|271|

Artikel 76

 

Diegene wat hardnekkig die vermaning van die kerkraad verwerp en ook die wat ’n openbare of anders ’n growwe sonde gedoen het, moet van die sakramente van die Here afgehou word

[Opmerking: Die Nasionale Sinode van 1997 het die woord „sakramente” in hierdie artikel vervang met „nagmaal”. Hierdie wysiging moet egter eers, volgens artikel 86 KO, vir advies aan die ander Nasionale Sinodes voorgelê word voordat dit vir goedkeuring na die Algemene Sinode deurgestuur kan word (kyk Handelinge Sinode 1997, p. 535. punt 3.2.3 en p. 537, punt 4.2.3)].

 

„Dissiplinêre afhouding.”

Die „afhouding van die sakramente” wat in hierdie artikel bepaal word, is ’n dissiplinêre afhouding. In die verdere bespreking van hierdie artikel sal ook nog gewys word op ’n nie-dissiplinêre afhouding.

[Opmerking: Ek sal verder in artikels 76 en 77 deurgaans die woord „nagmaal” in plaas van „sakramente” gebruik; ’n belydende lidmaat kan tog slegs van die nagmaal afgehou word, maar nie van die doop nie; hy/sy is immers reeds gedoop!].

 

Erns van dissiplinêre afhouding.

Dissiplinêre afhouding van die nagmaal is ’n uiters ernstige aangeleentheid. In die Heidelbergse Kategismus word duidelik gesê dat wanneer mense, wat nie daartoe geregtig is nie, wel nagmaal gebruik, die verbond van God ontheilig word en sy toorn oor die hele gemeente opgewek word (Vraag/Antwoord 82).

In sulke gevalle kan daar dus geen sprake wees van ’n geseënde nagmaalsviering nie!

 

Redes vir dissiplinêre afhouding.

Die redes vir dissiplinêre afhouding is tweërlei:
➢ wanneer die vermanings van die kerkraad hardnekkig verwerp word;

|272|

➢ wanneer daar ’n openbare of growwe sonde gedoen is.

Op p. 262 is daarop gewys dat elke vorm van tug by vermaning begin. As die vermaning egter geen gewenste resultaat oplewer nie, spreek dit vanself dat die intensiteit van die tug moet toeneem. Die volgende stap is afhouding van die nagmaal.

 

Wanneer vermanings van kerkraad verwerp word.

Wanneer ’n lidmaat se lewe sodanig is dat hy deur die kerkraad oor ’n tydperk amptelik vermaan is, maar die vermanings word hardnekkig verwerp, moet die kerkraad so iemand dissiplinêr van die nagmaal afhou.

Hierdie afhouding van die nagmaal sal egter slegs kan plaasvind nadat veelvuldige vermanings gedoen is. Die term „hardnekkige” verwerping van vermanings impliseer baie duidelik veelvuldige vermanings.

In die lig van Deuteronómium 19: 15 is dit belangrik dat hierdie vermanings nie slegs deur die wyksouderling gedoen word nie, maar bykomend ook deur ’n kerkraadskommissie. Slegs op die getuienis van twee of drie mag besluit word tot afhouding van die nagmaal (en eventuele verdere tughandelings).

 

Wanneer ’n openbare of growwe sonde begaan is.

Dissiplinêre afhouding van die nagmaal moet ook plaasvind wanneer ’n lidmaat ’n openbare of growwe sonde gepleeg het. (’n Growwe sonde kan gepleeg word sonder dat dit onmiddellik openbaar geword het).

In sulke gevalle is dit uit die aard van die omstandighede nie moontlik en ook nie nodig dat daar eers vooraf „veelvuldige” vermanings gedoen moet word nie. Iemand wat sulke sondes gepleeg het, word summier dissiplinêr van die nagmaal afgehou.

 

Voortgaande bearbeiding.

Tydens die periode van afhouding moet so ’n lidmaat voortdurend intensief pastoraal bearbei word deur middel van vermanings, waarskuwings en bemoediging.

Die bearbeiding in sulke gevalle moet meer dikwels en met dringender vermanings gedoen word as by lidmate wat nie onder tug is nie.

|273|

Mededeling van kerkraadsbesluit. 

Wanneer ’n kerkraad besluit om ’n lidmaat dissiplinêr van die nagmaal af te hou, moet die oordra van die besluit aan die lidmaat skriftelik geskied, deur minstens twee ouderlinge. Die oordrag van die skriftelike besluit moet ook gepaard gaan met pastorale bearbeiding (Skriflesing, vermaning, waarskuwing, bemoediging en gebed).

Dit is beslis onwenslik dat so ’n besluit slegs deur die wyksouderling oorgedra word. Want sodoende kan ’n situasie ontstaan dat die lidmaat kennis van die kerkraadsbesluit ontken en wel gaan nagmaal gebruik; dan is dit die ouderling se woord teen dié van die lidmaat.

 

Indien so ’n lidmaat desondanks na die nagmaal gaan?

Dit het al gebeur dat lidmate wat deur die kerkraad dissiplinêr van die nagmaal afgehou is, tog by die nagmaalstafel gaan aansit.

Wat staan ’n predikant in so ’n situasie te doen?

Dit is logies dat die saak met die mins moontlike ontwrigting en ontstigting hanteer moet word. Die naam van so ’n lidmaat mag ook op geen stadium genoem word nie!

Na my mening is dit miskien die aangewese weg vir die predikant om soos volg op te tree:

Wanneer hy die betrokke lidmaat opmerk, moet hy sê dat daar aan die tafel ’n lidmaat is wat deur die kerkraad dissiplinêr afgehou word. Hy versoek dan die lidmate om die tafel te ontruim. Daarna roep hy lidmate weer op om toe te tree, met die uitdruklike versoek dat die lidmaat wat afgehou word, nie weer sal aansit nie. Indien die betrokke lidmaat tog weer gaan aansit, moet hy hom/haar versoek om die bord en beker by hom/haar te laat verbygaan. Die kerkraad moet so spoedig moontlik ná die nagmaal vergader om so ’n lidmaat summier volgens artikel 77 onder die „eerste trap” van sensuur te plaas (kyk by art. 77).

 

Afhouding afkondig?

Normaalweg word nie afgekondig wanneer lidmate van die nagmaal afgehou word nie.

|274|

„Selftug”.

Soms word gesê dat een of ander lidmaat hom/haarself onder „selftug” geplaas het. Die bedoeling hiervan is dat ’n lidmaat hom/haarself vrywillig van die nagmaal weerhou ná een of ander tugwaardige sonde, sodat die kerkraad nie meer nodig het om artikel 76 toe te pas nie.

Dit is egter ’n growwe dwaling. „Selftug” kan onder geen omstandighede die tugtoepassing deur die kerkraad vervang of oorbodig maak nie, omdat „selftug” geen dissiplinêre handeling van die kerkraad is nie.

 

„Stille sensuur” of „eenvoudige afhouding”.

Soms kan daar gevalle wees waar ’n kerkraad iemand adviseer om hom/haarself van die nagmaal te weerhou; of ’n lidmaat kan uit eie beweging hom/haarself vrywillig weerhou — ter wille van die stigting van die gemeente of die lidmaat se eie geestelike en ewige welsyn. Verskillende omstandighede kan daartoe aanleiding gee:
➢ wanneer sake nie vóór die nagmaal afgehandel kon word nie;
➢ waar iemand klaarblyklik onskuldig is, maar geen aanstoot in die gemeente wil gee nie.

Hierdie advies deur die kerkraad tot weerhouding van die nagmaal is geen dissiplinêre optrede nie. Dit word gewoonweg „stille sensuur” of „eenvoudige afhouding” genoem.

 

Posisie van ’n afgehoudene.

Wat is die posisie van ’n lidmaat wat dissiplinêr van die nagmaal afgehou word?

So iemand
➢ word nie van erediensbywoning uitgesluit nie; inteendeel moet so ’n lidmaat juis, deur getroue bywoning van eredienste en ander vorme van kerklike meelewing, bydra tot bewys van sy/haar boetvaardigheid en bekering;
➢ is nie verkiesbaar tot ’n besondere amp in die kerk nie;
➢ verbeur sy/haar „kiesreg” in die kerk;
➢ mag nie ’n kind ten doop hou nie;
➢ se versorging deur die diakens (indien van toepassing) moet voortgaan.

|275|

Hertoelating tot nagmaal.

Soms gebeur dit dat ’n lidmaat vir ’n vasgestelde tydperk, byvoorbeeld 6 maande, dissiplinêr van die nagmaal afgehou word; na verstryking van die 6 maande word hy/sy outomaties weer tot die nagmaal toegelaat, ongeag of daar boetvaardigheid en bekering is of nie.

Hierdie optrede moet in die sterkste taal afgekeur word, omdat dit ’n totale miskenning is van die doel van die kerklike tug!

Die doel van die kerklike tug is immers die eer van God, die suiwerheid van die gemeente en die behoud van die sondaar (kyk by art. 71). Hierdie drieërlei doel kan egter slegs bereik word as daar opregte boetvaardigheid en eerlike bekering is.

Slegs wanneer die kerkraad oortuig is van opregte boetvaardigheid en eerlike bekering, mag so ’n lidmaat weer tot die nagmaal toegelaat word.

 

Lidmaat weier om ouderling en/of predikant te ontvang.

Dit gebeur soms dat ’n lidmaat wat onder intensiewe vermaning is, weier om die ouderling en/of predikant in sy huis te ontvang. Op watter wyse moet die vermaning in so ’n geval voortgesit word?

Daar is slegs een manier wat oorbly, en dit is by wyse van korrespondensie. Maar dan moet die kerkraad seker wees dat die briewe wel deur die lidmaat ontvang word.

Indien dit nie moontlik is om briewe per hand deur minstens twee ouderlinge af te lewer nie, moet gebruik gemaak word van die koerierdiens van die poskantoor, wat allerweë beskou word as die veiligste manier om posstukke te versend.

Aflewering/versending moet in alle gevalle aan die lidmaat persoonlik gedoen word.

Die kerkraad moet egter afskrifte van sulke briewe, asook die strokies van die poskantoor, veilig bewaar as bewysstukke.

Die notulering van hierdie buitengewone bearbeiding moet vanselfsprekend stiptelik en noukeurig geskied.