|1|

Artikel 1 

 

Om goeie orde in die kerk van Christus te onderhou, is daarin nodig: die dienste, samekomste, toesig oor die leer, sakramente en seremonies en die kerklike tug, waaroor hierna agtereenvolgens gehandel word.

 

Die betekenis en belangrikheid van die Kerkorde.

In hierdie artikel moet daarop gelet word dat gepraat word van die onderhouding van „goeie orde in die kerk van Christus”.

Die Kerkorde is dus nie ’n wet wat van bo-af op die plaaslike kerke en mindere vergaderings afgedwing word nie. Dit gaan om die onderhouding of handhawing van die „goeie orde”; want in die kerk van Christus moet alles ordelik geskied en verloop (kyk NGB art. 30, 32).

Die Kerkorde moet ook gehandhaaf en toegepas word. Dit is onjuis om te beweer dat die Kerkorde slegs ’n riglyn is, en dat elkeen dus daarmee kan doen soos goed gedink word. (Let op die woord „nodig” in hierdie artikel).

Die Kerkorde is wel nie as sodanig die „akkoord van kerklike gemeenskap” nie; die Belydenis is die akkoord; maar die Kerkorde vorm ’n integrale deel van die Belydenis, soos artikel 32 NGB duidelik stel. Daarom is dit vanselfsprekend dat die Kerkorde gehandhaaf en eerbiedig en uitgevoer moet word. Trouens, elke ampsdraer moet, nadat hy in die amp bevestig is, die Ondertekeningsformulier onderteken (kyk artt. 53, 54); daarmee verbind hy homself met sy handtekening om die „Drie Formuliere van Eenheid” (en daarmee dus ook die Kerkorde), te handhaaf (kyk ook I Korinthiërs 14: 40).

Belangrik in hierdie verband is die uitdruklike bepaling in artikel 86, dat die artikels van die Kerkorde met ywer („toelê”) onderhou moet word.

Die kredensiebrief („geloofsbrief”, art. 33) is oor hierdie saak ook baie duidelik; elke mindere vergadering verbind hom daarin om die

|2|

„aangenome Kerkorde”, saam met Gods Woord en die Drie Formuliere van Eenheid, as basis en rigsnoer vir besluitneming te eerbiedig.

In die Openlike Verklaring, waarmee alle betrokke kerklike vergaderings deur middel van hul afgevaardigdes instemming moet betuig, word ook eksplisiet die volgende onderneem: „Met betrekking tot die Kerkregering sal ons ons hou aan die kerkorde van bogenoemde sinode van Dordrecht soos dit gewysig is deur die sinodes van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika” (Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, uitgawe 1980, p. 65). 

Indien ’n sekere vergadering se afgevaardigdes nie instem met die Openlike Verklaring nie, is die konsekwensie daarvan dat hulle hul sittingsreg verbeur. Daardie spesifieke meerdere vergadering sal daaroor moet handel.

Per implikasie word die belangrikheid en die handhawing van die Kerkorde in die kerkregering ook beklemtoon deur artikel 31; hierin word bepaal dat besluite van kerklike vergaderings vas en bindend is, as dit nie in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde nie.

Hieruit blyk dus die belangrikheid, selfs die noodsaaklikheid, van stiptelike en verantwoordelike eerbiediging en handhawing van die Kerkorde. Nalatigheid en onverskilligheid in hierdie opsig sou neerkom op de facto verbreking van kerkverband.

 

Artikel 1 en artikels 23 en 64. 

Die bewoording: „... toesig oor die leer, sakramente en seremonies ...” bring hierdie artikel direk in verband met artikel 23, waar die toesigtaak van die ouderlinge gereël word. Toesig is dus onontbeerlik vir die goeie orde in die kerk van Christus.

Hierdie woord lê egter ook ’n direkte verband met artikel 64, waar bepaal word dat die ouderlinge toesig moet hou oor die bediening van die Nagmaal.

Artikel 1 is dus nie slegs ’n aanduiding van die 4 onderafdelings van die Kerkorde nie; dit lê inteendeel baie belangrike en onmisbare bepalings neer vir die goeie orde, die toesig en die voorspoedige regering in die kerk van Jesus Christus.