Hoofstuk 4: Die funksionering van ratifikasie in die orde van die Gereformeerde kerkreg

 

In hierdie hoofstuk sal aangetoon word hoe die reg en plig van ratificatio in die orde van die Gereformeerde kerkreg, dit wil sê in die Gereformeerde kerkorde, funksioneer. Om dié funksionering te kan aantoon, word verskillende kerkorde artikels saaklik saamgegroepeer en in verband met die onderwerp bespreek. Die artikels wat vir dié doel bestudeer word, word aangehaal uit die tans geldende kerkorde (KO) van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA, 1980).

 

4.1 Ratifikasie en die wese van die verskillende kerklike vergaderings

Artikel 29 KO onderskei tussen vyf kerklike vergaderings wat onderhou word, te wete die kerkraad, klassis, partikuliere sinode, nasionale sinode en algemene sinode. Hierdie onderskeid is in beginsel reeds deur die Sinode van Emden in 1571 getref (Hooijer, 1865:68; Jansen, 1923:133). Om te bepaal hoe die reg en plig van ratificatio met betrekking tot genoemde kerklike vergaderings funksioneer, is dit eers van belang om vas te stel hoe hierdie vergaderings saamgestel word en wat hulle onderlinge verhouding is. Daaroor word deur Gereformeerde kerkregtelikes uiteenlopend gedink. ´n Oorsig oor die vernaamste gedagterigtings word weergegee, waarna ´n balans opgemaak en die funksionering van ratificatio met betrekking tot die wese van die kerklike vergaderings uitgewys word.

4.1.1 Onderskeid tussen die verskillende kerklike vergaderings

Dit word oor die algemeen in die Gereformeerde kerkreg gestel dat meerdere kerklike vergaderings (klasses en sinodes) wesenlik van ´n kerkraad verskil (Jansen, 1923:186; Van Dalen, 1946:23; Deddens, 1956a:186; Meulink & De Wolff, 1967:73; Van der Linde, 1983:157; Bouma, 1988:39). Drie motiewe word aangevoer om die onderskeid te begrond:
· Die kerkraad is ´n samekoms van ampsdraers wat kragtens hulle amp in die vergadering dien, terwyl die meerdere vergadering uit afgevaardigdes saamgestel word wat kragtens hulle afvaardiging optree (Jansen, 1923:186; Van Dalen, 1946:23; Meulink & De Wolff, 1967:90; Van der Linde, 1983:157).
· Christus het deur middel van die apostels die kerkraad self ingestel en met gesag beklee, terwyl daar vir die instelling van die ander kerklike samekomste geen regstreekse bevel in die Skrif te vind is nie (Meulink & De Wolff, 1967:74, 75).
· Die kerkraad is ´n vaste kollege, terwyl die ander vergaderings na afhandeling van die agenda uiteengaan en nie meer bestaan nie (Meulink & De Wolff, 1967:73).
In die volgende paragrawe sal die wese van die verskillende kerklike vergaderings van nader beskou word om vas te stel of die genoemde onderskeid geregverdig is.

4.1.2 Wese van die kerkraad

Artikel 37 KO, in samehang met artikels 30 tot 32 NGB, gee ´n beknopte omskrywing van die wese van die kerkraad. Artikel 37 KO verorden dat in alle kerke ´n kerkraad moet wees wat gereeld onder voorsitterskap van die bedienaar van die Woord moet vergader. Die samestelling van die kerkraad word eweneens in die kerkorde bepaal. Die kerkraad is ´n vergadering van die Woordbedienaar(s) en die ouderlinge.
Anders as artikel 37 KO, reken artikel 30 NGB die diakens ook as deel van die kerkraad. Op die veelbesproke vraagstuk of die diakens wel of nie deel van die kerkraad uitmaak nie (vergelyk Polman, s.j.b.:23-29) word nie verder ingegaan nie, aangesien dit nie direk op die onderwerp betrekking het nie. Wat wel van belang is, is die manier waarop die kerkraad saamgestel word.
Die Gereformeerde kerke bely in artikel 31 NGB dat ampsdraers behoorlik tot die onderskeie ampte verkies moet word: “Ons glo dat die bedienaars van die Woord, die ouderlinge en diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van ´n wettige verkiesing van die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer”. In aansluiting by die NGB lê die kerkorde ook klem op die feit dat die kerkraad saamgestel word uit ampsdraers wat deur die plaaslike kerk tot die amp verkies word. So verorden artikels 22 en 24 KO dat ouderlinge en diakens deur die gemeente onder leiding van die kerkraad verkies moet word. Die NGB en die kerkorde volg wat dit betref die Skrif. In 1 Timoteus 4:14 word na die kerkraad as ´n raad of kollege verwys en Handelinge 6:5 maak melding van die gemeente se medewerking by die verkiesing van die eerste diakens.
Die NGB beklemtoon ook dat die kerkraad deur die Here daargestel en geroep is om in sy Naam die plaaslike kerk te regeer: “Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurwyse wat ons Here ons in sy Woord leer, geregeer moet word. Daar moet dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm” (artikel 30 NGB).
Volgens die Gereformeerde belydenis en kerkorde is die kerkraad ´n vaste kollege in die plaaslike kerk (Jansen, 1923:24; 1952:169). Die kerkraad is die kerk se adres (Deddens, 1994:61).
In die tweede plek bestaan die kerkraad uit ampsdraers van die plaaslike kerk (Jansen, 1923:209; Van der Linde, 1983:145, 157). Artikel 37 KO gaan van die beginsel uit dat die amp in die plaaslike kerk gewortel is (vergelyk Handelinge 6:3-6; Handelinge 20:17, 28; Handelinge 21:18; Titus 1:5). Iemand kan nie op die kerkraad dien indien hy nie as lidmaat van die gemeente tot die amp geroep is en daarin dien nie.
Ten derde bely die Gereformeerde kerke dat die kerkraad geen afvaardiging van die gemeente is nie. Ampsdraers verteenwoordig nie die gemeente in die sin dat hulle in alles aan die wens van die gemeente gevolg moet gee en dienooreenkomstig aan die gemeente rekenskap verskuldig is nie (Jansen, 1923:136). Ampsdraers word deur die Here by wyse van verkiesing tot die amp geroep (Handelinge 6:5; Handelinge 14:23). Dit impliseer dat hulle aan die wil van die Here gehoor moet gee. Die kerkraad se taak word nie deur die gemeente aan hom opgelê nie, maar deur die Here in Wie se diens hy staan. Hulle “lasbrief”, hulle werksopdrag is direk van die Here afkomstig (1 Petrus 5:1-3). Die kerkraad is oor hulle ampswerk aan die Here verantwoording verskuldig. Laasgenoemde word in die bevestigingsformulier vir ouderlinge opgemerk in die oproep aan die lidmate om hulle onder die toesig en regering van die ouderlinge te stel, “want hulle waak oor u lewe en sal eendag rekenskap moet gee”.

4.1.3 Wese van die meerdere vergaderings

4.1.3.1 Meerdere vergaderings en kerkverband

Plaaslike kerke is met mekaar in een gemeenskap of verbond saamgevoeg. Jesus Christus is die band tussen die verskillende plaaslike kerke, in die sin dat Hy die Hoof van sy katolieke kerk is (artikel 27 NGB). Tegelyk onderhou Jesus Christus die verbond tussen die kerke deur al die kerke in sy verlossingswerk te laat deel en aan sy Koningskap te onderwerp (Openbaring 1:13, 20).
Uit hierdie verbondenheid volg ´n opdrag: die verbond wat God in Christus opgerig het en in stand hou, moet met die daad deur die kerke onderhou word. Dit gebeur deur die samelewing van kerke in die kerkverband. Kerkverband moet as ´n gawe en daaruit voortvloeiende verpligting beskou word wat voortkom uit die verbond wat God in Christus tussen die kerke opgerig het (Du Plooy, 1982:416; Deddens, 1994:69). Kerkverband rus in die eenheid van geloof en doop (Efesiërs 4:4, 5; Greijdanus, s.j.:10), dit is die eenheid in leer. Christus bid vir almal wat deur die apostoliese woord in Hom glo dat hulle in alle tye en lande een sal wees (Johannes 17:20-21). Sonder die eenheid in die waarheid (Johannes 17:6, 14, 17) kan daar nie van kerkverband sprake wees nie.
Kerkverband is deur Gereformeerde kerke onder andere gereël deur plaaslike kerke in meerdere vergaderings byeen te laat kom. Sulke meerdere vergaderings moet besin en besluit oor sake wat mindere vergaderings nie kan afhandel nie en oor sake wat die kerke gemeenskaplik raak (artikel 30 KO).

4.1.3.2 Samestelling van meerdere vergaderings

In sy verhandeling oor die kerk en meerdere vergaderings gee Du Plooy (1979:113-115) ´n oorsig oor die standpunte wat gehuldig word insake die samestelling van meerdere vergaderings.
Dit blyk dat daar in hoofsaak vier gedagterigtings is:
· ´n Meerdere vergadering is ´n samekoms van kerke (Oranje, 1944:27; Bouwman, 1970:17, 21; Spoelstra, 1988:248).
· ´n Meerdere vergadering is ´n samekoms van kerkrade (Spoelstra, 1966:176).
· ´n Meerdere vergadering is ´n samekoms van ampsdraers (Jansen, 1952:188; Pont, 1981:228).
· ´n Meerdere vergadering is ´n samekoms van afgevaardigdes van kerke (Venema, s.j.:229; Van Dalen, 1946:22; Bouma, 1988:46; 1994a:369).
Dat ´n meerdere vergadering ´n samekoms van meerdere kerke is, word uitdruklik in artikel 41 KO gestel. Die vraag is egter: op watter wyse vergader die kerke? Om die inhoud van die reg en plig van ratificatio te bepaal, is die antwoord op hierdie vraag van kardinale belang.

4.1.3.2.1 Is ´n meerdere vergadering ´n samekoms van kerkrade?

Pont (1981:229) beantwoord hierdie vraag bevestigend. Volgens hom is ´n meerdere vergadering ´n kwantitatiewe uitbreiding van die kerkraad. Die sinodale of algemene kerkvergadering is ´n oorkoepelende kerkraad, terwyl die kerkraad van die plaaslike gemeente die plaaslike kerkraad is.
Van der Linde (1983:158) merk hierteenoor op dat die Gereformeerde kerkreg op grond van die Skrif en die belydenis slegs een kerkraad ken: die kerkraad in die plaaslike kerk. In die Gereformeerde kerkreg kan daar op geen manier buite die plaaslike kerk ´n breër of hoër kerkraad geskep word wat as ´n opperraad oor ander kerkrade heers nie (vergelyk Calvyn, 1559b:1509-1510; Du Plooy, 1979:109).
Indien ´n meerdere vergadering ´n samekoms van kerkrade sou wees, sou daar sekerlik meer as twee, ten minste drie kerkraadslede as ´n consistorium contractum afgevaardig moes word. Van die minimum van drie geld: tres faciunt collegium (drie vorm ´n kollege). Bowendien sou alle aanwesige kerkraadslede by ´n meerdere vergadering kragtens hulle deelwees van die kerkraad ´n keurstem moet hê. Dit is egter nie die geval nie. Kerkraadslede wat nie na ´n meerdere vergadering afgevaardig is nie, kan volgens artikel 42 KO slegs ´n adviserende stem ontvang. Die feit dat sommige aanwesiges by ´n meerdere vergadering keurstem het en aan ander ´n adviserende stem toegesê kan word, onderstreep die Gereformeerde sienswyse dat ´n meerdere vergadering nie as uitgebreide kerkraad beskou moet word nie.
Hierin verskil die Gereformeerde kerkregering prinsipieel van die kollegialisme. Binne die kollegialistiese stelsel van kerkregering is die meerdere vergadering ´n “regspersoon, ´n struktuur in die hande van verteenwoordigers van laer besture wat die belange van die enkelinge in die genootskap moet behartig” (Du Plooy, 1979:9).

4.1.3.2.2 Is ´n meerdere vergadering ´n samekoms van ampsdraers?

In aansluiting by die kollegialistiese gedagtegang dat ´n meerdere vergadering uit kerkrade saamgestel word, stel Jansen (1952:188) dat ´n meerdere vergadering ´n samekoms van ampsdraers is. Weens praktiese redes word daar volgens Jansen gebruik gemaak van delegasie (afvaardiging) en representasie (verteenwoordiging) na ´n meerdere vergadering. Delegasie verander nie die amptelike karakter van die meerdere vergadering nie, want die amptelike bevoegdheid van die afgevaardigdes berus by die amp wat hulle beklee, sowel as by die amp van die ampsdraers wat hulle afvaardig. Pont (1981:228) deel Jansen se mening. So ook Spoelstra (1966:206), wat meen dat die motief vir afvaardiging na ´n meerdere vergadering gesoek moet word in die feit dat ´n hele kerkraad weens praktiese redes nie by so ´n vergadering teenwoordig kan wees nie.
Die kerkorde bepaal inderdaad dat bedienaars van die Woord en ouderlinge na ´n meerdere vergadering afgevaardig word (artikel 41). Uit dié bepaling kan egter nie afgelei word dat afgevaardigdes kragtens hulle regeeramp na ´n meerdere vergadering afgevaardig word nie. Die bediening van die regeeramp is immers aan die plaaslike kerk verbonde en daartoe beperk (artikel 30 NGB). Dáár, ín die plaaslike kerk, regeer die bedienaars van die Woord en die ouderlinge in Naam en in opdrag van Christus. Dáár word die Woord, die sakramente en die tug deur die daartoe geroepe ampsdraers bedien. Buite die plaaslike kerk het ´n bedienaar van die Woord of ´n ouderling geen regeermag van watter aard ook al nie (vergelyk onder andere artikel 15 KO; Bouwman, 1970:21). In ´n meerdere vergadering word wel besluite geneem wat die regering van die plaaslike kerke raak en beïnvloed. Die meerdere vergadering tree ten behoewe en tot opbou van die regering in die plaaslike kerke op (Van’t Spijker, 1993:236, 237). Dit beteken egter nie dat die meerdere vergadering die plaaslike kerk regeer nie (vergelyk 4.2.2).
Du Plooy (1979:117) se beredenering - wat ook deur ander kerkregtelikes gevolg word (onder andere Spoelstra, 1966:260) - dat afgevaardigdes in ´n meerdere vergadering “met regering, leiding en diens ten behoewe van al die kerke wat daar saamgekom het” besig is, gaan in die lig hiervan nie op nie.
Indien ´n meerdere vergadering wel ´n vergadering van regerende ampsdraers sou wees, is so ´n vergadering per implikasie ´n uitgebreide kerkraad. Laasgenoemde is in die Gereformeerde kerkreg nie die geval nie, soos in die vorige paragraaf aangetoon is.
Dat artikel 41 KO bepaal dat spesifiek bedienaars van die Woord en ouderlinge na meerdere vergaderings afgevaardig word, het daarmee te doen dat absolute en onvoorwaardelike onderwerping aan Christus, die Koning van die kerk, die wagwoord vir afvaardiging is. Afgevaardigdes moet ooreenkomstig hulle kredensiebriewe “volgens Gods Woord, die Drie Formuliere van Eenheid en die Kerkorde besluite neem”. Daarvoor is diepgaande kennis van die Woord, die belydenis en die kerkorde nodig. Bowendien is kennis van die sake wat op die agenda dien, noodsaaklik. In die kerke is dit die predikante en ouderlinge wat deurgaans die meeste kennis van kerklike sake het. Hulle is vanweë daardie kennis, tesame met hulle (veronderstelde) kennis van die Skrif, belydenis en kerkorde die aangewese persone om na ´n meerdere vergadering afgevaardig te word.

4.1.3.2.3 Is ´n meerdere vergadering ´n samekoms van afgevaardigdes?

Du Plooy (1979:116) stel dat afvaardiging een van die wesenskenmerke van ´n meerdere vergadering is. ´n Meerdere vergadering is nie maar ´n byeenkoms van persone of ampsdraers kragtens hulle amp nie, maar ´n vergadering van afgevaardigdes met lasbriewe (Du Plooy, 1979:117; Kleynhans, 1985:152).
Dat ´n meerdere vergadering inderdaad ´n samekoms van afgevaardigdes van kerke is, word in artikel 33 KO bevestig.
Die term “afgevaardigde” in artikel 33 KO wys heen na ´n instansie wat stuur (Spoelstra, 1966:209). Die geloofsbriewe wat die afgevaardigdes met hulle saamneem is “vertrouensbriewe wat eerstens getuig dat die draer daarvan wettig afgevaardig (gestuur) is en wat tweedens die mandaat of bevoegdheid van die draer presies omlyn en bepaal in hoeverre die sender hom deur die afgevaardigde laat verteenwoordig” (Spoelstra, 1966:209). Die feit dat die afgevaardigde geen oop mandaat het om bloot na eie goeddunke te handel en te besluit nie, wys daarop dat hy as gestuurde die mindere is van diegene wat hom stuur. Indien ´n afgevaardigde buite sy mandaat sou optree, is die afvaardiger vanselfsprekend nie aan sy optrede gebonde nie, en kan hy dit nietig verklaar.
In die lig hiervan word dit duidelik dat afvaardiging (delegatio) en verteenwoordiging (representatio) nie met mekaar verwar moet nie. ´n Kerkraad se afgevaardigde na ´n meerdere vergadering is nie sy verteenwoordiger by die daardie vergadering, in dié sin dat die hele kerkraad in die persoon van die afgevaardigde daar teenwoordig is nie. Indien dit die geval sou wees, sou die meerdere vergadering steeds ´n uitgebreide kerkraadsvergadering wees, wat nie so is nie (vergelyk 4.1.3.2.1).
Die kredensiebrief stel dit nie voor asof die afgevaardigde die verteenwoordiger van die kerkraad is nie. Die bewoording van die kredensiebrief is wat dit betref sorgvuldig gekies. Afgevaardigdes ontvang “las en volmag om namens die kerkraad, asof hy self op die vergadering verteenwoordig is” te help oordeel en besluit oor sake wat op die agenda dien. “Asof die kerkraad self op die vergadering verteenwoordig is”: dit beteken dat die kerkraad self nie teenwoordig is nie, anders sou die sin gelees het “in wie die kerkraad teenwoordig is”. Die afgevaardigde is nie die kerkraad of die “gesig” van die kerkraad, soos Du Plooy (1982:273, 274) uit die proswpon van 2 Korintiërs 8:24 aflei nie. In 2 Korintiërs 8 en 9 is daar geen sprake van ´n meerdere vergadering en afvaardiging na ´n meerdere vergadering wat so ´n afleiding en toepassing regverdig nie.
Die kerkraad se afgevaardigde staan - om dit so te sê - op sy eie voete, om saam met ander afgevaardigdes ooreenkomstig die mandaat wat aan hom verleen is, sake op sy agenda te behandel en af te handel. As die afgevaardigdes hulle taak volbring het, moet hulle na hulle onderskeie afvaardigers teruggaan en verslag oor hulle werksaamhede doen.

4.1.3.2.4 Gevolgtrekking

Na wat in die voorafgaande drie punte bespreek is, kan die volgende gevolgtrekking gemaak word: ´n meerdere vergadering is ´n vergadering van Gereformeerde kerke wat hulle deur afgevaardigdes laat verteenwoordig. Die kerkrade wat die afgevaardigdes stuur, is en bly die lasgewers. Afgevaardigdes behoort na afhandeling van hulle opdragte aan die kerkrade verantwoording van hulle werksaamhede te doen.

4.1.3.3 Die tydelike aard van meerdere vergaderings

Die slot van artikel 35 KO impliseer die tydelike aard van meerdere vergaderings. Wanneer die samekoms van afgevaardigdes sy opdragte afgehandel het, ontbind die vergadering en hou die voorsitter op om voorsitter te wees.
Daar mag wel deputate benoem word wat ´n welomskrewe opdrag ontvang waarvolgens sekere besluite van ´n klassis of sinode uitgevoer word (artikel 49 KO; Smit, 1994a:21). Sulke deputate vorm egter nie ´n synodus contracta of ´n voortsetting van die geslote en ontbinde vergadering nie. Kragtens artikel 49 KO is die deputate gebind aan die opdragte wat aan hulle gegee is, en mag hulle nie buite hulle mandaat optree nie. Hulle taak is om op ´n volgende soortgelyke samekoms van afgevaardigdes verslag van hulle werksaamhede te lewer. Die meerdere vergadering of ´n deputategroep van die meerdere vergadering word gevolglik nooit ´n permanente struktuur langs of bo die kerkraad nie (Du Plooy, 1979:117) en kan nie regeer nie.

4.1.4 Onderlinge verhouding tussen die kerklike vergaderings

Uit alles wat tot hier toe oor die wese van die verskillende kerklike vergaderings beredeneer is, kan die volgende kort samevatting gemaak word:
· Daar is ´n prinsipiële onderskeid tussen die kerkraad en die ander kerklike vergaderings.
· Die kerkraad is ´n permanente kollege wat uit verkose ampsdraers bestaan.
· Die ander kerklike vergaderings is meerdere vergaderings wat saamgestel word uit afgevaardigdes van meer kerke. Meerdere vergaderings het, anders as die kerkraad, geen permanensie nie. Hulle is geen blywende instansies nie.
Dié samevatting maak dit tot ´n mate reeds duidelik wat die verhouding tussen die verskillende kerklike vergaderings is. In artikel 29 KO word die kerkraad voorop geplaas, soos dit in die Gereformeerde kerkregering behoort te wees (Spoelstra, 1966:176). Die kerkraad vorm die basis vir die kerkregering, van waaruit die ander kerklike vergaderings by wyse van afvaardiging saamgestel word (Van der Linde, 1983:145; Bouma, 1988:32).
Hieruit volg dat die kerkraad (synde die afvaardiger of lasgewer) die meerdere is van die meerdere vergadering (synde die samekoms van afgevaardigdes of lashebbers). ´n Lasgewer is meer as sy lashebber. Andersom gesê: ´n deputaat of ´n vergadering van deputate is nooit meer as die sendende kerke nie (Schilder, s.j.:7; Deddens, 1994:72).
Aan die ander kant staan die sendende kerke nie los van die kerkverband nie. Aan die gawe van die kerkverbond is onlosmaaklik die eis tot kerkverband-oefening verbind. Die feit dat die plaaslike kerk selfstandig is, beteken nie dat hy outonoom mag optree nie. Laasgenoemde is independente optrede (Bouma, 1988:38, 39; De Vries, 1990:11, 19, 79; De Vries, 1993:47, 57).

4.1.5 Die funksionering van die ratifikasiereg en -plig met betrekking tot die wese van die verskillende kerklike vergaderings

Ratificatio spruit voort uit die gegewe dat ´n verteenwoordiger namens ´n opdraggewer ´n saak met ´n derde party bespreek en tot ´n besluit kom (vergelyk 2.1.1.4). As sulks kom dit ook in die Gereformeerde kerkreg voor (vergelyk 2.1.2.5).
In die voorafgaande paragrawe is uit die kerkorde aangetoon dat die kerkraad in ´n afvaardiger-verhouding met al die ander kerklike vergaderings staan. Meerdere vergaderings is uiteindelik samekomste van afgevaardigdes van kerkrade. Selfs partikuliere, nasionale en algemene sinodes, waarheen alle kerkrade nie self afgevaardigdes stuur nie, is steeds byeenkomste van afgevaardigdes van kerke. Kleiner wordende meerdere vergaderings by wyse van getrapte afvaardiging maak geen verskil aan die feit dat die kerkrade in die eerste plek die afvaardigende instansies is nie (Spoelstra, 1989:281).
Omdat die verhouding van die kerkraad tot ´n meerdere vergadering een is van afvaardiger tot afgevaardigde, is die daad van ratificatio van die kant van die kerkraad onmisbaar. Grondliggend aan artikels 29, 33, 35, 37, 41 en 49 KO - wat almal op die wese van die verskillende kerklike vergaderings betrekking het - is die onontbeerlike daad van die kerkraad om die optrede van sy afgevaardigdes geldig te verklaar en amptelik as sy eie te aanvaar. Daarsonder sal kerkrade òf in independentisme verval, òf hulleself aan die onregmatige bestuursjuk van ´n samekoms van afgevaardigdes onderwerp (hiërargie). Sonder ratificatio word aan die meerdere vergaderings te veel of te min erkenning gegee.

 

4.2 Ratifikasie en die take van die verskillende kerklike vergaderings

In aansluiting by die onderskeid tussen die wese van die kerkraad en die wese van die meerdere vergaderings, word in hierdie afdeling eers vasgestel wat die taak van elkeen van dié onderskeie kerklike vergaderings is. In die lig daarvan sal bepaal kan word hoe ratificatio ten opsigte van die take van die kerklike vergaderings funksioneer.

4.2.1 Die taak van die kerkraad

In die plaaslike kerk moet die Woord, sakramente en tug onder gedurige voorbidding bedien word (Handelinge 2:42; 1 Korintiërs 11:33; Hebreërs 10:25; artikel 29 NGB). Langs dié weg word die heiliges vir hulle dienswerk toegerus en as liggaam van Christus opgebou (Efesiërs 4:12).
Dit is die taak van die kerkraad om te sorg vir en te waak oor die bediening van Woord, sakramente en tug (Handelinge 6:4; Efesiërs 4:11). Die kollege van ampsdraers (presbuterion - 1 Timoteus 4:14) moet soos getroue herders oor die gemeente regeer (Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:2). Die regering raak sowel toesig oor die leer wat verkondig en bely word, as toesig oor die lewe van die gemeente (Spoelstra, 1966:232; Bouma, 1988:45; Spoelstra, 1989:170). Ook moet die kerkraad hom daarvoor beywer dat alles in die gemeente welvoeglik en ordelik toegaan (1 Korintiërs 14:40). Hy moet die belange van die plaaslike kerk in alle opsigte behartig (Van der Linde, 1983:119).
Om sy taak sinvol en na behore te verrig, is dit noodsaaklik dat die kerkraad gereeld onder voorsitterskap van die bedienaar(s) van die Woord sal vergader (Artikel 37 KO). Dit beteken: onder die heerskappy van Jesus Christus moet die kerkraad sy regeertaak verrig (Spoelstra, 1989:215).
Die kerkraad is derhalwe die enigste “bestuur van mense” wat met die regering van die kerk belas en gemoeid is (Calvyn, 1559b:1509-1510; Deddens, 1956a:186; Meulink & De Wolff, 1967:73). Deur die ampsdraers in die plaaslike kerk word die kerk regeer “volgens die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons geleer het in sy Woord” (artikel 30 NGB). Geen ander kerklike vergadering word tot regering van die plaaslike kerk geroep en gemagtig nie. Daarom mag geen ander vergadering hom aan die regering van die plaaslike kerk vergryp nie. Waar dit wel gebeur, lei dit tot independentisme (waar die gemeentevergadering homself as regeerliggaam verhef) of tot sinodokrasie (waar die meerdere vergadering hom die regeermag toe-eien). Teen laasgenoemde verset Calvyn (1559b:1509-1516) hom prinsipieel, deur daarop te wys dat dit sonde is “dat die biskop vir hom alleen iets toegeëien het wat aan die kerke gegee is. Dit is trouens asof die senaat (die kerkraad - GJM) verdryf is en die konsul alleen die regering in die hande gekry het”. Calvyn skryf verder: “Dit was dus ´n uiters laakbare daad dat een mens die gesag wat aan almal behoort, op hom oorgedra, die deur vir tirannieke willekeurigheid oopgemaak, die kerk beroof het van iets wat daaraan behoort, ... ” (Institusie IV, 11, vi).

4.2.2 Die taak van die meerdere vergaderings

In verband met die taak van meerdere vergaderings stel Spoelstra (1989:169) dat enige aanduiding in die Skrif ontbreek waar Christus in die plek van die apostels ´n hiërargie, ´n superintendente-amp of ´n sinode-instituut oor die gemeente(s) sou ingestel het. Spoelstra is van mening dat die saamkom in sinodes op ´n ander vlak lê as die ampsbediening in die gemeente. Tog beskou Spoelstra die meerdere vergadering steeds as ´n vergadering wat amptelik regeer (1966:260). Hy verwys na die meerdere vergadering as ´n tweede vlak van kerkregering waarin selfstandige kerke met mekaar in ´n kerkordelike ooreenkoms tree en aan mekaar hulp verleen om waarlik kerke van Christus te wees en te bly.
Pont (1981:228) ondersteun dieselfde gedagte. In aansluiting by sy siening oor die samestelling van meerdere vergaderings (4.1.3.2) is Pont van oortuiging dat die betrokke vergaderings - net soos die kerkraad - met die regering van die kerk belas is. Die meerdere vergaderings is regerende vergaderings, vergaderings van die ampte wat byeenkom ter wille van die regering van die kerk.
In die lig van wat in die vorige paragraaf oor die taak van die kerkraad beredeneer is, kan die stelling dat die meerdere vergadering in die Gereformeerde kerkreg die taak het om te regeer, nie skriftuurlik verdedig word nie. Tereg merk Sikkel, soos aangehaal deur Deddens (s.j.:47) op: “Laat toch alle gedachte aan een regeerende synode worden losgelaten, want dit is niets anders als ... de Paus. De Kerkeraden regeeren de Kerken. En dat doen zij enkel en alleen naar Gods Woord”. Ook Jansen beklemtoon in die eerste uitgawe van sy kerkorde handleiding (1923:186) die beginsel dat ´n meerdere vergadering geen bestuurskollege van persone is wat bo die kerkraad staan nie.
Uit die Skrif blyk wat die taak van die meerdere vergaderings wél is. In die meerdere samekomste moet daar saam besin en besluit word oor gemeenskaplike sake, asook oor sake waaroor ´n mindere vergadering geen genoegsame klarigheid kry nie (Handelinge 15:2; Romeine 15:26).
In die meerdere vergaderings word daar gesamentlik geluister na die stem van Christus en gee die een kerk op die ander ag in opdrag van die Here (artikel 30 KO; Van der Linde, 1983:119, 274). Die taak van die meerdere vergadering is ook om kerkrade te adviseer met betrekking tot hulle regeertaak (artikels 41 en 44 KO). Daardeur neem die meerdere vergadering nie die regeertaak van die kerkraad oor nie, maar ondersteun hy die kerkraad in sy ampswerk.
Met die oog op die sinvolle afhandeling van die meerdere vergadering se werksaamhede is dit gewens dat afgevaardigdes, behoudens uitsondering in buitengewone gevalle, geen imperatiewe mandaat het nie (Jansen, 1952:158; Meulink & De Wolff, 1967:82). ´n Mindere vergadering moet in die reël nie vooraf bepaal hoe sy afgevaardigde(s) moet stem nie. Deur middel van meerdere, beginselvaste beraadslaging moet immers meer lig op ´n saak kom alvorens gestem word.
Ten slotte moet gestel word dat meerdere vergaderings nie bevoeg is om - behalwe in appèlsake - besluite van mindere vergaderings goed of af te keur nie. Wat dit betref bepaal die kerkorde uitdruklik dat meerdere vergaderings nie sake moet behandel wat in mindere vergaderings afgehandel kan word nie (artikel 30). Artikel 30 KO impliseer dat sake wat in ´n mindere vergadering bevredigend afgehandel is nie op die agenda van die meerdere vergadering dien nie. Dit beteken onder andere dat meerdere vergaderings nie die besluite van mindere vergaderings sal ratifiseer nie, in teenstelling met die kerkrade wat die besluite van die onderskeie meerdere vergaderings ná goedkeuring móét ratifiseer.

4.2.3 Die funksionering van ratifikasie met betrekking tot die take van die verskillende kerklike vergaderings

Omdat die kerkraad die enigste regeerliggaam in die kerk is, en die meerdere vergaderings met hulle besluite aan die regering van die plaaslike kerk diensbaar moet wees, volg dit as vanselfsprekend dat die kerkraad die besluite van die meerdere vergadering moet ratifiseer.
Deur ratificatio word enersyds verseker dat besluite van die meerdere vergadering nie onuitgevoer bly nie (teen independentisme). Andersyds word verseker dat die besluit van die meerdere vergadering nie sonder meer, sonder toetsing en aanvaarding deur die kerkraad, die kerk regeer nie (teen hiërargie). Hierdie dubbele versekering kom ooreen met die volgende woorde uit die kredensiebrief: “Hierdie Kerk verbind hom om alle besluite van u vergadering wat met bogenoemde reël nie in stryd is nie (teen hiërargie - GJM), vir bindend en vas te beskou en hulle getrou te help nalewe en uitvoer (teen independentisme - GJM)”.
Dit blyk dat ratificatio noodwendig na die afsluiting van die meerdere kerklike vergaderings moet volg, en dat dit ´n tipies Gereformeerde handeling is. Ratificatio is een van die grondliggende sake waarin die Gereformeerde kerkregeringstelsel hom prinsipieel van alle ander kerkregeringstelsels onderskei. In hiërargiese stelsels is besluite van meerdere vergaderings sonder meer bindend. In die independentistiese stelsel het dit slegs ´n adviserende karakter, wat die eenheid in leer, diens en tug aantas.

 

4.3 Ratifikasie en die agendas van die verskillende kerklike vergaderings

Artikel 30 KO bepaal die agendas van die verskillende kerklike vergaderings. Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake behandel. Daarmee is die grondbeginsel gestel. Op die basis van die grondbeginsel moet verder uitgemaak word hoe die agendas van die verskillende kerklike vergaderings saamgestel word.

4.3.1 Die agenda van die kerkraad

In ooreenstemming met sy taak, is die agenda van die kerkraad deurgaans uitgebreid. Binne die konteks van artikel 30 KO behoort die kerkraad hom uit te spreek oor alle kerklike sake wat voor hom kom (Van der Linde, 1983:124). Alles wat betrekking het op die regering van die kerk in die wydste sin van die woord, moet deur die kerkraad behandel en afgehandel word. Dit impliseer dat die kerkraad ´n oop agenda het.
Sommige sake moet die kerkraad saam met ander kerke behandel (Spoelstra, 1966:186), waaronder sake van gemeenskaplike belang en sake wat die kerkraad nie by magte is om alleen af te handel nie.
Laasgenoemde mag egter nooit daartoe lei dat kerkrade gerieflikheidshalwe sake na ´n meerdere vergadering verwys nie. Die kerkraad mag nie sy regeerplig ontduik deur die oordeel aan ´n vergadering oor te laat wat nie daartoe geroep word nie (vergelyk 4.2.2).

4.3.2 Die agenda van die meerdere vergaderings

Afgesien van die grondbeginsel dat kerklike vergaderings slegs kerklike sake moet behandel, stel artikel 30 KO ´n verdere beginsel ten opsigte van die agenda van die meerdere vergaderings: “Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of sake wat by die meerdere vergadering tuishoort”.
Hiervolgens word in die eerste plek ´n beperking op die samestelling van die agenda van die meerdere vergaderings geplaas. In die tweede plek gaan dit in artikel 30 KO oor die afhandeling van die agenda.
Oor elkeen van die twee sake word nou enkele opmerkings gemaak.

4.3.2.1 Beperkte samestelling van agenda

Artikel 33 KO sluit aan en bou voort op die beginsel wat artikel 30 KO ten aansien van die samestelling van die agenda van die meerdere vergaderings neergelê het. Afgevaardigdes na die meerdere vergadering moet hulle opdragte saambring, onderteken deur die wat hulle stuur. Die opdragte is nie soseer ´n instruksie vir hoe die afgevaardigdes moet stem nie. Dit spel primêr uit wat die afgevaardigdes moet behandel (Van der Linde, 1965:149). Die verskillende opdragte van al die afgevaardigdes tesame, saam met die gemeenskaplike sake wat op die vergadering tuishoort, vorm gevolglik die agenda van die betrokke vergadering (Spoelstra, 1966:209). Die vergadering van afgevaardigdes kan nie op eie inisiatief ekstra sake op sy agenda byvoeg sonder dat die afvaardigers daarvoor gevra het nie (Jansen, 1923:154). Indien dit wel gebeur, oorskry die vergadering die bevoegdheid wat aan hom verleen is, wat beteken dat hy onwettig optree (Van der Linde, 1983:125; Spoelstra, 1989:185). Besluite wat uit sulke onwettige optrede sou voortspruit, is by voorbaat ongeldig, ongeag die inhoud daarvan.
Hieruit blyk dat die agenda van die meerdere vergadering geslote is in dié opsig dat die vergadering self nie kan besluit watter sake hy gaan behandel nie.

4.3.2.2 Verpligte afhandeling van agenda

Die kredensie- of lasbriewe gee afgevaardigdes na die meerdere vergadering volmag om die sake wat op die betrokke vergadering voorkom, te help behandel en afhandel. In die volmag lê eweneens ´n las opgesluit (vergelyk die bewoording van die kredensiebrief: “met las en volmag”). Afgevaardigdes staan onder ´n verpligting om die sake wat op die agenda dien, af te handel. Dit beteken dat ´n meerdere vergadering nie net kennis van sake op sy agenda kan neem sonder om verder daarmee te handel nie. Die mandaat wat gegee word, moet ten volle uitgevoer word voordat die vergadering ooreenkomstig artikel 35 KO beëindig word.

4.3.3 Die funksionering van ratifikasie met betrekking tot die agendas van die verskillende kerklike vergaderings

Afgevaardigdes is verplig om aan hulle afvaardigers verslag van hulle werksaamhede te doen. Soos wat ´n volgende meerdere vergadering hulle oor die handelinge van deputate wat deur ´n vorige vergadering aangewys is, moet uitspreek (artikel 49 KO; Jansen, 1923:222; Bouwman, 1970:217, 227; Spoelstra, 1989:290), so moet ´n kerkraad die handelinge van sy afgevaardigdes beoordeel. Dit geskied as die acta van die meerdere vergadering (vergadering van afgevaardigdes) deur die kerkraad (vergadering van afvaardigers) met die daad vir vas en bindend gehou word. Die acta van die meerdere vergadering word sodoende in die agenda van die kerkraad opgeneem. Elke handeling en besluit word ooreenkomstig artikel 31 KO getoets of dit ooreenkom met die mandaat wat aan die afgevaardigdes gegee is. Deur toetsing moet die afvaardiger vasstel of die afgevaardigdes ooreenkomstig hulle las en volmag gehandel het. Indien die toetsing (probatio) op geldigverklaring (ratidaclaratio) uitloop, behoort die daad van ratificatio (acceptatio) te volg. Deur ratificatio word die besluite van die meerdere vergadering ook die besluite van die kerkraad.
Met betrekking tot die agendas van die verskillende kerklike vergaderings moet gekonstateer word dat ratificatio ´n onmisbare skakel is in die proses waarin die afgehandelde sake van die meerdere vergadering met die oog op uitvoering die saak van die mindere vergadering word.

 

4.4 Ratifikasie en die gesag van die verskillende kerklike vergaderings

4.4.1 Standpunte oor die gesag van die verskillende kerklike vergaderingen

Artikel 36 KO bepaal: “Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het”.
Artikel 36 KO noem nie die gesag van die kerkraad oor die gemeente nie.
Met die oog op hierdie artikel stel Bouwman (1970:18) oor die oorsprong van gesag dat die kerkraad eie mag het, terwyl die meerdere vergaderings oor afgeleide mag beskik. Schilder (s.j.:13; 1977:100) neem Bouwman se gedagte oor as hy die gesag van die kerkraad beskryf as eerstehands, primêr, en die gesag van die meerdere vergaderings tweedehands, sekondêr. Schilder (1977:100) begrond sy beskouing in die veronderstelling dat die kerkraad as afvaardiger meer mag het as die meerdere vergadering, wat ´n samekoms van afgevaardigdes is. Meulink en De Wolff (1967:74) motiveer die onderskeid in gesag deur daarop te wys dat die kerkraad regstreeks deur Christus met gesag beklee is, terwyl die meerdere vergadering via die kerkraad gesag ontvang. Volgens Van Dalen (1946:23) dra die kerkraad amptelike gesag, terwyl meerdere vergaderings nie ´n amptelike karakter dra nie en ook nie met amptelike gesag kan handel en besluit nie.
Jansen (1923:164) vat, in aansluiting by Bouwman, die oorsprong van die gesag van meerdere vergaderings soos volg saam:
· dit is nie oorspronklik nie, maar afgelei (by wyse van afvaardiging);
· dit is nie algemeen nie, maar begrens (in ooreenstemming met die agenda);
· dit is nie hoër nie, maar minder (´n afgevaardigde het minder mag as die afvaardiger);
· dit is nie voortdurend nie, maar tydelik (as die vergadering verdaag, het hy geen bevoegdhede meer nie).
Na die Sinode van Assen 1926, wat doktor J.G. Geelkerken geskors en afgesit het, verander Jansen se mening oor die oorsprong van die gesag van meerdere vergaderings. Hy spreek in 1952 selfs oor gekumuleerde mag van meerdere vergaderings wanneer hy skryf: “Door middel van afvaardiging verkrijgen de meerdere vergaderingen de macht (potestas) als een van de kerken afgeleide (derivata), aan de afgevaardigden opgedragen (delegata) en in de meerdere vergaderingen samengebrachte (cumulata) macht” (1952:167).
Teenoor bogenoemde onderskeid wat getref word, stel Van der Linde (1965:150) dat - hoewel daar verskil tussen die kerkraad en die meerdere vergaderings is - daar geen wesenlike of prinsipiële verskil tussen die gesag van beide is nie. Beide het as instellings van Christus deel aan die kerkregering deur die gesag wat Christus deur sy ampsdraers laat bedien. Du Plooy (1979:125) deel Van der Linde se mening.
Uitgaande van die standpunt dat Jesus Christus sy kerk on-middellik deur sy Gees en Woord regeer, en middellik deur die amp, is Pont (1981:231) van mening dat die hervormde vadere die gesag in die kerk in die hande van die sinodale vergadering van ampsdraers gelê het. ´n Soortgelyke standpunt word deur enkele kerkregtelikes aan die hand van artikel 36 KO ingeneem, naamlik dat meerdere vergaderings meerdere seggenskap het (vergelyk Spoelstra, 1989:464). Daarvolgens moet mindere vergaderings, ook al is hulle dit nie eens met ´n bepaalde besluit van die meerdere vergadering nie, begin deur hulleself aan die besluit van ´n meerdere vergadering te konformeer. Na konformasie kan die mindere vergadering besluit of hy teen die besluit beswaar gaan aanteken of nie (Oranje, 1946:36).
Dit val nie binne die bestek van hierdie studie om die verskillende standpunte oor die oorsprong van die gesag van die onderskeie kerklike vergaderings in diepte met mekaar te vergelyk en ´n oordeel oor elkeen te vorm nie. Wat tans van belang is, is om vas te stel hoe ratificatio ten opsigte van die aard van die gesag van die verskillende vergaderings funksioneer.
Met die oog daarop word die standpunt van Deddens (1956a:186) onderskryf, wat stel dat daar - wat die aard van die gesag betref - slegs een gesag is: die gesag van God in Christus (Matteus 28:18; Romeine 13:1; 1 Korintiërs 15:27; Efesiërs 1:22). Alle gesag in die kerk word aan Christus ontleen en nie aan die aantal ampsdraers of kerke of afgevaardigdes nie. Alle menslike gesag is afhanklik van en gebind aan Christus se gesag. Dit beteken dat die gesag van die kerkraad en die gesag van die meerdere vergaderings wesenlik presies dieselfde is, in soverre dit in gehoorsaamheid aan Christus bedien word (artikel 31 NGB; vergelyk Spoelstra, 1966:188).

4.4.2 Gesag en die besluite van die verskillende kerklike vergaderings

Wie die gesag van die meerdere vergadering hoër as die gesag van die mindere vergadering ag, sal die besluit van die meerdere vergadering as van deurslaggewende belang beskou, ongeag wat die inhoud daarvan is. In so ´n geval moet die besluit van die meerdere vergadering deur die mindere aanvaar word bloot omdat die meerdere besluit het. Dit is hiërargie, waarteen gewaak moet word (artikel 7 NGB; vergelyk Spoelstra, 1966:188).
Wie die aard van die gesag van die meerdere vergadering laer beskou as die aard van die gesag van die mindere vergadering, sal die besluit van die meerdere vergadering slegs as ´n advies beskou, ongeag wat die inhoud daarvan is. In so ´n geval mag die mindere vergadering die besluit van ´n meerdere vergadering tersyde stel, bloot omdat ´n meerdere vergadering met mindere gesag die besluit (advies) geneem het. Dit is independentisme, waarteen eweneens gewaak moet word, aangesien dit die eenheid van die kerke misken.
Teenoor beide hierdie verkeerde opvattings moet die Skrifbeginsel gehandhaaf word wat hierbo gestel is, naamlik dat alle gesag van Christus is. Waar die Woord van Christus spreek, moet daar met ontsag geluister word. Besluite van kerklike vergaderings is geldig en het daarom gesag indien dit met die Woord van God ooreenstem. Die gesag lê nie in die vergadering as sulks nie, maar in die Woord waarvoor die vergadering buig. So gesien, dra besluite van ´n meerdere vergadering presies dieselfde gesag as die besluit van ´n mindere vergadering. ´n Besluit is nie gesagvol omdat die sinode dit geneem het of omdat die kerkraad dit geldig verklaar het nie. ´n Besluit is geldig en gesagvol wanneer dit in ooreenstemming met die Woord van die Here geneem is.
Alle gesags-aanmatiging buite hierdie skriftuurlike reël om is uit die bose (Deddens, 1956c:195).

4.4.3 Die funksionering van ratifikasie met betrekking tot die gesag van die verskillende kerklike vergaderings

Wanneer mindere vergaderings die besluite van meerdere vergaderings ratifiseer, het dit niks te doen met die geldig maak van of die gesag verleen aan ´n reeds genome besluit nie. ´n Besluit wat met die Woord van God ooreenstem is van meet af aan geldig en gesagvol. Indien dit strydig is met die Woord van God, is die besluit uit die staanspoor ongeldig en gevolglik sonder enige gesag (vergelyk Roeleveld, 1987:23, 24).
Die grond van ratihabitio met betrekking tot die gesag van die verskillende vergaderings en hulle besluite is dat alle gesag aan Christus behoort. Daarom is enige besluit van enige vergadering toetsbaar aan sy Woord.
´n Besluit van ´n meerdere vergadering mag nie sonder die voorafgaande toetsing en geldigverklaring geaksepteer (geratifiseer) en uitgevoer word nie. ´n Kerkraad wat ´n besluit van ´n meerdere vergadering sonder toetsing en geldigverklaring aanvaar en uitvoer, gee aan die meerdere vergadering geleentheid om hiërargies op te tree (artikel 7 NGB).
Aan die ander kant mag die besluit van ´n meerdere vergadering na toetsing en geldigverklaring nie ongeratifiseerd bly nie. Sodoende word die gesag van die meerdere vergadering onderskat en ruimte vir eiewilligheid van die plaaslike kerk geskep.
Sinodokrasie sowel as konsistoriokrasie verwerp Christus se gesag. Altwee hierdie kerkregtelike dwalings word deur die suiwer hantering van die reg en plig van ratificatio teengegaan.

 

4.5 Ratifikasie en die besluite van die meerdere vergaderings

Artikel 31 KO bepaal dat dit wat op ´n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, as vas en bindend beskou moet word. Artikel 33 KO bepaal dat elke afgevaardige na ´n meerdere vergadering ´n keurstem sal hê. ´n Keurstem is die stem waardeur op grond van Gereformeerde norme vasgestel word watter voorstel die voorkeur moet geniet en die besluit van die vergadering moet word (Van der Linde, 1983:137; Spoelstra, 1989:205). Sowel artikel 31 KO as artikel 33 KO rus op die beginsel dat meerdere vergaderings die reg het om besluite te neem (Bouwman, 1937:222; Meulink & De Wolff, 1967:78).
Die beginsel dat meerdere kerklike vergaderings besluite kan neem, word uit die Skrif afgelei. Die Spreuke-skrywer sê in hoofstuk 11:14: “in die veelheid van raadgewers is redding”, asook in hoofstuk 15:22: “planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand”. Handelinge 15:22-29 vermeld dat die apostels en ouderlinge bindende besluite neem insake die onderhouding van die skaduagtige wette deur nie-Joodse Christene, en die geldigheid van die Mosaïese wet ten opsigte van die afgodsoffers. Die besluite is geldig vir alle kerke (Handelinge 16:4; vergelyk Openbaring 2:24 in verband met Handelinge 15:24, 28).
Die grondreël dat meerdere vergaderings bevoeg is om bindende besluite te neem, staan teenoor die standpunt van die independente, wat oordeel dat ´n meerdere vergadering slegs adviese kan gee (Bouwman, 1970:20; Van der Linde, 1983:129).
Vir die daad van ratificatio is hierdie skriftuurlike beginsel van wesenlike belang. Ratificatio kom nie daarop neer dat ´n nie-bindende advies van ´n meerdere vergadering in ´n besluit van die kerkraad omskep word om sodoende regsgeldigheid te verkry nie. Aan die wese en inhoud van die meerdere vergadering se besluit word daar deur ratificatio niks verander nie. ´n Reeds geldige besluit word slegs na geldigverklaring (ratidaclaratio) en aanvaarding (acceptatio of ratificatio) die kerkrade se eie besluit (vergelyk 2.2). Suiwer hantering van die ratificatioreg en -plig is noodsaaklik vir die daadwerklike bewaring van die eenheid in leer, diens en tug.

 

4.6 Ratifikasie en die advies van meerdere vergaderings

In verskeie artikels van die kerkorde word verwys na adviese wat meerdere vergaderings of deputate van ´n meerdere vergadering moet gee (artikels 4, 5, 11, 12, 13, 14, 38, 77, 79). Die oordeel van die klassis waarvan in artikel 41 KO sprake is, kom eweneens op advies neer (Jansen, 1952:193; Spoelstra, 1989:253).
Advies dui in die kerkorde gewoonlik op die oordeel van ´n meerdere vergadering oor ´n handeling wat volledig by die kerkraad tuishoort (Spoelstra, 1989:418). Vanweë die erns en gewig van die betrokke handeling soek die kerkraad na regverdigheid en onpartydigheid (Bouwman, 1970:637). Met die oog op verantwoording aan die Here moet die meerdere vergadering die kerkraad met advies bystaan. Sodoende dien advies as ´n vorm van kontrole, wat versigtigheidshalwe toegepas word (Jansen, 1952:328).
Die bedoeling van advies is dat daar ooreenkomstig die inhoud daarvan gehandel sal word (Van der Linde, 1983:247). Daarmee word die regeertaak nie uit die hande van die kerkraad geneem nie. Die kerkraad behoort hom met die advies van die meerdere vergadering te vereenselwig en gaan volgens hierdie meerdere advies met sy eie regeerhandeling voort (Kruger, 1966:458). Indien ´n kerkraad nie die advies van die klassis kan volg nie, moet hy òf vir hersiening van die advies aan die volgende klassis vra, òf hom op die partikuliere sinode
beroep. Uit krag van die kerkverband kan die kerkraad nie ´n gevraagde advies van die klassis eenvoudig tersyde stel en sy eie gang gaan nie (Rutgers, 1922:303).
Hieruit volg dat ratificatio ´n wesenlike rol speel in die proses waar die mindere vergadering advies van ´n meerdere vergadering of deputate ontvang en hanteer. Deur middel van ratificatio word verseker dat die advies van die meerdere vergadering nie deur die mindere vergadering verontagsaam of bloot vir kennisgewing aangeneem word nie. Wanneer byvoorbeeld ooreenkomstig artikel 41 KO advies ingewin word, is die kerkraad wat daarvoor vra verplig om dit te ratifiseer en sodoende die advies sy eie te maak. Net so moet die advies wat in geval van beroeping of tug gegee word, deur die kerkraad as sy eie aangeneem word. Uiteraard geld dat ratificatio in al hierdie gevalle eers na geldigverklaring van die advies plaasvind (vergelyk 2.1.2.4.2).
Wanneer advies van die meerdere vergadering deur die kerkraad geratifiseer word, is dit eweneens duidelik dat die kerkraad sy regeertaak vir geen oomblik aan ´n meerdere vergadering oordra of afstaan nie. Die stelling van Jansen (1952:328) dat kerkrade hulle eie mag en vryheid beperk deur hulleself in geval van tug te verplig om voor afsnyding die advies van die klassis te vra, gaan derhalwe nie op nie. Die advies van die klassis is geen outoritêre daad van ´n meerdere vergadering waardeur die kerkraad “van bo af” gedwing word nie. Die advies van die klassis word by wyse van ratificatio die kerkraad se eie besluit.

 

4.7 Ratifikasie en die toestemming van meerdere vergaderings

Artikel 10 KO maak melding van toestemming wat die klassis moet gee alvorens ´n bedienaar van die Woord losgemaak kan word uit die kerk wat hom beroep het. Net so mag iemand wat die diens van sy kerk onderbreek of nie in vaste diens staan nie, volgens artikel 15 KO nie hier en daar gaan preek sonder die toestemming van die klassis of ´n partikuliere sinode nie.
Die toestemming waarvan in beide artikels sprake is, kom volgens Spoelstra (1989:86) neer op approbasie, goedkeuring. Jansen (1952:50) beskou toestemming as ´n daad van bewilliging.
Binne die konteks van artikel 10 KO kom toestemming daarop neer dat die kerkraad, nadat hy losmaking van sy predikant bewillig het, sy beslissing aan die klassis voorlê en ook sy (die klassis se) bewilliging vir die vertrek vra. Die bewilliging of toestemming van die klassis moet nie hiërargies opgevat word asof die klassis oor die kerkraad regeer nie. Dit is bedoel om die motiewe vir, sowel as die effek van die vertrek te verifieer.
Indien ´n klassis toestemming weier, moet die kerkraad die klassis se weiering aanvaar (ratifiseer) of - indien hulle dit noodsaaklik ag - daarteen appelleer (Van der Linde, 1983:46).
In alle gevalle moet die toestemming van die klassis deur die kerkraad geratifiseer word. Soos advies, kan toestemming of weiering nie net vir kennisgewing aangeneem word nie. Dit moet aktief en welbewus deur die kerkraad sy eie gemaak word. In praktyk kom dit daarop neer dat, ingeval van losmaking ooreenkomstig artikel 10 KO, die besluit van die kerkraad en die toestemming van die klassis een gesamentlike handeling word. Deur ratificatio word die toestemming van die klassis ´n bevestiging van die reeds genome besluit van die kerkraad.

 

4.8 Ratifikasie en kerkvisitasie

In artikel 44 KO word bepaal dat en hoe daar kerkvisitasie gedoen moet word. Een van die sake wat tydens die visitasie bespreek behoort te word, is die vraag of die kerkraad die kerkorde in alles onderhou. Daaruit vloei voort dat vasgestel moet word of die kerkraad erns maak met die ratihabitio van artikel 31 KO.
Ratificatio, as integrale onderdeel van ratihabitio, is geen opsionele daad waartoe sommige kerke hulle verplig kan voel en wat ander kan nalaat nie. Kerke het in artikel 31 KO met mekaar afgespreek om besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer. Die nakom van daardie afspraak moet gekontroleer word. Kerke moet op mekaar ag gee deur toe te sien dat besluite van meerdere vergaderings vir vas en bindend gehou word (vergelyk Smit, 1994a:22). Diegene wat nalatig is in die nakom van die belofte om besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer, moet broederlik vermaan word (artikel 44 KO).

 

4.9 Ratifikasie en die binding aan die belydenis

Artikels 53 en 54 KO bepaal dat bedienaars van die Woord, professore aan die Teologiese Skole, ouderlinge, diakens en proponente die drie Formuliere van Eenheid moet onderskryf en onderteken. Hiermee verseker die ondertekenaar die kerk wat hy dien en die kerke in kerkverband dat sy innerlike geloofsoortuiging in die belydenis verwoord is (Spoelstra, 1989:300).
Die onderskrywing van die belydenis gaan voorop. Dit geskied wanneer ampsdraers mondeling op die vrae van die bevestigingsformulier antwoord. Deur die belydenis mondeling te onderskryf, betuig die ampsdraer sy innerlike aanvaarding en heelhartige instemming met die belydenis (Kruger, 1966:332; Van der Linde, 1983:180). Die ondertekening is die skriftelike bevestiging van die innerlike aanvaarding. Deur die sigbare ondertekening bevestig die ampsdraer sy voorneme om die suiwerheid van die leer, die eenheid van die kerk en die kerkverband te handhaaf en dwalings te weerstaan (Kruger, 1966:332). Omdat die ondertekening sigbaar geskied, kan daar altyd later op teruggekom word. Die ondertekenaar is gebind aan sy woord en handtekening.
In paragraaf 2.1.2.2.1.3 is aangetoon dat dit die gewoonte van die Gereformeerde kerke in die sestiende eeu was om besluite van meerdere vergaderings te toets en dan as hulle eie te aanvaar. Die wyse waarop dit geskied het, is dat elke lid van die vergadering hom in die lig van Gods Woord mondeling uitspreek ten gunste van die besluit. Sodoende word die besluit deur die hele vergadering onderskryf. Daarna word dit in die notule opgeteken dat die besluit as geldig aanvaar is. Die optekening van die vereenselwiging met die besluit in die notule is in wese dieselfde as die ondertekening van die belydenis, waarvan in artikels 53 en 54 KO sprake is. Deur beide aksies word die dokument of besluit waarmee mondelinge instemming betuig is, ook skriftelik as eie aanvaar.
Dit blyk dat ratificatio van besluite en binding aan die belydenis wesenlik op een lyn lê. Om ooreenkomstig artikels 53 en 54 KO die drie Formuliere van Eenheid te onderskryf en onderteken is niks anders as persoonlike ratificatio nie.

 

4.10 Ratifikasie en die binding aan die kerkorde

Die slotartikel van die kerkorde, artikel 86, stel dat elke kerk, klassis of sinode hulle daarop moet toelê om die artikels van die kerkorde te onderhou totdat die algemene sinode anders verorden. Die beginsel waarop hierdie artikel rus, is die wettige ooreenkoms of afspraak in die kerkorde waarvolgens kerke in kerkverband saamleef (Van der Linde, 1983:276).
Die ooreenkoms tussen die kerke het tot stand gekom weens die eenheid van die kerke in belydenis (vergelyk 2.1.2.2.1.4). Die artikels van die kerkorde het op grond van die belydenis hulle beslag gekry.
Soos wat die meerdere vergaderings die verskillende kerkorde artikels geformuleer het, is dit
deur mindere vergaderings getoets, geldig verklaar en as eiendom van die kerke aanvaar (vergelyk 2.1.2.2.1.3). Elke artikel is met die daad vir vas en bindend gehou, met insluiting van ratificatio, alvorens dit amptelik as deel van die kerkorde aanvaar is. Toe die Sinode van Dordrecht in 1618/19 die Kerkorde - wat nou nog die basis vir die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vorm - aanvaar het, was dit ´n dokument wat reeds deur die kerke geratifiseer is. Dit beteken dat die kerke die kerkorde as hulle eie aanvaar het en gevolglik daaraan gebind is.
Binding aan die kerkorde rus derhalwe nie net op trou aan die afsprake wat met die kerke in die kerkverband gemaak is nie (Spoelstra, 1989:471), maar ook trou aan die belofte wat elke plaaslike kerk kragtens ratificatio afgelê het.

 

4.11 Ratifikasie en die binding aan besluite van kerklike vergaderings

“Sake vir behandeling op meerdere vergaderings moet nie opgestel word voordat die besluite van die voorgaande sinodes oor die voorgestelde punte nagegaan is nie, sodat wat eenmaal afgehandel is, nie weer voorgestel word nie tensy dit noodsaaklik geag word om iets te verander” (artikel 46 KO).
In hierdie artikel word kort en bondig gestel dat die Woord van die Here altyd dieselfde is, sodat wat vandag op grond daarvan besluit word, nie môre verander hoef te word nie (Van der Linde, 1983:167). Die uitspraak word eenmaal gegee oor hoe volgens God se Woord gehandel moet word; daarmee is die saak afgehandel. As so ´n uitspraak dan deur al die kerke in kerkverband geratifiseer is, moet daar nie weer op so ´n besluit teruggekom word nie, tensy aangetoon word dat dit noodsaaklik is om iets te verander.
Die grondtoon van artikel 46 KO is dieselfde as die basis waarop artikel 31 KO rus, naamlik dat kerke aan geldige besluite van kerklike vergaderings gebind is. Daar is geen geleentheid vir ´n eiesinnige kerk om “soos ´n druppende kraan vergadering na vergadering met dieselfde voorstel te kom totdat hy eindelik sy eie afwykende gevoel deurgedruk kry nie” (Van der Linde, 1983:167).
Ratificatio van besluite van meerdere vergaderings waarborg dat kerke aan skriftuurlike besluite van kerklike vergaderings gebind word en bly.

 

4.12 Slotsom

Met betrekking tot ´n aantal kerkorde artikels is aangetoon dat ratificatio òf grondliggend aan òf integraal deel uitmaak van die betrokke artikel. Op grond daarvan kan gekonstateer word dat ratificatio geen vreemde verskynsel in die Gereformeerde kerkorde is nie. Die teendeel blyk waar te wees. Wie die plig tot ratificatio in die Gereformeerde kerkreg ontken, weerstaan die orde van die kerk in al die bogenoemde fundamentele artikels.
Ratificatio is ´n belydende aksie. Dit is daadwerklike eerbiediging van die Christokrasie in die samelewing van die kerke. Kerke wat die daad van ratihabitio volgens afspraak nakom (artikel 31 KO), deur onder andere geldige besluite van meerdere vergaderings te ratifiseer, bly mekaar in Christus as ware kerke herken en erken.