten, ja, de roeping daartoe in” (s.j.:7). Wie nie ´n independent is of wil wees nie, sal seker sy ratificatio-belofte nakom, selfs al sou hy persoonlik nie heeltemal met die verloop van sake saamstem nie (s.j.:39).
Teenoor aantygings dat ratificatio - soos dit tydens en na die Vrymaking toegepas is en word - kerkverwoestend werk, merk Schilder op dat die teendeel die geval is. Deur te ratifiseer word die kerke beskerm teen ´n binding aan iets wat deur mense bedink is (Schilder, 1946:80, 86-87). Ratificatio is ´n middel om eenheid op grond van die waarheid te bevestig.
Oor die effek van nie-ratifikasie en nie-arrestasie van ´n ongeldige besluit, oordeel Schilder dat die kerkverband nie daarmee gebreek word nie (s.j.:41). Omdat die kerkverband in artikel 31 KO die weg tot ratificatio geopen het, is sulke vrese ongegrond. Hoogstens die manier waarop ´n mens hom tydens en ten opsigte van die nie-ratifikasie gedra, hoogstens die “tegniek” van die beswaard wees kan die kerkverband in gevaar bring. Daarteen moet die sinode sowel as die beswaarde waak (s.j.:41).

5.2.5.2.3.2 Beoordeling

Ratificatio rus volgens Schilder in die verhouding wat daar tussen die kerkraad (as lasgewer) en die sinode (as vergadering van lashebbers) bestaan. Omdat ´n lashebber verantwoording aan sy lasgewer verskuldig is, is ratificatio noodsaaklik. Dit is verder noodsaaklik omdat sinodes nie die kerk regeer nie, maar wel die kerkraad (vergelyk 2.1.2.2.1.4).
Behalwe dat Schilder nadruk lê op die verhouding tussen lasgewer en lashebber, kom sy omskrywing van ratifikasie wesenlik met dié van Deddens ooreen. Ratificatio is goedkeuring en aanvaarding van die geldige besluite van meerdere vergaderings, dit wil sê gelyk aan ratihabitio met die uitsondering van executio.

5.2.5.2.4 C. Veenhof

5.2.5.2.4.1 Ratificatio en die “nuwe kerkreg”

Sowel in sy Om de Unica Catholica: een beschouwing over de positie van de bezwaarden onder en over de synodocratie (1949) as in sy In den chaos: een woord over de huidige crisis in de Gerefomeerde Kerken (s.j.) toon Veenhof aan hoe die reg en plig van ratificatio ´n voortbouing op die Doleansie-kerkreg is.
Veenhof stel dat die aanleiding tot die prominente vooropstelling van die ratifikasiereg gesoek moet word in ´n “geheel nieuwe kerkrechtelijke beschouwing en praktijk” wat sedert 1926 met die Sinode van Assen prinsipieel van die Doleansie-kerkreg afgewyk het (1949:20). Die kerkreg van die Doleansie het die selfstandigheid van die plaaslike kerk opnuut beklemtoon en die verhouding tussen die mindere en meerdere vergaderings duidelik uitgespel (1949:236). Sedert 1926 - toe die Sinode van Assen doktor J.G. Geelkerken wederregtelik afgesit het - is die kerkregtelike basis waarop die Doleansie die Gereformeerde Kerken gestel het, verwerp (1949:236). In 1944 bereik die verwerping van die basis volgens Veenhof ´n dieptepunt, toe die sinode aan homself ´n regeermag oor die plaaslike kerk toegeken het. Dit is in wese ´n terugval in die Roomse en sinodale hiërargie.
Teenoor die wanpraktyke wat in die Gereformeerde kerke plaasvind, en op grond van die Doleansie-kerkreg, stel Veenhof dat die mag van die kerkraad in sy aard hoër is as die mag van ´n meerdere vergadering (s.j.:60). Hy begrond hierdie stelling deur daarop te wys dat die kerkraad van Christus regstreeks oorspronklike, volledige en duursame mag verkry. Die mag van die meerdere vergaderings is via die kerke aan hulle gegee, en derhalwe afgelei, beperk en tydelik (s.j.:60).
Veenhof beskou ´n meerdere vergadering as ´n vergadering van kerke (s.j.:67). Dit is nie ´n vergadering van ampsdraers soos ´n kerkraad nie. In ´n meerdere vergadering is kerke deur hulle afgevaardigdes verteenwoordig. Die afgevaardigdes is nie daar kragtens hulle amp nie, maar kragtens hulle afvaardiging.
Omdat ´n meerdere vergadering geen hoër vergadering is nie, kan daar nooit sprake wees van gehoorsaamheid wat die kerkrade aan hulle verskuldig is nie. Die besluite van ´n meerdere vergadering het gesag omdat die kerke beloof het om besluite vir vas en bindend te hou. Aanvaarding en uitvoering van besluite kom neer op die nakom van onderlinge afsprake (s.j.:67).
Aan die aanvaarding van besluite is daar van meet af aan ´n grens gestel. Besluite van meerdere vergaderings wat volgens die oordeel van die betrokke kerkrade of persone in stryd met God se Woord of die geldende kerkorde is, sal nie vir vas en bindend gehou word nie. Die “tensy” van artikel 31 KO is die skarnier waarop die hele Gereformeerde kerkregering draai (s.j.:68).
Vir vas en bindend hou beteken: die besluit van harte oorneem en uitvoer. Die kerkraad spreek in die “vir vas en bindend hou” die laaste woord. Indien die kerkraad oordeel en verklaar dat hy ´n besluit nie vir vas en bindend kan of mag hou nie, moet daar twee dinge gebeur: hy voer die besluit nie uit nie (teen hiërargie), en hy moet aan die kerkverband bewys lewer waarom hy nie kan ratifiseer nie (teen independentisme) (s.j.:68).

5.2.5.2.4.2 Beoordeling

Waar Veenhof na ratificatio as die “oorneem” en “uitvoer” van besluite van meerdere vergaderings verwys, stel hy ratificatio gelyk aan ratihabitio.
Veenhof koppel die binding aan die besluite van ´n meerdere vergadering aan die afspraak wat die kerke in die meerdere vergadering met mekaar het. Volgens hom het die besluite van ´n
meerdere vergadering gesag omdat die kerke beloof het om besluite vir vas en bindend te hou. Aanvaarding en uitvoering van besluite is gevolglik ´n kwessie van die nakom van onderlinge afsprake. Hierdie gevolgtrekking is ontoereikend. Binding aan besluite is nie slegs om ´n onderlinge belofte te hou nie. Daarmee word ratificatio verhorisontaliseer. Binding aan geldige besluite is in die eerste plek onderwerping aan die alleenheerskappy van Christus in die kerk. Daartoe moet ratificatio bydra.

5.2.5.2.5 Ander persone in die tyd van die Vrymaking

5.2.5.2.5.1 H. Dooyeweerd en D.H.T. Vollenhoven

Die manne van die Wysbegeerte van die Wetsidee, professore Dooyeweerd en Vollenhoven, het ´n beswaarskrif ingedien teen die skorsing van professor Schilder (Veenhof, 1949:219). Uit die beswaarskrif en uit ander korrespondensie wat hulle gevoer het, word dit duidelik wat hulle kerkregtelike siening rondom artikel 31 KO was. Veenhof (1949:224, 225) gee dit soos volg weer:
1. Die generale sinode is geen vergadering van kerke nie, maar van afgevaardigdes van kerke. Die afgevaardigdes is nie daar in hulle kwaliteit as ampsdraers, soos wanneer hulle in ´n kerkraad opsig en tug uitoefen nie. Afgevaardigdes kan die kerke slegs solank verteenwoordig as wat hulle hul aan die Skrif, belydenis en kerkorde hou. As ´n kerk vir homself kan bewys dat daar nie aan hierdie voorwaarde voldoen is nie, is die besluit wat geneem is nie vir hom vas en bindend nie. Via die klassis en partikuliere sinode moet die kerk poog om sy afgevaardigdes terug te roep en om ´n nuwe sinode byeen te bring.
2. Aan die nuwe sinode moet dan bewys gelewer word dat die besluite wat deur die vorige sinode geneem is, teen die Skrif, belydenis en kerkorde ingaan. Indien die betrokke kerk nie daarin slaag om sodanige bewys te lewer nie, moet hy die genome besluit nie alleen de facto nie, maar ook de jure erken. As hy dit nie erken nie, verbreek hy die kerkverband met die daad.
3. Tussen die besluite van ´n sinode en die van-krag-wees van die besluite moet ´n bepaalde tyd verloop waarin die kerke geleentheid kry om die besluite te ratifiseer.
4. Om ´n besluit van die sinode nie vir vas en bindend te hou nie, is die goeie reg van elke kerk en elke ampsdraer, wanneer hy dit vir homself strydig met Skrif, belydenis en kerkorde kan bewys.
5. Daar onstaan in geval van nie-vir-vas-en-bindend-hou-nie ´n interim waarby in elke afsonderlike geval geoordeel moet word hoe daar verder opgetree moet word.

5.2.5.2.5.2 G. Janssen

G. Janssen (1955:99) beskryf die noodlottigheid van die situasie indien die “tensy” van artikel 31 KO as “totdat” toegepas word. In so ´n geval moet kerke altyd, onder alle omstandighede voor sinodebesluite buig, ook voor ongeldige sinodebesluite - totdat die besluit nietig verklaar is. Die implikasie daarvan is dat afgevaardigdes bo hulle senders te staan kom. Die sinode word oppermagtig. Daarteenoor bepleit Janssen ratificatio ten einde die heerskappy van Christus te eerbiedig (1955:121-122).

5.2.5.2.5.3 S. Greijdanus

Aan die hand van artikel 7 NGB onderstreep Greijdanus (s.j.:6) die onmisbare belang van toetsing en aanvaarding van kerklike besluite. “Aan dat Woord en het zich houden daaraan moet ... alle kerkelijke spreken en handelen getoetst worden, om als zoodanig erkenning te mogen vinden” (s.j.:10).

5.2.5.2.5.4 F.L. Bos

Volgens Bos het elke mindere vergadering, ampsdraer en gelowige die reg om ´n besluit wat kennelik met Gods Woord of die artikels van die kerkorde in stryd is, nie vir vas en bindend te hou nie deur regsgeldigheid daaraan te ontsê (1950:122). Dit is ´n eis van Gods Woord dat alle gewetensbindende besluite eers skriftuurlik getoets moet word alvorens dit as bindend aanvaar word (1 Korintiërs 4:6; Galasiërs 5:1). Elke bo-skriftuurlike gewetensbinding moet verwerp word (1950:124).

5.2.5.2.5.5 Beoordeling

Al die genoemde kerkregtelikes is dit eens dat ratificatio binne die konteks van artikel 31 KO van wesenlike belang is. Ratificatio word deurgaans tereg as ´n aanvaarding van sinodebesluite beskou. Met die oog op aanvaarding moet die kerke tyd gegun word sodat besluite behoorlik getoets en geldig verklaar word.

5.2.5.2.6 Ratificatio afgewist

5.2.5.2.6.1 L. Oranje

In ´n geskrif getiteld Het gezag in de kerk van Christus (1946) gee Oranje sy persoonlike mening oor die optrede van die vrygemaaktes gedurende die kerkstryd van 1944. Oranje beskou ´n meerdere vergadering as ´n vergadering van afgevaardigdes wat in die reël ampsdraers is. Die afgevaardigde ampsdraers oefen op die meerdere vergadering die drieërlei kerklike mag uit wat God in sy Woord aan kerkrade geskenk het (1946:24), naamlik die mag om “te leeren, te regelen en tucht uit te oefenen” (1946:25). Die mag van ´n meerdere vergadering is numeries meer as dié van ´n kerkraad, aangesien afgevaardigde ampsdraers van verskeie kerkrade in ´n meerdere vergadering hulle magte saamvoeg, terwyl ´n kerkraad uit ´n kleiner getal ampsdraers bestaan. In wese is die gesag van alle kerklike vergaderings egter presies dieselfde (1946:25).
Teen hierdie agtergrond bespreek Oranje die vraag of daar aan kerke die geleentheid gebied moet word om besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer. Hy beskou dit as ´n absoluut onjuiste gedagte dat ratificatio wel kan geskied. “Hebben de Kerken van Klein-Azië soms de gelegenheid gekregen, de besluiten van de Jeruzalemse Vergadering te keuren? Of is het niet zoo gegaan, dat die samenkomst meteen een ‘last’ heeft ‘opgelegd’ en ‘geordoneerd’? ... Ratificatie van besluiten van de meerdere vergaderingen door de mindere is dan ook niets anders dan independentisme, in flagranten strijd met Gods Woord. Een foutieve gedachte, die alleen insluipen kan, als men een tegenstelling ziet tussen de Synode en de Kerken, die daar allen in vertegenwoordigd zijn” (1946:31).

5.2.5.2.6.2 Moderamen Generale Sinode Utrecht

Die moderamen van die Generale Sinode Utrecht 1942, waarvan doktor G.C. Berkouwer die praeses was, het in 1944 ´n geskrif aan alle kerkrade van die Gereformeerde Kerken in Nederland gestuur waarin hulle hul onder andere oor die beskouing en toepassing van ratificatio uitspreek. Die moderamen oordeel dat daar van “een ratificatie der genomen besluiten” soos professor Schilder dit bepleit “in onze kerken nimmer sprake geweest is” (1944:6). Ratificatio in die sin van bekragtiging of goedkeuring is geheel en al in stryd met die eerste beginsels van die Gereformeerde kerkreg, “dat nl. de meerdere vergaderingen geen bestuurscolleges zijn maar vergaderingen der kerken; de kerken komen in de Generale Synode samen en nemen haar besluiten, en de beslissing door deze kerken in synodale vergadering is tevens haar ratificatie” (1944:6).
Die moderamen roep die kerke op om die toepassing van ratificatio af te keur, aangesien dit op “muiterij in de kerken” neerkom en dit die samelewing van kerke in een kerkverband onmoontlik maak (1944:1).

5.2.5.2.6.3 Kerkraad Gereformeerde Kerk Kampen

In reaksie op ´n skrywe van die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Enschedé (vrygemaak) het dominee J. Overduin as waarnemende praeses van die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Kampen (sinodaal) standpunt teen die toepassing van ratificatio ingeneem.
Die kerkraad van Kampen gaan daarvan uit dat ´n sinode ´n vergadering van kerke is. “Wanneer de classes, particuliere synodes en generale synodes iets besluiten, hebben dus de kerken, in vergadering bijeen, zelve een besluit genomen” (s.j.:7). Omdat die kerke self besluite neem, is sodanige besluite “terstond rechtsgeldig” en is dit nie nodig dat hulle “eerst nog weer naar de afzonderlijke kerken (kerkeraden) ter ratificatie worden gezonden” (s.j.:7, 8). Ratificatio van besluite is volgens die kerkraad van Kampen ´n independentistiese voorstelling wat met reg deur die Generale Sinode Utrecht afgewys is.

5.2.5.2.6.4 Beoordeling

Oranje redeneer konsekwent. Vanuit sy beskouing oor die taak van meerdere vergaderings kan hy nie anders as om ratificatio as independentisme te tipeer nie. Dit is egter reeds in paragraaf 4.2 beredeneer dat die taak van die meerdere vergaderings wesenlik van dié van die kerkraad verskil. Die meerdere vergaderings regeer nie die kerke nie, en is nie bevoeg om die tug toe te pas nie. Gevolglik moet alle besluite van meerdere vergaderings wat op die regering van die plaaslike kerk betrekking het eers deur die kerkraad as ´n eie besluit aanvaar (geratifiseer) word alvorens dit toegepas word. Daarsonder sou die meerdere vergadering die plaaslike kerk regeer, wat in wese kollegialistiese hiërargie is.
Oranje se verwysing na Handelinge 15 en 16 as bewys dat ratificatio onskriftuurlik sou wees, berus op ´n aanname. Handelinge 16:4 vermeld hoe Paulus en Silas “die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle (die gemeentes van Listre en Derbe) oorgegee het om te onderhou”. Die wyse waarop die onderhouding moes
geskied, word nie genoem nie. Calvyn (1977:165) stel in sy kommentaar op Handelinge 16:4 dat die vers nie geïnterpreteer mag word asof Paulus die gewetens van die gemeentes aan die besluite van mense wil bind nie. So ´n uitleg is volgens Calvyn Rooms, maar nie skriftuurlik nie. In wese ondersteun Oranje die foutiewe uitleg van die betrokke Bybelvers. Op sterkte van ´n argumentum e silentio kan die plig tot ratificatio nie as onskriftuurlik afgemaak word nie.
Derhalwe moet gekonstateer word dat Oranje se kritiek op ratificatio enersyds rus op ´n beskouing van meerdere vergaderings as kollegialistiese regeerliggame, en andersyds op ´n foutiewe uitleg van Handelinge 16:4. Om daardie rede is die kritiek nie geldig nie.
Ten opsigte van die kritiek wat die moderamen van die Generale Sinode Utrecht en die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Kampen teen die toepassing van ratificatio uitspreek, moet gestel word dat daar nie genoegsaam rekening gehou word met die wyse waarop kerke in ´n meerdere vergadering byeenkom nie. Dit is nie so dat alle kerke self by ´n meerdere vergadering teenwoordig is nie. Afgevaardigdes van kerke is teenwoordig (vergelyk artikel 33 KO). Die kerke neem nie besluite nie, maar die afgevaardigdes neem besluite. Die afgevaardigdes behoort aan die kerkrade wat hulle afvaardig verantwoording van hulle werksaamhede te doen (vergelyk 4.1.3.2.4). In die lig hiervan is die argument dat ´n besluit van ´n meerdere vergadering vanaf die oomblik wat dit geneem is reeds die besluit van elke kerk is, nie korrek nie. So ´n argument kan gevolglik nie gebruik word om die beginsel en toepassing van ratificatio te weerlê nie.
Die stelling dat daar in die Gereformeerde kerke nog nooit van ratificatio sprake was nie, is ongegrond. Die Gereformeerde kerke het hulle reeds sedert 1571 daartoe verbind om besluite van meerdere vergaderings vir vas en bindend te hou, waaronder te ratifiseer (vergelyk 2.1.2.2.1.3).

5.2.5.3 Samevatting

Uit dit wat in hierdie afdeling van die studie beskryf is, blyk dat die ius ratificationis soos wat dit in die jare rondom die Vrymaking beskou en hanteer is, gegrond is op bepaalde sienings van die kerkverband, die wese en mag van meerdere vergaderings, en die posisie van gedeputeerdes. Die meeste vrygemaaktes se beskrywing van ratificatio is deurgaans baie omvattend. Dit kan soos volg saamgevat word:
· Ratificatio is ´n opsetlike, welbewuste, afsonderlike daad van die plaaslike kerke wat volg op die besluit-daad van ´n meerdere vergadering.
· Ratificatio is die bekragtiging en aktiewe aanvaarding van ´n besluit van ´n meerdere vergadering wat volg nadat die besluit getoets is en die kerkraad oortuig is dat dit reg en goed is.
· Ratificatio is ´n geïntegreerde deel van die reg insake die geldigheid van besluite van ´n meerdere vergadering. Sonder ratificatio van die kant van die plaaslike kerk het die besluit van ´n meerdere vergadering geen regskrag vir die kerk nie.
· Ratificatio is ´n plig waartoe elke plaaslike kerk hom in die kredensiebrief verbind het.
· Indien ´n kerkraad weens gewigtige redes ´n besluit van ´n meerdere vergadering nie kan ratifiseer nie, moet hy ooreenkomstig artikel 31 KO bewys van sy besware lewer.
· Deur ratificatio van besluite van meerdere vergaderings word die grense van die kerklike lewe bewaak. Enersyds word die vryheid en selfstandigheid van die plaaslike kerke teen hiërargie beskerm. Andersyds beskerm dit die plaaslike kerk teen independentisme, aangesien besluite van meerdere vergaderings nie net vir kennisgewing aangeneem kan word nie.
· Ratificatio raak die wese van die sestiende-eeuse reformasie. Dit is ´n ou kerkregtelike gebruik wat reeds deur die Gereformeerde kerke vanaf 1571 in die praktyk van die kerklike lewe toegepas is.
· Die toepassing van ratificatio is ´n voortbouing op die Doleansie-kerkreg.

5.2.6 1944-1995: Ratifikasie in die Gereformeerde kerke in Nederland

Die geskiedenis van die Gereformeerde kerke in Nederland na 1944 word deur voortdurende stryd gekenmerk. Sowel in die Gereformeerde Kerken as in die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt), en later in die Nederlandse Gereformeerde Kerken het artikel 31 KO en die hantering van ratificatio ´n besprekingspunt gebly. In hierdie onderafdeling sal aangetoon word hoe daar binne die onderskeie kerkverbande ten aansien van ratificatio gehandel is.
Aan die hand van die volgende skema (vergelyk 2.3) sal die beskouings en hantering van ratificatio bespreek word.

DIE PROSESSE VAN RATIHABITIO EN IRRATIHABITIO

Besluite van ´n meerdere vergadering

Toetsing
(probatio)

Ratihabitio Irratihabitio

Geldigverklaring Ongeldigverklaring
(ratideclaratio) (irratideclaratio)

Aanvaarding Bewys van ongeldigverklaring
(acceptatio) in mindere vergadering
(probatio irratideclarationis)

Uitvoering Voorlegging van bewys aan
(executio) meerdere vergadering
(ostentatio irratideclarationis)
 

5.2.6.1 Ratifikasie in die Gereformeerde Kerken

In die voorafgaande paragrawe is verwys na L. Oranje se afwysing van ratificatio. Alhoewel Oranje noem dat dit sy persoonlike beskouing van ratificatio is (1946:5), is dit ´n toonbeeld van hoe die Gereformeerde Kerken in die algemeen daaroor geoordeel het (vergelyk Schilder & Deddens, s.j.:48). Verskeie teoloë van die Gereformeerde Kerken het hulle na die Vrymaking ondubbelsinnig oor die onderwerp in bespreking uitgelaat. Met verloop van jare is sowel die teoloë van die Gereformeerde Kerken se siening oor ratificatio as die kerkregtelike afwyking van artikel 31 KO sedert 1926 en 1944 offisieel veranker, deurdat artikel 31 van die Dordtse Kerkorde in 1957 ooreenkomstig hulle beskouings aangepas is.

5.2.6.1.1 J. Jansen

In 1952, agt jaar na die Vrymaking, verskyn die derde druk van dominee J. Jansen se Korte Verklaring van de Kerkorde. Die derde druk is ´n vermeerderde druk van die tweede, waarin die eerste druk van 1923 op sekere punte radikaal gewysig is. Aan die verklaring van artikel 31 KO is veelseggende veranderings aangebring, waarna nou kortliks verwys word.
In die eerste druk van sy kerkorde handleiding toon Jansen aan dat die “tensy” van artikel 31 KO soos volg opgevat moet word: “Het besluit moet bewezen worden te strijden tegen het Woord Gods, zoo staat er. Maar voor wie? Wil dat zeggen, dat de appellant het moet bewijzen voor de meerdere vergadering, en als hij haar overtuigen kan met bewijzen, er van ontslagen is? Maar dat spreekt vanzelf. Een besluit dat strijdig is met Gods Woord is voor niemand geldig. Of wil het zeggen, dat wij aan de besluiten der meerderheid gebonden zijn, tenzij iemand een of ander besluit voor zich zelf bewezen acht in strijd te zijn met Gods Woord? Dit laatste is het juiste antwoord” (1923:147). Jansen vertolk die beginsel suiwer. Indien ´n besluit na toetsing ongeldig blyk te wees, word dit nie deur die kerkraad geldig verklaar en as eie aanvaar (acceptatio) nie. Bewyse word gelewer waarom die besluit ongeldig is (ostentatio irratideclarationis). Tot tyd en wyl die bewyse nog nie gelewer en beoordeel is nie, word die ongeldige besluit nie uitgevoer nie. ´n Ongeldige sinodebesluit mag vir geen oomblik as bindend geag of gehou word nie.
In die derde druk van die handleiding verwys Jansen by die bespreking van artikel 31 KO na artikel 854 uit die acta van die Generale Sinode Sneek 1939: “Bij elk appèl of voorstel mag de appellant of adressant de zaken niet omkeren; wanneer iemand meent dat bepaalde besluiten met Gods Woord in strijd zijn, niet overeenstemmen met de Confessie of ingaan tegen de Kerkorde, mag hij niet eisen dat de synode de uitvoering van deze beslissingen opschorte totdat zij hem bewezen heeft, dat haar besluiten wel in overeenstemming zijn met de Heilige Schrift, de Confessie en de Kerkorde maar hij moet bewijzen, dat de synode ongelijk heeft; de bewijslast rust geheel op hem; bovendien blijven de besluiten van kracht, want het kerkelijk leven zou verstoord worden, indien ieder lid of elke kerk het recht had om, wanneer er bezwaren rijzen, de beslissingen naast zich neer te leggen; de synode waarschuwt met grote ernst tegen zulke beschouwingen, die in geen enkele gereformeerde belijdenis of Kerkorde enige steun vinden” (1952:151).
Die verandering in Jansen se kommentaar oor artikel 31 KO is ooglopend. In 1923 het hy gestel dat ´n besluit van ´n meerdere vergadering wat ongeldig blyk te wees vir geen oomblik bindend is nie. In 1952 stel hy op sterkte van sinodale acta dat ´n besluit van ´n meerdere vergadering wat ongeldig blyk te wees, wel bindend is totdat bewys van ongeldigheid gelewer is en daardie bewys deur ´n volgende vergadering aanvaar is. Die “tensy” van artikel 31 KO word verstaan en toegepas as “totdat”. Dit kan wees dat die kerke vir ´n tydperk van tot drie jaar verplig word om aan die ongeldige besluit van ´n meerdere vergadering uitvoering te gee.
Hierdie veranderde interpretasie van artikel 31 KO word nog verder geïllustreer as Jansen die opsies bespreek wat uitgeoefen kan word indien iemand hom nie met ´n sinodebesluit kan identifiseer nie (1952:151):
· Opsie 1: die beswaarde konformeer hom deur nie teen die besluit te appelleer nie; of wel te appelleer maar inmiddels die besluit de facto (feitlik) te erken; of te appelleer en daarna in die uitspraak te berus.
· Opsie 2: kerklike vergaderings pas die reg van toleransie toe op voorwaarde dat die afwykende gevoel van die leer geen fundamentele punt van die waarheid raak nie, en dat die dwalende sy afwykende gevoel nie propageer nie en bereid is om hom deur die kerke te laat onderrig.
· Opsie 3: die meerdere vergadering eis die aanvaarding en uitvoering van besluite. By nie-aanvaarding van besluite volg een van twee dinge: òf die beswaarde verlaat die kerkverband vrywillig òf hy word uit die kerkgemeenskap uitgesluit.
Opsie 2 pas nie by die ander twee opsies nie, aangesien dit nie oor ´n sinodebesluit handel nie, maar oor duidelik aanwysbare afwyking van die leer. Die opsie word in hierdie verband wel genoem, aangesien die Sinode van Assen 1957 dit in ´n gewysigde vorm in artikel 33 van die Hersiene Kerkorde oorneem.

5.2.6.1.2 D. Nauta

Nauta (1960:578) is van mening dat daar in die Gereformeerde kerkreg nooit sprake was van ´n handeling waardeur besluite van ´n sinode eers onderwerp moet word aan die goedkeuring van ´n mindere vergadering nie. Nauta oordeel dat besluite volgens artikel 31 KO vir vas en bindend, dit wil sê geratifiseer, gehou moet word. Dit beteken dat die neem van die besluit tewens die ratificatio daarvan is: ´n gedagte wat reeds deur andere in die dae van die Vrymaking uitgespreek is (vergelyk 5.2.5.2.6.2; Schilder & Deddens, s.j.:49).

5.2.6.1.3 Artikels 31 en 33 van die Hersiene Kerkorde

Die praktyk van die Sinode Assen 1926 en die Generale Sinode Sneek 1939 se interpretasie van artikel 31 KO, asook die beskouings van etlike teoloë het daartoe gelei dat die Gereformeerde Kerken tydens die Generale Sinode van Assen in 1957 die betrokke artikel fundamenteel verander het en daarmee die veranderde kerklike praktyk geyk het.
Artikel 31 van die Hersiene Kerkorde lui (gedeeltelik) soos volg:
· “1. ... De besluiten van de vergaderingen dragen een bindend karakter.
· 2. Degenen, die enige uitspraak of handeling van een vergadering in strijd achten met de bepalingen van de kerkorde, of op andere wijze door zulk een uitspraak of handeling het welzijn der kerk geschaad achten, of menen dat hun daardoor onrecht aangedaan is, kunnen in appèl gaan bij de naastvolgende meerdere vergadering. Indien zij zulk een uitspraak of handeling in strijd achten met duidelijke uitspraken van Gods Woord, zijn zij gehouden in appèl te gaan; in welk geval de vergadering, hangende dit appèl, hen niet zal verplichten tot het verrichten van of tot het medewerken aan enige handeling, die naar hun gevoelen tegen de bedoelde uitspraken zou ingaan, met dien verstande dat zij zich voor het overige te gedragen hebben aan de door de desbetreffende vergadering gegeven aanwijzingen.
· 5. Een vergadering kan in geval van appèl de uitvoering van een door haar genomen besluit opschorten.”
Nauta (1971:141) merk by die verklaring van artikel 31 van die Hersiene Kerkorde op dat die meerdere vergadering in elke afsonderlike geval van appèl moet oordeel of daar genoegsame redes bestaan om die besluit waarteen geappelleer word, op te skort. Dit impliseer dat, ook al word in artikel 31.2 teoreties gestel dat ´n appellant nie verplig is om - hangende ´n appèl - die besluit in geding uit te voer nie, die praktyk van so ´n aard is dat die meerdere vergadering ooreenkomstig artikel 31.5 sal oordeel of die besluit waarteen geappelleer word tydelik opgeskort sal word al dan nie. In effek kan ´n kerkraad nie besluit om weens grondige redes ´n besluit nie vir vas en bindend te hou nie. Die meerdere vergadering oordeel finaal oor die binding aan en uitvoering van besluite, nie die kerkraad nie.
Artikel 33 van die Hersiene Kerkorde moet saam met artikel 31 gelees word. Dit sê: “Indien iemand zich bezwaard gevoelt over een besluit of uitspraak van de generale synode, als naar zijn oordeel in strijd met duidelijke uitspraken van Gods Woord, zullen de vergaderingen jegens hem tolerantie gebruiken, tenzij zijn wijze van optreden een bedreiging zou inhouden voor de goede werking van de kerkelijke gemeenschap ter plaatse of in het kerkverband”.
Die feit dat daar sprake is van ´n meerdere vergadering wat verdraagsaamheid (tolerantie) teenoor ´n mindere vergadering moet gebruik, dui daarop dat die meerdere vergadering meer gesaghebbend as die mindere vergadering is. Die meerdere vergadering moet oordeel of die beswaarde mindere vergadering of individu genoegsame gronde vir beswaar het. Indien die beswaarde - ongeag die inhoud van sy beswaar - die kerklike lewe te veel in beroering bring, sal die meerdere vergadering met die nodige maatreëls tot sy beskikking moet optree (Nauta, 1971:148).

5.2.6.1.4 Beoordeling

Die Gereformeerde Kerken se interpretasie en latere verandering van artikel 31 KO is tekenend van hoe in daardie kerke ten opsigte van ratificatio gehandel word.
Indien dit so is dat ´n besluit van ´n sinode vas en bindend is totdat ´n volgende sinode die bewyse vir die teendeel aanvaar en die betrokke besluit vernietig, is daar van ratificatio deur kerkrade geen sprake nie. Kerkrade kan besluite van meerdere vergaderings hoogstens toets of hulle geldig is, waarna die besluit - ongeag die uitslag van die toets - uitgevoer moet word. Geldigverklaring en aanvaarding van besluite, wat eweneens onmisbaar deel van ratihabitio vorm (vergelyk die skema), word welbewus nie toegelaat nie.
Laasgenoemde stelling word bevestig wanneer bedeneer word dat die besluit van die meerdere vergadering tegelyk die ratificatio van die besluit is. Uitgaande van die standpunt dat die sinode regeer- en tugmag het, is dit nie ter sake dat kerkrade eers die besluite van die sinode as hulle eie moet aanvaar alvorens dit uitgevoer word nie. Die sinode besluit en die kerkraad voer slegs die besluit van die sinode uit.
Gemeet aan die beginsels van die Gereformeerde kerkreg word dit duidelik dat die Gereformeerde Kerken met sy Hersiene Kerkorde radikaal afwyk van die wyse waarop die Gereformeerde kerke regeer behoort te word. Deur die plig tot ratideclaratio en ratificatio aan kerkrade te ontsê, tree die vergadering van lashebbers (die meerdere vergadering) aanmatigend op teenoor die vergadering van lasgewers (die mindere vergadering). Met die verandering van “tensy” in “totdat” word eweneens aanmatigend opgetree, aangesien dit impliseer dat ongeldige besluite ten minste tydelik uitgevoer moet word. Die tweevoudige bewyslewering van ongeldigheid (probatio irratideclarationis en ostentatio irratideclarationis) is oneffektief solank as wat die ongeldige besluit waarteen beswaar gemaak word, nie deur ´n volgende meerdere vergadering nietig verklaar is nie.
Alhoewel artikels 31 en 33 van die Hersiene Kerkorde soepel mag voorkom, word die deur in beginsel wyd oopgemaak vir hiërargie in die vorm van sinodokrasie (Van Tongeren, s.j.:11-13; Boersma, 1984:1-5).

5.2.6.2 Ratifikasie in die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt)

Gedurende die jare na die Vrymaking het ´n gees van independentisme in die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) ontwikkel (Munneke, 1972:156; Boersma, 1984:6). Professor K. Schilder het van meet af aan teen hierdie gees gewaarsku deur daarop te wys dat “we de vrijmaking van de hiërarchie niet zien omslaan in een losbandigheid van kerkindividualisme” (De Vries, 1990:15). Kerkregtelik gesproke was een van die kernpunte waarin die gees van independentisme hom vertoon het ´n hantering van die ratihabitio van artikel 31 KO sonder verpligte bewyslewering by irratihabitio (De Vries, 1990:15, 21, 39).
In die weerlegging en bestryding van die independentisme was dit veral professor J. Kamphuis wat in die laat sestigerjare opnuut na die betekenis van ratum habebitur ondersoek ingestel het. In sy rede getiteld Kerkelijke Besluitvaardigheid (1970:55-65) maak hy opmerkings oor die hantering van artikel 31 KO, wat direk op die onderwerp betrekking het. Ander kundiges wat hulle menings hieroor op skrif gestel het, is R. Bremmer, H. Bouma, M. te Velde en A. Boersma. Elkeen se standpunte word weergegee en bespreek.

5.2.6.2.1 J. Kamphuis

Kamphuis (1970:58) verklaar die betekenis van die term ratihabitio in artikel 31 KO deur die Nederlandse weergawe daarvan te ontleed. Die Nederlands vir ratihabitio is voor vast en bondig houden. Die samestelling vast en bondig is volgens Kamphuis toutologies, versterkend. Dit kom in geen Nederlandse woordeboek voor nie (Anon., 1954:10). Vast beteken: bindend, van krag. Bondig beteken in verband met ooreenkomste, besluite en verdrae: vas, onverbreeklik, geldig, deugdelik, onaantasbaar, van krag en waarde. Die betekenis van die samestelling voor vast en bondig houden kom dan neer op: waak, vir iets sorg, iets oppas.
Kamphuis stel dat diegene wat tot uitvoering van besluite van meerdere vergaderings geroep is, verplig is om die genome besluite van hulle lashebbers eers aan die Woord van God en aan die kerkordelik beskrewe reg van die kerke te toets alvorens hulle tot uitvoering oorgaan (1970:56, 62, 64, 65). Uitvoering van besluite dra geen outomatiese en slaafse karakter nie, maar ´n Christelik-vrye karakter (1970:56). Hiermee bevestig Kamphuis die Gereformeerd-kerkregtelike beginsel teenoor die Roomse standpunt van papa locuta, causa finita, wat alle hiërargiese stelsels van kerkregering beheers (vergelyk 3.1).
Kamphuis se verklaring van ratihabitio kom egter nie volledig ooreen met wat in paragraaf 2.1.2.2.2 oor die herkoms van die term in die Gereformeerde kerkreg gestel is nie.
Hy het gelyk dat ´n besluit van ´n meerdere vergadering van meet af aan geldig of ongeldig is. ´n Ongeldige besluit kan nie geldig gemaak word nie. Net so min kan ´n reeds geldige besluit nog meer geldig gemaak word. ´n Geldige besluit van lashebbers (´n sinode) kan wel deur ´n lasgewer (die kerkraad) as geldig gehou word. Dit impliseer dat die kerkraad die geldige besluit van ´n sinode sal “oppas” deur dit in die kerklike lewe plaaslik toe te pas.
In sy opvatting van ratihabitio mis Kamphuis die geldigverklaring en aanvaarding van besluite van meerdere vergaderings. Klaarblyklik verklaar hy die ratihabitio van die 1581 Kerkorde in terme van 1578 se “skuldig sal wees na te kom”, deur van ratihabitio sonder meer executio te maak. Dit lei tot ´n verskraalde opvatting en toepassing van die begrip.
Met betrekking tot die term ratificatio oordeel Kamphuis dat dit ´n eis van eerlikheid is om vas te stel dat artikel 31 KO nie van ratificatio praat nie, maar van ratihabitio. Alhoewel beide terme te doen het met bekragtiging van besluite, dui ratihabitio op “voor rechtskragtig houden”, terwyl ratificatio “rechtskracht verlenen, rechtskragtig maken” beteken (1970:58).
Kamphuis is verder van mening dat artikel 31 KO nie met die onjuiste gedagte beswaar moet word dat daar ratificatio moet kom in die sin van kompletering van die regsvorm van ´n genome besluit nie (1970:61). Hy ag Deddens se standpunt oor ratificatio, naamlik dat dit ´n tweede daad van bekragtiging is, verkeerd (1970:61). Teen die einde van die tagtigerjare bevestig hy sy siening oor ratificatio soos dit tydens die Vrymaking hanteer is. In ´n resensie oor Berkouwer se boek Zoeken en vinden (1992:10) verwys hy na sy genoemde rede, en stel hy onomwonde: “ik kies tegen het zogenaamde ratificatie-recht”.
In hierdie opsig oordeel Kamphuis, gemeet aan die betekenis wat ratificatio in die Gereformeerde kerkreg het (vergelyk die skema), verkeerd. Inderdaad moet ratificatio nie in sy letterlike betekenis van regsgeldig máák beskou en gebruik word nie. Dit het Deddens ook nie gedoen nie (vergelyk 5.2.5.2.2). Daarmee moet ratificatio in die sin van acceptatio egter nie as onjuis geag word, soos wat Kamphuis doen nie.
Oor die “tensy” van artikel 31 KO maak Kamphuis (1992:10) dié opmerking: “Maar het ‘tenzij’ van artikel 31 is duidelijk in het de voorrang geven aan Gods Woord boven ieder kerkelijk besluit”. Daaruit blyk dat Kamphuis, nieteenstaande die feit dat hy die geldigverklaring en aanvaarding van besluite van meerdere vergaderings misken, die ongeldigverklaring van ongeldige besluite en die genoegsame bewyslewering daarvan, van hoogstaande belang ag.
In die geheel gesien is Kamphuis se beskouing van ratihabitio ´n verskraling ten opsigte van wat sy voorganger, P. Deddens, daaroor gestel het. Kamphuis se beoordeling van ratificatio, soos wat dit in die Gereformeerde kerkreg gebruik en spesifiek deur Deddens vertolk en toegepas is, is klaarblyklik nie reg nie. Die onmisbare element van welbewuste aanvaarding van besluite van meerdere vergaderings word agterweë gelaat.

5.2.6.2.2 R.H. Bremmer

Soos Kamphuis, verskil Bremmer (1984:188) van Deddens deur te sê dat laasgenoemde ratifikasiereg verkeerdelik uit artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde 1581 afgelei het. Bremmer gee wel toe dat artikel 23 van die Middelburgse Kerkorde (later artikel 31 van die Dordtse Kerkorde) ruimte skep vir die gedagte dat kerkrade die besluite van meerdere vergaderings moet ratifiseer. Tog ag hy dit nie korrek om dit so te beskou dat “een besluit van een meerdere vergadering pas rechtskracht ontvangt, wanneer het door de plaatselijke kerk word geratificeerd”.
Omdat Bremmer se standpunt met dié van Kamphuis verwant is, word hierop geen verdere kommentaar gelewer nie.

5.2.6.2.3 H. Bouma

Ooreenkomstig Kamphuis se opmerking dat die term ratificatio ´n mens op ´n verkeerde spoor in die Gereformeerde kerkreg kan lei (vergelyk 5.2.6.2.1), merk Bouma (1994b:381) op dat ratificatio in die letterlike sin van “geldig maak” die indruk kan skep dat kerkrade deur ´n eie beslissing aan die besluite van meerdere vergaderings regskrag moet verleen. Dit is volgens Bouma - met reg (vergelyk 2.1.2.5.3) - ´n foutiewe gedagte. ´n Kerkraad verleen geen regsgeldigheid aan sinodale besluite nie. ´n Sinode is bevoeg om bindende, dit is regsgeldige besluite te neem. Die oomblik wanneer die offisiële handelinge van die sinode op die kerkraadstafel lê, is die kerkraad volgens Bouma daaraan gebind (1994a:370). Op grond van artikel 31 KO verklaar kerkrade dat hulle sinodale uitsprake as bindend aanvaar. Die besluite het regskrag en is regsgeldig (1994b:381).
Bouma (1994b:382) betoog verder dat elke kerkraad by voorbaat in sy kredensiebrief belowe het om die besluite van die vergadering as bindend te erken en te aanvaar. Kerkrade kan gevolglik voldoen met kennisneming van die acta. Die kerkraad het nie nodig om nog ´n keer oor binding te besluit nie. Indien iemand ´n beswaar teen ´n besluit het, moet die kerkraad daardie beswaar toets en indien nodig oorneem en die kerklike weg bewandel. Sou die beswaar ongegrond wees, kom die kerkraad tot die slotsom dat die bestaande besluit steeds regsgeldig is. In so ´n geval maak die kerkraad die besluit van die sinode ook nie regsgeldig nie (1994b:382).
In ooreenstemming met Kamphuis hou Bouma geen rekening met die plig van kerkrade om besluite van meerdere vergaderings te toets, geldig te verklaar en te aanvaar nie. Die kommentaar wat in hierdie opsig by Kamphuis se beskouing gelewer is, is ook hier van toepassing.

5.2.6.2.4 M. te Velde

Te Velde (1994:309) meen dat ´n sinodebesluit van krag is, tensy die ongeldigheid bewys word. Hier lê volgens Te Velde die verskil tussen die independentisme en die Gereformeerde kerkreg.
Oor die manier waarop sinodale besluite ontvang en uitgevoer moet word, stel Te Velde dat daar twee moontlikhede is. Die normale, mees voorkomende wyse van optrede is om die acta af te wag alvorens met implementering van besluite begin word. In ´n uitsonderlike geval kan ´n kerkraad by wyse van ´n brief - geskrywe deur die skriba van die sinode - van ´n spesifieke besluit wat hom primêr direk raak, in kennis gestel word.
As die kerkraad die acta ontvang, word alle besluite nie onmiddellik toegepas nie. “De Gereformeerde Kerken hechten er waarde aan, dat zulke besluiten goed gelezen worden en dat ze getoetst worden aan de Schrift en de kerkorde. Wij noemen dat de ‘ratificatie’ (1994:309).”
Te Velde spel die wyse waarop ratificatio (soos hy dit bedoel) moet plaasvind, met name uit. Enkele broeders maak ´n samevatting van die acta. Hulle dui aan watter punte besondere aandag verdien. Die besluite word getoets en na toetsing “bewust” aanvaar. “In deze
bijzondere aandacht voor de toetsing en voor het bewust aanvaarden van besluiten hebben we een mooi stukje gereformeerde traditie opgebouwd” (1994:309).
Verskillende kerkrade ratifiseer teen verskillende tempos, wat meebring dat een besluit nie oral ewe vinnig in werking tree nie. Daarvoor moet kerke mekaar ruimte gee.
Met betrekking tot diegene wat beswaard is oor ´n bepaalde besluit, meen Te Velde (1994:310) dat sulke mense nie die uitvoering van ´n besluit eindeloos mag vertraag nie. Almal staan onder dieselfde roeping om aan God gehoorsaam te wees. Tog moet deeglik rekening gehou word met beswaardes. In die kerk word nie met dwang gewerk nie, maar met oortuiging.
By Te Velde word dit nie heeltemal duidelik wat hy presies onder die term “bewuste aanvaarding” verstaan nie. Moontlik sluit dit geldigverklaring van besluite in, moontlik dui dit slegs op ratificatio in die sin van acceptatio. Nietemin kom Te Velde met sy beskouing van ratificatio as integrale onderdeel van ratihabitio baie nader aan die suiwer Gereformeerde beginsel as Kamphuis, Bremmer en Bouma.

5.2.6.2.5 A. Boersma

Boersma het in verskeie artikels ´n bydrae tot die gesprek oor ratificatio gelewer.
Ten opsigte van Deddens se standpunt oordeel Boersma (1994a:51) soos volg: “Het is niet zo, dat alle synodebesluiten eerst door elke kerkeraad goedgekeurd moeten zijn, voordat ze rechtsgeldig zijn. Maar de besluiten, die voor de plaatselijke kerk of ook voor alle kerken gelding hebben, die moeten eerst geratificeerd, eerst bekrachtigd worden, en daarna uitgevoerd”. Hieruit blyk dat Boersma ´n onderskeid tussen goedkeuring en bekragtiging van besluite maak. Hy ken nie aan kerkrade die bevoegdheid toe om besluite van meerdere vergaderings goed te keur ten einde die besluit regsgeldig te maak nie. Boersma ondersteun wel Deddens se gedagte dat besluite geratifiseer moet word alvorens dit uitgevoer word. Onder ratificatio of bekragtiging verstaan Boersma (1994a:51) die volgende: “De genomen besluiten zullen bekeken worden, de argumenten gewogen, en op basis van deze besluitvorming zal de kerkeraad vervolgens overgaan tot invoering van die besluiten die voor het kerkelijk leven van belang zijn”.
Boersma heg besondere waarde aan die effek van ratificatio. Indien kerkrade langs die weg van ratificatio sorgvuldig met sinodebesluite werk, kan die kerkraad ook van die gemeente verwag om aan die uitvoering van die besluite saam te werk. So kry die besluite plaaslike regskrag. Hulle word in die gemeente uitgevoer “op basis van een besluit van de kerkeraad. Immers deze vergadering van ambtsdragers regeert de gemeente, dat doet een classis of een synode niet” (1994a:51).
Boersma lig bogenoemde met ´n voorbeeld toe. Gestel ´n suster in die gemeente sou sê: ek is verkiesbaar vir die amp, want die sinode sê so - dan is daar sprake van ´n geweldige kortsluiting. Die kerkraad sal eers oor so ´n saak ´n besluit moet neem (ratifiseer), met volle inagneming van artikel 31 KO se binding aan sinodebesluite. Met ander woorde: ´n sinodebesluit is nie per se ´n kerkraadsbesluit nie. ´n Sinodebesluit moet by wyse van ratificatio eers ´n kerkraadsbesluit word alvorens ´n lidmaat hom op die uitvoering daarvan kan beroep (1994a:51).
Oor die praktyk van ratificatio maak Boersma insiggewende opmerkings (1993:409-410; 1994a:51):
· Na ontvangs van die acta behoort dit in onderdele verdeel en deur verskillende kommissies bestudeer te word (probatio).
· Die kommissies rapporteer oor hulle werksaamhede en die kerkraad neem besluite (ratideclaratio en ratificatio) oor die uitvoering van sake wat die eie gemeente direk raak.
· Oor ander besluite wat die gemeente nie direk raak nie, byvoorbeeld ´n appèl van ´n ander gemeente, word slegs ´n positiewe oordeel uitgespreek (ratideclaratio).
· Indien ´n besluit ongeldig bevind word (irratideclaratio), word in ooreenstemming met artikel 31 KO beswaar aangeteken, geappelleer of vir revisie van ´n ongeldige besluit gevra (probatio en ostentatio irratideclarationis).
· As kerkrade dit alles weldeurdag gedoen het, kan hulle die gemeente met geratifiseerde, eie besluite regeer.
In ´n vervolg-artikel in Reformanda bespreek Boersma (1994b:61) die rede van Kamphuis, waarin Kamphuis Deddens tot ´n mate opponeer. Boersma sien geen werklike teenstrydigheid tussen beide nie, maar verklaar hulle standpunte binne die konteks van hulle onderskeie omstandighede: “Prof. Deddens richtte zich tegen de synodale ontkrachting van art. 31: ‘het besluit van de synode is tevens haar ratificatie’. Prof. Kamphuis moest in het geweer komen tegen een onafhankelijke opstelling van kerkeraden en predikanten tegenover besluiten van meerdere vergaderingen: ‘als wij ze niet ratificeren, hebben ze geen enkel rechtskracht in de kerk’” (1994b:62). Boersma kom tot die slotsom dat uit beide professore se onderwys geleer kan word dat “er grote belangen op het spel staan, als het gaat om het als bindend aanvaarden van kerkelijke besluiten” (1994b:62). Boersma waarsku daarteen dat die kerke hulleself nie van hulle vryheid mag laat beroof nie, die vryheid wat daar onder die heerskappy van die Woord van God is, en wat deur artikel 31 KO beskerm word.

5.2.6.2.6 Artikel 31 KO hersien

Kragtens ´n besluit van die Sinode Groningen-Zuid 1978, is die kerkorde van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) in geheel hersien (Gereformeerde Kerken in Nederland, 1986:3). Ook die bewoording van artikel 31 KO is gewysig. Die huidige redaksie lui soos volg: “Als iemand van oordeel is dat hem door een uitspraak van een mindere vergadering onrecht is aangedaan, kan hij zich beroepen op de meerdere vergadering. De uitspraak die bij meerderheid van stemmen gedaan is, zal als bindend worden aanvaard, tenzij bewezen wordt dat zij in strijd is met het Woord van God of met de kerkorde”.
Die id ratum habebitur uit die Dordtse Kerkorde is vertaal met zal als bindend worden aanvaard. Harmannij (1990:64) lig die betekenis van die sinsnede soos volg toe: “de kerkorde kent aan geen enkele vergadering het laatste woord toe. Dat laatste woord is alleen aan Gods Woord. Besluiten die daarmee strijden, mogen altijd bestreden worden”. Harmannij (1990:65) is van mening dat die artikel soos wat dit tans in die Kerkorde van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) opgeneem is, die kerke van sinodokrasie sowel as konsistoriokrasie bewaar: “De kerken zijn geholpen met een stelsel, waarin elke vergadering zich moet onderwerpen aan toetsing van haar besluiten aan Gods Woord en de gezamenlijk overeengekomen kerkorde”.
Die beoordeling van die hersiene redaksie van artikel 31 KO, in samehang met ´n samevattende beoordeling van die genoemde standpunte wat deur teoloë in die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) gestel is, volg hierna.

5.2.6.2.7 Beoordeling

Kamphuis, Bremmer en Bouma merk tereg op dat ´n reeds geldige besluit van ´n meerdere vergadering nie nog meer geldig gemaak kan word as wat dit reeds is nie. Tweedens handhaaf hulle ook met reg die “tensy” van artikel 31 KO ten einde sowel die kwaad van hiërargie as van independentisme teen te gaan.
Wat die inhoud van ratihabitio betref, handhaaf hulle slegs die probatio en executio van besluite van meerdere vergaderings. Die ratideclaratio en die acceptatio of ratificatio van besluite is klaarblyklik nie voldoende in berekening gebring nie. Ingevolge hierdie omskrywing word die besluit van die meerdere vergadering nie deur die mindere vergadering sy eie gemaak nie en ook nie as sy eie uitgevoer nie. Daarmee word (wellig onbedoeld) nie by die welbewuste uitvoering van geëiende besluite deur die kerkrade uitgekom nie.
Te Velde en Boersma handhaaf, soos Kamphuis en Bremmer, eweneens ten volle die “tensy” van artikel 31 KO ten einde hiërargie en independentisme teen te gaan. Hulle handhaaf ook die taak van die selfstandige kerk met betrekking tot ratihabitio soos die kerke voor 1581 dit toegepas en die Sinode Middelburg 1581 dit geyk het. Spesifieke aandag word aan die erns van ratificatio binne die konteks van ratihabitio gegee.
Waar Te Velde die verskillende elemente van ratihabitio nie heeltemal duidelik onderskei nie (alhoewel hy aan die ander kant nie een van die elemente met name misken nie), doen Boersma dit wel. Om hierdie rede is Boersma se bydrae in verband met die onderwerp tot dusver die mees waardevolle in die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt).
Die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) se vertaling van id ratum habebitur uit die Dordtse Kerkorde met zal als bindend worden aanvaard is meer as net ´n taalkundige aanpassing. Dit is nie duidelik wat presies met die woord “aanvaar” in die hersiene kerkorde artikel bedoel word nie. Ratihabitio vooronderstel dat probatio van besluite van meerdere vergaderings plaasvind, en dui die handelinge van ratideclaratio, acceptatio en executio aan. Die woord “aanvaar” is in vergelyking hiermee ´n vae begrip.
· Eerstens het dit geen historiese agtergrond nie, wat ratihabitio (vir vas en bindend hou) wel het.
· Tweedens kan aanvaarding, soos dit in die hersiene artikel gebruik word, tot die aksie van geldigverklaring (ratideclaratio) beperk word. In dié geval word die besluit van die meerdere vergadering geen besluit van die kerkraad wat as sodanig uitgevoer moet word nie.
· Derdens kan aanvaarding neerkom op acceptatio deur die kerkraad van die plaaslike kerk sonder voorafgaande geldigverklaring. In daardie geval word aan die meerdere vergadering te veel mag toegeken en ´n opening vir hiërargie gelaat.
· Vierdens kan die term “aanvaarding” in die hersiene kerkorde sowel geldigverklaring as aanvaarding beteken, maar dan sê die historiese term ratihabitio - wat bowendien executio insluit - meer as die nuwe term “aanvaar” wat executio nie insluit nie.
Op grond van bogenoemde argumente is die woord “aanvaar” in die hersiene kerkorde van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) op sy minste ´n verswakking van die oorspronklike “sal vir vas en bindend hou”.

5.2.6.3 Ratifikasie in die Nederlandse Gereformeerde Kerken
5.2.6.3.1 Ontstaan van die Nederlandse Gereformeerde Kerken

Kort na die Vrymaking in 1944 het daar binne die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) ´n frontvorming ontstaan wat met die verset teen die heerskappyvoering van meerdere vergaderings saamgehang het (Boersma, 1984:6; De Vries, 1990:11).
Op die agenda van die Generale Sinode van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) Kampen 1951 verskyn ´n beswaarskrif van die Gereformeerde Kerk Kralingen (De Vries, 1990:12). Die sinode verwerp die beswaarskrif met opgawe van redes. Met ´n beroep op die selfstandigheid van die plaaslike kerk en op die reg tot appèl kragtens artikel 31 KO aanvaar die kerkraad van Kralingen nie die besluit van die sinode nie. Die optrede van die kerkraad is deur vele geag as misbruik maak van die appèlreg en ´n veragting van die kerkverband. Dit het tot hewige polemiek in die pers gelei (De Vries, 1990:13-17).
In 1960 publiseer dominee B. Telder van die Gereformeerde Kerk Breda ´n boek getiteld Sterven ... en dan?, waarin hy ´n variasie van die leer oor die sieleslaap propageer (De Vries, 1990:22; 1993:37). Dominee Telder vind op sommige plekke in Nederland ondersteuning vir sy leer, nieteenstaande die feit dat hy aan sy ondertekening van die belydenis ontrou is (artikel 53 KO). Teenoor die leer van dominee Telder ontstaan egter ook verset. Beswaarskrifte word by die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Breda, waar dominee Telder predikant is, asook by ander kerke ingedien (De Vries, 1990:24). Dominee Telder en die kerkraad van Breda is nie bereid om hulle gevoelens in enige meerdere vergadering of kerk te laat toets nie. Ten spyte van die feit dat hierdie predikant en sy kerkraad independentisties in stryd met artikel 53 KO en die ondertekeningsformulier handel, verklaar die Particuliere Synode van het Zuiden van 1962/63 nie dat die kerkverband opgeskort moet word nie, maar neem die partikuliere sinode die saak as sulks in behandeling. Op grond van ´n studierapport van dominee J.R. Wiskerke spreek die sinode uit dat die leer van dominee Telder ´n dwaalleer is. Die sinode spreek verder uit dat dominee Telder hom nie aan die ondertekeningsformulier gehou het nie, en dat die kerkraad van Breda gefouteer het deur hom nie tereg te wys nie (Wiskerke, 1963:240-252; De Vries, 1990:24). Ook word die verwagting uitgespreek dat die kerke in klassisverband wat verkeerdelik oor hierdie saak geoordeel het, tydens ´n eersvolgende klassis volgens artikel 31 KO die uitsprake van die partikuliere sinode vir vas en bindend sal hou, sodat die eenheid in die leer nie in die ressort van hierdie partikuliere sinode in gevaar gebring word nie (Wiskerke, 1963:251-252; De Vries, 1990:25). Die klassis moet daarop toesien dat dominee Telder en die kerkraad van Breda hulle ooreenkomstig die kerkorde en die ondertekeningsformulier gedra (Wiskerke, 1963:252).
Met die uitspraak van die sinode, wat rus en vrede in die kerkverband tot gevolg moes hê, is die saak egter nie afgehandel nie. Die tydskrif Opbouw, wat in 1956 opgerig is, bepleit verdraagsaamheid jeens dominee Telder en sy leer. Daarteenoor word in De Reformatie aangedring op verkondiging van die suiwer leer, binding aan die belydenis en bestryding van independentisme, waaraan kerke hulle klaarblyklik skuldig maak (De Vries, 1990:25). Die einde van hierdie stryd is dat die kerk van Breda, wat in independentisme volhard het, buite die verband van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) geraak het.
In dieselfde tyd waarin die Telder-saak sy loop neem, woed ´n soortgelyke stryd elders in die VGKN. Tussen die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Groningen-Suid en hulle predikant, dominee A. van der Ziel, ontstaan konflik weens laasgenoemde se persoonlike begeerte om samesprekings met die oog op hereniging met die Gereformeerde Kerken te voer (De Vries, 1990:27). Teen die uitdruklike verbod van sy kerkraad gaan dominee Van der Ziel met sodanige samesprekings voort, wat daartoe lei dat die kerkraad hom na vele gesprekke in Mei 1963 skors (De Vries, 1990:38; 1993:50). Oor die manier waarop die skorsing plaasgevind het, het daar ´n kerkregtelike dispuut ontwikkel wat uitgekring het vanaf die klassis na die partikuliere sinode en die generale sinode, wat in 1965 oor hierdie saak uitspraak moes lewer (Boersma, 1984:7; De Vries, 1990:41, 51). Die partikuliere sinode spreek uit dat dominee Van der Ziel afsettingswaardig is (De Vries, 1990:53), wat tot gevolg gehad het dat die kerkraad van Groningen-Zuid hulle predikant uiteindelik moes afsit (De Vries, 1990:54). Met die afsetting het die onrus nie gaan lê nie. Talle gemeentelede skaar hulle by die afgesette predikant en vorm die sogenaamde “Tehuisgemeente” in Groningen.
Op 31 Oktober 1966 verskyn ´n Open Brief aan de ‘Tehuisgemeente’ in Groningen, onderteken deur 25 lidmate van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt). In die brief word ´n direkte aanval op die kerklike vergaderings geloods wat dominee Van der Ziel geskors en afgesit en die skorsing en afsetting goedgekeur het (De Vries, 1990:64; 1993:20). Enkele maande later, in April 1967, vergader die Generale Sinode van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) te Amersfoort-Wes. Een van die afgevaardigdes na die sinode is dominee B. Schoep, ´n ondertekenaar van die Open Brief (De Vries, 1990:66). Weens sy volgehoue verbintenis tot die inhoud van die Open Brief spreek die sinode uit dat dominee Schoep nie as lid van die sinode kan dien nie. Elders in die land word ondertekenaars van die brief eweneens tot verantwoording geroep (De Vries, 1990:67).
In reaksie daarop skei verskeie kerke en predikante hulle van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) af. Dwarsoor die land word kerke buite die verband van die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) gestig. Ook diegene wat die Telder-saak goedgesind was, gaan hiermee saam. ´n Kerkverband van ongeveer 30 000 lidmate ontstaan, wat as die Nederlandse Gereformeerde Kerken bekend staan.

5.2.6.3.2 Akkoord voor Kerkelijk Samenleven

Sedert 1972 werk die Nederlandse Gereformeerde Kerken aan ´n Akkoord voor Kerkelijk Samenleven wat in 1982 amptelik aanvaar is en as kerkorde dien.
Artikel 31 van die Dordtse Kerkorde is in ´n gewysigde vorm in die Akkoord opgeneem. Grondliggend aan die wysiging van artikel 31 KO is die mening dat elke kerk die reg het om ´n bepaalde besluit nie uit te voer en nie vir vas en bindend te hou nie (Boersma, 1984:8). Hierdie mening spruit voort uit die siening dat die kerkverband vrywillig aangegaan is, waarbinne die plaaslike kerke vry en selfstandig funksioneer (Boersma, 1984:6). Tydens die Landelijke Vergadering te Utrecht in 1974 is die siening soos volg verwoord: “De kerken spreken uit, dat het al of niet aanvaarden van het (een) kerkelijk akkoord geen oorzaak van breuk of verwijdering mag zijn tussen gemeenten die een zijn in geloof en belijden. De kerken verzoeken alle gemeenten, die bezwaren hebben tegen aanvaarding van het (een) kerkelijk akkoord, zich zoveel mogelijk te richten naar hetgeen met de meeste stemmen goedgevonden wordt; en inzonderheid hun mederwerking te verlenen aan en hun stem te doen horen op de gemeenschappelijke vergaderingen, ook al kan voor hetgeen daar wordt besloten geen medeverantwoordelijkheid worden gedragen” (Boersma, 1984:8).
Binne die konteks van bogenoemde denke is die binding aan besluite van meerdere (landelike) vergaderings in artikel 34 van die Akkoord vasgelê: “Een besluit van de regionale of landelijke vergadering zal door de plaatselijke kerken bekrachtigt worden en in onderlinge liefde nagekomen, tenzij dit besluit strijdig bevonden wordt met de Heilige Schrift of ook als het niet overeenstemt met het Akkoord van kerkelijk samenleven. De kerk die een besluit niet bekrachtigt om bovengenoemde redenen, of niet kan uitvoeren om redenen die het welzijn van de gemeente betreffen, zal hiervan aan de zusterkerken rekenschap geven”.

5.2.6.3.3 Beoordeling

Die Nederlandse Gereformeerde Kerken se interpretasie van ratihabitio vind neerslag in hulle Akkoord voor Kerkelijk Samenleven. Blykens die Akkoord moet besluite van meerdere vergaderings deur die plaaslike kerke bekragtig word alvorens dit in liefde uitgevoer word. Bekragtiging vind plaas tensy ´n besluit strydig bevind word met die Woord of die Akkoord of indien ´n kerk dit nie kan uitvoer nie weens redes wat die welsyn van die gemeente betref. Indien ´n besluit nie bekragtig kan word nie, moet aan die susterskerke rekenskap gegee word.
Hieruit blyk dat sekere elemente van ratihabitio toegepas word, en ander nie. Bekragtiging (ratideclaratio) en uitvoering (executio) van besluite word met name genoem. Die elemente wat ontbreek, is die aanvaarding (acceptatio) van die bekragtigde besluit en die bewyslewering (ostentatio) indien ´n besluit ongeldig blyk te wees. Ostentatio word vervang met “rekenskap gee”.
Die rede waarom hierdie elemente ontbreek, moet gesoek word in die siening wat die Nederlandse Gereformeerde Kerken op die kerkverband het. Plaaslike kerke handel uiteindelik na eie goeddunke. Daarby is die advies van die kerkverband profytlik, maar nie noodsaaklik nie. Gevolglik is dit nie nodig dat die plaaslike kerk die besluit van die meerdere vergadering sy eie maak (acceptatio) nie.
Dat die woorde “vas en bindend” en die bewyslewering (ostentatio irratideclarationis) ná die tensy, wat prominent in die Dordtse Kerkorde gebesig word, in die Akkoord van die Nederlandse Gereformeerde Kerken ontbreek, is geen toevalligheid nie. Besluite van meerdere vergaderings word nie vir vas en bindend gehou nie, net so min as wat die Akkoord in sy geheel vir vas en bindend gehou word (vergelyk die opmerking wat tydens die Landelike Vergadering in 1974 gemaak is, waarna hierbo verwys is).
Die gevolgtrekking moet gemaak word dat, nieteenstaande die feit dat heelparty noodsaaklike elemente van ratihabitio in artikel 34 van die Akkoord opgeneem is, die wesenlike element van acceptatio (dit is: ratificatio) weggelaat is. Die weglating van acceptatio is die yking van independentisme in die Nederlandse Gereformeerde Kerken. Plaaslike kerke kan besluite van meerdere vergaderings bekragtig sonder om dit as hulle eie te aanvaar. Die reël dat rekenskap gegee moet word wanneer besluite nie bekragtig en uitgevoer word nie, is ´n ontkragting van die “tensy bewys word” van artikel 31 KO. Dit is, gesien die feit dat binding aan besluite in die Akkoord ontbreek, ´n ope vraag wat die kerkverband ten opsigte van ´n plaaslike kerk kan doen as die betrokke kerk om watter rede ook al slegs rekenskap van die nie-bekragtiging van besluite gee.

5.2.6.4 Samevatting

Die beskrywing van die gebeure in die periode 1944 tot 1995 het begin waar die Gereformeerde kerke in Nederland nog almal (op papier) aan die oorspronklike redaksie van artikel 31 Dordtse Kerkorde gebind was. Die id ratum habebitur is in die Kerkorde van die Gereformeerde Kerken in 1944, soos in die Kerkorde van die Christelijke Gereformeerde Kerken (1967:29; vergelyk 5.2.4.1.2) suiwer weergegee as zal voor vast en bondig gehouden worden. Afwykende interpretasies en toepassings van ratihabitio het daartoe gelei dat die Gereformeerde kerke in Nederland sedert 1944 by twee geleenthede ´n skeuring ondergaan het. Oor die skeurings as sodanig word daar nou geen uitspraak gelewer nie. In verband met die onderwerp is dit opmerklik dat die kerkregtelike geskil sowel in 1944 as in 1967 oor ratificatio gegaan het.
Die uiteinde van die geskiedenis is dat, waar daar in 1944 een suiwer weergawe van ratihabitio was, daar in 1995 drie uiteenlopende weergawes is. Blykens die beoordeling wat van elkeen gegee is, is geeneen van die drie weergawes suiwer nie.
Die Gereformeerde Kerken het ´n hiërargiese inhoud aan artikel 31 KO gegee, die Nederlandse Gereformeerde Kerken ´n independentistiese, terwyl die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) ratihabitio tot “aanvaar” verswak het. Eersgenoemde twee misken ratificatio welbewus. Sodoende wyk hulle af van een van die fundamentele beginsels waarop die Gereformeerde kerkregering rus.
Die gesprek oor binding aan besluite van meerdere vergaderings sal nimmereindigend wees as daar nie teruggekeer word na die skriftuurlike beginsel wat die Gereformeerde kerke reeds in 1581 kerkordelik neergelê het nie, en as die drie aksies van ratihabitio nie sorgvuldig onderskei en in die kerkorde veranker word nie.

 

5.3 Die hantering van ratifikasie in die verloop van die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis

5.3.1 Ratifikasie en die kerkregtelike stand van sake tussen 1652 en 1859

In die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis kan die periode 1652 tot 1859 in drie tydvakke onderverdeel word. In die beginjare, na die koms van Jan van Riebeeck (1652 tot 1795), was die kerk onder beheer van die Oos-Indiese Kompanjie. In die daaropvolgende jare, 1795 tot 1843, het die plaaslike owerhede in die Kaap direkte toesig en beheer oor die kerke uitgeoefen. Daarna, vanaf 1843 tot 1859, het die kerke in Suid-Afrika op ´n kruispad gekom. Die Groot Trek het onder andere ´n groot invloed op die verloop van die kerkgeskiedenis in Suid-Afrika gehad.
Oor elkeen van die onderskeie tydvakke sal agtereenvolgens enkele opmerkings gemaak word sodat vasgestel kan word tot hoe ´n mate daar van ratificatio in die Kaapse kerke sprake was.

5.3.1.1 1652-1795: Die kerk onder beheer van die Oos-Indiese Kompanjie
5.3.1.1.1 Kerkstigting in die Kaap

Met die stigting van ´n halfwegstasie aan die Kaap was die Oos-Indiese Kompanjie nie net geïnteresseerd in ´n verversingspos vir verbygaande skepe en ´n bloeiende handelspraktyk nie. Die bewindhebbers van die Kompanjie wou ook in die geestelike behoeftes van hulle amptenare voorsien en het selfs begeer dat daar sendingwerk onder die bevolking van Afrika gedoen sal word (Scholtemeijer, 1969:210). Laasgenoemde blyk by uitstek uit die gebed van Jan van Riebeeck by sy landing aan Kaap die Goeie Hoop op 6 April 1652: “ende onder dese wilde brutale menschen (mogelijck sijnde) uwe ware gereformeerde Christelijcke eere mettertijt mochte voortgeplant ende verbreijt worden, tot uwes H. Naemes loff” (Van Jaarsveld, 1971:6).
Uit hierdie gebed is dit verder duidelik dat met die koms van die Hollanders aan die Kaap die Gereformeerde godsdiens in Suid-Afrika gevestig is (Scholtemeijer, 1969:211). Die belangrikste kerkboeke wat Jan van Riebeeck saamgebring het, was die Statebybel met sy Gereformeerde verklarende aantekeninge, die Psalmboek met die Gereformeerde belydenisskrifte en ook enkele liturgiese formuliere wat tydens die Sinode van Dordrecht 1618/19 in Nederland vasgestel is en in die Gereformeerde kerke aldaar in gebruik was (d’Assonville, 1992:198). Aan die hand van die verskillende kerkboeke en ooreenkomstig die gebruike wat in die Gereformeerde kerke in Nederland van toepassing was, is die kerklike lewe aan die Kaap ingerig, alhoewel daar gedurende die eerste jare na die volksplanting nog nie werklik sprake van ´n goed georganiseerde kerklike lewe was nie (Van Broekhuizen, 1922:11; Scholtemeijer, 1969:211; Pont, 1991:150).
Met die aankoms van dominee J. van Arckel, die eerste vaste predikant in die Kaap, is die Gereformeerde Kerk Kaapstad formeel in 1665 gestig (Pont, 1991:150). ´n Kerkraad, bestaande uit een ouderling en een diaken, is eweneens benoem (Scholtemeijer, 1969:212). Met verloop van tyd word meer gemeentes gestig: in Stellenbosch (1689), Drakenstein (1691), Roodezand (1743), Zwartland (1744), Graaff-Reinet (1792) en Swellendam (1794) (Scholtemeijer, 1969:212-213; d’Assonville, 1992:200-201). Oral waar gemeenskappe van trekkende burgers ontstaan het, is daar ruimte gesoek om ´n kerk te stig. Rondom die kerke het dan dikwels dorpe ontstaan (d’Assonville, 1992:201).

5.3.1.1.2 Die ordening in die Kaapse kerke

Wat die ordening van die kerklike lewe en die eerste gemeentes betref, is dit duidelik dat - sover moontlik - die Nederlandse patroon van kerkregering nagevolg is (Odendaal, 1957:32). Met inagneming van die Politieke Raad en die Here XVII, wat hulle patronaatsreg ten volle uitgeoefen het, is die kerke regeer (Pont, 1991:152).
Oor die vraag watter kerkorde in die vroeë Kaapse kerke van krag was, bestaan daar uiteenlopende menings.
· Kleynhans (1973:17) en Van der Watt (1976:9, 42-43) toon met verwysing na ´n brief van dominee J.G. d’Ailly, predikant van die Kaapse gemeente in die vroeë agtiende eeu, asook op grond van duidelik aanwysbare historiese insidente aan dat die Dordtse Kerkorde van 1618/19 die vigerende kerkorde in die Kaapse kerke was.
· Jooste (1958:13) stel dat “die grondslae waarop die kerklike lewe aan die Kaap gereël is, sodanig was dat ons dit Gereformeerd kan noem in die sin van die Sinode van Dordrecht (1618/19)”.
· Kruger (1957:34) oordeel dat die Politieke Raad nooit offisieel enige kerkorde aan die Kaap afgekondig het nie. Die kerke het volgens Kruger moontlik òf die Dordtse Kerkorde òf die Kerkorde van Batavia as “handleiding gebruik sover dit moontlik was vir toestande aan die Kaap”.
· Spoelstra (1984:54) deel Kruger se mening. Hy stel dit as ´n feit dat daar aan die Kaap geen kerkorde gegeld het nie. Volgens Spoelstra maak dit die Kaapse kerke voor 1804 nie vorm- of ordeloos nie, aangesien binding aan en belewing van die Gereformeerde belydenis die inrigting van die kerklike lewe bepaal het.
· Engelbrecht (1936:9) is van oortuiging dat die Dordtse Kerkorde in die dae van die Oos-Indiese Kompanjie “glad nie van krag was nie”. Hy motiveer nie sy oortuiging nie.
· Alhoewel dit uit die verskillende standpunte blyk dat daar nie met sekerheid gesê kan word of die Dordtse Kerkorde van 1618/19 in die Kaapse kerke van krag was nie, kan aanvaar word dat die kerklike lewe wel op ´n Gereformeerde wyse ingerig is. Die meeste geskiedskrywers is van mening dat die beginsels vir die kerkregering, soos wat dit in die Gereformeerde belydenis verwoord is, in die kerklike lewe toegepas is.

5.3.1.1.3 Kerklike belemmeringe

Nieteenstaande die pogings om die suiwer Gereformeerde beginsels in die kerklike lewe aan die Kaap toe te pas, was daar van meet af aan twee liggame wat die ontwikkeling van die kerke gerem het (Scholtemeijer, 1969:213; d’Assonville, 1992:199). Parallel met die gebeure in Nederland gedurende die sewentiende eeu, het die Kaapse kerke onder owerheidsinmenging gebuk gegaan. Bowendien het die Klassis Amsterdam die selfstandigheid van die kerke in die Kaap aangetas.
Wat laasgenoemde betref het genoemde Klassis aanvanklik volgens artikel 39 van die Dordtse Kerkorde die Gereformeerdes aan die Kaap as verspreidwonendes beskou en bearbei. Toe daar in die Kaap selfstandige, plaaslike kerke gestig is, het die Klassis voortgegaan om sake vanuit Nederland te reël. Die Klassis Amsterdam waak daarteen dat die gemeentes aan die Kaap niks meer sal wees as ´n uitbreiding van die kerk in die vaderland nie (Pont, 1991:157). In effek is die selfstandigheid van die plaaslike kerk misken: een van die grondreëls van die Gereformeerde kerkregering word tersyde gestel. Vir 150 jaar het die Klassis Amsterdam hulle stempel op die Kaapse kerke bly afdruk, wat meegebring het dat die kerklike lewe nie behoorlik ontwikkel het nie (d’Assonville, 1992:199).
Aan die ander kant het die owerheid die kerke aan bande gelê deur oral in te meng. ´n Verteenwoordiger van die regering (die Politieke Raad) moes elke kerkraadsvergadering bywoon (Van Broekhuizen, 1922:25; Pont, 1991:153). Die owerheid het die laaste seggenskap wat betref die verkiesing van kerkraadslede, besteding van gelde, stigting van nuwe gemeentes en beroeping van predikante gehad (Scholtemeijer, 1969:213). Die burgerlike regering het homself die reg toegeëien om besluite van die kerke eers goed te keur alvorens dit uitgevoer word (d’Assonville, 1992:199).
Die gemeentes kon nie in ´n meerdere vergadering, soos die Gereformeerde kerke dit ken, byeenkom nie. Die Klassis Amsterdam het dit uitdruklik verbied (Pont, 1991:157). Om enigsins in die behoefte aan gemeenskaplike beraadslaging te voorsien, het naburige kerke soms bymekaargekom as ´n soort “groot kerkraad” (Scholtemeijer, 1969:214). In 1746 is die eerste “Gekombineerde Kerkvergadering” gehou (Van Broekhuizen, 1922:91; Pont, 1991:157). Oor die invloed van dié vergadering sê Van Broekhuizen (1922:110) dat dit nie verreikend was nie “omdat hulle geen besluit sonder goedkeuring van die regering kon neem nie; verder het die meeste gemeentes en kerkrade met hulle vreeslike uitgestrektheid hulle eie pad moes veg”. Dertien jaar later, in 1759, het die owerheid weer met die Gekombineerde Kerkvergadering weggedoen (Scholtemeijer, 1969:214). Tot en met 1795 het die owerheid direkte toesig oor die kerklike lewe bly hou en is die kerk as ´n departement van die staatsdiens beskou (d’Assonville, 1992:199).

5.3.1.1.4 Slotsom

Uit die gegewens wat hierbo vermeld is, dui alles daarop dat die Kaapse kerke in die jare 1652 tot 1795 op papier volgens die beginsels van die Gereformeerde kerkreg, soos dit in die Gereformeerde belydeniskrifte en in die Dordtse Kerkorde verwoord is, ingerig en regeer is. Die praktyk van kerkregering was klaarblyklik egter heel anders.
In teenstelling met die belydenis (in besonder artikels 27 tot 32 NGB oor die plaaslike kerk en artikel 36 NGB oor die onderskeie take van die owerheid en die kerk) en die Dordtse Kerkorde (vergelyk onder andere artikels 29 tot 52 oor die take van die verskillende kerklike vergaderings) het die Klassis Amsterdam en die Politieke Raad die regering van die kerke uit die hande van die kerkrade geneem. Gevolglik het die Kaapse kerke onder klassikrasie (onregmatige inmenging van die klassis in die regering van die plaaslike kerke) en caeseropapie (onregmatige indringing van die owerheid in kerklike sake) gebuk gegaan. Noodwendig vloei hieruit voort dat daar van die ratihabitio in artikel 31 Dordtse Kerkorde niks tereg gekom het nie. Reeds die feit dat daar amper nooit meerdere vergaderings belê is nie, maak ratihabitio onmoontlik. Verder is die finale woord nie aan Gods Woord - soos bedien deur die kerkraad - oorgelaat nie, maar aan ´n klassis en die burgerlike owerheid.

5.3.1.2 1795-1843: Die kerk onder regstreekse staatsbestuur
5.3.1.2.1 Periode 1795 tot 1804

In 1795 is die Kaap deur Engeland in besit geneem. Die verowering het op die kerklike lewe geen grootskaalse veranderings tot gevolg gehad nie, behalwe dat die band met die Klassis Amsterdam heeltemal verbreek is (Scholtemeijer, 1969:215).
´n Gebeurtenis wat wel ingrypende gevolge vir die kerklike lewe aan die Kaap ingehou het, is die Franse rewolusie van 1789. Die leuse van “vryheid, gelykheid en broederskap”, wat die kerklike lewe in Europa ingrypend beïnvloed het, het ook na die Kaap oorgewaai. Onder hierdie leuse mag een kerk nie bo ´n ander bevoorreg word nie en alle mense moet gelyke regte hê (Scholtemeijer, 1969:215).
Met die Vrede van Amiens in 1802 word die Kaap aan Nederland teruggegee. Omdat die Oos-Indiese Kompanjie reeds opgehou het om te bestaan, val die Kaap direk onder die regering van die Bataafse Republiek (Van Broekhuizen, 1922:141). Goewerneur Janssens en kommissaris-generaal De Mist word uit Nederland na die Kaap gestuur om sake in orde te bring. Deurdring van die filosofie van die Franse Rewolusie het De Mist begin om die staatsbestel aan die Kaap te reorganiseer. Ook die kerk, wat nog al die jare as ´n departement van die staat beskou en hanteer is, word deel van De Mist se reorganisasie-plan (Scholtemeijer, 1969:216).
Nadat De Mist homself op hoogte gebring het van die wyse waarop die kerklike lewe in die Kaap tot 1804 ingerig is, het hy ´n kerkorde opgestel wat op 25 Julie 1804 in werking gestel is (Van Broekhuizen, 1922:143; Scholtemeijer, 1969:216). Die orde bestaan uit 52 artikels en verskil radikaal van die Dordtse Kerkorde (d’Assonville, 1992:202). Die naam van die kerk, wat voorheen Gereformeerde Kerk was, is deur De Mist na die Hervormde Kerkgenootskap verander (Van Broekhuizen, 1922:147-150). Daaruit blyk De Mist se kerkbegrip. Hy sien die kerk as ´n genootskap van mense wat diensbaar aan die staat moet wees (d’Assonville, 1992:202). Die Naam van die Here kom nie in sy kerkwet voor nie. Daar word slegs melding gemaak van ´n “Hoogste Wese”: ´n vae, onbepaalde godheid wat eerbiedig moet word ter bevordering van deug en goeie sedes (Scholtemeijer, 1969:216). Wat die kerkregering betref beskou De Mist die sinode as die kerk, terwyl die gemeentes takke daarvan is. Die sinode is ´n hoofbestuur, en die gemeentes is almal aan die bestuur ondergeskik (d’Assonville, 1992:202). Die kollege (sinode) regeer die ondergeskikte lede (gemeentes). De Mist het sodoende ´n tipies kollegialistiese stelsel van kerkregering in die Kaap ingevoer (vergelyk 3.1). Hiermee is met die Gereformeerde wyse van kerkregering formeel en materieel afgereken (d’Assonville, 1992:203).
´n Voordeel (in Gereformeerd-kerkregtelike terme) van De Mist se Kerkorde is dat daar voorsiening gemaak word vir die hou van ´n algemene kerkvergadering. As gevolg van omstandighede sou die eerste algemene vergadering eers in 1824 gehou word (Scholtemeijer, 1969:217). Nietemin is die ruimte daarvoor formeel geskep, wat ´n verbetering ten opsigte van die praktyk voor 1795 was.
Met betrekking tot die onderwerp is dit van belang om op te merk dat De Mist se Kerkorde nêrens direk melding maak van die binding van besluite wat deur die algemene vergadering geneem is nie. In die kollegialistiese stelsel van kerkregering is besluite van hoëre kerkbesture vanself bindend. In artikels 48, 50 en 51 van De Mist se Kerkorde word bepaal dat die goewerneur die laaste sê het oor die agenda van die algemene kerkvergadering, asook oor die besluite wat die vergadering neem. Die goewerneur moet toestemming gee alvorens ´n besluit van krag word (Van Broekhuizen, 1922:168-169; Pont, 1991:188-189).

5.3.1.2.2 Periode 1804 tot 1843

Op 8 Januarie 1806 het Engeland die Kaap weer - hierdie keer permanent - in besit geneem (Kruger, 1957:44; d’Assonville, 1992:203). Ten opsigte van die kerklike lewe het die Engelse voorlopig geen veranderings aan die bestaande toestand aangebring nie. Die Kerkorde van De Mist is kragtens artikel 8 van die Akte van Kapitulasie onveranderd deur die Engelse oorgeneem (Kruger, 1957:44; Odendaal, 1957:83; Scholtemeijer, 1969:217).
Nieteenstaande die handhawing van die status quo met betrekking tot die vorm van kerkregering, was die Engelse bewindhebbers daarop uit om die kerke, soos die res van die samelewing in die Kaap, te verengels (Kruger, 1957:44; d’Assonville, 1992:203). Politieke kommissarisse sou voortaan vir die Engelse belange in die kerk moes waak. Predikante word nou deur ´n Engelse goewerneur aangestel, verplaas en betaal. Staatsgesag in en oor die kerk word verskerp.
Met verloop van tyd het die kerk in die Kaap verengels, mede as gevolg van die feit dat Engelse en Skotse predikante ingevoer is om in die Hollandse gemeentes te dien (Kruger, 1957:46-49; d’Assonville, 1992:204). Leerstellig sowel as kerkregtelik bereik die Kaapse kerke ´n laagtepunt (Scholtemeijer, 1969:218). Die invoer van gesange in 1814 sonder dat ´n meerdere vergadering daaroor besluit en kerkrade dit aanvaar het, dien as ´n bevestiging van die leerstellige en kerkregtelike warboel (d’Assonville, 1992:206).
Die Skotse predikante aan die Kaap het vanaf hulle aankoms daarop aangedring dat die artikels in De Mist se Kerkorde wat vir ´n algemene vergadering of sinode voorsiening maak, toegepas moes word (Scholtemeijer, 1969:218). In 1824 word aan hulle eise voldoen. Afgevaardigdes uit twaalf van die veertien kerke in die Kaap vergader tesame (Odendaal, 1957:97). Dit was die eerste amptelike algemene kerkvergadering (sinode) in Suid-Afrika (Kruger, 1957:52; d’Assonville, 1992:207).
Hierdie eerste sinode het die Kerkorde van De Mist offisieel as grondwet van die Kaapse kerke aanvaar (Odendaal, 1957:100). Aanvullend tot De Mist se Kerkorde is Reglementen voor het bestuur der Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika opgestel (Odendaal, 1957:100). Vir hierdie reglement is hoofsaaklik van Koning Willem 1 se reglement gebruik gemaak, wat sedert 1816 as kerkwet vir die Nederlandse Hervormde Kerk gedien het.
Alhoewel Odendaal (1957:103) van mening is dat die sinode van 1824 “soveel moontlik probeer het om die gees van Dordt daarin (in die nuwe reglement - GJM) te laat leef”, moet gekonstateer word dat die bedoeling van die reglement, soos uitgedruk in die volgende artikels (aangehaal deur Pont, 1991:217, 219), uitgesproke ongereformeerd is:
· Artikel 3: “De mindere besturen hebben het regt, voorstellen in te zenden aan de hoogere, en in voorkomende gevallen derzelver voorlichting te vragen; terwyl zy daarentegen verpligt zyn, aan de aanschryvingen der hoogere Kollegien te voldoen.”
· Artikel 4: “Een minder Kerkbestuur vermeenende door de besluiten van een hooger bezwaard te zyn, heeft het regt zich deswegens by nog hooger bestuur te beklagen; mits nogtans gehouden zynde, van inmiddels aan de ontvangene bevelen te gehoorzamen, ten zy de zaak by de eindelyke uitspraak, niet weder in zyn geheel zoude kunnen gebragt worden.”
· Artikel 5: “Van alle zaken, by uitspraak van een kerkelyk Kollegie beslist, valt appèl aan het in rang volgend hoogere Kollegie, doch ter tweeder instantie beslist zynde, wordt geen nieuw appèl toegestaan.”
· Artikel 9: “De hoogste directie der Hervormde Kerk in deze volksplanting omtrent Kerkelyke zaken berust bij de Algemeene Kerkvergadering.”
· Artikel 20: “In alle Gemeenten zal een afzonderlyke Kerkenraad zyn ... van welken alle de betrekkingen en pligten door de Algemeene Kerkvergadering by een reglement op den Kerkenraden zullen worden bepaald, en omschreven overeenkomstig Artikel 24 van de thans vigeerende Kerkenorde van het jaar 1804.”
Die Hervormde teoloog, S.P. Engelbrecht (1936:11-12) spreek ´n gunstige oordeel oor die reglement uit as hy sê: “Dit vorm vandag nog die grondslag van die verskillende Suid-Afrikaanse Kerke, behalwe van die Gereformeerde Kerk. Die kerk-ontbindende beginsel van die outonomie van die plaaslike gemeente is in hierdie reglement nie gehuldig nie”. Laasgenoemde opmerking dien slegs as ´n bevestiging dat, met die aanvaarding van die reglement, die Kaapse kerke offisieel afstand van die ou Gereformeerd-kerkregtelike tradisie gedoen het, waarin op grond van die Skrif en die belydenis uitgegaan word van die selfstandigheid van die plaaslike kerk (Kruger, 1957:55; Scholtemeijer, 1969:219; d’Assonville, 1992:207). Die Nederduitse Gereformeerde kerkgeskiedskrywer, professor P.B. Van der Watt (1980:38-50) is eweneens van mening dat die Algemene Reglement van 1824 ´n “belemmering” vir die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk was, omdat die Dordtse Kerkorde nie as basis daarvoor gebruik is nie.
Sedert 1824 het die Kaapse kerke gereeld in sinodes byeengekom (d’Assonville, 1992:208). Die Skotse predikante was nie met die inmenging van die owerheid in kerklike sake gediend nie. Op die sinodes het ernstige konflik tussen predikante en politieke kommissarisse ontstaan (Scholtemeijer, 1969:218). Om ´n einde aan die wrywing te maak, het die goewerneur gevra dat die sinode ´n kerkwet moet help opstel waardeur die kerk in die toekoms sonder inmenging van die goewerneur sy sake kon bestuur. In 1842 het die sinode ´n kerkwet voorberei wat deur goewerneur George Napier aanvaar en in Ordonnansie 7 van 1843 afgekondig is. Hierin het die owerhede aan die kerk die reg toegeken om sonder bekragting van die regering wette te maak. Sinodes sou ook voortaan sonder die teenwoordigheid van politieke kommissarisse kon vergader (Scholtemeijer, 1969:219). Alhoewel die owerheid nog nie ten volle onafhanklikheid aan die kerk toegestaan het nie, kan 1843 as die jaartal beskou word waarin ´n einde aan regstreekse staatsbeheer oor die kerk gekom het (Kruger, 1957:60-61).
In die kerkwet van 1842 is die naam van die Kaapse kerke vanaf die Hervormde Kerkgenootskap na die Nederduitse Gereformeerde Kerkgenootskap verander (Scholtemeijer, 1969:218).

5.3.1.2.3 Slotsom

Die periode 1795 tot 1843 word met die uitsig op kerklike vryheid ten opsigte van owerheidsinmenging afgesluit. Die Kerkorde van De Mist, tesame met die aanvullende reglemente wat die Sinode 1824 opgestel het en Ordonnansie 7 van 1843, maak daarvoor voorsiening dat die kerk betreklik onafhanklik van die owerheid kan funksioneer. Daardie vryheid impliseer egter nog nie ware vryheid in Christus nie. Met die offisiële aanvaarding van De Mist se Kerkorde en die aanvullende reglemente in 1824 het die Kaapse kerke afstand gedoen van hulle Gereformeerd-kerkregtelike fondament, net soos wat die Gereformeerde kerke in Nederland in 1816 met die invoering van koning Willem I se reglement van hulle Gereformeerde fondament afstand gedoen het (vergelyk 5.2.3.2.4). Die Kaapse kerke is sedert 1843 wel tot ´n groot mate van owerheidsinmenging bevry, maar is sedertdien ´n nuwe juk opgelê: die juk van ´n kerklik geykte kollegialistiese sinodokrasie. Kerke word gebind aan die wil van kerklike vergaderings. Die ratihabitio van artikel 31 Dordtse Kerkorde, wat gerig is op eerbiediging van die alleenheerskappy van Christus in sy kerk, word steeds totaal misken. Daarmee saam word vir die ratificatio van besluite geen ruimte gelaat nie. Besluite van hoër besture moet deur laer besture uitgevoer word, bloot omdat die hoër bestuur die besluit geneem het - nie omdat die kerkraad dit as sy eie aanvaar het nie.

5.3.1.3 1843 tot 1859: Die kerk op die kruispad

Vanaf 1834 het Boere in groot getalle uit die Kaapkolonie begin trek (Jooste, 1958:44; Van der Watt, 1977:5). Voor hulle vertrek uit die Kaap het hulle ernstige, dog tevergeefse pogings aangewend om ´n predikant te beweeg om saam met hulle te gaan (Engelbrecht, 1936:27; Scholtemeijer, 1969:223; Pont, 1991:283, 290-291). Alhoewel die Voortrekkers gepoog het om ook kerklik geheel en al onafhanklik van die Engelse oorheersing in die Kaap te staan (Jooste, 1958:44), het dit nie geslaag nie. Kaapse predikante het die Trekkers van tyd tot tyd in die Transvaal en Natal besoek en hulle geestelik as lidmate van die kerk in die Kaap bearbei (Engelbrecht, 1936:50-58; Scholtemeijer, 1969:223-224; d’Assonville, 1992:217). Die kerklike lewe in die Transvaal is dan ook ontwikkel en voortgebou op die grondslag van die kerk in die Kaapkolonie (Van der Watt, 1977:21).
In 1852 word die nood weens gebrek aan behoorlike kerklike bediening so groot, dat die Transvalers ´n versoek tot inlywing aan die Kaapse sinode rig (Scholtemeijer, 1969:224; Pont, 1991:339). Die Kaapse sinode het die versoek, onderworpe aan sekere voorwaardes, goedgekeur (Pont, 1991:346). Voordat die Transvalers egter op die voorwaardes van die sinode kon reageer, kom die jong proponent Dirk van der Hoff, wat in Den Haag (Nederland) georden en in die Kaap gelegitimeer is, deur die toedoen van ´n sekere professor Lauts in die Transvaal aan (Van der Watt, 1977:67; d’Assonville, 1992:217). Kort na sy aankoms word hy in die Transvaalse kerk as predikant bevestig, met die gevolg dat met inlywing by die Kaapse kerke nie voortgegaan word nie (Odendaal, 1957:118; Scholtemeijer, 1969:225).
In 1953 word die Nederduitsch Hervormde Kerk in Transvaal gestig (d’Assonville, 1992:218). Op die eerste Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk in 1853 word besluit dat geen ander kerkgenootskappe in die land toegelaat sal word nie (Scholtemeijer, 1969:225). Die Volksraad het die besluit van die Algemene Kerkvergadering goedgekeur. Sodoende is die Hervormde Kerk deur die regering as staatskerk van die Zuid-Afrikaanse Republiek (Z.A.R.) verklaar (d’Assonville, 1992:218).
Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kaap is voorlopig net so in die Hervormde Kerk oorgeneem en toegepas (Engelbrecht, 1936:141; Scholtemeijer, 1969:225). Tien jaar later, op 24 Oktober 1863 is ´n eie kerkwet vir die Hervormde Kerk gefinaliseer en deur die Volksraad van die Z.A.R. bekragtig. Opmerklik van die Hervormde Kerkwet is dat dit duidelik gegrond is op die Kaapse Kerkwet van 1842 (Engelbrecht, 1936:142; Storm, 1989:131). Die beginsel dat “die Kerk ´n ondeelbare eenheid” is, geld as uitgangspunt vir die kerkwet (Engelbrecht, 1936:142). Die bestuur van die kerk word uitgeoefen “1e. Over de Gemeenten door Kerkeraden; 2e. Door de Commissie der Algemene Kerkvergadering; 3e. Over al de Gemeenten tezamen door de Algemeene Kerkvergadering” (Engelbrecht, 1936:143). Van ´n terugkeer na die Gereformeerd-kerkregtelike beginsels was daar in die Hervormde Kerk van die Z.A.R. duidelik geen sprake nie. Dominee Van der Hoff self het ook nooit gepoog om na die Gereformeerd-kerkregtelike beginsels terug te keer nie, aangesien hy nie daarin opgelei is nie. Hy kom uit die vrysinnige Hervormde Kerk van Nederland (d’Assonville, 1992:219), waaruit daar alreeds in 1834 ´n afskeiding was (vergelyk 5.2.4.1).
Weens hierdie omstandighede was daar steeds woelinge binne die Hervormde Kerk in die Transvaal, veral in Rustenburg waar Philippus Snyman as ouderling gedien het (d’Assonville, 1992:219). Daar was nog altyd ´n Gereformeerde element wat ontevrede was met die ongereformeerde leer (onder andere die gesange) en inrigting van die kerklike lewe in die Hervormde Kerk (Jooste, 1958:45; Scholtemeijer, 1969:226; d’Assonville, 1992:218).
In 1859, met die koms van dominee Dirk Postma in die Z.A.R., word die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika herstig (d’Assonville, 1992:225). Die Gereformeerde Kerke het vanuit die staanspoor (reeds in die Afskeidingsakte) besluit om terug te keer na die leer, diens en tug soos dit deur die Sinode van Dordrecht 1618/19 bepaal is (Scholtemeijer, 1969:233; Van der Watt, 1977:84).
Vir die eerste keer sedert 1804, met die invoering van De Mist se Kerkorde en die afskaffing van die Dordtse Kerkorde, word die moontlikheid vir die ratihabitio van besluite van meerdere vergaderings weer geopen. In 1859 is die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika die enigste kerkverband wat hom kerkordelik verbind tot die hantering van besluite van meerdere vergaderings soos die Gereformeerde kerke in Nederland dit sedert die sestiende-eeuse reformasie gedoen het en in 1581 geyk het.

5.3.1.4 Ratifikasie in die jare 1652 tot 1859: samevatting

Tiperend van die periode 1652 tot 1795 is dat die Kaapse kerke op papier volgens die Dordtse Kerkorde ingerig en regeer is. Die praktyk van kerkregering was egter radikaal anders. Die Kaapse kerke het onder oorheersing van die Amsterdamse Klassis en die plaaslike owerheid gebuk gegaan, wat tot gevolg het dat daar vir die ratihabitio, met inbegrip van ratificatio, in artikel 31 Dordtse Kerkorde gedurende hierdie periode geen ruimte was nie. Inteendeel, kerkrade is hulle reg en plig van ratihabitio en dus ook van ratificatio welbewus ontneem.
Gedurende die periode 1795 tot 1843 word offisieel met die Dordtse Kerkorde weggedoen. Alhoewel die kerke ´n groter mate van vryheid ten opsigte van die owerheid geniet, bring die Kerkorde van De Mist, tesame met die aanvullende reglemente wat die Sinode 1824 opgestel het, die Nederduitse Gereformeerde Kerk onder die juk van sinodokrasie. Die Hervormde Kerk in die Z.A.R. aanvaar in beginsel dieselfde orde en reglemente, wat beteken dat ook in daardie kerkverband sinodokraties te werk gegaan word. Nog steeds word vir kerkrade geen ruimte vir die ratificatio van besluite van meerdere vergaderings gelaat nie.
Eers in 1859, met die herstigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (met die koms van Jan van Riebeeck is die Gereformeerde Kerke vir die eerste keer gestig - vergelyk 5.3.1.1.1), word daar teruggekeer na die Dordtse Kerkorde en word die moontlikheid geskep om ooreenkomstig artikel 31 van daardie Kerkorde besluite van meerdere vergaderings vir vas en bindend te hou sonder dat ´n owerheid of kerklike bestuur binding aan hulle besluite forseer.
Die samevattende slotsom waartoe gekom word, is dat daar in die kerklike lewe in Suid-Afrika voor 1859 geen sprake van ratihabitio, waaronder ratificatio, van besluite van meerdere vergaderings was nie.

5.3.2 Ratifikasie en die eerste sinodes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

In die vorige paragrawe is aangetoon dat met die herstigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1859 die deur vir kerkrade geopen is om die besluite wat deur meerdere vergaderings geneem is, ooreenkomstig artikel 31 KO te ratifiseer. Of kerkrade sedertdien daadwerklik hulle ratificatio-plig nagekom het, is moeilik om vas te stel, omdat daar - sover vasgestel kon word - geen gegewens daaroor gepubliseer is nie. Die term ratifikasie word byvoorbeeld nie in die indeks van die teologiese biblioteek van die PU vir CHO of in die register van sinodebesluite van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vermeld nie (Lourens, 1990:77).
Ten einde ´n aanduiding te kry in hoeverre kerkrade wél die besluite van meerdere vergaderings ná toetsing en geldigverklaring as hulle eie aanvaar (geratifiseer) het, word uit die voorwoorde van die eerste sinodes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika enkele relevante opmerkings aangehaal.

5.3.2.1 Sinode 1862

Die eerste Algemeene Sijnodale Vergadering der Gereformeerde Kerken in Suid-Afrika is vanaf 20 tot 24 Maart 1862 te Reddersburg gehou.
In artikel 12 van die acta (GKSA, 1862:8) word melding gemaak van ´n openbare verklaring wat met die aanvang van die sinode aan die sinodegangers voorgehou is, waarmee die aanwesiges hulle instemming moes betuig. In die verklaring word die kerke gebind aan die Dordtse Kerkorde van 1618/19. Artikels 14 en 19 van die acta (GKSA, 1862:10) vermeld dat die Dordtse Kerkorde as “algemeene Kerke-orde voor onze Kerk” voorgelees en aangeneem word.
Artikel 46 (GKSA, 1862:19) bepaal dat die sinodale handelinge gedruk moet word. In die voorwoord van die acta (GKSA, 1862:4) skryf dominees D. Postma en J. Beijer die volgende oor hoe die besluite van die sinode deur die gemeentes ontvang en hanteer moet word: “En alzoo, lieve Broeders en Zusters, in den Heere! wenschen wij met u te deelen en door u beschouwd te worden; - gedenkt onzer in uwe liefde en gebeden”.

5.3.2.2 Sinode 1863

Die tweede sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika word gedurende Junie 1863 te Rustenburg gehou. Op versoek van die praeses, dominee Beijer, lees die skriba die sinodale handelinge van die eerste sinode voor (GKSA, 1863:7). Artikel 9 (GKSA, 1863:7) vermeld dat die praeses navraag doen of alle gemeentes ´n uitgawe van die eerste acta ontvang het, waarop bevestigend geantwoord word. Daar word besluit om die handelinge van die tweede sinode ook te druk (GKSA, 1863:17) en aan die gemeentes beskikbaar te stel.
In die Voorberigt van die acta word die leser versoek om “deze handelingen met belangstelling te ontvangen”.

5.3.2.3 Sinode 1866

Artikel 54 uit die acta van die derde sinode (GKSA, 1866:15) vermeld dat die handelinge van die tweede sinode in die vergadering voorgelees is. Soos met die vorige twee acta, word ook nou besluit om dit te druk (GKSA, 1866:19).

5.3.2.4 Sinode 1882

In die voorwoord van die acta van die Sinode 1882 (GKSA, 1882:v) word die vertroue uitgespreek “dat wanneer gij kennis gemaakt hebt met de handelingen dezer Synode, gij met ons zult opmerken de groote zegeningen die de Heere wederom aan Zijne Kerk geschonken heeft door deze Synode en opgewekt worden tot dankbaarheid”.
Oor die inhoud van die besluite word die hoop uitgespreek dat dit vir die leser sal blyk dat “de Kerk door hare Synode zich ook nu weer duidelijk heeft uitgesproken, in opzicht tot leer, dienst en tucht, als de van ouds bekende Geref. Kerk van Nederland”.

5.3.2.5 Sinode 1888

In die voorwoord van die acta van die Sinode 1888 (GKSA, 1888:3) word spesifiek na artikel 31 KO verwys as die handelinge aan die gemeentes en individuele lidmate voorgelê word: “Wij hopen dan nu ook, dat allen nu weder tot hunne gemeenten teruggekeerd, niet alleen uit een maatschappelijk oogpunt volgens de meerderheid der stemmen hetgeen besloten is ijverig zullen behartigen in hunne gemeenten, maar ook in die meerheid der stemmen de Voorzienigheid Gods zullen eerbiedigen. Dus niet alleen, zeggen wij, uit een maatschappelijk oogpunt, maar ook met eene Christelijke nederigheid en belangstelling de zaken die bij meerderheid der stemmen ten nutte der Kerk in het algemeen besloten zijn, zullen helpen uitvoeren in ootmoedige getrouwheid. (Zie ook Art. 31 van onze Dordsche Kerkorde)”.

5.3.2.6 Sinode 1907

Die voorwoord van hierdie acta (GKSA, 1907:4) word met die volgende sin afgesluit: “Met dit korte voorwoord bieden wij nu deze notulen de gemeenten aan, en vertrouwen dat door het lezen er van de liefde, ijver en belangstelling voor het heil van Sion bevorderd zal worden”.

5.3.2.7 Sinode 1916

´n Meer algemene, maar nietemin dringende oproep word aan die gemeentes gerig: “Wij zullen niet uitwijden over de handelingen der Synode, die wij met dezen uitzenden aan de gemeenten. Wij vragen slechts aan de gemeenten: leest dezelve met ernst in de gewichtige tijden waarin we ons bevinden” (GKSA, 1916:4).

5.3.2.8 Sinode 1918

Die slot van die inleidende woorde van die acta van 1918 (GKSA, 1918:4) lees soos volg: “Hiermee bied ons die Handelinge van die Sinode 1918 aan die geagte en belangstellende leser en die werk, waarvan die Handelinge ´n verslag is, beveel ons Gode”.

5.3.2.9 Slotsom

Samevattend blyk dat gemeentes die volgende met die sinodale acta behoort te doen:
· Hulle moet dit met belangstelling ontvang en met ywer lees.
· Deur die acta te lees, moet hulle met die besluite van die sinode kennis maak.
· Besluite van die sinode moet as belangrik geag word en met ywer in die gemeentes uitgevoer word.
· Sodoende moet die heil van die kerke bevorder word.
Gemeet aan die verskeie handelinge wat in die ratihabitio van artikel 31 KO opgesluit lê (vergelyk 2.3), is daar slegs twee punte van ooreenkoms, te wete die lees en die uitvoer van besluite van ´n meerdere vergadering. Dit is nie duidelik of die kerke die besluite van die sinode, nadat hulle dit gelees het, ook getoets, geldig verklaar en aanvaar het, alvorens hulle dit uitgevoer het nie. Daar word ook geen melding gemaak van die pad wat gevolg moet word indien ´n kerkraad nie met ´n bepaalde besluit van die sinode kan saamstem nie.
Oor die algemeen wil dit voorkom asof belangstellende lesers van die eerste sinodes se besluite kennis geneem het. Kerkrade het die besluite waarskynlik ongetoets in die praktyk van die kerklike lewe toegepas.
Die redes waarom daar so vaag na kerkrade se optrede met betrekking tot die ratihabitio van artikel 31 KO verwys word, kan die volgende wees.
· In die eerste plek moet onthou word dat dominee Dirk Postma, wat ´n toonaangewende rol in die herstigtingsgeskiedenis van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in 1859 gespeel het, uit die Afgeskeie kerke in Nederland afkomstig was. Die Afskeiding in Nederland het nie op ´n intens kerkregtelike stryd gevolg nie. Die primêre punt in geding was die verval in die Gereformeerde leer en lewenswandel (vergelyk 5.2.4.1.2). Die kerke van die Doleansie was veel meer kerkregtelik onderlê en toegespits as dié van die Afskeiding. Dit kan dus wees dat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die beginjare weens hulle noue verbintenis met die Afgeskeie kerke in Nederland ook nie kerkregtelik so nougeset volgens die Gereformeerde beginsels, soos neergelê in die Dordtse Kerkorde, te werk gegaan het nie.
· ´n Tweede moontlike rede vir die vaagheid waarna hierbo verwys word, kan onkunde wees. Die kerke in Suid-Afrika het as gevolg van omstandighede nog nooit ooreenkomstig artikel 31 KO die besluite van meerdere vergaderings in die volle sin van die woord vir vas en bindend gehou (ratihabitio) nie. Gedurende die periode 1652 tot 1795 was ratihabitio weens klassikrasie en caeseropapie buite die kwessie. In die periode 1795 tot 1859 het ´n kerkwetlik geykte sinodokrasie dit vir kerkrade onmoontlik gemaak om volgens die Gereformeerde beginsels op te tree (vergelyk 5.3.1.3.4). Die toepassing van artikel 31 KO in omstandighede waar nòg die owerheid nòg die meerdere vergadering slaafse onderwerping van kerkrade vorder, was heeltemal iets nuuts. In sulke omstandighede kan eensydige optrede weens geb[???]

5.3.3 Ratifikasie en die kerkordes van die Afrikaanse kerke op Gereformeerde grondslag

Om ´n oorsig oor die hantering van ratificatio - indien enige - in die Gereformeerde kerkreg in Suid-Afrika te verkry, word in die volgende paragrawe ondersoek tot hoe ´n mate die vigerende kerkordes van onderskeidelik die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk daarvoor voorsiening maak.

5.3.3.1 Ratifikasie en die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk

Artikel 23 van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (1991:6) lui soos volg: “Die besluite van vergaderinge is bindend, maar daaroor kan in appèl na ´n meerdere vergadering gegaan word ...”.
Hierdie artikel sny die moontlikheid van ratificatio geheel en al af. Besluite van kerklike vergaderings is bindend. Die moontlikheid vir appèl word wel oopgehou, maar dit neem nie weg nie dat, solank die saak waarteen geappelleer word nog nie afgehandel is nie, die oorspronklike besluit - hetsy geldig of ongeldig - bindend is.
Omdat binding as ´n feit gestel word, kan kerkrade nie die besluite van ´n meerdere vergadering toets, geldig verklaar en as hulle eie aanvaar nie. Rossouw (s.j.:63) maak in hierdie verband die volgende opmerking: “Die vermeende reg (ratifikasie-reg) van ´n mindere vergadering om te besluit of hulle die besluite van ´n meerdere vergadering aanvaar, is ´n sieklike vondeling van die independentisme ...”.
Teenoor die opmerking van Rossouw moet gestel word dat al die elemente van die ratihabitio van artikel 31 Dordtse Kerkorde, uitgesonderd die executio van besluite, in artikel 23 van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk misken word. Die enigste wat ´n kerkraad volgens artikel 23 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Kerkorde te doen staan, is om die besluite van die meerdere vergadering uit te voer. Laasgenoemde kom neer op sinodokrasie: die plaaslike kerk word deur sinodebesluite regeer, nie deur die kerkraad wat eers die besluite van die sinode sy eie maak (ratifiseer) nie.

5.3.3.2 Ratifikasie en die Kerkwet en Bepalings van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

Bepaling 9.10 (NHK, s.j.:10) stel oor die werkwyse van die ring: “Onmiddellik na afloop van die ringsvergadering voltooi die ringskriba die notule en stuur dit vir behandeling na elke kerkraad in die ring”.
Bepaling 12.10 (NHK, s.j.:23) verorden onder andere die volgende oor die werkwyse van die Algemene Kerkvergadering: “Alle besluite van die Algemene Kerkvergadering is bindend op die hele Kerk van die oomblik waarop dit geneem word, tensy die Vergadering anders besluit”.
Opmerklik in verband met bogenoemde bepalings is die verskil in die besluitbevoegdheid van die ring en dié van die Algemene Kerkvergadering. Waar die ring se besluite vir behandeling na die kerkrade gestuur word, is die besluite van die Algemene Kerkvergadering - met of sonder behandeling - bindend vir die kerkraad.
Wat die bewoording van Bepaling 12.10 betref, geld dieselfde kommentaar as wat hierbo ten opsigte van artikel 23 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Kerkorde gelewer is.

5.3.3.3 Ratifikasie en die Kerkorde en Bepalings van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Artikel 31 van die Kerkorde van die Afrikaanse Protestantse Kerk (1992:26) lui soos volg: “Die besluit van ´n vergadering is bindend, maar wanneer ´n lidmaat of kerkvergadering hom veronreg voel of meen dat ´n besluit in stryd is met die Skrif en/of belydenisskrifte en/of die kerkorde en/of ´n ander sinodebesluit, kan hy appelleer na ´n meerdere vergadering of ´n beswaarskrif indien by die betrokke vergadering wat ´n besluit geneem het, ter motivering vir die verandering van die besluit”.
Bepaling 58A (APK, 1992:42) sluit by artikel 31 aan: “Wanneer ´n lidmaat ´n besluit van ´n ouderlingevergadering, ´n kerkraad of ´n meerdere vergadering nie kan onderskryf nie, kan hy dit by wyse van ´n appèl aanhangig maak”.
Ten opsigte van artikel 31 word volstaan met die kommentaar wat onder 5.3.3.2 gegee is in verband met die woorde “Die besluit van ´n vergadering is bindend”.
Ten opsigte van bepaling 58A is die woordjie “onderskryf” beduidend. Dit was die gewoonte van die Gereformeerde kerke na die Reformasie om besluite van meerdere vergaderings, nadat hulle behoorlik getoets is, deur middel van mondelinge toestemming en skriftelike “onderskrywing” (ondertekening) as hulle eie te aanvaar (vergelyk 2.1.2.2.1.3). Of die bedoeling van die “nie kan onderskryf nie” in bepaling 58A hiermee verband hou, is nie duidelik nie. Indien dit wel daarmee verband hou, staan dit in direkte teenstelling met die inhoud van artikel 31. As ´n besluit van ´n kerklike vergadering in elk geval bindend is, het dit geen sin om so ´n besluit nog by nabaat te onderskryf nie.

5.3.3.4 Ratifikasie en die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

Artikel 31 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (1980:21) lui onder andere soos volg: “Wat op ´n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde”.
Hierdie bewoording van die artikel is amptelik deur die Sinode van Potchefstroom 1964 aanvaar (GKSA, 1964:59; Spoelstra. 1989:192). Ratihabitio word in die veranderde artikel weergegee as “moet vir vas en bindend beskou word”.
In paragraaf 2.1.2.4.3 is reeds aangetoon dat “moet vir vas en bindend beskou word” ´n heelwat verswakte weergawe van ratihabitio is. In die eerste plek skep die imperatiewe “moet” die indruk dat binding aan geldige besluite as onderwerping aan ´n hiërargiese hoër instansie volg - wat beslis nie die bedoeling van ratihabitio is nie. In die tweede plek open “beskou” die deur vir ´n independentistiese kennisname van besluite sonder dat hulle uitgevoer word. Derhalwe moet vasgestel word dat “moet vir vas en bindend beskou word” suiwerder weergegee behoort te word met “sal vir geldend gehou word”, waarin die elemente van probatio, ratideclaratio, accepatatio (of ratificatio) en executio vervat is (vergelyk 2.1.2.4.1).
Nieteenstaande die swak weergawe van ratihabitio in die huidige artikel 31 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, word die reg en plig van kerkrade steeds duidelik genoeg omskryf om besluite van meerdere vergaderings nie klakkeloos in die plaaslike kerke uit te voer nie. Artikel 31 eis dat kerkrade erns sal maak met die toetsing, geldigverklaring en aanvaarding van besluite van meerdere vergaderings alvorens dit uitgevoer word.

5.3.3.5 Slotsom

Uit die tersaaklike artikels en bepalings van die kerkordes van die verskillende Afrikaanse kerke wat op ´n Gereformeerde grondslag (naamlik die drie Formuliere van Eenheid) leef, blyk dat slegs die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika ruimte laat vir die reg en plig van ratificatio. Die ander drie kerkverbande het met ´n gelykluidende “besluite van kerklike vergaderings is bindend” kerkrade van hulle Godgegewe regte en pligte ontneem (vergelyk 3.3). Sodoende word die selfstandigheid van die plaaslike kerk prysgegee, aangesien die binding aan besluite en die regering van die kerk - waarvoor Christus, die Opperherder, die herders van die plaaslike kerk verantwoordelik hou (Handelinge 20:28; Efesiërs 4:11; 1 Petrus 5:2) - uit die hande van die kerkraad geneem word en uiteindelik by die meerdere vergadering berus.

5.3.4 Ratifikasie en die beskouings van teoloë in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

In die inleiding van die studie is genoem dat daar in die Gereformeerd-kerkregtelike besinning in Suid-Afrika tot op dese min oor die onderwerp gepubliseer is (vergelyk 1.3). Die opmerkings wat wel oor ratificatio gemaak is, is so volledig moontlik versamel en word vervolgens in ‘n chronologiese volgorde weergegee.
Soos in die voorafgaande paragrawe, word die standpunte aan die hand van die reeds bekende skema (vergelyk 2.3) bespreek.

5.3.4.1 S. du Toit

Du Toit beoordeel in twee artikels in Die Kerkblad die gebeure rondom die kerkstryd in Nederland wat in 1944 op die Vrymaking uitgeloop het (vergelyk 5.2.5).
In die eerste artikel (1946a:14) beskryf hy die vrygemaaktes se antwoord op die vraag aan wie bewys gelewer moet word indien ´n besluit van ´n meerdere vergadering met die Woord van God stry. “Die beswaardes meen dat dit genoegsaam is as iemand voor die forum van sy eie konsiënsie die bewys gelewer het, hoewel dit nie uitsluit dat hy ook die meerdere vergadering moet probeer oortuig nie. Sodra dit vir die eie gewete vasstaan dat ´n bepaalde besluit in stryd is met die Skrif en die kerkorde, het iemand nie nodig om homself te onderwerp nie” (1946a:14).
In weerlegging hiervan oordeel Du Toit dat “die juiste posisie is dat iemand hom de facto onderwerp en dan by die volgende sinode sy besware kenbaar maak” (1946a:14).
Du Toit skryf verder dat “sommige beswaardes selfs so ver gaan om te beweer dat alle besluite van meerdere vergaderinge eers deur die plaaslike kerk bekragtig moet word voordat hulle van bindende krag is. Volgens hulle het die sinode nie meer gesag as die kerkraad nie, maar minder” (1946a:14). Klaarblyklik verwys hy na P. Deddens se beskrywing van ratificatio (vergelyk 5.2.5.2.2).
In die tweede artikel, wat op die eerste volg, spreek Du Toit sy oordeel oor die beskouings van die “sommige beswaardes” uit. Met betrekking tot hulle uitsprake oor meer en minder gesag van die verskillende kerklike vergaderings meen Du Toit (1946:12) dat die anti-sinodale rigting op anargie in die kerklike lewe afstuur op grond van ´n eensydige beklemtoning van een kerkregtelike beginsel, te wete die selfstandigheid van die plaaslike gemeente. “Hulle vergeet egter dat die sinode ook gesag dra... Die kerkreg van die anti-sinodales hel gevaarlik oor na Independentisme. As hulle standpunt konsekwent gehandhaaf moet word, is kerkregering ´n onmoontlikheid... As elkeen vir homself kan uitmaak of hy hom gaan onderwerp aan ´n besluit al dan nie, is die deur vir anargie wyd oopgemaak” (1946b:12).
Du Toit is van mening dat die beswaardes vergeet dat in die dae van die Doleansie die selfstandigheid van die plaaslike gemeente wel besonder sterk beklemtoon moes word teenoor die sinodokrasie van die Hervormde Kerk, maar dat daarmee die gesag van die meerdere vergaderings nie in die gedrang gekom het nie. “Dan sou die kerke van die Doleansie in flagrante stryd gekom het met die Geref. kerklike tradisie” (1946b:12).
Beoordeling
Du Toit se beoordeling van die vrygemaaktes (soos hy dit noem “beswaardes” en “anti-sinodales”) se opvattings rondom die gesag van meerdere vergaderings is weens ´n gebrek aan inagneming van alle gegewens nie suiwer nie. In paragrawe 5.2.5.2.2. en 5.2.5.2.3 is aangetoon dat die vrygemaakte teoloë ´n definitiewe onderskeid tussen die oorsprong en die aard van die gesag van die verskillende kerklike vergaderings maak. Wat die oorsprong betref is die gesag van die meerdere vergadering minder as die van die mindere vergadering. Wat die aard betref is alle gesag dieselfde. Du Toit neem hierdie onderskeid nie in ag nie, met die gevolg dat hy die verkeerde en misplaaste aanname maak asof die vrygemaaktes sou “vergeet dat ´n sinode ook gesag dra”.
Met hierdie foutiewe beoordeling in gedagte, benader Du Toit die vrygemaaktes se hantering van sinodebesluite. Hy veroordeel die suiwer Gereformeerde praktyk om besluite van meerdere vergaderings te bekragtig alvorens dit uitgevoer word (vergelyk 2.3 en 3.3) asof dit voortspruit uit die gedagte dat ´n meerdere vergadering van minder belang is. Sonder om dit aan die norme van die Gereformeerde kerkreg te meet, wys Du Toit die noodsaaklike aksies van ratideclaratio en ratificatio af.
Bowendien is Du Toit se kritiek op die bewyslewering indien ´n besluit ongeldig geag word, eensydig. Hy beklemtoon met reg die noodsaaklikheid dat die bewyse vir ongeldigheid nie net “voor die forum van die eie konsiënsie” gelewer moet word nie (probatio irratideclarationis), maar ook aan die kerkverband bekendgemaak moet word (ostentatio irratideclarationis). Ten onregte eis hy de facto onderwerping aan ´n besluit wat ongeldig geag word. ´n Besluit is nie bindend as dit ongeldig is nie. Daar mag geen binding aan so ´n besluit geëis word totdat ´n volgende meerdere vergadering opnuut daaroor besin en besluit het nie. Laasgenoemde is hiërargie: die sinode heers met sy besluite (ook ongeldige besluite) oor die gewetens van die kerke.
In die geheel gesien kom Du Toit se beskouing en toepassing van artikel 31 KO direk ooreen met dié van die Gereformeerde Kerken in Nederland na die Vrymaking, wat radikaal van die Gereformeerde kerkreg afwyk (vergelyk 5.2.6.1.4).

5.3.4.2 J.V. Coetzee

Soos Du Toit, bespreek Coetzee die ratifikasiereg in artikels in Die Kerkblad na aanleiding van die kerkstryd in Nederland gedurende die Tweede Wêreldoorlog en publikasies wat in verband daarmee verskyn het.

Na aanleiding van P. Deddens (1946) se rede oor die onderwerp beskryf Coetzee ratificatio as “die reg van alle kerkrade, asook predikante, ouderlinge, diakens en lidmate, sowel gesamentlik as individueel, om besluite van meerdere vergaderings, hetsy klassikale of sinodale, aan te neem of te verwerp, al na gelang hulle dit mag goedvind” (1946a:4). “En as ´n kerkraad of ´n lidmaat dan vir homself tot die konklusie kom dat een of ander besluit van ´n kerklike vergadering, volgens sy beskouing, stry met die Woord van God of met een of ander artikel van die Kerkorde, dan het hy die reg om sodanige besluit rustig langs hom neer te lê, dit nie vir vas en bindend te beskou nie, te weier om dit na te leef en uit te voer, ja, meer nog, homself verbonde en verplig te beskou om dit te verwerp, en dan voortaan rustig en onbelemmerd binne die kerkverband te bly, terwyl ´n kerklike vergadering sodanige kerkraad of kerk of lidmaat wat homself op die ratifikasiereg beroep, ongemoeid behoort te bly. Elke poging van die kant van sodanige kerklike vergadering om gehoorsaamheid te vorder, moet verwerp word as hiërargie en sinodokrasie” (1946a:5).
Oor die implikasie hiervan meen Coetzee dat “die besluite van meerdere vergaderinge geen gesag of bindende krag het nie, voordat hulle nie deur al die plaaslike kerke wat in sodanige verband en korrespondensie begrepe is, goedgekeur en geratifiseer is nie” (1946a:4, 5).
In sy beoordeling van die ratifikasiereg, soos dit deur die vrygemaaktes voorgestaan en toegepas is, stel Coetzee (1946b:4) onomwonde: “En dan wil ons dadelik begin met te sê dat die Gereformeerde Kerke histories sodanige ratifikasiereg, van sodanige inhoud, nooit geken het nie”. Hy motiveer hierdie skerp veroordeling deur in die eerste plek daarop te wys dat artikel 31 KO “nie bedoel om die ‘ratifikasiereg’ in die lewe te roep en vas te lê nie, maar alleen om die reg van gravamen te waarborg. En die Gereformeerdes het die reg van gravamen nooit so verstaan dat elke lidmaat, ampsdraer of mindere vergadering die reg het om besluite van kerkrade en meerdere vergaderinge rustig langs hom neer te lê en te weier om daaraan enige uitvoering te gee, met ´n beroep op sy ‘aan-Gods-Woord-getoetste consciëntie’” (1946b:4).
´n Tweede rede wat Coetzee vir sy veroordeling van die ratifikasiereg aanvoer, is “dat daar nêrens in geen enkele van die Kerkordes uit die 16e en 17e eeu wat deur die Gereformeerdes opgestel is, ook maar melding gemaak word van ´n ratifikasiereg en dat daar nêrens ´n bepaling gemaak is dat die besluite van meerdere vergaderings of te wel van kerkrade, eers deur mindere vergaderings (of deur die kerklede) goedgekeur en bekragtig moet word, voordat hulle van krag kan wees en vir vas en bindend gehou moet word. Indien dit, soos vandag beweer word, die hartaar en lewensbeginsel is van die Reformasie van die 16e eeu, waarmee die hele Reformasie staan of val, dan sou ´n mens ten minste verwag dat hierdie ‘lewensbeginsel’ ook uitdruklik in die Kerkorde sou geformuleer gewees het” (1946b:4).
Die derde grond waarop Coetzee ratifikasiereg as ongereformeerd verwerp, is die - volgens hom - feit dat ´n mens “by geen gereformeerde canonicus uit die bloeityd van die GKe sodanige ratifikasiereg aantref nie. Verwysing na ´n enkele reël uit die werk van Voetius is eensydig. Daarenteen wys die geskiedenis uit dat die Remonstrante en Independente wel daarop aanspraak maak. In die worsteljare voor die byeenroeping van die Dordtse Sinode 1618-19 was dit juis die Remonstrante wat daarop gestaan het dat daar ´n ratifikasiereg moet wees en het hulle by die Owerheid daarop aangedring dat ´n ratifikasiereg in die briewe van sameroeping gewaarborg moes word. Alleen - hulle het dit nie ratifikasiereg genoem nie, maar ‘reg van reses’, d.w.s. gedeputeerdes ter sinode, wanneer hulle nie saamstem en hulleself nie wil onderwerp aan die meerderheidsbesluit nie, moet die reg hê om die werksaamhede van die sinode tot stilstand te bring om eers geleentheid te hê om met hulle senders te gaan praat en opdragte te gaan haal... Sodanige ratifikasiereg het die Gereformeerdes in die begin van die 17e eeu beslis verwerp. Ook die Independente het altyd aanspraak gemaak op die ratifikasiereg... Hulle wou aan meerdere vergaderings hoogstens die status toeken van konferensies en het die eindbeslissing in alle kerklike sake altyd opgeëis vir die ‘aan-Gods-Woord-getoetste consciëntie der kerkleden’” (1946b:5).
Die slotsom waartoe Coetzee kom, is dat “wie in die Geref. Kerke ´n ratifikasiereg wil handhaaf met die inhoud wat deur die canonicus van ‘De Geref. Kerken handhavende art. 31 K.O.’ (dit is P. Deddens - GJM) in sy inougurele rede daarvan gegee is, in die hart van die gereformeerde kerkregering sny. Handhawing van sodanige reg, met sodanige inhoud maak gereformeerde kerkverband onmoontlik. Hier het ons te doen met individualisme wat op die spits gedryf is” (1946c:4). “Wie die reg van toetsing of ratifikasie handhaaf, verwaarloos die ordelike, kerklike weg, dien geen gravamen in nie, maar eis vir homself die reg op om die Belydenis aan die Skrif te toets, of ook wel enige kerklike beslissing aan die Skrif of die Kerkorde, om self regter te wees, alleen gebonde aan sy ‘aan-Gods-Woord-getoetste consciëntie’” (1946c:5).
Volgens Coetzee handhaaf die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika hulle kerkorde, insluitende artikel 31 KO, en word die “toetsing- of ratifikasie-reg afgewys” (1946c:5).

Beoordeling
Coetzee beskryf ratificatio as toetsing en die daaropvolgende geldigverklaring of ongeldigverklaring van besluite van meerdere vergaderings. Sy beskrywing kom nie ooreen met dié van Deddens nie. Laasgenoemde beskou ratificatio as die geldigverklaring en aanvaarding van besluite (vergelyk 2.1.2.5.1 en 2.1.2.5.2). Omdat Coetzee Deddens se beskouing van ratificatio nie suiwer weergee nie, kom hy tot ´n foutiewe beoordeling van die vrygemaaktes se denke en werke en reken hy eensydig met ratificatio in die Gereformeerde kerkreg af.
Coetzee se voorstelling dat ratificatio die ruimte vir kerkrade en lidmate skep en beskerm om besluite van kerklike vergaderings op ´n independentistiese wyse eenvoudig langs hulle neer te lê en steeds ongestoord die kerklike gemeenskap te beoefen, is nie korrek nie. Deddens het ratificatio in dié sin nie voorgestaan nie. Ratificatio binne die konteks van ratihabitio van artikel 31 KO skep ook hoegenaamd nie sulke ruimte nie. Die teendeel is waar. Wie nie kan ratifiseer (besluite aanneem) nie, is verplig om die bewyse daarvan so spoedig moontlik langs die ordelike weg aan die tersaaklike kerklike vergadering voor te lê. In weerlegging van Coetzee se wanvoorstelling van ratificatio moet gestel word dat welbewuste ratifisering van besluite teen independentisme gerig is, aangesien besluite van kerklike vergaderings nie maar net vir kennis aangeneem kan word nie (vergelyk 3.2.4).
Coetzee se bewering dat ratificatio nie in artikel 31 KO opgesluit lê nie, in geen kerkorde van die 16e en 17e eeue voorkom nie, en ook deur geen Gereformeerde kerkregtelike ooit voorgestaan is nie, is in stryd met die feite. In hoofstuk 2 is genoegsaam aangetoon dat ratificatio as integrale deel van ratihabitio in die praktyk van die Gereformeerde kerkregering sedert die sestiende-eeuse reformasie toegepas is en dienooreenkomstig in die kerkorde geyk is. As sodanig is dit deur Gereformeerde kerkregtelikes bepleit en toegepas (vergelyk onder andere Rutgers, 1971:24).
Om die Remonstrante se “reg van reses” en ratificatio as sinonieme te beskou, is onjuis. Die Remonstrante het met hulle reg van reses gepoog om tydens die Dordtse Sinode van 1618/19 die voortgang van die sinode te belemmer (d’Assonville, 1992:175). Ratificatio geskied in die eerste plek nie tydens die sitting van die sinode nie, maar daarna. In die tweede plek is dit nie daarop gerig om die voortgang van die kerkregering te belemmer nie, maar om dit te bevorder. Om hierdie redes kan die Remonstrantse reg van reses nie met ratificatio vergelyk word nie.
Al met al blyk dat Coetzee se kritiek op ratificatio nie gegrond is nie. Deur eers ´n eie, skeefgetrokke beeld van ´n saak te vorm en dan daardie beeld te kritiseer sonder om die oorspronklike saak behoorlik te ondersoek, is nie korrek nie.

5.3.4.3 B. Spoelstra

In ooreenstemming met Du Toit en Coetzee beskryf en beoordeel Spoelstra ratificatio soos hy meen dit deur die vrygemaaktes in Nederland beskou en toegepas word.
“Wanneer die ratificatio so sag moontlik voorgestel word”, so skryf Spoelstra (1966:195), “word gesê dat die lidmate ´n reg en plig het om kerkraadsbesluite aan die Skrif, Belydenis en Kerkorde te toets. In die geval van besluite, in ´n meerdere vergadering geneem, moet die kerkrade die handelinge ter tafel neem met die vraag of daar enige broeder is wat ´n bepaalde besluit nie vir vas en bindend kan aanvaar nie. Indien wel, moet hy sy besware aanvoer (die kerkraad met sy gawes van onderskeiding dien). Die ratifikasie word dan afhanklik gemaak van die uitspraak van die kerkraad”.
Spoelstra beskou die voordeel van sulke ratifikasie “dat alle kerkraadslede (en selfs lidmate) van die besluite van kerklike vergaderinge deeglik en krities (beoordelend) kennis moet neem (terwyl die geringe belangstelling vir die handelinge van meerdere vergaderinge gewoonlik ontstellend is)” (1966:195).
Tog, so oordeel hy verder, “beteken ratificatio meer as net ´n kritiese toetsing van besluite. Dit kom neer (soos die woord aandui) op die goedkeuring, bekragtiging en aanvaarding van besluite. ´n Lidmaat sou dan eers ´n kerkraadsbesluit, of ´n kerkraad die besluit van ´n meerdere vergadering, van krag moet maak” (1966:196). Dit is volgens Spoelstra in stryd met artikel 31 KO. Hy meen dat artikel 31 KO wel die reg en die plig van elkeen (selfs buite die kerkverband) erken om kerklike besluite aan die Skrif, belydenis en kerkorde te toets (1966:196; 1986:107; 1989:187), maar volgens hom verleen artikel 31 KO geen independentistiese ratifikasiereg aan die kerkraad of gemeentelede nie.
Spoelstra is van mening dat die - volgens hom foutiewe - ratifikasie-opvatting die gevolg is van ´n dualistiese (tweeslagtige) en antitetiese (teenstrydige) siening van die gemeente (kerk) en kerkraad, asook kerkraad en meerdere vergadering; van die miskenning van ´n meerdere vergadering as kerkraadsvergadering (artikel 29 KO); van ´n reaksie teen meerdere vergaderings wat in stryd met die kerklike weg (artikels 30 en 33 KO) sake ter hand neem wat op ´n mindere vergadering tuisgehoort het. Veral wanneer ´n nasionale sinode hom vergryp (sodat geen appèl meer moontlik is nie), stuur dit volgens Spoelstra op rampspoed af soos in Nederland (1940-1943) rondom artikel 31 KO gebeur het. As ´n sinode sonder meer kerkraadswerk gaan doen, sal kerkrade (wat misken was) ten minste op ´n ratifikasiereg aanspraak maak. “Kortom: as ´n sinode magte gebruik wat dit nie besit nie, laat dit kerkrade ook op magte aanspraak maak wat hulle nie besit nie” (1966:196).
Spoelstra spreek hom voorts uit oor “voorstanders van die ratifikasiereg wat miskien nog sou aanvoer dat artikel 31 KO nie sê ‘totdat bewys word’ nie, maar ‘tensy bewys word’” (1966:197). Hiervolgens mag - so meen Spoelstra - geredeneer word dat dit nie nodig is om sinodale besluite juridies as vas en bindend te beskou totdat ´n sinode dit verander nie. Hierteenoor stel hy “dat, indien die kerkverband (meerdere vergadering) koöperatiewe, vennootskaplike of federale verbindinge van elke deelnemende kerk (gemeente) is, dit vanselfsprekend is dat die bewys ook weer in ´n ooreenstemmende of breër vergadering van die kerkverband gelewer moet word, anders sou dit regskrenking impliseer teenoor die kerke wat verbygegaan word wanneer ´n vergadering van mindere kerke ´n besluit van meer kerke tersyde stel. Dit is ´n saak van reg en het niks met oppermagtigheid van die meerdere vergadering te doen nie” (1966:197; vergelyk 1986:106).

Beoordeling
Spoelstra beskou ratificatio vrywel as ´n sinoniem van ratihabitio deur dit te omskryf as die reg en plig om besluite van kerklike vergaderings krities te toets, goed te keur en te bekragtig, en te aanvaar. Die enigste onderdeel van ratihabitio wat Spoelstra nie as deel van ratificatio beskou nie, is die uitvoering van besluite. In hierdie opsig gee hy P. Deddens se beskouing van ratificatio suiwer weer (vergelyk 5.2.5.2.2.3).
Sy positiewe beklemtoning van die toetsing van besluite van kerklike vergaderings alvorens dit uitgevoer word, is ´n verbetering op dit wat deur Coetzee daaroor gestel is.
Dat hy die daaropvolgende, tipies Gereformeerd-kerkregtelike aksies van geldigverklaring en aanvaarding van besluite as in stryd met artikel 31 KO afmaak, is nie korrek nie.
Wat die ongeldigverklaring van besluite betref merk Spoelstra tereg op dat dit noodsaaklik is om die bewyse van ongeldigheid bekend te maak. Tog wil dit voorkom asof hy bepleit dat ´n besluit van ´n meerdere vergadering wat weens vermeende ongeldigheid nie vir vas en bindend gehou kan word nie, van krag is totdat ´n volgende meerdere vergadering hom opnuut daaroor uitgespreek het. Dit sou beteken dat ´n ongeldige besluit vir ´n tyd lank as geldig, en derhalwe bindend gehou moet word - wat nie reg is nie.
In die geheel beskou blyk dit dat Spoelstra, soos Du Toit en Coetzee, geen suiwer beeld van ratificatio vorm nie, en gevolglik tot ´n eensydige beoordeling en veroordeling daarvan kom.

5.3.4.4 L. Roeleveld

Die regsgeleerde L. Roeleveld, afkomstig uit die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) in Nederland, stel as reël dat ´n meerderheidsbesluit van ´n kerklike vergadering vas en bindend, ratus, geldig is (1987:22). Die futurum in artikel 31 KO dui ´n voortdurende, onvoltooide toekomstige handeling aan (1987:24). Die teks van artikel 31 KO bepaal dat ´n besluit geldig sal wees sonder uitdruklike bekragtiging, behoudens die tensy.
Kragtens die lasgewingsooreenkoms (kredensiebrief) is ´n lasgewer (kerkraad) onmiddellik gebind aan die daad van die lashebber (afgevaardigde) in soverrre die lashebber binne die grense van sy opdrag opgetree het (1972b:59). ´n Besondere daad van bekragtiging (ratificatio) hoef nie daaraan toegevoeg te word nie. Die lasgewer het wel die reg en plig om te toets of die meerdere vergadering binne sy volmag gebly het. Indien ´n kerkraad ´n ultra vires besluit van ´n meerdere vergadering tog sou uitvoer, kan dit as ratificatio beskou word. Dit wil sê: ´n ongeldige besluit word geldig gemaak. Roeleveld is van mening dat hierteen gewaak moet word, aangesien kerkrade deur middel van hulle toetsingsplig die wag moet betrek en moet waak teen meerdere vergaderings wat hulle mandate oorskry (1972b:59).
Die meerderheid van stemme bind nie ingeval die besluit strydig met fundamentele beginsels van geloof of kerkreg is nie (1987:23). Hierdie norm is volgens Roeleveld die belangrikste van die besluitvorming. Die soewereiniteit van die Goddelike en kerklike reg is ´n hoër gesag as die meerderheidstem van die kerkvergaderings. Kerklike samekomste is verbind om die Skrif, belydenis en kerkorde te alle tye te handhaaf (artikels 53 en 54 KO). Die soewereiniteit van reg waarborg gewetensvryheid en kerklike vryheid. ´n Gemeente in konfederale kerkverband is ooreenkomstig artikel 7 NGB nie aan ´n verkeerde besluit van ´n meerdere vergadering gebind nie (1987:23). ´n Besluit van ´n meerdere vergadering is ook ongeldig indien die afgevaardigdes buite hul volmag gehandel het. Een van die gevalle is indien hulle fundamentele kerkregtelike beginsels geskend het.
Indien ´n besluit van ´n meerdere vergadering volgens bewering van belanghebbendes nietig is, is laasgenoemde daaraan nòg volgens sy gewete nòg andersins gebonde (1987:23). Dit is die geval indien ´n besluit vernietigbaar sou wees. ´n Vernietigbare besluit veronderstel dat ´n verdere regshandeling van ´n bevoegde instansie nodig is om die bestaande besluit nietig te maak. Die kerkorde ken net geldige of nietige besluite, nie vernietigbare besluite nie (1987:24).
Toetsing is volgens Roeleveld ´n wesenlike, onmisbare onderdeel in die besluitnemingsproses. ´n Kerkraad of lidmaat mag nie sommer uit vermeende eiebelang of om ander redes beweer dat ´n besluit van ´n meerdere vergadering nietig is nie. Ewemin mag hy sommer aanneem dat ´n besluit geldig is. Al die betrokkenes het die plig om te toets wat die geval is (1987:24).
Die uitoefening van die toetsingsreg deur belanghebbendes is wesenlik verskillend van wat in die volkereg ratificatio genoem word (1987:24). In die laaste geval is ´n besluit van verteenwoordigers nie geldig alvorens dit deur die betrokke state bekragtig is nie. Dit lei tot ´n vertraende en verlammende invloed in die gesamentlike besluitvorming van die deelgenote in ´n konfederasie. “Art. 31 ken vir die plaaslike gemeentes en beswaarde lidmate nie so ´n ratifikasiereg toe nie. Daar word nie van ratum facere nie, maar van ratum habere gepraat. Die verskil is evident” (1987:24).
Erkenning van ratificatio kan volgens Roeleveld tot independentisme lei (1972b:59).

Beoordeling
Roeleveld wys met juistheid daarop dat ´n besluit van ´n kerklike vergadering uit die staanspoor geldig of ongeldig is. ´n Ongeldige besluit kan nie geldig gemaak word nie. Net so min kan ´n geldige besluit ongeldig gemaak word. Roeleveld beklemtoon ook tereg die noodsaaklikheid dat besluite van meerdere vergaderings getoets moet word, en dat ongeldige besluite ooreenkomstig artikel 7 NGB nie uitgevoer mag word nie. Die “tensy” van artikel 31 KO moet gehandhaaf bly.
Oor die positiewe deel van ratihabitio, te wete die geldigverklaring en aanvaarding van besluite alvorens dit uitgevoer word, spreek Roeleveld hom egter minder positief uit. Hy stel uitdruklik dat van bekragtiging van besluite in die Gereformeerde kerkreg geen sprake kan wees nie.
Die vraag wat hier ontstaan, is waarop die toetsing van besluite wél moet uitloop as dit nie tot bekragtiging van die besluite behoort te lei nie. Indien ´n getoetste besluit sonder bekragtiging en aanvaarding toegepas moet word, kan dit tot die ongereformeerde praktyk van sinodokrasie lei: deur sinodebesluite word die plaaslike kerk regeer (vergelyk 3.2.3).
Wat Roeleveld se beoordeling van ratificatio betref, is dit opmerklik dat hy op grond van ratificatio in die volkereg tot die slotsom kom dat so-iets nie in die Gereformeerde kerkreg
tuishoort nie. Sonder om uit die geskiedenis van die Gereformeerde kerkreg vas te stel wat die inhoud van ratihabitio en ratificatio in die Gereformeerde kerkorde is (vergelyk 2.1.2.6), ontken Roeleveld die voorkoms en toepassing daarvan in artikel 31 KO.
Met sy gevolgtrekking dat artikel 31 KO vir die kerke geen ratifikasiereg toeken nie en dat erkenning van ratificatio tot independentisme lei, kan - gemeet aan die bevindings soos dit in paragraaf 2.1.2.7 weergegee is - nie saamgegaan word nie.

5.3.4.5 J.J. van der Walt

Van der Walt (1976:153) is van mening dat die meerdere vergaderings se gesag en mag altyd bedienend bly. Daarom is hulle besluite steeds toetsbaar aan die heilige Skrif. Die reg van toetsing word in artikels 31 en 46 KO neergelê.
Artikel 31 KO lê volgens Van der Walt egter “nie die sg. ratifikasiereg van plaaslike kerke vas as grens vir die seggenskap (auctoritas) van meerdere vergaderinge nie. Die artikel lê die Woord van God neer as grens vir alle kerklike gesag en mag, in meerdere vergaderings sowel as in die plaaslike kerk. So verskil die kerk van die valse kerk met sy eie mag en gesag” (1974:6).
Onder ratificatio verstaan Van der Walt die reg om sinodebesluite te bekragtig en approbeer (1976:164).

Beoordeling
Van der Walt stel ratificatio verkeerdelik as begrensing van die gesag van ´n meerdere vergadering voor. Deur ratificatio word die gesag van ´n meerdere vergadering nie aan bande gelê nie. Wanneer ´n kerkraad die besluite van ´n meerdere vergadering voor uitvoering eers toets, geldig verklaar en as hulle eie aanvaar, doen hulle niks anders nie as om Christus se regering in en oor die kerk te eerbiedig - iets wat Van der Walt uitdruklik voorstaan.
Die gevolgtrekking waartoe gekom moet word, is dat Van der Walt ´n verkeerde beskouing van ratificatio het en die verkeerde beskouing dan veroordeel (vergelyk wat dit betref die kritiek op Coetzee onder 5.3.4.2).

5.3.4.6 A. le R. du Plooy

Du Plooy bespreek ratificatio in verband met artikel 84 KO. Hy meen artikel 36 KO bewys dat artikel 84 KO nie independentisties verstaan mag word, asof die gesag oorspronklik by die plaaslike kerk of kerkraad lê wat besluite kan ratifiseer nie (1979:127).
In verband met artikel 31 KO noem hy dat die Woord van God die grens vir alle kerklike besluite is (1979:126). Artikel 31 KO stel volgens Du Plooy die gesag van die Woord sentraal, en is ´n belydenis dat die Woord alleen gesag het. Die toepassing van artikel 31 KO onderskei die kerk van die valse kerk “wat aan homself en sy ordinansies meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van God” (artikel 29 NGB). Artikel 31 KO bied die ruimte of deurgang vir die Woord van God sodat die Woord van God die eerste en laaste sê in die kerk en meerdere vergaderings sal hê. Op hierdie wyse regeer die Koning dan self sy kerk.
Artikel 31 KO hou, met die oog op menslike sondigheid, die ruimte oop sodat die besluite van ´n meerdere vergadering aan die Woord getoets kan word (1979:126).

Beoordeling
Soos die kerkregtelikes wie se uitsprake in die voorafgaande paragrawe weergegee en bespreek is, maak Du Plooy geen onderskeid tussen die oorsprong en die aard van die gesag van die verskillende kerklike vergaderings nie. Waar die vrygemaaktes ratificatio verbind het aan die verskil in oorsprong van die (afgeleide) gesag van ´n meerdere vergadering teenoor die (oorspronklike) gesag van die kerkraad, stel Du Plooy dit voor asof ratificatio - in ooreenstemming met artikels 36 en 84 KO - te doen het met die aard van die gesag van die verskillende kerklike vergaderings. Op grond daarvan wys hy ratificatio af.
Inderwaarheid het ratificatio niks te doen met die gedagte dat ´n kerkraad meer gesag as ´n meerdere vergadering sou hê en daarom al die besluite van die meerdere vergadering moet ratifiseer nie. Ratificatio rus op die beginsel dat Christus alleen Koning van sy kerk is. Daarom moet die kerkraad, wat geroep word om in diens van Christus die gemeente te regeer, alles in sy vermoë doen om menslike heerskappyvoering - waaronder sinodokrasie - te weerstaan. Daartoe dien ratificatio, in opvolging van die toetsing van besluite.

5.3.4.7 C.J. Smit

Smit beskou artikel 31 KO as die artikel in die kerkorde wat die grens vir kerklike gesag neerlê (1984:123). Die regsgeldigheid van kerkregering rus volgens Smit nie in die eerste plek op die bevoegde regeringsorgane van die kerk nie, maar op die Woord van God, op grond waarvan die kerkregering uitgeoefen word. Kerklike vergaderings het met ander woorde uit hulleself geen gesagsbevoegdheid nie. “Kerkregering is Woordregering en Woordregering is deur die Gees. So regeer Jesus Christus sy kerk deur sy Woord en Gees” (1992:518).
Hieruit volg enersyds dat slegs besluite wat op grond van Gods Woord geneem is, die gewete bind: nie omdat dit ´n kerklike besluit is nie, maar omdat dit in ooreenstemming met Gods Woord is (1984:107). Andersyds mag daar in die kerk van Christus geen menslike dwang wees nie, sodat die gemeente aan die lewensdoel sal beantwoord waarvoor God hom bestem het. Sulke vryheid kan nie in bandeloosheid ontaard nie, solank die grense wat die Woord daarvoor stel - en soos dit in artikel 31 KO vir die inrigting van die kerklike lewe veranker is - eerbiedig word (1984:107).
Met betrekking tot die gevaar van menslike heerskappyvoering in die kerk waarsku Smit (1994b:10): “As ons kerke hulle nie op breër vergaderings teen sinodokrasie sou beywer, dit wil sê teen onnodige reglementering en teen agendas wat buite die kerke saamgestel word nie, word die sinode ongemerk die eintlike regeerder van die kerk”.
Tegelyk wys hy op die teenoorgestelde gevaar van bandelose willekeur: “Die uitvoering van Sinodebesluite is noodsaaklik vir die effektiewe Christusregering in die kerk. En, trouens, vir die behoud van die kerk. Kerke wat hulle eiewillig onttrek van hulle gesamentlike verantwoordelikheid en aanspreeklikheid vir besluite, is in werklikheid besig om die pilare te ondergrawe waarop die gemeenskaplikheid van die kerke rus: die eenheid, die heiligheid, die katolisiteit en die apostolisiteit van die kerk van die Here. Ronduit: kerklike eiewilligheid is opstand teen die Christusregering en geweld teen die behoud van die waarheid in die kerk. Dit kan nie anders nie as om te lei tot kerklike deformasie en in die verste konsekwensie kerklike destruksie” (1994a:22). Wat laasgenoemde betref, stel Smit (1994a:22) die uiters relevante vraag: “Kan dit kerkregtelik in orde wees dat ´n kerkraad selfstandig besluit om kelkies met die nagmaalviering te gebruik, terwyl die Sinode juis hierdie aangeleentheid aan deputate opgedra het vir ondersoek in die lig van die Skrif?” Hierdie vraag word ook deur onder andere J. du Plessis (1995:29) geantisipeer: “Ten spyte van hierdie besluit (oor die nie-gebruik van kelkies tydens nagmaal - GJM), verneem ons, is daar reeds kerkrade wat kelkies gebruik... ´n Gees van independentisme maak ons mense ontuis in die kerk van ons liefde”.
Smit se gedagtes oor artikel 31 KO konsentreer rondom sy opvatting oor die aard van ´n meerdere vergadering. Hy beskou ´n meerdere vergadering as ´n byeenkoms van kerkrade. Derhalwe is “Sinodebesluite ... besluite wat elke plaaslike kerk in samewerking met ander plaaslike kerke geneem het. Sinodebesluite word ... deur die plaaslike kerke uitgevoer omdat die plaaslike kerke self daardie besluite geneem het” (1994a:22). Die “tensy” van artikel 31 KO tree by hierdie opvatting slegs in werking as “´n kerkraad op grond van eie studie tot die vaste oortuiging gekom het dat die betrokke besluit in stryd met die Skrif, die Belydenisskifte, of die Kerkorde is” (1994a:22).

Beoordeling
Smit wys met reg op die gevaar van hiërargie enersyds (die sinode wat die kerke regeer) en independentisme andersyds (kerke hou hulle nie aan sinodebesluite nie), wat beide aan die Christusregering in die kerk afbreuk doen. Hy beklemtoon ook tereg die beginsel dat alle besluite van alle kerklike vergaderings aan die Woord van God onderworpe is.
In sy omskrywing van die aard van die meerdere vergadering onderskei Smit egter nie tussen lasgewer en lashebber nie. Volgens hom is in die vergadering van lashebbers (die afgevaardigdes) die hele vergadering van lasgewers (die kerkraad) teenwoordig - dieselfde gedagtegang as wat die teoloë van die Gereformeerde Kerken in Nederland sedert die Vrymaking volg (vergelyk 5.2.5.2.6 en 5.2.6.1). Sodoende word die besluite van ´n meerdere vergadering onmiddellik as kerkraadsbesluite gereken, en bly daar uiteraard geen ruimte vir die probatio, ratideclaratio en acceptatio van besluite oor nie. Besluite wat ´n kerkraad in samewerking met ander kerkrade geneem het, moet slegs uitgevoer word (executio).
Terwyl die “tensy” van artikel 31 KO kerkrade verplig om alle besluite van meerdere vergaderings te toets versmal Smit dit tot ´n situasie waarin ´n kerkraad by geval deur eie studie tot die oortuiging kom dat ´n bepaalde besluit nie ooreenkomstig die Woord van God of die geldende kerkorde is nie.
Alhoewel Smit hiërargie wil bestry, staan hy in sy beskouing van die sinode as ´n vergadering van alle kerkrade ´n kollegialisties-hiërargiese vorm van kerkregering voor.

5.3.4.8 S.J. van der Walt

In ´n redaksionele artikel in Die Kerkblad bespreek Van der Walt (1987:21) die vraag wat elke plaaslike kerk se roeping ten opsigte van die uitvoering van genome sinodebesluite is.
In die beantwoording van die vraag stel hy dat daar in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nie oral dieselfde met sinodebesluite te werk gegaan word nie. Volgens Van der Walt word daar in die meeste kerke moeite gedoen om sinodebesluite te bestudeer, te toets, bekend te stel en tot uitvoering te bring. Die praktyk bestaan egter ook dat van sekere besluite net geselekteerd kennis geneem word of nie eens kennis geneem word nie.
Oor die implikasie van net kennis neem of nie eens kennis van sinodebesluite neem nie oordeel Van der Walt dat kerkrade die bindingskrag van die besluite sodoende aantas en ondermyn. Indien kerkrade nie kan konformeer nie, moet beswaar teen besluite aangeteken word, anders stel kerkrade hulle eie oordeel bo dié van die Woord en kan kerkrade hul aan ontbinding en skeurmakery skuldig maak.
Van der Walt spreek die wens uit dat kerklike vergaderings nooit vergaderings mag wees wat net besluite sonder uitvoeringseffek neem nie.

Beoordeling
In die enkele artikel wat Van der Walt met betrekking tot die onderwerp gepubliseer het, word dit duidelik dat hy dit noodsaaklik ag dat daar soos volg met sinodebesluite te werk gegaan sal word:
· Besluite van die meerdere vergaderings moet deur die kerkrade getoets word.
· Wanneer ´n besluit geldig is, moet die kerkraad hom daaraan konformeer en moet hy die besluit aan die gemeente bekendstel.
· So ´n besluit moet ook uitgevoer word.
· Indien die kerkraad hom nie aan ´n besluit kan konformeer nie, moet hy beswaar aanteken.
Alhoewel Van der Walt die verskillende elemente van ratihabitio nie by name noem nie, wil dit voorkom dat hy elkeen per implikasie bedoel en as deel van die suiwere toepassing van artikel 31 KO beskou.

5.3.4.9 H.F. van Wyk

In ´n brief in Die Kerkblad reageer Van Wyk (1988:38, 40) op die artikel van Van der Walt wat in die voorafgaande paragraaf bespreek is.
Van Wyk meen dat “die teorie wat S.J. van der Walt neergeskryf het, pragtig is, maar in die praktyk is dit ´n heel ander saak. Onder die ouer garde heers die idee van ratifikasie steeds, naamlik dat die kerkraad elke sinodebesluit moet oorweeg en dan besluit of hulle daartoe verbind voel of nie. Dit is duidelik uit artikel 31 KO dat hierdie praktyk nie korrek is nie. Dit is deur en deur Independentisties, sal die kerkregtelikes sê” (1988:38).
Van Wyk meen dat die praktyk om sinodebesluite te toets en daaraan te konformeer voortspruit uit ´n besluit van die Nasionale Sinode Potchefstroom 1958 om die sinode te verklein. Om hierdie verkeerde praktyk te voorkom en uit te skakel, stel hy die vraag of sinodebesluite nie veel meer effektief uitgevoer sou word as elke kerkraad maar weer sy ouderling en predikant na die sinode toe afvaardig nie (1988:40).

Beoordeling
Van Wyk se omskrywing en veroordeling van ratificatio sluit aan by dié van Du Toit (vergelyk 5.3.4.1) en Coetzee (vergelyk 5.3.4.2). Die beoordeling van laasgenoemde twee teoloë se beskouings is derhalwe ook hier van toepassing.
Aanvullend tot wat reeds in genoemde paragrawe gestel is, moet opgemerk word dat Van Wyk geen rekening met die aard en samestelling van die onderskeie kerklike vergaderings hou nie. Ook al sou ´n nasionale sinode uit afgevaardigdes van alle kerkrade bestaan, bly dit ´n vergadering van afgevaardigdes, wie se besluite deur die lasgewers getoets, geldig verklaar en aangeneem moet word alvorens dit uitgevoer word.

5.3.4.10 P.K. Lourens

Lourens (1994:30) beskou ratificatio as ´n daad van die plaaslike kerk waardeur hy hom individueel-selfstandig van sinodebesluite losmaak en sy eie besluite neem.
Ratifikasiereg op sinodebesluite impliseer volgens hom dat ´n kerkraad sy eie besluit herroep of hom nie daaraan steur nie. Lourens meen dat, indien kerkrade die besluite van sinodes sou ratifiseer, die kerke hulle nie meer aan hulle eie ooreenkomste hou nie.
Hy stel voor dat kerkrade wat reeds ratificatio toegepas het, weer opnuut oor die kerklike gemeenskap in die algemeen en oor eerlikheid by die kerklike vergaderings met die lees van die Openlike Verklaring moet nadink.

Beoordeling
In sy bestryding van die independentisme wys Lourens tereg daarop dat kerkrade moet besin oor hulle roeping ten aansien van die kerkverband. Kerkrade mag hulle inderdaad nie eensydig van sinodebesluite losmaak nie. Gehoorsaamheid aan Christus en liefde vir die kerkverband moet ´n kerkraad motiveer om besluite van die kerkverband (meerdere vergaderings) vir vas en bindend te hou (vergelyk 3.2.4).
Lourens veroordeel die aksie van ratificatio ten onregte as independente optrede. Sy oordeel dat, wanneer kerkrade besluite van ´n meerdere vergadering ratifiseer, hulle hul eie ooreenkoms verbreek, is nie reg nie. Ratificatio het niks te doen met die neem van ´n ander besluit teenoor of in die plek van die besluit wat reeds deur die meerdere vergadering geneem is nie. Ratificatio het te doen met die suiwere hantering van die reeds genome besluit.
In die studie is genoegsaam aangewys dat independentisme deur ratificatio bestry word, instede daarvan - soos Lourens beweer - in die hand gewerk word (vergelyk onder andere 2.1.2.3.2). Wanneer kerkrade die besluite van meerdere vergaderings na toetsing en geldigverklaring vir hulle eie rekening neem (ratifiseer) en uitvoer, sal daar vir independentisme geen ruimte wees nie.

5.3.5 Samevatting

Wanneer al die feite rondom die hantering van ratificatio in die verloop van die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis in ag geneem word, blyk die volgende.
Voor 1859 was daar in die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika geen ruimte vir ratificatio nie. Klassikrasie, caeseropapie en invoering van ´n nuwe kerkorde het die mindere vergaderings verhinder om hulle plig en reg van ratificatio ten aansien van die besluite van meerdere vergaderings uit te leef (vergelyk 5.3.1.4).
Na 1859, met die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se terugkeer na die Dordtse Kerkorde, word ratificatio weer ´n moontlikheid. In die eerste jare na 1859 is die Gereformeerde Kerke egter vaag oor die toepassing van die ratihabitio van artikel 31 KO. Dit word uit die geraadpleegde bronne nie duidelik of die kerke die besluite van die sinodes, nadat hulle dit gelees het, ook getoets, geldig verklaar en geratifiseer het alvorens hulle dit uitgevoer het nie (vergelyk 5.3.2.9).
Uit die vigerende kerkordes van die verskillende kerke in Suid-Afrika op ´n Gereformeerde grondslag, blyk dat slegs die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die reg en plig van ratificatio ruimte laat (vergelyk 5.3.3.5).
Tot hoe ´n mate daardie reg en plig uitgevoer word, is nie duidelik nie. Gereformeerde teoloë verskil daaroor. Die laaste jare word steeds meer gekonsentreer op die toepassing van artikel 31 KO in sy volle omvang. Waar die teoloë van die veertiger jare hulleself onomwonde teen selfs die toetsing van besluite uitgespreek het, word dit uit publikasies van die laaste tyd duidelik dat die noodsaak van die toepassing van al die verskillende elemente van ratihabitio meer en meer ingesien word (vergelyk 5.3.3).
In geheel gesien is ratificatio binne die konteks van ratihabitio ´n weinig-besproke en onderskatte onderwerp in die Suid-Afrikaanse Gereformeerde kerkreg. Te midde van die positiewe ontwikkeling wat daar tans rondom die handhawing van artikel 31 KO in die nimmereindigende stryd teen hiërargie en independentisme is, behoort die regte visie op en toepassing van ratificatio ´n wesenlike bydrae tot die funksionering van die Gereformeerde kerkreg in die algemeen en die kerkregering in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die besonder te lewer.