|25|

III

In die Reformasie is die klerikalisering van die kerkreg met groot beslistheid verwerp en die persoonlike en aktuele regering van Christus in Sy kerk as die basis van alle kerkreg geproklameer. In die kerkregtelike ontwikkeling van die jongste tyd, waarvan die genoemde voorbeelde uit die Duitse Kerke en die Nederlandse Hervormde Kerk as illustrasie kan dien, is ook die sekularisering van die kerkreg van die hand gewys en ’n uitgesproke poging aangewend om terug te keer tot die Reformatoriese posisie met uitgangspunt die belydenis van die persoonlike regering van Christus in Sy kerk. Met die aanvaarding van hierdie Reformatoriese basis van die kerkreg is alle probleme egter nog nie opgelos nie. Dit blyk immers al dadelik ’n uiters moeilike saak te wees om aan die belydenis van die persoonlike regering van Christus deur Sy Woord in die kerkorde ’n konkrete uitdrukking te verleen op sodanige wyse dat die Woord van God werklik in die kerk regeer en nie tog maar weer die mens nie. Dit is nie genoeg om maar net vooraan die kerkorde ’n belydenis van die Koningskap van Christus te plaas nie. Die kerk kan nie bepaal dat Christus hom moet regeer nie. Dit gaan in die Christusregering om iets waaroor die kerk nie kan beskik nie, om iets waarvoor die kerk moet bid en waarop die kerk moet wag. Dit gaan in die Christusregering ook om die korrelasie tussen ’n daad van Christus en die geloofsgehoorsaamheid van die kerk. Geen enkele kerkordelike bepaling kan dus waarborg dat die Woord van God nie op die agtergrond gedring sal word en dat — soos in die Duitse Kerkstryd — menslike ideologieë nie vir die kerk meer gewig sal dra as die Woord van God nie. Met die beste kerkorde ter wêreld kan die kerk hom nog afsluit teenoor die Woord van God.

Tog mag hieruit nie afgelei word dat die kerkorde dus ’n onverskillige saak is en dat daar kerkregtelik niks gedoen kan word om die belydenis van die Koningskap van Christus konkreet uitdrukking te laat vind nie. Ons het tevore daarop gewys dat die kerkordes uit die Reformasietyd bedoel om ruimte te maak vir die vrye loop van die Woord van God waardeur Christus regeer. Dit is ’n basiese vereiste vir elke kerkorde wat Bybels wil heet. Juis daarom moet die kerkorde egter ook voorsorgmaatreëls tref teen elke vorm van menseheerskappy in die kerk. Elke kerkorde wat nie sorgvuldig waak teen die regering van die mens in die kerk nie, al sou so ’n kerkorde nou ook beheers word deur watter ander mooi beginsels, skiet juis op die kardinale punt te kort. Dit geld selfs binne die presbiteriale stelsel van kerkregering, waarvan bekend is dat dit by uitnemendheid voorsorg tref teen elke vorm van hiërargie in die kerk. Rieker het reeds die verskillende maniere opgesom waarop die gereformeerde kerkreg hierdie voorsorgmaatreëls tref. Hy noem die feit dat die ampsdraers niks anders is as

|26|

dienaars van Christus nie; dat alle ampsdraers gelyk is; dat alle gewigtige beslissings steeds deur ’n aantal ampsdraers gemeenskaplik geneem word, nooit deur een alleen nie; dat die „leke”-element in die kerkregering ingeskakel word om die hiërargie teen te gaan en dat alle vergaderinge ’n godsdienstige karakter dra.102

Gemeet aan hierdie maatstaf. moet ’n mens erken dat daar in die nuwe kerkordes veel is wat werklik waardeer moet word, veral in die kerkorde van die Hervormde Kerk. Tog voel ons minder gelukkig oor die sterk sentraliserende tendens wat in mindere of meerdere mate by al die nuwe kerkordes opgemerk kan word, soos nie alleen blyk uit die feit dat al die Duitse kerkordes voorsiening maak vir die leiersfiguur van ’n biskop of Kirchenpräsident nie, maar ook daaruit dat in al die nuwe kerkordes (ook dié van die Hervormde Kerk) weer klein uitvoerende instansies voorsien word waaraan betreklik veel bevoegdheid toevertrou word, sonder dat hulle in direkte kontak met die gemeentes staan.103 Dit word ongetwyfeld gedoen om aan die kerklike organisasie soveel effektiwiteit as moontlik te verleen. Die argument daarby is dan altyd dat die kerk tog ’n adres moet hê en vinnig moet kan optree. Tog is ons daarvan oortuig dat die Dordtse Kerkorde veel suiwerder is deurdat hy sorgvuldig waak teen die regering van enkeles in die kerk. Al beteken dit dat die Dordtse Kerkorde nie dieselfde effektiewe funksionering waarborg as die nuwe Duitse kerkordes met hulle Kirchenleitungen en die Hervormde kerkorde met sy moderamina nie, bly dit nog ’n feit dat nie effektiewe funksionering nie, maar ’n effektiewe beskerming van die Christus-regering in die kerk vir ons die vernaamste beginsel van kerkorde moet bly.

Na ons oortuiging laat Rieker egter die vernaamste voorsorgmaatreël teen menseheerskappy in die kerk ongenoem. Dit is dat die kerkorde duidelik moet maak dat die Woord van God die grens van alle kerkregering is en dat daar dus voortdurend in die kerk ruimte moet wees vir die kontrolering van elke kerklike handeling of beslissing deur die Woord van God. Ons het reeds gesien hoe sterk die Reformatore hierdie beginsel beklemtoon het. Die toets vir ’n Reformatoriese kerkorde is of dit ten volle erns maak met hierdie beginsel.

Dat die Woord van God die grens van alle kerkregering is, beteken dat ampsdraers en kerkvergaderinge onder geen omstandigheid die reg of bevoegdheid het om die kerk op hulle eie te regeer


102. Vgl. Karl Rieker, a.w., 112 e.v.
103. Vgl. H. Diem, Die Grenzen kirchlicher Gesetzgebung, Z. für ev. Kirchenrecht, I, 228-240; Die Ortsgemeinde in der Kirchenordnung, Ev. Theol., VII, 1947/48, 324-329; Kirchenleitung in der Synodalverfassung, Ref. Kirchenzeitung, 1958, kol. 7-12; Dietrich Keller, Recht und Dienst in der Kirchenleitung, Ref. Kirchenzeitung, 1958, kol. 173 e.v. Vgl. daarteenoor J. Graeher, Die Kirchenleitung in der Synodalverfassung, Ref. Kirchenzeitung, 1958, kol. 93 e.v., en: Zentralismus in der Ev. Kirche des Rheinlandes, Ref. Kirchenzeitung, 1958, kol. 326 e.v.

|27|

en die grens van Gods Woord te oorskry nie. Daarom moet die kerkorde dit duidelik maak dat geen ampsdraer of kerkvergadering die laaste sê in die kerk het nie. Dit kom aan die Woord van God alleen toe. Die kerk moet dit wéét en dit ook kerkordelik duidelik maak dat hy in al sy beslissings op die hegte fondament van die Skrif moet staan en geen gesag het om die lidmate te bind aan iets anders as aan die Woord van God nie. Juis op hierdie punt wys Calvyn die Roomse kerk af.104 Die kerk het geen bevoegdheid om sy lidmate te bind aan menslike vindinge, aan wêreldbeskoulike of ideologiese opvattinge wat nie met die Woord van God en die belydenis van die kerk gegee is nie. Hierdie grens is in die Duitse Kerkstryd oorskry. Daarom is dit jammer dat die nuwe Duitse kerkordes dit nie meer uitgesproke stel dat die gesag van die kerk se beslissinge enkel geleë is daarin dat die kerk hom onomwonde kan beroep op die gesag van die Skrif nie. Dit geld in die besonder ook van die kerklike tug. Die tug mag nooit verder gaan as die Skrif en lidmate tugtig oor allerlei aangeleenthede wat nie onmiskenbaar duidelik sonde teen God en die heiligheid van Sy verbond is nie.105 Hierdie grens is meermale oorskry in die ou kollegialistiese kerkreg, waar die tug dikwels of meestal gegaan het oor allerlei formele puntjies en die sogenaamde oortreding van menslike bepalinge wat geen grond in die Skrif het nie. Die kerk maak dan bepalinge waarvoor hy hom nie op die gesag van die Skrif kan beroep nie en tug lidmate omdat hulle hul nie aan dergelike bepalinge hou nie. Dit is jammer dat die nuwe kerkordes nie op hierdie punt ook duideliker laat word dat so iets onhoudbaar is nie, omdat dit die karakter van die kerklike tug ten enemale verkrag en verlaag en niks meer met die hantering van die Bybelse sleutelmag te doen het nie.

Omdat die Woord van God die grens van alle kerkregering is, moet die kerkorde ruimte maak vir die kontrolering van elke kerklike handeling of beslissing deur die Woord van God. Daarvoor is meer nodig as net dat die kerklike beslissings deur meer as een dienaar in gemeenskap met mekaar geneem word. Daarvoor is nodig dat daar ruimte sal wees vir die hele Christelike gemeente om voortdurend by elke handeling en beslissing van die kerk te weet dat die laaste woord by die Skrif lê en om dus voortdurend die toets van die Woord van God by die handelinge en beslissings van die kerk aan te lê. Die struktuur van ’n Reformatoriese kerkorde moet sodanig wees, dat dit ’n prinsipiële openheid vir die kontrole deur die Woord van God openbaar. ’n Reformatoriese kerkorde moet daarvan uitgaan dat die Woord van God krag het om in die boesem van die gemeente die insig te werk


104. Vgl. Inst. IV, X, 17-18. Vgl. veral die woorde uit paragraaf 17: „... facile nobis constabit, Ecclesiam non esse, quae, praeteritis verbi Dei finibus, ferendis novis legibus lascivit ac luxuriat.” Vgl. ook Inst. IV, X, 30 en Inst. IV, X, 6.
105. Vgl. H. Bouwman, De Kerkelijke Tucht, 1912, 199.

|28|

of ’n bepaalde handeling of beslissing van die kerk volgens Gods Woord is of nie. Geen kerkvergadering mag dit vir homself opeis dat hy die Woord van God onfeilbaar geïnterpreteer het of in sy beslissings vanselfsprekend binne die grense van die Woord van God gebly het nie. Die leiding van die Heilige Gees is aan die kerk as sodanig belowe, maar beteken nie vanselfsprekend dat kerklike vergaderinge sonder meer in alles deur die Heilige Gees gelei word nie. Daarom mag die kerk nooit wegskram van die toetsing deur die Woord van God van die kant van die hele gemeente nie. Na die mate waarin die kerkorde die weg vir die profetiese kritiek van die gemeente bemoeilik, na dié mate is die openheid vir die finale seggenskap van die Woord van God in die kerk in die gedrang gebring. Die kerk mag nie met ’n beroep op die onderworpenheid wat die gemeentelede aan hulle voorgangers moet betoon, die profetiese vryheid van die lidmate van die kerk inperk nie. ’n Protestantse kerk is ’n kerk wat die moed het om die voortdurende worsteling met die Woord van God in eie midde aan te moedig en as dit nodig is, daardeur versteur te word.

Ook in hierdie opsig munt die Dordtse Kerkorde ver uit bo die nuwe kerkordes. In art. 31 word die bindendheid van ’n kerklike beslissing afhanklik gestel van die vraag of dié beslissing nie in stryd met die Woord van God of die kerkorde is nie. Dit geskied weliswaar in die konkrete artikel net met die oog op beslissings wat geneem word in geval van appèlle, maar is tog kennelik van basiese betekenis vir die hele kerkorde. Daardeur word dit duidelik dat die Woord van God die grens is van alle kerklike gesag en dat kerklike beslissings voortdurend onderwerp moet word aan die kontrole van die Skrif. Dit is jammer dat die nuwe kerkordes ook op hierdie punt nie ’n veel duideliker taal spreek en kerkordelik rekening hou met die moontlikheid van dwaling by die kerklike vergaderinige, sowel as met die noodsaaklikheid dat die hele gemeente vanuit die Woord van God die grenswag moet betrek by wat die kerklike vergadering doen nie. Daardeur dreig die openheid van die kerkorde om verlore te gaan en ontstaan weer ’n geslote sisteem, waarvan die indruk uitgaan dat as die Sinode gepraat het, alles afgehandel is, so goed as wat dit sou geld: Roma locuta, causa finita est.

Natuurlik is dit uiters moeilik om hierdie beginsel in die kerkorde in te bou. Die gevaar is natuurlik altyd daar dat die kerk in independentistiese vaarwater kan beland as elkeen op sy eie of selfs die plaaslike kerkrade net dié besluite as bindend aanvaar, wat volgens hulle eie oordeel met die Skrif ooreenkom. Aan die ander kant is dit egter ook moontlik dat die kontrole vanuit die Skrif kragteloos gemaak kan word, deurdat eenvoudig uitgegaan word daarvan dat die besluite van kerklike vergaderinge bindend is en uitgevoer moet word en dat besware daarteen, al word dit ook op die Skrif gegrond, alleen langs ’n moeilike ompad en na

|29|

verloop van ’n aantal jare (by. by ’n volgende sinode) onder die aandag gebring kan word. Intussen loop die beswaardes dan ook nog gevaar om, ten spyte van hulle besware, met die kerklike tug gedwing te word om te konformeer aan besluite wat hulle in stryd met Gods Woord ag! ’n Reformatoriese kerk kan nie hierdie weg opgaan nie.

Hierdie hele aangeleentheid het sterk onder die aandag gekom deur die stryd in die Gereformeerde Kerke in Nederland, wat uitgeloop het op die sg. Vrymaking van 1944.106 Die kerkregtelike aspek van die stryd het veral gewentel om die interpretasie van die genoemde artikel 31 van die Dordtse Kerkorde. Proff. Schilder en Greydanus met hulle medestanders het volgehou dat die artikel nie alleen impliseer dat elke beslissing van die meerdere vergaderinge deur die kerkrade getoets moet word nie, maar ook dat sulke beslissings alleen geldig word, deurdat die kerkrade die beslissings ratifiseer of bekragtig. Vind ’n kerkraad nou egter ’n besluit in stryd met die Skrif of die kerkorde, dan mag hy dit naas hom neerlê.107 Dit is duidelik watter gevolge hierdie opvattings vir die kerklike lewe kan hê. Die Gereformeerde Kerke het met reg gevrees dat hierdie siening en die ooreenkomstige optrede waartoe prof. Schilder die kerkrade opgewek het, tot chaos moes lei.108 Prof. Schilder c.s. kon hulle wel op bepaalde uitsprake van Rutgers uit die Doleansietyd beroep,109 maar die Sinode het die interpretasie van art. 31 met klem van die hand gewys. Volgens die standpunt van die Sinode moes die bewys van die onskriftuurlikheid of kerkregtelike onjuisheid van ’n besluit gelewer word voor die vergadering wat die besluit geneem het. Tot tyd en wyl die betrokke vergadering van die verkeerdheid van sy besluit oortuig is, bly die genome beslissing egter van krag. Daarom het die Sinode ook tug toegepas op diegene vat hulle nie aan die besluite wou onderwerp nie.110


106. Uit die groot hoeveelheid literatuur oor hierdie stryd noem ons slegs G. Janssen, De Feitelijke Toedracht, 1948; K.C. van Spronsen, De Waarheid luistert Nauw; R.H. Bremmer en J.P. van der Stoel, Overstemming of Overeenstemming?; J. Ridderbos, Kerkscheuring, Een Woord over de Crisis in de Geref. Kerken, 1944; M. Bouwman, Geen Rechtskrenking, 1945; die Sinodale rapporte uit dié tyd, veral die Rapport inzake de verlangde opheffing van de over Prof. Schilder uitgesproken Schorsing, sowel as die Toelichting op het Synodebesluit tot schorsing van Prof. dr. K. Schilder.
107. Vgl. P. Deddens, De Ratificeering der besluiten van meerdere vergaderingen, 1946; R.H. Bremmer, Met onbevlekt blazoen, 13-16, 18-21; Van Spronsen, a.w., 19; C. Veenhof, In den Chaos, 6, 69 e.v., 76 e.v.; A. Vegter, Opwekking of Ophitsing.
108. Vgl. die Acta van die Geref. Kerke in Nederland, 1940-1943, artt. 785 en 849; Acta 1943-1945, art. 392.
109. Vgl. Veenhof, a.w., 317 e.v.; F.L. Rutgers en De Savornin Lohman, De Rechtsbevoegdheid onzer Plaatselijke Kerken, 34 e.v.
110. Vgl. Janssen, a.w., 140 e.v.; 157 e.v. en 168 e.v.; Toelichting op het Synodebesluit tot schorsing van Prof. dr. K. Schilder ens.

|30|

Dit is vir ons doel hier onnodig om aandag te gee aan die ander kerkregtelike vrae wat in dié stryd aan die orde was.111 Die aangrypende van die kerklike stryd is vir ons die feit dat die beswaardes geveg het met die bewussyn dat dit hulle gaan om die behoud van die heerskappy van Christus deur Sy Woord in die kerk en die uitbanning van alle menslike heerskappy.112 Daarteenoor het die Sinodales gestry met die oortuiging dat die orde in die kerk eenvoudig eis dat die kontrolering van besluite van meerdere vergaderinge nie op sodanige wyse sal kan geskied, dat dit die goeie orde eenvoudig ophef nie. Na ons mening het albei kante vir ’n regmatige saak gestry. Daarom te meer is dit so ’n treurige geskiedenis dat die partye mekaar nie kon vind nie.

Vir ons wat van buite af kyk, is dit in elk geval duidelik dat ’n goeie kerkorde tussen die twee uiterstes sal moet deurgaan en die goeie uit elke standpunt sal moet behou. Dit moet vasstaan dat die grens vir alle kerkregering enkel die Woord van God is, wat moontlik ook deur die indiwidu beter gehoor kan word as deur ’n hele kerklike vergadering. Getalle is geen waarborg van suiwerheid nie. Maar dit moet ook vasstaan dat besware teen kerklike besluite op ’n ordelike manier hanteer sal moet word alvorens kerkrade of lidmate hulle van dergelike besluite kan afmaak. Daartoe is dit nodig dat die bindende betekenis van kerklike besluite aanvaar moet word en dat die gedagte van ratifikasie van die hand gewys moet word. Terselfdertyd is daartoe egter óók nodig dat skriftuurlike besware teen kerklike besluite vryelik uitgespreek sal moet word. Die kerkorde moet dit selfs aanmoedig en lidmate onder die verpligting stel om met skriftuurlike besware na vore te kom, want dit gaan in die kerk om die waarheid van die Skrif, wat teen elke prys gesoek moet word. Daar mag onder geen omstandigheid gediskrimineer word teen lidmate wat besware na vore bring nie en hulle mag nie aan beperkinge onderhewig gemaak word wat die indruk wek dat die kerk liewer met rus gelaat wil word nie. Daarby moet die kerk met die grootste toleransie te werk gaan met beswaarde lidmate.


111. Hierdie vraagstukke het die Gereformeerde Kerke gaande gehou sedert die Geelkerken-saak in 1926. Vgl. Joh. Jansen, De Bevoegdheid der Meerdere Vergaderingen en De Beginselen van ons Gereformeerd Kerkrecht inzake de zaak Geelkerken; A.C.G. Proosdij, Recht in de zaak Geelkerken, 1925 en Dordt en Assen; P.G. Knibbe, Een Ban in onze Kerken, 1926; G.C. Gijben, De Groote Beteekenis van de Procedure tegen Dr. Geelkerken voor de Gereformeerde Kerken, 2de druk, 1925; Dr. J. van Lonkhuyzen, Een ernstige Fout, 1926, en Is het nieuwe kerkrecht niet een ernstige dwaling? 1939; M. Bouwman, Tweeërlei Kerkrecht, 1944; W.A. van Es, Over de bevoegdheid tot schorsing en afzetting van ouderlingen en diakenen, 1946; verskillende artikels van H.H. Kuyper in De Heraut, bv. 1926 (no. 2503, 2515 en 2527), 1932 (no. 2865), 1933 (no. 2867); 1944 (no. 3455-3459).
112. Vgl. R.H. Bremmer en J.P. van der Stoel, Overstemming of Overeenstemming? 1944; P. Deddens, De Ratificeering, 6 e.v., 16 e.v. ens.

|31|

Selfs in kwessies wat die belydenis raak, moet die kerk uiters versigtig wees om lidmate met skriftuurlike besware eers alle geleentheid te gee om gehoor te word en nie met die tug teen hulle optree, voordat die saak tot die einde toe uitgepraat en deurgebid is nie. Soveel te meer geld dit nog van sake wat nie die belydenis van die kerk raak nie. Die kerk mag nooit en nêrens die indruk maak dat die meerderheid in die kerk regeer en dat almal eenvoudig aan 'n meerderheidsbesluit moet konformeer, of hulle beswaard voel of nie. In die kerk gaan dit om die heerskappy van die Woord, nie die heerskappy van die meerderheid nie. Dit gaan om ooreenstemming, nie oor-stemming nie. Juis daarom moet die kerk tot die uiterste gaan om lidmate met skriftuurlike besware nie te dwing om mee te werk aan die uitvoering van besluite waaroor hulle beswaard voel nie.

Dit is met dankbaarheid dat opgemerk moet word dat die nuwe kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland hierdie beginsels in groot mate verdiskonteer het.113 Reeds dit op sigself is ’n positiewe vrug van die droewige stryd rondom die Vrymaking. Tog is ons daarvan oortuig dat die probleme waarvoor ons hier staan, nl. hoe om alles te weer wat die persoonlike en direkte heerskappy van Christus deur Sy Woord in die kerk in die weg staan, in laaste instansie deur geen kerkordelike bepaling adekwaat opgelos kan word nie. Na alles gedoen is om die kerkorde so suiwer as moontlik te maak, sal nog onthou moet word dat die kerk op elke tree van die weg bedreig word deur ongehoorsaamheid en verset teenoor die Woord van God. Daarom sal die gebed vir die kerk nooit ’n blote formaliteit mag word nie. Die kerk sal voortdurend biddend moet bly om in nederigheid en beskeidenheid, bewus van eie feilbaarheid, enkel na Gods Woord te luister al word die Woord ook aan die kerk verkondig deur die indiwiduele lidmaat wat miskien opmerksamer luister as ’n hele formele kerkvergadering. In laaste instansie sal die kerk moet bly bid om die genade om homself nie te wil handhaaf teenoor Gods Woord nie, maar om ruimte te maak vir die Woord, waardeur Christus alleen wil regeer in Sy kerk. ’n Goeie kerkorde is ’n kerkorde wat duidelik maak dat die kerk na alle kante toe oop wil bly vir die Woord van Hom wat alleen die Here van die here en die Koning van die konings is.


113. Vgl. met name art. 29(2) en 31 van die nuwe kerkorde van die Geref. Kerke. In 29(2) word neergelê dat iemand met Skriftuurlike besware selfs verplig is om in appèl te gaan en in albei die artikels word bepaal dat daar groot versigtigheid en toleransie teenoor beswaardes moet wees.