|3|

 

Om die regering van Christus in Sy kerk

 

Dat Jesus Christus die Hoof en Here van Sy kerk is en as Koning direk en persoonlik oor Sy kerk regeer, is die grondwaarheid waarvan die kerkreg moet uitgaan. Indien dit waar is dat die kerk op grond van die Skrif bely dat Jesus, wat die Here van die here en die Koning van die konings is (Openb. 17: 14), ook die Hoof is wat bo alle dinge aan die gemeente gegee is (Ef. 1: 20-23), dan mag die kerk onder geen omstandighede hierdie belydenis vergeet by die beantwoording van die vraag wie in die kerk regeer en hoe die regering plaasvind nie. Die belydenis dat Christus Hoof van die kerk is, stel die kerk onontwykbaar voor die werklikheid dat daarin ook ’n belydenis aangaande die regering van Christus in Sy kerk begrepe is1 en verplig die kerk om met die belydenis erns te maak tot in die verste verte van die praktyk. Kerkreg wat nie van voor tot agter beheers word deur die waarheid van die Koningskap van Christus nie, is valse kerkreg. Dit misken die grondwaarheid van alle reg en orde in die kerk, omdat dit die besondere verhouding tussen Christus en die kerk misken. Juis die verhouding is egter vir die kerk en sy regering van wesenlike betekenis. Kerkreg kan alleen egte, Bybelse kerkreg wees as dit uitgaan van die belydenis dat Christus Self Sy gemeente vergader, beskerm en regeer,2 dat Hy die handelende Subjek in die gemeente is en dat aan Hom alleen alle mag en seggenskap in die gemeente toekom.3 Tereg is hierdie onomkeerbare verhouding tussen Christus en die kerk die grondwet van die kerk genoem, waarop alle reg en orde in die kerk gebaseer moet wees.4 Indien die kerk die Bybel ernstig opneem, moet die kerk glo dat Christus lewend, persoonlik en aktueel in die gemeente wil regeer. Die belofte van Christus dat Hy al die dae tot aan die voleinding van die wêreld met die kerk sal wees (Matt. 28: 20), sowel as die belofte dat Hy persoonlik deur die Gees in en by die kerk sal bly (vgl. Joh. 14: 16-20) en dus teenwoordig sal wees waar twee of drie in Sy Naam vergader (Matt. 18: 20), is te duidelik dat die kerk sou kon twyfel aan die praesentia realis Christi ipsius hier en nou, op elke punt van die weg.5 Die kerk staan — juis ook


1. Vgl. J. du Plessis, Christus as Hoof van Kerk en Kosmos, 1962; J.H. Roberts, Die Opbou van die Kerk volgens die Efesebrief, 1963, 92 e.v.
2. Vgl. Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus.
3. Vgl. A.J. Bronkhorst, Schrift en Kerkorde, 1947, 208 e.v.; A.A. van Ruler, Bijzonder en Algemeen Ambt, 1952, 70 e.v.
4. Vgl. K. Barth, Kirchliche Dogmatik IV, 2, 770.
5. Vgl. A.A. van Ruler, a.w., 74 e.v.

|4|

ná Hemelvaart6 — van oomblik tot oomblik voor Christus, wat die kerk teëkom met Sy vergaderende, beskermende en regerende werksaamheid. Hieraan mag die kerk nie twyfel nie, want die hele sin van elke handeling van die kerk is daarin geleë dat Christus daarin teenwoordig sal wees en daarin handel.7

Tog blyk dit telkens weer dat die kerkreg hierdie waarheid uit die oog verloor en dan op een of ander wyse op ’n dwaalweg geraak. Dit is asof dit vir die kerk te geweldig is om dit uit te hou met die werklikheid van Christus se lewende teenwoordigheid in sy midde. Die geskiedenis leer ons dat telkens wanneer die kerk die belydenis van die Koningskap van Christus verwaarloos het of die verhouding tussen Christus en die kerk nie op die juiste wyse verdiskonteer het nie, dit onmiddellik gereflekteer is in die kerkreg. Dan word die regering van die kerk op een of ander wyse aan Christus ontneem en in die hande van die mens gelê. Teoreties mag die heerskappy van Christus in die kerk dan nog erken word, maar in die praktyk word daarmee geen rekening meer gehou nie. Die kerkreg word dan of geklerikaliseer of gesekulariseer.


6. Vgl. G.C. Berkouwer, Het Werk van Christus, 1953, 229 e.v., 253 e.v.; J.L. Koole, Liturgie en Ambt, 1949, 72.
7. Vgl. H. Bavinck, Geref. Dogmatiek IV, 335; A. Kuyper, Tractaat van de Reformatie der Kerken, 15.