Visser, J. (1999) Art. 27

|118|

Artikel 27

 

Die dienstyd van ouderlinge en diakens word deur die kerkraad gereël soos hy tot die meeste stigting van die kerk ag. By periodieke aftreding na minstens twee jare diens of meer, moet ’n eweredige deel jaarliks aftree.

 

Onderskeid met bedienaars van die Woord. 

In artikel 12 KO word die beginsel gestel dat ’n bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, lewenslank aan die kerkdiens verbonde is.

Hierdie beginsel is nie van toepassing op ouderlinge en diakens nie, om redes wat voor die hand lê.

 

Dienstyd deur kerkraad gereël.

In hierdie artikel word bepaal dat die dienstyd van ouderlinge en diakens deur die kerkraad gereël word soos hy tot die meeste stigting van die kerk (gemeente) ag.

Hierdie bepaling hou onder andere in dat ’n ouderling of diaken nie maar net kan kennis gee dat hy nou "bedank" uit die amp nie; hy moet, met opgaaf van redes, op die ordelike wyse aansoek doen om losgemaak te word uit die amp; die kerkraad oorweeg dan sy aansoek en besluit daaroor.

 

Periodieke aftreding.

In sommige gemeentes bestaan die reëling dat ouderlinge en diakens slegs vir ’n bepaalde tyd dien en dan moet aftree. In sulke gevalle bepaal hierdie artikel dat ’n eweredige deel jaarliks moet aftree, ná minstens twee jare diens.

Oor die verdienste van so ’n reëling sal elke kerkraad self moet oordeel.

Daar is egter geen afdwingbare sinodebesluit dat hierdie reëling in alle gemeentes toegepas moet word nie.

|119|

Indien hierdie reëling in ’n kerkraad ingevoer word, mag dit nooit plaasvind met die oneerlike motief om van „lastige” ampsdraers ontslae te raak nie.

 

Bevestiging ná herverkiesing?

Wanneer ’n ouderling of diaken herverkies word nadat hy volgens die reëling van periodieke aftrede losgemaak is, moet hy weer in die amp bevestig word. Indien dit sy beurt was om af te tree volgens die genoemde reëling, maar die kerkraad sou besluit dat sy dienstyd met nog ’n termyn verleng word, en hy dus nie uit die amp losgemaak is nie, vind geen nuwe bevestiging in die amp plaas nie.

 

„Eervolle” en „gewone” losmaking?

Daar bestaan ’n wyd verbreide opvatting dat daar onderskeid gemaak moet word tussen „eervolle” en „gewone” (dus: oneervolle) losmaking van ouderlinge en diakens uit die amp.

Die bedoeling is dan dat ’n ouderling of diaken wie se ampsbediening nie so baie voorbeeldig was nie, wel „gewone” losmaking mag ontvang, maar nie „eervolle” losmaking nie.

Dikwels word hierdie onhoudbare standpunt gehuldig wanneer ’n ouderling of diaken eintlik uit die amp afgesit behoort te word kragtens artikels 79/80 KO, maar die kerkraad het nie die durf om dit te doen nie.

So ’n onderskeid tussen „eervolle” en „gewone” losmaking uit die amp kan hoegenaamd nie verdedig word op grond van artikel 27 nie.

Dit is slegs een van twee: óf eervolle losmaking uit die amp kragtens artikel 27 KO, óf afsetting uit die amp kragtens artikels 79/80 KO.

[Opmerking: Sou dit nie wenslik wees om heeltemal ontslae te raak van die bewoording „eervolle losmaking”, en slegs te praat van „losmaking” nie? Dit sou die problematiek van „eervolle” en „gewone” losmaking uitskakel.
Ek maak hierdie opmerking na analogie van die wysiging wat die Sinode van 1985 aangebring het in die konsepte vir „Losmaking van ’n vertrekkende bedienaar van die Woord” en „Emeritusverklaring” (Handelinge p. 559 en 560). Die ou geykte bewoording van „... op die

|120|

mees eervolle manier los te maak” en „sy emeritaat ... op die mees eervolle manier te verleen”. (Kerkordeboekie p. 98 en 99) is verander na „... los te maak” en „... emeritaat te verleen”. „Eervol” het eenvoudig verdwyn! (Hierdie verandering in bewoording beteken egter nie dat die pad nou oopgemaak is dat predikante onder ’n skadu van bedenklike leer en/of lewenswandel losgemaak of emeritaat verleen mag word nie!).
Indien daar nou ook in die geval van ouderlinge en diakens slegs gepraat sou word van „losmaking”, impliseer dit beslis nie dat artikel 27 nou misbruik kan word as ’n soort skuiwergat om die toepassing van artikel 79 te systap nie!].