|1|

Die verband tussen die Skrif, konfessie en kerkorde volgens die gereformeerde kerkreg

 

1. Inleiding

1.1 Aktualiteit en uiteensetting

Dit dring hoe langer hoe meer tot my deur dat die onderwerp wat aan die orde is, ons inderdaad by die wese en essensie van die vak kerkreg bring. Dit is nie net ’n onderwerp wat op die teologies-wetenskaplike terrein belangrik en aktueel is nie, maar ook een wat op suiwer kerklike gebied — waar die kerkorde soms onderwaardeer en dikwels ook uit verband geruk en oorskat word — in die fokus van ons aandag en belangstelling moet kom.

Dit is ’n onderwerp van breë omvang waaraan ons vanweë die tydsbeperking nie volledig reg kan laat geskied nie. Ons beperk ons daarom tot dit wat myns insiens die kernaangeleenthede raak.

Aangesien ons tema ’n sterk prinsipiële en historiese karakter het, en ook definitiewe teoretiese en praktiese fasette het, het ons dit goed gedink om op die volgende wyse daaraan aandag te gee:

* Ter inleiding gee ons eers ’n oriënterende basis, waarna ons let op
* die genoegsaamheid al dan nie van die Skrif en konfessie as die bronne vir die kerkreg as goddelike reg vir die kerk, soos dit blyk by Rome, die anababtiste en Luther;
* Daarna bepaal ons ons kortliks by enkele negatiewe standpunte met betrekking tot die verband tussen Skrif en kerkorde;
* Ons wys vervolgens op die feit dat strydpunte in die geskiedenis juis tot stimulering dien om na die prinsipes terug te keer;
* Hierna kom die positiewe standpunt oorsigtelik aan die orde, soos dit tydens die reformasie van die sestiende eeu na vore tree;
* Laastens bepaal ons ons dan by die meer konkrete saak, naamlik by die duidelike ooreenkoms tussen die Nederlandse geloofsbelydenis en die kerkorde, asook die kritiek ten opsigte van die verskille en skynbare verskille tussen veral die genoemde geloofsbelydenis en die kerkorde.

|2|

1.2 Oriënterende basis

Kerkreg is ’n teologiese wetenskap wat hom met unieke sake besig hou, naamlik met eiesoortige reg, geregtigheid en orde van God asook met die kerk as die duurgekoopte liggaam van Christus. Omdat die kerkreg as ekklesiologiese wetenskap voluit met die kerk te maak het, het dit juis daarom nie net met die reg en geregtigheid van God te doen nie, maar ook met die genade, die barmhartigheid en liefde van God in Jesus Christus, want vanweë al hierdie deugde of eienskappe van God is die kerk daargestel. Op grond van God se soewereine liefde en genade het die kerk as ’n unieke en nuwe skepping van God ontstaan.

Die kerkreg moet hom bepaal by die orde en gedragsreëls wat God self vir sy kerk verorden het. Die kerk moet hom ooreenkomstig die reg van God gedra; dit wil se die konkrete lewe en handelinge van die kerk moet ooreenkom met dit wat goed is in God se oë (vgl. 1 Kor 14: 40; 1 Tm 3: 15; Van der Linde, s.j.:21).

Dit is die taak van die kerkreg om die gedragsreëls wat Christus as die enigste Hoof van die kerk in sy Woord gegee het, na te vors, belydend te formuleer, te sistematiseer en duidelik en omlyn toeganklik vir die konkrete lewe van die kerk aan te bied.

Op hierdie wyse moet die kerkreg ’n diens lewer ten einde die goddelike reg (ius divinum) in die kerk gestalte te laat kry. Prakties word die vak Kerkreg hiermee voor ’n geweldige maar tegelyk heerlike verantwoordelikheid geplaas.

Dit is geen geringe saak om presies vas te stel wat die goddelike reg is nie. Johannes Heckel sê die kernprobleem van die kerkreg is die vraag na die ius divinum. Al sou daar in ’n groot mate in die gereformeerde kerkreg eenstemmigheid bestaan dat die vraag alleen in die lig van die Woord beantwoord sal kan word, dan kom ons vandag veral nog te staan voor die “vraagstuk” rondom die verstaan van die Skrif, die skopus van die Skrif en die gesag van die Skrif. Hoewel hierdie aangeleenthede meer op die terrein van die bibliologie en dogmatiek lê, is die kerkreg as ekklesiologiese vak in die teologiese ensiklopedie afhanklik van die bibliologiese en dogmatiese vakke. Van ’t Spijker (1972:4) stel dit soos volg: “Niet slechts in de exegese, in de dogmatiek, en in de praktische vakken, ook in de theologische wetenschap, die men kerkrecht noemt, gaat het, gelijk de geschiedenis te zien geeft, om een voortdurende bezinning op de vraag naar de

|3|

bronnen, waaruit, de normen, waarnaar, en de methode, volgens welke gedacht en gehandeld dient te worden”.

Dit kom op die vraag aan: hoe luister ons na die Skrif, en hoe put ons uit die bron van die evangelie? (Van ’t Spijker, 1972:7)

Hier kan ons selfs in die laat twintigste eeu ons nog verlaat op die seënryke resultate van die Reformasie van die sestiende-sewentiende eeu; nie soseer omdat dit primêr reformasie in die kerkregering tot gevolg gehad het nie, maar omdat dit ’n konfessie, bekend as die Drie Formuliere van Eenheid, daargestel het. In die Nederlandse geloofsbelydenis — waarby ons ons in hierdie rede meer in besonder wil bepaal en beperk — bely ons vanuit die sola scriptura ons geloof aangaande die Woord van God (art. 2-7). In artikels wat daarop volg, byvoorbeeld artikels 17 en 25, bely ons dat Jesus Christus die skopus van die hele besondere openbaring is. Eindelik bely ons in artikels 27-32 ons geloof aangaande die kerk, juis op grond van wat die Skrif ons in hooftrekke daaroor leer. Dit is duidelik dat die bibliologie en die Christologie aan die ekklesiologie voorafgaan. Ons bemerk hierin reeds ’n intrinsieke verband tussen die Skrif en ons belydenis aangaande die kerk en die Kerkreg. Die belydenis is volgens die Reformasie nie net ’n antwoord of verwoording van wat die Skrif oor homself sê met betrekking tot aspekte soos die inspirasie, die kanon, die gesag en ander eienskappe van die Skrif nie; dit verwoord ook die grondlyne vanuit die Skrif met betrekking tot die regering van die kerk.

Die probleem is egter dat ons in die verloop van die geskiedenis — nie net voor die Reformasie nie, maar veral ook daarna — histories belas is. Wie noukeurig let op die huidige breë kerkregtelike toestand, moet bewus word van invloede van verskeie strominge, standpunte en stelsels. Die Christokraties-pneumatiese gesagsbeskouing van die Reformasie word óf verdring deur die Rooms-Katolieke Kerk se hiërargie met sy ampsgesag en kerkgesagmodel, óf vermink deur die Erastiaanse owerheidsgesagsmodel óf verduister deur stelsels soos die kollegialisme en independentisme. Hierby kan sekerlik nog gevoeg word die spiritualisties-charismatiese wyse van kerkregering waarvolgens ’n spanning tussen ’n sogenaamde charismatiese geesteskerk en ’n juridies/institusionalistiese regskerk geskep word.

Waar die Christokrasie verdring, vermink of verduister word, word die kerk en kerkreg óf geklerikaliseer, óf gesekulariseer, óf gedemokratiseer óf gespiritualiseer (vgl. Jonker, 1965). Die geskiedenis het ons

|4|

reeds geleer dat waar die band tussen Christologie en ekklesiologie verwaarloos of verbreek is, dit deformerend en kerkvernietigend gewerk het (Pont s.j.:77 e.v.).

Die gereformeerde kerkreg se taak is nie om apologeties-polemies te werk te gaan nie; dit kan ook nie stagneer by die ius constitum (die huidige geformuleerde en geldende reg) nie. Bronkhorst (1976), Nauta (1971:38) en Coertzen (1984:186-187) maan ons tereg om ook nie net te teer op wat outeurs van die verlede presteer het nie, maar om ons te verdiep in die grondslae en bronne vir die kerkreg. Te meer is dit seker die roeping van die gereformeerde kerkreg wat immers ook iets soos die ius constituendum erken (Bouwman, 1928:2). Hiervolgens moet ons voortdurend bly navorsing doen oor die reg soos dit behoort te wees; soos God dit in sy Woord voorskryf.

Nou raak ons natuurlik aan die metodologie in die beoefening van die kerkreg. Die metodologie hou hom primêr besig met die regte uitgangspunte, die bronne of grondslae (Coertzen, 1986:47). Die vertrekpunt is uiteraard beslissend met betrekking tot die eindpunt of resultaat.

Die Reformasie — veral die Calvinistiese Reformasie — trek juis hierin saam dat hulle die kerk weer volgens die enigste en eintlike bron, naamlik die heilige Skrif, wou reformeer. Hulle wou vanuit die Skrif die goddelike reg (sg. ordinatio Dei) vir die kerk vasstel. In hierdie proses moes iemand soos Calvyn en sy volgelinge op twee fronte veg (Plomp, 1967:14): enersyds teen die Roomse Kerk met sy kanonieke reg en andersyds teen die anababtiste. Dit was wesenlik ’n stryd teen institusionalisme aan die een kant en spiritualisme aan die ander kant.