|305|

Artikel 81

 

Die bedienaars van die Woord, die ouderlinge en die diakens moet onder mekaar die Christelike sensuur uitoefen en mekaar oor die bediening van hulle amp vriendelik vermaan.

 

Christelike sensuur.

Die term „sensuur” skep die indruk dat ons hier te doen het met kerklike tug. „Sensuur” beteken egter ook dat ampsdraers toesig oor mekaar moet uitoefen en op mekaar moet ag gee. In hierdie sin moet die woord „sensuur” in artikel 81 verstaan word. In die streng sin van die woord is dit dus nie een van die „tugartikels” nie, maar dit is eerder bedoel om die toepassing van tug te voorkom, soos hierná duidelik sal word. Só sluit artikel 81 aan by die voorafgaande artikels oor die kerklike tug.

Nadruk moet gelê word op die Christelike sensuur; die sensuur wat kragtens hierdie artikel uitgeoefen word, moet dus in die gees van die liefde van Jesus Christus gedoen word. Dit word verder beklemtoon deurdat die vermaning „vriendelik” moet wees.

In die toepassing van hierdie artikel is daar dus geen ruimte vir onchristelikheid, onbroederlikheid of onvriendelikheid nie.

 

Praat met mekaar, nie van mekaar nie.

Die sondige mens praat so graag en so maklik van sy medemens, in plaas van met hom/haar. In hierdie artikel word nou ’n kosbare geleentheid vir ampsdraers in die kerk van Jesus Christus geskep om, wanneer nodig, met mekaar te praat en nie agteraf van mekaar nie. Hierdie geleentheid moet benut word — tot eer van die Here, tot welsyn van die kerk en tot inkeer en behoud van die mede-broeders.

 

Artikel 81 en artikels 79/80.

Soos hierbo gesê is, is artikel 81, in die streng sin van die woord, nie een van die „tugartikels” nie. Tog is daar ’n besliste verband met die voorafgaande artikels.

|306|

As ’n ampsdraer sien dat sy mede-broeder op ’n pad loop wat uiteindelik sy ondergang gaan meebring, mag hy hom nie maar laat begaan totdat hy oplaas in die amp geskors of daaruit afgesit sal moet word nie; so iets sou totaal liefdeloos wees.

Wanneer ’n ampsdraer nou sien dat daar nalatigheid, eiewilligheid, baasspelerigheid of iets dergeliks in die ampsbediening van ’n mede-broeder is; of as hy merk dat sy mede-broeder met versoekings speel, of enigiets anders doen/nalaat wat die bediening kan skaad, moet hy hom daaroor betyds „vriendelik vermaan” soos artikel 81 bepaal.

Dit gaan dus nie in hierdie artikel oor ’n aanklag wat op tugoefening kan uitloop nie. Artikel 81 mag ook nie misbruik word as ’n „plaasvervanger” vir artikels 79/80 nie.

Inteendeel is hierdie artikel juis bedoel om ’n moontlike tugoefening volgens artikels 79/80 te voorkom.

 

Artikel 81 en Matthéüs 18.

(Kyk Bylae „D” agter in hierdie boek).

Moet ’n ampsdraer eers die reël in Matthéüs 18: 15-17 (die persoonlike vermaning in geval van ’n heimlike sonde, kyk art. 72) nakom voordat hy ’n mede-broeder volgens artikel 81 vermaan?

Daar is kerkrade waar hierdie voorwaarde/vereiste gestel word.

Na my mening is dit nie korrek nie, omdat artikel 81 en Matthéüs 18 nie identiese situasies op die oog het nie.

Slegs wanneer ’n ampsdraer artikel 81 wil misbruik om sy plig volgens Matthéüs 18 te omseil, moet die vereiste van Matthéüs 18 met beslistheid gestel word. Iemand wat nie die moed het om ’n medebroeder persoonlik onder 4 oë volgens Matthéüs 18 te vermaan nie, mag nie toegelaat word om artikel 81 in die plek daarvan te misbruik nie.

Voordat iemand ’n medebroeder onder artikel 81 vermaan, spreek dit vanself dat hy seker moet wees van sy feite. Daarom mag ’n persoonlike gesprek in sekere omstandighede eers nodig wees. Hierdie persoonlike gesprek lê egter nie op dieselfde vlak as die reël in Matthéüs 18 nie.

|307|

Ook oor leer en lewenswandel?

Gaan dit in artikel 81 slegs oor die bediening van die amp, of ook oor die algemene leer en lewenswandel?

Die bewoording laat dit lyk asof leer en lewenswandel buite die reikwydte van hierdie artikel val.

En tog kan leer en lewenswandel nie losgemaak word van ampsbediening nie. Onberispelike ampsbediening is nie moontlik as daar vlekke in die leer en/of lewenswandel is nie. Die „vriendelike vermaning” van artikel 81 gaan dus nie slegs oor die ampsbediening nie, maar ook oor die leer en lewenswandel.

 

In elke vergadering.

Hoewel artikel 81 gewoonweg in die vergadering van kerkraad met diakens vóór nagmaal in die agenda opgeneem word, kan enige ampsdraer by elke vergadering ’n geleentheid vra onder artikel 81. Want indien artikel 81 slegs elke 3 maande in werking gestel word, kan dit gebeur dat ’n toestand só versleg voor die volgende voor-nagmaalse vergadering, dat artikel 81 dan nie meer enige doel sal dien nie.

 

Praktiese toepassing.

In die praktyk word artikel 81 op verskillende maniere toegepas — sommige goed, ander minder goed. Ek noem die volgende moontlikhede:
➢ elke afsonderlike ampsdraer se naam word genoem, met die vraag of iemand behoefte het om hom te vermaan;
➢ die ouderlinge en diakens word afsonderlik as groep genoem, met die vraag of iemand behoefte het om een of albei van die groepe te vermaan; dieselfde word gedoen met die predikant;
➢ daar word bloot in die algemeen gevra of iemand behoefte het om iemand anders te vermaan;
➢ die ouderlinge, diakens en predikant word agtereenvolgens uit die vergadering gestuur, waarná geleentheid vir „vriendelike vermaning” gegee word.

Die derde moontlikheid het dié nadeel dat die hele implementering van artikel 81 kan ontaard in ’n niksseggende formaliteit.

|308|

Die vierde moontlikheid moet beslis afgewys word, omdat dit bots met die hele gees en bedoeling van hierdie artikel. Soos eerder gesê is, lê dit in die gees van hierdie artikel dat ampsdraers met mekaar (en dus in mekaar se teenwoordigheid) moet praat, en nie van mekaar (wanneer die „voorwerp” van bespreking afwesig is) nie.

Dit is beslis makliker om agter iemand se rug sekere dinge van hom kwyt te raak, as om hom in die oë te kyk en dan dieselfde dinge vir hom te sê.

 

Waak teen formaliteit.

Ondervinding wat ek in verskeie kerkrade opgedoen het, toon duidelik dat die toepassing van artikel 81 ’n blote formaliteit is waaruit niks konkreets en positiefs voortspruit nie — ’n „geraamte” waaraan geen „vleis” is nie.

Hierdie gevaar bedreig elke kerkraad en elke ampsdraer.

Dit is nou maar eenmaal nie maklik om jou medebroeder(s) in die oë te kyk en hom/hulle dan reguit te vermaan nie ... of dit nou in die gees van die liefde van Christus en in alle vriendelikheid is of nie. Want die vrees lê maar in elkeen se hart dat onderlinge vermanings onderlinge verhoudings kan vertroebel. Hierdie vrees is egter slegs gegrond wanneer daar ’n verkeerde gesindheid skuil agter die toepassing van hierdie artikel — óf by die „vermaner”, óf by dié een wat vermaan word, óf by albei.

En só sneuwel die hele pragtige bedoeling van hierdie artikel!

As ampsdraers werklik begaan is oor hulle medebroeders se geestelike en ewige welsyn, sal hulle aan die „geraamte” van artikel 81 „vleis” gee ... sal hulle hierdie mooi geleentheid gebruik om onder mekaar die Christelike sensuur uit te oefen en mekaar vriendelik te vermaan wanneer nodig.

As artikel 81 slegs ’n formaliteit in kerkraadsvergaderings is, moet dit maar uit ons Kerkorde verdwyn! Want dan dien dit geen doel nie.

Maar as artikel 81 daarteenoor werklik toegepas word soos die bewoording daarvan spreek en die bedoeling daarvan is, sal dit in elke kerkraad ’n ryke oes oplewer. Onderlinge verhoudings sal daardeur nie vertroebel word nie, maar inteendeel gebou word — tot welsyn van kerkraad en gemeente.