II
Uit dit alles is dit duidelik hoe prakties en konkreet die Reformatore in hulle basiese kerkregtelike insigte van die regering van Christus in die kerk uitgegaan het. Des te pynliker is dit dus om te merk hoedat hierdie kerkregtelike insigte van die
|16|
Reformatore in die loop van die geskiedenis juis in die Reformatoriese kerke vanuit ’n nuwe rigting aangeveg en verdring is. Waar die Rooms-Katolieke stelsel van kerkregering met sy massale ampsopvatting en sy identifisering van Christus en die kerk, die heerskappy van Christus deur Sy Woord ingebind het in die klerikalisering van die kerkreg, het daar in die Protestantse kerke ’n ontwikkeling ingetree wat uitgeloop het op ’n sekularisering van die kerkreg. Wat egter op die oog of direk teenoorgesteld lyk, het uiteindelik dieselfde effek. In albei gevalle word die heerskappy in die kerk in die hande van die mens gelê.
Die kiem vir hierdie ontwikkeling was reeds in die optrede van Luther teenwoordig. In weerwil van die feit dat Luther basies netsoos Calvyn oor die regering van Christus in die kerk gedink het, vind ons by hom ’n vreemde inkonsekwentheid wanneer hy sy insigte in die praktyk in toepassing moet bring. Luther het beslis minder teokraties gedink as Calvyn, en ons vind by hom ’n eienaardige onwil om die volkskerk los te laat en te kom tot die formasie van belydende gemeentes.62 Luther het nie die moed gehad om ’n weg op te gaan wat sou beteken dat groot groepe mense wat gedoop is en binne die breë volkskerk lewe, uitgesluit sou word en dus feitlik prysgegee sou moet word nie. Daarom het hy daarvan afgesien om sy eie opvattings oor die regering van die gemeente in praktyk te bring. Ons moet saamstem met die oordeel van Grundmann: „Im ganzen is die Lutherische Kirchenverfassung trotz aller weiterfuhrenden Grundsätze Luthers ... der Schritt von der Parochie zur Gemeinde nicht gelungen”.63 Die gevolg was dat die kerk in Duitsland in plaas van ’n belydeniskerk geword het tot ’n preeksinstituut, ’n Heilsanstalt, waarin die prediking van die Woord moes dien tot die opvoeding van die massas, terwyl die egte gemeentelike lewe en die beoefening van die priesterskap van die gelowiges, waaroor Luther so mooi kon spreek, nie tot sy reg kon kom nie.64 Dit bly in hierdie verband ’n dramatiese moment in die geskiedenis van die Lutherse reformasie dat Luther die Hombergse kerkorde, wat ’n volmaakte vormgewing van sy eie uitsprake oor die regering van die kerk was, van die hand gewys het. Dit bevat te veel wette, meen hy, en die tyd vir so ’n orde is nie ryp nie. „Die Leute sind nicht dazu geschickt, wie die meinen, so da sitzen bei sich selbst, and malens mit Worten and Gedanken ab, wie es gehen sollte”.65 Hy voel veel meer
62. Vgl. H. Diem, Theologie als kirchliche
Wissenschaft, 203 e.v.; Karl Holl, a.w., 360; G. Ebeling,
Luther II: Theologie, in: R.G.G., IV, kol. 511-512; Emil
Sehling, Geschichte der prot. Kirchenverfassung, 2de
druk, 1914, 40; P. Tsackert, Die Entstehung der lutherischen
und der reformierten Kirchenlehre, 1910, 181.
63. S. Grundmann, Geschichte der Ev. Kirchenverfassung,
R.G.G. III, kol. 1577.
64. Vgl. A. Lang, Puritanismus und Pietismus, 1941,
95.
65. Aangehaal by Lechler, a.w., 19.
|17|
daarvoor om die hele land te beset met bekwame predikers en onderwysers, wat die volk kan opvoed. Luther wou dit dus uiteindelik nie waag met die Woord van God wat mag het om in die plaaslike gemeente te regeer nie. Hy bly aan die volkskerk vashou en meen dat die uiterlike inrigting van die kerk iets bykomstigs is, solank die Woord maar suiwer gepreek kan word. Die gevolg is dat hy nie soos Calvyn ’n kerklike orde ingestel het wat ruimte maak vir die regering van Christus deur Sy Woord nie.66 Deur die nood gedwing het hy aan die wêreldlike owerheid ’n plek in die regering van die kerk toevertrou, klaarblyklik met die bedoeling dat dit slegs tydelik moes wees, maar dit het die weg geopen vir ’n landsvorstelike kerkregering waaronder die Duitse kerke gebukkend gegaan het tot in 1918.67 Van die begin af het die Lutherse kerke dus gelewe met ’n wêreldlike regering vir die kerk. Dit is nie vreemd dat die opvatting van die sigbare kerk as gewone menslike vereniging wat bestuur moet word soos enige ander menslike vereniging, juis in Duitsland sy oorsprong het nie.
Terwyl die landsvorstelike regering van die kerk deur Luther as ’n tydelike noodmaatreël aanvaar is, is dit deur die Lutherse kerke self as die normale stand van sake beskou en deur hulle teoloë met telkens nuwe teorieë as die enigste juiste vorm van kerkregering verdedig. Sedert die begin van die sewentiende eeu word dit al meer verdedig vanuit die natuurregsteorie.68 Die toepassing van die natuurregsteorie op die kerk beteken nou egter niks minder as dat die kerk verstaan word as ’n religieuse vereniging wat tot stand kom deur die vrywillige samesluiting van ’n aantal indiwidue tot die bevordering van ’n gemeenskaplike doel nie. In die sg. territoriale en kollegiale stelsels van kerkregering is die kerk dan ook volledig gesekulariseer en word dit verstaan as ’n gewone vereniging.69 Die kollegiale stelsel is in hierdie opsig die konsekwentste en is ’n tipiese produk van die agtiende-eeuse verligte denke.70 Dit verstaan die kerklike mag nie as die gesag van Christus wat deur Hom persoonlik in Sy kerk uitgeoefen word nie, maar as verenigingsmag. Die indiwidue wat in die vereniging
66. Vgl. H. Bouwman, Geref. Kerkrecht, I,
203-204.
67. Vgl. E. Wolf, Ordnung der Kirche, 1960-1961, 370
e.v.; K. Holl, Luther und das landesherrliche
Kirchenregiment, Gesammelte Aufsätze I, 326; H. Diem,
Theologie als kirchliche Wissenschaft, 207.
68. Oor die ontwikkeling van die Luthese kerkregtelike denke,
vgl. E. Wolf, a.w., 386 e.v.; Bouwman, a.w., 211 e.v.; S.
Grundmann, a.w., kol. 1578 e.v.; M. Heckel, Staat und Kirche
nach den Lehren der ev. Juristen Deutschlands in der ersten
Hälfte des 17. Jahrhunderts, Zeitschr. der Savigny-Stiftung
für Rechtsgeschichte, Band 73, Kan. Abt., 42, 1956, 117-247 en
43, 1957, 202-308.
69. Hierdie denkbeeld is veral in die kollegiale stelsel volledig
uitgewerk. Vgl. U. Scheuner, Kollegialismus in R.G.G.
III, kol. 1720-1721; C.J.H. de Wet, Die Kollegiale
Kerkreg, 1921; K. Rieker, Grundsätze reformierter
Kirchenverfassung, 132 e.v.
70. Vgl. E. Wolf, a.w., 395-397.
|18|
saamgesluit is, besit uit hulleself, ex re et sua natura, ’n mag wat aan elkeen as indiwidu eie is, om te kan beskik oor die saak waarmee hulle besig is, sodat hulle hul bewegings en planne self kan reël. Die kerklike regeermag berus dus in die lede van die kerk wat deur hulle vrye wilsbeskikking op demokratiese wyse kan beslis hoe hulle die kerk regeer wil hê. Daarmee is die leer van die volksoewereiniteit op die terrein van die kerk oorgedra.71 Binne hierdie raamwerk kan die ampte dan nie meer verstaan word as organe van Christus nie, maar as amptenare van die genootskap, wat hulle bevoegdheid vir die vervulling van hulle taak van die genootskap self ontvang.72 Dit gaan daarby nie meer om die verwagting dat Christus persoonlik in Sy gemeente sal regeer nie, want die band tussen Christus en die sigbare kerk is deurgesny. Christus kan nog gedink word as Hoof van die onsigbare kerk, maar die sigbare kerk word gelyk gestel met 'n vereniging, wat op dieselfde wyse as alle ander vereniginge bestuur word.73 Die doel van die kerkorde word dan ook heeltemal anders verstaan as by die Reformatore. Dit gaan nie meer om die verskaffing van ’n ordereël vir die kerk met die oog daarop dat die Woord van God sy vrye loop in die gemeente kan hê nie, maar om die instelling van ’n statuut op grond waarvan die kerk as genootskap gekonstitueer word,74 terwyl hierdie statute of reglemente bereken is op die instelling van ’n juridies-korrekte en akkurate geslote sisteem van bestuursmaatreëls wat „orde op sake stel”.75 Die kerk word dan nie meer deur die Woord van God regeer nie, maar deur mense met reglemente. Binne die geslote sisteem van die reglemente, wat meestal alle moontlike gevalle in die kerklike lewe probeer dek, is daar geen ruimte meer vir die onrus van die openheid vir die Woord van God nie.76 Daar kom onvermydelik ’n kloof tussen die kerkregering en die belydenis van die kerk. Nóg die belydenis nog die Skrif hoef op enige direkte wyse by die regering van die kerk in aanmerking geneem te word, want die reglemente skryf immers voor hoe daar opgetree moet word om die orde te handhaaf. Dit gaan daarby om die orde sonder meer, die orde soos dit by enige ander vereniging sou gegeld het, nie die orde wat gestig word deur die regering van die Woord van God nie. So word die regering van Christus in die kerk misken en aan die kerk ’n vorm opgelê wat met sy wese in direkte botsing
71. Vgl. H. Bouwman, Geref. Kerkrecht I, 215.
72. Vgl. de Wet, a.w., 125 e.v.
73. Vgl. W.D. Jonker, Die liberale kerkreg en die veelheid
van kerke, Ned. Geref. Teologiese Tydskrif, 1964, 3-9.
74. Vgl. A. Kuyper, Het Statuut van 1869, De Heraut,
1888, no. 550 e.v.
75. Vgl. O. Noordmans, Kerkelijk Denken Voorwaarde voor
Kerkorde, no. 6 in die Serie Onze Tijd, 8 e.v.
76. Vgl. Verklaring van de Kerkenordening van de Nationale
Synode van Dordrecht, 1618-1619, klaslesings van F.L.
Rutgers, uitgegee deur J. de Jong, 184 e.v.
|19|
is.77 Juis egter omdat dit gaan om die orde as grootheid wat in sigself gesoek word, stuur hierdie soort kerkregering onvermydelik of op ’n aantasting van die belydenis van die kerk. Die ou Reformatoriese grondreël van „gebondenheid in die leer en vryheid in die kerkorde” word in die teendeel verander: die leer word by die regering van die kerk buite rekening gelaat en aan willekeur oorgelewer, terwyl die bepalinge van die reglemente tot dodelike wette verskerp word.78 Die hele toon van die kerkreg verander, omdat die juridiese terme en kategorieë van die reglemente die hele kerklike lewe deursuur. Die kerkregering verval daardeur onvermydelik in ’n dodende formalisme. Nie die saaklike staan op die voorgrond nie, maar die formele onderhouding van die reglemente. Dit word veral openbaar in die handhawing van die kerklike tug. Oral waar die kollegialisme in die kerkregering ingedring het, verloop alle tugprosesse gewoonlik as prosesse oor die formele vraag of aan die kerklike reglemente gehoorsaamheid betoon is, nie oor die vraag of die Woord van God aangetas is nie. Dit kan ook nie anders nie, want die reglementêre regering van die kerk soek die maatstaf vir tugwaardigheid nie in ’n vergryp aan Gods Woord nie, maar in die vergryp aan die reglemente.79 Die tug is immers gedegradeer tot verenigingstug en verstaan nie meer wat dit is om die sleutels van die Koninkryk te hanteer nie. Maar daar is ook tog ’n ander gevolg van hierdie sekularisering van die kerkregering. Dit is dat daar onvermydelik ’n hiërargiese element in die kerkregering moet kom, al is dit dan die hiërargie van bestuursliggame met een of ander hoogste gesag in die kerklike apparaat wat in laaste instansie beslissings neem wat nie appellabel is nie. Dat alle gesag in die kerk aan die Woord van God alleen toekom en dat alle kerklike vergaderinge in laaste instansie ewe veel en ewe min gesag het — al na gelang van die vraag of hulle volgens Gods Woord oordeel of nie — word dan nie meer verstaan nie.80 Die finale kontrole deur die Woord van God word
77. Vgl. W. Volger, De Leer der Nederlandsche
Hervormde Kerk, 25.
78. Vgl. H. Diem, Restauration oder Neuanfang in der
Evangelischen Kirche? 1946, 54.
79. Hierdie smartlike gevolg van die kollegiale kerkreg spreek
baie duidelik uit ’n werk soos dié van Volger (vgl. nota 77),
veral uit die hoofstuk oor die Afskeiding, p. 75 e.v.
80. Prinsipieel gesien het alle kerkvergaderinge dieselfde gesag,
omdat almal hulle gesag alleen aan die Woord van God ontleen,
vgl. H. Bavinck, Geref. Dogmatiek IV, 411-416, veral
415. Die gereformeerde kerkreg ken geen hoër en laer gesag in die
kerk nie en darom ook geen hoëre en laere vergaderinge nie.
Meerdere vergaderinge het dus geen hoër of andersoortige
gesag as mindere vergaderinge nie. Hulle verteenwoordig slegs ’n
meerdere deel van die aantal plaaslike kerke wat in die
kerkverband ingesluit is en neem dus besluite wat ’n wyer gebied
raak. Die gesag waarmee hulle spreek, kan slegs die gesag van die
Woord van God wees en moet daarom deur die mindere vergaderinge
eerbiedig word, tensy dit blyk dat hulle van Gods Woord afgewyk
het. Alleen op dié wyse kan art. 36 van die Dordtse Kerkorde
sinvol verstaan word.
|20|
uitgeskakel, en die bestuursliggame heers oor die lidmate, en wel in hulle eie bevoegdheid.
Uit dit alles is dit duidelik dat ons hier vanuit ’n totaal ander uitgangspunt by dieselfde plek uitkom as in die Rooms-Katolieke stelsel van kerkregering. Die mens neem die regering van die kerk oor en die ruimte vir die persoonlike en aktuele regering van Christus deur Sy Woord word nie meer vrygelaat nie. In elk geval het ons te doen met ’n fatale misverstand aan die kant van die kerk oor die verhouding van Christus tot die kerk. Oor die kollegialisme kan dus niks gunstiger geoordeel word as oor die Rooms-Katolieke stelsel van kerkregering nie. ’n Groter misverstand aan die kant van die kerk as om sy reg te verwar met ’n wêreldlike verenigingsreg, is moeilik denkbaar.81 Dit is alleen moontlik vanuit ’n teologiese insinking waarin die wese van die kerk totaal misken word. Die agtiende en die negentiende eeu was nou egter, teologies gesien, juis ryp vir hierdie groot misverstand. Die tydperk van die Franse Rewolusie het soos ’n groot stoomroller oor die Europese Protestantse kerke geloop en in kerkregtelike opsig in Frankryk, Duitsland, Nederland en Switserland dieselfde „verligte” en rewolusionêre opvattings ingetrap wat deur die Duitse kollegialiste in die agtiende eeu geformuleer is en wat so wonderlik ingepas het by die gees van die Franse Rewolusie. Die staatkundige omwentelinge aan die einde van die agtiende en begin van die negentiende eeu het die situasie geskep vir die wysiginge in die kerkregering wat vir die eerste keer die hoofgedagtes van die kollegialisme in die praktiese kerkreg ten uitvoer kon bring en die inrigting van die kerk met die demokratiese staatsinrigting kon gelykskakel.82 Die mees drastiese gelykskakeling van die kerkregering met die staatsregering het in Frankryk plaasgevind, maar ook in die ander lande is die beginsels van die kollegialisme deurgevoer. Die bekendste voorbeelde van reglemente waarin die beginsels beliggaam is, is die Algemeen Reglement van die Nederlandse Hervormde Kerk uit 181683 en die Rheinisch-Westfälische Kirchenordnung van 1835, wat as voorbeeld gedien het vir alle Duitse Evangeliese kerkordes of reglemente tot 1918.84 Hoewel
81. Vgl. K. Barth, Kirchliche Dogmatik, IV, 2,
771 e.v., 779-781.
82. Vgl. R. Voeltzel, Frankreich I, Kirchengeschichte,
R.G.G. II, kol. 1039-1040; F. Méjan, Discipline
Ecclesiastique, 38 e.v.; L. von Muralt, Die Verfassung
der Kantonalkichen der Deutschen Schweiz, in EKKLESIA, III,
10, 1935, 37 e.v.; C. Stuckert, Kirchenkunde der reformierten
Schweiz, 1910, 30 e.v.; Th.L. Haitjema, Nederlands
Hervormd Kerkrecht, 1951, 32 e.v.; G. van der Zee,
Vaderlandsche Kerkgeschiedenis III, 172 e.v.; H. Frost,
Die Rechtsstellung des Kirchenkreises der Ev. Kirche im
Rheinland, 1958, 33-42; H.D. Mittorp, Gab es in
Westfalen vor 1817 eine Verschmelzung der Konfessionen?
Ev.-Luth. Kirchenzeitung III, 1949, 284 e.v.
83. Vgl. J.C.A. van Loon, Het Algemeene Reglement van
1816, 1942.
84. Vgl. E. Wolf, a.w., 402; W. Göbell, Die
Rheinisch-Westfälische Kirchenordnung vom 5. März 1835, 2
dele, 1948 en 1954.
|21|
hierdie reglemente ’n sinodale en selfs ’n presbiteriaal-sinodale uiterlike vertoon, word die wese van die presbiteriale kerkreg daarin ten volle verloën. Die Algemeen Reglement is ’n uitstekende voorbeeld van die radikaal-ongeestelike manier waarop die gesekulariseerde kerkreg onder die gebruik van gereformeerde terme die wese van die kerk kan verkrag en die kerk kan belas met ’n hiërargiese bestuursapparaat wat geen getuienis meer daarvan of lê dat ons hier nog met die kerk te doen het nie.85 Dieselfde geld van die Duitse kerkordes, wat daarop bereken is om die beginsels van die demokrasie in alle opsigte in die regering van die kerk in te voer. Die kerkordes word verstaan as konstitusies wat die regte van die lidmate beskerm teenoor die bestuursliggame. sodat dit ook nodig is om die tipiese patroon van die demokratiese „Gewaltenteilung” in die kerk in te voer en skeiding aan te bring tussen die wetgewende, uitvoerende en regsprekende instansies in die kerk.86 In geeneen van die kerkordes van die negentiende eeu word ruimte gelaat vir die regering van die kerk deur die Woord van God of vir die belydenis van die kerk nie. Dit geld van die Algemeen Reglement óók nog na al die stryd wat in Nederland gevoer is om die inrigting van die kerk te verbeter, sowel as van die Duitse kerkordes wat ná 1918 ontstaan het toe die landsvorstelike kerkbestuur weggeval het. Op hierdie hele kategorie van kerkordes is van toepassing wat R. Smend van die Duitse reglemente ná 1918 gesê het: „Der Bekenntnisstand, überhaupt die eigentliche Substanz der Kirche, blieb ausgeklammert, die Verfassung war in der Auseinandersetzung mit der Staat nicht viel mehr als ein Reflex der staatlichen Ordnung in der Weise des formalistischen Positivismus der gleichzeitigen weltlichen Rechtswissenschaft gedacht and formuliert, kirchengeschichtlich eine überraschende Spätblüte des Kollegialismus”.87
Hierdie stand van sake was ’n uitvloeisel van die liberale teologie van die agtiende en die negentiende eeu en kon alleen verander word deur ’n teologiese terugkeer tot die Skrif. Dit was dan ook eers toe die teologiese vernuwing van die twintigste eeu sterk inslag gevind het, dat die toestand anders kon word. Wat Duitsland betref, het dit geduur tot in die tyd van die Kerkstryd voordat ’n kragtige Bybelse reaksie teen hierdie soort kerkreg ingetree het. Voor dié tyd het die Duitse kerkregtelike denke te veel onder die invloed van R. Sohm verkeer om werklik tot ’n
85. Vgl. H. Bouwman, a.w., 316; O. Noordmans, a.w., 8
e.v.; A.J. Bronkhorst, Op Weg naar een nieuwe Kerkorde,
1945, 21 e.v., 28 e.v., 31 e.v.
86. Vgl. Wolf, a.w., 400 e.v.
87. Vgl. R. Smend, Ev. Kirchenverfassung der neuesten Zeit in
Deutschland, R.G.G., III, kol. 585.
|22|
Bybels -verantwoorde kerkreg te kon kom.88 Eers in die tyd van die Kerkstryd het dit egter duidelik geword hoe fataal ’n verwêreldlikte kerkreg die boodskap en getuienis van die kerk in die gedrang kan bring. Die gelykskakeling van die kerk met die staatspatroon, die invoering van die Führer-beginsel in die kerk, die gewelddadige ingryping in die bestuursapparaat van die verskillende landskerke en die verregaande inmenging van die staat met kerksake89 het almal daartoe bygedra om sommige in die kerk wakker te skud en die vraag te laat stel na wat die wese van die kerkregering behoort te wees. Hoewel die verset teen die verkragting van die reg van die kerke aanvanklik van gereformeerde kant uitgegaan het,90 het dit spoedig uitdrukking gevind in die groot sinodes van die Bekennende Kirche waarin Gereformeerdes, Lutherane en Unierten saam getuienis afgelê het van die Bybelse belydenis oor die wese en regering van die kerk. In die Theologische Erklärung zur gegewärtigen Lage der Deutschen Evangelischen Kirche wat by die eerste Barmense Sinode van 1934 aanvaar is,91 word met ronde woorde verklaar dat die kerk met sy geloof en gehoorsaamheid, sy boodskap en sy inrigting daarvan getuienis moet aflê dat hy die eiendom van Jesus Christus alleen is en enkel van Sy troos en leiding mag lewe (derde stelling). Dit word as ’n valse leer van die hand gewys dat die kerk die gestalte van sy boodskap of ordening volgens eie goeddunke mag inrig of aan die wisselende wêreldbeskoulike of politieke oortuigings mag oorlaat (derde stelling). Vir die Bekennende Kirche het dit beteken dat hulle onvoorwaardelik wou standpunt inneem op die waarheid dat die belydenis en die orde van die kerk onlosmaaklik aan mekaar verbonde is.92 Max Schoch verklaar: „Zum kirchenrechtlichen Ertrag (des Kirchenkampfes) gehört in erster Linie die Einsicht in die prinzipielle
88. Vgl. R. Smend, Wissenschafts- und Gestaltprobleme
im evangelischen Kirchenrecht, Zeitschr. für ev.
Kirchenrecht VI, 1959, 228-229; H. Wehrhahn, Der Stand des
Methodenproblems in der Ev. Kirchenrechtslehre, Zeitschr.
für ev. Kirchenrecht I, 55 e.v.; Max Schoch, Evangelisches
Kirchenrecht und biblische Weisung, Zürich, 1954, 19 e.v.;
W. Maurer, Von Ursprung und Wesen kirchlichen Rechts,
Zeitschr. für ev. Kirchenrecht V, 4 e.v.
89. Vgl. vir die besonderhede van die kerkstryd, Kirche im
Kampf, herausgegeben von H. Hermelink, 1950; W. Niemöller,
Kampf und Zeugnis der Bekennende Kirche, 1948;
dieselfde, Die Ev. Kirche im Dritten Reich, 1956; K.D.
Schmidt, Die Bekenntnisse und grundsätzlichen Äusserungen zur
Kirchenfrage des Jahres 1933, 1934, 1935, 3 dele, 1934-1936;
J. Beckmann, Kirchliches Jahrbuch 1933-1944, 1948; E.
Wolf, a.w., 425 e.v.
90. Vgl. R. Steiner, Der Weg der reformierten Kirchen und
Gemeinden von 1933-1950 in: Kirchliches Jahrbuch 1950,
herausg. von J. Beckmann, 1951, 228 e.v.
91. Vgl. vir die teks, W. Niesel, Bekenntnisschriften und
Kirchenordnungen, 335 e.v.
92. Vgl. J. Beckmann, Der theologische Ertrag des
Kirchenkampfes, in: Bekennende Kirche, Festschrift
für M. Niemöller, 1952, 84.
|23|
Einheit von Botschaft and Gestalt der Kirche”.93 Dit beteken nie net dat die kerkorde geen bepalinge mag bevat wat met die belydenis van die kerk in stryd is nie, maar ook dat elke bepaling van die kerkorde op sigself ’n belydenis moet bevat aangaande die feit dat Christus alleen die Here van die kerk is.94 Dit beteken egter ook dat die kerk hom in alles deur die Woord van God moet laat lei en dus prakties die Woord van God in hom moet laat regeer en nie allerlei menslike ideologieë nie. Daarom bevat die Barmenverklaring veel meer as net uitsprake oor die inrigting van die kerk. Dit begin met ’n belydenis dat Jesus Christus soos Hy in die Heilige Skrif betuig word, die één Woord van God is waarna ons moet luister en wat ons in lewe en sterwe moet vertrou en gehoorsaam (eerste stelling).95 Daarna word die bevrydende heerskappy van Christus oor alle lewensterreine uitgespreek (tweede stelling), terwyl Sy aktuele en persoonlike regering in die gemeente bely word (derde stelling). Vanuit hierdie erkenning van die heerskappy van Christus vloei dan vir die inrigting van die kerk die belangrike beginsel voort dat die kerk geen Führer ken nie — alle ampswerk is enkel diens (vierde stelling).
Toe hierdie basiese beginsels van die kerkregering eenmaal reggestel is, kon daaruit ook die ander belangrike waarhede van die Bybelse kerkreg voortvloei. Ons hoor spoedig weer in Duitsland met klem die prinsipiële verskil tussen kerkreg en wêreldlike reg na vore kom. Ons hoor dit as ’n onmoontlikheid van die hand wys dat die kerk regeer kan word met denkbeelde aan die privaatreg of die staatsreg ontleen.96 Die plaaslike gemeente as versameling van gelowiges rondom die gepredikte Woord word weer as grondsteen van alle Bybelse kerkreg erken, en van die kerkorde word weer verklaar dat dit ’n Gottesdienstordnung moet wees.97
93. Max Schoch, a.w., 71.
94. Vgl. H. Wehrhahn, Die Kirchenrechtliche Ergebnisse des
Kirchenkampfes, Evangelische Theologie, VII, 1947, 318; R.
Smend, Ev. Kirchenverfassung, R.G.G., III, kol.
1586-1587; Kreck, a.w., 127 e.v.
95. Vgl. W.A. Visser ’t Hooft, Het Koningschap van
Christus, 1947, 38 e.v.
96. Vgl. E. Wolf, Zur Rechtsgestalt der Kirche, in:
Bekennende Kirche, Festschrift für M. Niemöller, 1952,
254 e.v.; J. Beckmann, Der Kampf der Bekennende Kirche im
Rheinland um die presbyterial-synodale Kirchenordnung, Z.
für ev. Kirchenrecht, I, 137 e.v., 263 e.v.; Oskar Kühn, Die
Neugestaltung des gemeindlichen Wahlrechts in der Ev.-Luth.
Kirche in Oldenburg nach 1945, Z. für ev. Kirchenrecht, IV,
196 e.v.
97. Vgl. Hans Asmussen, Kirche Augsburgischer
Konfession! Theol. Exist. Heute, 16, 1934, 26; W. Maurer,
Die rechtliche Problematik der Lebensordnungen in der
VELKD, Z. für ev. Kirchenrecht III, 229 e.v.; H. Wehrhahn,
Kirchenrechtliche Ergebnisse, 320. Die invloed van Karl
Barth by die kerkregtelike ontwikkeling in Duitsland is
alombekend. Barth laat baie sterk die klem op die plaaslike
gemeente val, só sterk, dat hy selfs in die rigting van die
kongregasionalisme beweeg. Vgl. Die Schrift und die
Kirche, Theol. Exist. Heute, 22, 1947, 27, waar hy sê: „Eine
Kirchenordnung die nicht von der Anschauung und vom Begriff der
Gemeinde her entworfen ist, ist ihres Namens nicht wert.”
|24|
Die juridiese en reglementêre bestuur van die kerk word as basies verkeerd verwerp, en daar word geroep om ’n vorm van kerkregering waaruit duidelik sal blyk dat die kerk ’n Christokratiese broederskap is.98
In Nederland het die kerkregtelike deurbraak eers gedurende die besettingstyd (1940-1945.) gekom. Anders as wat in Duitsland die geval was, is die Nederlandse Hervormde kerk meer as ’n eeu lank gekonfronteer met ’n Bybelse protes teen sy onbybelse kerkreg. Tog het nóg die kerkregtelike krisis waarvoor die Afskeiding en die Doleansie die Hervormde Kerk geplaas het, nóg die boodskap van manne soos Groen van Prinsterer, Hoedemaker en Gunning daarin geslaag om in die toestand ’n verandering te bring. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog kon verskillende faktore egter meewerk om die kerkregtelike deurbraak. wat eintlik al lankal voorberei is deur die nuwe teologiese ontwikkelinge van die twintigste eeu, tot werklikheid te laat word.99 Die grootste wonder van die tyd was egter dat die Hervormde Sinode onder die invloed van enkele buitengewone figure sy „reglementêre” grense ver te buite gegaan het en ’n geestelike taak verrig het wat eintlik nie meer verwag kon word van ’n liggaam wat so lank niks anders wou wees as ’n bestuur wat ’n bloot „burgerlike” orde in die kerk handhaaf nie.100 Die gevolg was dat daar in 1950 deur die Hervormde Kerk ’n nuwe kerkorde aanvaar kon word wat in alle opsigte bedoel was om terug te keer tot die presbiteriale kerkreg. ’n Totaal nuwe gees beheers die nuwe kerkorde. Hier word in kerklike taal gespreek. Die Koningskap van Christus oor die kerk word deur die geheel veronderstel en bely. Die eenheid van kerkorde en belydenis staan deurgaans op die voorgrond.101 Die reorganisasiestryd in die Nederlandse Hervormde kerk kan, net soos die Duitse Kerkstryd, beskou word as ’n moment in die stryd om die regering van Christus in Sy kerk. Die invoering van die nuwe kerkorde is dan ook ’n gebeurtenis van betekenis vir die ganse Christelike Kerk, omdat dit ’n openbaring is van ’n teologiese verandering van onberekenbare groot gewig.
98. Vgl. Erik Wolf, Zur Rechtsgestalt der Kirche,
259; O. Friedrich, Die neue Grundordnung der Ev. Landeskirche
in Baden, Z. für ev. Kirchenrecht, VII, 4 e.v.
99. Vgl. O. Noordmans, a.w., 15 e.v.; Th.L. Haitjema,
Nederlands Hervormd Kerkrecht, 78 e.v.; 92 e.v.
100. Vgl. Haitjema, a.w., 94 e.v.
101. Oor die nuwe kerkorde van die Hervormde Kerk, vgl. A.J.
Bronkhorst, Een Gang door het Ontwerp-kerkorde, Nedl.
Theol. Tijdschr., II, 1947/48, 206 e.v.; A.A. van Ruler, Het
Apostolaat der Kerk en het Ontwerp-kerkorde, 1948; J.R.
Wolfensberger, De Nieuwe Kerkorde, In de Waagschaal, 15,
115-115; O. Weber, Die Kirchenordnung der Niederländischen
Reformierten Kirche von 1950, Z. für ev. Kirchenrecht II,
225 e.v.