|14|

Artikels 4 en 5

 

Artikel 4. 

Die wettige beroeping en toelating van iemand wat nie tevore in die diens van die Woord gestaan het nie en wat deur die klassis waarin hy woonagtig is, voorbereidend (preparatoir) geëksamineer is, bestaan uit:
ten eerste, die verkiesing na voorafgaande gebede, deur die kerkraad en die diakens volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of soos deur die kerkraad vasgestel is en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is;
ten tweede, die ondersoek na die leer en lewe (peremptoir) van die beroepene deur die klassis (waar die beroeping ter goedkeuring voorgelê moet word) wat met advies van die deputate van die partikuliere sinode moet plaasvind;
ten derde, die approbasie en goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk wat daarin bestaan dat daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige beswaar ingedien is nie;
ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente in teenwoordigheid van die klassikale deputate, volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is

Artikel 5. 

Wanneer ’n bedienaar van die Woord van een kerk na ’n ander binne die kerkverband beroep word, geskied dit soos volg:
ten eerste, die verkiesing deur die kerkraad en die diakens na voorafgaande gebede, met onderhouding van die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is en van die algemene ordinansies vir die beroepbaarheid van diegene wat buite die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gedien het en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is
;

|15|

ten tweede, die goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk, as daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige besware ingedien is nie;
ten derde, die kontrolering deur die kerkraad saam met die klassikale deputate van die goeie kerklike getuienis ten opsigte van leer, lewe en ampsbediening en van die losmaking;
ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is

[Opmerking: Die laaste sin in artikel 5, insake die bevestiging, is per abuis in die huidige Kerkordeboekie weggelaat. Kyk Sinode 1964, Handelinge p. 52, punt C, en p. 54/55. Ook Sinode 1994, Handelinge p. 641, 3.5].

 

Wettige beroeping en toelating.

Dit is opmerklik dat artikel 4, soos ook artikel 3, baie sterk nadruk lê op die wettige beroeping en toelating.

Daar kan dus so iets soos onwettige beroeping wees, naamlik wanneer ’n kerk iemand beroep wat nie wettig toegelaat is nie. Dit kom daarop neer dat iemand beroep word wat nie deur Christus geroep is nie.

’n Kerk kan nie sommer enigeen voor die voet beroep nie. Daar moet eers seker gemaak word of dié een wat deur die kerk beroep word, ook werklik deur Christus geroep is vir die diens; die kerk is immers die eiendom van die Here. Daarom is die wettige toelating onontbeerlik; daarsonder is wettige beroeping onmoontlik.

 

Drie eksamens.

Voordat iemand tot die bediening van Woord en Sakramente toegelaat en beroep mag word, is daar drie eksamens wat hy moet aflê:

Die Kandidaatseksamen 

In hierdie eksamen, wat deur die teologiese professore onder toesig van die Kuratorium afgeneem word, word die teologies-wetenskaplike onderlegdheid van die toekomstige bedienaar van die Woord getoets en gefinaliseer.

|16|

Die Voorbereidende eksamen (Preparatoir). 

Hierdie eksamen, met die oog op beroepbaarstelling, is ’n toets van die kandidaat se bekwaamheid en gawes om sy teologies-wetenskaplike kennis in die praktyk toe te pas. 

Die Toelatingseksamen (Peremptoir). 

Hierdie eksamen, met die oog op toelating tot en bevestiging in die amp, is ’n toets van die kandidaat se regsinnigheid in leer en sy vroomheid in lewenswandel.

Volgens artikel 4 word die Voorbereidende en Toelatingseksamens deur 2 verskillende klassisse afgeneem.

Die Sinode van 1967 het hieroor ’n uitvoerige besluit geneem (Handelinge p. 48 e.v.).

Die Sinode van 1970 (Handelinge p. 122 e.v.) het egter besluit om hierdie 2 eksamens één te maak; die partikuliere sinode waar die kandidaat oorspronklik vandaan kom, neem die eksamen af.

Hierdie besluit het nie die beginsel van artikel 4, dat ’n meerdere vergadering die eksamen van voornemende bedienaars van die Woord afneem, verander nie; slegs die toepassing van die beginsel is verander.

(Die belangrike kern van bogenoemde Sinodebesluite, waarin volledige besonderhede van die twee eksamens vervat is, is opgeneem in die Kerkordeboekie; kyk p. 36 e.v.).

Slaag die kandidaat hierdie eksamen voor die partikuliere sinode, onderteken hy die Ondertekeningsformulier vir Proponente (art. 54. Die bewoording van hierdie en ander Ondertekeningsformuliere is in die Kerkordeboekie p. 82 e.v.).

Daarna stel die partikuliere sinode hom beroepbaar en verleen aan hom preekverlof; dit beteken dat hy kan „proponeer” met die oog op ’n beroep.

(Hierdie preekverlof moet nie verwar word met die „spreek van ’n stigtelike woord” deur teologiese studente, wat op p. 8 bespreek is nie.)

|17|

Eksaminering deur klassis

In sommige gevalle mag dit nodig wees dat die klassis waar die kandidaat oorspronklik vandaan kom, hierdie eksamen afneem. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat ’n persoon se Kandidaatseksamen nie betyds vir die sitting van die partikuliere sinode afgehandel kon word nie, om watter rede ook al. Of die partikuliere sinode is nie heeltemal tevrede met die standaard van die kandidaat se kennis en/of preke nie en besluit dat hy aanvullend geëksamineer moet word.

In plaas daarvan om ’n buitengewone partikuliere sinode hiervoor op te roep (wat ingrypende finansiële implikasies het), kan die eksaminering verwys word na die betrokke klassis. Dit staan die klassis natuurlik vry om die hulp van die eksamendeputate van die partikuliere sinode te versoek.

Hierdie optrede tas geen beginsel aan nie; dit is slegs ’n praktiese reëling.

Indien ’n proponent vir langer as 9 maande geen beroep ontvang nie, moet die betrokke meerdere vergadering oordeel of dit nodig is dat die proponent weer geëksamineer moet word (kyk Handelinge Sinode 1970 p. 128).

 

Persone wat elders gestudeer het.

Oor persone wat elders gestudeer het, dit wil sê nie aan die Teologiese Skool van die GKSA nie, en wat begeer om by die GKSA in die diens van die Woord te tree, het die Sinode van 1967 besluit dat hulle hul eers tot die Teologiese Skool moet wend; daar sal dan op die vasgestelde wyse bepaal word of die voornemende kandidaat ’n sertifikaat van aflegging van die Kandidaatseksamen kan ontvang, soos dit vereis word vir die Voorbereidende Eksamen. (Handelinge 1967 p. 52, punt 5. Kyk ook Handelinge Sinode 1979 p. 130 e.v., punt I).

Die besonderhede in elke geval sal bepaal hoe die Kuratorium moet optree. In sekere gevalle sal aanvullende studie en/of eksaminering nodig wees, terwyl in ander gevalle volstaan sal kan word met ’n indringende broederlik gesprek (colloquium doctum).

Nadat ’n sertifikaat van aflegging van die Kandidaatseksamen ontvang is, volg die kandidaat die verdere prosedure soos hierbo beskryf is. In

|18|

geval van ’n persoon wat van die buiteland af kom, behoort die Kuratorium hom te adviseer by watter partikuliere sinode of klassis hy aansoek moet doen vir eksamen met die oog op beroepbaarstelling.

 

Beroepbaarstelling van kandidate en proponente uit erkende Gereformeerde Kerke.

Die Sinode van Middelburg, 1904 (Handelinge p. 37/38, art. 125) het besluit dat waar beroepbaarstelling van kandidate en proponente uit erkende Gereformeerde Kerke oorweeg word, geen eksamen vereis word nie; kerklike getuienis en ’n broederlike onderhoud deur die Kuratorium is wel noodsaaklik.

Tans onderhou die GKSA met die volgende buitelandse Kerke korrespondensie (hulle word dus gereken as „erkende Gereformeerde Kerke”):
➢ Christelijke Gereformeerde Kerken in Nederland.
➢ Christian Reformed Church in North America. (Tans is die bande tussen hierdie Kerk en die GKSA vir alle praktiese doeleindes nie in funksie nie, aangesien die CRC die korrespondensie met die GKSA opgeskort het).
➢ Free Church in Scotland.
➢ Korea Presbyterian Church.
➢ Nederlands Gereformeerde Kerken.
➢ Reformed Churches of Australia.
➢ Reformed Churches of New Zealand.
➢ The Reformed Churches of Japan.

 

Staking van stemme by toelating. 

Wanneer daar ’n staking van stemme is in die meerdere vergadering wat oor toelating tot die bediening van Woord en Sakramente moet besluit, het die Sinode van 1888 besluit dat in hierdie geval staking van stemme beskou moet word as nie-toelating. (Handelinge p. 24, art. 35).

 

Aansoek om eksaminering/beroepbaarstelling.

Aansoek om eksaminering met die oog op beroepbaarstelling word gedoen by die korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie van die betrokke partikuliere sinode of klassis. So ’n aansoek moet vergesel wees van die kandidaatsertifikaat en goeie kerklike getuienis.

|19|

Die eksaminerende vergadering moet hom vergewis van die feit dat die kandidaat die voorneme het om, ná aflegging van die eksamen, ’n wettige beroep te aanvaar (kyk Handelinge Sinode 1967 p. 49 e.v.; vgl. ook Handelinge Sinode 1970 p. 122 e.v.). 

’n Kandidaat wat die Kandidaatseksamen afgelê het en wat nie van voorneme is om die eksamen met die oog op beroepbaarstelling af te lê en ’n beroep te aanvaar nie, moet van sy voorneme behoorlik, en met ’n aanbeveling van die Kuratorium van die Teologiese Skool, rekenskap gee aan die vergadering waar hy eksamen behoort af te lê; hierdie vergadering sal grondig op die versoek ingaan, voor en aleer hy die kandidaat toestemming gee om sy voorneme ten uitvoer te bring. (Sinode 1970, Handelinge p. 128).

 

Die beroeping.

Nadat ’n kandidaat deur die meerdere vergadering beroepbaar gestel is, word hy na ’n bepaalde kerk (gemeente) beroep (art. 4).

Dit is egter ook moontlik dat ’n predikant wat reeds in diens van ’n bepaalde kerk (gemeente) staan, deur ’n ander kerk in die kerkverband beroep kan word (art. 5). Hierdie beroeping van ’n predikant deur ’n ander kerk is slegs moontlik kragtens die eenheid van kerke in Jesus Christus.

Die beroepingsproses begin met „voorafgaande gebede”. Die gebed is noodsaaklik omdat die Here, as Koning van die kerk, Self sy diensknegte roep; Hy gebruik ampsdraers en gemeente slegs as sy instrumente om dié een wat Hy roep, aan te wys.

 

Wie mag beroep word?

Slegs proponente en predikante wat wettig toegelaat is tot die bediening van Woord en Sakramente in die verband van die GKSA, mag beroep word (kyk p. 7 e.v.).

Wanneer ’n predikant van een kerk na ’n ander beroep word, hoef hy nie weer geëksamineer te word nie; die kerke in kerkverband is immers één in belydenis, liturgie en kerkregering.

|20|

Predikante buite die verband van die GKSA mag nie beroep word voordat hulle nie wettig toegelaat (beroepbaar gestel) is kragtens artikel 4 nie.

Die Sinode van 1945 (Handelinge p. 113, art. 89a) het besluit dat dit nie wenslik is dat ’n predikant wat minder as 2 jaar in sy gemeente werksaam is, beroep word nie; die kort bedieningstyd is in stryd met die belange van die gemeente.

Die Sinode van 1879 (Handelinge p. 46, art.133) het besluit dat, indien ’n predikant binne een jaar van ’n gemeente vertrek, die „roepende gemeente” die onkoste wat die ander gemeente oorspronklik aangegaan het om die predikant te verkry, moet vergoed („teruggeven”).

Soms gebeur dit dat ’n predikant vir ’n tweede en selfs derde keer na mekaar deur ’n kerk beroep word. Hoewel daar miskien goeie redes vir so ’n optrede aangevoer kan word, is dit tog nie aanbevelenswaardig nie. ’n Predikant bedank tog nie ’n beroep ligvaardig nie; hy doen dit slegs ná volhardende gebedsworsteling (altans, só behoort dit te wees!). Kerkrade moet egter baie versigtig wees om nie onbehoorlike druk op ’n predikant uit te oefen om ’n beroep op te volg nie.

➢ En predikante mag onder geen omstandighede ín tweede beroep uitlok deur in die brief van bedanking subtiel daarop te sinspeel dat hy ín volgende beroep gunstig sal oorweeg as byvoorbeeld die traktement verhoog kan word nie.

 

Wie beroep: die kerkraad, of die gemeente?

In hierdie twee artikels word bepaal dat die kerkraad (ouderlinge — art.37) en die diakens beroep. Só is dit bepaal in die oorspronklike Dordtse Kerkorde van 1618-1619.

In beginsel is dit God Self wat beroep (kyk p. 15). Hy doen dit deur die lot wat gewerp word (Handelinge 1: 15-26); of Hy gebruik mense as sy instrumente wat sekere persone verkies (Handelinge 6: 5, 14: 23) of aanstel (Titus 1: 5).

As die Kerkorde dan bepaal dat die kerkraad en diakens deur middel van verkiesing beslis wie beroep moet word, tree hulle op as instrumente van God. Hierdie verkiesing vind plaas volgens plaaslike reëling of soos die kerkraad mag besluit.

|21|

Daar bestaan dus in die GKSA geen onbuigsame, afdwingbare stel reëls wat by beroeping gevolg moet word nie. ’n Kworum moet egter teenwoordig wees (kyk by art. 29).

Indien daar by die verkiesing ’n staking van stemme is, word die lot gewerp met plegtige aanroeping van die Naam van die Here, soos die Sinode van 1873 besluit het (Handelinge p. 46, art. 173).

In die lig van Handelinge 1: 23 en 6: 3, 5 (kyk ook art. 31 NGB) is dit beslis noodsaaklik dat die gemeente by hierdie verkiesing betrek word. Kerkraad en gemeente staan nie teenoor mekaar nie. Die gemeente is ook nie onmondig en onbekwaam nie. Per slot van rekening is dit die kerk (gemeente) wat beroep, onder leiding van die kerkraad.

 

Prosedure by verkiesing/beroeping.

Die bepaling van „voorafgaande gebede” in hierdie artikels word weer eens sterk benadruk. Daar moet te alle tye biddend gesoek word na die wil van die Koning van die kerk.

Daar is geen vasgestelde, afdwingbare prosedure by die verkiesing/beroeping van ’n predikant nie; die Kerkorde bepaal dat dit plaasvind volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is. Daar is egter „algemene ordinansies” wat eerbiedig moet word; sommige hiervan is reeds eerder bespreek (o.a. die vraag oor wie beroep mag word; die optrede by staking van stemme; die verhouding kerkraad/gemeente by verkiesing/beroeping, en so meer), terwyl ander hierná behandel sal word.

Waar daar in ’n kerk meer as een bedienaar van die Woord is, lei een van hulle die beroepingsproses as voorsitter; in so ’n geval is die „advies van die klassis of van die konsulent” nie nodig nie.

Waar ’n gemeente egter vakant is, moet die konsulent wat daarvoor deur die klassis aangewys is, as voorsitter optree.

 

Die konsulent.

Die konsulent is ’n predikant wat deur die klassis aangewys word om as voorsitter op te tree wanneer ’n gemeente vakant is. Hy tree ook as voorsitter op wanneer dit vir die predikant van die betrokke gemeente nie moontlik of wenslik is om self as voorsitter op te tree nie; die

|22|

verskillende omstandighede moet deur kerkrade self geïdentifiseer word. Daar moet egter steeds in gedagte gehou word dat ’n predikant nie as voorsitter mag optree wanneer hy self só betrokke is dat objektiwiteit in gevaar kom nie.

’n Kerkraad mag nie sonder medewete en bewilliging van die konsulent ’n ander predikant vra om as voorsitter op te tree nie, behalwe op die voorwaardes soos deur die Sinode van 1907 gestel (kyk bladsy verder op hierdie bladsy).

Die konsulent is geen „lid” van die kerkraadsvergadering waar hy as voorsitter waarneem nie; hy het dus vanselfsprekend ook geen stemreg nie, en word ook nie by die kworum gereken nie.

By staking van stemme het die konsulent (en enige voorsitter) geen beslissende stem nie (Sinode 1910, Handelinge p. 68, art. 176).

Die Sinode van 1952 (Handelinge p. 297, art. 134/218) het bepaalde besluite geneem insake die werk van ’n konsulent. Die belangrikste hiervan is die volgende:
➢ die opdrag van die konsulent sluit volgens Kerkorde nie vanself bediening van Woord en Sakramente in nie;
➢ die vakante gemeente moet reëlings tref met die konsulent en sy kerkraad vir tydelike bediening;
➢ vir hierdie tydelike bediening moet „traktement” (lees: „vergoeding”) gegee word vir die vervoer sowel as vir die tydelike ampswerk.

Op die vraag of ’n kerkraad mag weier om die benoeming van sy predikant as konsulent te aanvaar, het die Sinode van 1949 besluit dat dit ’n saak van die betrokke klassis is (Handelinge p. 274, art. 141).

Is die vergadering van ’n kerkraad met diakens sonder konsulent ’n wettige vergadering?

Hierop het die Sinode van 1907 besluit dat so ’n vergadering wel wettig is, maar op die volgende voorwaardes:
➢ die saak wat behandel moet word, kan nie uitgestel word nie;
➢ so ’n saak moet in oorleg met („op instructie van”) die konsulent afgehandel word;

|23|

➢ op die volgende vergadering moet verslag gedoen word van wat verhandel of besluit is (Handelinge p. 36, art. 113).

 

Advies deur klassis/konsulent.

In hierdie artikels word bepaal dat die klassis of die aangewese konsulent „advies” moet gee by beroeping. Dit beteken dat die klassis uit krag van kerkverband belang het by die beroeping van ’n predikant in sy ressort. Daar moet onder andere toegesien word dat die beroep uitgebring word volgens die goeie orde en „met onderhouding van die ... algemene ordinansies vir die beroepbaarheid van diegene wat buite die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gedien het ...” (art. 5).

Hierdie advies mag onder geen omstandighede die selfstandigheid of die vryheid van die vakante gemeente inkort nie; ook lê dit nie op die weg van die konsulent om die gemeente te beïnvloed wie om te beroep nie.

Die doel van hierdie advies is slegs om die vakante kerk te help.

As voorbeelde van moontlike advies, kan die volgende genoem word:
➢ advies dat ’n sekere persoon wat genomineer is, nie beroepbaar is nie (bv. ’n voormalige predikant; ’n predikant wat weens swak gesondheid geëmeriteer het; ’n kandidaat wat nog nie die eksamen tot beroepbaarstelling suksesvol afgelê het nie; ’n predikant buite die verband van die GKSA; ’n predikant wat om een of ander rede nie geskik sal wees vir daardie betrokke gemeente nie; ’n predikant wat nog nie ’n volle jaar in die gemeente is waar hy op daardie tydstip dien nie, ens.);
➢ advies vir die korrekte opstelling en ondertekening van die beroepsbrief sowel as die begeleidende brief, waarin die verskillende fasette van die versorging uiteengesit word (vir konsepvorms, kyk Sinode 1985, Handelinge p. 557-9). Met betrekking tot emeritaatsversorging, deug die bewoording in genoemde Handelinge nie meer nie, omdat daar in 1994 oorgeskakel is na ’n pensioenfonds. Die Sinode van 1997 het ’n nuwe bewoording goedgekeur, wat in die Handelinge op p. 233 onder punte 4.6.1. en 4.6.2. weergegee word.
➢ advies met betrekking tot die prosedure by beroeping.

|24|

Verskillende metodes by verkiesing/beroeping.

Daar kan verskillende metodes gevolg word by die verkiesing/beroeping van ’n predikant; die metode wat na my mening die maklikste en mees logiese is, word hier bespreek.

Die kerkraad en diakens vra die gemeente om nominasies ... om naamlik die name van predikante wat oorweeg behoort te word, skriftelik vóór ’n sekere datum by die skriba in te handig, sodat ’n groslys saamgestel kan word. Die kerkraad en diakens kan sekere beperkings stel, met die uitdruklike veronderstelling dat die leiding van die Heilige Gees op geen enkele wyse deur sulke beperkings in gedrang kom nie.

Vir die finalisering van die groslys, mag die kerkraad en diakens self ook name byvoeg.

Onder leiding van die voorsitter (die konsulent indien daar nie nog een of meer predikante in die gemeente is nie) word hierdie finale groslys deur die kerkraad en diakens deeglik bespreek, in die lig van die spesifieke behoeftes van die gemeente.

Daarna word oorgegaan tot stemming om ’n dubbeltal of drietal te bepaal.

 

Die verkiesing (stemming).

Normaalweg word daar oor sake gestem deur opsteek van hande; wanneer daar egter oor persone gestem word, geskied dit deur middel van geslote stembriewe.

’n Beginsel wat by alle gevalle waar gestem word in ag geneem moet word, is dat die uitslag by wyse van ’n volstrekte meerderheid bepaal word.

Volstrekte meerderheid beteken eenvoudig dat dié persoon wat verkies word, meer as die helfte van die uitgebragte stemme op hom moet verenig; anders gestel: die verkose persoon se stemtotaal moet meer wees as al die ander bymekaar.

Waar daar tussen twee persone gestem moet word, is ’n volstrekte meerderheid die helfte plus een. By ’n ewe getal, bv. 6, is dit maklik: die helfte (3) plus 1 = 4. By ’n onewe getal, bv. 7, word 1 by

|25|

die totaal getel (dus 8); ’n volstrekte meerderheid is dan die helfte van 8 = 4. 

In die geval van ’n dubbeltal is ’n gewone meerderheid (die helfte plus een) vanself ’n volstrekte meerderheid. Daarom is dit altyd wenslik om ’n dubbeltal aan die gemeente voor te lê, omdat die uitslag van die stemming dadelik bepaalbaar is sonder ingewikkelde „rekenkunde”.

By wyse van eliminasie (uitskakeling van sekere name) word die groslys verkort. Eliminasie kan op verskillende maniere gedoen word; daar moet egter gewaak word dat name nie wederregtelik van die groslys verwyder word nie.

Die volgende situasie is ’n voorbeeld van regverdige eliminasie:

Daar is 54 stemgeregtigdes in die vergadering. ’n Volstrekte meerderheid in hierdie geval is die helfte van 54 (27) plus 1 = 28; die groslys bestaan uit 8 name; ná die eerste ronde stemming lyk die prentjie só: A:14 stemme, B:12, C:8, D:7, E:6, F:3, G:3 en H:1 stem. A, wat die meeste stemme op hom verenig het, het nog geen volstrekte meerderheid nie. Daar moet dus nou oorgegaan word tot eliminasie. F, G en H se stemme bymekaar getel (7) is nie meer as die totaal van B, wat 2e meeste het nie; hulle word dus geëlimineer.

In die tweede ronde word daar dus gestem tussen A, B, C, D en E. Ná hierdie stemming is die posisie só: A:20 stemme, B:14, C:8, D:7 en E:5 stemme. A het nog steeds geen volstrekte meerderheid nie en daar moet verder geëlimineer word. D en E se stemme bymekaar (12) is nie meer as die totaal van B nie; hulle word dus nou geëlimineer.

Nou word daar gestem tussen A, B en C. Hierdie ronde lewer wel ’n volstrekte meerderheid: A het 29 stemme, B:16 en C:9 stemme. A is dus verkies as eerste lid van die dubbeltal; vir die tweede lid van die dubbeltal moet daar tussen B en C uitgestem word. Indien die kerkraad en diakens besluit om ’n drietal aan die gemeente voor te lê, sal dit A, B en C wees.

’n Alternatiewe wyse van stemming is dat daar vir elkeen van die 8 persone op die groslys afsonderlik, in alfabetiese volgorde, gestem kan word; dan sal eliminasie waarskynlik op ’n „natuurliker” wyse plaasvind. In so ’n geval sal die vergadering vooraf moet bepaal of daar ’n

|26|

dubbeltal of ’n drietal aan die gemeente voorgehou sal word; want met ’n dubbeltal het elke stemgeregtigde 2 stemme (hy kan vir 2 persone stem), en met ’n drietal het elkeen 3 stemme. Hierdie metode kan egter meer as 2 of 3 kandidate oplewer wat volstrekte meerderhede behaal. Byvoorbeeld: in geval van ’n dubbeltal is daar 54×2 geldige stemme (108); die volstrekte meerderheid bly egter 28. A kry 40 stemme, B:30, C:28, D:4, E:2, F:1, G:1 en H:2. Volstrekte meerderhede is dus behaal deur A, B en C. Dieselfde kan gebeur by ’n drietal. In sulke gevalle word dié 2 of 3 aangewys wat die meeste stemme op hulle verenig het (in die geval van die voorbeeld dus: A en B. Indien B en C egter albei bv. 28 stemme behaal, hoef daar nie geloot te word nie; daar word eenvoudig tussen dié twee uitgestem).

In uitsonderlike gevalle mag daar slegs één naam aan die gemeente voorgelê word, sodat die gemeente vir of teen hom kan stem. (’n Voorbeeld van so ’n geval wat werklik plaasgevind het, was toe die konsulent die Sondagoggend toe beroep sou word, berig ontvang het dat een van die twee persone wat op die dubbeltal aangewys is, reeds ’n ander beroep aanvaar het).

Aangesien Christus Self in absolute sin dié Een is wat sy dienaars roep en aanwys, maar tog van mense as sy werktuie gebruik maak, is dit nie ordelik en aanvaarbaar dat iemand in ’n kerklike vergadering buite stemming bly nie — behalwe in hoogs uitsonderlike gevalle; en dan slegs met toestemming van die vergadering.

Elke ouderling en diaken is ampshalwe verplig om sy stem uit te bring, omdat hy ’n geroepene van die Here is wat namens Hom optree.

Dit sal dus ongewoon wees as daar in die proses van stemming blanko stembriewe te voorskyn kom. Indien dit wel sou gebeur, word sulke stembriewe glad nie by die aantal geldige stemme getel nie ... nie by die meerderheid nie, en ook nie by die minderheid nie.

Indien die aantal blanko stembriewe só hoog is dat dit die wettigheid van die verkiesing in gedrang sou bring, moet daar ’n dringende beroep gedoen word dat almal moet stem; die oorsaak waarom sommige buite stemming bly, moet uit die weg geruim word, selfs al sou dit beteken dat die verkiesing uitgestel moet word.

|27|

Gestel byvoorbeeld dat daar 20 stemgeregtigdes in die vergadering is en daar moet tussen twee persone gestem word; 8 stem vir hom, 5 stem teen hom en 7 bly buite stemming (7 blanko stembriewe). ’n Volstrekte meerderheid is die helfte van 20 (10) plus 1 = 11. Daar is dus geen volstrekte meerderheid nie; dit is ook onwaarskynlik dat ’n volstrekte meerderheid verkry sal word voordat die 7 wat buite stemming gebly het, nie ook hul stemme uitbring nie (vir buite stemming bly, kyk p. 138).

Indien daar steeds ’n kworum (kyk by art. 29, p. 124) sou wees sonder die 7 wat buite stemming gebly het, mag die vergadering besluit dat daar wel ’n volstrekte meerderheid sonder die 7 blanko stembriewe verkry is; want die praktiese effek daarvan sou dieselfde wees as wanneer die 7 afwesig was. Die ideale toestand is egter dat alle teenwoordiges hul stemme uitbring.

 

Verkiesing deur gemeente.

Nadat die kerkraad en diakens ’n dubbel- of drietal vasgestel het, word dit aan die gemeente voorgelê om daaroor te stem; alle belydende lidmate, mans en vroue, wat nie onder sensuur is nie, mag stem. Dit is wenslik dat die dubbel- of drietal ’n Sondag vóór die verkiesing aan die gemeente bekendgemaak word vir kennisname en moontlike kommentaar, soos die kerkraad en diakens ook al mag besluit. Kerkrade moet egter op hul hoede wees om nie deur persoonlike voorkeure van enkele lidmate op sleeptou geneem en geveto te word nie!

Indien daar, tydens die verkiesingsvergadering, deur lidmate verandering van of byvoeging by die voorgelegde name voorgestel word, moet daar korrek opgetree word: as daar, soos in die vorige paragraaf gesê is, reeds geleentheid was vir kommentaar, moet die voorsitter so ’n voorstel ferm buite orde reël en met die verkiesing voortgaan.

Indien daar nie geleentheid was vir vooraf kennisname en kommentaar nie, moet so ’n voorstel liewer nie in die volle vergadering saam met die gemeente bespreek word nie. Die vergadering moet verdaag word sodat die kerkraad en diakens geleentheid kan kry vir ’n kort buitengewone vergadering om die name te heroorweeg. Wat daarná aan die gemeente voorgelê word, moet deur die voorsitter met beslistheid gehandhaaf word.

|28|

Hier moet weer benadruk word dat daar in elke stemming, deur die kerkraad en diakens sowel as deur die gemeente, met geslote stembriewe gestem moet word en nie deur opsteek van hande nie.

By die stemming deur die gemeente word die volstrekte meerderheid bepaal volgens die aantal uitgebragte stemme (kyk p. 24).

By staking van stemme kan oorgestem word; indien daar weer ’n staking van stemme is, moet met plegtige aanroeping van die Naam van die Here geloot word (kyk p. 21).

(’n Interessante voorbeeld van hoe ’n konsulent nie mag optree nie, is die volgende: by die vergadering van kerkraad en diakens om ’n dubbeltal te stel, was daar twee lede te min vir ’n kworum. Die konsulent het egter ’n oplossing gehad: hyself is daar met gewone stem asook beslissende stem; dit tel dus vir die twee ontbrekende lede om ’n kworum te kry!).

 

Die beroep.

Nadat die uitslag van die stemming deur die gemeente bekend is, besluit die kerkraad en diakens om dié predikant te beroep wat deur die meerderheid van stemme aangewys is.

Hoewel in hierdie artikels bepaal word dat dit „die kerkraad en die diakens” is wat beroep (terwyl die gemeente glad nie genoem word nie), beteken dit egter nie dat die kerkraad en diakens ’n ander predikant kan beroep as dié een wat die meeste stemme op hom verenig het nie.

So ’n optrede sal totaal onwenslik en heeltemal onhoudbaar wees; dit sal beslis nie die belang van die gemeente dien nie.

Om die meerderheidsbegeerte van die gemeente, wat deur middel van stemming kenbaar geword het, te ignoreer, kom daarop neer dat die gemeente onmondig en onbekwaam geag word; dit sou ook beteken dat kerkraad/diakens en gemeente teenoor mekaar gestel word ... iets wat ontoelaatbaar is. Per slot van rekening is dit die kerk (gemeente) wat beroep, onder leiding van die kerkraad (kyk p. 21).

Daarbenewens is so ’n eensydige optrede deur die kerkraad en diakens ook ’n „mosie van wantroue” wat hulle in hulself stel; hulle het immers self besluit watter dubbeltal of drietal aan die gemeente voorgelê sal

|29|

word; daarmee het hulle self te kenne gegee dat enigeen van die twee- of drietal aanvaarbaar en beroepbaar is.

 

Beroeping van teologiese professore.

Vir die doel van hierdie boek ag ek dit nie nodig om die prosedure by beroeping van teologiese professore uiteen te sit nie; ouderlinge, diakens, lidmate en meeste predikante het immers geen direkte belang daarby nie. 

Die prosedure vir die beroeping van teologiese professore word volledig uiteengesit in die sogenaamde „Teologiese Skoolboekie”, verkrygbaar by die Registrateur van die Teologiese Skool te Potchefstroom.

In hierdie Boekie is alle Sinodebesluite rakende die Teologiese Skool opgeneem en verwerk.

Interessantheidshalwe kan net genoem word dat die liggaam wat teologiese professore beroep, eers genoem is die „Kieskollege”; daarná is die naam verander na „Beroepingsvergadering”; uiteindelik het die Sinode van 1994 (Handelinge p. 650, 3.2) die naam verander na „Breë Kuratorium”.

 

Kombinasie-beroepe.

Wanneer ’n gemeente nie finansieel in staat is om alleen ’n predikant te versorg nie, versoek hy een of meer ander naburige gemeentes om met hom in kombinasie te tree, sodat hulle gesamentlik ’n predikant kan bekom. Soms word ’n kombinasie ook gevorm deur ’n paar gemeentes om gesamentlik ’n predikant te beroep vir sending en/of evangelisasie.

So ’n kombinasie-vorming moet egter ordelik gereël word; die besonderhede daarvan moet in ’n kombinasie-akte, opgestel deur die betrokke kerkrade en goedgekeur deur die klassis, gestipuleer word. Aangesien toestande soms baie kan verskil, is dit moeilik om ’n eenvormige kombinasie-akte vas te stel wat vir alle gevalle moet geld; elke besondere kombinasie moet volgens eie omstandighede gereël word.

Die Sinode van 1939 (Handelinge p. 34 e.v., art. 43-45; p. 222, art. 175) het bepaalde riglyne neergelê; dit is opgeneem in die Kerkordeboekie, p. 41 e.v. (Hou egter in gedagte dat dit slegs riglyne is, wat aangepas kan word volgens plaaslike omstandighede). By c.: „Die

|30|

byvoegsel by die beroepsbrief”, artikel 7(b) insake die afvaardiging na meerdere vergaderings, het die Sinodes van 1958 (Handelinge p. 135, art. 71) en 1970 (Handelinge p. 120 e.v., art. 60) besluit dat waar die predikant verbonde is aan kombinasiegemeentes wat selfs onder verskillende klassisse ressorteer, hy ook om die beurt deur die verskillende kerkrade afgevaardig kan word.

Kombinasie-aktes moet baie duidelike stipulasies bevat wat nie vatbaar is vir meer as een interpretasie nie; in die praktyk kan sulke „dubbelsinnige” bepalings baie ongelukkigheid en onsmaaklikheid meebring. Veral moet, waar dit gaan om die beëindiging van die kombinasie en aan watter gemeente die predikant by beëindiging van kombinasie verbonde bly, praktiese en maklik uitvoerbare bepalings neergelê word.

Ek noem die volgende:
➢ In elke kombinasie-akte moet ’n artikel ingebou word wat bepaal dat die kombinasie slegs met instemming van al die betrokke gemeentes sowel as die klassis(se) beëindig mag word. Dit is om te voorkom dat die oorblywende gemeente(s) in finansiële probleme beland.
➢ Daar moet duidelik gestipuleer word aan watter gemeente die predikant verbonde sal bly wanneer die kombinasie beëindig word.

Soms gebeur dit dat in een of ander kombinasie-akte bepaal word dat die predikant aan dié gemeente verbind sal bly wat aansoek gedoen het om uit die kombinasie te tree of dit te beëindig. Indien dit die gemeente is waar die predikant woon en waar sy en sy gesin se attestasies is, sal dit nie praktiese probleme meebring nie; hy bly dus eenvoudig waar hy tydens die duur van die kombinasie gewoon het; al wat verander, is dat een van die gemeentes uit die kombinasie tree en dat hy gewoon predikant van die oorblywende gemeente(s) bly. ’n Formele losmakingsprosedure volgens artikel 10 is in so ’n geval nie nodig nie, aangesien die klassis alreeds toestemming tot wysiging of beëindiging van die kombinasie gegee het (kyk argument in vorige paragraaf). ’n Afskeidspreek deur die predikant, met wat gewoonlik daarmee saamgaan, kan in die uittredende gemeente gelewer word.

Indien die gemeente wat aansoek gedoen het om uit die kombinasie te tree of dit te beëindig, ’n ander gemeente is as dié waar die predikant woon en waar sy attestasie is, ontstaan daar onnodige komplikasies.

|31|

Dan moet daar besluit word of dié betrokke gemeente die predikant op die gewone wyse moet beroep (art. 5); of hy op die gewone wyse losgemaak moet word van die ander gemeente(s) in die kombinasie (art. 10); of hy weer in die gemeente waaraan hy kragtens die kombinasie-akte verbonde bly, bevestig moet word (art. 5), en so meer.

Ek gaan nie antwoorde gee op die bogenoemde probleme nie. Dit moet maar volgens elke geval se omstandighede beoordeel word.

Ek beklemtoon slegs dat dit onnodige probleme is wat maklik voorkom kan word!

Indien ’n gemeente wat uit die kombinasie tree of versoek dat die kombinasie beëindig moet word, die predikant vir homself begeer, word die predikant op die gewone wyse (art. 5) beroep.

 

Verdere optrede met betrekking tot beroep.

Nadat die gemeente besluit het wie beroep moet word, hanteer die kerkraad (ouderlinge) en die diakens verder alle handelinge wat daaruit voortspruit.

Die volgende is hier van belang:
➢ die vasstelling van ’n datum waarop die beroepe predikant se antwoord verwag word;
➢ die afronding en ondertekening van die beroepsbrief met begeleidende brief (die sogenaamde „byvoegsel”);
➢ die mededeling van die beroep aan die predikant wat beroep is;
➢ die afkondiging van die beroep vir minstens 3 Sondae.

Die oorhandiging, of versending van die beroepsbrief met begeleidende brief (per versekerde pos), behoort na my mening (teen die heersende gebruik in) oor te staan tot ná die goedkeuring van die beroep deur die lidmate oor ’n periode van 3 Sondae. Anders word die indruk geskep dat die kerkraad en diakens die goedkeuring van die beroep deur die lidmate as ’n blote formaliteit beskou ... ’n totaal onhoudbare situasie!

 

Die beroepsbrief.

Die beroepsbrief met begeleidende brief moet met groot noukeurigheid opgestel en onderteken word, aangesien dit krag van kontrak het. (Vir

|32|

konsepvorms, kyk Sinode 1985, Handelinge p. 557-9; kyk ook p. 23 hiervan).

 

Goedkeuring (approbasie) van beroep.

’n Opmerklike bewoording in artikel 4 (wat nie in art. 5 voorkom nie) is dat daar gepraat word van „die approbasie en goedkeuring” (my kursivering, J.V.) deur die lidmate.

„Approbasie” en „goedkeuring” is woorde met presies dieselfde betekenis.

In die oorspronklike Kerkorde van Dordrecht, 1618-19, was die bewoording soos volg: „Ten derde, in de Approbatie, ende goet-kenninghe van de Overheyt, ende daer nae oock van de lidtmaten der Ghereformeerde Gemeente ...”. (Oorspronklike kursivering, J.V.).

Dit is onverstaanbaar dat hierdie toutologiese woordgebruik in artikel 4 nie lank reeds gekorrigeer is nie.

Die naam van die beroepe proponent/predikant moet vir minstens 3 agtereenvolgende Sondae in die gemeente afgekondig word.

Indien daar gedurende hierdie periode geen beswaar ingebring word nie, word dit aanvaar as stilswyende goedkeuring deur die lidmate.

Indien een of meer lidmate wel beswaar wil indien, moet dit skriftelik en goed gemotiveerd vóór ’n vasgestelde keerdatum (verkieslik so gou moontlik ná die derde afkondiging) by die skriba van die kerkraad ingedien word, waarná die kerkraad en die diakens die beswaar (besware) met groot erns en verantwoordelikheid moet beoordeel.

Dit kan naamlik gebeur dat daar, ondanks noukeurige reëlings en toesig deur die kerkraad, tog onreëlmatighede met die verkiesing plaasgevind het. Of daar kon ná die verkiesing informasie bekend geword het wat bedenkinge ten opsigte van die beroepene se leer en/of lewe en/of ampsgawes laat ontstaan het; dit sou beslis onwenslik wees om met die beroep voort te gaan voordat sulke besware nie deurtastend ondersoek is nie.

In elke afsonderlike geval sal uitgemaak moet word of die besware van so ’n aard is dat dit slegs deur die kerkraad (ouderlinge — art. 37) of deur die kerkraad en die diakens behandel moet word. Handhawing van

|33|

die beswaar beteken dat die beroep nietig verklaar word. Die gemeente en die beroepe predikant (indien hy reeds kennis dra van die beroep, kyk p. 32) moet só ingelig word.

Met ’n beroep op ’n (nie-bestaande) besluit van die Sinode van 1964 word soms beweer dat die klassis, deur middel van ’n classis contracta, wat saamgestel word uit afgevaardigdes van twee naburige kerkrade, ook die beroep moet goedkeur; hierdie classis contracta moet ook alle besware wat ingedien word, behandel.

(Die term classis contracta beteken letterlik ’n „saamgetrokke” klassis; dus: ’n verkleinde klassis).

Benewens die feit dat daar nie so ’n besluit deur die Sinode van 1964 geneem is nie, is so ’n argumentasie vir my aanvoeling ook nie Gereformeerd nie. Dit adem inteendeel ’n sterk kollegialisties/presbiteriaanse gees. Waarom sou die plaaslike kerkraad verbygegaan moet word in so ’n handeling?

Dit is éérs die goedkeuring van die beroep deur die lidmate („ten derde” in art. 4 en „ten tweede” in art. 5); daarná kom die classis contracta in funksie, volgens „ten laaste” in artikel 4 en „ten derde” in artikel 5.

Dat die klassis wel deeglik belang het by die leer, lewe, ampsbediening en bewys van ordelike losmaking van ’n beroepene, staan vas. Die „kontrolering” wat egter in artikel 5 aan „die klassikale deputate” (classis contracta) opgedra word, moet egter nooit gesien word as ’n vervanging van die plig tot goedkeuring van ’n beroep deur die lidmate nie, maar slegs as ’n bykomende handeling.

 

Die kontrolering van vereiste dokumente.

Voordat bevestiging mag plaasvind, moet die kerkraad eers reël vir die oproep van ’n classis contracta.

So ’n classis contracta word saamgestel uit 2 afgevaardigdes van elkeen van 2 naburige kerkrade, gewoonlik die predikant en een ouderling, plus die konsulent. (Indien een van die naburige gemeentes vakant is of nie ’n eie voltydse predikant het nie, kan ook 2 ouderlinge afgevaardig word).

|34|

Hierdie afgevaardigdes van die naburige kerkrade moet met geloofsbriewe aanmeld by die kerkraad waar die bevestiging plaasvind, as bewys dat hulle wettig deur die betrokke kerkrade afgevaardig is, en dus die kerkrade verteenwoordig. Sonder geloofsbriewe kan die classis contracta nie saamgestel (gekonstitueer) word nie! Die konsulent/voorsitter sal hierop baie noukeurig moet let.

Die classis contracta moet nagaan of al die vereiste dokumente beskikbaar en in orde is en of die beroep en die antwoord op die beroep korrek afgehandel is. Ook moet hulle toesien dat die bevestiging ordelik verloop volgens die vasgestelde Formulier en ander aanvaarde prosedures.

Die classis contracta moet ook aan die korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie van die klassis kennis gee van die afloop van die verrigtinge. (Vir konsepkennisgewing, kyk Handelinge Sinode 1985 p. 559, 3.3).

Die reiskoste van hierdie afgevaardigdes na die classis contracta word gedra deur die gemeente wat beroep het.

 

Die vereiste dokumente.

In geval van ’n proponent:
➢ Sertifikaat van suksesvolle aflegging van die Voorbereidende en Toelatingseksamen en beroepbaarstelling.
➢ Beroepsbrief.
➢ Antwoord op beroep.
➢ Lidmaat-attestasie.

In geval van ’n dienende predikant:
➢ Beroepsbrief.
➢ Antwoord op beroep.
➢ Akte van losmaking van vorige gemeente. (Vir konsep, kyk Handelinge Sinode 1985, p. 559, 3.4).
➢ Goeie kerklike getuienis van ampsbediening in vorige gemeente. (In die ou konsepakte van losmaking agter in die huidige Kerkordeboekie was hierdie getuienis inbegrepe, maar in die nuwe konsep sedert Sinode 1985 ontbreek dit; die losmakende kerkraad sal hierdie getuienis dus bykomend moet verskaf. Aangesien ons hier egter te doen het met konsepvorms en nie met vorms waarvan die gebruik

|35|

verpligtend en afdwingbaar is nie, kan kerkrade nog steeds van die ou konsep gebruik maak, of die nuwe konsep aanpas en/of aanvul.)
➢ Lidmaat-attestasie.

 

Die bevestiging.

Die amp kleef nooit aan die persoon wat geroep is nie; ’n predikant is ook nie predikant van die „kerkverband” nie. Die roeping gaan van die plaaslike kerk uit, en daarom moet ’n predikant wat van een gemeente na ’n ander verhuis nadat ’n beroep aanvaar is, opnuut weer bevestig word.

Die bevestiging is die openlike verbintenis van die proponent/predikant aan die gemeente, sowel as sy openlike diensaanvaarding in die gemeente. Dit vind plaas in ’n erediens „volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.” (Vir Formulier, kyk Sinode 1985, Handelinge p. 361, punt 13).

Aangesien die bevestiging in ’n gemeente ook die breëre kerkverband aangaan, moet dit plaasvind „in teenwoordigheid van die klassikale deputate”. Hierdie deputate van die klassis is in wese ’n classis contracta (kyk p. 33 hiervan).

 

Die handoplegging.

Wanneer ’n proponent bevestig word, lê die predikant wat die leiding neem in die bevestiging, sy regterhand op die hoof van die proponent, terwyl hy ’n kort gebed (as deel van die Formulier) uitspreek. Ander predikante wat teenwoordig is, neem gewoonlik deel aan hierdie handoplegging deur almal saam hul regterhande op die hoof van die proponent te lê. Sorg moet egter gedra word dat hierdie plegtige handeling nie onordelik verloop nie.

Die doel van hierdie handoplegging is ’n simboliese handeling waardeur die proponent openlik afgesonder word tot die diens van Gods Woord en waardeur erken word dat die Heilige Gees aan hom die gawes verleen het wat hy nodig het vir sy dienswerk.

Indien hierdie handeling aanleiding gee tot bygelowigheid, moet dit liewer nagelaat word.

|36|

Die Ondertekeningsformulier.

In artikels 53 en 54 KO word bepaal dat alle predikante, teologiese professore, proponente, ouderlinge en diakens die „drie Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht 1618-19” moet „onderskryf en onderteken”. Dié wat weier om dit te doen, moet metterdaad in hul diens geskors word; by hardnekkige weiering, moet hulle heeltemal uit hulle diens afgesit word.

Uit die bewoording en streng bepaling van hierdie artikels word dit duidelik dat dit hier nie slegs gaan om ’n mooi formaliteit nie, maar inderdaad om ’n uiters belangrike en onmisbare element in die dienswerk van ampsdraers.

Die Ondertekeningsformuliere vir predikante, proponente, ouderlinge en diakens verskyn op p. 82 e.v. van die Kerkordeboekie; dié vir die teologiese professore verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1988 op p. 409 (punt 2.5).

Uit die inhoud daarvan word dit duidelik dat elkeen wat hierdie Ondertekeningsformulier(e) „onderskryf en onderteken”, homself met sy handtekening verbind om die suiwere leer te handhaaf, te bevorder en te verdedig; om niks daarteen, openlik of in die geheim, direk of indirek, te leer of te skrywe nie; en om die dwaalleringe wat teen die suiwere leer stry, te verwerp, te weerlê, te weerspreek en alles te doen om hulle uit die kerk te weer.

Die ondertekening van hierdie Formuliere behoort direk ná die bevestiging in teenwoordigheid van die hele gemeente plaas te vind; die gemeente het immers die allernouste belang by die onderneming van elke ampsdraer dat hy die suiwere leer sal handhaaf en verdedig en die dwaalleer sal beveg en uit die kerk sal weer (kyk Sinode 1985, Handelinge p. 422, punt 4.5.4).

 

Beroepbaarstelling van voormalige predikante.

Wanneer ’n voormalige predikant, wat óf sy amp eiewillig neergelê het, óf kragtens artikel 12 KO tot ’n ander staat van die lewe oorgegaan het, óf kragtens artikels 79-80 KO uit die amp afgesit is, weer geroepe voel om tot die bediening van die Woord terug te keer, kan dit slegs kragtens artikel 4 KO plaasvind.

|37|

Die prosedure wat hier gevolg moet word, is deur die Sinode van 1973 vasgestel (kyk Handelinge p. 317-318, 3.2.2.).

In kort kom dit hierop neer:
➢ So ’n voormalige predikant moet eers die oordeel en aanbeveling kry van die kerk (gemeente) waar hy lidmaat is.
➢ Dan doen hy by die kerk en klassis waar hy uit die amp is aansoek om ’n aanbeveling.
➢ Daarna doen hy by die partikuliere sinode (in wie se ressort laasgenoemde kerk en klassis is) aansoek om beroepbaarstelling.

 

Gesamentlike dienste.

In hierdie onderafdeling gaan dit nie om gesamentlike dienste van twee of meer Gereformeerde gemeentes nie.

Dit gaan om gesamentlike dienste tussen bv. ’n Gereformeerde gemeente en een of meer nie-Gereformeerde gemeentes ... iets wat soms voorkom op die sogenaamde Christelike feesdae.

Indien so ’n gesamentlike diens gelei word deur ’n Gereformeerde predikant, onder toesig van ’n Gereformeerde kerkraad, kan daarteen seker geen beswaar ingebring word nie.

Sodra so ’n diens egter gelei word deur ’n nie-Gereformeerde predikant, onder toesig van ’n nie-Gereformeerde kerkraad, ontstaan daar talle probleme.

Al is daar sommige predikante in nie-Gereformeerde kerke wat in hul prediking baie suiwer is, is die tragiese feit egter dat die GKSA nie met ander, nie-Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, één is in belydenishandhawing en belydenisuitlewing en belydenisbinding, in liturgie en in kerkregering nie.

Daarom is dit bedenklik dat ’n Gereformeerde kerkraad sy lidmate in die posisie plaas dat hulle onder onsuiwere prediking kan kom, bloot net ter wille van ’n demonstratiewe eenheid, wat in wese geen eenheid is nie!

Verder: selfs al sou ’n nie-Gereformeerde predikant die Woord bedien onder toesig van ’n Gereformeerde kerkraad, los dit die probleem nog nie op nie. ’n Gereformeerde kerkraad het nóg die reg, nóg die

|38|

bevoegdheid om toesig te hou en/of leertug toe te pas oor ’n nie-Gereformeerde predikant.

In artikel 3 KO word wettige roeping en toelating vereis voordat iemand toegelaat mag word tot die bediening van die Woord in ’n Gereformeerde kerk. Artikel 9 KO bepaal watter prosedure gevolg moet word voordat predikers uit ander (nie-Gereformeerde) kerke tot die „kerkdiens” toegelaat mag word ... selfs al is dit slegs by één geleentheid. Kyk ook wat op p. 11 e.v. gesê is oor kanselruil.

Dit is steeds vir my ’n ernstige vraag waarom daar slegs by sekere geleenthede sulke gesamentlike dienste gereël word; waarom dan nie elke Sondag nie? Is dit dalk omdat kerkrade wat daarby betrokke is, deeglik daarvan bewus is dat daar, hoe jammer ook al, geen ware eenheid is tussen Gereformeerde en nie-Gereformeerde kerke nie?

Is dit heeltemal eerlik om so ’n skyn van „eenheid” te wek?

Sulke gesamentlike dienste moet die vrug van kerkeenheid wees, en nooit pogings tot kerkeenheid nie.