|221|

Artikel 55

 

Om die suiwere leer in die gemeente te handhaaf en om die valse leringe en dwalinge te weer, wend die bedienaars van die Woord en die ouderlinge by die uitoefening van hulle onderskeie ampte, by die bediening van die Woord, by die kategetiese onderrig en by die huisbesoek, die middele van lering, weerlegging, waarskuwing en vermaning aan.

 

Handhawing van suiwere leer.

Die handhawing van die suiwere leer, wat in hierdie artikel tereg tuisgebring word onder die dienswerk van predikante en ouderlinge, gaan baie wyer as wat met die eerste oogopslag mag voorkom.

Valse leringe en dwalinge word ook veroorsaak deur geloofsondermynende en sedebederwende lektuur, televisieprogramme, video's en films — dinge wat selfs oor die Internet versprei kan word.

Daarom sal hierdie dinge skerp teengegaan moet word deur predikante en ouderlinge in die uitoefening van hulle dienswerk.

Predikante en ouderlinge sal hulleself op hoogte moet bring van die dinge wat lidmate en hulle kinders lees en waarna hulle kyk op televisie en video's en films.

In Woordbediening, katkisasie en met huisbesoek sal geleer, weerlê, gewaarsku en vermaan moet word om alles wat die suiwere leer en die ware geloof bedreig, aan die kaak te stel en teen te gaan.

 

Nie primêr die taak van meerdere vergaderings nie.

Daar is ’n wye tendens by lidmate, ampsdraers en kerkrade om nie self die bogenoemde euwels teen te gaan en te bestry nie; dit word by wyse van beskrywingspunte „afgeskuif” op die meerdere vergaderings.

Nou is dit wel so dat meerdere vergaderings ook ’n plig in hierdie opsig het as die sake op hul tafel kom. Maar ampsdraers, kerkrade en lidmate sal baie meer moet besef dat die bestryding van alles wat die geloof, die suiwere leer en die Christelike lewenswandel kan bedreig, allereers hul eie verantwoordelikheid is.