Visser, J. (1999) Art. 67

|251|

Artikel 67

 

Die onderhouding van die Christelike feesdae, Kersdag, Paasfees, Pinkster en Hemelvaartsdag word aan die vryheid van die kerk oorgelaat.

 

Historiese agtergrond van hierdie artikel.

Die kerke van die Reformasie het van die vroegste tye af sterk nadruk daarop gelê dat slegs die Sondag as Christelike feesdag onderhou behoort te word.

Hiervoor kan verwys word na veral die Kerkorde van die Provinsiale Sinode van Dordrecht in 1574, artikel LIII: „...dat men met den Sondach alleen te vreden sijn sal...”, asook die Acta van die Nasionale Sinode van Dordrecht in 1578, [Cap. IV] artikel XXIII: „Het ware wel te wensschen dat ... de Sondach alleen ghevyert mocht worden...”.

Die kerke het egter voor die probleem te staan gekom dat die (Roomse) owerhede bepaalde Christelike feesdae as vakansiedae bepaal het, waarop die Roomse Kerk dienste gehou het. Die lidmate van die Reformatoriese Kerke het dan ledig rondgeloop.

Om hierdie „onnutten ende schadelicken ledichganck” van die protestantse lidmate teen te gaan, het die voorgenoemde Nasionale Sinode van Dordrecht (1578) besluit dat die predikante „met predicatien” op sulke feesdae die „ghemeynte leeren sullen” om die nuttelose en skadelike ledigheid te verander „in een heylighe ende profytelicke oeffeninghe” (Acta (Cap. IV] artikel XXIII).

 

Aan vryheid van kerk oorgelaat.

Volgens hierdie artikel word die onderhouding van die Christelike feesdae nie verpligtend gemaak nie, maar aan die vryheid van die plaaslike kerke (gemeentes) oorgelaat.

Die Sondag is en bly nog die enigste Christelike feesdag waarvan die onderhouding verpligtend is.

|252|

Gesamentlike dienste met nie-Gereformeerde Kerke. 

Op verskillende plekke is dit die gebruik dat op een of meer van hierdie Christelike feesdae gesamentlike dienste gehou word met nie-Gereformeerde Kerke.

Behalwe wat op p. 11 e.v. gesê is oor kanselruil, kan die vraag gevra word wat die doel en betekenis is van sulke gesamentlike dienste. En waarom dan nie maar elke Sondag gesamentlike dienste hou nie? Wat toelaatbaar is op die sogenaamde ander Christelike feesdae, kan mos dan tog nie verbode wees op dié Christelike feesdag, naamlik die Sondag nie (kyk ook p. 37).

 

Die sogenaamde „kerklike jaar”.

Daar bestaan geen afdwingbare verpligting dat predikante hulle in hul prediking moet hou aan die sogenaamde „kerklike jaar” nie; (dit beteken dat predikante byvoorbeeld in die lydenstyd slegs preke oor die lyde van Jesus Christus mag preek, by Hemelvaart slegs preke oor die hemelvaart van Christus en met Pinkster slegs preke oor die uitstorting van die Heilige Gees).

Tog is dit wenslik dat die gemeente ten minste op die Sondag naaste aan die datum van ’n spesifieke heilsgebeurtenis, in die prediking besiel en geïnspireer moet word deur dit wat op daardie besondere dag herdenk word.

Dit wil natuurlik nie sê dat ’n predikant gebonde is om slegs by die herdenking van die heilsgebeurtenisse te preek oor Skrifgedeeltes wat direk daarmee in verband staan nie.